Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 11

Die derde bedelmonnik

Uit die verhaal van die bedelmonnike
My verhaal, het die derde bedelmonnik gesê, is heel anders as dié van my twee vriende. Dit was die noodlot wat hulle die lig van hul regteroog ontneem het, maar ek het myne deur my eie dwaasheid verloor.
My naam is Agib, en ek is die seun van 'n koning met die naam Cassib, wat oor 'n groot koninkryk geheers het. Die hoofstad daarvan was een van die mooiste hawestede in die wêreld.
Toe ek my vader op die troon opgevolg het, was my eerste sorg om die provinsies op die vasteland te besoek en daarna na die talle eilande voor die kus te seil, sodat ek die harte van my onderdane kon wen. Hierdie seereise het my so 'n smaak vir seil gegee dat ek gou besluit het om verder weg te gaan, na seë wat ek nog nie geken het nie. Ek het bevel gegee dat 'n vloot groot skepe sonder versuim gereed gemaak moes word, en toe hulle behoorlik toegerus was, het ek op my tog vertrek.
Veertig dae lank was wind en weer in ons guns, maar die volgende nag het 'n verskriklike storm opgesteek wat ons tien dae lank hierheen en daarheen gewaai het, totdat die stuurman erken het dat hy heeltemal die koers kwyt was. Daarom is 'n matroos na die mastop gestuur om te kyk of hy land kon sien. Hy het berig dat daar niks te sien was nie behalwe see en lug – en 'n groot swart massa agter ons.
Toe die stuurman dit hoor, het hy spierwit geword. Hy het op sy bors geslaan en uitgeroep: "O, heer, ons is verlore, verlore!" totdat die bemanning gebewe het sonder dat hulle geweet het waarvoor. Toe hy homself 'n bietjie herstel het en die oorsaak van sy skrik kon verduidelik, het hy op my vraag geantwoord dat ons ver uit ons koers gedryf het, en dat ons die volgende dag teen die middaguur naby daardie massa duisternis sou kom. Dit, het hy gesê, is niks anders nie as die beroemde Swart Berg. Hierdie berg bestaan uit magneetsteen wat al die yster en spykers in 'n skip na hom toe trek. Hoe nader ons hulpeloos getrek word, hoe sterker word die aantrekkingskrag, totdat die yster en spykers uit die skepe val en aan die berg vasklou, en die skepe met almal aan boord na die bodem sink. Dit is die rede waarom die kant van die berg wat na die see kyk so pikswart lyk.
"Soos u kan dink," het die stuurman voortgegaan, "is die hange van die berg baie rof en steil, maar op die kruin staan 'n koperkoepel op pilare, en bo-op die koepel staan die beeld van 'n koperperd met 'n ruiter op sy rug. Die ruiter dra 'n borsharnas van lood waarop vreemde tekens en figure gegraveer is, en daar word gesê dat skepe aan die voet van die berg sal bly vergaan solank daardie beeld op die koepel staan."
Met dié woorde het die stuurman weer begin huil, en die bemanning, wat gevrees het dat hul laaste uur aangebreek het, het hul testamente gemaak, elkeen ten gunste van sy maat.
Die volgende dag teen die middaguur was ons, net soos die stuurman voorspel het, so naby aan die Swart Berg dat ons gesien het hoe al die spykers en yster uit die skepe vlieg en met 'n verskriklike lawaai teen die berg slaan. 'n Oomblik later het die skepe uitmekaargeval en gesink, en die bemanning saam met hulle. Net ek het daarin geslaag om 'n drywende plank te gryp, en die wind het my aan wal gedryf sonder dat ek selfs 'n skrapie gehad het. Hoe bly was ek nie toe ek myself aan die voet van 'n trap bevind wat reguit teen die berg op gelei het nie, want daar was nie nog 'n duim regs of links waar 'n mens sy voet kon neersit nie. Trouens, selfs die trappe was so smal en so steil dat die ligste briesie my beslis in die see sou gewaai het.
