Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 4

Die eerste gedeelte (3)

Die eerste gedeelte
[Aanduiding van uitgebrande waens. 'n Tent in flarde. 'n Kommando burgers jaag vinnig oor verhoog heen. Af. Genl. Cronjé kyk deur verkyker agter hulle aan na kant van geveg.
Mev. Cronjé sit voor tent en sokkies was. 'n Harde knal. Cronjé en sy vrou kyk na mekaar]
GENL. CRONJÉ:
Gee my jou hand, vrou. [Pla]: Jy skrik nog elke slag as 'n bom bars, nè.
MEV. CRONJÉ:
Ek skrik, ja. Ek kan dit nie keer nie. Maar báng is ek nie. As ek bang was... ek en die ander vrouens... wie sou... wie sou julle skoene uittrek as julle slaap, doodmoeg soos julle soms is?
GENL. CRONJÉ:
[Glimlag, dan ernstig]: Jy het gehoor: Roberts is gewillig om verlof te gee dat die vroue en kinders die laer verlaat.
MEV. CRONJÉ:
Ek bly by jou.
GENL. CRONJÉ:
Dankie, vrou.
MEV. CRONJÉ:
Is dit nie ons volk se geaardheid nie? Dat die vroue agter die manne in die laer staan nie?
GENL. CRONJÉ:
[Lag]: Bedoel jy: as die vrouens nie agter ons staan nie, hardloop die mans weg? Maar wat van die ander vroue? Ek moet vir hulle ook sorg. Wil húlle bly in hierdie gemors... hier waar die dooie perde die hele laer vol stink – hier in die slagkraal waarin ons sit! Ek durf nie sê hulle moet bly nie. Selfs as ek slaap, hoor ek die kinders se huil gedurig in my ore. Ek hóór hulle, al huil hulle nie! Met hulle kan ek nie redeneer nie. Kan ek vir hulle sê: "Ly vir jou volk! Wees dapper en stil. Ons sal veg tot die dood toe as dit moet." Jy ken die gemene goed wat 'n generaal soms moet sê. Kan ek vir die kínders dit sê? Jy moet my raad gee, vrou.
[Burger, lid van die heliograaf-staf, op]
BURGER:
Generaal, die Engelse stuur 'n boodskap.
GENL. CRONJÉ:
Ja?
BURGER:
Roberts laat vra wat Generaal bedoel het met die vorige boodskap. Hulle dag dat u wou oorgee. En toe hulle manne naderkom, het ons s'n geskiet...
GENL. CRONJÉ:
Waarom sou hulle dink ons wil oorgee, maar Roberts is tog nog 'n ordentlike man. Hy práát met 'n mens. Nie soos Kitchener: net sláát, sláát nie. [Glimlag]: Ons slaat darem ook, nè? Stuur hierdie boodskap oor: My groete aan Roberts. En so lank as ek lewe, gee ek nie oor nie. As u wil bombardeer, die lug is vry: bombardeer. Dixi.
BURGER:
Ekskuus, Generaal, die laaste woord? Wat was dit?
GENL. CRONJÉ:
D-I-X-I: dixi. Dis Latyn vir "Ek het gesê". Hý sal verstaan. [Burger af]
MEV. CRONJÉ:
Wil jy hê ons moet gaan, Piet? Die vrouens en kinders?
GENL. CRONJÉ:
Ek het vir jou gevra.
MEV. CRONJÉ:
Jy weet wat mý antwoord is.
GENL. CRONJÉ:
Maar wat dink die ander vroue?
MEV. CRONJÉ:
Waarom vra jy hulle nie? Kyk daar's daardie meisie Visser wat altyd die gewondes verpleeg en die kinders help oppas. [Sy roep]: Anna! Anna Visser! Kom bietjie hier! Sy kom uit ryk familie, kon in Bloemfontein bly sit het. [Roep weer]: Tant Maria, ja en julle ander daar ook. Kom hoor bietjie. Die generaal wil iets vir julle vra.
VELDKORNET:
[Agter skerm]: Vermaas! Kom dadelik. Los daardie vrou van jou!
[Willem en Sannie Vermaas op. Sannie soos 'n burger aangetrek met geweer en bandelier. Lang romp]
MEV. CRONJÉ:
Net 'n oomblik, Sannie. Die generaal wil met julle praat.
