Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 5

Weerwraak

Oor na Dagboek-tema wat oorgaan tot:
gerardo
(Gefloersde trom of dodemars ver op agtergrond) In antwoord op hierdie radio-uitsending het genl. Alonso ons beloofde weerwraak begin uitvoer. Ons het vyf mense uit die tronk laat haal — sommer ’n vyf wat op Lobos se partylyste ingeskryf staan. “Vyf doodskiet vir
elke radioleuen” — dit was ons dreigement. Majoor Eduardo moes die teregstelling waarneem.
Om die skrik erger te maak, is die vyf onder sterk bewaking deur die strate laat marsjeer... ek moes geskryf het: gesleep, want net een van die vyf het regop geloop: die ander vier het soos dronk ouens elkeen tussen twee soldate gehang, gesteier.
Tot op die hoofmark, waar sterk troepe van ons opgestel was; en ’n paar honderd toeskouers, net ’n paar honderd; minder as ons. (Bitter) As ons drama wou gehad het, is ons teleurgestel: net een man, dié wat regop geloop het, het ook regop die geweers in die bek gekyk. Militêre bevele: vanaf “Geef ag!” tot by vuur!” — n sarsie val.
gerardo
(Gaan baie sag voort) Sou hy 'n man gewees het wat werklik aan Lobos glo? Of is dit dat hy ons, as bevryders en moordenaars, geminag het?
Maar die vier ander: dit was ’n gehuil en gesmeek; hulle wou nie staan nie: kniel, lê, kruip: die vuurpeloton moes sommer deurmekaar op die grond ook skiet.
Verwarde bevele en stemme: half weeklag en soebat.
gerardo
Skiet tog maar! In Godsnaam laat ons klaarkry. Mag die Here óns ook genadig wees.
Hier tussendeur is daar een-een verwarde skoot.
gerardo
(Eers sag en vol ontsettin g) Dis soos die boere varkslag. (Dan weer meer normaal vertellend) Die volk het begin mor. En skreeu.
Geskreeu.
stem uit die volk
(Sag) Dis net sulke moordenaars as Lobos.
ander stem
(Sag) Vullis.
ander stem
(Sag) Dan kan Lobos maar terugkom. Militêre bevele en geluid van soldate wat terugmarsjeer, met ’n iets vroliker musiek as by
die kom.
gerardo
Majoor Eduardo het doodsbleek na my toe gekom. (Kwasi-vrolik) : Toe dan ou ystervreter! Ons vég mos nou: Dis óórlog.
majoor e.
(Toonloos) Vullis: jy; ek, Gerardo.
gerardo
Ons het saam na sy huis toe gegaan. Daar het hy eers vyf glase rum stil gedrink, en toe neergeval en verward gebede begin opsê: gebede wat ek nie ken nie .. . nog nie gehoor het nie. Skielik het hy begin opbring: weer en weer... asof daar iets in hom was wat hy nie kon uitkry nie. En toe was hy skielik weer reg.
majoor e.
Weet jy die ergste, Gerardo? Jy ken ons seuns: normale, meestal ordentlike jong seuns. En (Fluisterend) weet jy: nie almal van hulle het hierdie moordery aaklig gevind nie?!
gerardo
Hoe bedoel u, Majoor?
majoor e.
Jy moes gesien het hoe party van hulle geskiet het op die arme skepsels wat daar Iê: dit was asof hulle lekkerkry. En toe ons trugmarsjeer, het party gesing en gefluit, gespog, gepráát … gepraat.
gerardo
(Met Dagboek-tema) Miskien was dit die ergste toe ek weer met my moeder praat.
moeder
(Skril) Ek het gehóór! Nou begin ons die skepsels die soort pap voer wat hulle ken! Vir elke leuen: dóódskiet van hulle — tót die leuens in hulle keel begin vassteek.
gerardo
(Sag) Moeder, ek was by. En ek is nou vuilgoed. (Na kort Dagboek-tema) Ek moet. Ek moet.
Geluid van vinnig stap, later hardloop; beurtelings stap en hardloop, met Gerardo se woorde af en toe hygend tussendeur:
Ek móét. Ek kan nie anders nie. (Herhaal, ad lib) Ek wil nie móór nie.
