Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 6

Die groot boekverbranding

Oor die vermaaklike en belangrike ondersoek wat die pastoor en die barbier in die biblioteek van ons vindingryke edelman gedoen het
Hy het nog geslaap. Die pastoor het toe die niggie gevra vir die sleutels van die kamer waar die boeke was, die skuldiges agter al die onheil, en sy het dit met die grootste plesier vir hom gegee. Hulle het almal ingegaan, die huishoudster saam met hulle, en meer as honderd groot boeke gekry, baie mooi gebind, en 'n paar kleintjies ook. Die oomblik toe die huishoudster hulle sien, het sy omgedraai en by die kamer uitgehardloop, en dadelik teruggekom met 'n pierinkie wywater en 'n kwas. "Hier, u Genade, Señor Lisensiaat," het sy gesê, "sprinkel hierdie kamer. Moenie een van die baie towenaars wat in hierdie boeke is, oorlaat om ons te betower uit wraak omdat ons hulle uit die wêreld wil verban nie."
Die huishoudster se eenvoud het die lisensiaat laat lag, en hy het die barbier gevra om vir hom die boeke een vir een aan te gee, sodat hy kon sien waaroor hulle gaan, want daar kon dalk tussen hulle wees wat nie die straf van die vuur verdien nie.
"Nee," het die niggie gesê, "daar is geen rede om enigeen van hulle genade te betoon nie. Elkeen van hulle het kwaad gedoen. Gooi hulle liewer by die venster uit op die binneplaas, maak 'n hoop van hulle en steek hulle aan die brand. Of dra hulle na die werf, daar kan 'n vuur gemaak word sonder dat die rook iemand pla." Die huishoudster het dieselfde gesê, so gretig was hulle albei vir die slagting van daardie onskuldiges. Maar die pastoor wou nie instem voordat hy ten minste die titels gelees het nie.
Die eerste een wat Meester Nicolás in sy hand gesit het, was "Die vier boeke van Amadis van Gallië". "Dit lyk vir my na 'n geheimsinnige saak," het die pastoor gesê, "want, soos ek gehoor het, was dit die eerste ridderboek wat in Spanje gedruk is, en al die ander het hul geboorte en oorsprong hieruit. Daarom dink ek ons moet hom sonder genade tot die vlamme veroordeel, as die stigter van so 'n gemene sekte."
"Nee, meneer," het die barbier gesê, "ek het ook gehoor dat dit die beste is van al die boeke van hierdie soort wat ooit geskryf is, en daarom, as iets uniek in sy soort, behoort hy begenadig te word."
"Dis waar," het die pastoor gesê, "en om daardie rede word sy lewe vir eers gespaar. Kom ons kyk na die ander een wat langs hom staan."
"Dit," het die barbier gesê, "is 'Die Dade van Esplandián', die wettige seun van Amadis van Gallië."
"Wel dan," het die pastoor gesê, "die verdienste van die vader kan nie op die rekening van die seun geskryf word nie. Vat hom, mevrou die huishoudster. Maak die venster oop, gooi hom op die werf, en lê die fondament vir die brandstapel wat ons gaan maak."
Die huishoudster het met groot genoegdoening gehoorsaam, en die goeie Esplandián het die werf in gevlieg om daar met alle geduld te wag op die vuur wat vir hom voorlê.
"Gaan voort," het die pastoor gesê.
"Die volgende een," het die barbier gesê, "is 'Amadis van Griekeland', en ek glo eintlik al dié aan hierdie kant is van dieselfde Amadis-geslag."
"Dan na die werf met die hele spul," het die pastoor gesê. "Want om koningin Pintiquiniestra en die herder Darinel en sy herdersgedigte, en die duiwelse, deurmekaar praatjies van sy skrywer te kan verbrand, sou ek die vader wat my verwek het saam met hulle verbrand, as hy in die gedaante van 'n dolende ridder rondgeloop het."
"Ek dink net so," het die barbier gesê.
"En ek ook," het die niggie bygevoeg.
"In dié geval," het die huishoudster gesê, "hier, na die werf met hulle!"
Hulle is aan haar oorhandig, en omdat daar so baie was, het sy haar die trappe gespaar en hulle sommer by die venster uitgegooi.
"Wie is daardie vaatjie daar?" het die pastoor gevra.
"Dit," het die barbier gesê, "is 'Don Olivante de Laura'."
"Die skrywer van daardie boek," het die pastoor gesê, "is dieselfde een wat 'Die Blomtuin' geskryf het, en eerlik, mens kan nie besluit watter een van die twee boeke die meer waarheidsgetroue is nie, of liewer, die minder leuenagtige. Al wat ek kan sê, is: stuur hierdie een na die werf as 'n windmaker en 'n gek."
"Die een wat volg, is 'Florismarte van Hircanië'," het die barbier gesê.
