Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 3

Die eerste gedeelte (2)

Die eerste gedeelte
PRESIDENT:
Ons lyk as volk vir onenigheid gebore;
en nie net verskille van pro en kontra nie,
nee, maar met klówe van onenigheid, afgronde,
onenigheid van óf ons wil bestaan,
as volk wil voortbestaan ...
OU VROU:
My man is meestal vir my nou 'n vreemdeling,
iemand verlore in eie gepeinse en planne –
ek probeer raak aan hom, en ek vind hom nie.
PRESIDENT:
Ons laat my dink aan toe ek 'n kind was –
toe ek nog nie maklik Engels kon lees nie:
van 'n martelaar wat verbrand is, diep gelowig, dapper;
maar toe die vuur sy vleis begin verbrand,
toe skreeu hy uit, hóé weet ek nie,
toe skreeu hy ... miskien iets van Lama Sabagtani,
en toe kruis hy sy hande oor sy bors
en met sy vingernaels skéúr hy,
skeur hy sy sag-gebrande vleis van sy bors af
asof marteling met méér marteling moet gekróón word.
Só skeur ons ons, so skeur ons ons,
elkeen met sekerheid
So skeur ons volk homself.
OU VROU:
My dogter draai 'n glimlag óm haar alleenheid.
PRESIDENT:
Ek moet bind, ek moet my mense bind –
eers aanmekaar, dan aan iets hoërs,
en dit is 'n eensaam iets, dié bind,
dié probeer bind.
OU VROU:
Ons volk het in onrus en in koors gewoel
soos 'n onrustige slaper rond kan rol ...
[Hoofspeelvlak. Huis van Grootvader in Bloemfontein. Ou Vrou en dogter, Anna, besig met wol oprol]
ANNA:
Ai, maar Ma lyk vir my so bedruk. Boet sal versigtig wees.
OU VROU:
Versigtig help nie altyd nie. En hy wóú in die voorste kommando wees, nou's hy kommandant boonop.
ANNA:
Ma, hy's fyngevoelig – en al hoe meer ná sy vrou dood is. En, Ma, álmal in 'n oorlog gaan tog nie dood nie.
[Hulle werk]
OU VROU:
Het jý nie moeilikheid nie?
ANNA:
Wat noem Ma "moeilikheid"?
OU VROU:
Die Kolonialer, natuurlik.
ANNA:
Aag, hy't seker 'n nôi in die Kaap. Hy's nog maar ses maande hier.
OU VROU:
Nou probeer jy my flous, my kind. Ek is mos nie blind nie. Ek wou nog vir jou sê: jou vader hou van hom. Ek weet nie wat dit is van wat mens so na Pieter trek nie ... dis ... dis ... iets ...
ANNA:
Ma weet, hy's so 'n uitasem-kêrel. Weet Ma hoe ... wat ek bedoel ...?
OU VROU:
Ek weet nie ... ja, my kind ek dink ek weet. Antjie, het hy al iets gesê ... gepraat oor ... oor julle ...?
ANNA:
Nee ... nee, Ma. Ek het ook gedink hy wou, hy sou iets ... en toe, en toe kom die oorlog, Ma.
OU VROU:
Dis miskien beter so.
ANNA:
Is dit, Ma? [Kort pouse] En nou praat hy van ... hy wil op kommando gaan.
OU VROU:
Hy is 'n Kolonialer!
ANNA:
Almiskie, soos hý altyd sê.
OU VROU:
Ek gaan vir hom sê hy móét nie, my kind, vir hóm is dit te gevaarlik. As een van ons burgers gekwes of gevang word, dan is hy wettiglik 'n krygsgevangene; hulle móét hom goed behandel – dit sê jou vader, al weet ek nie. Maar Vader sê: die Kolonialers is rebelle. Hulle gee nie aan die Keiser wat des Keisers is ... wie die keiser ook al mag wees.
ANNA:
Maar baie Kolonialers het tog al burgers geword.