[Vermaas af. Anna en 'n vyf- of sestal vroue op]
My man wil weet of dinge hier in die laer nie te moeilik vir julle word nie. Die Engelse generaal het laat weet die vroue en kinders sal toegelaat word om veilig uit te gaan onder Engelse beskerming.
SANNIE VERMAAS:
Hoe veilig? Wat gaan die Engelse met ons doen?
TWEEDE VROU:
Sê nou hulle stuur ons oor die see?
EERSTE VROU:
Maar hulle kan ons ook huis toe stuur. As hulle ons huis toe stuur, dis iets anders. Kyk hoe lyk ons, en Generaal moet die kinders nie...
ANNA:
Sal hulle by die huis beter lyk? Is daar kos en klere?
EERSTE VROU:
Almiskie. Maar daar's dokters. En jy het nie 'n kind daar onder die modder begrawe nie, maar ek het.
ANNA:
Nee, hier is nie dokters in die laer nie. En wie gaan vir die gewondes sorg as ons nie hier is nie?
SANNIE VERMAAS:
Ek sal nog so nooit vir my Willem hier alleen laat bly nie. Hy's te gewoond aan my, Generaal. Hy sal nou weer wonder waar ek is. Selfs as hy met die geweer staan, as hy omkyk, moet hy my sien.
GENL. CRONJÉ:
Ons, mans, durf nie vir julle hier hou net om vir ons te sorg nie.
TWEEDE VROU:
Nou maar soos juffrou Visser gesê het: wie gaan dan vir julle sorg?
EERSTE VROU:
Wie sorg vir die Engelse tommies? Ons kan baie dinge van hulle leer.
SANNIE VERMAAS:
Jy't al klaar te veel van hulle geleer. Maar ek sê weer: sal die Engelse ons laat huis toe gaan? Die generaal moet mos weet. Wat sal hulle met ons doen?
GENL. CRONJÉ:
Ons weet nie wat hulle met vrouens en kinders in hierdie oorlog aanvang nie. Ons weet nog nie.
EERSTE VROU:
As ons nie weet nie, weet ons nie. Maar slegter as wat dit nou is, kan dit nie wees nie. Ek sê ons moet gaan.
SANNIE VERMAAS:
Skaam jy jou nie. Laat jou man net hoor wat jy vandag hier gesê het. Uitvaagsel!
GENL. CRONJÉ:
Moet haar nie so noem nie.
EERSTE VROU:
As mens mos nie met iemand saamstem nie, word jy gou uitgeskel. Die generaal het manierlik iets gevra en ek het hom manierlik geantwoord.
SANNIE VERMAAS:
Jy gee nie eers om om jou kind se graf te verlaat nie.
EERSTE VROU:
Laat staan jy my kind se graf. As ons oorgee, moet ons tog hier weg.
GENL. CRONJÉ:
Sover is ons nog nie.
MEV. CRONJÉ:
Tant Maria het nog niks gesê nie.
TANT MARIA:
Ag nee wat, missie Cronjé, dis mos net asem mors. Ons sal nie uitgaan nie. Hoe sal ek nou ons mansmense hier so aan die genade oorlaat.
ANNA:
Generaal, u sal ons met die sambok moet uitslaan, as u ons wegjaag. En dan kom ons tog êrens oor die rivier terug – makliker as die Engelse.
[Die ander vroue ad lib instemmend, behalwe eerste vrou]
GENL. CRONJÉ:
Dankie. [Aan eerste vrou]: Ek sal reël dat u veilig uitgaan...
['n Ontploffing van 'n ligter kanonkoeël heelwat nader. Die vroue soek skuiling. Almal van die verhoog af, behalwe Anna, Sannie en genl. Cronjé. Hy kyk vreesloos na die kant van die ontploffing. Burgers op. Pieter onder hulle soos hulle retireer van waar die ontploffing was. Hulle vorm groeperings soos hulle nuwe aanval afwag. Sannie lê aan naas haar man. 'n Effense verposing in die skietery. Een van die burgers sit gemakliker. Anna gee vir hulle water, ens.]
EERSTE BURGER:
So iets het ons nog nie gesien nie.
TWEEDE BURGER:
Ook nie by Maersfontein nie. Ons maai hulle af so vinnig as wat hulle aankom, maar hulle kóm.
