Hoofstuk 52
Tuis op 'n vrag hooi
Oor die rusie wat Don Quijote met die bokwagter gehad het, tesame met die seldsame avontuur van die boetelinge, wat hy met baie sweet tot 'n gelukkige einde gebring het
Die bokwagter se verhaal het al die toehoorders groot genoeë verskaf, en veral die kanunnik het dit geniet, want hy het met besondere aandag gelet op die manier waarop dit vertel is. Dit was so min soos die manier van 'n lomp bokwagter as wat dit soos dié van 'n beskaafde stedelike geesrykaard was, en hy het opgemerk dat die pastoor heeltemal reg was toe hy gesê het dat die bosse geleerde mense voortbring. Hulle het almal hul dienste aan Eugenio aangebied, maar die een wat hom hierin die rojaalste betoon het, was Don Quijote, wat vir hom gesê het: "Waarlik, broer bokwagter, as ek in staat was om enige avontuur aan te pak, sou ek op hierdie oomblik nog namens u uitgetrek het, en ek sou Leandra uit daardie klooster gered het (waar sy sonder twyfel teen haar wil aangehou word), ondanks die abdis en almal wat my sou probeer keer. En ek sou haar in u hande gelaat het, sodat u met haar kon handel na u wil en welbehae, met inagneming egter van die wette van die ridderskap, wat bepaal dat geen geweld van enige aard aan enige jonkvrou gedoen mag word nie. Maar ek vertrou op God ons Here dat die mag van een kwaadwillige towenaar nie so groot sal wees dat die mag van 'n ander, beter gesinde een dit nie kan oortref nie. En dan beloof ek u my steun en bystand, soos ek verplig is deur my beroep, wat niks anders is nie as om die swakkes en behoeftiges te help."
Die bokwagter het hom bekyk, en toe hy Don Quijote se armsalige voorkoms en gesig gewaar, was hy vol verwondering en het hy die barbier, wat langs hom gesit het, gevra: "Señor, wie is hierdie man wat so 'n figuur slaan en op so 'n trant praat?"
"Wie anders as die beroemde Don Quijote van La Mancha," het die barbier gesê, "die ongedaanmaker van onreg, die regsteller van verkeerdhede, die beskermer van jonkvroue, die skrik van reuse en die wenner van veldslae?"
"Dit," het die bokwagter gesê, "klink soos wat 'n mens in die boeke van die dolende ridders lees, wat al daardie dinge gedoen het wat u sê hierdie man doen. Maar ek glo dat u óf 'n grap maak, óf dat hierdie heer se bolkamer leeg staan."
"U is 'n groot skurk," het Don Quijote gesê, "en dit is ú wat leeg is, en 'n gek. Ek is voller as wat die vervloekte teef wat u gebaar het, ooit was." En van woorde tot dade oorgaande, het hy 'n brood gegryp wat naby hom gelê het en dit die bokwagter vol in die gesig geslinger, met soveel krag dat hy sy neus platgeslaan het. Maar die bokwagter, wat nie van grappies geweet het nie en hom in alle erns so ru behandel gesien het, het hom aan mat, tafeldoek of eters nie gesteur nie. Hy het op Don Quijote afgespring en hom met albei hande aan die keel gegryp, en hy sou hom sonder twyfel verwurg het as Sancho Panza nie op daardie oomblik te hulp gesnel het nie. Sancho het hom aan die skouers gegryp en op die tafel neergesmyt, sodat borde gebreek het, glase gespat het en alles wat daarop was, omgeval en rondgestrooi is. Don Quijote, wat hom nou vry bevind het, het probeer om bo-op die bokwagter te kom. Dié het, met sy gesig vol bloed en deur Sancho deeglik geskop, op hande en voete rondgetas na een van die tafelmesse om 'n bloedige wraak mee te neem. Die kanunnik en die pastoor het hom egter verhinder, maar die barbier het dit so bewerkstellig dat hy Don Quijote onder hom gekry het, en hy het so 'n stortreën vuishoue op hom laat neerkom dat die arme ridder se gesig net so ryklik bloed gestroom het as sy eie. Die kanunnik en die pastoor het gebars van die lag, die beamptes het rondgedans van plesier, en die een sowel as die ander het hulle aangehits soos 'n mens honde aanhits wat in 'n geveg aan mekaar torring. Net Sancho was buite homself, want hy kon hom nie losruk uit die greep van een van die kanunnik se bediendes nie, wat hom gekeer het om sy meester te gaan help.
