Hoofstuk 12
Die harde herderin Marcela
Oor wat 'n bokwagter vertel het aan dié wat by Don Quijote was
Net toe het daar nog 'n jong man aangekom, een van dié wat hul proviand uit die dorp gaan haal het, en hy het gesê: "Weet julle wat op die dorp aan die gang is, maats?"
"Hoe sou ons dit kon weet?" het een van hulle geantwoord.
"Nou ja, dan moet julle weet," het die jong man voortgegaan, "dat daardie beroemde student-herder met die naam Grisóstomo vanoggend dood is, en die gerug loop dat hy van liefde dood is vir daardie duiwel van 'n dorpsmeisie, die dogter van Guillermo die Ryke, sy wat hier oor die vlaktes rondloop in die drag van 'n herderin."
"Jy bedoel Marcela?" het een gesê.
"Haar bedoel ek," het die bokwagter geantwoord. "En die beste van alles is dat hy in sy testament bepaal het dat hy soos 'n Moor in die veld begrawe moet word, en wel aan die voet van die rots waar die Kurkboomfontein is, omdat dit, so lui die storie (en hulle sê hy het dit self gesê), die plek is waar hy haar die eerste keer gesien het. En hy het ook ander opdragte nagelaat wat die geestelikes van die dorp sê nie uitgevoer mag en moet word nie, omdat hulle na heidendom ruik. Op dit alles antwoord sy groot vriend Ambrosio, die student, wat net soos hy ook as herder geklee gegaan het, dat alles sonder enige weglatings uitgevoer moet word volgens die opdragte wat Grisóstomo nagelaat het. Hieroor is die hele dorp in rep en roer. Maar die gerug sê dat daar op die ou end tog gedoen sal word wat Ambrosio en al die herders, sy vriende, wil hê, en môre kom hulle hom met groot plegtigheid begrawe op die plek wat ek genoem het. Ek is seker dit sal iets wees om te sien. Ek sal in elk geval nie nalaat om te gaan kyk nie, al sou ek weet ek sal môre nie na die dorp kan teruggaan nie."
"Ons sal dieselfde doen," het die bokwagters geantwoord, "en lootjies trek om te sien wie moet agterbly om almal se bokke op te pas."
"Jy praat reg, Pedro," het een gesê, "al sal dit nie nodig wees om daardie moeite te doen nie, want ek sal vir almal agterbly. En moenie dink dit is deugsaamheid of 'n gebrek aan nuuskierigheid by my nie. Dit is dat die splinter wat ek nou die dag in my voet gekry het, my nie laat loop nie."
"Ons bedank jou nogtans," het Pedro geantwoord.
Don Quijote het Pedro gevra om hom te vertel wie die oorledene was en wie die herderin. Pedro het geantwoord dat al wat hy geweet het, was dat die oorledene 'n ryk edelman was uit 'n dorp in daardie berge, wat baie jare lank in Salamanca gestudeer het. Aan die einde daarvan het hy na sy dorp teruggekeer met die naam van iemand wat baie geleerd en belese was. "Bowenal, het hulle gesê, was hy geleerd in die wetenskap van die sterre en van wat daar bo in die hemel en by die son en die maan aangaan, want hy het ons op die minuut van die klips van die son en die maan vertel."
"Eklips, vriend, word dit genoem, nie klips nie, die verduistering van daardie twee hemelligte," het Don Quijote gesê. Maar Pedro het hom nie aan kleinighede gesteur nie en voortgegaan met sy storie: "Hy het ook voorspel wanneer die jaar een van oorvloed of van skaarsigheid sou wees."
"Skaarste, bedoel jy," het Don Quijote gesê.
"Skaarste of skaarsigheid," het Pedro geantwoord, "op die ou end is dit alles dieselfde. En ek kan u sê dat sy pa en sy vriende, wat hom geglo het, hierdeur baie ryk geword het, want hulle het gedoen wat hy hulle aangeraai het. Hy het vir hulle gesê: 'Saai hierdie jaar gars, nie koring nie. Hierdie jaar kan julle peulgewasse saai en nie gars nie. Volgende jaar sal daar 'n vol olyfoes wees, en die drie jare daarna sal daar nie 'n druppel olie te kry wees nie.'"