EERSTE BURGER:
Hulle het mense om mee te mors.
[Genl. Cronjé staan nader na hulle]
TWEEDE BURGER:
Pasop Generaal, daardie kanonskoot was baie naby, nou net.
GENL. CRONJÉ:
Ek het gehoor. Maar julle het hulle goed teruggeskiet.
EERSTE BURGER:
Hulle het nou platgeval – maar dis nog skaars vyfhonderd tree dan's hulle op ons. Sit tog, asseblief, Generaal, hulle kan jou sien.
TWEEDE BURGER:
Hulle sal netnou weer opspring en kóm.
[Genl. Cronjé koes nie. Kyk nuuskierig met verkyker oor die lae skans]
GENL. CRONJÉ:
Aag, wat sal hulle nou vir mý skiet. So 'n soort aanval het ons nog nie gesien nie.
EERSTE BURGER:
Daar kom hulle!
[Skietery bars weer los. Genl. Cronjé kniel so half, maar bekyk die aanval sonder vrees. Een man rol om, getref. Anna begin werk met hom, verband e.d.m. Skietery word yler en verstom. Genl. Cronjé stap oor na haar]
GENL. CRONJÉ:
Dis 'n lastige skoot. Help hom af onder rivier toe.
['n Burger help die gewonde af]
[Die burgers kruip koes-koes agter die skans nader. Genl. Cronjé regop, soms net effens gebukkend]
TWEEDE BURGER:
Hulle het weer platgeval.
EERSTE BURGER:
Maar baie sal nie weer opstaan nie. En baie het omgesit. [Vir Cronjé]: Aai, Generaal moet nie moeilikheid sóék nie.
GENL. CRONJÉ:
En het ek moeilikheid gekry? Kêrels, daar is vandag 'n duiwel agter daardie mense. [Wys in die rigting van die vyand]: Hulle word in die vuur ingejáág. Daar's 'n slagter wat vir hulle jaag. Buie of bars, hulle moet ín; in in die dood in, maar in óp ons; sou dit daardie Kitchener wees? Ons ken hom nog nie. Roberts is glo sagter vir sy mense.
[Ernstig]: Maar, kêrels, julle moet skiet, skiet, skiet; en elke skoot raakskiet. Anders sit die moord aan julle eie kele. Daar kom hulle! Skiet!
[Hy bly self penorent staan en kyk. Anna sien Pieter. Te midde van die geveg is daar wel tyd vir liefde, maar nie vir liefdespraatjies nie. Net 'n oomblik is hulle bymekaar. Sy skuif die verband reg. Hulle kyk mekaar aan. Sy gee hom iets om te drink. Dan vat hy aan haar skouer]
PIETER:
Gaan dit nog goed?
ANNA:
Ja. En met jou? [Sy wys na die verband]: Sit dit nou beter?
PIETER:
Almiskie baie gerieflik, dankie. Baie.
[Hulle loop bymekaar verby, dan draai Pieter om]
PIETER:
[Roep hard]: Anna!
[Anna draai vinnig om. Skietery begin weer en wat Pieter wou sê, hoor ons nie. Hy gaan terug na veglinie. Anna na 'n paar oomblikke af. Vermaas op]
VERMAAS:
Generaal!
GENL. CRONJÉ:
Wat is dit, Vermaas?
VERMAAS:
Generaal, daar het 'n lelike ding gebeur. Die ander kêrels het gesê ek moet vir u kom vertel.
GENL. CRONJÉ:
Ja?
VERMAAS:
'n Klompie Engelse het te perd aangery gekom. En sommer so op 'n draffie – oop, maar nog te ver vir ons om te skiet. En toe vlieg daar een van hulle vorentoe – dit het gelyk asof hy die offisier was. En vir my het dit gelyk asof hy vir die ander wys: Wag! Maar hý het ingestorm gekom op ons af. Hy alleen. Generaal. Dit het my gelyk hy het nie eers 'n geweer of 'n rewolwer by hom nie. Hy het net aangejaag gekom. Ek wou nie skiet nie. Ek dag die man is van sy verstand af. Maar iemand het geskiet. Ons het hom doodgeskiet – bo-op ons loopgrawe. [Hy praat asof hy skaam is]: Hy't 'n kolonel se knopies aangehad. [Wys]
GENL. CRONJÉ:
[Diep ingedagte]: Ek verstaan dit. Hy het 'n bevel gekry wat hy wís wat verkeerd was. En hy het hom opgeoffer – homself, homself; nie sy mense nie. Hy moes weer instorm in hierdie vuur van ons; en hy hét gestorm – maar nie sy manne laat storm nie. [Sag]: Ons het 'n vyand van goeie mense – of, mense soos ons. Hulle word in hierdie oorlog gedryf soos geen volk nog ingedryf is nie. Hefoffers, toonoffers, brandoffers. Hulle én ons; vir wie? Die Here moet vir ons én vir hulle genadig wees.
