Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 8

Die derde gedeelte (2)

Die derde gedeelte
RUITER:
[Kom nou met twee bekers koffie terug]:
My vader [Vir president]: drink maar hierdie beker. Bietjie bitter koffie. Baas Krisjan, hier is ok 'n beker, maar daar het nou net weer mense aangekom.
DE WET:
Dankie, Ruiter. Ek sal gaan kyk.
[Met 'n kopknik wys hy vir Ruiter dat dié vir president moet sorg – De Wet af]
PRESIDENT:
Ek het vir Pieter naby my gehou, as rapportryer. En nou's dit ek wat hom hierdeur die dood ingestuur het. Ek wou hom beskerm het...
RUITER:
Of stuur die Here vir ons die dood, Oubaas, as Hy besluit?
PRESIDENT:
Laat my nie verbitterd word nie. Laat my nie bitter en onmenslik word nie. Dit is die verskriklike las wat op óns gelê is. Ons, van almal in hierdie land, ons mag nie verbitterd en onmenslik word nie [Heftig]: Al die ander volke kan. Maar óns mag nie, óns mag nie.
RUITER:
Oubaas.
PRESIDENT:
[Vir homself]: En daar's nog altyd die ander ding, die aaklige ding waaroor ek moet besluit.
RUITER:
Aai, Oubaas, hier kom al weer mense saam met baas Krisjan. Dis seker groot nuus.
PRESIDENT:
[Moeg]: Laat hulle maar kom, Ruiter, en loop jy maar eers.
[De Wet met 'n generaal uit Transvaal en dié se adjudante op. Ruiter af]
PRESIDENT:
Dis groot dinge, sien ek. Welkom, Transvaler, Generaal.
[Hartlike groetery]
TRANSVAALSE GENERAAL:
President, groete van ons regering.
PRESIDENT:
Mense, maar ek hoor mooi goed van julle daar in Transvaal! Botha, De la Rey, Beyers, dit gaan van krag tot krag.
TRANSVAALSE GENERAAL:
President, ek moet 'n ernstige saak met u bespreek. Die regering het my afgevaardig.
PRESIDENT:
Ja?
TRANSVAALSE GENERAAL:
Ek moet aan u voorstel dat die twee republikeinse regerings vir lord Kitchener nader om oor vrede te onderhandel.
PRESIDENT:
Ek weet daar is al, en sonder my, onderhandel.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Net voorlopig darem, President.
DE WET:
En tog! En agter ons rug.
PRESIDENT:
Vriende, laat ons rustig hoor.
TRANSVAALSE GENERAAL:
President, ons offisiere voel byna eenparig...
DE WET:
Darem net "byna"...
TRANSVAALSE GENERAAL:
Byna eenparig dat die bitter einde van hierdie oorlog gekom het.
DE WET:
Nóú? Nou dat De la Rey en die ander die vyand opkeil, nóú! Ons het nog twintigduisend man in die veld, en nou sonder drosters en hensoppers. Taai, dapper, goed geoefende manne. Nou dat ons geleer het om in te storm op die vyand, uit die saal skiet – nie meer net lê en verdedig nie. Nou!
TRANSVAALSE GENERAAL:
President, u moet my laat praat.
PRESIDENT:
Dit moet.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Die generaal praat die waarheid. Ons manne is goed, beter as ooit. Maar hulle is gedaan. Baie van ons het nie 'n perd nie, moet te voet veg en vlug. En die perde wat daar is, is net so gedaan. President, daar is kommando's waar die mense in flenters is, sonder skoene – daar's dae wat hulle geen kos het nie.
En dan, President, wat van ons volk en van ons kinders... dié wat in die kampe kwyn, of erger: dié wat verwilderd rondtrek voor die vyand en die swartes.
Hóé moet hierdie oorlog 'n einde kry? As die laaste burger dood is of gevang? Of nou, terwyl ons nog iets van ons volk kan red.
President, ek móét dit sê: Ons volk het in hierdie oorlog, en gelei veral deur u en deur De Wet, iets groots gedoen wat die wêreld verbaas het. Van hierdie oorlog sal die wêreld nooit vergeet nie!
PRESIDENT:
Die wêreld vergeet deesdae spoedig. Dis óns wat vir die onthou sal moet sorg.
Maar, Generaal, ek moet hoor wat u regering voorstel...
TRANSVAALSE GENERAAL:
Van Kitchener het ons so te sê te verstaan gekry – ja, eintlik meer as wat ons op gehoop het: Amnestie vir alle oorlogsdade, albei tale in die skole – wat by u so 'n groot saak is. En Kitchener wil vir Milner so veel moontlik buite hou...
