Hoofstuk 50
Die ridder in die kookmeer
Oor die skerpsinnige twisgesprek tussen Don Quijote en die kanunnik, tesame met ander voorvalle
"Dis nou vir jou 'n grap!" het Don Quijote geantwoord. "Boeke wat met die koning se vergunning gedruk is, met die goedkeuring van dié aan wie hulle voorgelê is, wat met algemene genot gelees word en deur groot en klein geprys word, ryk en arm, geleerd en ongeleerd, adel en gewone volk, in een woord deur mense van elke soort, van watter rang of stand ook al: dat díé leuens sou wees! En dit nogal wanneer hulle so na die waarheid lyk! Want hulle vertel ons wie die vader en die moeder van so 'n ridder of ridders was, uit watter land hulle kom, wie hul familie is, hoe oud hulle was, waar hulle was en watter dade hulle verrig het, stap vir stap en dag vir dag! Swyg, meneer, moenie sulke godslastering uiter nie. Glo my, ek gee u nou die raad wat 'n verstandige man behoort te volg: lees hulle net, en u sal sien watter genot u daaruit sal put. Want kom, sê my: kan daar iets heerliker wees as om, as't ware hier en nou voor ons oë, 'n wye meer van borrelende pik te sien, met 'n leër slange en adders en akkedisse en allerhande wrede en verskriklike gediertes wat daarin rondswem, terwyl uit die middel van die meer 'n klaende stem opklink wat sê: 'Ridder, wie jy ook al is wat hierdie vreeslike meer aanskou, as jy die prys wil wen wat onder hierdie donker golwe verborge lê, bewys die moed van jou dapper hart en werp jou in die middel van sy swart, brandende water, anders sal jy nie waardig wees om die magtige wonders te aanskou wat in die sewe kastele van die sewe feë onder hierdie donker watervlakte lê nie'? En dan, amper nog voordat die vreeslike stem stil is, sonder om twee keer te dink, sonder om stil te staan by die gevaar waaraan hy hom blootstel, sonder om eers sy swaar wapenrusting af te lê, beveel die ridder hom aan God en aan sy dame en duik in die middel van die kokende meer in. En wanneer hy dit die minste verwag, en nie weet wat sy lot sal wees nie, bevind hy hom tussen blomryke weivelde waarby die Elisiese velde nie eens vergelyk kan word nie.
"Die hemel lyk daar deurskyniger, en die son skyn met 'n vreemde glans. 'n Heerlike bos van groen, lowerryke bome bied hom aan die oog en bekoor die gesig met sy groenheid, terwyl die oor gestreel word deur die soet, ongeleerde gesang van die ontelbare bontgeveerde voëltjies wat heen en weer tussen die ineengevlegte takke fladder. Hier sien hy 'n spruit waarvan die helder water, soos vloeibare kristal, oor fyn sand en wit klippies kabbel wat lyk soos gesifte goud en die suiwerste pêrels. Daar sien hy 'n kunstig gemaakte fontein van veelkleurige jaspis en gepoleerde marmer; hier weer een van eenvoudiger aard, waar die klein mosselskulpies en die gedraaide wit en geel huisies van die slak, in bestudeerde wanorde gerangskik en vermeng met stukkies glinsterende kristal en nagemaakte smaragde, 'n werk van wisselende aansien vorm, waar die kuns, wat die natuur naboots, dit skynbaar oortref het.
