Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 2

Die eerste gedeelte (1)

Die eerste gedeelte
DIE EERSTE GEDEELTE
[Projeksie van koerant met woorde in groot letters:
Terug uit Midde-Afrika
Jong Afrikaner sien vir eerste keer sy land]
[Teks wat in koerant volg, kan onduidelik wees]
OU VROU:
Marthinus, kom hier, my kind. Kom sit hier by my. Dis so 'n stil aand ... soos vroeër op die plaas. Om te dink dat jy al twee-en-twintig jaar is, en ek, jou ouma, ken jou glad nie. Maar ek sou jou orals geken het, jy lyk soos jou vader toe ek hom laas gesien het ... twintig jaar gelede, dis 'n lang tyd as mens jonk is, vir 'n oumens is dit niks ...
Marthinus, jy wil weet na wie jy jou naam gekry het en waarom jy nooit deur jou vader op dié naam genoem is nie.
Die drie-jarige oorlog, toe jy skaars twee jaar was, het ons familie gebreek soos dit byna ons volk gebreek het.
Na die oorlog het jou vader na Duits-Wes gegaan, daar't jy Martien geword. Toe ons mense onder Botha en Smuts in Suidwes gekom het, het jou vader na die Kongo getrek – daar het jy Martín [soos op Frans uitgespreek] geword.
[Projeksie van Jan teen 1900]
Hý wou nooit weer 'n Afrikaner sien nie. Jou vader was my enigste seun, my seuntjie: Is dit dat jy jou nie meer deur 'n Afrikaner wou láát sien nie? Was jý skaam oor hulle? Of was jy skaam om voor hulle te kom? My seun, my ou klein seuntjie – maar dit is al so baie jare gelede, en jy lê dáár begrawe: vreemd onder vreemdes, ver van jou mense. Jy kon maar teruggekom het soos hierdie onskuldige seun van jou moes terugkom. Ons Afrikaners is al gewoond daaraan om te vergewe. Al 'n honderd-en-vyftig jaar lank. Wat kan ons anders doen as leer vergewe.
Marthinus Theunis Steyn Visser, want so is jy gedoop, my kind, ek gaan jou vertel na wie jy hiet, en waarom jy, my kleinseun, na hóm, die groot president, vernoem is.
Toe jou vader alles verkoop het en met jou weg is uit ons land, het hy niks, g'n familieportret, geen album, geen foto saamgeneem nie; nie van ons, sy ouers; nie van sy vrou, van niemand saamgeneem nie.
[Projeksie van familieportret:
Grootvader, en grootmoeder, Jan en Anna en Marthinus Visser as baba]
Daar's jy as baba van een jaar oud; jou moeder was al dood, ja, baie jonk; jou vader soos hy tóé was, jou tant Anna wat eintlik vir jou moeder was, en ek; en jou oupa ...
Ryk en gerekende mense was ons in Bloemfontein. Maar het hulle en ons rég gereken met ons?
[Projeksie van Grootvader]
Dis jou grootvader, my man. Hy was al sestig toe die oorlog uitgebreek het. Lid van die Volksraad. Ek was sy tweede vrou. Ek was twintig toe ek getrou het. Hy, een-en-veertig. Ons het twee kinders gehad. Ja, ek het na hom opgesien; hom gerespekteer. Ek het hom liefgehad – soms baie liefgehad. 'n Slim man was hy.
Ons was van die voorste mense: ons het die president goed geken – al was jou grootvader 'n Fraser-man.
[Projeksie van 'n groep offisiere]
Die president se Boere-offisiere. Party selfs van húlle, was ... te swak. Daar's Prinsloo. Ek noem niemand 'n verraaier nie. Wie is ek om te oordeel?
[Projeksie van lord Milner]
Lord Milner. Ook vir hom het ons ontmoet en leer ken. Jou grootvader was van ons voorste mense in Bloemfontein.
Lord Milner. Ja, u was hoog. En u was magtig, met 'n wêreldmag aan u kant. Miskien wou u iets doen vir hierdie land.
Maar kan 'n mens iets doen vir 'n volk wat jy minag?
Ook u veroordeel ek nie; al glo ek dat u die oorlog wóú hê en voorberei en deurgevoer het.
U was 'n sterk man, soos hulle dit noem, 'n man met 'n yster wil.
Maar soveel haat? En daarna: Soveel bloed?