"Daardie wetenskap word sterrewiggelary genoem," het Don Quijote gesê.
"Ek weet nie wat dit genoem word nie," het Pedro geantwoord, "maar ek weet dat hy dit alles geweet het, en meer as dit. Maar om 'n einde daaraan te maak: daar het nie baie maande verloop nadat hy van Salamanca teruggekom het nie, toe hy op 'n dag verskyn het, geklee as herder met sy herderstaf en skaapvel, nadat hy die lang toga wat hy as student gedra het, uitgetrek het. En op dieselfde tyd het sy groot vriend, Ambrosio by name, wat sy medestudent was, saam met hom die herdersdrag aangeneem. Ek het vergeet om te sê dat Grisóstomo, die oorledene, 'n groot een was om verse te skryf, so erg dat hy kersliedere vir Oukersaand gemaak het, en toneelstukke vir Corpus Christi, wat die jongmanne van ons dorp opgevoer het, en almal het gesê hulle was uitstekend. Toe die dorpenaars die twee studente so onverwags in herdersdrag sien verskyn, was hulle stomgeslaan, en hulle kon nie raai wat hulle beweeg het om so 'n buitengewone verandering te maak nie. Omtrent daardie tyd het die pa van ons Grisóstomo gesterf, en hy is as erfgenaam gelaat van groot besittings, in roerende goed sowel as in grond, nie 'n klein getal beeste en skape nie, en 'n groot som geld. Van dit alles is die jong man as losbandige eienaar gelaat, en hy het dit ook alles verdien, want hy was 'n baie goeie maat, en goedhartig, en 'n vriend van ordentlike mense, en hy het 'n gesig gehad soos 'n seëning. Mettertyd het dit bekend geword dat hy sy klere met geen ander doel verruil het nie as om oor hierdie woestenye agter daardie herderin Marcela aan te dwaal wat ons jong kêrel netnou genoem het, op wie die oorlede Grisóstomo verlief geraak het. En ek moet u nou vertel, want dit is goed dat u dit weet, wie hierdie meisie is. Miskien, en selfs sonder enige miskien, sal u al die dae van u lewe nog nie so iets gehoor het nie, al sou u meer jare lewe as die sarna."
"Sê Sara," het Don Quijote gesê, wat nie die bokwagter se deurmekaar woorde kon verduur nie.
"Die sarna lewe lank genoeg," het Pedro geantwoord. "En as u, señor, by elke tree met woorde gaan fout vind, sal ons nie binne 'n jaar hiermee klaarkry nie."
"Verskoon my, vriend," het Don Quijote gesê, "maar omdat daar so 'n groot verskil is tussen sarna en Sara, het ek u daarop gewys. U het egter baie reg geantwoord, want die sarna lewe langer as Sara. Gaan dus voort met u storie, en ek sal nie weer teen enigiets beswaar maak nie."
Pedro verwar sy woorde. Hy bedoel die eienaar wat volle seggenskap oor sy erfenis het, maar sê "losbandig". Daarna haal hy die Spaanse gesegde "ouer as die sarna" (skurfte) deurmekaar met Sara, die vrou van Abraham, wat volgens Genesis honderd sewe-en-twintig jaar oud geword het.