"Skielik verskyn daar voor sy oë 'n sterk kasteel of 'n pragtige paleis met mure van massiewe goud, torinkies van diamant en poorte van hiasint. Kortom, die bouwerk is so wonderlik dat, hoewel die boustof niks minder as diamante, karbonkels, robyne, pêrels, goud en smaragde is nie, die vakmanskap nog skaarser is. En nadat hy dit alles gesien het, wat kan bekoorliker wees as om te sien hoe 'n hele skare jonkvroue in vrolike en pragtige klere uit die kasteelpoort kom, so pragtig dat ek, as ek dit nou wou beskryf soos die geskiedenisse dit aan ons beskryf, nooit klaar sou kry nie? En dan hoe sy wat die eerste onder hulle almal lyk, die dapper ridder wat in die kokende meer gespring het, aan die hand neem en hom, sonder 'n woord vir hom te sê, die ryk paleis of kasteel binnelei, en hom so kaal uittrek soos toe sy moeder hom gebaar het, en hom in lou water bad, en hom van kop tot tone met soetruikende salf insmeer, en hom 'n hemp van die sagste sendel aantrek, alles geurig en geparfumeer, terwyl 'n ander jonkvrou kom en 'n mantel oor sy skouers gooi wat glo minstens 'n stad werd is, en selfs meer? Hoe bekoorlik is dit dan nie wanneer hulle ons vertel hoe hulle hom ná dit alles na 'n ander vertrek lei, waar hy die tafels so gedek vind dat hy met verbasing en verwondering vervul word; om te sien hoe hulle water oor sy hande gooi wat uit amber en soetruikende blomme gestook is; hoe hulle hom op 'n ivoorstoel laat sit; om te sien hoe die jonkvroue hom almal in diepe stilte bedien; hoe hulle hom so 'n verskeidenheid lekkernye bring, so aanloklik voorberei, dat die eetlus nie weet waar om te begin nie; om die musiek te hoor wat weerklink terwyl hy aan tafel sit, sonder dat hy weet wie dit maak of waarvandaan dit kom! En dan, wanneer die maal verby is en die tafels afgedra is, dat die ridder agteroor leun in sy stoel, miskien soos gewoonlik met 'n tandestokkie in die mond, en 'n jonkvrou, baie mooier as al die ander, onverwags by die deur van die vertrek inkom en langs hom gaan sit, en hom begin vertel watter kasteel dit is, en hoe sy daar betower gehou word, en ander dinge wat die ridder verstom en die lesers wat sy geskiedenis lees, verbaas laat staan.
"Maar ek wil nie verder hieroor uitwei nie, want hieruit kan 'n mens aflei dat watter deel van watter geskiedenis van 'n dolende ridder 'n mens ook al lees, dit die leser, wie hy ook al is, met genot en verwondering sal vervul. En neem my raad aan, meneer, en lees, soos ek vroeër gesê het, hierdie boeke, en u sal sien hoe hulle enige swaarmoedigheid wat u mag voel, sal verdryf, en u gemoed sal ophef as dit bedruk is. Wat myself betref, kan ek sê dat ek, sedert ek 'n dolende ridder is, dapper, beleefd, vrygewig, welopgevoed, grootmoedig, hoflik, onverskrokke, saggeaard en geduldig geword het, en geleer het om swaarkry, gevangenskap en betowerings te verduur. En al is dit so kort gelede dat ek myself soos 'n mal mens in 'n hok toegesluit gesien het, hoop ek om my deur die krag van my arm, as die hemel my help en die fortuin my nie dwarsboom nie, binnekort koning te sien van een of ander koninkryk, waar ek die dankbaarheid en vrygewigheid kan toon wat in my hart woon. Want op my woord, señor, die arm man is nie in staat om die deug van vrygewigheid aan iemand te bewys nie, al besit hy dit in die hoogste mate; en dankbaarheid wat net uit goeie voorneme bestaan, is 'n dooie ding, net soos die geloof sonder die werke dood is. Daarom sou ek bly wees as die fortuin my binnekort 'n geleentheid bied om my 'n keiser te maak, sodat ek my hart kan wys deur goed te doen aan my vriende, veral aan hierdie arme Sancho Panza, my skildknaap, wat die beste kêrel in die wêreld is. Ek sou hom graag 'n graafskap gee wat ek hom al wie weet hoe lank beloof het, as ek net nie bang was dat hy nie die vermoë het om sy gebied te regeer nie."
Sancho het die laaste woorde van sy meester half gehoor en vir hom gesê: "Spook u maar hard, Señor Don Quijote, om my daardie graafskap te gee wat u Genade so dikwels beloof het en waarop ek al so lank wag, want ek belowe u, daar sal by my geen gebrek aan vermoë wees om dit te regeer nie. En al is daar, het ek al hoor sê daar is mense in die wêreld wat 'n heerlikheid huur, soveel per jaar, en self die bestuur daarvan oorneem, terwyl die heer met sy bene uitgestrek die inkomste geniet wat hulle hom betaal, sonder om hom oor enigiets anders te kwel. Dis wat ék sal doen. Ek sal nie oor kleinighede staan en kibbel nie, maar sommer dadelik my hande van die hele besigheid aftrek, en my huurgeld soos 'n hertog geniet, en die dinge laat gaan soos hulle wil."