OU VROU:
Maar jou vader wat wetgeleerd is, sê dit: As 'n man voor die oorlog al burger geword het, is hy 'n burger. Maar dié wat na die uitbreek by ons wil probeer "inbreek" – dis jou vader se woorde, hy spot mos só – dié is rebelle.
ANNA:
Ma, Pieter sê hy gaan juis "rebel" word.
OU VROU:
En as hy gevang word? ... of gewond?
ANNA:
Ma bedoel; wat met hom kan gebeur, dan ...
OU VROU:
Ons weet nog nie, my kind, hoe kwaai die vyand gaan wees nie. Ons weet nog nie wat hy met sy rebelle gaan doen nie.
[Klop aan deur. Kaapse rebel, Pieter, kom binne]
PIETER:
Naand, Tante, naand An ... e ... juffrou.
ALBEI VROUE:
Naand, Pieter.
OU VROU:
Pieter, ek hoor jy wil op kommando gaan. Jy moenie. Laat ek met jou soos 'n ouer vrou, soos 'n moeder praat. Jy't hierheen gekom om onderwys te gee. Ons het sulke mense nodig. Jy moet jou werk doen ... dis al genoeg. Kyk, vir jou is dit gevaarliker as vir ons manne. Maar president Steyn vang netnou iets onnutsig aan. Laat ek eers gaan kyk.
PIETER:
Is die President nou hier?
[Die twee vroue lag]
OU VROU:
Jy weet mos ons het ons eie president Steyn in hierdie huis. En hy regeer ons almal net soos die regte President van die Vrystaat regeer.
PIETER:
O, natuurlik Jan se baba-seuntjie, Marthinus.
OU VROU:
[Draai na deur en sê dan] Pieter, daardie plan van jou – dis te gevaarlik! Dis meer as wat van 'n mens verwag word. Van óns Vrystaters word dit nie verwag nie. [Af]
ANNA:
Jy het gehoor wat Moeder gesê het.
PIETER:
Jy ... jy sien daar baie goed uit, vanmiddag.
ANNA:
Wat beteken dit? Dat ek ... dikker geword het?
PIETER:
Dat jy, dat jy baie mooi lyk.
ANNA:
Nou hoekom sê jy dit dan nie so nie?
PIETER:
Ek is bang dat ... dat jy ... dat ek ...
ANNA:
Jy is bang vir 'n vroumens en jy wil die Engelse bydam?
[Albei lag, kyk na mekaar en word ernstig]
ANNA:
Pieter, ek wéét nie, weet nie wat ek vir jou moet sê nie. Moeder se woorde het my bang gemaak. Vir my broer, vir Boet kon ek laat gaan, áánmoedig om te gaan ... hy's 'n burger. Maar vir jou! Pieter, as hulle jou vang, as hulle jou vang ...
PIETER:
[Sag] Glo jy dat ek nie daaroor gedink het nie. Vir myself gesê: waarom nie rustig bly en 'n liewe Vrystaatse meisie trou en 'n gesin grootmaak en tuinmaak en skoolhou en ek weet nie wat alles nie. En as jy oud is ... moenie lag nie, maar so dink mens as jy oor groot dinge moet besluit ... as jy oud is, vertel jy vir jou kleinkinders: wát, Anna? Wat! En wat vertel jy vir jouself deur al die jare?
ANNA:
Maar elke mens het sy eie plig. 'n Predikant gaan ook nie veg nie, hy gaan voort met sy werk; en die burgemeester van Bloemfontein; ja, selfs ons president vat nie 'n geweer nie, of een van die generaals – elke man het sý pos en sý werk. Is jou werk nie belangrik nie ... óók vir ons mense? Jy is tog nie Vrystater of republikein nie ...
