Hoofstuk 32
Ali Cogia, handelaar van Bagdad
Die pot olywe
In die tyd toe Haroun-al-Raschid regeer het, het daar in Bagdad 'n handelaar met die naam Ali Cogia gewoon. Hy het nie 'n vrou of kinders gehad nie en was tevrede met die beskeie wins wat sy handel hom ingebring het. Hy het 'n paar jaar baie gelukkig gewoon in die huis wat sy pa vir hom nagelaat het, toe hy drie nagte agter mekaar gedroom het dat 'n ou man aan hom verskyn het en hom verwyt het omdat hy sy plig as 'n goeie Moslem verwaarloos en sy pelgrimstog na Mekka so lank uitgestel het.
Ali Cogia was baie ontsteld oor hierdie droom, want hy wou nie sy winkel prysgee en al sy klante verloor nie. Hy het al 'n geruime tyd sy oë gesluit vir die noodsaak om dié pelgrimstog te onderneem, en het probeer om sy gewete te sus deur ekstra goeie werke te doen. Maar die droom het vir hom na 'n regstreekse waarskuwing gelyk, en hy het besluit om die reis nie langer uit te stel nie.
Die eerste ding wat hy gedoen het, was om sy meubels en die ware in sy winkel te verkoop. Hy het net die goedere vir homself gehou waarmee hy langs die pad kon handel dryf. Die winkel self het hy ook verkoop, en hy het maklik iemand gekry om sy woonhuis te huur. Die enigste saak wat hy nie na wense kon reël nie, was hoe hy duisend goudstukke wat hy wou agterlaat, veilig kon bêre.
Ná 'n rukkie se nadink het Ali Cogia op 'n plan gekom wat vir hom veilig gelyk het. Hy het 'n groot pot geneem, die geld onderin gesit en die res met olywe volgemaak. Toe hy die pot styf toegeprop het, het hy dit na een van sy vriende geneem, 'n handelaar soos hyself, en vir hom gesê:
"My broer, jy het seker gehoor dat ek oor 'n paar dae saam met 'n karavaan na Mekka vertrek. Ek het kom vra of jy my die guns sal bewys om hierdie pot olywe vir my te hou tot ek terugkom?"
Die handelaar het sonder huiwering geantwoord: "Kyk, hier is die sleutel van my winkel. Vat dit en sit die pot net waar jy wil. Ek belowe jou dat jy dit op dieselfde plek sal kry wanneer jy terugkom."
'n Paar dae later het Ali Cogia op die kameel geklim wat hy met handelsware gelaai het, by die karavaan aangesluit en op die regte tyd in Mekka aangekom. Soos die ander pelgrims het hy die heilige moskee besoek, en toe al sy godsdienstige pligte afgehandel was, het hy sy ware so mooi moontlik uitgestal, in die hoop dat hy 'n paar klante onder die verbygangers sou kry.
Baie gou het twee handelaars voor die stapel goed stilgestaan, en nadat hulle dit omgedop en deurgekyk het, het die een vir die ander gesê:
"As hierdie man slim was, sou hy dié goed na Kaïro toe vat. Daar sou hy 'n baie beter prys kry as wat hy ooit hier sal kry."
Ali Cogia het die woorde gehoor en geen tyd verspil om die raad te volg nie. Hy het sy ware ingepak, en in plaas daarvan om na Bagdad terug te keer, het hy by 'n karavaan aangesluit wat na Kaïro op pad was. Die uitslag van die reis het sy hart verbly. Hy het amper dadelik alles verkoop en 'n voorraad Egiptiese rariteite gekoop wat hy in Damaskus wou verkoop. Maar omdat die karavaan waarmee hy sou moes reis eers oor ses weke sou vertrek, het hy die oponthoud benut om die piramides te besoek, en ook 'n paar van die stede langs die oewers van die Nyl.
Nou het Damaskus die goeie Ali so betower dat hy hom skaars daar kon wegskeur. Maar uiteindelik het hy onthou dat hy 'n huis in Bagdad het, en hy wou deur Aleppo terugreis, en nadat hy die Eufraat oorgesteek het, die loop van die Tigris volg.
