Die Held
DIE HELD
ROLLE:
DR. RENÉ MÉNARD
KOLONEL VON OBERHORST
van die Duitse besettingsleër in Frankryk.
KAPTEIN MÜLLER
van die S.S.
JACQUES BAUDIER
Franse boer.
LOUIS GIROD
SOLDAAT
LUITENANT
JEANNE,
vrou van Girod.
SIPIER
STEM
van 'n tweede soldaat.
DOKTER AS VERTELLER: [Sy stem is dié van 'n ou man.]
My naam is Ménard, dr. René Ménard. Die name wat ek vir u noem, veral een bepaalde naam, is fiktief. Ek het hulle almal geken. . . só, soos 'n mens mense ken. Maar wat ek van dié een man gehoor het, het ek as dokter gehoor; en hoewel sy siekte 'n siekte was wat ek as gewone dorpsdokter niks aan kon doen nie - 'n siekte van ons land en van ons eeu, 'n siekte waaraan ons almal siek is - moet die geheim van sy naam met hom en saam met my sterf. En ek is oud...
Ek was vanmiddag by die jaarlikse huldiging van dié wat twintig jaar gelede vir ons vaderland, ons Frankryk, my Frankryk, in die Tweede Wêreld- oorlog gesterf het. . . Waarom huldig ons nog? Is dit om haat wakker te hou? Is dit om te onthou? Maar het ons dan vergeet? Of: Moet ons aanhou met huldig, elke jaar, elke dag, sodat ons ons eie hart kan ondersoek na wat die heldhaftigheid of die waan, die dwaasheid is.
Die vlag was halfstok. Daar was toesprake. Toe is die vlag in die top geruk . . . En, toe ons almal weer weggeloop het, het ek mense om my hoor praat hulle was jonk en onthou niks van ons ellendes nie en een het gesê: "Dit was alles avontuur-soek." En een het gesê: “Dis alles na- sionalisme" .. Ek wens ek kon vir hulle hierdie verhaal vertel het. Dit moes ongeveer só begin en verloop het:
Kolonel Von Oberhorst van die Besettingsmag -
7
selfs as teenstander moet ek erken dat hy 'n man van eer was; maar die kaptein van die S.A. onder hom, dié was van die nuwe soort. Ek stel my voor dat die kolonel hom só laat binneroep het op 'n middag. Maar ek weet ook nie . . . ek was maar gevangenisdokter daar. . .
[Klop aan deur.]
KOLONEL: Binne.
[Deur oop en toe.]
KAPTEIN: Goeiemiddag, kolonel Von Oberhorst.
[Die kolonel praat meestal langsaam, rustig; die kap- tein is kortaf, byna saaklik.]
KOLONEL: Middag, kaptein Müller. Ja, ek het u laat roep. Daar is 'n belangrike stuk werk vir vannag. En ek het ú daarvoor gekies.
KAPTEIN: Vereerd, Kolonel.
KOLONEL: Moenie staan nie, Kaptein. Die saak is dit: u is nog maar 'n kort rukkie in Frankryk – of altans hier in my distrik - maar u weet dat ons besettingsleër hier baie las het: die ondergrondse verset soos hulle dit noem . . . Nou die nag weer ons troepetrein.. In Mei die spoorwegbrug in die lug laat vlieg...
KAPTEIN: Ek weet, Kolonel. Daardie troepetrein ...104 dood... die hele leërkorps vertraag!
KOLONEL: Goed. Maar hier het ek informasie.. Dit sal ons in staat stel om ten minste in hierdie kom- mandantskap die kóp van die verset te breek. [Moeg.] Tydelik altans. [Sterker.] Ons het eindelik
8
iemand gekry om tot binne-in hulle beweging in te dring. Terloops, Kaptein: ek verstaan dit nie hoe iemand sy eie volk kan verraai nie.
KAPTEIN: [Lag effens verbaas.] Dis vir ons nuttig, Kolonel, as hulle so is!
KOLONEL: Maar goed. Op die oomblik kan hy nog nie veel vertel nie: hy ken nog feitlik net één van die leiers. Maar hy het dit reggekry om self 'n leier te word.
KAPTEIN: [Lag.] Ek begryp nie heeltemal nie. Maar
moet ek u gelukwens?
KOLONEL: Ons het hom een van die leiers laat word.
KAPTEIN: Pragtig.
KOLONEL: Die stuk spoor wat verlede week vernietig is... u onthou? Ons het hom dit laat doen.
KAPTEIN: Pragtig, Kolonel. En daarmee het hy 'n hele held by hulle geword? Ek verstaan.
KOLONEL: Daardeur kon hy kontak kry met die hoof van die verset in my distrik.
KAPTEIN: En hét ons dié?
KOLONEL: Nog nie. Vanaand, ja. En meer nog. Terloops, Kaptein; wil u dit glo: hierdie hoof. . . dis nie een van die voorste mense nie . . . dis nie 'n intellektueel, selfs nie 'n Kommunis nie. . . dis 'n boertjie, ene Baudier.
KAPTEIN: Kolonel, in my ondervinding is hulle die érgstes.
KOLONEL: Maar goed. Vannag om eenuur kom die leiers van die verset op die plaas van hierdie boer bymekaar. Ons man is ook genooi. Maar tussen
9
ons - hy's die soort wat weggehou moet word waar daar moeilikheid is.
KAPTEIN: Vereerd, Kolonel, dat u my vir hierdie werk wil gebruik.
KOLONEL: U neem veertig man netnou - die motors is gereed. U gaan na hierdie boer se plaas. Majoor Grebe sal vir u die kaart met die paaie en alles verskaf. Ons besit volledige informasie oor die ligging van die huis en buitegeboue. U neem die boer, Baudier, so, teen elfuur gevange. Dan wag u daar: binne of buite die gebou dit moet u self besluit volgens omstandighede - die vergadering is vir eenuur die nag belê. Wanneer die ander opdaag nou ja u vat hulle vas.
KAPTEIN: Moet ons nie liewer later gaan wanneer hulle almal daar is nie?
KOLONEL: Ek het dit oorweeg, Kaptein. Maar ek wil bowenal seker wees dat ons die bóér vang. Met 'n groot groep, en 'n skietery in die donker, kom party altyd weg.
KAPTEIN: Soos u beveel, Kolonel.
KOLONEL: U sal ná donker in die buurt moet aankom. Wag dus eers êrens. Maar nie te naby nie: ons beheer die telefoon, maar ons kan nie álle soorte boodskappe voorkeer nie.