PIETER:
Ek is Afrikaner, of: ek het dit gewórd, hier in Bloemfontein. Hier by julle president, ons president. [Geesdriftig]: Anna, ek het Vrystaat toe gekom net op 'n advertensie, net om werk te kry, en onder mense van mý taal, en nie altyd net onder vreemdes se bevel nie. En toe het ek rondgekyk. En julle president gesien en gehoor praat. Daardie orrelstem wat hy het as hy praat. En ek het begin voel: hier is 'n nuwe soort Afrikaner. Nie net plat Boer, soos ons sê nie ... waarom moet 'n Boer plat wees, waarom? Nie net eenvoudig, gelowig sterk, aartsvaderlik nie – laat ek uitpraat! Ek het gevoel: hier het die Afrikaner wýsheid geword en intellek; gelyk of bo die Engelse se bestes, beskaafd; méér as hulle Milners en ander. Want ook nog goed van hart bý die wysheid en verstand. Ag, ek praat seker deurmekaar. Maar so is dit nou met my. Dis 'n vreemde, nuwe ding. En dis hiervoor wat ek moet gaan veg. Ek weet ek praat dalk onsin.
ANNA:
Ek kan jou nie oop oë die dood sien ingaan nie. Daar moet iets wees wat jou sal keer; as ek net kan dink, net die regte woorde kry, as ek net ...
[Grootvader kom binne]
GROOTVADER:
Is hier iets aan die gang, julle?
ANNA:
Niks nie, Vader.
PIETER:
Meneer ... Oom ... ek wil Vrystater wees. Ek wil op kommando gaan.
GROOTVADER:
En jou trou verbreek? Jy is trou aan jou koningin verskuldig.
PIETER:
Hoe het sy my koningin geword? Ek het haar nie gevra soos Oom-hulle oom se president gevra het nie! Toe ek my kom kry, was sy al koningin.
GROOTVADER:
[Nog kalm] Dit sou 'n skoolmeester in Engeland ook kon sê: "Toe hy hom kom kry!" Maar sy ís jou koningin. Julle kolonie is hare, is haar eiendom.
PIETER:
Oom, ek kan dit nie meer so insien nie.
[Ou Vrou kom binne]
GROOTVADER:
[Kalm] Ons mense kan min dinge insien. Ook die Vrystaters kyk teen hulle eie ooglede vas. En die Transvalers ... Ons kyk almal teen ons rantjies vas. Ons moet ons landjie van buitekant af sien ... as 't ware met die oë van die wêreld. Jong man, ek het oorsee gaan studeer.
ANNA:
Vader, die president het ook oorsee gaan studeer.
GROOTVADER:
Anna, ek laat my nie in my eie huis teëspreek nie.
OU VROU:
Vader, laat ons nie politiek praat nie.
GROOTVADER:
En almal kom in hierdie huis teen mý politiek praat! En geeneen weet wat politiek is nie! En ek moet dit aanhoor! En van iemand wat nou rebel wil word ...
PIETER:
[Sag] Oom en Tante, en Anna, ek moet eerlik wees. Ek het al aangesluit. Ek vertrek vanaand. Oom, ek ís al rebel.
GROOTVADER:
So. En jy't die skaamteloosheid ... Ek hou nie van verraaiers nie ... in mý huis ... Uit, uit, uit hierdie huis! Uit!
PIETER:
Dan sal ek maar groet. Tante. Anna.
[Grootvader draai weg. Die vroue groet hom hartlik]
GROOTVADER:
In my eie huis vir my ... 'n Mens moet leer om die wettige gesag oor jou te gehoorsaam ... jy wat nie eers 'n duim grond besit nie! 'n Skoolmeester! Gowwermentsklong!
PIETER:
Dag, Oom. Ek sal dan maar gaan veg vir die grond van ánder. [Af]
[Ou Vrou stap oor na haar rostrum terwyl lig op hooftoneelvlak verflou]
OU VROU:
Voor Maersfontein se heuwels het ons manne gelê.
In loopgrawe van agtien duim diep gelê.
My seun wat jou vader was, was onder hulle.
Dié Sondag het tientalle kanonne
daardie heuwels bokant omgekarring:
kartets en brisantbom; groot rotse
vyftig voet in die lug laat spat;
en die lug was groen en suur van die liddietwalms.
Dit het jou vader vertel;
Dit was Maersfontein.