Maar toe Ali in Mosoel aankom, het hy sulke goeie vriende gemaak met 'n paar Persiese handelaars dat hulle hom oorreed het om saam met hulle na hul vaderland te gaan, en selfs tot in Indië. En so het dit gebeur dat sewe jaar verbygegaan het sedert hy Bagdad verlaat het. Al dié tyd het die vriend by wie hy die pot olywe gelos het, nie een keer aan hom of aan die pot gedink nie. Om die waarheid te sê, die saak het hom eers 'n maand voordat Ali Cogia werklik teruggekom het, te binne geskiet, en dit omdat sy vrou een dag opgemerk het dat sy lanklaas olywe geëet het en graag 'n paar sou wou hê.
"Dit herinner my daaraan," het die man gesê, "dat Ali Cogia, voordat hy sewe jaar gelede na Mekka gegaan het, 'n pot olywe in my sorg gelaat het. Maar regtig, teen dié tyd moet hy dood wees, en daar is geen rede waarom ons nie die olywe kan eet as ons wil nie. Gee vir my 'n lig, dan gaan haal ek hulle en kyk hoe hulle smaak."
"My man," het die vrou geantwoord, "ek smeek jou, pasop dat jy niks so laag doen nie! Al het daar sewe jaar verbygegaan sonder nuus van Ali Cogia, hoef hy nog nie dood te wees nie, en hy kan enige dag terugkom. Hoe skandelik sou dit nie wees as jy moet erken dat jy sy vertroue beskaam en die seël van die pot gebreek het nie! Moet jou nie aan my ydele praatjies steur nie; ek het regtig nou nie meer lus vir olywe nie. En ná al die tyd is hulle waarskynlik in elk geval nie meer goed nie. Ek het 'n voorgevoel dat Ali Cogia sal terugkom, en wat sal hy dan van jou dink? Ek smeek jou, los dit."
Die handelaar wou egter nie na haar raad luister nie, hoe verstandig dit ook al was. Hy het 'n lig en 'n skottel geneem en na sy winkel gegaan.
"As jy so koppig wil wees," het sy vrou gesê, "kan ek niks daaraan doen nie. Maar moet my nie blameer as dit sleg uitdraai nie."
Toe die handelaar die pot oopmaak, het hy gevind dat die boonste olywe vrot was. Om te sien of dié onder in 'n beter toestand was, het hy 'n paar in die skottel uitgeskud. Terwyl hulle uitval, het 'n paar van die goudstukke ook uitgeval.
Toe hy die geld sien, is al die handelaar se hebsug wakker gemaak. Hy het in die pot gekyk en gesien dat die pot onder heeltemal vol goud was. Toe het hy die olywe teruggesit en na sy vrou teruggegaan.
"My vrou," het hy gesê toe hy die kamer binnekom, "jy was heeltemal reg. Die olywe is vrot, en ek het die pot so goed weer toegeprop dat Ali Cogia nooit sal weet dat iemand daaraan geraak het nie."
"Jy sou beter gedoen het om my te glo," het die vrou geantwoord. "Ek hoop net dat daar niks slegs van sal kom nie."
Hierdie woorde het net so min indruk op die handelaar gemaak as die vorige, en hy het die hele nag lank gewonder hoe hy dit kon regkry om die goud te hou as Ali Cogia sou terugkom en sy pot opeis. Heel vroeg die volgende oggend het hy uitgegaan en vars nuwe olywe gekoop. Toe het hy die oues weggegooi, die goud uitgehaal en weggesteek, en die pot volgemaak met die olywe wat hy gekoop het. Daarna het hy die pot weer toegeprop en dit op dieselfde plek gesit waar Ali Cogia dit gelos het.
'n Maand later het Ali Cogia weer in Bagdad aangekom. Omdat sy huis nog verhuur was, het hy na 'n herberg gegaan, en die volgende dag het hy sy vriend die handelaar gaan opsoek. Dié het hom met ope arms ontvang en baie verbasing betoon. Nadat hulle 'n paar oomblikke na mekaar se welstand verneem het, het Ali Cogia die handelaar gevra om vir hom die pot te gee wat hy so lank vir hom opgepas het.