Harde klop op ’n deur.
majoor e.
Binne. Gerardo!
gerardo
Ek kan nie hiermee voortgaan nie, Majoor. My vader het my iets anders laat verwag.
majoor e.
Ek weet wat jy wil sê.
gerardo
Dat almal, ons almal, dierlik word!
majoor e.
Sien jy kans om na Lobos toe oor te loop?
gerardo
Nee, nee. Nooit. (Pouse)
majoor e.
Jou vader is gevang. En verneder.
Maar: ek is ’n ou soldaat.
Wat ons hier het, is nie eers meer oorlog nie. (Pouse) Ek weet nie so goed nie.
gerardo
Majoor, ek gaan ’n ding sê: As u voel dis verraad” — moet u my arresteer, of doodskiet. (Pouse)
Ek gaan optree teen ons leier, generaal Alonso.
majoor e.
Optree? (Moedeloos) Wat optree?
gerardo
Afresteer u my nie?
majoor e.
(Stadig) Nee. (Pouse) Ek wil net hê jy moet dink: hoe gaan jy optree? Sameswering maak? En ás daar is wat jou help, wat saamgaan, besef jy: as ons mense onder mekaar veg... besef jy dat Lobos ons sal uitwis?
gerardo
Ja. Miskien. Miskien sál hy.
majoor e.
(Moeg) Met my kon jy praat. Byna ál die ander sal jou verraai. Nag, Gerardo. Nag. Nag! Deur slaan toe. Voetstappe wat moeg stap.
gerardo
Ek moet loop. Ek moet loop. Ek moet wég. Iets dóén. Moet ek dink? Maar ek dink. Miskien word ek mal. Ons moet vuilgoed doodskiet. (Sag) Maar vir bulle? ... of vir my? (Pouse met Dagboek-tema) Ek het vanmiddag vir Maria raakgeloop. Ons het in ’n klein kroegie met rietskerm rondom iets gaan drink . . . Triestige musiekie op die agtergrond. Harry Lime-tema. En ver op agtergrond, van tyd tot tyd, kanonne.
gerardo
Wat kan ons doen, Maria? Wat kan ons dóén? Jy moet weet, jy.
maria
(Sag) Dit is dit juis: ons moet doen. Ek glo: ek het gister eers besef .… Weet jy . . . met jou liggaam iets doen —
sélf doen .. . nie “sameswerings” maak nie... nie politiek voer nie; nie planne maak nie, maar doen.
gerardo
(Sag, dringend) Wat? Soos wát?
maria
(Glimlaggend) Soos byvoorbeeld: as die sol-
date wil skiet, moet iemand sê hulle moet nie.
gerardo
Moet ons selfmoord pleeg?
maria
(Nog altyd glimlaggend) Julle, soldate, wéét so min van julle eie ambag, Gerardo.
Nee: roekeloosheid is sonde, soos selfmoord sonde is.
Maar om moord te probeer kéér, mag mens jou eie lewe waag. En: jou geloof ook teen gevaar betuig, dit mag ’n mens altyd .. . altyd, eintlik behóórt ons dit...
(Doof uit na Dagboek-tema)
RADIO-LOBOS: (Met gewone inleiding) Onder die misdadigers wat vandag in die Santiago-gevangenis opgehang is, was daar die berugte advokaat, (Maria gee ’n kort, klein uitroep, byna ’n gil) Ramon de Torres, die gemene karakter wat nie alleen teen sy eie volk in die geheim verraad gepleeg het nie, maar ook, toe hy in die knyp gekom het, sy mede-verraaiers verraai het.
U sien, liewe landgenote, teen watter soort mens u beskerm word deur ons groot leier, maarskalk Lobos!
Radio-Lobos af, brullend soos gewoonlik.
Kort Pouse. Maria snik.
gerardo
(Woes) Gehang! My vader! Opgehang! (Pouse) En ons skiet net: deur my! deur my
papheid skiet ons genadiglik, nie hang nie! Gehang! (Sag) Nag, Pappie.
