20
DIE PROFEET
U HET nie woord gehou met my, o Heer: hier teen die helfte van my dae staan ek verblind in U fel brand se lig, ék wat die hoë sneeukop van genade wou bereik, U stilte en oorskaduwing wou hê. Eenmaal in lentedae (dít weet ek) toe die lugte bleek was bo witte horisonte, was U 'n verre stem in my, 'n fluistering -soos iets wat verweg roer, half agter bome- om uit te gaan en in U naam te praat. Klein was my vrees, en ek kon liggies glimlag dat U dié sware woorde van my eis wat so verborge nog was in my skroom. Maar in my, ín my, o Heer, soos die val van houe op 'n dowwe ding, het U woorde en woede en skrik gekom [bl. 28] en my neergeslaan tot my knieë genadeloos, totdat die nag my in 'n donker hoop gehurk, en aan die snik gevind het. En tog het U 'n rus beloof soos van diep kuile onder die stormwind van U vereiste daad: U het nie woord gehou met my. U 't áls geëis: my menslike waardigheid, my stille samesyn met ander, die verborge en altyd mooie liefde van die jeug; U het van my die trots, die skroom, die wete van vaste maat in mooi en helder dinge soos voddes afgeskeur, my naak gemaak en, skaam nog, aan bespotting oorgegee; my, donker wandelaar in skaduwees, het U uitgeja met vlamme op my voorkop,