"O, natuurlik," het hy gesê, "ek is net bly dat ek jou in die saak van diens kon wees. Hier is die sleutel van my winkel; jy sal die pot kry op die plek waar jy dit gesit het."
Ali Cogia het sy pot gaan haal en dit na sy kamer in die herberg gedra, waar hy dit oopgemaak het. Hy het sy hand diep ingesteek, maar kon geen geld voel nie, en tog was hy oortuig dat dit daar moes wees. Toe het hy 'n paar borde en bakke uit sy reistoerusting gehaal en die olywe uitgeskud. Tevergeefs. Die goud was nie daar nie. Die arme man was stom van ontsetting. Toe het hy sy hande opgehef en uitgeroep: "Kan my ou vriend regtig so 'n misdaad gepleeg het?"
In groot haas het hy na die handelaar se huis teruggegaan. "My vriend," het hy uitgeroep, "jy sal verbaas wees om my weer te sien, maar ek kan nêrens in hierdie pot die duisend goudstukke kry wat ek onderin onder die olywe gesit het nie. Miskien het jy dit geleen vir jou besigheid; as dit so is, is jy meer as welkom. Ek vra jou net om vir my 'n kwitansie te gee, en jy kan die geld terugbetaal wanneer dit jou pas."
Die handelaar, wat so iets verwag het, het sy antwoord klaar gereed gehad. "Ali Cogia," het hy gesê, "toe jy die pot olywe vir my gebring het, het ek ooit daaraan geraak?
"Ek het vir jou die sleutel van my winkel gegee, en jy het dit self gesit waar jy wou. En het jy dit nie presies op dieselfde plek en in dieselfde toestand gekry nie? As jy enige goud daarin gesit het, moet dit nog daar wees. Ek weet niks daarvan nie; jy het net vir my gesê daar is olywe in. Jy kan my glo of nie, maar ek het nie 'n vinger aan die pot gelê nie."
Ali Cogia het nog elke moontlike manier probeer om die handelaar te oorreed om die waarheid te erken. "Ek is lief vir vrede," het hy gesê, "en ek sal dit baie betreur as ek my tot harde maatreëls moet wend. Ek vra jou nog een keer: dink aan jou goeie naam. Ek sal moedeloos wees as jy my dwing om die hulp van die gereg in te roep."
"Ali Cogia," het die handelaar geantwoord, "jy erken self dat dit 'n pot olywe was wat jy in my sorg gelaat het. Jy het dit self kom haal en weggeneem, en nou vertel jy my dat daar duisend goudstukke in was, en dat ek dit aan jou moet teruggee! Het jy ooit vantevore iets daarvan gesê? Ek het nie eens geweet dat daar olywe in die pot was nie! Jy het hulle nooit vir my gewys nie. Ek is verbaas dat jy nie pêrels of diamante eis nie. Gaan asseblief weg, voordat 'n skare voor my winkel saamdrom."
Teen dié tyd het nie net die toevallige verbygangers nie, maar ook die handelaars van die winkels rondom, al om hulle gestaan en na die twis geluister, en nou en dan probeer om die saak tussen hulle by te lê. Maar by die handelaar se laaste woorde het Ali Cogia besluit om die oorsaak van die rusie aan hulle voor te lê, en hy het hulle die hele storie vertel. Hulle het hom tot die einde aangehoor en toe die handelaar gevra wat hy te sê het.
Die beskuldigde man het erken dat hy Ali Cogia se pot in sy winkel gehou het, maar hy het ontken dat hy daaraan geraak het. Hy het gesweer dat hy van die inhoud net geweet het wat Ali Cogia hom vertel het, en hy het hulle almal tot getuie geroep van die belediging wat hom aangedoen is.
"Jy het dit self oor jou gebring," het Ali Cogia gesê en hom aan die arm gegryp, "en omdat jy jou op die gereg beroep, sal jy die gereg kry! Kom ons kyk of jy dit sal waag om jou storie voor die kadi te herhaal."