KAPTEIN: Goed, Kolonel.
KOLONEL: U gaan praat dus nou met majoor Grebe en kry van hom alles wat ons weet.
KAPTEIN: Ja, Kolonel.
KOLONEL: Een ding wil ek darem vir u op die hart
10
druk, kaptein Müller. Probeer om almal wat daar by die huis kom, te vát. Moet nie sommer laat skiet nie - of ten minste nie laat dóódskiet nie. U moet begryp dat ons hier die kans het om die hele leiding van die verset in my distrik te vang. Natuurlik: as dit lyk of hulle wegkom, dan moet hulle liewer dóódgeskiet word. Maar anders nie. Sê dit uitdruklik vir u manskappe.
KAPTEIN: Ek begryp volkome hoe u voel, Kolonel.
[Saluut.] [Deur klap toe.]
KOLONEL: Tot siens, kaptein Müller. Voorspoed. [Moeg.] Party mense weet presies hoe alles is ..
en hoe 'n mens vóél . . .
[Geluid van militêre motors wat vertrek; dit sterf weg.]
[Windgeluid met reën. Voetstappe, baie sag. Die manne praat fluisterend.]
KAPTEIN: Dit loop mooi. Daar is die huis. En die lig brand net soos die teken was.
SOLDAAT: So 'n nag. Dis nét die nag vir hierdie werk.
KAPTEIN: Ja, niemand peuter buite rond in die reën nie. [Hard.] Goed. Gereed! [Harde geklop op 'n deur.]
SOLDAAT: Maak oop. Maak oop. Militêr.
[Geluid van deur wat hard oopgedruk word.]
KAPTEIN: Vat hom! Jou naam!
BOER: [Nors.] Baudier. Jacques Baudier.
KAPTEIN: Ek weet al. Wie nog meer is in hierdie huis?
11
BOER: Ek woon alleen.
KAPTEIN: Geen knegte nie?
BOER: Ek woon alleen.
KAPTEIN: Vroumense?
BOER: My vrou is dood. Deur julle!
KAPTEIN: Ek weet. . . Julle twee hou hom vas hier. En u, Luitenant, soek die huis deur: elke gaatjie. [Hakke klap. Voetstappe wat afmarsjeer.] Toe, Baudier: Jy verwag mense vanaand? [Swye.] Maar hemel, ek het lus en klap hom! Jy verwag mense, nè? Goed, jy hét mense gekry. Ons sal maar wag vir die ander. [Soldatevoetstappe nader.] Is die huis leeg?
SOLDAAT: Ja, Kaptein.
KAPTEIN: Oral? Is daar 'n kelder?
SOLDAAT: Ja, Kaptein.
KAPTEIN: Goed. Julle twee vat die boer kelder toe. Bind sy bek toe. En steek hom vrek as hy net kik wil sê, hoor!
O, daar is u, Luitenant. U en ek met hierdie ander vyf gaan sit in die kamer hier langsaan. Ons sal ten minste kan rook. Luitenant, sorg net eers dat die ligte brand, soos die tekens afgespreek is: lig in hierdie voorkamer en in die boonste kamer links
die kamer aan die suidekant. Wag, ek loop saam met u. Ons moet hierdie ding presies regkry. Julle ander: daar in die kamer langsaan! Toe ek en die luitenant kom.
[Voetstappe af wat stiller word totdat slegs die geruis van die reën en die wind hoorbaar is.
12
Na 'n taamlike pouse, begin alles in fluisterstemme.]
KAPTEIN: Die kolonel het gesê hulle kom om eenuur hier bymekaar. En dit is nou al oor twee.
LUITENANT: Sou die boer 'n teken kon gegee het?
KAPTEIN: Ek glo nie. En ons het die afgespreekte sinjale baie noukeurig gegee.
LUITENANT: Miskien is hulle uit die dorpie gewaarsku. Ons is tóg gesien, vanmiddag.
KAPTEIN: Hulle kon nie weet dat ons hierheen kom nie. Maar dit lyk tog of hulle iets geruik het. Ons wag dan maar tot dit lig word. Een het ons ten minste - die hoofleier. [Geluid van 'n deur wat oopgaan.] Sjuut! Die deur het oopgegaan...
SOLDAAT: Ja, hier naasaan.
[Stilte.]
KAPTEIN: Kom . . . voor hy iets merk. Dis een van hulle. ['n Deur word hard oopgeruk. Hulle hardloop almal. Voetstappe hard.] [Hard.] Staan! Jy's onder arres! Julle daar: Moenie skiet nie, eers! Vat hom! [Deur word hard oopgeruk en toegeslaan. Voetstappe wat weghol.] Hy's weg. Vang hom! Agterna! [Hy ruk deur oop.] [Skreeu.] Skiet! Skiet! Sersant! Julle daar buite: Skiet laag! Laag! Skiet! Laag! Maar skiet!
[Skote knal buite. Geroep buite.]
[Roep.] Het julle hom? Het julle hom?
STEM: [Buite.] Hy't geval, Kaptein.
KAPTEIN: Bring hom binne.
[Voetstappe nader. Gestommel van baie voete. Effens 'n gekreun.]
13
So. So. So. Hier's ons tweede man. Waar't hy die skoot?
STEM: Hier lyk dit my: bo die knie, Kaptein.
KAPTEIN: Nie erg nie. Maak oop, laat ek sien. Nêrens anders nie?
STEM: Nee, niks wat ek kan sien nie.
KAPTEIN: Mooi werk, manne. Net wat ons wou hê. Is die been gebreek?
[Gekreun.]
STEM: Dit voel my nie so nie, Kaptein.
KAPTEIN: Mooi. Bind dit 'n bietjie. En prop die gate. So. So. So. Hier't ons ten minste nóg een van die helde. . . Jou naam?
[Stilte.]
Jou naam! [Stilte.]
Jou naam!
LOUIS: Louis Girod.
KAPTEIN: Beroep?
LOUIS: [Aarselend.] Loodgieter.
KAPTEIN: En wat kom jy hier doen? Lood giet? Pype heelmaak? Ons het lood genoeg!
[Stilte.]
Maar jy is láát. Meer as 'n uur laat. Julle organisasie is maar swak, hoor. Hierdie soort werk moet op die minuut uitgevoer word. Nou, kêrels, ná hierdie geskiet sal niemand meer kom nie. Ons kan maar teruggaan. Julle, gaan haal die boer uit die kelder!
[Voetstappe af.]