Op die ou end, terwyl almal, behalwe die twee bakleiers wat mekaar opdons, in die beste luim was en dit geniet het, het hulle 'n trompet gehoor wat so 'n treurige noot blaas dat almal na die kant gekyk het waarvandaan die geluid gelyk het te kom. Maar die een wat die meeste daardeur opgewonde geraak het, was Don Quijote. Al was hy baie teen sy sin onder die bokwagter, en al was hy so 'n bietjie meer as goed opgedons, het hy vir hom gesê: "Broer duiwel (want dit kan nie anders nie, jy moet een wees, aangesien jy mag en krag genoeg gehad het om myne te oorwin), ek vra jou om tot 'n wapenstilstand van net een uur in te stem, want die plegtige noot van daardie trompet wat ons ore tref, lyk vir my of dit my na een of ander nuwe avontuur roep." Die bokwagter, wat teen hierdie tyd moeg was van opdons en opgedons word, het hom dadelik laat gaan. Don Quijote het opgestaan en sy oë gedraai na die kant waar die geluid gehoor is, en skielik het hy 'n hele paar mans in wit, soos boetelinge geklee, teen die hang van 'n heuwel sien afkom.
Die ding was dat die wolke daardie jaar hul vog van die aarde weerhou het, en in al die dorpe van die distrik het hulle optogte, smeekdienste en boetedoenings gereël, om God te smeek om die hande van sy genade oop te maak en die reën te stuur. Met dié doel was die mense van 'n dorp wat naby was, in 'n optog op pad na 'n heilige kluis wat aan die een kant van daardie vallei gestaan het. Toe Don Quijote die vreemde drag van die boetelinge sien, het dit nie by hom opgekom hoe dikwels hy dit al tevore gesien het nie, en hy het hom in die kop gekry dat dit 'n geval van avontuur was, en dat dit hom alleen as dolende ridder toegekom het om dit aan te pak. Hy is nog meer in hierdie gedagte bevestig deur die idee dat 'n beeld in swart gedrapeer, wat hulle by hulle gehad het, een of ander deftige dame was wat hierdie skurke en onbeskofte diewe met geweld wegvoer. Sodra dit by hom opgekom het, het hy so vinnig hy kon na Rocinante gehardloop, wat vry rondgewei het. Hy het die toom en die skild van die saalboog afgehaal, hom in 'n oogwink opgetoom, en Sancho om sy swaard geroep. Toe het hy op Rocinante geklim, sy skild aan sy arm vasgegord, en met 'n harde stem uitgeroep teenoor die omstanders: "Nou, edele geselskap, sal julle sien hoe belangrik dit is dat daar ridders in die wêreld moet wees wat die orde van die dolende ridderskap bely. Nou, sê ek, sal julle aan die bevryding van daardie waardige dame wat daar gevange weggedra word, sien of dolende ridders dit verdien om in ere gehou te word." En met hierdie woorde het hy sy bene teen Rocinante se sye gedruk, want hy het geen spore gehad nie, en in 'n volle handgalop (want in hierdie hele ware geskiedenis lees ons nooit dat Rocinante werklik gegalop het nie) het hy weggetrek om die boetelinge te gaan aanval, al het die pastoor, die kanunnik en die barbier agter hom aan gehardloop om hom te keer. Maar dit was buite hul mag, en hy het selfs nie gestop vir die geskree van Sancho nie, wat agter hom aan geroep het: "Waarheen gaan u, Señor Don Quijote? Watter duiwels het u beetgepak dat u teen ons Katolieke geloof te velde trek? Mag