[Jan het intussen uit donkerte verskyn. Gaan sit by Ou Vrou se voete, met rug teen haar knieë]
JAN:
Moeder, ek kon nie eers bid nie.
Moeder, ek het gevoel soos 'n klein mol
as die osse en die ploeg bo hom begin trap en breek.
Moeder, ek het nog geslaap soos 'n dooie.
Maar in die skemeroggend het ons hulle hoor aankom:
donker voete, duisende donker voete.
Toe in die klein eerste lig:
die banke, banke manne, net so donker
soos die aankom van die voete.
En ons moes wag. Ons moes wag op die bevel.
Moeder, ek kon nie bid nie.
En toe, tóé: ons teken,
en een bank vuur uit ons geweers,
blink bank teen hulle donker bank,
blink bank teen donker bank manne.
En, Moeder, hulle het nie nader gekom nie;
nie nader gekom nie.
OU VROU:
Dit was Maersfontein!
Die vuur het nie van die heuwels gekom.
Die vuur het nie van bo gekom nie.
Die vuur het uit die aarde gekom.
Die vuur het hier voor die voete uitgespuit.
En die dapper manne het geval.
Dapper manne uit Skotland.
Die dapper manne het nie nader gekom nie.
Dit was Maersfontein.
[Projeksie van Andrew Wauchope]
OU VROU:
Hóm prys ons ook, saam met óns dapperes!
Hom prys ons: Andy Wauchope,
die beminde van Skotland, die trots,
dapper leier van die Hooglanders.
Dapper en mooi en gehoorsaam.
Hy was bemind en ryk in Skotland –
en nou hou óns arm aarde hom:
ons skraal Karoo naby Matjiesfontein.
KOOR:
[Onsigbaar, sing]
Matjiesfontein is 'n lekker fontein,
daar loop 'n straal wyn so dik as my duim.
[Projeksie van Lord Milner]
OU VROU:
Lord Milner, luister:
KOOR:
[Sing agter toneel]
Magersfontein is 'n bitter fontein,
daar loop strome bloed so dik as my duim.
[Steyn se huis. President by sy skryftafel. Ruiter bring vir Jan Visser binne]
RUITER:
Hier is Kommandant Visser. [Ruiter af]
PRESIDENT:
Ek is bly jy't gekom, Jan. Hoe gaan dit daar by generaal Cronjé? Praat gou. Ek is dood bekommerd. Dis ons mense wat by Maersfontein gewen het, daardie.
JAN:
Gou práát sal nie help nie, President. Generaal Cronjé trek Modderrivier op. Bloemfontein toe. Met, skat ek, vyfduisend man. Soos u vir hom laat weet het.
PRESIDENT:
Dis goed. Dis goed. Dis die beste. Cronjé het 'n goeie kop. Die vyand druk swaar, dit weet ons. Maersfontein het vir hulle net tydelik gestuit.
JAN:
[Bars uit] Maar Cronjé trek so stadig! U het my gestuur om hom aan te sê om vinnig terug te val. En hy kruie met sy kommando's aan soos 'n groot ou skilpad. Waens aan waens. Byna elke burger het een of twee, met vrou en kinders en slagvee en potte en panne, kaggels en komfore.
PRESIDENT:
Maar dit wás nie so nie!
JAN:
Die families het aangekom mans toe soos vir 'n piekniek. Ja, vrouens het hulle babas daar kom kry!
PRESIDENT:
En tog: Cronjé is een van ons beste generaals. En geen bang haar op sy kop nie.
JAN:
Bang of dapper is nie die kwessie nie, President. Ons kommando's sal gevang word! Roberts druk van die Kolonie af. Kitchener van die weste, French van die noorde. Duisende der duisende.
PRESIDENT:
[Rustig] Baie meer as ons.
JAN:
Daar's baie net voetvolk. [Byna wanhopig]: Ons kan mos vinniger as hulle wegkom ... te perd, sonder waens.
PRESIDENT:
Waarom net "wegkom?" Waarom nie vastrap en kéér nie?