"Señor Florismarte hier?" het die pastoor gesê. "Dan moet hy, op my woord, sy intrek op die werf neem, ten spyte van sy wonderbaarlike geboorte en sy fantastiese avonture, want die styfheid en droogheid van sy styl verdien niks anders nie. Na die werf met hom en die ander een, mevrou die huishoudster."
"Met my hele hart, señor," het sy gesê, en die bevel met groot genot uitgevoer.
"Dit," het die barbier gesê, "is 'Die Ridder Platir'."
"Dis 'n ou boek, dié," het die pastoor gesê, "maar ek vind niks daarin wat genade verdien nie. Stuur hom agter die ander aan, sonder appèl." En so is gedoen.
Nog 'n boek is oopgemaak, en hulle het gesien dit heet "Die Ridder van die Kruis".
"Ter wille van die heilige naam wat hierdie boek dra," het die pastoor gesê, "kan sy onkunde dalk verskoon word. Maar soos hulle sê: 'Agter die kruis skuil die duiwel.' Die vuur in met hom."
Die barbier het nog 'n boek afgehaal en gesê: "Dit is 'Die Spieël van Ridderskap'."
"Ek ken sy Genade," het die pastoor gesê. "Dis waar Señor Reinaldos van Montalbán optree met sy vriende en makkers, groter diewe as Cacus, en die Twaalf Pare van Frankryk saam met die waarheidliewende geskiedskrywer Turpin. Ek is egter nie daarvoor om hulle tot meer as lewenslange verbanning te veroordeel nie, omdat hulle darem 'n aandeel het in die vindingrykheid van die beroemde Matteo Boiardo, waaruit ook die Christelike digter Ludovico Ariosto sy weefsel geweef het. Vir hom, as ek hom hier kry en hy praat enige taal behalwe sy eie, sal ek geen respek hoegenaamd betoon nie. Maar as hy sy eie taal praat, sal ek hom op my hoof dra."
"Wel, ek het hom in Italiaans," het die barbier gesê, "maar ek verstaan hom nie."
"Dit sou ook nie goed wees dat jy hom verstaan nie," het die pastoor gesê. "En op daardie punt kon ons die Kaptein verskoon het as hy hom nie na Spanje gebring en in Kastiliaans omgesit het nie. Hy het hom van 'n groot deel van sy natuurlike krag beroof, en so doen almal wat probeer om boeke wat in verse geskryf is in 'n ander taal oor te sit. Want met al die moeite wat hulle doen en al die slimheid wat hulle wys, kan hulle nooit die peil van die oorspronklikes bereik soos dit eers gemaak is nie. Kortom, ek sê dat hierdie boek, en almal wat ons kry wat oor daardie Franse sake handel, in 'n droë put gegooi of gebêre moet word totdat daar, na verdere oorweging, besluit word wat met hulle gedoen moet word. Altyd met uitsondering van 'n sekere 'Bernardo del Carpio' wat die rondte doen, en nog een wat 'Roncesvalles' heet. Want as dié in my hande kom, gaan hulle dadelik oor in dié van die huishoudster, en van hare in die vuur, sonder enige uitstel."
"Die Kaptein" is kaptein Jerónimo de Urrea, wat Ariosto se Italiaanse heldedig "Orlando Furioso" in 1549 in Spaanse verse vertaal het.
Met dit alles het die barbier saamgestem, en hy het dit as reg en behoorlik beskou, want hy was oortuig dat die pastoor so standvastig in die Geloof en so getrou aan die Waarheid was dat hy vir niks ter wêreld iets sou sê wat daarteen ingaan nie. Hy het nog 'n boek oopgemaak en gesien dit is "Palmerin de Oliva", en langs hom was nog een wat "Palmerin van Engeland" heet. Toe die lisensiaat dit sien, het hy gesê: "Laat die Olyf dadelik vuurmaakhout word en verbrand tot daar nie eens as oorbly nie. En laat daardie Palm van Engeland bewaar en beskerm word as iets wat eenkant staan, en laat daar vir hom so 'n kissie gemaak word soos dié wat Alexander tussen die buit van Darius gevind en opsy gesit het om die werke van die digter Homeros veilig te bewaar. Hierdie boek, my vriend, het gesag om twee redes: eerstens omdat hy baie goed is, en tweedens omdat daar gesê word dat 'n wyse en geestige koning van Portugal hom geskryf het. Al die avonture by die kasteel van Miraguarda is uitstekend en meesterlik uitgedink, en die taal is gepoleer en helder, en let met fyngevoel en oordeel op die styl wat by elke spreker pas. Dus, as jy daarmee saamstem, Meester Nicolás, sê ek dat hierdie een en 'Amadis van Gallië' die straf van die vuur kwytgeskeld word, en wat al die res betref, laat hulle omkom sonder verdere vrae of navrae."