"Ek sê dan, my liewe meneer," het die bokwagter gesê, "dat daar in ons dorp 'n boer was wat nog ryker was as die pa van Grisóstomo, met die naam Guillermo. Aan hom het God, bo en behalwe groot rykdom, 'n dogter geskenk by wie se geboorte haar ma gesterf het, die mees gerespekteerde vrou wat daar in hierdie omgewing was. Ek verbeel my ek kan haar nou nog sien, met daardie gesig wat die son aan die een kant en die maan aan die ander kant gehad het. En boonop was sy werksaam en goed vir die armes, waarom ek vertrou dat haar siel op hierdie oomblik by God in saligheid is in die ander wêreld. Haar man Guillermo het van hartseer gesterf oor die dood van so 'n goeie vrou, en sy dogter Marcela, 'n kind en ryk, in die sorg gelaat van 'n oom van haar, 'n priester en prebendaris in ons dorp. Die meisie het opgegroei met so 'n skoonheid dat dit ons aan haar ma s'n herinner het, wat baie groot was, en tog het almal gemeen dat die dogter s'n dit sou oortref. En so, toe sy die ouderdom van veertien, vyftien jaar bereik, was daar niemand wat haar aanskou het wat nie God geprys het dat Hy haar so mooi gemaak het nie, en die meeste was reddeloos op haar verlief. Haar oom het haar baie afgesonderd en teruggetrokke gehou, maar ondanks dit het die roem van haar groot skoonheid so versprei dat haar oom, vanweë haar skoonheid sowel as haar groot rykdom, gevra, gesmeek en lastig geval is om haar in die huwelik te gee, nie net deur dié van ons dorp nie, maar ook deur dié van baie myle in die rondte, en deur die mense van die hoogste stand daar. Maar hy, as 'n goeie Christenmens, al wou hy haar graag dadelik laat trou, aangesien hy gesien het sy is oud genoeg, wou dit nie sonder haar toestemming doen nie. Hy het ook geen oog gehad op die wins en voordeel wat die bewaring van die meisie se besittings hom ingebring het solank hy haar huwelik uitstel nie. En, op my woord, dit is in meer as een kring op die dorp tot lof van die goeie priester gesê. Want ek wil hê u moet weet, Heer Dolende, dat in hierdie klein dorpies oor alles gepraat en op alles gevit word. En wees verseker, soos ek is, dat die priester bo en behalwe goed moet wees wat sy gemeentelede dwing om goed van hom te praat, veral op die dorpe."
"Dit is die waarheid," het Don Quijote gesê, "maar gaan voort, want die storie is baie goed, en u, goeie Pedro, vertel dit met baie genade."
"Mag die genade van die Here my nie ontbreek nie," het Pedro gesê, "want dis die een wat 'n mens moet hê. Om voort te gaan: u moet weet dat, al het die oom aan sy niggie die eienskappe van elkeen van die vele wat om haar hand gevra het, in besonderhede voorgehou en beskryf, en haar gesmeek het om te trou en 'n keuse na haar eie smaak te maak, sy nooit 'n ander antwoord gegee het nie as dat sy nog nie lus gehad het om te trou nie, en dat sy, so jonk soos sy was, nie gedink het sy is opgewasse om die las van die huwelik te dra nie. By hierdie verskonings, wat na alle skyn redelik was, het haar oom opgehou om by haar aan te dring, en gewag totdat sy 'n bietjie ouer was en 'n maat na haar eie smaak kon kies. Want, het hy gesê, en hy het heeltemal reg gesê, ouers moet nie hul kinders teen hul sin in die lewe laat vestig nie. Maar toe 'n mens dit die minste verwag, kyk en sien! Op 'n dag verskyn die sedige Marcela daar, in 'n herderin verander. En ten spyte van haar oom en almal van die dorp wat probeer het om haar te ontmoedig, het sy saam met die ander herdermeisies van die dorp veld toe begin gaan en haar eie kudde opgepas. En so, vandat sy in die openbaar verskyn het en haar skoonheid openlik gesien kon word, kan ek u nie eens goed sê hoeveel ryk jong manne, edelmanne en boere, die drag van Grisóstomo aangeneem het en oor hierdie velde rondgaan om haar die hof te maak nie. Een van hulle, soos reeds gesê, was ons oorlede vriend, van wie hulle sê dat hy haar nie liefgehad het nie, maar aanbid het. Maar u moenie dink dat Marcela, omdat