Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 7

Die derde gedeelte (1)

Die derde gedeelte
DIE DERDE GEDEELTE
OU VROU:
So was dit toe, my kind:
Steyn in sy eie land geen nag van 'n nagrus seker nie;
die tienduisende van die vyand het deur ons land geveeg soos besems;
met blokhuis en doringdraad die land in mote verdeel;
dag en nag gedryf om vir Steyn en De Wet te vang.
Steyn en De Wet! Steyn en De Wet:
As hulle dié kon vang, was die oorlog oor.
Goed, ons was 'n vlugtende republiek, ja.
Maar: waar Steyn en De Wet was, het die republiek gelééf!
Bestaan! Geleef! 'n Pluimsaad wat gewaai is om te groei.
En toe is my lewe deur die oorlog gebreek.
[Wat volg, is in die vorm van 'n abstrakte gesprek tussen haar en Grootvader, 'n gesprek van dooie siele. Hy verskyn styf, en speel nie realisties nie – asof hy reeds dood is; sy is soms lewende vrou, soms tragiese vertelster; alleen twee kolligte hier nodig: een op Ou Vrou se gesig en een op Grootvader]
OU VROU:
En nou is jy deur ons eie mense gevang as verraaier. Hoe kon jy, hoe kon jy daartoe kom?
GROOTVADER:
Ek het gedoen wat helder my plig was. Ja, ek het my volk probeer dien.
OU VROU:
Jy't nooit geglo dat ons 'n volk is nie.
GROOTVADER:
En julle het dié waarheid nooit vir my bewys nie.
OU VROU:
Hoe kan jy sê "julle!" Ek is jou vrou. Dit was jou kinders, jou broers, jou mense. Dis jý wat jou losgemaak het van almal.
GROOTVADER:
Losgemaak, sê jy? Het ek alléén gehandel?
OU VROU:
Daardie onsalige komitee waar jy aangesluit het.
GROOTVADER:
Aangesluit? Ek het hom gestig, ek het hom saamgeroep.
Ek het geroep uit ons burgers, dié wat die oorlog wou stopsit.
Ek het geroep van die oudstes en verstandigstes.
Die oudstes wat in die poort sit, het gekom.
OU VROU:
Moenie met die Bybel kom nie. 'n Afrikanerkomitee met 'n Engelse naam: Boer Peace Committee.
Hoe kon jy daartoe kom?
Ek het jou lief, my man – hoe ook al, hoe ook al.
GROOTVADER:
Ek het my gewete gevolg, vrou.
Die gevolge neem ek ook aan.
OU VROU:
Julle was vermetel om na die kommando's te gaan!
GROOTVADER:
Vermetel, sê jy, oor ek réde wou praat met hulle?
Net vermetel?
Wil die woord "dapper" nie oor jou lippe?
OU VROU:
My man wat ek liefhet: ek sal die woord "dapper" sê.
Nooit was jy bang; nooit vir 'n mens nie.
Jy dwing my byna: nooit vir duiwel of mens nie!
GROOTVADER:
Ek het ander gestuur. Ek het self gegaan.
Ek wou die verblindes tot rede bring.
OU VROU:
Daar is nou net die hardstes, die dapper getroustes.
Ons kommando's bestaan uit 'n nuwe soort man.
GROOTVADER:
Ek weet.
En ek het gebid, geworstel.
En toe het ek gegaan.
Hulle wou nie dat ek praat.
Hulle het my gevang.
Ander van ons is gegesel;
met die horssweep, die renostersambok.
Ook óns weet wat 'n volk is,
en hoe vir 'n volk gely word.
En nou, julle krygsraad vir my!
[Lig dood op Grootvader]
OU VROU:
Die mens is in blindheid gevange.
Elkeen alleen:
die dappere in sy dapperheid,
die bange in sy vrees.
Ons wink verniet deur die glas
waarin ons gevange hang:
rooi goudvissies met mondbewegings,
maar stom na buite en self weer doof.