Toe ek bo kom, het ek die koperkoepel en die beeld presies gevind soos die stuurman dit beskryf het, maar ek was te moeg van alles wat ek deurgemaak het om meer te doen as om net 'n blik daarop te werp. Ek het my onder die koepel neergegooi en was in 'n oogwink aan die slaap. In my drome het 'n ou man aan my verskyn en gesê: "Luister, Agib! Sodra jy wakker word, moet jy die grond onder jou voete uitgrawe, en jy sal 'n boog van koper en drie pyle van lood vind. Skiet die pyle op die beeld, en die ruiter sal in die see tuimel, maar die perd sal langs jou neerval, en jy moet hom begrawe op die plek waar jy die boog en pyle uitgehaal het. Wanneer dit gedoen is, sal die see opstyg en die berg bedek, en op die water sal jy die beeld van 'n metaalman sien wat in 'n boot sit, met 'n roeispaan in elke hand. Klim aan boord en laat hom jou wegneem; maar as jy jou koninkryk ooit weer wil sien, sorg dat die naam van Allah nie oor jou lippe kom nie."
Met dié woorde het die gesig van my gewyk, en ek het wakker geword, baie getroos. Ek het opgespring en die boog en pyle uit die grond gehaal, en met die derde skoot het die ruiter met 'n groot gekletter in die see geval. Die see het dadelik begin styg, so vinnig dat ek skaars tyd gehad het om die perd te begrawe voordat die boot by my was. Ek het stilweg ingeklim en gaan sit, en die metaalman het weggestoot en nege dae lank sonder ophou geroei, waarna land op die horison verskyn het. Ek was so oorstelp van blydskap by hierdie gesig dat ek alles vergeet het wat die ou man vir my gesê het, en ek het uitgeroep: "Allah sy dank! Allah sy dank!"
Die woorde was skaars uit my mond toe die boot en die man onder my wegsink en my op die water laat dryf het. Die hele dag en die volgende nag het ek beurtelings geswem en gedryf en so goed as wat ek kon na die naaste land gemik. Uiteindelik het my kragte begin opraak, en ek het myself reeds as verlore beskou, toe die wind skielik opsteek en 'n reusagtige golf my op 'n plat strand uitgegooi het. Toe ek veilig was, het ek gou my klere in die son oopgesprei om droog te word, en ek het my op die warm grond neergegooi om te rus.
Die volgende oggend het ek aangetrek en begin rondkyk. Dit het gelyk asof daar niemand behalwe ek op die eiland was nie. Dit was vol vrugtebome en strome water het daardeur geloop, maar dit het gelyk asof dit baie ver van die vasteland af was wat ek gehoop het om te bereik. Maar voordat ek nog tyd gehad het om moedeloos te word, het ek 'n skip gesien wat reguit op die eiland afgestuur het. Omdat ek nie geweet het of daar vriende of vyande aan boord was nie, het ek my in die digte takke van 'n boom weggesteek.
Die matrose het die skip in 'n inham ingestuur, waar tien slawe met grawe en pikke aan wal gekom het. In die middel van die eiland het hulle stilgestaan, en nadat hulle 'n ruk lank gegrawe het, het hulle iets opgelig wat soos 'n valdeur gelyk het. Daarna het hulle twee of drie keer na die skip teruggegaan om meubels en voorraad te haal, en laastens het 'n ou man saamgekom wat 'n mooi seun van veertien of vyftien jaar aan die hand gelei het. Hulle het almal deur die valdeur verdwyn, en nadat hulle 'n paar minute onder gebly het, het hulle weer uitgekom – maar sonder die seun. Hulle het die valdeur laat sak en dit soos tevore met grond toegegooi. Toe dit gedoen was, het hulle aan boord gegaan en weggevaar.
Sodra hulle uit sig was, het ek uit my boom geklim en na die plek gegaan waar die seun begrawe is. Ek het die grond uitgegrawe totdat ek by 'n groot klip met 'n ring in die middel gekom het. Toe ek dit wegskuif, het 'n kliptrap te voorskyn gekom wat na 'n groot vertrek gelei het, ryk gemeubileer en met kerse verlig. Op 'n hoop kussings wat met tapisserie oorgetrek was, het die seun gesit. Hy het opgekyk, verskrik en bang om 'n vreemdeling op so 'n plek te sien, en om sy vrees te sus, het ek dadelik gepraat: "Moenie bang wees nie, wie jy ook al is. Ek is 'n koning en die seun van 'n koning, en ek sal jou geen kwaad aandoen nie. Inteendeel, miskien is ek hierheen gestuur om jou uit hierdie graf te verlos waarin jy lewendig begrawe is."