(Kras) Waarom mag ons hulle nie ook haat nie, Maria? Die wêreld skoonmaak van hulle haat nie? Hoe kan daar liefde kom voordat die haters self sáám met die haat uitgeroei, uitgewis is? Uitgewis!
maria
(Sag, saaklik) Jou vader was ’n goeie man: die beste mens wat ek ooit geken het. (Pouse) Hy was nie van my geloof nie. Ek het in hom gesien ’n man wat so goed was — anders as die heiliges goed gewees het; maar goed. (Vergeef U my waar ek dink.)
Jy weet ek het by hom op kantoor gewerk. Maar toe: ek het gou geweet dat hy, die ouer man, die man wat ek bewonder het, my . .. liefgehad het, meer liefgehad het as wat hy
moes; ja, ek sal dit sê: verlief was op my.
(Pouse)
gerardo
(Bars) Was daar ’n liefdesverhouding tussen jou en my vader?
maria
Hy het my liefgehad. En ek het hom leer liefkry.
gerardo
_ Jy. Moet ek hier ook weer, soos soveel keer in my lewe, sê: (Sag) slet? (Pouse)
maria
Gerardo, jy weet nog nie wat “liefde” beteken nie.
gerardo
(Bitter) En wat sou dié groot betekenis wees?
maria
Dat ’n mens vir die geliefde die aller-beste be-
geer: die áller-beste. En begéér. Nie, nie . vir jou self nie. Ons het nooit oor so iets gepraat nie.
Toe, op ’n dag, het hy my gesig gevat met sy twee hande (Byna in gebed): vergeef my, Heer, dat dit vir my heerlik was; maar hy't gesê: “Liewe meisietjie, jy's eintlik bo my kerf. Jy gaan ’n heilige word — soos julle sê. Moenie iets anders wil word nie” — het hy gesê — Ek het hom gehoorsaam; en voortgegaan met my soort bid.
gerardo
Hy's dood, dood, dood. En ek wéét nie van jou en hom nie — behalwe wat jy sê.
maria
Moet nie oor hom treur nie, Gerardo. Moet nie oor hom treur nie. (Pouse) Gerardo, toe ek gisteraand vir die eerste keer vir jou getelefoneer het, het jou moeder die foon neergeplak. Wees goed vir jou moeder, Gerardo. Baie goed. Sy het goed-vir-wees nodig. Sy, meer as ander mense.
Oor na Dagboek-tema.
gerardo
Dis al wat sy vir my te sê gehad het. (Dan gaan sy dagboekstem baie saaklik voort. Maar, van tyd tot tyd, woes.) Was daar ’n liefdesverhouding tussen dié twee: my vader en... my “geliefde” (Smalend) Is ek dus ’n Oedipus-kompleks?
Of sou ook sy kon lieg?! Het sy my vader aangehits — sy, die egte femme fatale; en nou dat hy dood is, hits sy my aan om opstand te maak: wéér, sy, in haar rol van femme fatale?
Is sy ook maar weer die lieg-lieg-lieg van ál
ons mense? Sou sy ook kon lieg? En my vader ook?
Almal lieg tog.
Alle mense is leuenaars.
Maar: sy? En hy?
Wie was jy, Vader? Wie was jy? Ek ken van jou net fragmente. Hoe was jy? Oëk maar 'n mens, ’n politikus? Wat was jou “billikheid”? Was jy ,billik” ’n bedrieër? “Billik” ’n leuenaar?
As net een mens nie lieg nie, nooit lieg nie, dan is ons verlos van lieg! As daar iemand is wat nooit lieg nie, is die ban verbreek: dan is álle mense nie leuenaars nie: dan sou ons die waarheid kon binnestroom.
Maar ná ek van my vader en háár gehoor het, wéét ek .. . wil ek liewers nie weer hóór nie . . . Dan is al wat mens is, vuil.
Dan wil ek liewer saam met Alonso moor, moor, en baas-word. Ja! selfs soos Lobos baaswees oor die dommes en vuiles en willendes. As alles vullis, nastergal is, wil ek ten minste bobaas wees oor die vuiles. Dit is wat ek gaan wees! En ek gaan! Van nou af. (Dreigend) Laat moord nou voortgang hê. En ek sal help. (Dit juigend)
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…