En wat bly daar van u oor in hierdie land? 'n Paar straatname? 'n Dorp se naam? 'n Volgeboude park.
Ons het almal vergifnis nodig.
[Projeksie van President Steyn]
Marthinus Theunis Steyn, laaste president van ons republieke.
[Teer]: Theunis. President. Waar sal 'n mens begin vertel, my kind?
Ons mense was maar doodgewone mense ... seker net soos dié in Engeland: doodgewone mense.
Die jong manne wou gaan veg en vir die Engelsman wys! Soos die jong Engelse seuns vir die Dutchman wou kom wys.
Miskien sou dit 'n piekniek wees, met as einde 'n Majoeba.
Of miskien 'n walkover in three months.
Daar wás so 'n verwagting by die Engelse.
Dié aand onthou ek: dis Bloemfontein se strate.
['n Straat in Bloemfontein. Dit is aand. Links word 'n venster verlig en die mense van die huis sing: "Heer, waar dan heen?" Maar 'n gelag en gesing van 'n groep bruilofsgaste klink al harder op. Hulle sing soos hulle uitgelate die straat afgehardloop kom]
BRUILOFSGASTE:
Ou Willem het getrou
met 'n splinternuwe vrou,
op die jubel, op die jubel, op die dei.
En Sannie het 'n man,
'n splinternuwe man,
op die jubel, op die jubel, op die dei.
Vaarwel, vaarwel, vaarwel,
vaarwel, my liefste Sannie,
vaarwel, vaarwel, vaarwel ...
Ou Willem die wil, maar hy kannie.
[Die groep is nie dronk nie, maar uitgelate en dis duidelik dat daar fees gevier is. 'n Bruilofsgas kom haastig op en maak die ander stil]
BRUILOFSGAS:
Haai julle, die veldkornet het gesien hoe julle vir hom weghardloop. Hy ...
[Terwyl haar woorde verder onhoorbaar word deur die groep se gelag, die veldkornet op]
VELDKORNET:
Vermaas, ek het gesien hoe jy weghardloop vir my! Jy moes al op kommando gewees het!
VERMAAS:
Veldkornet, ja, ek is 'n bietjie laat. Moenie praat nie! Ek kom al. Ek is al op kommando. Ek het net vanmiddag eers 'n bietjie getrou.
SANNIE:
Maar kyk, die veldkornet het nog nie 'n lyf nie. Ons moet hom 'n lyf gee.
VERMAAS:
Skoonpa, gee die kreelat hier, dat ons vir die veldkornet 'n lyf gee.
EERSTE GAS:
Sonder 'n lyf kan jy mos nie oorlog maak nie. Dis glo al oorlog, lekker oorlog.
VERMAAS:
Maar môreoggend eers, Veldkornet; nee, nee wag ...
EERSTE GAS:
Dis oorlog, lekker oorlog.
TWEEDE GAS:
Toe dan, President, laat ons hulle begin skiet!
[Groot gelag en vrolikheid. Die verligte venster gaan op en vrou, tant Maria, steek haar kop uit]
TANT MARIA:
[Dreigend]: Skande! Skaam julle julle nie! Dis 'n gewyde uur ...
VERMAAS:
Ons wei, Antie, nee, maar ons wei ...
[Groep burgers met geweer kom verby singende die Vrystaatse volkslied. Bruilofsgaste volg hulle. Soos hulle afgaan, lig weg en straat verdwyn]
[Woonkamer van die familie Visser in Bloemfontein op die hoofspeelvlak: die grootvader en sy seun, Jan]
JAN:
Pa, dis môre miskien oorlog, en ek moes al op kommando wees soos al my maats.
GROOTVADER:
Jy is rusteloos, veral nou dat jou vroutjie dood is. Maar ons moet verstandig wees.
JAN:
Is President nie verstandig nie, Pa?
GROOTVADER:
Hy's nog jonk, skaars veertig. Ja, skaars. Ons móét nie oorlog maak nie.
JAN:
Wil President oorlog maak, Pa?
GROOTVADER:
By ons gaan dit goed. Wat het ons met Transvaal en Kruger se hardkoppigheid te doen?
JAN:
Ons gaan nie vir Kruger veg nie, Pa! Dit is wat president Steyn vir ons geleer het: nie elkeen agter sy eie leier aanloop nie. Dis vir elke Afrikaner in hierdie land dat ons gaan veg. En dis Engeland wat wil oorlog maak. Hulle wíl!