PRESIDENT:
Die hoofsaak noem u nie: ons onafhanklikheid.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Dié, vrees ek, sal ons moet verloor... Kitchener hou vas aan die anneksasie.
DE WET:
Dus, ons ís al Britse burgers en rebelle teen "ons koning". Maar waarom na al die punte luister, as die hoofpunt nie eerste kom nie. Ons veg vir ons vryheid – en alles anders kan verloor word.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Kitchener beloof feitlik self-regering oor 'n paar jaar.
DE WET:
Vryheid met 'n kniehalter!
TRANSVAALSE GENERAAL:
President, ek glo aan die gewete van die wêreld.
PRESIDENT:
[Sit sy hand op skouer van generaal]: Ek is ouer as u. [Hy draai weg] Die wêreldgewete is 'n hoer. Dit kan gekoop word. En óns koop nié!
TRANSVAALSE GENERAAL:
Maar die reg, dit moet uiteindelik triomfeer.
PRESIDENT:
Die "reg", die "reg"? – onthou vir Golgotha. [Pouse] En nog dit: wat van ons Kaapse broers?
TRANSVAALSE GENERAAL:
Kitchener wil alles afskryf en vergeet; maar... Milner is moeilik.
DE WET:
Dus: ons gee nie net oor nie, maar verraai ons broers! Skande op so 'n voorstel!
TRANSVAALSE GENERAAL:
Ons moenie hier met gevoelens speel nie. Dis dodelike erns. Ons moet ons volk red: wat oorbly van ons volk. Dis nie nou hensoppers wat praat nie...
DE WET:
Nog nie...
PRESIDENT:
[Kragtig]: Generaals! Ek pleit nie, ek bevéél dat hierdie gestry moet ophou.
Wat ook al gebeur, hierdie oorlog mag nie in tweedrag eindig nie; dan is ons verlore.
En nou, Generaal, noudat ek alles weet, gee ek u my antwoord. Gaan sê vir u waarnemende president: oor afstaan van die onafhanklikheid kan nie gepraat word of besluit word nie; nié deur my of my regering, of deur u regering nie; nié deur rade of krygsrade of offisiere nie. Alleen die volk self kan daaroor besluit... die volk, die paar tienduisend burgers wat nog in die veld is, wat na twee jaar nog nie die nek gebuig het nie. Na hulle toe sal ek gaan. Húlle moet sê of hulle wil oorgee of veg.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Ek is bevrees dat ons volk se leiers hulle invloed by die volk gaan verloor as ons nie nou vrede maak nie.
PRESIDENT:
Invloed by die volk? Wie gaan léiers wees as ons oorgee? Ons gaan 'n báás hê: Milner en sy soort.
Maar ek wil praat: liewer as om 'n ooreenkoms te maak met Kitchener – 'n plegtige verdrag onderteken waar ons as eerbare manne ons by moet hou – dan sal ek, as die oormag te groot word en ons getroues te min, liewer ons wapens breek en neersmyt en vir die vyand sê: vat my.
Ek sal vir die vyand sê: Het jy nou dood-geslaan en ook in besit geneem?
Maar dan sal ons deur geen eed gebind wees nie.
En as ons dag kom! As ons dag kom... dan is ons vry!
Maar ook dít sal ek sê: as my hele volk oorgee en ek alleen tussen hulle en hulle vrede staan – ook dán sal hierdie hande niks teken nie. Hulle sal my soos 'n gevrekte skaap moet wegsleep.
TRANSVAALSE GENERAAL:
Is dit u antwoord?
PRESIDENT:
[Draai weg]: Ek groet u môre. [Vir De Wet]: Laat daar gesorg word vir ons hoë gas en sy manne.
DE WET:
Dit is reeds gereël.
[De Wet begelei die Transvaalse generaal na die end van die verhoog en maak 'n gebaar asof hy hulle daar in die sorg van ander manne laat. Transvalers af. De Wet kom stadig terug na president]
PRESIDENT:
Dis bitter, Krisjan. Eers het ons moeilikheid gehad net met ons swakkes.
Nou is dit die bestes wat begin twyfel. Die bestes. Die uitgesoektes.
En as hulle tog gaan oorgee, gaan vrede maak, nou of oor drie maande of oor drie jaar, hoe kan ek die ding doen wat ek vandag nog moet besluit?
DE WET:
Die bekragtiging van die doodvonnis oor ou Visser?
PRESIDENT:
Dit. Hoe sal ek 'n man kan laat straf omdat hy net vroeër as ons bestes aan oorgee gedink het? Hoe kan ek?