Nou mog die handelaar as 'n goeie Moslem nie so 'n keuse van 'n regter weier nie. Daarom het hy die uitdaging aanvaar en vir Ali Cogia gesê: "Goed, niks sal my beter pas nie. Ons sal gou sien wie van ons twee reg is."
So het die twee mans hulle voor die kadi aangemeld, en Ali Cogia het weer sy verhaal vertel. Die kadi het gevra watter getuies hy het. Ali Cogia het geantwoord dat hy nie dié voorsorg getref het nie, omdat hy die man as sy vriend beskou het en hom tot op daardie tyd altyd eerlik gevind het.
Die handelaar het op sy beurt by sy storie gebly en aangebied om plegtig te sweer dat hy nie net nooit die duisend goudstukke gesteel het nie, maar ook nie eens geweet het dat hulle daar was nie. Die kadi het hom toegelaat om die eed af te lê en hom onskuldig verklaar.
Ali Cogia was woedend dat hy so 'n verlies moes ly. Hy het teen die uitspraak beswaar gemaak en verklaar dat hy hom op die kalief, Haroun-al-Raschid self, sou beroep. Maar die kadi het hom nie aan sy dreigemente gesteur nie en was heeltemal tevrede dat hy gedoen het wat reg was.
Toe die uitspraak gelewer is, het die handelaar triomfantlik huis toe gegaan, en Ali Cogia het na sy herberg teruggekeer om 'n versoekskrif aan die kalief op te stel. Die volgende oggend het hy hom langs die pad gaan staan waarlangs die kalief ná die middaggebed moes verbykom, en sy versoekskrif uitgehou na die amptenaar wat voor die kalief uitgeloop het. Dit was dié amptenaar se plig om sulke versoekskrifte in te samel en, wanneer hulle die paleis binnegaan, aan sy heer te oorhandig. Daar het Haroun-al-Raschid hulle dan noukeurig bestudeer.
Omdat Ali Cogia van hierdie gebruik geweet het, het hy die kalief tot in die openbare saal van die paleis gevolg en op die uitslag gewag. Ná 'n ruk het die amptenaar verskyn en hom meegedeel dat die kalief sy versoekskrif gelees het en vir die volgende oggend 'n uur bepaal het waarop hy hom sou aanhoor. Toe het hy na die handelaar se adres gevra, sodat hy ook ontbied kon word.
Daardie selfde aand het die kalief, saam met sy grootvisier Giafar en Mesrour, die hoof van die hofdienaars, uitgegaan om, soos hulle gewoonte was, al drie vermom deur die stad te gaan wandel.
Toe hulle in 'n sekere straat afloop, is die kalief se aandag deur 'n geraas getrek. Hy het deur 'n deur geloer wat op 'n binnehof uitgegaan het, en tien of twaalf kinders gesien wat in die maanlig speel. Hy het hom in 'n donker hoek weggesteek en hulle dopgehou.
"Kom ons speel kadi," het die slimste en vinnigste van hulle almal gesê. "Ek sal die kadi wees. Bring Ali Cogia voor my, en die handelaar wat hom van die duisend goudstukke beroof het."
Die seun se woorde het die kalief laat terugdink aan die versoekskrif wat hy daardie oggend gelees het, en hy het met belangstelling gewag om te sien wat die kinders sou doen.
Die ander kinders het die voorstel met vreugde begroet, want hulle het al baie oor die saak hoor praat, en hulle het gou besluit watter rol elkeen sou speel. Die kadi het ernstig sy plek ingeneem, en 'n amptenaar het eers vir Ali Cogia, die eiser, voorgebring, en toe die handelaar, die verweerder.
Ali Cogia het diep gebuig en sy saak punt vir punt gestel. Op die end het hy die kadi gesmeek om hom nie so 'n swaar verlies te laat ly nie.
Nadat die kadi sy saak aangehoor het, het hy hom na die handelaar gedraai en gevra waarom hy nie die bedrag in kwessie aan Ali Cogia terugbetaal het nie.