14
Nie te sleg nie. Ten minste twee. En as ons met hulle 'n bietjie werk, sal ons wel die ander spore ook kry. Kom, laai hulle op die motors. En skiet hulle as hulle uit probeer spring. Ons gaan. [Voetstappe af, luidrugtig. Gedreun van militêre motors wat begin en dan wegdonder.]
[Stilte.]
LOUIS: [Dof, dan al harder, tot histerie toe.]: Ek weet nie. Ek weet nie. Ek weet nie. [Ad lib.] Ek sal nie sê nie. Ek sal nie. Ek sal nie.
[Geluid van 'n paar harde houe word gehoor.]
KAPTEIN: Wie is die ander! Wie is die ander! Gee hom méér, Sersant! Die name! Die name! [Weer geluid van houe.]
LOUIS. Ek sal nie. Ek sal nie. [Dowwe gekreun.]
KAPTEIN: Ons sal dit uit jou uithaal! Wag, Sersant: hy's flou. Laat hom eers weer bykom. Gooi water oor hom.
KAPTEIN: Die boer, Baudier, is glo net so koppig.
SOLDAAT: Die goed is taai, nè, Kaptein?
[Stilte.]
LOUIS: [Kreun]: Nee. Nee. Nee.
[Deur gaan oop.]
KAPTEIN EN SOLDAAT: Kolonel. [Hulle staan verskrik.]
KOLONEL: Ek verneem dat u twee gevang het.
KAPTEIN: Ja, Kolonel. Die boer, Baudier, die leier. En hierdie vent . . . Louis Girod. Loodgieter, sê
15
hy. Hy't 'n uur laat opgedaag. Die ander moes van ons te hore gekom het. Die boer word deur majoor Grebe ondervra. Maar hulle weier albei om die ander lede van die groep se name te sê.
KOLONEL: Kaptein Müller! Ek sien hierdie man is gewond! Was daar al 'n dokter by hom?
KAPTEIN: Kolonel, ons het net 'n kwartier gelede hier aangekom.
KOLONEL: Is hy mishandel? [Swye.] Kaptein Müller! Sersant Dahlmeyer! Ek weet in hierdie oorlog het daar nuwe soort vuil streke in ons leer ingekom. Maar waar ek in bevel is, en so lank as ek in bevel is, sal daar gehandel word stip volgens die oorlogsreglement. [Sag.] En volgens die gewete van 'n offisier.
KAPTEIN: Kolonel Von Oberhorst, ek sal verslag moet doen.
KOLONEL: U kán verslag doen, S.S.-kaptein Müller. En aan wie u wil, of moet. Laat hierdie man na die siekekamer neem. En laat die gevangenisdokter kom.
KAPTEIN: Kolonel, ek voel dit is my plig om u te waarsku: die dokter is ook 'n Fransman. Ek vertrou geeneen van hulle.
KOLONEL: Hy is amptelik die gevangenisdokter in my kommandantskap. Hy't my sy erewoord gegee dat hy hom alleen met mediese aangeleenthede sal besig hou. Kaptein Müller, u sorg dat die wag om die gevangenis verdubbel word. Sodra die dokter verklaar dat die gevangene medies geskik is, sal ek
16
self die ondersoek lei. En goeienag, S.S.-kaptein.
[Deur oop en toe.]
SIPIER: Stap maar binne, Dokter. Die gevangene, Girod. Skietwond. [Deur swaar toe.]
DOKTER: [Sy stem is baie jare jonger as in die "proloog".]
Toe, toe, ou kêrel. Laat ons kyk. Hm. Hm. Wag. Ons sny sommer alles af. [Lag.] Nie die been nie, jong: die broekspyp!
Aag man, dis 'n perdebysteek: 'n mooi skoon wondjie. Nie 'n splinter nie. Mooi deur die spier. Hou nou: dit brand, maar dit maak skoon. Jong, meer as een soldaat bid saans om so 'n mooi klein wondjie: huis toe, en held vir die res van jou lewe. Iets om vir die kleinkinders te wys. Jong, sê my, waar het ek jou tevore gesien? Jou gesig is mos bekend.
LOUIS: Ek ken u nie, Dokter. U kan my nie ken nie.
DOKTER: Nou, 'n dokter kruip ook so oral in en sien ook so baie dinge. Weet jy, hier in die distrik loop mense rond wat ek die buik van ken, en dan het ek die gesig al vergeet. [Lag.]
Hou nou, dit gaan nou 'n bietjie seer wees. Maar jy kan mos hou, nè? [Sag.] Anders was jy nie hier nie, maar tuis by vroutjie in die bed, nè?
Nou die verbande [Sag.] Ek wil nie weet waarom jy hier is nie. Ek dokter maar na albei kante toe. die slegtes en die goeies. En, die Vader weet wie is goed en wie is sleg; hulle het
17
weerskante toe hulp nodig; en sommer baie hulp ook . . . en, as ek dit so mag uitdruk, baie genade nodig, albei kante.
Jong, oor 'n week sal jy hierdie plekkies krap, want hulle sal jeuk van gesondheid. Hoe oud is jy? LOUIS: Een-en-dertig, Dokter.
DOKTER: Dag ek skaars. Ek sou geskat het: vyf-en- dertig. A ja, jong vleis word gou gesond. As ek so
iets kry: ses weke op die minste . . . Goed dis klaar . . . Jy moet probeer slaap. Hier is iets daarvoor.
LOUIS: Slaap!
DOKTER: Man, as ek jou so staan en kyk, sweer ek ek ken jou.
LOUIS: Nee, Dokter.
DOKTER: My ou kop, ja . . . '14-'18 te veel belewe, hè? Getroud?
LOUIS: Ja.
DOKTER: Kinders?
LOUIS: Twee. Ses en ag jaar.
DOKTER: Jammer. [Skielik waardig en militêr, sag.] Voor ek loop, Girod: in die naam van Frankryk, ek salueer jou. [Sag dringend.] Wees sterk. Nag.
LOUIS: Nag, Dokter. Dankie, Dokter.
DOKTER: Ja . . . waar's jou deur se klokkie ook weer. 'n Mens moet mos hier 'n klokkie druk om uit te kom, hè. O ja, hier sit hy.
[Klokkie lui 'n paar keer. Die deur gaan swaar oop.]
SIPIER: Goed, Dokter. Oppas vir die drumpel.
[Deur slaan toe.]
18
[Geluid van Louis se harde snikke wat wegsterf.]
LOUIS: [Al sagter.]'n Held! 'n Held! 'n Held! 'n Held!