DE WET:
President, ék kan nooit vrede maak sonder ons onafhanklikheid nie. Nooit... nooit.
PRESIDENT:
Dankie. Ek weet. En Krisjan, ék is met 'n duur eed gebind.
[Ou Vrou en Anna op soos na 'n lang reis. Die ontmoeting tussen die vier moet stil, maar innig wees]
PRESIDENT:
[Vir Anna, sit sy arms om haar. Sy maak haar met effens stroewe gebaar los]: My kind. My kind.
OU VROU:
President. Theunis.
Ek kom nie verskonings maak nie.
Met praat kan ek niks mooi maak
waar alles sleg en gemeen geword het nie.
Ek het my huis sien skeur, stadig,
maar onkeerbaar, soos ons volk geskeur het,
– in troues en ontroues (of koppiger en verstandiger)
ek wil nie eers meer weet nie –
En oor my seun wil ek skaars praat.
PRESIDENT:
Hy was een van ons bestes, dapperstes.
DE WET:
[Vir Ou Vrou]: Annie, al is dit jy wat dit hoor, as ek hom kry, die oorloper, skiet ek hom met hierdie hand dood.
OU VROU:
Wat jy moet doen, dit moet jy doen, mét jou gewete.
DE WET:
Weet jy dit is die scouts wat aan die vyand die raad gegee het: brand af die plase, ja die vee weg, sit die vroue en kinders in die kampe – "dit is die manier om die Boere in die hart te raak; roei vinnig uit, roei uit, roei uit."... Dit was die raad van die verraaiers: "Die Boer se hart is maar klein; dis dié dat hy nie eers sy eie oorlopers en verraaiers durf skiet nie: sy hart is te klein!"
Dis wat hulle sê.
Weet jy dit, vrou?
En weet jy dis...
PRESIDENT:
Krisjan, tog!
DE WET:
[Onkeerbaar]: En weet jy dis die Volunteers en Scouts wat vir die Engelse snags lei en ons oorval; húlle ken die wêreld hier nét soos ons, soos ons hand. Dis hulle wat vir ons maal; die kakie is maar die meulsteen! En weet jy: jou seun is van die ergste: hy spot en treiter as hy die plase help afbrand. Ek het rapporte dat hy sê: "Ons moet gou klaarspeel met hierdie bogoorloggie." Weet jy dit?
OU VROU:
Hy was nooit weer by my huis na hy oorgeloop het; ek nooit by hom nie. Ek weet nie of hy sy moeder ooit weer sal wil sien nie. En skaam is ek genoeg. [Sy draai na die president toe]
President, dis oor my man wat ek wil praat. U weet hy is gevang deur ons mense. Hy is deur die krygsraad veroordeel. Om geskiet te word as rebel en verraaier. Ek kan net vra: kan u nie genadig wees nie? Ek verstaan dat u elke swaar vonnis moet bekragtig.
PRESIDENT:
Vandat die vonnis uitgespreek is, loop ek met dié gedagte: ek sal moet besluit. Ek sal moet oordeel. Ek het probeer uitstel; ek hét uitgestel en probeer vergeet. En nou met u koms hier, dwíng die besluit, gryp hy my aan die bors en sê: Besluit! Besluit!
OU VROU:
Ek weet u is 'n mens van genade.
PRESIDENT:
As ek hom êrens kon wegstuur en hóú, as ek 'n eiland, 'n Sint Helena en Ceylon besit het... maar as ek hom los, sal hy gaan stilsit? Sal hy ophou met sy verraad?
OU VROU:
Al wat ek kan antwoord is: genade!
Moenie vir my vra nie. Moet dit nie vra nie. Maar hy's my man, die vader van my kinders.
PRESIDENT:
Sou jy hom nie tuis en stil kon hou nie?
OU VROU:
Ja, ja, ek sal. Ek belowe.
PRESIDENT:
[Vir Anna]: Glo jy dit? Jy't ook deur diep waters gegaan, kind. Kan jy vir my 'n woord van genade sê, my kind? Ek het genade nodig.
ANNA:
[Stroef]: Ek is die suster van so 'n broer, President, en die dogter van so 'n vader; ek ken ons soort. En in die konsentrasiekamp het ek ook baie van ons soort gesien: Boer, pure Boer.
PRESIDENT:
In die kamp, jy?
ANNA:
Ja, President, met 'n vader in die Committee en 'n broer as Volunteer, was alle deure vir my oop: kampsuster wat kan kom en gaan, en nou weer 'n pas om met 'n vooraanstaande dame 'n ander dorp te besoek. Ons is nou éérs gerekende mense in Bloemfontein.