Toe hy my woorde hoor, het die jong man tot verhaal gekom, en toe ek klaar gepraat het, het hy gesê: "Prins, die redes waarom ek op hierdie plek begrawe is, is so vreemd dat dit u beslis sal verbaas. My vader is 'n ryk handelaar wat baie grond en baie skepe besit en groot handel in edelstene dryf, maar hy het nooit opgehou treur nie omdat hy geen kind gehad het om sy rykdom te erf nie.
"Eindelik het hy op 'n dag gedroom dat daar die volgende jaar vir hom 'n seun gebore sou word, en toe dit werklik gebeur het, het hy al die wyse manne in die koninkryk oor die toekoms van die kindjie geraadpleeg. Een en almal het hulle dieselfde gesê: ek sou gelukkig lewe totdat ek vyftien was, en dan sou 'n verskriklike gevaar op my wag wat ek skaars sou ontkom. As ek dit egter sou oorleef, sou ek 'n hoë ouderdom bereik. En, het hulle bygevoeg: 'Wanneer die beeld van die koperperd bo-op die magneetberg deur Agib, die seun van Cassib, in die see gegooi word, pas dan op, want vyftig dae later sal jou seun deur sy hand val!'
"Hierdie voorspelling het my vader se hart met soveel smart getref dat hy nooit daaroor gekom het nie, maar dit het hom nie verhinder om sorgvuldig na my opvoeding om te sien nie, totdat ek kort gelede my vyftiende verjaardag gevier het. Eers gister het die nuus hom bereik dat die koperbeeld tien dae gelede in die see gegooi is, en hy het dadelik begin om my in hierdie ondergrondse kamer weg te steek, wat met dié doel gebou is. Hy het belowe om my te kom haal wanneer die veertig dae verby is. Wat my betref, ek is nie bang nie, want prins Agib sal seker nie hierheen kom om my te soek nie."
Ek het na sy verhaal geluister en binne-in my gelag, want hoe sou ek ooit die dood van hierdie onskuldige seun wou veroorsaak? Ek het hom gou van my vriendskap en selfs van my beskerming verseker, en hom in ruil daarvoor gevra om my met sy vader se skip na my eie land te neem. Ek hoef seker nie te sê dat ek veral daarvoor gesorg het om hom nie te vertel dat ek die Agib was vir wie hy so bang was nie.
Die dag het verbygegaan met gesprekke oor allerlei onderwerpe, en ek het gevind dat hy 'n vlugge en taamlik geleerde jong man was. Ek het die pligte van 'n bediende op my geneem: ek het die kom en die water vir hom vasgehou wanneer hy hom gewas het, die ete voorberei en dit op die tafel gesit. Hy het my gou liefgekry, en nege-en-dertig dae lank het ons so 'n aangename lewe gelei as wat 'n mens onder die grond kan verwag.
Die oggend van die veertigste dag het aangebreek, en toe die jong man wakker word, het hy in 'n uitbarsting van vreugde God gedank dat die gevaar verby was. "My vader kan nou enige oomblik hier wees," het hy gesê. "Maak tog vir my 'n warm bad, sodat ek kan bad en ander klere aantrek en gereed wees om hom te ontvang."
Ek het toe die water gaan haal soos hy gevra het, en hom gewas en afgevryf, waarna hy weer gaan lê en 'n bietjie geslaap het. Toe hy sy oë vir die tweede keer oopmaak, het hy my gevra om vir hom 'n spanspek en 'n bietjie suiker te bring, sodat hy kon eet en hom verkwik.
Ek het gou 'n mooi spanspek uitgesoek uit dié wat oorgebly het, maar kon geen mes kry om dit mee te sny nie. "Kyk op die kroonlys bo my kop," het hy gesê, "ek dink jy sal een daar sien." Dit was so hoog bo my dat ek dit skaars kon bykom, en toe my voet in die beddegoed vashaak, het ek gegly en reg bo-op die jong man geval – en die mes is reguit in sy hart in.
By hierdie verskriklike gesig het ek hardop uitgeskreeu van smart en pyn. Ek het my op die grond neergegooi, my klere geskeur en my hare van droefheid uitgetrek. Toe, uit vrees dat die ongelukkige vader my as sy seun se moordenaar sou straf, het ek die groot klip opgelig wat die trap afgesluit het, die ondergrondse kamer verlaat en alles weer soos tevore toegemaak.
Ek was skaars klaar toe ek oor die see kyk en die skip sien wat op die eiland afstuur. Omdat ek gevoel het dat dit nutteloos sou wees om my onskuld te betuig, het ek my weer tussen die takke van 'n boom naby weggesteek.