[Ou Vrou op haar rostrum]
OU VROU:
Dit, my kind, was die dapperheid van Hannay,
'n versigtige Skot en 'n gevaar vir ons mense,
'n groot ruiter, 'n baas met perde –
maar Kitchener het hom só doodgery
soos vyfhonderd perde doodgery is
tussen Ramdam en Kimberley
en soos geen goeie ruiter sy perde ry nie.
Die driwwe van Rietrivier en Modderrivier,
die't Hannay só onder ons neuse beset
toe ons nog gerus het of weggekyk het.
Hy't die pad oopgemaak vir sy manne:
téén ons, maar dapper; en eerbaar
eer ek hóm hier in ons taal: Hannay!
Om 'n bevel te gehoorsaam,
om 'n bitter bevel van slagting
net vir homself te gehoorsaam, nié vir sy manne!
So't hy gesterwe, Hannay.
Scheepers en Hannay en Danie Theron
ingeploeg in ons skraal aarde:
om te onthou! Om te onthou.
Die blote, snydende dapperheid,
die dowwe, maar eerbaar gehoorsaamheid,
sonder die dink aan geregtigheid
– dis bitter dinge. Tog prys ek hulle hier:
hulle seën ongeseënde aarde:
Scheepers en Hannay en Danie Theron.
[Op die hoofspeelvlak kort voor dagbreek. Suggestie van 'n tent, lanterns, riempiestoeltjies, geen skietery meer. 'n Wag op met Jan. Wag wys waar Cronjé by tent sit en koffie drink. Wag dan af]
BURGER:
Generaal, hier is kommandant Jan Visser.
JAN:
Generaal, bevele van president Steyn.
GENL. CRONJÉ:
Sit, kêrel... Kommandant, jy's in flenters.
JAN:
Hoe moes ek lyk, Generaal? Ek het op my knieë gekruip en toe deur die rivier geswem.
GENL. CRONJÉ:
Dis goed, Kommandant. 'n Bietjie koffie?
JAN:
Nee dankie, Generaal. Ek het bevele van die president...
GENL. CRONJÉ:
Ek gee ook bevele. Maar praat, Kommandant.
JAN:
Die president... hier's sy brief... [Hy gee dit]: beveel: dat u, terwyl daar nog tyd is, moet uitbreek uit hierdie omsingeling.
GENL. CRONJÉ:
[Effens ironies]: Ja?
JAN:
Ja.
GENL. CRONJÉ:
Stuur hy versterkings?
JAN:
Ja, u sal hoor.
GENL. CRONJÉ:
Goed. En die dinge wat jy "bevele" noem, Kommandant...?
JAN:
U moet 'n pad oopskiet deur die vyand, alles agterlaat... waens, alles...
GENL. CRONJÉ:
Ja, sê maar: die vroue en kinders verlaat.
JAN:
Ja, Generaal.
GENL. CRONJÉ:
So. Jou eie suster?
JAN:
Sy sal verstaan.
GENL. CRONJÉ:
Sy wíl nie. Ek het reeds die boodskap gekry van jou vriend, die ander rapportryer. Maar ek trap hier vas.
JAN:
Generaal! U sit hier vasgekeer met vyfduisend van ons burgers, van ons beste, dapperste burgers... manne wat tienduisende soldate van die magtigste ryk weggeskiet het van hulle af, 'n week lank. U sit met dié mense hier. Generaal as dié mense gevang word... Dan verloor ons die oorlog! Ek pleit met u... ek smeek: breek met hierdie duisende burgers van ons úit, úit, skiet 'n pad oop! Kom ons jaag uit te perd... van buite sal daar gehelp word...