DOKTER AS VERTELLER: [Sy stem is dié van 'n ou man.] 'n Week later was hy gesond. Toe die krygsraad. [Doof uit.]
LUITENANT: Aandag! Presenteer!
[Militêre geluide.]
KOLONEL: Goeiemôre, here. Ons kan begin.
Ek verklaar dit hier, volgens die Oorlogsreglement, artikel 135, 'n krygsraad te velde. Majoor Grebe sal die verrigting notuleer.
Laat die gevangene, Louis Girod, binnegebring word.
U het die mediese verslag, Majoor?
Goed. Dan kan ons begin.
[Militêre geluide as Girod binnegebring word.] Jy heet Girod... Louis Girod?
LOUIS: Ja.
KOLONEL: Girod, erken jy dat jy aan die sogenaamde ondergrondse verset deelgeneem het?
LOUIS: Ja.
KOLONEL: Dat jy dade gepleeg het in stryd met die artikels van oorgawe, waardeur jy stipte gehoorsaamheid aan die besettende moondheid verskuldig is? LOUIS: Ja.
KOLONEL: [Sag, vir die lede van die krygsraad.] Is die
19
verstandelike ontwikkeling van die man genoeg om hierdie vrae te begryp?
KAPTEIN: [Hardop.] Maak dit saak, Kolonel?
KOLONEL: [Nog sag.] Dit maak saak, S.S.-kaptein Müller. [Hardop.] Girod, erken jy dat jy 'n onreg- matige daad van verset teen die besettingsleër in hierdie distrik gepleeg het?
LOUIS: Ja.
KOLONEL: [Effens mismoedig.] Menere van die krygsraad, daar is byna niks meer te doen nie. Dis duidelik.
KAPTEIN: Kolonel Von Oberhorst, ons móét van hom die name van die ander lede van die bende kry. KOLONEL: Ja, S.S.-kaptein Müller. Maar dit is iets anders. Girod, besef jy wat jy hier vrywillig erken het? Besef jy die vonnis wat gevel moet word?
LOUIS: Ja.
KOLONEL: En nou: wie was jou medepligtiges?
Wie het saam met jou in hierdie saak gewerk?
[Swye.]
Wie was jou medepligtiges? Wie het saam met jou in hierdie saak gewerk?
[Swye.]
Wie was saam met jou in hierdie ding?
[Swye.]
As jy die name van jou medepligtiges noem - van die ander dan sal ek dit op my neem om die — doodstraf in gevangenisstraf te laat omsit.
[Swye.]
20
[Sag.]
Girod . . . dit is tog beter vir jou as jy praat.
[Swye.]
KAPTEIN: Kolonel, ek versoek dat die gevangene teenoor die tweede gevangene, die boer Baudier, gestel word.
KOLONEL: [Sag.] Ek glo nie dat dit veel sin het nie. Maar dit is wettig. [Hardop.] Laat die gevangene, Baudier, binnegebring word.
[Voetstappe af.]
Intussen: luister, Girod, is jy gewillig om aan die hof een bepaalde daad van verset te noem waaraan jy deelgeneem het?
[Swye.]
[Byna mismoedig.] Die dade . . . dié is self almal aan ons bekend. . . Girod.
[Swye.]
[Sagter.] Menere van die krygsraad! Dit voel my gedurig asof ons hier met 'n besondere geval te doen het. Het ons hier nie die abnormale tipe wat martelaar wil speel nie?
KAPTEIN: Maar die hof het 'n duidelike skulderkenning!
KOLONEL: [Moedeloos.] Já. . . S.S.-kaptein. . . maar 'n skulderkenning. . van watter soort? [Fluister bitsig.] Ek wil byna voorstel, S.S.-kaptein, dat u 'n bietjie teologie lees.
KAPTEIN: En die hof het ten minste dit, Kolonel: dat ons weet dat hy 'n verbode vergadering bygewoon het waarvan ons alle besonderhede besit - en 'n
21
vergadering belê deur die hoof van die verset.
KOLONEL: Ja, en daar het hy as enigste opgedaag. En meer as 'n uur laat – volgens ú verslag, Kaptein. Dit is al wat ons van dié vergadering weet. Maar hier kom die boer Baudier.
[Voetstappe en militêre geluide.]
Baudier, ken jy hierdie man? Louis Girod?
BOER: [Nors, vyandig.] Ek het hom nooit gesien nie.
KOLONEL: Girod, ken jy hierdie man, Jacques Baudier?
[Swye.]
KAPTEIN: Daar het u dit, Kolonel. Só hou hulle hulle bekke.
KOLONEL: In my hof "monde". Kaptein, maar ... Kaptein, u het die konfrontasie van die twee geëis. Baudier, jy is lid van die sogenaamde onder- grondse verset?
[Swye.]
Ek vra jou: was hierdie man lid en een van die leiers in jou versetgroep?
[Swye.]
Besef jy, Baudier, dat hierdie man alles erken het? Dat ons alles weet?
LOUIS: Ek hét nie! Ek het nie!! Niks!!!
BOER: [Nors.] Ek ken die vuilgoed nie.
LOUIS: Ek hét nie! Niks!!!
KAPTEIN: Jy lieg, Baudier! Jy't hom na jou huis toe laat kom vir 'n vergadering!
KOLONEL: Ken jy hom, Baudier?
[Swye.]
22
Besef jy, Baudier, dat 'n weiering om vrae reguit en noukeurig voor die krygsraad te beantwoord, ook as dade van verset gereken kan word?
[Swye.]
KAPTEIN: Kolonel Von Oberhorst, dink u nie dat ons in formaliteite verstrik raak nie? En dat dit net alles tydverlies is nie?
KOLONEL: Ja, ek vrees dit. Maar u het die reg gehad om die tydverlies te eis. S.S.-kaptein Müller. Neem die gevangene, Baudier, terug na sy sel. [Geluide van weggelei word.]
Menere van die Krygsraad, dan bly daar niks anders vir ons oor nie, meen ek.
KAPTEIN: Ek weet nie waarom u aarsel nie, Kolonel.
KOLONEL: Aarsel? U, Kaptein, u het die konfrontasie van die twee gevangenes gevra.
KAPTEIN: Ek hét, Kolonel. En ck wis die uitslag: 'n verdere, en "duidelike" daad van verset. Die ge- wone koppigheid, dis waar, maar uitgespreek.
KOLONEL: En wat het u self uit die konfrontasie afgelei?
KAPTEIN: 'n Daad van verset.