Die ou man en sy slawe het in 'n boot na die wal geroei sodra die skip by die land kom, en vinnig na die ingang van die ondergrondse kamer gestap. Maar toe hulle naby genoeg was om te sien dat die grond versteur is, het hulle stilgestaan en van kleur verskiet. In stilte het hulle almal afgegaan en die jong man by sy naam geroep; toe het ek 'n oomblik lank niks meer gehoor nie. Skielik het 'n vreeslike gil deur die lug gesny, en die volgende oomblik het die slawe die trap uitgekom met die liggaam van die ou man, wat van droefheid flou geword het! Hulle het hom aan die voet van die boom neergelê waarin ek geskuil het en hul bes gedoen om hom by te bring, maar dit het lank geduur. Toe hy eindelik bykom, het hulle hom gelaat en 'n graf gegrawe, en toe hulle die jong man se liggaam daarin gelê het, het hulle die grond daaroor gegooi.
Daarna het die slawe al die meubels wat onder oorgebly het opgebring en op die skip gelaai. Hulle het takke afgebreek en 'n draagbaar gevleg, die ou man daarop gelê en hom na die skip gedra, wat sy seile gespan en see toe gevaar het.
So was ek weer heeltemal alleen, en 'n hele maand lank het ek elke dag oor die eiland geloop op soek na 'n kans om te ontsnap. Eindelik het dit my op 'n dag opgeval dat my tronk baie groter geword het en dat die vasteland nader gelyk het. My hart het vinnig geklop by hierdie gedagte, wat amper te goed was om waar te wees. Ek het nog 'n rukkie dopgehou: daar was geen twyfel daaroor nie, en gou was daar net 'n klein spruitjie wat ek moes oorsteek.
Selfs toe ek veilig aan die ander kant was, moes ek nog 'n lang ent deur modder en sand loop voordat ek droë grond bereik het, en ek was baie moeg toe ek ver voor my 'n kasteel van rooi koper gewaar wat ek eers vir 'n vuur aangesien het. Ek het my so gehaas as wat ek kon, en ná 'n paar myl se swaar stap het ek daarvoor gestaan en dit verbaas aangestaar, want dit het vir my gelyk na die wonderlikste gebou wat ek nog ooit gesien het. Terwyl ek nog so staan en staar, het 'n lang ou man na my toe gekom, vergesel van tien jong manne, almal aantreklik en almal blind aan die regteroog.
Nou is die gesig van tien mans wat saam loop, almal blind aan die regteroog, op sy manier net so ongewoon soos 'n koperkasteel, en ek het nog by myself gewonder wat hierdie vreemde ding kon beteken, toe hulle my hartlik groet en vra wat my daarheen gebring het. Ek het geantwoord dat my verhaal taamlik lank was, maar dat ek dit graag sou vertel as hulle die moeite wou doen om te gaan sit. Toe ek klaar was, het die jong manne my gevra om saam met hulle na die kasteel te gaan, en ek het hul aanbod met vreugde aangeneem. Ons het deur 'n skynbaar eindelose reeks vertrekke gestap en eindelik in 'n groot saal gekom. Daarin het tien klein blou rusbanke vir die tien jong manne gestaan, wat sowel as beddens as stoele gedien het, en nog 'n rusbank in die middel vir die ou man. Omdat nie een van die rusbanke meer as een mens kon hou nie, het hulle my gevra om op die mat te gaan sit en geen vrae te vra oor enigiets wat ek sou sien nie.
Ná 'n rukkie het die ou man opgestaan en die aandete ingebring, en ek het smaaklik geëet, want ek was baie honger. Toe het een van die jong manne my gevra om my verhaal te herhaal, wat hulle almal met verbasing getref het, en toe ek klaar was, is die ou man gevra om "sy plig te doen", want dit was laat en hulle wou gaan slaap. By dié woorde het hy opgestaan en na 'n kas gegaan, waaruit hy tien komme gehaal het, almal met blou lap oorgetrek. Hy het een voor elkeen van die jong manne neergesit, saam met 'n brandende kers.
Toe die doeke van die komme afgehaal word, het ek gesien dat hulle vol as, steenkoolstof en lampswart was. Die jong manne het dit alles bymekaar gemeng en dit oor hul koppe en gesigte gesmeer. Toe het hulle gehuil en op hul borste geslaan en uitgeroep: "Dit is die vrug van ons ledigheid en van ons sondige lewe."