En ek, ellendiger as die meeste:
gevang in my liefde;
'n liefde wat nou net bitterheid gee,
en afsku soms; en afsku vir mý:
vrou van 'n dapper ontroue,
en moeder van wat, my kind!
O waarom is ons so gemaak:
blind en geketting deur liefde?
['n Winterdag êrens in die Vrystaat maande na vorige toneel. Murasie van 'n gebou op agtergrond met stukke tent en sinkplaatskuiling. 'n Burger van Steyn se klein staf op voorgrond besig om iets op 'n vuurtjie te kook. Tweede burger by hom. Eerste burger kyk na kant waar rapportryer, af van verhoog, by wagte wag. Dit is baie koud en moes kort tevore gekapok het]
EERSTE BURGER:
Daarie ditsemse rapportryer kyk hiernatoe.
TWEEDE BURGER:
Man, hy ruik die kos. Weet jy, as daar een soort ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit die rapportryers – behalwe Pieter ... jy weet, die Kaapse rebel. Die president kan nou nog nie daaroor kom dat die Engelse vir Pieter gevang het nie. Spierwit het sy gesig geword toe hy die nuus kry. Ek was by. En toe vat hy so aan sy oë ... jy weet so ...
EERSTE BURGER:
Dis groot moeilikheid as 'n rebel gevang word. Maar ek weet ook nie, met die een doen die kakies dit, met die ander dat ... Hoe lyk dit met die bief?
TWEEDE BURGER:
Kyk, vriend, die president eet eers. Verstaan Neef goed of moet ek dit anderster sê. Maar oor die rapportryers: nog voor hulle die boodskap gee, hoor jy: wat se kos het julle hier. En weet jy: as hulle so kom, dan sê my hart vir my: die president – dit is Job van ouds wat die doodstydings van sy kinders kry ...
EERSTE BURGER:
Maar wat my die bliksem in maak, is wat die boodskappe is: hier is verraaiers onder ons – dan weer: moenie vir De Wet vertrou nie.
[Steyn op. Hy lyk moeg en oud. Het 'n kombers oor sy skouers]
TWEEDE BURGER:
Hoe laag kan 'n Afrikaner word?
EERSTE BURGER:
Dis mos die ou laai van die vyand. Agterdog saai; haat tussen Afrikaner en Afrikaner. 'n Mens moet soms op jou tande byt om nie aan die háát mee te help nie. Kyk nou vir ons oor die rapportryers.
EERSTE BURGER:
[Sien die president en spring op]: Het President darem 'n bietjie geslaap?
PRESIDENT:
Bietjie lekker op die skaarkant gestaan. Dit help al baie. En die sneeu is darem warmer as ryp. Is daar nuus?
EERSTE BURGER:
Hier wag 'n man. Ons het hom solank met koffie en kaboemielies besig gehou.
PRESIDENT:
Jy moes my kom roep het. Ek moet weet, ek moet hoor wat gebeur.
[Eerste burger af om rapportryer te haal, tweede burger gee intussen vir Steyn van die bully beef]
PRESIDENT:
Is die hoofkommandant al terug?
TWEEDE BURGER:
Ja, President. Hy was netnou hier en wou nie dat ons vir President steur nie.
[Rapportryer en eerste burger op]
RAPPORTRYER:
President. [Wys sy brief]
PRESIDENT:
Gaan dit goed met julle? Generaal Botha? Jannie Smuts?
RAPPORTRYER:
Góéd, President. Lewendig en vol moed. Laat weet groete.
PRESIDENT:
Gaaf, en dankie. Jou rapport.
RAPPORTRYER:
Generaal Smuts laat weet sy plan het misluk. Hy sê u weet watter plan.
[Dit is 'n kwaai slag vir Steyn. Hy sit kos eenkant]
PRESIDENT:
Die plan ... die plan ... het misluk ...
[De Wet op]
Het jy gehoor? Dit het misluk.