"Dit, broer Sancho," het die kanunnik gesê, "geld net vir sover dit die geniet van die inkomste aangaan. Maar die heer van die heerlikheid moet sorg dat daar reg en geregtigheid geskied, en dáár kom vermoë en gesonde oordeel ter sprake, en bowenal 'n vaste voorneme om die waarheid uit te vind. Want as dit aan die begin ontbreek, sal die middel en die einde altyd skeefloop; en God help net so gereeld die eerlike bedoelings van die eenvoudiges as wat Hy die slegte planne van die sluwes verydel."
"Ek verstaan nie daardie filosofieë nie," het Sancho Panza geantwoord. "Al wat ek weet, is dat ek die graafskap so gou wil hê as wat ek sal weet hoe om dit te regeer. Want ek het net soveel siel as 'n ander en net soveel lyf as enigeen, en ek sal net soveel koning van my gebied wees as enige ander van syne. En as ek dit is, sal ek doen wat ek wil; en as ek doen wat ek wil, sal ek myself gelukkig maak; en as ek myself gelukkig maak, sal ek tevrede wees; en as 'n mens tevrede is, het jy niks meer om te begeer nie; en as jy niks meer het om te begeer nie, is dit klaar en uit. Laat die graafskap dus maar kom, en God sy met u, en dan sal ons sien, soos die een blinde vir die ander gesê het."
"Dis nie slegte filosofie wat jy daar praat nie, Sancho," het die kanunnik gesê, "maar nogtans is daar nog baie te sê oor hierdie kwessie van graafskappe."
Waarop Don Quijote geantwoord het: "Ek weet nie wat daar nog te sê is nie. Ek rig my net na die voorbeeld wat die groot Amadis van Gallië vir my gestel het toe hy sy skildknaap graaf van die Vaste Eiland gemaak het. En so kan ek sonder enige gewetenswroeging 'n graaf van Sancho Panza maak, want hy is een van die beste skildknape wat 'n dolende ridder nog ooit gehad het."
Die kanunnik was verstom oor die metodiese onsin (as onsin tot metode in staat is) wat Don Quijote opgedis het, oor die manier waarop hy die avontuur van die Ridder van die Meer beskryf het, oor die indruk wat die doelbewuste leuens van die boeke wat hy gelees het, op hom gemaak het; en laastens was hy verwonderd oor die eenvoud van Sancho, wat so gretig die graafskap wou kry wat sy meester hom beloof het.
Teen hierdie tyd het die kanunnik se bediendes, wat na die herberg gegaan het om die pakmuil te haal, teruggekom. Hulle het 'n mat en die groen gras van die weiveld as tafel laat dien, in die skadu van 'n paar bome gaan sit en daar hulle maal genuttig, sodat die voerman nie die voordeel van die plek ontneem sou word nie, soos reeds gesê is. Terwyl hulle geëet het, het hulle skielik 'n harde geraas gehoor en die geluid van 'n klokkie wat skynbaar uit 'n paar braambosse en digte struike naby gekom het. Op dieselfde oomblik het hulle 'n pragtige bok gesien, oral swart, wit en bruin gekol, wat uit die ruigte gespring het met 'n bokwagter agterna, wat na haar geroep en die gewone krete geuiter het om haar te laat stilstaan of na die kraal te laat omdraai. Die vlugtende bok, bang en verskrik, het na die geselskap toe gehardloop asof sy hulle beskerming soek, en toe stilgestaan. Die bokwagter het nader gekom, haar aan die horings gegryp en met haar begin praat asof sy rede en verstand besit: "Ag, swerwer, swerwer, Bontjie, Bontjie, hoe loop jy dan al die tyd en mank? Watter wolwe het jou laat skrik, my dogter? Wil jy my nie vertel wat makeer nie, my mooiste? Maar wat anders kan dit wees as dat jy 'n wyfie is en nie stil kan bly nie? Die pes op jou nukke en op die nukke van dié na wie jy aard! Kom terug, kom terug, my liefling; en as jy nie so gelukkig sal wees nie, sal jy ten minste veilig wees in die kraal of by jou maats; want as jy, wat hulle moet oppas en lei, verdwaald rondswerf, wat moet dan van hulle word?"