Hierdie seremonie het amper die hele nag geduur, en toe dit ophou, het hulle hulle sorgvuldig gewas, skoon klere aangetrek en gaan slaap.
Al die tyd het ek my van vrae weerhou, hoewel my nuuskierigheid amper 'n gat in my gebrand het, maar die volgende dag, toe ons gaan stap het, het ek vir hulle gesê: "Here, ek moet teen julle wense ingaan, want ek kan nie langer stilbly nie. Dit lyk nie of julle verstand kortkom nie, en tog doen julle dinge waartoe net mal mense in staat sou wees. Wat ook al met my gebeur, ek kan nie nalaat om te vra: 'Waarom smeer julle jul gesigte swart, en hoe kom dit dat julle almal blind aan een oog is?'" Maar hulle het net geantwoord dat sulke vrae my nie aangaan nie en dat ek beter sou doen om my mond te hou.
Dié dag het ons oor ander dinge gepraat, maar toe die nag kom en dieselfde seremonie herhaal is, het ek hulle baie dringend gesmeek om my te laat weet wat dit alles beteken.
"Dit is ter wille van jouself," het een van die jong manne geantwoord, "dat ons nie aan jou versoek voldoen het nie – om jou van ons ongelukkige lot te bewaar. Maar as jy ons lot wil deel, sal ons nie langer talm nie."
Ek het geantwoord dat ek, wat die gevolge ook al mag wees, my nuuskierigheid bevredig wou hê, en dat ek die uitslag op my eie kop sou neem. Hy het my toe verseker dat ek, selfs nadat ek my oog verloor het, nie by hulle sou kon bly nie, want hulle getal was volledig en kon nie vermeerder word nie. Maar daarop het ek geantwoord dat dit my wel sou spyt om van sulke eerbare here afskeid te neem, maar dat ek my nie daarom van my besluit sou laat afbring nie.
Toe my tien gashere my vasberadenheid hoor, het hulle 'n skaap geslag en my 'n mes gegee wat, so het hulle gesê, later vir my nuttig sou wees. "Ons moet jou in hierdie skaapvel toewerk," het hulle gesê, "en jou dan alleen laat. 'n Voël van monsteragtige grootte, wat die roc genoem word, sal in die lug verskyn en jou vir 'n skaap aansien. Hy sal jou opraap en die lug in dra, maar moenie bang wees nie, want hy sal jou veilig neerbring en jou bo-op 'n berg neersit. Wanneer jy op die grond is, sny die vel met die mes oop en gooi dit af. Sodra die roc jou sien, sal hy van skrik wegvlieg, maar jy moet aanstap totdat jy by 'n kasteel kom wat met goue plate bedek en met juwele besaai is. Gaan vrymoedig by die poort in, wat altyd oopstaan, maar moenie vra dat ons jou vertel wat ons daar gesien het of wat met ons gebeur het nie, want dit sal jy self uitvind. Net dít mag ons sê: dit het elkeen van ons sy regteroog gekos, en dit het ons ons nagtelike boetedoening opgelê."
Nadat die jong here die moeite gedoen het om die skaapvel om my toe te werk, het hulle my gelaat en na die saal teruggegaan. Binne 'n paar minute het die roc verskyn en my in sy reusagtige kloue na die top van die berg weggedra, so lig asof ek 'n veer was, want hierdie groot wit voël is so sterk dat hy al selfs 'n olifant na sy nes in die berge gedra het.
Die oomblik toe my voete die grond raak, het ek my mes uitgehaal en die drade wat my vasgebind het deurgesny, en toe die roc my in my eie klere sien, het hy so geskrik dat hy sy vlerke oopgesprei en weggevlieg het. Toe het ek op pad gegaan om die kasteel te soek.
Ek het dit gevind nadat ek 'n halwe dag rondgeloop het, en nooit sou ek my iets so heerliks kon voorstel nie. Die poort het in 'n vierkantige binnehof uitgekom waarop honderd deure oopgegaan het: nege-en-negentig van seldsame houtsoorte en een van goud. Deur elkeen van dié deure het ek 'n glimp van pragtige tuine of ryk voorraadkamers opgevang.