die pes my haal! Kyk tog, dis 'n optog van boetelinge, en die dame wat hulle daar op daardie draagstoel dra, is die geseënde beeld van die onbevlekte Maagd. Pas op wat u doen, señor, want hierdie keer kan 'n mens met veiligheid sê u weet nie wat u doen nie." Sancho het hom tevergeefs afgesloof, want sy meester was so vasbeslote om met hierdie gedaantes in lakens handgemeen te raak en die dame in swart te bevry, dat hy nie 'n woord gehoor het nie. En al het hy gehoor, sou hy nie omgedraai het nie, al het die koning hom beveel. Hy het die optog ingehaal en Rocinante ingetoom, wat al lankal lus gehad het om 'n bietjie stadiger te gaan, en met 'n hees, opgewonde stem het hy uitgeroep: "Julle wat jul gesigte wegsteek, miskien omdat julle nie goeie onderdane is nie, gee ag en luister na wat ek julle gaan sê." Die eerste wat stilgehou het, was dié wat die beeld gedra het. Een van die vier geestelikes wat die Litanie gesing het, getref deur Don Quijote se vreemde figuur, die maerte van Rocinante en die ander belaglike eienaardighede wat hy opgemerk het, het hom geantwoord: "Broer, as u iets vir ons te sê het, sê dit gou, want hierdie broeders gesel hulleself, en ons kan nie stilstaan nie, en dit is ook nie redelik dat ons sou stilstaan om iets aan te hoor nie, tensy dit kort genoeg is om in twee woorde gesê te word."
"Ek sal dit in een sê," het Don Quijote geantwoord, "en dit is dit: dat julle dadelik, op hierdie oomblik, daardie skone dame vrylaat, wie se trane en droewige voorkoms duidelik wys dat julle haar teen haar wil wegvoer, en dat julle een of ander skandelike vergryp teen haar gepleeg het. En ek, wat in die wêreld gebore is om alle sulke onreg reg te stel, sal julle nie toelaat om nog 'n tree verder te gaan voordat julle haar die vryheid teruggegee het waarna sy smag en wat sy verdien nie."
Uit hierdie woorde het al die toehoorders afgelei dat hy 'n malmens moes wees, en hulle het hartlik begin lag. Hul gelag het soos buskruit op Don Quijote se woede gewerk, want sonder nog 'n woord het hy sy swaard getrek en op die draagstoel afgestorm. Een van dié wat dit gedra het, het die vrag aan sy makkers oorgelaat en hom tegemoet gegaan, terwyl hy 'n gaffelstok geswaai het wat hy gehad het om die draagstoel mee te stut wanneer hulle rus. Hiermee het hy 'n geweldige hou opgevang wat Don Quijote na hom geslaan het, en wat die stok middeldeur gekap het. Maar met die stuk wat in sy hand oorgebly het, het hy Don Quijote so 'n opstopper op die skouer van sy swaardarm gegee (wat die skild nie teen die lomp aanval kon beskerm nie) dat die arme Don Quijote in 'n treurige toestand op die grond beland het.
Sancho Panza, wat kort agterna gekom het, blaas en hyg, het hom sien val en vir sy aanvaller geskree om hom nie weer te slaan nie, want hy was 'n arme betowerde ridder wat nog al die dae van sy lewe niemand kwaad gedoen het nie. Maar wat die lomperd gekeer het, was nie Sancho se geskree nie, maar die feit dat hy gesien het dat Don Quijote nie hand of voet verroer nie. En omdat hy gedink het hy het hom doodgemaak, het hy haastig sy kleed onder sy gordel opgeskort en soos 'n takbok oor die veld weggehol.