KOLONEL: En ek het nóg 'n indruk gekry. Ek het albei gevangenes dopgehou. En ek voel oortuig daarvan dat hierdie twee manne mekaar nooit tevore geken of gesien het nie. Ek kon die verrassing by albei sien.
KAPTEIN: Moet u "gevoelens" ook in die notule kom, kolonel Von Oberhorst?
KOLONEL: Dit kan as my oortuiging genotuleer
23
word, S.S.-kaptein Müller.
Maar ons gaan voort.
Girod, die krygsraad het hier 'n duidelike erkenning van onregmatige dade teen die besettingsleër. Dit besit die verdere feit van verset: die weiering om vrae van die krygsraad te beantwoord. Onder die omstandighede is daar alleen een vonnis waartoe ek kan kom: die doodstraf.
Die lede van die Raad: wat is u mening?
STEMME: Ons stem saam.
KOLONEL: [Sag.] Louis Girod, jy het 'n week tyd gehad om jou te bedink. Jy het geweet wat die gevolg kan wees as jy jou met hierdie sake inlaat. Jy het met oop oë daar ingegaan. Mag God jou siel genadig wees. [Sagter nog.] En ek wil nog sê, Girod, ek as mens en as offisier, ek het respek vir jou.
KAPTEIN: Kolonel Von Oberhorst!
KOLONEL: S.S.-kaptein! Ek weet wat volgens reglement my reg as presiderende offisier van 'n krygsraad is.
Die vonnis sal môreoggend om sesuur uitgevoer word.
Die saak van die gevangene Baudier sal vanmiddag om drie-uur deur die krygsraad behandel word.
Die sitting is verdaag.
Tot vanmiddag, menere.
STEM: Aandag! Presenteer!
[Militêre geluide.]
24
[Pouse wat tydverloop kan aandui.]
[Swaar deur wat soos gewoonlik krakend oopgaan.]
SIPIER: Die gevangene Girod, Mevrou.
[Die deur gaan weer toe.]
JEANNE: Louis! Wat het hulle aan jou gedoen!
[Pouse.]
LOUIS: Dag, Jeanne. Jy het gekom.
JEANNE: Louis . . . Louis ..
LOUIS: Hoe gaan dit met jou?
JEANNE: [Uit-asem.] Dis so donker hier. Ek kan jou byna nie sien nie. Het jy pyn? Het hulle jou gemoor?
LOUIS: Hoe gaan dit met die kinders?
JEANNE: Dit was 'n verskriklike week, Louis. Het jy pyn?
LOUIS: Nee. Vertel vir my hoe gaan dit met die kinders.
JEANNE: Hulle is gesond. Hulle praat aaneen oor Pappa.
LOUIS: Hoe het jy gehoor ek is hier?
JEANNE: 'n Soldaat het vanmiddag die brief gebring. Dat ek jou kan kom sien. Dit was van die kolonel. Die vieslike vuilgoed. God, hy "neem die vryheid om my te meld . . ." dat ek vir laas. . . Louis. . Louis.
LOUIS: Ek is nie vuilgoed nie, nè Jeanne?
JEANNE: Hoe kan jy dit vra! Jy's 'n pragtige mens. Ek het dit nie besef nie. Ek was nie goed genoeg vir jou nie.
25
LOUIS: Weet jy nou . . . alles, Jeanne?
JEANNE: [Snik.] Ek weet alles.
LOUIS: . . . En dat ek môreoggend om sesuur . . . dat dit alles verby sal wees . . .?
JEANNE: [Snik.] Ja . . . Dis onmoontlik!
LOUIS: Dit móét so wees.
JEANNE: O, die vuilgoed. Die vuilgoed. Hulle trap ons. Hulle moor ons. Maar God weet, dit sal alles op hulle terugkom . . . alles en meer! Die bomme sal stort op hulle [Al woester.] Hulle huise, hulle kinders sal flenters geskiet word. Elke woord van hulle sal deur God in hulle bekke teruggeslaan word. Dié wat nog hier is - al het ons nie wapens nie – met die tande sal ons aan hulle kom . . .
LOUIS: Wees kalm, skat. Dit sal miskien so gebeur. Maar vir eers is hulle nog sterk. Hulle kan doen wat hulle wil doen. [Pouse.] Jy moet kalm wees en sterk wees. Kom, sit net stil by my.
[Pouse.]
JEANNE: [Sag.] Jou baard voel lank.
LOUIS: Is dit? . . . Vertel my van die kinders. . . En moet nie so huil nie.
JEANNE: Hulle is baie soet. Soeter as gewoonlik. En hulle praat oor jou. Gister het Albertjie gesê: “As ek so groot is soos Pappa, dan gaan ek ook elke nag uit. Maar jy en Mamma is meisies julle bly tuis. LOUIS: O die nagte wat ek van julle af weggegaan het. Julle alleen laat bly het. En ek kón nie sê waarom nie . . . Ek was skaam . . . Ek móét vir jou vertel.
26
JEANNE: Skaam! Maar dit was jou plig! Jy was dapper. Jy't jou lewe in jou hand gevat. Skaam? Jy! Ek is trots op jou, trots! Later . . . ek sal my kinders grootmaak en vir hulle vertel van hulle vader. Ek sal vir hulle leer om te verstaan hulle vader was 'n held, en om soos jy te wees. Trots, trots! Dit is ek.
LOUIS: Wees kalmer. Ek het hierdie hele week aaneen gedink: jy moet weer trou . .
JEANNE: Hoe kan jy so praat!
LOUIS: Jy en hulle moet sorg hê. Beter sorg as wat ek was. Ek laat vir jou niks na nie. Jy moet my vergewe vir nege ellendige jare: min geld vir jou: altyd onsekerte: altyd. . . leuens.
JEANNE: Is daar een Franse vrou wat dit anders sou wou gehad het - noudat ek weet? Dit is ek wat om vergifnis moet vra: dat ek jou gewantrou het as jy so snags weg is: dat ek geglo het jy lieg vir my van jou werk: dat ek elke nag bitter gelê en dink het: dat ek dae aaneen jaloers en narig was. Hoe kan jy my dit alles vergewe? En noudat ek dit weet, en spyt is, nou is dit te laat. O Louis, jy moes vir my gesê het. . . dat jy dit vir ons land gedoen het . . .
LOUIS: Ek kon nie. Ek moes lieg, lieg. My lewe was één leuen.
JEANNE: Jy kon my vertrou het.
LOUIS: [Hartstogtelikker, snik.] Ek kan nie. Ek kon nie. Dit was alles een lieg, lieg. . . My lewe het verskriklik geword. Dit moes hierdie end kry.