Ek het by een van die deure wat oopgestaan het ingegaan en myself in 'n groot saal bevind waar veertig jong dames, pragtig geklee en volmaak mooi, agteroor gelê het. Sodra hulle my sien, het hulle opgestaan en my welkom geheet, en hulle het my selfs gedwing om op 'n sitplek hoër as hulle s'n te gaan sit, hoewel my regmatige plek aan hul voete was. Hulle was nie daarmee tevrede nie: een het vir my pragtige klere gebring, 'n ander het 'n kom met geurige water gevul en dit oor my hande gegooi, en die res was besig om verversings voor te berei. Nadat ek van die fynste kos en die seldsaamste wyne geëet en gedrink het, het die dames om my saamgedrom en my gesmeek om hulle al my avonture te vertel.
Teen die tyd dat ek klaar was, was dit reeds nag, en die dames het die kasteel met so 'n ontsaglike klomp kerse verlig dat selfs die dag skaars helderder kon gewees het. Ons het toe gaan sit vir 'n aandete van gedroogde vrugte en lekkernye, waarna sommige gesing en ander gedans het. Ek het my so goed vermaak dat ek nie agtergekom het hoe die tyd verbygaan nie, maar eindelik het een van die dames nader gekom en my meegedeel dat dit middernag was. Aangesien ek seker moeg was, het sy gesê, sou sy my na die kamer neem wat vir my voorberei is. Toe het sy my goeienag gesê, en ek is gelaat om te slaap.
Die volgende nege-en-dertig dae het ek op omtrent dieselfde manier as die eerste deurgebring, maar aan die einde van dié tyd het die dames een oggend (soos hul gewoonte was) in my kamer verskyn om te vra hoe ek geslaap het. In plaas daarvan dat hulle vrolik lyk en glimlag, was hulle in trane. "Prins," het hulle gesê, "ons moet u verlaat, en nog nooit was dit so swaar om van een van ons vriende afskeid te neem nie. Heel waarskynlik sal ons u nooit weer sien nie, maar as u genoeg selfbeheersing het, kan ons miskien nog uitsien na 'n weersiens."
"Dames," het ek geantwoord, "wat beteken hierdie vreemde woorde? Ek smeek julle, vertel my."
"Weet dan," het een van hulle geantwoord, "dat ons almal prinsesse is – elkeen die dogter van 'n koning. Ons woon saam in hierdie kasteel, op die manier wat u gesien het, maar aan die einde van elke jaar roep geheime pligte ons vir veertig dae weg. Die tyd het nou aangebreek; maar voordat ons vertrek, sal ons ons sleutels by u laat, sodat u nie gebrek aan vermaak sal hê terwyl ons weg is nie. Maar een ding vra ons van u. Moet net die Goue Deur nie oopmaak nie, as u u eie gemoedsrus en die geluk van u lewe liefhet. Sodra daardie deur oopgesluit word, moet ons u vir ewig vaarwel sê."
Huilend het ek hulle van my versigtigheid verseker, en nadat hulle my teer omhels het, het hulle hul weg gegaan.
Elke dag het ek twee of drie nuwe deure oopgemaak, en agter elkeen was soveel merkwaardige dinge dat ek geen kans gehad het om my te verveel nie, hoe jammer ek ook al was dat die dames weg was. Soms was dit 'n boord waarvan die vrugte baie groter was as enige wat in my vader se tuin gegroei het. Soms was dit 'n binnehof vol rose, jasmyn, affodille, hiasinte en anemone, en duisend ander blomme waarvan ek die name nie geken het nie. Of weer was dit 'n voëlhok vol allerlei sangvoëls, of 'n skatkamer met edelstene opgehoop; maar wat ek ook al gesien het, alles was volmaak in sy soort.
Nege-en-dertig dae het vinniger verbygegaan as wat ek ooit kon gedink het, en die volgende oggend sou die prinsesse na die kasteel terugkeer. Maar helaas! Ek het elke hoekie verken, behalwe net die kamer agter die Goue Deur, en ek het niks meer gehad om my mee te vermaak nie. Ek het 'n ruk lank voor die verbode plek gestaan en die skoonheid daarvan bewonder. Toe het ek 'n blink gedagte gekry: al sluit ek die deur oop, beteken dit nie dat ek die kamer hoef binne te gaan nie. Dit sou genoeg wees om buite te staan en te kyk watter verborge wonders daarbinne mag wees.