Teen hierdie tyd het al Don Quijote se metgeselle opgedaag waar hy gelê het. Maar die mense in die optog, wat hulle sien aangehardloop kom, en saam met hulle die beamptes van die Broederskap met hul kruisboë, het onheil verwag. Hulle het om die beeld saamgedrom, hul kappe gelig en hul geselswepe gegryp, soos die priesters hul kerse, en die aanval afgewag, vasbeslote om hulleself te verdedig en selfs, as hulle kon, self die aanvallers aan te val. Die fortuin het die saak egter beter gereël as wat hulle verwag het, want al wat Sancho gedoen het, was om hom op sy meester se liggaam te werp en die droewigste en belaglikste weeklag aan te hef wat ooit gehoor is, want hy het geglo hy is dood. Die pastoor was bekend aan 'n ander pastoor wat in die optog geloop het, en dat hulle mekaar herken het, het die vrese van albei partye laat bedaar. Die eerste het die ander toe in twee woorde vertel wie Don Quijote was, en hy en die hele troep boetelinge het gaan kyk of die arme edelman dood was. Hulle het Sancho Panza met trane in die oë hoor sê: "O blom van die ridderskap, wat met een hou van 'n stok die loop van jou goed bestede lewe beëindig het! O trots van jou geslag, eer en glorie van die hele La Mancha, ja, van die hele wêreld, wat by gebrek aan jou vol kwaaddoeners sal wees wat nie meer straf vir hul wandade vrees nie! O jy, rojaler as al die Alexanders, aangesien jy my vir net agt maande se diens die beste eiland gegee het wat die see omgord of omring! Nederig teenoor die trotses, hooghartig teenoor die nederiges, trotseerder van gevare, verduurder van beledigings, verlief sonder rede, navolger van die goeies, gésel van die bose, vyand van die gemenes, kortom, dolende ridder, en meer kan 'n mens nie sê nie!"
By die geroep en gekerm van Sancho het Don Quijote bygekom, en die eerste woord wat hy gesê het, was: "Hy wat van u geskei leef, liefste Dulcinea, moet groter ellendes as hierdie verduur. Help my, vriend Sancho, om op die betowerde wa te klim, want ek is nie in 'n toestand om Rocinante se saal te druk nie, want hierdie skouer is aan flarde geslaan."
"Dit sal ek met my hele hart doen, señor," het Sancho gesê, "en laat ons saam met hierdie here, wat net u beswil soek, terugkeer na ons dorp. Daar sal ons voorberei vir nog 'n uittog, wat dalk meer voordeel en eer vir ons kan inbring."
"Jy is reg, Sancho," het Don Quijote geantwoord. "Dit sal verstandig wees om die kwaadwillige invloed van die sterre wat nou heers, te laat oorwaai."
Die kanunnik, die pastoor en die barbier het vir hom gesê hy sou baie verstandig optree as hy doen wat hy sê. En so, baie geamuseer deur Sancho Panza se eenvoudighede, het hulle Don Quijote weer soos tevore in die wa gesit. Die optog het hom weer in orde opgestel en verder gegaan op sy pad. Die bokwagter het van die geselskap afskeid geneem. Die beamptes van die Broederskap wou nie verder saamgaan nie, en die pastoor het hulle betaal wat hulle toegekom het. Die kanunnik het die pastoor gevra om hom te laat weet hoe dit met Don Quijote gaan, of hy van sy malheid genees is of nog daaraan ly, en toe verlof gevra om sy reis voort te sit. Kortom, hulle het almal uitmekaar gegaan, elkeen sy eie pad, en net die pastoor en die barbier, Don Quijote, Sancho Panza en die goeie Rocinante agtergelaat, wat alles met ewe groot gelatenheid as sy meester aanskou het. Die voerman het sy osse ingespan en Don Quijote gemaklik op 'n bondel hooi neergelê, en teen sy gewone bedaarde pas het hy die pad gevat wat die pastoor aangewys het. Ná ses dae het hulle Don Quijote se dorp bereik en dit omtrent middagete binnegery. Dit was toevallig 'n Sondag, en die mense was almal op die plein, waardeur Don Quijote se wa gery het. Hulle het almal saamgedrom om te sien wat in die wa was, en toe hulle hul dorpsgenoot herken het, was hulle stomverbaas. 'n Seun het weggehardloop om die nuus aan sy huishoudster en sy niggie te bring dat hul meester en oom teruggekom het, uitgeteer en geel, en uitgestrek op 'n bondel hooi op 'n ossewa. Dit was aaklig om die geskree te hoor wat die twee goeie vroue opgesit het, hoe hulle op hul borste geslaan en nuwe vervloekings uitgestort het oor daardie vervloekte ridderboeke. En dit alles het van voor af begin toe hulle Don Quijote by die hek sien inkom.