"Nee, my vriend," het die barbier gesê, "want dié wat ek hier het, is die beroemde 'Don Belianis'."
"Wel," het die pastoor gesê, "hy en die tweede, derde en vierde dele het almal 'n bietjie rabarber nodig om hul oormaat gal uit te dryf. Al daardie gedoente oor die Kasteel van Roem en ander nog groter aanstellerighede moet uitgehaal word. Laat hulle daarom die oorsese uitstel kry, en na gelang hulle hulle verbeter, sal genade of geregtigheid aan hulle toegemeet word. En intussen, my vriend, hou jy hulle in jou huis en laat niemand hulle lees nie."
Die "oorsese uitstel" was 'n regsterm: iemand wat oor die see was, het ekstra tyd gekry om voor die hof te verskyn.
"Met my hele hart," het die barbier gesê. En omdat hy nie lus gehad het om hom moeg te lees aan nog ridderboeke nie, het hy vir die huishoudster gesê om al die groot boeke te vat en op die werf te gooi. Dit was nie aan 'n dowe of 'n domkop gesê nie, maar aan iemand wat dit meer geniet het om hulle te verbrand as om die breedste en fynste lap te weef wat daar kan wees. Sy het omtrent agt op 'n slag gegryp en hulle by die venster uitgegooi.
Omdat sy so baie op een slag gedra het, het sy een voor die barbier se voete laat val. Hy het dit opgetel, nuuskierig om te weet wie se boek dit was, en gesien daar staan: "Geskiedenis van die Beroemde Ridder Tirante el Blanco".
"Allemagtig!" het die pastoor uitgeroep. "'Tirante el Blanco' hier! Gee hom hier, my vriend, want ek reken ek het hierin 'n skatkis van genot en 'n goudmyn van vermaak gevind. Hier is Don Kyrieleison van Montalbán, 'n dapper ridder, en sy broer Tomás van Montalbán, en die ridder Fonseca, met die geveg wat die dapper Tirante teen die bulhond gevoer het, en die geestighede van die jongedame Placerdemivida, en die liefdes en liste van die weduwee Reposada, en die keiserin wat verlief is op die skildknaap Hipólito. Regtig, my vriend, as dit by styl kom, is dit die beste boek in die wêreld. Hier eet en slaap die ridders, en sterf hulle in hul beddens, en maak hulle hul testamente voordat hulle doodgaan, en nog baie meer waarvan daar in al die ander boeke niks te vinde is nie. Nietemin sê ek dat die man wat dit geskryf het, omdat hy doelbewus sulke dwaashede opgestel het, verdien om lewenslank na die galeie gestuur te word. Vat dit saam huis toe en lees dit, dan sal jy sien dat wat ek gesê het, waar is."
"Placerdemivida" beteken "Plesier-van-my-lewe" en "Reposada" beteken "die Rustige". Op die galeie moes veroordeelde misdadigers roei.
"Soos jy wil," het die barbier gesê, "maar wat moet ons doen met hierdie klein boekies wat oorbly?"
"Dié is seker nie ridderverhale nie, maar poësie," het die pastoor gesê. Hy het een oopgemaak en gesien dit is die "Diana" van Jorge de Montemayor, en omdat hy aangeneem het dat al die ander van dieselfde soort was, het hy gesê: "Dié verdien nie om soos die ander verbrand te word nie, want hulle doen nie, en kan ook nie, die kwaad doen wat die ridderboeke gedoen het nie. Dit is boeke vir vermaak wat niemand skade aandoen nie."
"Ag, señor!" het die niggie gesê. "U Genade moet liewer beveel dat hierdie ook saam met die ander verbrand word. Want dit sal geen wonder wees as my oom, nadat hy van sy ridderkwaal genees is, deur hierdie boeke te lees, die gedagte kry om 'n herder te word en deur die bosse en velde te swerf, al singende en fluitspelende. Of, wat nog erger sou wees, om 'n digter te word, wat glo 'n ongeneeslike en aansteeklike siekte is."
"Die jongedame is reg," het die pastoor gesê, "en dit sal goed wees om hierdie struikelblok en versoeking uit ons vriend se pad te verwyder. Kom ons begin dan met die 'Diana' van Montemayor. Ek is van mening dat dit nie verbrand moet word nie, maar dat al daardie stories oor die wyse Felicia en die towerwater uitgehaal moet word, en ook byna al die langer gedigte. Laat dit gerus sy prosa behou, en die eer om die eerste van sy soort te wees."
"Die een wat volg," het die barbier gesê, "is die 'Diana' met die titel 'Tweede Deel, deur die Salamankaan', en hierdie ander een het dieselfde titel, en sy skrywer is Gil Polo."