Terwyl ek so teen my eie gewete redeneer, het ek die sleutel gedraai, en 'n reuk het uitgestroom wat, hoe aangenaam dit ook al was, my heeltemal oorweldig het, sodat ek flou oor die drumpel geval het. In plaas daarvan dat ek my deur hierdie voorval laat waarsku, het ek, sodra ek bykom, 'n paar oomblikke buite in die oop lug gegaan om die uitwerking van die reukwerk af te skud, en toe vrymoedig ingegaan. Ek was in 'n groot gewelfde vertrek, verlig deur kerse wat na aalwyn en ambergrys geruik het en in goue kandelaars gestaan het, terwyl goue en silwer lampe van die plafon af gehang het.
Hoewel voorwerpe van seldsame vakmanskap rondom my opgehoop gelê het, het ek weinig aandag daaraan gegee, so getref was ek deur 'n groot swart perd wat in een hoek gestaan het – die mooiste en welgevormdste dier wat ek nog ooit gesien het. Sy saal en toom was van massiewe goud, kunstig bewerk. Die een kant van sy krip was vol skoon gars en sesam, en die ander kant vol rooswater. Ek het die dier na buite gelei en op sy rug gespring en terselfdertyd die leisels geskud, maar omdat hy glad nie beweeg het nie, het ek hom liggies geraak met 'n lat wat ek in sy stal opgetel het. Nouliks het hy die hou gevoel, of hy het sy vlerke oopgesprei (wat ek nie tevore opgemerk het nie) en met my reguit die lug in gevlieg. Toe hy 'n ontsaglike hoogte bereik het, het hy weer na die aarde teruggeskiet en op die terras van 'n kasteel geland. Daar het hy my so hewig uit die saal geskud en my so 'n hou met sy stert gegee dat hy my regteroog uitgeslaan het.
Half verdoof soos ek was ná alles wat met my gebeur het, het ek opgestaan en gedink aan wat met die tien jong manne gebeur het, terwyl ek die perd dopgehou het wat in die wolke opgesweef het. Ek het die terras verlaat en verder gedwaal totdat ek by 'n saal gekom het wat ek aan die tien blou rusbanke teen die muur herken het as die een waaruit die roc my weggedra het.
Die tien jong manne was nie daar toe ek eerste ingekom het nie, maar het kort daarna saam met die ou man ingekom. Hulle het my vriendelik gegroet en my ongeluk betreur, hoewel hulle inderdaad niks anders verwag het nie. "Alles wat met jou gebeur het," het hulle gesê, "het ons ook deurgemaak, en ons sou steeds dieselfde geluk geniet het as ons nie die Goue Deur oopgemaak het terwyl die prinsesse weg was nie. Jy was nie wyser as ons nie, en jy het dieselfde straf gely. Ons sou jou graag onder ons opneem om dieselfde boetedoening as ons te doen, maar ons het jou reeds gesê dat dit onmoontlik is. Gaan dus hiervandaan na die hof van Bagdad, waar jy die man sal ontmoet wat oor jou lot kan beslis." Hulle het my die pad gewys wat ek moes volg, en ek het hulle verlaat.
Langs die pad het ek my baard en wenkbroue laat afskeer en 'n bedelmonnik se kleed aangetrek. Ek het 'n lang reis agter die rug, maar het vanaand in die stad aangekom, waar ek my broers, die bedelmonnike, by die poort ontmoet het – vreemdelinge soos ek. Ons was baie verwonderd oor mekaar toe ons sien dat ons almal blind aan dieselfde oog was, maar ons het nie tyd gehad om lank oor ons gemeenskaplike rampspoed te praat nie. Ons het net genoeg tyd gehad om hierheen te kom en die guns te vra wat u so goedhartig aan ons bewys het.
Hy het klaargemaak, en toe was dit Zobeida se beurt om te praat. "Gaan waar julle wil," het sy vir al drie gesê. "Ek vergewe julle almal, maar julle moet onmiddellik uit hierdie huis vertrek."
'n Bedelmonnik (in die oorspronklike 'n "Calender") was 'n rondtrekkende Moslem-monnik wat van aalmoese gelewe het; baie van hulle het hul baard, hare en wenkbroue afgeskeer.
Die roc is 'n reusagtige voël uit die ou Oosterse sprokies, so groot en sterk dat hy glo 'n olifant kon wegdra.
Magneetsteen: in die ou verhale is daar vertel van 'n berg van magneetsteen in die see wat die yster uit verbyvarende skepe trek, sodat hulle uitmekaarval.
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…