GENL. CRONJÉ:
Kommandant, u is opgewonde. En ons perde is gedaan. Gaan ons soos Engelse voetvolk uitmarsjeer?
JAN:
Ons sal nog te voet moet loop in hierdie oorlog, as u...
GENL. CRONJÉ:
Ek gaan nie die vroue en kinders agterlaat nie. Die waens, dis my manne se eie besit; hulle self sal moet besluit...
JAN:
Generaal, ons volk sal met die sambok moet regeer word as ons 'n volk wil wees. Ons moet leer: álles agterlaat: vrou, wa, kind...
GENL. CRONJÉ:
Is jy getroud?
JAN:
My vrou is dood.
GENL. CRONJÉ:
'n Kind?
JAN:
'n Seuntjie. 'n Baba nog.
GENL. CRONJÉ:
Hier?
JAN:
Nee.
GENL. CRONJÉ:
In Bloemfontein?
JAN:
Ja.
GENL. CRONJÉ:
O.
JAN:
Generaal, ek wil hê ons moet 'n volk wees soos één man, één wil, gehoorsaam, getrou tot die dood, gewillig om op te offer... So is die Engelse vandag. Ons nie.
GENL. CRONJÉ:
Kla jy nie te veel oor jou volk nie. Gaan rus, Kommandant, jy't dit nodig. Kyk, die dag breek al aan.
[Jan kyk hom kwaad en teleurgesteld aan. Soos dit lig word, merk mens die flits van die heliograaf in die verte. Geluid van katlagter se geskiet nou ook merkbaar. Pieter haastig op]
PIETER:
Generaal, daar's hulp.
GENL. CRONJÉ:
Ja...?
PIETER:
Generaal De Wet is daar oorkant op die koppie. Net twee myl ver. Hy laat weet hy sal die pad oopskiet as Generaal hiervandaan af wil uitbreek. Hy't 'n katlagter. Hy beskiet die Engelse dat ons dit hiervandaan kan sien.
GENL. CRONJÉ:
[Smalend]: De Wet! Wie's De Wet?
PIETER:
Hy is 'n nuwe generaal, Generaal. [Jan af]
GENL. CRONJÉ:
Hoeveel hulp bring hy?
PIETER:
Daar's glo vyftienhonderd man.
GENL. CRONJÉ:
Wat is dít teen die vyand se tienduisende? Sê my, wat is dit? Waar bly die ander kommando's! Ons kan agtduisend man hier hê om die vyand te verdrywe en te verpletter: een van ons is nog altyd drie van hulle werd.
PIETER:
Generaal...
GENL. CRONJÉ:
[Driftig]: Ons sit hier in 'n posisie waaruit niemand ons kan jaag nie. Sterker as by Maersfontein! As ons kommando's opdaag soos beloof is, kan ons die vyand tussen die knyptang se kloue flenters druk. En nou sê dié wat in Bloemfontein sit: ek moet uitjaag, alles agterlaat, waens, vroue... uithardloop soos 'n brak wat jy uit 'n kombuis skop! En ek sê "nooit"!
PIETER:
Wie is ek om met u te stry, Generaal. Maar ek het die president se bevele gehoor. Die hele laer het dit gehoor. [Anna op]
ANNA:
Generaal... [Sien vir Pieter]: Ekskuus. Môre... Meneer. Generaal, my broer het my vertel wat die president wil hê. Ek het nou die dag onverstandig gepraat. Ek weet niks van oorlog nie. My broer sê die vroue is net 'n oorlas. U moes ons al weggestuur het.
GENL. CRONJÉ:
[Donderend]: Nee! Ek sou my geskaam het tot in my graf.
ANNA:
Generaal, u moet my laat praat. Dis nie omdat ons te fyntjies vir hierdie geveg is nie. Ons vroue is so min bang vir die dood as wat die burgers is; ons is nie bang om gewond te raak, vermink, 'n koeël te kry nie. Hierdie stank van dooie perde, ons ruik dit net soos die manne. Ons walg ook, Generaal, maar ons word nie flou nie. Elke nag se reën val ook op ons... ons loop ook deur die modder. Generaal, ons is nie erdepoppies nie. Maar ons weet nou: dié wat nie veg nie, is 'n oorlas vir die burgers. U moet hulle agterlaat: vroue en kinders. Die waens is tog al byna almal uitgebrand.