JAN:
Op daardie pad kan ons nie, President. Die vyand kan ons altyd omsingel en vaskeer. Generaal De Wet sou nie ...
PRESIDENT:
Boetie, daar't ons 'n man gekry!
JAN:
Generaal De Wet sê ons moet altyd vinniger, vinniger as die Engelse wees. En Cronjé ...
PRESIDENT:
Generáál Cronjé. Besef die Generaal daar's gevaar van voorkeer?
JAN:
Hy praat nie met ons nie. Hy vra nie raad nie. Van my sekerlik nie. [Bitter]: Hy's die generaal. En hy kruie op sy tyd aan ... Partykeer kry ek eintlik respek: U praat van "dapper", President. Ek is bang vir één ding: Generaal Cronjé kan dalk té dapper wees. Hy is skaam om te lyk asof hy vlug.
[De Wet op]
DE WET:
President! Jan.
[Hulle groet]
PRESIDENT:
Krisjan, net betyds. Dit lyk my daar is lelike dinge aan die gang.
DE WET:
Dis dié dat ek my kommando's 'n halfdag moes los.
PRESIDENT:
Sit en skep asem.
DE WET:
President, ek sal nog baie asem skep ...
PRESIDENT:
Jy't mooi werk gedoen met hierdie rapportryers. [Hy wys na Jan]: Vandat die telefoondrade so geknip is ... sê my: is Cronjé in gevaar?
DE WET:
Dit lyk my: baie groot gevaar. Ja, weghardloop – dit wil Cronjé nie.
PRESIDENT:
[Byna peinsend] Dis ons mense wat Maersfontein gewen het: ons keurkommandos uit Transvaal en die Vrystaat daar by Cronjé.
DE WET:
President, ek wil nou kans vra en praat.
PRESIDENT:
Praat. Daarvoor het ons jou 'n generaal gemaak. En, natuurlik vir veg.
DE WET:
President, ek sien ons sal nuwe dinge in hierdie oorlog moet leer. Dis wat daardie Transvaler, De la Rey, by Maersfontein vir ons gewys het. Nuwe dinge – wat die Engelse maar later in hulle militêre handboekies sal gaan skrywe. (Ek sweer hulle gaan nog die woord "kommando" aanleer.) Kyk, ons het met ons ou wa-laer aangekruip na die Zoeloes toe – en dán: Bloedrivier. Maar in hierdie oorlog sal die kruip teen ons gedoen word. Die vyand kan honderdduisend; tweehonderdduisend; vyfhonderdduisend na ons toe laat aankruip ... stadig, stadig kruip ... tot hy oor ons soos 'n slak oor 'n miertjie kruip ... ons vaslê. Ons moet ophou kruip. En ons sal self moet leer om pad te gee: te slaan en pad te gee, sonder skaamte. Hier is Jan. Hy't vir u vertel wat hy vir my vertel het?
PRESIDENT:
[Knik] Ja.
DE WET:
Ons sit te sit nou al drie maande: om Kimberley, om Ladysmith, om Kuruman. Wie wil nou met Kuruman en Mafeking opsit! En Schoeman sit te sit daar by Colesberg met sesduisend man!
PRESIDENT:
[Kalm] Jy wil sê ...
DE WET:
Laat ek vir u wys [Wys op kaart]: Hier is De Aar. Met hierdie spoor moet Roberts sy mense aanbring ... én hulle kos, én sy ammunisie, partykeer wáter ... As ons stil sit en niks doen, kan hy álles bring: kanonne, bomme, tee, Skotte en butterscotch. As ons sy spoorlyn in die lug laat vlieg ... hiér ... hiér ... dan kan hy met sy tienduisend of vyftigduisend op die vlakte sit, kaal wat sy kos en sy alles betref ... kambro en uintjies grawe ... dié ken hulle nie eers ... Ons moet sy stert van agter afsny ... en hy sal op die kaal vlaktes by Kimberley sit en verhonger saam met Rhodes, met net whisky.
PRESIDENT:
En as ons ons manne so agter die vyand instuur ... word óns nie vasgekeer nie?