JEANNE: Dis die smart wat jou so laat praat. Ons moet sterk wees. Ek moet jou help sterk wees.
27
LOUIS: Jy moet vir die kinders vertel van my dood.
JEANNE: Maar ek sal. Ek sál!
LOUIS: Nie van my lewe nie.
JEANNE: Van alles! Van álles! Hoe goed jy vir ons was. Hoe mooi. Hoe sterk. Hoe dapper. Alles. Alles!
LOUIS: [Snik.] Dankie, Jeanne. [Pouse.] Daar is seker nie meer baie tyd nie. Kom ons sit net so stil bymekaar. [Pouse.]
[Byna dromerig.] Onthou jy hoe ek jou ontmoet het op die kermis?
JEANNE: [In dieselfde waan.] Ja, en hoe ons op die swaaie gery het...
LOUIS: . . . En hoe jy nog nie wyn wou drink nie.
JEANNE: Ek het jou nog nie geken nie. En ор die plaas het ek min mense gesien.
LOUIS: Hoe die grootwiel bly haak toe ons bo was?
JEANNE: Bo in die donkerte, hoog bo die dorpie en die kermis. En hoe bang ek was . . .
LOUIS: Toe het ons só gesit. Soos nou. So stil bymekaar.
JEANNE: Hoe jy byna die bestuurder van die grootwiel geslaan het omdat "jou meisie" bang gemaak
is.
LOUIS: Ja. [Hy lag sag.]
JEANNE: Jy was altyd 'n vegjas, 'n vegjas. [Lag nou self 'n bietjie.] Weet jy, ek was bang vir jou manier van so deur die kermisgaste loop: hande-in-die-sakke, altyd reg om mense weg te skouer. Dit het gelyk asof jy baklei soek met elke man.
28
LOUIS: Ek het as seun baie baklei.
JEANNE: Jy het 'n blou trui en 'n wit broek aangehad. Jou skouers was so mooi.
LOUIS:... Hoe jy vyf maande lank te bang was vir my?
JEANNE: Jy was vir my 'n vreemde tipe.
LOUIS: Toe, die aand langs die Rhône, teen die riet...
JEANNE: [Snik.] Ek was so gelukkig.
LOUIS: Laat ons so stil sit . . . [Pouse.]
[Gerammel. Die deur kraak oop.]
SIPIER: Dis tyd, Mevrou.
LOUIS: Nag, Jeanne.
JEANNE: Nag, Louis.
LOUIS: Ek het jou baie liefgehad. Ek hét jou baie lief.
JEANNE: Nag, my man.
LOUIS: Vertel die kinders later, hoe ek hulle liefgehad het. Sê ek het die nag aan hulle gedink. Hulle moet groot word, en goeie mense. Sê hulle moet eerlike mense word.
SIPIER: Dis tyd, mevrou Girod!
LOUIS: Nag, Jeanne. Wees sterk! Wees sterk.
JEANNE: Geeneen van die skuim sal my sien huil nie. Vive la France!
SIPIER: Kom, kom. Dis klaar verby die tyd.
[Deur slaan toe.]
LOUIS: [Begin snik eers. Bars dan in lang wanhopige gehuil uit.] Ek is nie 'n held nie. Ek is nie 'n held nie. [Hy skreeu woes en slaan op die deur met vuis.] Ek kan nie sterwe nie. Ek hoef nie te vrek nie. Ek hoef
29
nie te vrek nie!!
[Ad lib.]
[Doof geskree en slaan op deur uit en na tydsverloop aangedui is, doof dan weer in op agtergrond.]
SIPIER: Dokter Ménard. Dokter Ménard! Die gevangene Girod...
DOKTER: Wat is dit met hom?
SIPIER: Ek dink hy het mal geword van die vrees. Hy skree soos 'n mal mens. Slaat op die deur, stamp sy kop teen die mure. Hy is al ene bloed. Miskien kan u hom iets gee.
DOKTER: Ek kom.
[Geluid van iemand wat agter 'n dik deur huil.] O, o, ag, ag. [Ad lib.]
[Deur gaan oop en toe. Snikke.]
SIPIER: Hy is nou stiller.
LOUIS: [Snik.] Dokter . . .
DOKTER: [Simpatiek.] Toe nou, Girod. Jy was so sterk.
LOUIS: [Snik] Ek, ek is nie sterk nie. Ek kan nog nie sterwe nie.
DOKTER: Sit... sit. . . net soos jy hier sit, Louis. Laat ek jou voorkop afvee. Gee jou hande vir my. Ek kan nie veel vir jou doen nie. Maar ek wil hierdie nag by jou sit en jou help om . . . . jouself te vind. Ek as Fransman wat niks kan doen nie, ek wil vir jou laat voel hoe ons hele volk, wat groot is, al is hy so verneder, vannag by jou sit.
30
Ons is saam hier met jou. Die duisende, die tienduisende wat trou bly. Ons waak hier by jou. Ons kry krag uit jou krag. En ons wil krag gee uit al ons smarte, uit al ons geslagte. Ons wat lewe, sluit aan, deur jou, by al die dodes wat vir Frankryk gesterf het. En ons sal jou onthou. Jy sal in ons volk lewe, déúr die vernedering deur, déúr die opstand deur, tot in die vryheid.
[Louis snik stil.]
Wil jy 'n priester hê vannag?
LOUIS: Ek is nie gelowig nie, Dokter.
DOKTER: Ek sal by jou bly vannag. Jy sal my seun wees. Ek sal jou vader wees. Ek sal vir jou kinders sorg. Ek het die adres gekry.
LOUIS: Dankie, Dokter. [Pouse.] U was reg, Dokter. U het my herken.
DOKTER: Ja. Ek het later die omstandighede duidelik onthou.
LOUIS: Twaalf jaar gelede - lank voor die oorlog - ek het ingebreek in 'n huis in Baucaire waar u toe seker dokter was.
DOKTER: Jy's in die gestommel beseer, en jy's gevang.
LOUIS: U het my in die tronk besoek en my versorg.
DOKTER: Ek onthou dit goed. 'n Kopwond. Eintlik 'n skrapie. Ek kan die merk hier voel. Dié soort goed en die plékke veral die onthou ek.
LOUIS: Ek was toe negentien jaar oud.
DOKTER: Ek was jammer vir jou dat jy so jonk was, en reeds só vol wrok.
31
LOUIS: Ek is 'n inbreker, 'n dief. Dit is ál wat ek ooit was.
