Hoofstuk 1
Aanwysings by die opvoer
Die toneel moet uiters eenvoudig wees, met gordyne (ougoud) as agtergrond. Die hele uitwerking daarvan moet wees: ryk by gedempte lig, glansend by sterker beligting.
Die lig speel 'n vername rol in die stuk: dit dui die verandering van stemming sowel as die verskillende onderdele aan. Gewone lig moet gebruik word: gedemp in die voorspel, daarna beurtelings helderder en dowwer soos aangedui, totdat die stuk eindig in die gedempte lig waarin die voorspel aangevang het. Die effek moet nooit maanligagtig of spookagtig wees nie, en alleen ’n baie bekwame regisseur behoort proewe met gekleurde lig by die opvoer van hierdie stuk te doen.
Die kleredrag van die Voortrekkers kan realisties wees; dié van die ander figure moet tot geen historiese tydperk behoort nie. Die volgende word voorgestel:
vir vroue van koor
lang ligblou drag met silwer gordel;
vir manne van koor
ligblou mantels oor nousluitende wit klere;
vir voorspraak
wit mantel oor dieselfde soort drag as dié van manne in die Koor;
vir aanklaer
donkerblou mantel uitgevoer met ou-goud oor donkerblou kostuum.
In die voorspel staan die Koor soos in Fig. I aangedui, met
Koorleiers (A en B) voor:
[Fig. I — diagram van die verhoogopstelling in die oorspronklike uitgawe]
Wanneer die ander persone opkom, beweeg die twee dele van die Koor in die rigtings wat deur die pyle in Fig. I aangedui word, totdat die hele groepering van die Koor (K), Aanklaer (A), Voorspraak (V), Man (M), Vrou (Vr), Jongmens (J), en Boere (Be) soos in Fig. II is:
[Fig. II — diagram van die verhoogopstelling in die oorspronklike uitgawe]