GENL. CRONJÉ:
Jy ook? [Hy stap na agterverhoog]
ANNA:
Jy moet sorg dat jy uitkom uit hierdie kamp. Weg. My broer sê dis klaar: nog 'n dag of twee... dan móét dit end kry hier. En as jy gevang word...
PIETER:
Ek waardeer dit dat u... jy...
ANNA:
Ag, moenie praat van "waardeer" en "hoë agting" nie. Ons het nie týd nie. Die vyand moet jou nie hier vang nie. Die ander is Republikeinse burgers. Jy moet saam met Boet uitjaag.
PIETER:
En ek kan u nie hier so laat nie. Dan liewer veg tot die dood.
ANNA:
Moenie meer vir my "u" sê nie, en "juffrou". Dan sê ek vir jou "oom". Ek het jou lief, ja, ek het en het. En ek wou dit vir jou sê voordat jy weggaan.
[Jan op gevolg deur burgers. Willie en Sannie Vermaas onder hulle]
JAN:
Waar's die Generaal? [Vir Pieter]: Het jy vir hom gesê?
PIETER:
Ek het nog nie kans gekry nie.
GENL. CRONJÉ:
Ek hoor jou, Kommandant.
JAN:
Generaal, die burgers het die veldkornet hier [Wys na Pieter] gestuur om vir u iets te sê. 'n Paar honderd het besluit om uit te jaag waar De Wet die pad oopskiet en oophou. Dit sê ek dan nou vir u.
GENL. CRONJÉ:
Jy bedoel, julle wou van my verlof vra?
PIETER:
Ja, Generaal. Dit wou ek kom vra.
GENL. CRONJÉ:
[Praat met Jan]: Kommandant, hierdie man [Wys na Pieter] praat van verlof vra. Jy sê: 'n klomp van julle het beslúit om uit te jaag. Jy "kom sê" vir my; vir my, die generaal: "Julle het besluit." En jy, Kommandant, was altyd die man wat van dissipline gepraat het, meer dissipline vir ons volk! [Kort pouse. Streng]: Lyk dít na dissipline?
[Sag en ironies]: Julle moes besluit het om my af te sit as generaal – my uit te stem. So't ons vroeër in ons republieke gemaak.
JAN:
Daar's nie tyd vir redeneer nie. Ek weet nie of u ons gaan belet nie. [Roep]: Ons gaan uitjaag!
BURGERS:
Ons gaan uitjaag! [Stilte]
GENL. CRONJÉ:
[Vir Pieter]: Ek, as generaal, gee opdrag dat alle vrywilligers wat daartoe besluit, onmiddellik onder bevel van die kommandant hier deurbreek om aansluiting te probeer kry met die manskappe van generaal De Wet. U sorg dat die bevel uitgevoer word. Maar stuur, stuur ek niemand nie. En ek trap hier vas.
[Hy groet vir Pieter en draai weg. Jan en die meeste burgers af. Willem, Sannie en 'n sestal burgers bly agter]
ANNA:
Gaan, my liefling, gaan saam met Boet.
[Pieter druk 'n oomblik vir Anna teen hom vas, dan hardloop hy agter Jan aan]
[Verhewigde skietery en geluid van perdepote wat wegjaag. Cronjé volg die aksie wat van die verhoog af plaasvind met sy verkyker. Anna, Sannie en die ander burgers ook]
BURGER:
Dit lyk my hulle gaan deurkom!
SANNIE VERMAAS:
Hemel, die kakies skiet!
TWEEDE BURGER:
Daar val een. Nog een!
ANNA:
Kan julle sien wie geval het?
BURGER:
Maar hulle jaag!
ANNA:
Hulle is deur! Hulle is deur!
BURGER:
Ek skat honderd-en-vyftig man. Hulle is deur!!
[Sannie en burgers af]
GENL. CRONJÉ:
Magtig, maar die Boere is darem nie bang vir koeëls nie. Ek het altyd gedag: asgaais, dié is ons nie voor bang nie – as ons agter waens sit: maar koeëls... daar hou die Boer nie van nie... En nou, hier voor my oë, dis 'n nuwe ding: ínstorm, ínstorm... [Sag]: Moes ék nie deurgestorm het nie...