DOKTER: Vannag, in hierdie nag. . . het dit alles klein geword, verdwyn in die nietigheid. Jou lewe is in hierdie dae omgevorm tot iets ongelooflik helders. Jy't iets vir jou land wou doen. Ek doen so niks. En ek voel klein naas jou.
LOUIS: Maar ek het nooit verander nie, Dokter.
DOKTER: Ook dit is niks, vannag nie.
LOUIS: [Hard.] Ek het twee jaar gekry dié slag. En toe ek uitkom, was ek nog meer verbitterd teen die wêreld. Ek het inbreker gebly: met háát, met wrok. As dit nodig was, het ek hulle náár geslaan met my breekyster. Nie soos daardie nag toe ék neergeslaan is nie. Ek was giftiger nou, en roekeloser. Ek het slim en versigtig geword. Die polisie het my nie weer betrap nie.
DOKTER: Jy kan rustig vertel. Jy is vannag . . . my seun.
LOUIS: Ná ek vrygekom het, destyds, het ek háár ontmoet. . . Eers wou ek haar uit 'n soort wrok hê ― om haar seer te maak, om iemand te hê wat ek lánk kon seermaak. Later wegsmyt.
DOKTER: Jy moes baie bitterheid in jou ingekry het. So jonk.
LOUIS: Ek was 'n straatrot vandat ek klein was. Verstaan jy 'n rot: skuim; slym; vuilgoed! Ek het gesteel. Ek het baklei . . . Kleiner kinders - dit het nie saak gemaak nie. Hoe kleiner, hoe meer kon ek hulle knóú.
32
DOKTER: Jy is my seuntjie vannag. Ek wens jy was dit toe jy jonk was. Dan was ek vannag nog nader aan jou lyding.
LOUIS: Later - toe het ek haar lief gekry. En toe - my kinders.
[Pouse.]
DOKTER: [Baie sag.] Praat maar, praat maar.
LOUIS: Maar ek het nie verander nie. Ek het geen vak geken nie. Ongeskoolde arbeider . . .? Ek sou nie genoeg verdien het vir ons nie. En ek wou nie voor háár so... niks . . . so láág wees nie. Sy het my leer ken as 'n man wat geld gehad het. En nou soggens gaan werk met my stuk brood en my halfbottel wyn! Nooit!
DOKTER: Toe maar. Vertel rustig.
LOUIS: [Skreeu dit byna uit.] Sal dit baat, Dokter! Sal dit baat as dit so kom dat selfs 'n dief, dat selfs 'n boef... trou kan wees aan . aan iets? Goed kan wees?
DOKTER: Louis. Alles wat goed is, báát.
LOUIS: Sy was 'n eerlike boeremeisie. Ek moes haar aaneen bedrieg en belieg. Eers het ek voorgegee dat ek doen baie aande nagdiens. Maar ek moes lieg oor watter fabriek. Ek het haar afgesnou as sy uitvra. Sy't agterdogtig geword. Jaloers. Boos. Ons het bitter rusie gemaak. Sy't ook agtergekom: soms het ek geen geld nie; dan weer baie! Dit het nie na vaste loon gelyk nie. . . Maar sy't die kinders goed opgevoed. Sy is gelowig. Nooit rusie voor hulle laat gebeur nie.
33
Die oorlog het vir my soos 'n genade gekom. Ek het begin praat van versetwerk. Later het sy amper begin glo. Maar nege jaar se agterdog sit diep. Ons het byna nie meer oor dié dinge gepraat nie. [Woes.] Ek is geen versetsman nie . . .! Ek het probeer inkom by die verset. Van dié wat ek geken het, was daar in. Maar dit het gelyk niemand wou my hê nie. Ek was vuilgoed. Hulle wou my nie vertrou nie.
DOKTER: Ek verstaan jou nie heeltemal nie. Maar vertel.
LOUIS: Die nag wat ek daar by die boer - Baudier glo gevang is. . . Ek het daarheen gegaan om in te breek. Ek wis van geen vergadering nie. Ek het geweet hy's oud en woon alleen. Ek was gereed om hom plat te slaan as hy wakker word. Ek was verbaas om te sien die lig brand. Maar ek was nie bang nie. Een of twee . . . drie dit maak nie saak nie. En hy was oud. Ek was verbaas toe die deur nie gesluit was nie. Maar ek was nie bang nie. Hy is oud.
DOKTER: Baudier. . . hy word môre geskiet. Om sesuur.
[Pouse.]
LOUIS: Jy laat los my hande.
Dit traak my nie.
Ek het geen land om voor te sterf nie. En wragtig nie 'n volk nie. Julle kan almal krepeer.
Wat sal ek môre skree as hulle met die geweers aanlê?
34
Die boer sal skree: Vive la France soos gewoonlik. Maar ek ... vive wát?
DOKTER: En jy is vannag my seun. Jy is siek van die wanhoop. [Lang pouse.]
Maar kyk, Louis. As dit is soos jy sê, kan ons maklik iets vir jou doen. Ek ken die kolonel; hy is regverdig en hy is nie wreed nie. Ek glo hy sal maar te bly wees om jou reg te help. As ons net bewyse kan kry.
Jy het sonder jou. . . gereedskap. . . na die boer se plaas toe gegaan?
LOUIS: Nee. Ek het dit in die tuin weggegooi toe ek probeer weghardloop het. . . toe hulle my geskiet
het.
DOKTER: Pragtig! Dan is dit eenvoudig. Ons kan die bewys lewer. Die polisie kén jou vorige misdaad. Ek kan getuig.
Jy sal 'n paar maande kry.
Ek sal, soos ek beloof het, vir jou vrou en kinders sorg.
En as jy vry is, moet jy weer as 'n ordentlike mens van voor af begin. Ek gaan dadelik die kolonel bel. LOUIS: God, nee, moenie, moenie, Dokter. Waarom moor jy my!
DOKTER: Maar, Louis, jy besef tog as ek niks doen nie, dan . . . vanmôre om sesuur . . .
LOUIS: Dit moet so kom.
Ek was so verskriklik bang, netnou voor u gekom het. Ek was so verskriklik bang vir die dood-wees.
35
Ek wou by hulle wees, lank, lank - tot ek oud is. Maar in daardie ure ná sy weg is, het ek gesterwe, so voel dit my. En die skietery is nou net 'n laaste formaliteit.
DOKTER: Maar, Louis! Jy mag nie sterf as jy onskuldig is nie! Vir iets wat jy nie gedoen het nie!