GROOTVADER:
Ons moes ons nie aan die Engelse gesteur het nie. Dit was grootpraat van ons – én hulle. Maar nou het ons hulle uitgedaag en uitgetart. En as hulle nou kóm? Ek het altyd gesê die Steyn-mense gaan ons dierbare land in die verderf sleep.
[Baie rustig]: Kyk, jy't jou seuntjie. Jou arme weeskind. Het jy nie voor die preekstoel beloof om eerste vir hom te sorg nie? By sy doop as weeskind; om jou kind in die geloof op te voed nie? Antwoord my!
JAN:
Ek hét. Maar die mense sal sê dis oor Pa lid is van die Volksraad dat ek nie op kommando gaan nie.
GROOTVADER:
Jy's bang vir wat "die mense sal sê?"
[Spottend]: Gaan jy dan nie ook bang wees vir die Engelse nie? Vrees nie, sê die Bybel. Kyk, seun, ons het baie plase; dáárvoor moet gesorg word. Ek word oud.
[Hy roep]: Anna, kom hier!
[Al hoe meer opgewonde]: Wie gaan vir jou moeder sorg?
Vir jou vader? Vir jou seun?
[Anna op. Vir Anna]: My dogter, jy sorg vir hierdie broer van jou se weeskindjie. Sal jy nie praat nie? Sal jy hom nie oorhaal om rustig hier te bly nie? Ek sal dit kan reël. Waarom sê jy niks?
ANNA:
Ek het niks om te sê nie, Vader.
GROOTVADER:
Niks om te sê nie! Kan jy nie sê: daardie kind mag nie hééltemal weeskind word nie. Kan jy nie sê nie: vir ons ouers moet gesorg word?
ANNA:
Vader, ek het niks om te sê nie. Want ek gaan nie vir my broer sê: sit rustig by die huis wanneer jou mense op dood of lewe veg nie.
GROOTVADER:
Ek het vir julle Christelik probeer grootmaak en om julle vader en moeder te eer. En hier sit ek as ou man met my kinders se ongehoorsaamheid; met kinders wat agter valse pro-
Gedrukte bladsy 16 van die boek ontbreek in die skandering wat ons het. Die teks loop hier dus nie aaneen nie.
[Pouse. Dan kom hy van die rostrum af]
PRESIDENT:
Vandag kan ek nie net met die hoogedele lede van die Volksraad praat nie.
Nee, vandag moet ek sê "broers" – én "susters", want hulle is saam met ons in alles, ramp en voorspoed, stryd en lewe en dood.
Vrystaatse manne en vroue!
Nee, Afrikaners van oral. Dit is 'n oorlog wat bedoel is om die Afrikanervolk finaal uit te wis, dat hy nie meer tussen die volkere sal bestaan nie. [Sag, indringend]: Nee, ek praat nie net met Afrikaners nie. Ek praat met elkeen in Suid-Afrika, met Engelse ook, met Bruin en Swart: as hierdie mag wat nou dreig om die Afrikaner neer te slaan, finaal gaan wen – as die goud-lus wat oorgegaan het tot moordlus – as daardie mag finaal wen, dan sal elkeen in hierdie land, blank, bruin en swart die slawerny voel toesak. Óns is maar die dyk teen die vloedgolf. Miskien is ons die kind wat aan Molog geoffer word.
Ek wil vir u die lastering laat vóél: hierdie telegram is aan my gestuur: For what you are about to receive, may the Lord make you truly thankful.
Wat ons gaan ontvang? Bloed, bloed, ellende.
Maar: let op: die taal van ons godsdiens spottend deur die haters van ons godsdiens teen ons gespu. Dít is wat ons teen ons het.
[Nou praat hy baie sag]: Ons wou hierdie oorlog nie hê nie. Ek het met raadgewing en pleit, met aanmaning en gebed vir ons Transvaalse broers daartoe oorgehaal om elke toegewing te doen wat die vrede kon bewaar. Maar die vyand wou nie toegewings hê nie en nie vrede nie; hy wou hierdie land en al sy volkere finaal onder sy voetsool hê.
Ek weet dat my stem onhoorbaar is teen die gebulk van die bulle van Básan. Ek praat met die wêreld, en vír die wêreld, al sou die wêreld my nie kan hoor nie.
Daarom dra ek ootmoedig die regverdigheid van ons saak aan God op.