[Ou vrou op haar rostrum]
OU VROU:
En Cronjé, tog die taaie, die dapper vegter, het gebly met sy duisende burgers en gehoop op 'n uitredding voordat hongersnood of vernietiging deur die kanonne die einde sou bring. Tien verskriklike dae het ons mense en my dogter Anna saam met hulle daar geveg en gebid, manne, vroue en kinders, verbrand deur die Februarieson, deurweek van die reëns; tot aan die knieë in water en modder – en die bombardement dag en nag, aanhoudend; totdat vleis en bloed dit nie meer kon verduur nie.
Ek praat met jou, ja;
ek praat met julle almal hier:
julle wat ryk en rustig lewe,
wéét julle hoe is daar gely vir ons eerste republieke?
en kan julle self so ly as dit moet?
My geslag was net so rustig, so onvoorbereid vir
lyding as julle.
Só is 'n volk seker altyd omdat hy vrede begeer.
[Cronjé moedeloos op sy veldstoeltjie. Twee of drie offisiere by hom]
GENL. CRONJÉ:
Nee, moet dit nie sê nie...
VERMAAS:
Vleis en bloed kan dit nie meer verduur nie.
EERSTE OFFISIER:
Die mense begin murmureer.
TWEEDE OFFISIER:
Hulle sê dis net Generaal se... se... koppigheid.
GENL. CRONJÉ:
En julle: wat sê julle?
[Hulle swyg]
Julle sê niks nie. Dis omdat julle weet dat ons nog kan uithou.
EERSTE OFFISIER:
Nee, Generaal, dis nie daarom nie. Dis omdat ek weet hoe ú ly.
GENL. CRONJÉ:
Julle was my beste manne.
['n Vyftiental burgers op]
VERMAAS:
Generaal, ek is bang: as u nie oorgee nie, sal die burgers self oorgee; sommer die geweer weggooi, witvlag hys, wat ook al. [Kort pouse]
GENL. CRONJÉ:
Weet julle watter dag dit vandag is? Watter dag dit môre is? Dis môre Majoeba-dag. Die dag waarop die Here ons met 'n wonderwerk uitgered het. Dat ons handjievol 'n magtige vyand op die berg kon verslaan. Was dit óns krag? En het óns ou volkie toe die groot Engeland tot vrede gedwing?
Nee, ons weet dit was 'n magtiger Hand as óns s'n.
En sal ek, Piet Cronjé, in bevel van die hoofmag van Transvaal, sal ek daardie Dag van die Wonder, Majoeba-dag, ontheilig? Sal ek Transvaal se hoofmag op dié dag oorgee? Sal ek vir die Here sê: "Ons gedenk nie meer U mag nie. Ons vertrou nie op die sterkte van U arm nie." Is dit wat julle van my vra? Julle, my bestes?
Luister! Vandag het ons die boodskap gekry. Ons president, Paul Kruger, gaan vannag ons hele volk in die gebed voor. Op alle dorpe in Transvaal sal ons volk vannag bidure hou. Ons sal die Here bid dat Hy in ons saak oordeel, of dit regvaardig is.
En ek sê: in hierdie laer vannag sal ek julle in die gebed voorgaan. Die hele nag. Uit dieptes van ellende sal ons roep.
[Ou vrou op haar rostrum]
OU VROU:
Dié nag het hy in gebed deurgebring.
En die volgende môre, toe die dag aanbreek, en die vyand dapper aangeval het om juis op Majoeba-dag die oorwinning te behaal, het die burgers oral wit vlae en sakdoeke opgesteek.
Cronjé is eindelik getem.
[Projeksie van die tekening van die Fantastiese dans in die Beursgebou]
Dit was Paardeberg; my seun.
Maar daar is ook gedans! Op die Beurs in Londen, daar waar die geskiedenis, waar die lewe van ménse, in ponde, sjielings en pennies omgereken word, daar is dié dag gedans oor die nuus van Paardeberg.
Jy sien dit nou as 'n stil dans;
verstil, doods byna.
Dít was die mag wat vir ons
neergeslaan het: die kapitaal!
Jy sien dit nou as 'n stil dans;
verstil, doods byna.
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…