LOUIS: Miskien moet ek juis sterf vir wat ek nie gedoen het nie; ómdat ek dit nie gedoen het nie. En vir wat ek van my gemaak het.
DOKTER: Jy moet vir jou vrou en kinders sorg. En jy moet 'n goeie mens word. Ek loop nou dadelik. LOUIS: [Sag, woes.]Jy sal nie so hier uitloop nie. Al moet ek jou wurg. Jy't haar nie hoor praat nie. . . [Dof word herbaal; stem van Jeanne in terugflits.] "Jy was dapper. Jy't jou lewe in jou hand
gevat. Skaam, jy! Ek is trots op jou, trots, trots! Láter . . . ek sal my kinders grootmaak en vir hulle vertel van hulle vader . . . Ek sal vir hulle leer om te besef hulle vader was 'n held, en om soos jy te wees. Trots, trots, dit is ek!"
LOUIS: Sit hier, sit! Sit!! Sit!!!
Wat verstaan jy hiervan, jy met jou groot woorde oor Frankryk en sy dooies!
[Stem van Jeanne.]:
"Ons moet sterk wees. Ek moet jou help sterk wees.
[Stem van Louis.]:
"Jy moet vir die kinders vertel van my dood." [Stem van Jeanne.]:
"Maar ek sál. Ek sál."
36
[Stem van Louis.]:
"Nie van my lewe nie."
[Stem van Jeanne.]:
"Van alles! Van alles! Hoe goed jy vir ons was. Hoe mooi. Hoe sterk. Hoe dapper. Alles! Alles!"
LOUIS: Dink jy ek kan met al my lieg weer voor haar staan! En voor hulle! Na drie maande in die tronk, vir inbraak! krúíp na hulle toe . . . as inbreker. As ek dood is, sal alles goed wees. Vir hulle. En vir my.
DOKTER: Jy gaan sterf, Louis, net omdat jy te bang is vir wat die wêreld van jou sal dink.
LOUIS: Die wêreld. Ek is bang vir wat kan word van 'n uitvaagsel se kinders.
Hulle is maar baie gewone kindertjies, Dokter. Ek het geword soos ek wis dat my pa was. Hulle moet nie word soos ek was nie.
DOKTER: [Na 'n pouse.] Ek wens jy was gelowig,
Louis. Dan kon jy gehelp word. Dan sou jy die vergifnis van alle sonde kon kry en van nuuts af ’n beter mens leer word.
LOUIS: Ek is so bang, Dokter, dat daar 'n God kan wees.
DOKTER: Maar dan moet Hy tog oneindig vol vergifnis wees. En oneindig meer van die hart begryp as wat ons kan begryp.
LOUIS: Dankie.
Beloof jy, Dokter, dat jy nie gaan praat nie!
DOKTER: Jy lê 'n verskriklike ding op my, Louis. Ek is half-gelowig. Maar... [Baie aarselend.] dit weet
37
ek ook: daar is gesê: geen groter liefde het 'n man as dat hy sy lewe gee vir . . wat was dit ook? Wat was dit ook? Die martelare weet dit seker . . . Mag God my vergeef as ek verkeerd praat. Ek weet ek praat verkeerd. Maar ek belowe.
LOUIS: [Sag.] Maar noudat ek weet, is ek tevrede . . . 'n Dief kan ook goed wees . . . nie vieslik nie, [Verweg.] nè, liefste?
DOKTER: Sal ek vir jou iets gee wat jou dof maak, Louis?
LOUIS: Sal my vrou ook môre by wees, Dokter?
DOKTER: Ek weet nie. Soms eis hulle dit. Maar ek weet nie. Ek glo nie.
LOUIS: Dan liewer nie, Dokter. Dankie.
DOKTER: [Snikkend.] My seun, my seun. Jy doen 'n verskriklike ding. Maar dit is mooi. [Baie sag.] Vive la France. Jy is ook my Frankryk. Waar is die klokkie
[Hy druk die bel herhaaldelik. Deur oop.] Sipier. Sipier.
SIPIER: Ja, Dokter. Hierlangs.
DOKTER: Hy sal nou rustig wees, Sipier . . . Nag, Louis. Nag.
[Deur knars toe. Doodse stilte.]
DOKTER AS VERTELLER: [In sy stem van ouman, soos aan die begin.] Ek was gevangenisdokter. Ek moes dié môre by gewees het by die teregstelling. Maar ek wás nie. Ek het geweet: hy het my nie meer nodig nie. En die boer Baudier het niemand se bystand
38
nodig gehad nie. Hy was van nature 'n held.
Met my dokterspas het ek uitgegaan. Eers na Louis se huis toe. Sy kindertjies het geslaap. Sy vrou het die hele nag gebid. En ek het by haar gesit.
Om vyf minute voor ses wóú sy buite gaan staan en hóór. Ons het so oor hierdie pragtige land van ons in die vroeë môre uitgekyk. Ons het gewag op die skote ...
[Dié terugblik dowwer en baie stil in.]
JEANE: [Prewel.] Mag God sy siel genadig wees. Mag hy U vrede kry. Mag hy rus. Gee vir hom U vrede, Heer. Neem hom by U.
['n Sarsie skote in die verte.]
[Sag wild.] Dis oor . . .
DOKTER: Wag, my kind. Anders skrik jy net. Daar
moet twee sarsies wees.
[Pouse.]
['n Tweede sarsie.]
JEANNE: [Snik.] Rus, my liefling, Rus, Louis. Wees
vir hom genadig, God. [Baie sag.] Vive la France.
DOKTER AS VERTELLER: [In sy stem van ouman, soos aan
die begin.] En ek het nie na my werk toe teruggegaan nie. Ek het kontak met ons mense gesoek. En gekry. Tot aan die einde van die oorlog. Ek kon nie veel doen nie. Net dókter. Maar dit was dikwels nodig. En ek was geen held nie. Vandag, onder die vlae, het hy naas die boer
39
Baudier en die ander dapperes van die volk gelê. Sy kinders is nou albei groot. En hulle is goeie mense, soos 'n mens kan oordeel: só het hul moeder hulle grootgemaak.
Sou hulle sleg geword het as hulle geweet het wát hy was?
Wát was hy?
Wie sal dit weet?
Die heldedom, so lyk dit my, is soos van die heiligheid gesê word: 'n vreemde ingewikkelde ding.
As ons trou is . . . Wááraan is ons trou? Of maak dit saak?
40
Einde van die Boek
Dankie dat jy Die Held gelees het.