En: in die stryd wat voorlê, laat daar van ons kant af geen daad geskied anders as wat 'n Christen betaam nie, dit smeek ek julle. [Pouse] Laat dan U wil geskied.
[Vrystaatse volkslied saggies op agtergrond. Miskien alleen laaste gedeelte daarvan. Lig verdof op voorgrond. President af terwyl lig op Grootvader val]
[Woonkamer van die Vissers. Grootvader, sy vrou]
GROOTVADER:
Oorlog! My seun is weg – agter daardie Steyn aan – en wat is dié beter as ons? My boerdery loop deurmekaar; my dogter praat nie met my nie.
En jy, jy kon dit gekeer het! Vir jou sou hy geluister het. Jy't hom nie teruggehou nie. En nou praat hulle van "wen". Wie kan vir Engeland oorwin? Gee vir die keiser, sê ek. Óns is nie die keiser nie, Steyn is nie, ou Paul is nie! Julle praat van "volk". Ons is geen volk nie ... ons mense sal uitgeroei word! Dis wat sal gebeur. Wee dié wat sy buurman se landpale versit. Wee dié wat die swaard trek, want hy sal deur die swaard omkom. En nou is dit julle Steyn wat die swaard getrek het; en ons het die Kolonie en Natal aangeval.
OU VROU:
Ag, my man, ons het al so dikwels daaroor gepraat. Moes ons bly stilsit en wag totdat die riem om ons nek was om ons te verwurg?
GROOTVADER:
Ons moes nie die oorlog begín het nie. Dis alles Steyn se aandraf agter Transvaal aan soos 'n los donkie.
OU VROU:
My man, het jy beswaar gemaak toe ons kleinkind na Steyn vernoem is? Of was dit toe goed, omdat ons onder die voorste mense was?
GROOTVADER:
Moenie bog praat nie. Dit was jy. Dit was jou werk.
OU VROU:
Nee, dit was ons seun se ernstige begeerte. Dit was sy liefde vir die president.
GROOTVADER:
Aag, dis nie nou die kwessie nie ... maar julle juig nou oor julle oorwinnings. As julle honderd Engelse geskiet het, sê julle – dis 'n oorwinning! [Hy lag lekker]
OU VROU:
[Terwyl sy na sy-rostrum oorstap]:
Daar wás nog vereers
ons groot oorwinnings:
Stormberg, Colenso,
daar was Maersfontein.
[By haar rostrum]:
Jou vader het gou kommandant geword
en hy't dit verdien: hy was haastig en wakker –
die groot De la Rey het jou vader vertrou.
Maar daar wás nog vereers
ons groot oorwinnings:
Stormberg, Colenso,
daar was Maersfontein.
Maar die bars het al begin wys.
Verwyte tussen Vrystater en Transvaler;
Die Kaapse rebelle is Rhodes-manne genoem;
en generaals het in koppigheid onder mekaar getwis.
[Genl. Cronjé en kmdt. Jan Visser, verteenwoordiger van genl. De la Rey. Hulle staan albei knorrig en probeer mekaar nie raaksien nie. Pres. Steyn op]
PRESIDENT:
Generaal Cronjé, ek verstaan daar's moeilikheid. Naand, Kommandant. Laat ek hoor wat die geskil is.
GENL. CRONJÉ:
President, u het self die wêreld by Maersfontein bekyk. Die kakies moet hierdie rante deur om by Kimberley te kom. Ek sê: Ons moet posisies inneem bo op die rante; dan kan ons hulle ver sien aankom. En van bo af skiet.
JAN:
Maar, President, generaal De la Rey sê: met hulle kanonne skiet hulle éérs daardie koppies flenters ... koeëls en klippe deurmekaar. Hy ken dit.
GENL. CRONJÉ:
President, dit lyk my die generaal word bang.
JAN:
President, moet ek bystaan en my leier laat beledig?
PRESIDENT:
[Vir genl. Cronjé]: Kom, Oom, kom ons tel ons woorde. U is ouer. Generaal De la Rey is nie self hier nie en u weet waarom. Hy begrawe vandag sy seun. Maar, laat elkeen sy saak stel.
GENL. CRONJÉ:
President, ons Boere het nog altyd posisie ingeneem bó op die berge. Selfs die Engelse by Majoeba het. De la Rey wil net nuwerwets wees!
PRESIDENT:
Onthou darem hoe maklik ons hulle van Majoeba kon afjaag.
