5
IV.-DIE JAG VAN RAKA
OOR 'n groen poel wat stil en dik was van die bronslaai en die warm slik het Raka op die lou voormiddag geleun om soos 'n bees te drink, en lui gesteun van genot, die swart hande diep ingegly in die meel-sagte wortels en die pappery wat deur sy vingers borrel; en, toe hy sat en swaar was van die suip, het hy in die koel gat sy lyf laat insak, afsak, en gevoel hoe die stink belle langs hom kruip en bo die poel [bl. 28] se dik room breek. Dít was sy gebied, hier waar die boomwortels in die droë riet en papkuil van die stroom se dooi bogte rank, en die hele warm dag die soet stank opstoom langs die rand van die woud. Dan het hy uit die water gestyg en die glimmende huid met 'n poot gestryk dat die druppels straal op die waterplante, en met lang hale oor die taai suiggrond na die bosse gestap. Soms het hy skielik met 'n blitsklap na 'n groen of 'n goud-blou tor gegryp wat oral pyl, en dit stukkend geknyp in die dor dop, afwesig en dom, en só uit sy vingers laat val; en dan stom, begriploos gestaar na 'n tros wit en suur wasblomme, groot soos hande en puur ster-vormig téén die donker glim van die eerste liane wat hier klim aan die voorste bome - en uit die tros 'n klomp wit kelke geskeur, en gelos C - [bl. 29] uit die swart poot. Sy gang was traag oor die week mos-waar die bessies laag aan die struike gesit het, wou hy skaars buk om die trosse uit die dorings af te ruk en stadig te kou tot die blou sap van die bek oor die bors in die blare tap – want die vrees wat elke dier sku en snel in die oerwoud maak, die 't hy nié geken, net die swaar drif. Toe 'n klein bosding, 'n vaal apie, lig uit die takke spring en oor die oop leegte en die blare pyl, half vrolik-verskrik, het die soet kwyl in sy mond vir Raka laat spring en vang: maar toe die slap diertjie in sy poot hang, het hy net gesnuiwe en dit sag laat val. In hierdie tussenland van woud en wal van die groot rivier, in die warm bog, het hy daglank in die poele gerol soos 'n log boomstam wat, verdrink en verrot,