"Wat dié van die Salamankaan betref," het die pastoor geantwoord, "laat hom die getal van die veroordeeldes op die werf gaan aanvul. En laat Gil Polo s'n bewaar word asof dit van Apollo self kom. Maar gaan aan, my vriend, en maak gou, want dit word laat."
"Hierdie boek," het die barbier gesê en nog een oopgemaak, "is die tien boeke van 'Die Fortuin van die Liefde', geskryf deur Antonio de Lofraso, 'n digter van Sardinië."
"By die wyding wat ek ontvang het," het die pastoor gesê, "sedert Apollo Apollo is, en die Muse Muse, en digters digters, is daar nog nooit so 'n snaakse en absurde boek soos hierdie geskryf nie. Op sy manier is dit die beste en mees besondere van al die boeke van hierdie soort wat tot dusver verskyn het, en wie dit nie gelees het nie, kan seker wees dat hy nog nooit iets heerliks gelees het nie. Gee hom hier, my vriend, want dat ek hom gevind het, is vir my meer werd as 'n priesterkleed van Florentynse stof."
Hy het dit met uiterste tevredenheid eenkant gesit, en die barbier het voortgegaan: "Die volgende is 'Die Herder van Iberië', 'Die Nimfe van Henares' en 'Die Ontnugtering van Jaloesie'."
"Dan hoef ons niks anders te doen nie," het die pastoor gesê, "as om hulle aan die wêreldlike arm van die huishoudster oor te gee. En moenie my vra hoekom nie, of ons sal nooit klaarkry nie."
Die Inkwisisie het self niemand tereggestel nie, maar veroordeeldes aan "die wêreldlike arm", die burgerlike gesag, oorgegee om die vonnis uit te voer.
"Die volgende is 'Die Herder van Fílida'."
"Dis geen herder dié nie," het die pastoor gesê, "maar 'n hoogs beskaafde hofman. Laat hom bewaar word soos 'n kosbare juweel."
"Hierdie groot een hier," het die barbier gesê, "heet 'Skatkis van Verskeie Gedigte'."
"As daar nie so baie van hulle was nie," het die pastoor gesê, "sou mens hulle meer geniet het. Hierdie boek moet uitgedun en skoongemaak word van sekere platvloerse dinge wat hy saam met sy voortreflikhede het. Laat hom bewaar word, omdat die skrywer 'n vriend van my is, en uit respek vir ander, meer heldhaftige en verhewe werke wat hy geskryf het."
"Dit," het die barbier voortgegaan, "is die 'Cancionero' van López Maldonado."
"Die skrywer van daardie boek," het die pastoor gesê, "is ook 'n groot vriend van my, en sy verse uit sy eie mond is die bewondering van almal wat dit hoor, want sy stem is so soet dat hy almal betower wanneer hy dit voorsing. Dit gee 'n bietjie te veel herdersgedigte, maar wat goed is, was nog nooit volop nie. Laat dit gehou word saam met dié wat eenkant gesit is. Maar watter boek is dié langs hom?"
"Die 'Galatea' van Miguel de Cervantes," het die barbier gesê.
"Daardie Cervantes is al baie jare 'n groot vriend van my, en sover ek weet, het hy meer ondervinding van rampe as van rympies. Sy boek het 'n paar goeie vondste, dit begin met iets maar bring niks tot 'n einde nie. Ons sal moet wag vir die Tweede Deel wat dit belowe. Miskien kan dit met verbetering die volle mate van guns verwerf wat dit nou ontsê word. En intussen, my vriend, hou jy hom toegesluit in jou eie huis."
Cervantes maak hier 'n grap oor homself: sy herdersroman "La Galatea" het in 1585 verskyn, en die belofte van 'n tweede deel is nooit nagekom nie.
"Baie goed," het die barbier gesê. "En hier kom drie saam: die 'Araucana' van Don Alonso de Ercilla, die 'Austriada' van Juan Rufo, regter van Córdoba, en die 'Montserrate' van Cristóbal de Virués, die digter van Valencia."
"Hierdie drie boeke," het die pastoor gesê, "is die beste wat in Kastiliaans in heldeverse geskryf is, en hulle kan hul man staan teen die beroemdstes van Italië. Laat hulle bewaar word as die rykste skatte van poësie wat Spanje besit."
Die pastoor was moeg en wou nie na nog boeke kyk nie, en daarom het hy besluit dat al die res ongesiens verbrand moes word. Maar net toe het die barbier een oopgehou wat "Die Trane van Angelica" heet.
"Ek sou self trane gestort het," het die pastoor gesê toe hy die titel hoor, "as ek beveel het dat daardie boek verbrand word. Want sy skrywer was een van die beroemde digters van die wêreld, om nie eens van Spanje te praat nie, en sy vertaling van sommige van Ovidius se fabels was baie geslaag."
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…