JAN:
[Kalm]: Ons het nog nooit teen so baie kanonne moes veg soos nou nie. Ons mense raak benoud.
GENL. CRONJÉ:
Daar hoor ek weer van "bang". As 'n man bang is, moet ons hom wegja!
PRESIDENT:
Generaal, u is nie bang, en ek durf nie bang wees nie; maar ons burgers – dis mense wat vir "bang" ook ken. [Vir Jan]: Stel jou saak.
JAN:
President, generaal De la Rey sê die Engelse met hulle oormag kanonne sal eers die rante pap bombardeer. Op 'n veilige afstand. Ons mense sal 'n dag, of dae, onder die skoot en liddiet moet lê en wag. So't hulle dit in Natal gedoen.
PRESIDENT:
Dis nie bang mense – nie almal – maar ons ken nog nie bombardeer nie.
JAN:
En dan sal die Engelse met bajonette stormloop. Ek weet hoe bang ons mense daarvoor is. Dit het ons nie. As die vyand naby kom – en met hulle getalle kan hulle kom en kom en aanhou kom dwarsdeur ons geweervuur – as hulle op ons, tussen ons, is met die bajonette – wat kan ons mense dan doen?
PRESIDENT:
Ja, ons moet genadig wees, ook vir ons swak burgers. Ek begryp dit, Generaal. [Vir Jan]: De la Rey stel dus voor ...?
JAN:
Dat ons ingrawe onderkant die rante. Op die vlakte ... hier.
PRESIDENT:
Dis óók gevaarlik. Dan is hulle nog eerder óp ons met die bajonette.
JAN:
President, ons mense kan skiet. En as jy op gelyk veld in die bondel skiet, is selfs 'n misskoot êrens raak.
PRESIDENT:
En die kanonne?
JAN:
Laat hulle maar die koppies bo-oor ons fynmaal.
PRESIDENT:
[Lag]: Julle hare sal darem mooi deurmekaar waai.
JAN:
En laat hulle dán stormloop ... dan is dit óns beurt om te skiet.
PRESIDENT:
Jy oortuig my ...
GENL. CRONJÉ:
Ek buig nie vir De la Rey nie. Ek buig vir niemand nie.
PRESIDENT:
[Sterk]: Generaal, ek is opperbevelhebber.
GENL. CRONJÉ:
Jy's president van die Vrystaters! Dié is jou mense, Martiens. Ek is Transvaler. Ek sal vir my president ...
PRESIDENT:
Die twee presidente praat in hierdie stryd met een stem, Generaal.
GENL. CRONJÉ:
[Buite homself]: Jou Vrystaters dros al en sit stil as óns veg. Daardie Prinsloo van julle! Wat het hy al gedoen!
PRESIDENT:
Vir kommandant Prinsloo het ek reeds afgedank vanmôre.
En, Generaal, as hy met my gepraat het soos u praat, sou hy voor die krygsraad gestaan het.
GENL. CRONJÉ:
[Verslae]: President, ek is ouer as u. Ek voel ons volk moet hom op die bekende paaie hou.
PRESIDENT:
[Rustig]: Ek sou graag wou sê: ja, van ganser harte. Maar die Here lei ons telkens op paaie soos ons nog nooit tevore geken het nie. [Lag] Ag wat, ons kan maar ook nederig word: onder op die vlakte lê en nie bo op die berge nie. Die ou psalmis sê nie: ek lê bo op die berge nie. Hy sê: Ek hef my oë op ... Ja, en seker 'n bietjie hoër as die berge, darem.
[Die lig verdonker terwyl Cronjé en Visser afgaan. Ou Vrou verskyn in 'n kollig. Wat volg, is 'n soort kontrapunt tussen Ou Vrou en Steyn]
OU VROU:
'n Ding soos 'n oorlog kom in 'n mens soos 'n siekte.
Waar so baie sterf, begin elkeen 'n bietjie sterf;
elkeen raak vereensaam – soos 'n sterwende
loslaat alles wat buite is, in homself keer.
– Ek moet losruk, úít uit myself kom –
My seun het 'n seuntjie van twee jaar.
[Kollig op president]
PRESIDENT:
Dit is byna rustig na so 'n onrustige dag.
OU VROU:
My seun het 'n seuntjie wat byna twee jaar oud is;
ek word stadigaan al 'n ouerige vrou.
En daar is tog geen oorlog nie; dit is vrede.
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…