By die nuus van Don Quijote se aankoms het Sancho Panza se vrou aangehardloop kom, want sy het teen hierdie tyd geweet dat haar man saam met hom as sy skildknaap weggegaan het. Toe sy Sancho sien, was die eerste ding wat sy hom gevra het, of die donkie gesond was. Sancho het geantwoord dat hy gesond was, gesonder as sy meester.
"Dank die Here," het sy gesê, "dat Hy so goed vir my is. Maar vertel my nou, my vriend, wat het jy met jou skildknapery verdien? Watter rok het jy vir my teruggebring? Watter skoene vir jou kinders?"
"Ek bring niks van daardie soort nie, vrou," het Sancho gesê, "maar ek bring ander dinge wat van groter belang en waarde is."
"Ek is baie bly om dit te hoor," het sy vrou geantwoord. "Wys my hierdie dinge van groter waarde en belang, my vriend, want ek wil hulle sien om my hart op te beur, wat al die ewigheid lank wat jy weg was, so bedroef en swaar was."
"Ek sal hulle by die huis vir jou wys, vrou," het Sancho gesê. "Wees nou maar tevrede, want as dit God behaag dat ons weer op ons reise gaan op soek na avonture, sal jy my binnekort 'n graaf sien, of goewerneur van 'n eiland, en dan nie een van daardie alledaagse enetjies nie, maar die beste wat daar te kry is."
"Mag die hemel dit gee, man," het sy gesê, "want ons het dit waarlik nodig. Maar sê my, wat is hierdie storie van eilande, want ek verstaan dit nie?"
"Heuning is nie vir die donkie se bek nie," het Sancho geantwoord. "Alles op sy tyd sal jy sien, vrou. Ja, jy sal verbaas wees om te hoor hoe al jou onderdane jou 'u Hoogheid' noem."
"Waarvan praat jy, Sancho, met jou hooghede, eilande en onderdane?" het Teresa Panza geantwoord, want so het Sancho se vrou geheet, al was hulle nie familie nie, want in La Mancha is dit die gebruik dat vroue hul mans se vanne aanneem.
"Moenie so haastig wees om dit alles te weet nie, Teresa," het Sancho gesê. "Dit is genoeg dat ek jou die waarheid vertel, so hou jou mond. Maar ek kan jou terloops net soveel sê: daar is niks in die wêreld lekkerder as om iemand van aansien te wees, skildknaap van 'n dolende ridder, en 'n soeker na avonture nie. Dis waar, die meeste wat 'n mens raakloop, eindig nie so aangenaam as wat 'n mens sou wou nie, want uit honderd loop nege-en-negentig skeef en dwars. Ek weet dit uit ondervinding, want uit party het ek gekom ná 'n kombersgooiery, en uit ander pimpel en pers geslaan. Maar al is dit so, is dit 'n mooi ding om op die uitkyk te wees vir wat kan gebeur: om berge oor te steek, deur bosse te soek, op rotse te klim, kastele te besoek, in herberge tuis te gaan, en alles verniet, en die duiwel haal die maravedí wat jy moet betaal."
Terwyl hierdie gesprek tussen Sancho Panza en sy vrou plaasgevind het, het Don Quijote se huishoudster en niggie hom ingeneem, uitgetrek en in sy ou bed neergelê. Hy het hulle skeef aangekyk en kon nie uitmaak waar hy was nie. Die pastoor het die niggie opgedra om baie sorg te dra dat haar oom gemaklik is, en om 'n ogie oor hom te hou sodat hy nie weer van hulle af wegloop nie, en hy het haar vertel wat hulle moes doen om hom by die huis te kry. Daarop het die twee weer hul stemme verhef en hul vervloekings oor die ridderboeke hernu, en die hemel gesmeek om die skrywers van sulke leuens en onsin in die middel van die bodemlose put te dompel. Kortom, hulle het in angs en vrees geleef dat hul oom en meester hulle sou ontglip sodra hy hom 'n bietjie beter voel, en net soos hulle gevrees het, so het dit ook gebeur.