Die valse handelaar het dieselfde redes herhaal wat die regte handelaar aan die kadi van Bagdad gegee het, en hy het ook aangebied om te sweer dat hy die waarheid gepraat het.
"Wag 'n bietjie!" het die klein kadi gesê. "Voordat ons by eede kom, wil ek graag die pot met die olywe ondersoek. Ali Cogia," het hy bygevoeg, "het jy die pot by jou?" En toe hy hoor dat hy dit nie het nie, het die kadi voortgegaan: "Gaan haal dit en bring dit vir my."
Toe het Ali Cogia vir 'n oomblik verdwyn, en daarna het hy gemaak asof hy 'n pot voor die kadi se voete neersit. Hy het verklaar dat dit sy pot was wat hy aan die beskuldigde gegee het om op te pas. Om alles heeltemal korrek te doen, het die kadi die handelaar gevra of hy dit as dieselfde pot herken. Deur te swyg het die handelaar dit erken, en die kadi het toe beveel dat die pot oopgemaak moet word. Ali Cogia het 'n beweging gemaak asof hy die deksel afhaal, en die klein kadi het op sy beurt gemaak asof hy in 'n pot inloer.
"Wat 'n pragtige olywe!" het hy gesê. "Ek wil graag een proe." En terwyl hy maak asof hy een in sy mond sit, het hy bygevoeg: "Hulle is regtig uitstekend!
"Maar," het hy voortgegaan, "dit lyk vir my snaaks dat olywe van sewe jaar oud so goed kan wees! Laat roep 'n paar olyfhandelaars, dan hoor ons wat hulle sê!"
Twee kinders is as olyfhandelaars aan hom voorgestel, en die kadi het hulle toegespreek. "Sê vir my," het hy gesê, "hoe lank kan olywe gehou word sodat hulle nog lekker is om te eet?"
"Edele heer," het die handelaars geantwoord, "hoeveel moeite 'n mens ook al doen om hulle te bewaar, hulle hou nooit langer as drie jaar nie. Hulle verloor smaak sowel as kleur, en is net goed om weggegooi te word."
"As dit so is," het die klein kadi geantwoord, "ondersoek dan hierdie pot en sê vir my hoe lank die olywe al daarin is."
Die olyfhandelaars het gemaak asof hulle die olywe ondersoek en proe, en toe aan die kadi berig dat hulle vars en goed was.
"Julle vergis julle," het hy gesê. "Ali Cogia verklaar dat hy hulle sewe jaar gelede in daardie pot gesit het."
"Edele heer," het die olyfhandelaars geantwoord, "ons kan u verseker dat die olywe van vanjaar is. En as u al die handelaars in Bagdad raadpleeg, sal u nie een kry wat anders sal sê nie."
Die beskuldigde handelaar het sy mond oopgemaak asof hy wou protesteer, maar die kadi het hom nie tyd gegee nie. "Bly stil," het hy gesê, "jy is 'n dief. Vat hom weg en hang hom op." So het die spel geëindig. Die kinders het hande geklap van bewondering en die misdadiger weggelei om opgehang te word.
Haroun-al-Raschid was verstom oor die wysheid van die kind, wat so 'n wyse uitspraak gegee het in die saak wat hy self die volgende dag moes aanhoor. "Is daar enige ander uitspraak moontlik?" het hy die grootvisier gevra, wat net so beïndruk was soos hy. "Ek kan my geen beter oordeel voorstel nie."
"As die omstandighede werklik is soos ons gehoor het," het die grootvisier geantwoord, "lyk dit vir my of U Majesteit niks anders kan doen as om die voorbeeld van hierdie seun te volg nie, in die manier van redeneer sowel as in die gevolgtrekking."
"Merk dan hierdie huis goed," het die kalief gesê, "en bring die seun môre na my toe, sodat die saak in my teenwoordigheid deur hom verhoor kan word. Ontbied ook die kadi, sodat hy sy plig uit die mond van 'n kind kan leer. Sê vir Ali Cogia hy moet sy pot olywe saambring, en sorg dat twee olyfhandelaars teenwoordig is." Met dié woorde het die kalief na die paleis teruggekeer.