DE WET:
Die goudmyne? Ons tweede plan, Smuts se plan, om dié goed te vernietig.
PRESIDENT:
Die vyand het die rykste goudmyne in die wêreld só in die hande gekry. So, ongeskonde. En deur ons slegtigheid.
DE WET:
Op 'n skinkbord! Hy kan ons eie goud gebruik om sy handlangers te betaal. Ons steenkool. Met ons geld teen ons veg!
[Hy gryp die Transvaalse rapportryer aan die baadjie]
Toe daar nog tyd was om dié hel-putte toe te gooi en te versuip, toe wou julle nie; toe wou ons 'n "gentleman's" oorlog veg. Toe het julle vir regter Kok gevang oor hy wou doen wat reg is – deur ons, ons mense gevang.
PRESIDENT:
[Sag]: Generaal.
RAPPORTRYER:
Dit maak mens so bitter, President. Toe ons kón, wóú iemand êrens nie. Dit was nie ons Transvalers se wens nie.
PRESIDENT:
[Glimlag vir rapportryer]: Boet, jy moet gaan rus. Sê groete vir jou generaals. [Rapportryer af]
Die vyand draai die skroef stywer, stywer.
Milner sit in Pretoria – 'n prokonsul –
soos Pontius Pilatus in Jerusalem.
Ons myne werk vir hulle.
Hulle hang soos aasvoëls oor ons land.
Jy en ek moet dag en nag vlug, boet.
[Eerste burger sien 'n nuwe rapportryer aankom. Hy gaan die rapportryer tegemoet]
DE WET:
President, hulle is baas in ons land nét op die plekkies in hierdie wye land waar hulle duisend man kan vrete gee. Dit is soos miskolle, duiwedrek op 'n dak – duiwelsdrek – hier en daar; en verder, oor ons wye land heers ons kommando's.
[Eerste burger en rapportryer op]
EERSTE BURGER:
President, 'n berig.
TWEEDE RAPPORTRYER:
President, generaal De la Rey laat weet: hy en Smuts en Beyers het weer die vyand opge – ge – opgeneu – askies – verslaan.
PRESIDENT:
Vertel!
TWEEDE RAPPORTRYER:
By Nooitgedacht.
PRESIDENT:
Wat 'n mooi naam! Wat 'n mooi naam met belofte!
TWEEDE RAPPORTRYER:
[Opgewonde]: Ag, President, die vyand het forte gehad, klipstawels van forte op die berg. Ek was saam met oom Beyers. Ons het sommer teen die berg opgeklouter ... [Uitasem]
PRESIDENT:
Was jy nie bang nie, boetie?
TWEEDE RAPPORTRYER:
Bang? Bang soos 'n skrik-bobbejaan, ja. Maar met oom Beyers het ons geklim, móés klim en wóú ons later klim. President weet nie. En van bo af het oom Beyers en ons op die kakies ónder, geskiét en geskiét ...
PRESIDENT:
[Vir De Wet]: Nooitgedacht. Die Here het ons tog nié verlaat nie. [Vir rapportryer]: Dankie vir jou mooi boodskap. Dag, seun. [Rapportryer af] Nooitgedacht! Nooitgedacht!
[Ruiter kom op]
RUITER:
Ja-nee, baas Krisjan: nooit gedag. Ek nie gedag en baas nie gedag nie en die oubaas nie gedag nie. Halleluja, askoek.
PRESIDENT:
Ruiter! Moet ek my oë glo?
DE WET:
Dag, Ruiter. President, nou het jy weer jou persoonlike sorg. Magtig, Ruiter, ek dog jy het 'n kakie geword!
RUITER:
Ek sou skaam wees. Baas Kris: ek is 'n Bruinman en ek is nie skaam nie. President, ek sien daar wag al weer iemand. [De Wet af]
PRESIDENT:
Ai, Ruiter, jy het teruggekom!
RUITER:
Het Oubaas dan anders gedink? Maar ek moes sóék na Oubaas. Die hele Vrystaat deursoek en snuffel. Oubaas ry mos baie kuier.