sy 'n lewe van soveel vryheid en onafhanklikheid gekies het, en van so min of eintlik geen afsondering nie, enige aanleiding gegee het, of selfs die skyn daarvan, om haar reinheid en sedigheid te beklad nie. Inteendeel, so groot is die waaksaamheid waarmee sy oor haar eer waak, dat van almal wat haar die hof maak en vry, nie een gespog het, of met waarheid kan spog nie, dat sy hom die geringste hoop gegee het om sy begeerte te verkry nie. Want al vermy of ontwyk sy nie die geselskap en gesprekke van die herders nie, en al behandel sy hulle hoflik en vriendelik, as een van hulle kom om sy bedoelings aan haar te verklaar, al is dit so behoorlik en heilig soos dié van die huwelik, slinger sy hom van haar af soos 'n klipslinger. En met hierdie soort geaardheid rig sy meer skade aan in hierdie streek as wat die pes sou gedoen het as dit hier ingekom het. Want haar vriendelikheid en haar skoonheid trek die harte van dié wat met haar omgaan aan om haar lief te hê en die hof te maak, maar haar minagting en haar openhartigheid bring hulle tot op die rand van wanhoop. En so weet hulle nie wat om te sê nie, behalwe om haar hardop wreed en hardvogtig te noem, en ander name van dieselfde soort wat die aard van haar karakter goed beskryf. En as u 'n ruk hier sou bly, señor, sou u hierdie heuwels en valleie hoor weergalm van die klaagliedere van die afgewese minnaars wat haar agtervolg. Nie ver hiervandaan nie is daar 'n plek waar daar so twee dosyn hoë beukebome staan, en daar is nie een van hulle wat nie die naam van Marcela op sy gladde bas gekerf en geskryf het nie. Bo party is 'n kroon in dieselfde boom gekerf, asof haar minnaar duideliker wou sê dat Marcela die kroon van alle menslike skoonheid dra en verdien. Hier sug een herder, daar kla 'n ander. Daar hoor jy liefdesliedere, hier wanhopige treursange. Een sal al die ure van die nag aan die voet van 'n eikeboom of 'n rots sit, en daar, sonder dat hy sy huilende oë toegemaak het, kry die son hom in die oggend, beneweld en van sy sinne beroof. En 'n ander, sonder verligting of rus van sy gesug, uitgestrek op die brandende sand in die volle hitte van die bedompige somermiddag, rig sy smeekbede aan die medelydende hemel. En oor die een en die ander, oor hierdie en almal, seëvier die pragtige Marcela, vry en sorgeloos. En almal van ons wat haar ken, wag om te sien waar haar trots op gaan uitloop, en wie die gelukkige man gaan wees wat daarin sal slaag om so 'n gedugte geaardheid te tem en so 'n hoogste skoonheid in besit te neem. Omdat alles wat ek u vertel het, sulke vasstaande waarheid is, is ek oortuig dat wat hulle sê oor die oorsaak van Grisóstomo se dood, soos ons jong kêrel ons vertel het, net so waar is. En daarom raai ek u aan, señor, moenie nalaat om môre by sy begrafnis te wees nie, wat baie die moeite werd sal wees om te sien, want Grisóstomo het baie vriende gehad, en dit is nie 'n halwe myl van hier na die plek waar hy beveel het dat hy begrawe moet word nie."
"Ek sal sorg dat ek daar is," het Don Quijote gesê, "en ek bedank u vir die plesier wat u my verskaf het deur so 'n boeiende verhaal te vertel."
"O," het die bokwagter gesê, "ek weet nie eens die helfte van wat met die minnaars van Marcela gebeur het nie, maar miskien kom ons môre op pad een of ander herder teë wat ons kan vertel. En nou sal dit goed wees as u onder dak gaan slaap, want die naglug kan u wond skade doen, al is daar met die middel wat ek op u aangewend het, geen vrees vir 'n slegte afloop nie."
Sancho Panza, wat die bokwagter met al sy gebabbel na die duiwel gewens het, het op sy beurt sy meester gesmeek om in Pedro se hut te gaan slaap. Dit het hy gedoen, en die res van die nag het hy aan sy dame Dulcinea gedink, na die voorbeeld van die minnaars van Marcela. Sancho Panza het hom tussen Rocinante en sy donkie tuisgemaak en geslaap, nie soos 'n minnaar wat afgewys is nie, maar soos 'n man wat deeglik geskop is.