PRESIDENT:
My kind, so jonk en al so bitter! Hoe gaan dít ooit uit ons volk kom?
ANNA:
Maar u het vir my iets gevra: of my vader stil by die huis sal gaan sit as u hom vrylaat.
Nee, President, só is hy nie. Só is ons Boere-vroue ook in die kamp. Hulle loop in flenterklere, hulle kan sterwe van koue, of brand in die son, hulle kinders gaan dood, hulle self: dis net dood, dood. Maar, President, ek het nog nooit 'n vrou hoor sê nie: "Gee oor." Nie één nie! Liewer breek as buie. So is ons soort: jy, oom Theunis, ek – en so is my vader aan sý kant.
En nou... my broer, verneem ek...
PRESIDENT:
Dis skraal genade wat jy gee, Anna.
ANNA:
Dis ál genade.
OU VROU:
[Vir Steyn]: Theunis, jy sal nog 'n bietjie wag asseblief, nie nou al besluit nie.
Ek moes nie gekom het nie; U dra al genoeg laste.
[Vir Anna]: Kom, ons slaap vanaand op Brandfort by tant Poppie. Theunis, sorg tog vir jou; laat mense toe om vir jou te sorg. Jy lyk uitgeput en oud. Vergewe dat ek gekom het.
PRESIDENT:
Voor julle gaan [Vir Anna]: ek wens ek kon vir jou iets sê hoe ek voel oor Pieter. Hy was... hy...
ANNA:
Moenie oor hom praat nie. Nie u nie, nie my moeder nie, niemand nie. Vir hom en vir my was daar nooit tyd in hierdie oorlog om eers te praat nie. Laat ons nie nou oor hom praat nie.
[Anna vinnig om en af. Ou Vrou groet en af]
DE WET:
Almal, ons almal, sweer as't ware saam, President, om u áf te breek met smarte: ons pak ons eie bý die wat u self het.
PRESIDENT:
[Glimlag]: Aag, Krisjan, ek voel eerder soos 'n vet ou koningin-by wat jy moet oppas en beskerm en met moeite saampiekel.
DE WET:
Vet!
PRESIDENT:
[Ernstig]: Die naarste is dít, Generaal, die oorlog maak ons almal stadig giftig, bitter en giftig, harder en dalk onmensliker. Hoeveel geslagte gaan dit duur om hierdie bitterheid uit ons land te laat verdwyn. Hoeveel geslagte! Maar dié meisie het my die genade gegee om te besluit. Sy het besluit.
Sy het besluit tot die hardste.
En ek sal besluit tot die hardste.
Ek sal die vonnis vir Visser bekragtig –
Wees my genadig, Here.
En, Krisjan, soos ek gesê het, ek is met 'n duur eed gebind: Voor Maersfontein het twee jong burgers na my toe gekom en gevra: "President, ons is bly ons gaan veg. Maar as ons doodgeskiet word, hoe weet ons julle gaan nie bo-oor ons grafte oorgee nie – en ons Vrystaat sy vryheid verloor?"
En ek het belowe: Hierdie hand van my sal nooit 'n vrede onderteken wat die onafhanklikheid van die Vrystaat weggee nie.
En hulle het gesê: "Dankie, President."
[Pouse]
Hulle het albei kort daarna gesneuwel.
Ek is met 'n duur eed gebind, Krisjan.
En ek het vir duisende ander burgers gevra om te gaan veg – wat ook al dood is.
Ek het my met 'n duur eed gebind.
Ek is gebind aan al ons dooies onder die aarde.
Dít sal ek antwoord aan dié wat wil oorgee.
Vergewe my, maar ek moet eers alleen wees. [De Wet af]
Daar's klaar vir my besluit. En ek aanvaar die verantwoordelikheid.
[Die president staan moeisaam op en soos hy vorentoe kom, struikel hy en val. Hy stut hom met moeite op sy elmboë. Ruiter kom ingehardloop]
RUITER:
Aai, Oubaas tog! [Hy kniel by Steyn]
PRESIDENT:
Hulle sal my soos 'n gevrekte skaap moet wegsleep.
[Vir homself]: Nie eers 'n offerlam nie, maar hierdie hand sal nooit... nooit...
[Sy linkerhand en sy hele lyf is verlam]
RUITER:
My oubaas, ai, my oubaas...
📖

Einde van die Boek

Dankie dat jy Die pluimsaad waai ver of Bitter begin gelees het.

📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…