DE WET:
Ons kan vinniger wees: aanval en padgee. Ons ken die wêreld.
PRESIDENT:
En Cronjé met sy vyfduisend man? As ons hóm verloor, lê ons land óóp, kaal.
[Pieter op, baie moeg]
PRESIDENT:
Wat is dit?
PIETER:
Generaal Cronjé is vasgekeer.
DE WET:
Vertel!
PIETER:
Toe ons by die rivier kom om deur te trek, toe sien ek dit. Ek het gedurig vooruit gery [Vir De Wet]: soos Generaal gesê het. Toe die waens begin afsak en deurkom, bars die bomme van vóór op ons. Die Engelse het ons ómgery en vasgekeer. Ek het hierheen gejaag.
DE WET:
Hoeveel?
[President gaan na lessenaar en begin skryf]
PIETER:
Ek kan nie sê nie. Lyk my so duisend of wat.
DE WET:
Duisend? Perderuiters?
PIETER:
Ja, Generaal.
DE WET:
Dis wat hulle moes doen. Maar: duisend? Dan kan Cronjé mos sy pad oopskiet ...
PIETER:
Van agter kom baie, baie meer aan.
PRESIDENT:
Ou seun, ek is jammer vir jou; jy's moeg. Maar julle twee moet dadelik terug Cronjé toe.
DE WET:
En gaan apart soos ons afgespreek het. Dan kan één dalk deurkom as die ander val. Jy, Jan, vat die kort pad. Pieter, jy bietjie noord, dat jy van agter binnekom. Maar President, ú moet die bevel gee. Ek is onderkant generaal Cronjé.
PRESIDENT:
Kêrels, daar's nie tyd vir skrywe nie. Ek gee julle net geloofsbriewe. [Gee vir elkeen 'n briefie]: Ek sê hierin net die generaal moet hierdie bevele uitvoer, soos een van julle dit oordra. Sê hy moet alles wat oorbodig is, los. Sê: as die nood kom, moet hy die waens [aarsel]: ja, en die families agterlaat en met sy burgers uitjaag. Die vyand sal tog nie die vroue en kinders iets aandoen nie. Dit is tog 'n beskaafde oorlog hierdie. Sê: generaal De Wet sal van die noordekant af druk. Dag, kêrels. [Hy hou hulle 'n oomblik teë]: Sê my net dít eers: hoe is die gees van ons burgers?
JAN:
President, wil u die waarheid hoor?
PRESIDENT:
[Knik, effens verwonderd]
JAN:
Soos die Afrikaners altyd is: ons Vrystaters verwyt die Transvalers, en albei verwyt weer die Kaapse rebelle. Nou dat ons nie kan oorlogmaak met jag en vleisbraai en saans lekker lag en af en toe skiet nie ...
PIETER:
Nee, nee, nee, President. Daar ís swakkes. Maar daar is nog meer onverskrokke kêrels, ja, so dapper dat ek klein voel teen hulle. [Skielik vrolik]: Die lepel stáán nog in die pappot.
PRESIDENT:
Mag die Here met julle albei gaan: elkeen op sy pad.
[Die twee jong manne af, 'n bietjie asof hulle van mekaar vervreemd is]
PRESIDENT:
[Vir De Wet] Die mooi plan om Roberts se treinspoor te breek, sal eers moet wag. Jy sal eers vir Cronjé moet probeer red. Ons Afrikaners lê altyd aan die water van Bethesda.
[Die agtergrond van hierdie tonele van die Paardeberggevegte is die geweldige en aanhoudende bombardement deur die Britse mag: swaar en ligter kanonne: sarsies geweervuur: blink flitse op 'n afstand: gloed van brande: die geroep van manne en vroue: gekreun van gewondes: huil van kinders, bulk van beeste.
Die regie moet egter sorg dra dat die geluide, ná die eerste sarsies wat die oorgang tussen die voorafgaande en hierdie toneel vorm, nie oorheers nie. Dit is dag, en soos dit ligter word hier op die hoofspeelvlak sal die geluide ook dowwer word.]
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…