Die bokwagter se praatjies het almal wat dit gehoor het, vermaak, maar veral die kanunnik, wat vir hom gesê het: "So waar as wat jy lewe, broer, vat dit rustig en moenie so haastig wees om hierdie bok terug kraal toe te jaag nie. Want aangesien sy 'n wyfie is, soos jy sê, sal sy haar natuurlike drang volg, wat jy ook al doen om dit te keer. Vat hierdie stukkie en drink 'n slukkie, dan sal jou ergernis bedaar, en intussen kan die bok ook rus." En met dié woorde het hy hom die lendestuk van 'n koue haas aan 'n vurk aangegee.
Die bokwagter het dit met dank aangeneem, gedrink en bedaar, en toe gesê: "Dit sal my spyt wees as die here my vir 'n onnosele sou aansien omdat ek so ernstig met hierdie dier gepraat het. Maar die waarheid is dat daar 'n sekere geheim in my woorde skuil. Ek is 'n plaasjapie, maar nie so een dat ek nie weet hoe om my teenoor mense en diere te gedra nie."
"Dit kan ek goed glo," het die pastoor gesê, "want ek weet reeds uit ondervinding dat die bosse geleerde manne kweek en die hutte van herders filosowe huisves."
"In elk geval, señor," het die bokwagter geantwoord, "huisves hulle manne met ondervinding. En sodat u die waarheid hiervan kan sien en vasvat, sal ek, al lyk dit of ek my ongevraag na vore stoot, as dit u nie sal verveel nie, here, en as u my 'n rukkie aandag gee, vir u 'n ware verhaal vertel wat die woorde van hierdie heer," en hy het na die pastoor gewys, "sowel as my eie sal bevestig."
Hierop het Don Quijote geantwoord: "Aangesien hierdie saak 'n sekere ridderlike kleur het, sal ek u, broer, wat my betref, met die grootste genoeë aanhoor, en so ook al hierdie here, vanweë die hoë verstand wat hulle besit en hulle liefde vir eienaardige nuwighede wat die gees boei, bekoor en vermaak, soos ek seker is u verhaal sal doen. Begin dus, vriend, want ons is almal gereed om te luister."
"Ek vat my knikkers en trek," het Sancho gesê, "en gaan sit met hierdie pastei daar by die spruit, waar ek my vir drie dae wil proviandeer. Want ek het my heer, Don Quijote, hoor sê dat 'n dolende ridder se skildknaap moet eet tot hy nie meer kan nie, wanneer hy ook al die kans kry, omdat dit dikwels gebeur dat hulle per ongeluk in 'n bos beland wat so dig is dat hulle ses dae lank nie 'n uitweg kan vind nie. En as die man dan nie goed vol is of sy saalsakke nie goed voorsien is nie, kan hy daar bly, soos dikwels gebeur, en in 'n uitgedroogde mummie verander."
"Jy is heeltemal reg, Sancho," het Don Quijote gesê. "Gaan waar jy wil en eet soveel as wat jy kan, want ek het genoeg gehad en wil net my gees verkwik, soos ek sal doen deur na hierdie goeie man se verhaal te luister."
"Dit is wat ons almal sal doen," het die kanunnik gesê, en toe die bokwagter gevra om die beloofde verhaal te begin.
Die bokwagter het die bok wat hy aan die horings vasgehou het, 'n paar klappe op die rug gegee en gesê: "Lê hier langs my, Bontjie, want ons het tyd genoeg om terug te gaan kraal toe." Die bok het hom skynbaar verstaan, want toe haar baas gaan sit, het sy haar rustig langs hom uitgestrek en in sy gesig opgekyk om hom te wys dat sy een en al aandag was vir wat hy gaan sê. En toe het hy met hierdie woorde sy verhaal begin.