PRESIDENT:
Het hulle jou gekwes dié aand?
RUITER:
Ek, seergekry? Oubaas wéét mos hoe Ruiter op 'n perd sit: as ek sit, sit ek behoorlik; as ek val, val ek versigtig.
PRESIDENT:
Ruiter, Ruiter, die Here het vir jou teruggestuur.
RUITER:
Die Here, ja seker. Maar ek het darem ook táámlik moes voetslaan in die Here se terugstuur. Oubaas het ouer geword. Jy lyk siek. Sorg jou Boere dan nie vir jou nie.
PRESIDENT:
Ruiter, ek is moeg. Ek is so moeg dat ek party dae nie kan opstaan nie. Dis ook nie net die moeg nie, dis iets binne-in my.
RUITER:
En ek hoor dan netnou hoe die Boere praat dat die Oubaas nog net so kan kyk, so met die oë kan kyk dat die Boere se woorde gou ja en amen word.
PRESIDENT:
My oë ... weet jy, Ruiter ... [Hy vat vermoeid oor sy oë] daar is iets verkeerd, iets binne-in my. Ek sien alles dubbeld. Soos ek nou kyk, is daar twee Ruiters.
RUITER:
Maar wat praat Oubaas nou? Weet die Ounooi hiervan?
PRESIDENT:
Net jy weet, Ruiter. My vrou moenie weet nie, niemand nie. [Glimlag]: As ek weer vir die Ounooi sien, dan sien ek twee mooi vrouens sommer gelyk, Ruiter, dan is ek met twee vrouens getroud.
Miskien wil die Here my troos: ek dink ek sien dan mos twee maal soveel burgers as wat ons nog het.
RUITER:
Nee, maar dis nie grappies nie, my Oubaas. Dis seker die kos wat Oubaas hier gevoer word. Kyk, ek het vir jou 'n present saamgebring. [Hy haal 'n biltong in papier toegedraai uit 'n sak om sy lyf]
PRESIDENT:
Dankie, Ruiter, dis 'n groot present.
[President neem met regterhand die biltong terwyl Ruiter 'n knipmes oopmaak. Dan sit president die biltong in die linkerhand om die mes met die regterhand te vat. Soos hy dit doen, val die biltong uit sy linkerhand. President buk om dit op te tel met linkerhand en merk sy linkerhand is lam]
RUITER:
En kyk hoe laat val die Oubaas nou ...
PRESIDENT:
Ruiter, kyk ... Ruiter, my hand wil nie vat nie!
RUITER:
Seker net 'n kramp, Oubaas. [Hy tel die biltong op]
PRESIDENT:
Nee ek voel niks. Gee die biltong hier ... nee.
[Hy steek sy linkerhand uit, maar die hand hang heeltemal slap]
Kan jy sien, die hand wil nie. Hy kan nie. Vat die mes solank.
[Hy gee die mes vir Ruiter en tel met sy regterhand die linkerhand by die pols op]
RUITER:
Wil hy nie vat nie, my vader?
PRESIDENT:
Liewe Here, laat die krag in die hand terugkom.
[Hy probeer die hand met die ander vryf]
RUITER:
Sal ek vir baas Krisjan gaan roep?
PRESIDENT:
Ne ... nee ... hy's g'n dokter nie. [Hy toets sy regterhand] Dis 'n seën dat dit nog nie die regterhand is nie ... ek sal kan teken en skryf wat nodig is ... as hý net sal hou ... En jy vertel vir niemand nie, hoor jy, Ruiter.
RUITER:
As die Oubaas sê ek moenie, dan moenie ek.
PRESIDENT:
Ook nie vir baas Krisjan de Wet nie.
RUITER:
Ja-nee, baas Krisjan is so 'n lewendige man: as 'n mierie hom byt, skop hy 'n olifant dood.