Maar die skrywer van hierdie geskiedenis, al het hy ondersoek en vlyt bestee aan die ontdekking van die dade wat Don Quijote op sy derde uittog verrig het, kon geen inligting daaroor bekom nie, ten minste nie uit betroubare dokumente nie. Die oorlewering het bloot in die geheue van La Mancha bewaar dat Don Quijote, die derde keer toe hy van sy huis af uitgetrek het, na Zaragoza gegaan het, waar hy by 'n paar beroemde steekspele was wat in daardie stad gehou is, en dat hy daar avonture beleef het wat sy dapperheid en hoë verstand waardig was. Oor sy einde en dood kon hy niks te wete kom nie, en hy sou dit ook nooit vasgestel of daarvan geweet het nie as die goeie geluk nie vir hom 'n ou geneesheer opgelewer het nie. Dié het 'n looddoos in sy besit gehad wat, volgens sy vertelling, tussen die verbrokkelende fondamente van 'n ou kluis gevind is wat herbou is. In daardie doos is sekere perkamentmanuskripte gevind, in Gotiese skrif maar in Kastiliaanse verse, wat baie van sy dade bevat het, en wat die skoonheid van Dulcinea, die gestalte van Rocinante, die getrouheid van Sancho Panza en die begrafnis van Don Quijote self beskryf het, tesame met verskeie grafskrifte en lofdigte oor sy lewe en karakter. Maar al wat gelees en ontsyfer kon word, is dié wat die betroubare skrywer van hierdie nuwe en weergalose geskiedenis hier aanbied. En genoemde skrywer vra van dié wat dit sal lees niks terug vir die geweldige moeite wat dit hom gekos het om die argiewe van La Mancha te ondersoek en deur te soek om dit aan die lig te bring nie, behalwe dat hulle hom dieselfde geloof sal skenk wat verstandige mense aan die ridderboeke skenk wat die wêreld oorstroom en so gewild is. Want daarmee sal hy homself ruim betaal en ten volle tevrede ag, en sal hy aangemoedig word om ander geskiedenisse op te spoor en uit te gee, wat, as hulle nie so waar is nie, ten minste ewe vindingryk en nie minder vermaaklik sal wees nie. Die eerste woorde wat op die perkament in die looddoos geskryf was, was hierdie:
DIE AKADEMICI VAN ARGAMASILLA,
'N DORP IN LA MANCHA,
OOR DIE LEWE EN DOOD VAN DON QUIJOTE VAN LA MANCHA,
HOC SCRIPSERUNT
'N DORP IN LA MANCHA,
OOR DIE LEWE EN DOOD VAN DON QUIJOTE VAN LA MANCHA,
HOC SCRIPSERUNT
"Hoc scripserunt" is Latyn vir "dit het hulle geskryf". Die name van die akademici hieronder is spotname: Paniaguado beteken 'n klaploper of aanhanger, Caprichoso "grillig" en Burlador "spotter".
MONICONGO, AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
OP DIE GRAF VAN DON QUIJOTE
OP DIE GRAF VAN DON QUIJOTE
GRAFSKRIF
Die warkop wat La Mancha meer laat smaak
van buit as Jason; wie se skerp verstand
so fyn gepunt was dat 'n stomper kant
aan sy gees se weerhaan hom bliër sou maak;
die arm wie se roem tot by Gaeta raak,
Katai, en elke tussenliggende land;
die muse, wys en vreeslik, wie se hand
in brons geskryf het in die ou, verhewe spraak;
van buit as Jason; wie se skerp verstand
so fyn gepunt was dat 'n stomper kant
aan sy gees se weerhaan hom bliër sou maak;
die arm wie se roem tot by Gaeta raak,
Katai, en elke tussenliggende land;
die muse, wys en vreeslik, wie se hand
in brons geskryf het in die ou, verhewe spraak;
hy wat bo al die Amadisse styg
en elke Galaor as niks beskou,
gestut deur liefde en sy hoofse eer;
wat al die Belianisse laat swyg
en roem gesoek het op Rocinante, trou:
hy lê hier onder koue klip ter neer.
en elke Galaor as niks beskou,
gestut deur liefde en sy hoofse eer;
wat al die Belianisse laat swyg
en roem gesoek het op Rocinante, trou:
hy lê hier onder koue klip ter neer.