Vroeg die volgende oggend het die grootvisier teruggegaan na die huis waar hulle die kinders sien speel het, en na die vrou van die huis en haar kinders gevra. Drie seuns het verskyn, en die grootvisier het gevra wie van hulle die vorige aand in hul spel die kadi gespeel het. Die oudste en langste het van kleur verander en erken dat dit hy was. Tot sy ma se groot skrik het die grootvisier gesê dat hy streng bevel gehad het om hom voor die kalief te bring.
"Wil hy my seun van my wegneem?" het die arme vrou uitgeroep. Maar die grootvisier het hom gehaas om haar te kalmeer. Hy het haar verseker dat sy die seun binne 'n uur sou terugkry, en dat sy heeltemal tevrede sou wees wanneer sy die rede vir die ontbieding hoor. Toe het sy die seun in sy beste klere aangetrek, en die twee het die huis verlaat.
Toe die grootvisier die kind aan die kalief voorstel, was die seun 'n bietjie bedees en verleë, en die kalief het begin verduidelik waarom hy hom laat haal het. "Kom nader, my seun," het hy vriendelik gesê. "Ek dink dit was jy wat gisteraand die saak van Ali Cogia en die handelaar beoordeel het? Ek het jou toevallig gehoor en was baie ingenome met die manier waarop jy dit hanteer het. Vandag sal jy die regte Ali Cogia en die regte handelaar sien. Kom sit dadelik hier langs my."
Toe die kalief op sy troon sit met die seun langs hom, is die twee partye in die saak binnegelei. Een vir een het hulle hulle neergewerp en met hul voorkoppe die tapyt aan die voet van die troon aangeraak. Toe hulle opstaan, het die kalief gesê: "Praat nou. Hierdie kind sal julle reg laat geskied, en as daar nog iets nodig is, sal ek self daarvoor sorg."
Ali Cogia en die handelaar het die een ná die ander hul saak gestel. Maar toe die handelaar aanbied om dieselfde eed af te lê wat hy voor die kadi afgelê het, het die kind hom gestuit en gesê dat hy eers die pot olywe moet sien voordat dit gedoen word.
By hierdie woorde het Ali Cogia die pot aan die kalief voorgehou en dit oopgemaak. Die kalief het een van die olywe geneem, dit geproe en die kundige handelaars beveel om dieselfde te doen. Hulle het verklaar dat die olywe goed en vars van daardie jaar was. Die seun het hulle meegedeel dat Ali Cogia beweer het dat hy hulle sewe jaar gelede in die pot gesit het, en hulle het dieselfde antwoord gegee as die kinders.
Teen dié tyd het die beskuldigde handelaar gesien dat sy veroordeling seker was, en hy het probeer om iets tot sy verdediging aan te voer. Die seun was te verstandig om te beveel dat hy opgehang moet word. Hy het na die kalief gekyk en gesê: "Bevelhebber van die Gelowiges, dit is nou nie 'n speletjie nie. Dit is U Majesteit se reg om hom ter dood te veroordeel, en nie myne nie."
Toe het die kalief, oortuig dat die man 'n dief was, beveel dat hulle hom wegneem en ophang. Dit is gedoen, maar eers nadat hy sy skuld erken het en gesê het waar hy Ali Cogia se geld weggesteek het. Die kalief het die kadi beveel om uit die mond van 'n kind te leer hoe om reg te spreek, en hy het die seun huis toe gestuur met 'n beursie met honderd goudstukke in, as 'n teken van sy guns.
Mekka: die heiligste stad van Islam. Elke Moslem wat dit kan bekostig, behoort minstens een keer in sy lewe die pelgrimstog (die hadj) daarheen te onderneem.
Kalief: die opperste heerser van die Moslemwêreld, wat as die opvolger van Mohammed gesien is. Haroun-al-Raschid was 'n werklike kalief wat ongeveer 786 tot 809 n.C. in Bagdad regeer het.
Kadi: 'n Moslem-regter wat geskille besleg en volgens die godsdienstige wet uitspraak lewer.