[Terwyl hulle praat, is president Steyn steeds besig om sy hand te toets: sy hare plat stryk, 'n baadjieknoop probeer los- of vasmaak, ens. Met die regterhand vee hy die sweet van sy voorkop]
PRESIDENT:
Daar is sulke vreeslike dinge waaroor ek moet besluit. En sulke dinge wat ek moet hoor. Weet jy dat die Kaapnaar ... jy onthou mos vir die baas Pieter ... die Engelse het hom gevang.
RUITER:
Ek was mos die aand daar by Reitz, my Oubaas. Ek het gesien. En daardie jong kommandantjie, Jan Visser, is mos nie meer Boer nie; hy's wolf-en-tier, skout, kakie-baster, hanskakie.
PRESIDENT:
Ruiter, dis dié soort ding wat vir my aan't doodmaak is.
RUITER:
Toe maar, my vader. Onder ons Bruinmense is daar ook slegte mense.
Maar Oubaas, die wêreld lyk náár.
Al die witmense se huise afgebrand –
Die bruinvolk leef onder sakke en blik,
sonder gasie of meel of slaggoed of dop.
Oupa-Kraai die skree van die hongerte;
na die lekker vreet aan die dooigoed,
pik, pik hy nou maar die bene.
Aai, Oubaas, ons Vrystaat tog ...
PRESIDENT:
Ja, Ruiter, ons Vrystaat tog ...
Maar solank as die lepel in die pappot staan ...
[Hy praat dit, maar Ruiter volg met sang]
RUITER:
Treuren wij nog niet,
wegloop wij nog niet.
Solank as die lepel in die pappot staan,
vrekke wij nog niet.
PRESIDENT:
Ruiter, laat jy my weer lekker voel.
Nooitgedacht, Nooitgedacht.
[De Wet op met 'n koerant in sy hand]
DE WET:
President! Kyk hierdie vuiligheid weer. [Hy is opgewonde, woedend]: Pieter is toe verhoor en ... doodgeskiet.
[President staan verslae. Hy struikel effe of gee ander aanduiding van liggaamlike swakheid. Kort pouse]
RUITER:
Oubaas, sit tog 'n bietjie, my Oubaas.
DE WET:
Hulle wet! Hy is 'n rebel en rebelle word doodgeskiet. Hy's nie net 'n Afrikaner wat vir sy volk se bestaan veg nie.
PRESIDENT:
Is jy seker, Generaal? Nie sommer 'n liegkoerant nie?
DE WET:
Dis 'n koerant wat al baie gelieg het, ja. Maar kyk hier: dis 'n proklamasie: "Zijne Excellentie Baron Kitchener van Khartoem", ensovoorts ensovoorts [Bitter]: Here, vergewe die haat en die bitterheid wat in my opkom; sulke dae voel ek nie meer soldaat nie, maar 'n man wat mense kan vermóór. [Ruiter af]
PRESIDENT:
[Stil bitter]: Ja, óns rebelle, óns verraaiers – as ons hulle vang, ons skiet mos nie dood of hang nie; ons is mos almal Afrikaners ... Dis sonder uitsig!
DE WET:
Dié wat ons verraai, ons vang hulle, veroordeel hulle kastig. Dan? Hulle moet saam met die kommando ry – en, ontsnap hulle, verraai hulle ons posisies; as ons hulle êrens in 'n huis opsluit, kom haal die vyand hulle uit; dan is hulle hélde en éérs lekker verraaiers. Ons is mos ááálmal Afrikaners!
PRESIDENT:
Ook in my kom die bitterheid. Ek het altyd probeer; ek het geglo: selfs Jameson sal my nie kon bitter maak nie. Selfs Milner en Chamberlain nie;
Nee, Kitchener – hy wat ons land verbrand, ons vroue en kinders laat omkom,
ook hy (so het ek gebid) Here,
laat ook hý my nie bitter maak teen Engelse nie,
teen álle Engelse nie.
Ook in my wil dit nou inkom.
Here, beskerm my teen my bitter hart.
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…