PANIAGUADO, AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
IN LAUDEM DULCINEAE DEL TOBOSO
IN LAUDEM DULCINEAE DEL TOBOSO
"In laudem Dulcineae del Toboso" is Latyn vir "tot lof van Dulcinea del Toboso".
SONNET
Sy wie se vol gelaat jy hier aanskou,
hoogborstig, met 'n trotse, koue trant,
is Dulcinea, vir wie, van liefde verbrand,
die groot Don Quijote tevergeefs gesug het, trou.
Vir haar, Toboso se vorstin, het hy die rou
Sierra deurkruis, en Aranjuez se land,
Montiel se roemryke vlakte, kant tot kant,
op Rocinante, moeg en dikwels flou.
hoogborstig, met 'n trotse, koue trant,
is Dulcinea, vir wie, van liefde verbrand,
die groot Don Quijote tevergeefs gesug het, trou.
Vir haar, Toboso se vorstin, het hy die rou
Sierra deurkruis, en Aranjuez se land,
Montiel se roemryke vlakte, kant tot kant,
op Rocinante, moeg en dikwels flou.
'n Wrede noodlot en planete vol nyd
het albei agtervolg: die Manchegaanse dame
en die onoorwonne ster van ridderskap.
Geen jeug of skoonheid het haar van die dood bevryd;
die liefde se bitter boete het hy betaal; sy naam
bly in die marmer: dis sy nalatenskap.
het albei agtervolg: die Manchegaanse dame
en die onoorwonne ster van ridderskap.
Geen jeug of skoonheid het haar van die dood bevryd;
die liefde se bitter boete het hy betaal; sy naam
bly in die marmer: dis sy nalatenskap.
CAPRICHOSO, 'N UITERS SKERPSINNIGE AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
TOT LOF VAN ROCINANTE, ROS VAN DON QUIJOTE VAN LA MANCHA
TOT LOF VAN ROCINANTE, ROS VAN DON QUIJOTE VAN LA MANCHA
SONNET
Op daardie trotse troon van diamantskyn,
wat Mars se bloeddrupvoete skend met al hul mag,
het nou die mal Manchegaan sy vaandel, groot en fyn,
in al sy prag en praal ten toon gestel vandag.
Daar hang sy wapens nou, sy swaard van skerp beslag,
waarmee hy dade doen wat nooit tevore kon verskyn:
hy moor, slaan neer, klief, kap; maar kuns het op 'n nuwe slag
'n nuwe styl geskep vir ons nuwe paladyn.
wat Mars se bloeddrupvoete skend met al hul mag,
het nou die mal Manchegaan sy vaandel, groot en fyn,
in al sy prag en praal ten toon gestel vandag.
Daar hang sy wapens nou, sy swaard van skerp beslag,
waarmee hy dade doen wat nooit tevore kon verskyn:
hy moor, slaan neer, klief, kap; maar kuns het op 'n nuwe slag
'n nuwe styl geskep vir ons nuwe paladyn.
As Amadis die trotse roem van Gallië is,
as deur sy nageslag die roem van Griekeland
deur al die streke van die aarde word versprei,
het groot Quijote, in Bellona se saal gekroon, gewis
La Mancha vandag verhef bo elke ander land,
en Griekeland en Gallië: sy steek uit bo albei.
as deur sy nageslag die roem van Griekeland
deur al die streke van die aarde word versprei,
het groot Quijote, in Bellona se saal gekroon, gewis
La Mancha vandag verhef bo elke ander land,
en Griekeland en Gallië: sy steek uit bo albei.
Ook eindig hier sy roem nie, want sy ros, so fier,
steek ver uit bo Brillador en Bayard, elke dier;
as vurige perde langs ons Rocinante
is hulle roem maar skraal aan alle kante.
steek ver uit bo Brillador en Bayard, elke dier;
as vurige perde langs ons Rocinante
is hulle roem maar skraal aan alle kante.
