Gerhard Bothma
Terug na profiel
Ons openbare verklaring van voorneme

Ons openbare verklaring van voorneme

Gerhard Bothma
13 October 2026

Kritiese denke en verantwoordelike betekenisvorming

Ons vertrekpunt

Idees, oortuigings, kulturele tradisies, godsdienstige leerstellings, politieke ideologieë en mediaboodskappe beïnvloed hoe ons die wêreld verstaan, besluite neem en met mekaar saamleef. Maar waarop berus ons oortuigings? Hoe beoordeel ons aansprake op waarheid? En watter gevolge het ons idees en oortuigings vir onsself, ander mense en die samelewing?

Ons glo dat hierdie vrae kritiese ondersoek verdien. Geen aanspraak behoort bloot op grond van tradisie, geloof, persoonlike ervaring, gewildheid of gesag as waar aanvaar te word nie. Ons behoort idees en aansprake verantwoordelik te beoordeel aan die hand van toepaslike bewyse, beredeneerde argumente en die beste beskikbare kennis.

Waarvoor ons ons beywer

Ons bevorder kritiese denke, wetenskaplike geletterdheid, mediageletterdheid, intellektuele eerlikheid en die vrymoedigheid om vrae te vra. Ons moedig mense aan om aannames te bevraagteken, betroubare inligting van misleidende aansprake te onderskei en bereid te wees om hul standpunte in die lig van nuwe kennis en beter argumente te hersien.

Ons pas hierdie beginsels op alle idees, oortuigings en wêreldbeskouings toe, ook op ons eie. Geen persoon, tradisie, instelling of ideologie behoort bo kritiese ondersoek verhewe te wees nie.

Ons visie op betekenis en menswaardigheid

Ons beskou kritiese denke nie bloot as 'n manier om ongegronde oortuigings te bevraagteken nie, maar ook as 'n grondslag vir verantwoordelike lewenskeuses en betekenisvorming.

Ons ondersoek hoe mense betekenis, waardes, hoop, verbondenheid en lewensrigting vorm, en hoe hul oortuigings en handelinge individuele welstand en die samelewing beïnvloed. Ons erken die menslike behoefte aan betekenis sonder om te aanvaar dat betekenis noodwendig van 'n bonatuurlike bron of onbetwisbare gesag afkomstig moet wees.

Ons beywer ons vir 'n samelewing waarin vryheid van denke en gewete, menswaardigheid, gelyke behandeling en verantwoordelike deelname beskerm word. Dit sluit kritiese ondersoek van godsdiens en ander wêreldbeskouings in, asook die rol wat hulle in onderwys en openbare instellings speel.

Ons verbintenis

Ons verbind ons daartoe om:

Ons voorneme

Ons wil nie vir mense voorskryf wat hulle moet dink of glo nie. Ons wil hulle help om beter vrae te vra, hul oortuigings krities te ondersoek en verantwoordelik oor hul idees en keuses na te dink.

Ons ondersoek godsdiens nie omdat ons vooraf besluit het dat alles wat godsdienstig is verkeerd is nie, maar omdat geen aanspraak op waarheid van kritiese ondersoek uitgesluit behoort te word nie. Dieselfde beginsel geld vir politieke ideologieë, kulturele tradisies, mediaboodskappe, sosiale norme en ons eie aannames.

Ons streef na 'n kultuur waarin nuuskierigheid dogmatisme uitdaag, bewyse swaarder weeg as blote gesag en mense die vryheid én verantwoordelikheid het om hul denke voortdurend te ontwikkel.

Ons wil help om 'n kultuur te skep waarin mense beter leer dink, verantwoordeliker leer leef en saam betekenis vorm en aan 'n menswaardiger samelewing bou.

Waag om te weet. Dink self. Ondersoek verantwoordelik. Leef bewustelik.

Deel hierdie

Vorige