Brillador en Bayard is die beroemde perde van Roland en van Reinaldos van Montalbán in die ou ridderverhale.
BURLADOR, AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
OOR SANCHO PANZA
OOR SANCHO PANZA
SONNET
Die waardige Sancho Panza sien jy hier;
in daardie lyfie klein het eens 'n groot siel gewoon;
geen skildknaap op die aardbol was so eenvoudig, skoon,
en vry van slinksheid, sonder streke of manier.
Hy was 'n haarbreed van 'n graaf se titel en sy sier,
en sou dit ook gewees het, was dit nie vir die hoon
en gal van hierdie eeu, so gierig, wat niks verskoon,
wat selfs 'n donkie nie laat wees nie, die arme dier.
in daardie lyfie klein het eens 'n groot siel gewoon;
geen skildknaap op die aardbol was so eenvoudig, skoon,
en vry van slinksheid, sonder streke of manier.
Hy was 'n haarbreed van 'n graaf se titel en sy sier,
en sou dit ook gewees het, was dit nie vir die hoon
en gal van hierdie eeu, so gierig, wat niks verskoon,
wat selfs 'n donkie nie laat wees nie, die arme dier.
Want op 'n esel (ekskuus vir die woord) gesit,
het hierdie sagte skildknaap langs Rocinante altyd
sy dolende meester trou gevolg op elke pad en spoor.
Bedrieglike verwagtings, wat die skare lok, so slim gesmid,
met lofte van gemak en alles wat die hart verblyd:
in skadu, droom en rook gaan julle altyd te loor.
het hierdie sagte skildknaap langs Rocinante altyd
sy dolende meester trou gevolg op elke pad en spoor.
Bedrieglike verwagtings, wat die skare lok, so slim gesmid,
met lofte van gemak en alles wat die hart verblyd:
in skadu, droom en rook gaan julle altyd te loor.
CACHIDIABLO, AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
OP DIE GRAF VAN DON QUIJOTE
OP DIE GRAF VAN DON QUIJOTE
GRAFSKRIF
Hier lê die ridder neer,
sleg-dolend, blou geslaan,
wat Rocinante op sy baan
gedra het heen en weer.
sleg-dolend, blou geslaan,
wat Rocinante op sy baan
gedra het heen en weer.
Langs hom het hulle neergelê
ook Sancho, stoer en stom;
geen skildknaap, waar jy ook al kom,
was trouer in die vak, kan mens wel sê.
ook Sancho, stoer en stom;
geen skildknaap, waar jy ook al kom,
was trouer in die vak, kan mens wel sê.
TIQUITOC, AKADEMIKUS VAN ARGAMASILLA,
OP DIE GRAF VAN DULCINEA DEL TOBOSO
OP DIE GRAF VAN DULCINEA DEL TOBOSO
GRAFSKRIF
Hier lê Dulcinea, kyk:
sy was mollig, fris en vet;
nou stof en as: die wet
van alle sterflike vlees, gelyk.
sy was mollig, fris en vet;
nou stof en as: die wet
van alle sterflike vlees, gelyk.
'n Dame van hoë rang,
met die houding van 'n vrou van swier,
die groot Don Quijote se vlam, so fier,
en die trots van haar dorp, haar lewe lank.
met die houding van 'n vrou van swier,
die groot Don Quijote se vlam, so fier,
en die trots van haar dorp, haar lewe lank.
Dit was al die verse wat ontsyfer kon word. Die res, omdat die skrif deur wurms opgevreet was, is aan een van die akademici oorhandig om die betekenis daarvan deur gissing uit te maak. Ons is meegedeel dat hy ten koste van baie slapelose nagte en baie moeite daarin geslaag het, en dat hy van plan is om dit uit te gee, in die hoop op Don Quijote se derde uittog.
"Forse altro canterà con miglior plettro."
Italiaans vir "Miskien sal 'n ander dit met 'n beter plektrum besing", 'n reël uit Ariosto se Orlando Furioso.
📖
Einde van die Boek
Dankie dat jy Don Quijote – in Afrikaans gelees het.