🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Tuis Alle artikels
KOLONIALISME — DINK NET ’N OOMBLIK …

KOLONIALISME — DINK NET ’N OOMBLIK …

Dink net hoe anders die wêreld kon lyk as die koloniale moondhede — wat tydens die koloniale era reeds gevorderd was op talle terreine — met meer nederigheid, wysheid en menslikheid opgetree het.

Dink net as hulle:

  • die oorspronklike inwoners van hul kolonies as gelykes behandel het;
  • hul tale, kulture, tradisies, gelowe en tradisionele regeringsvorme gerespekteer het;
  • nederig genoeg was om by inheemse gemeenskappe te leer oor hul diepe verbondenheid met die natuur en die beginsel van Ubuntu;
  • bestaande nasionale grense en tradisionele samehorigheid geëerbiedig het;
  • die vasteland se natuurlike hulpbronne ontwikkel het in ware vennootskap met die mense van die land — tot voordeel van die plaaslike bevolking in die eerste plek, of minstens op gelyke grondslag;
  • regerings- en bestuursisteme saam met plaaslike gemeenskappe opgebou het, gegrond op bestaande tradisionele strukture, om die sogenaamde “vooruitgang” verantwoordelik te bestuur.

Maar in plaas daarvan om inheemse tale, kulture en kennisstelsels te probeer verstaan en waardeer, het koloniale moondhede meestal ’n beleid van verdeel-en-heers gevolg.

Hulle het:

  • kunsmatige landsgrense getrek wat bestaande volke en gemeenskappe uitmekaar geskeur het;
  • inheemse kulture en tradisies hooghartig as “onbeskaafd” afgemaak terwyl hulle hul eie tale en kulture opgedwing het;
  • met ’n selfregverdige houding plaaslike gelowe as “heidens” beskryf en hul eie godsdiens aggressief afgedwing;
  • hul eie vlae geplant, hul eie kultuur bevorder en die kontinent se hulpbronne ontgin — maar baie minder moeite gedoen om gehalte-onderwys, opleiding en volhoubare staatsinstellings vir die plaaslike bevolking te ontwikkel.

Afrika het vir baie koloniale moondhede ’n bron van rykdom geword — en terselfdertyd ’n speelgrond vir die magtiges en bevoorregtes van die Weste.

Toe internasionale druk koloniale moondhede in die 1960’s uiteindelik dwing om te onttrek, het hulle dikwels lande agtergelaat met diep beskadigde sosiale weefsels:

  • state verdeel deur arbitrêre grense;
  • bevolkings wat nooit behoorlik voorberei is om aan Westerse regeringsmodelle deel te neem nie;
  • swak of onvoltooide staatsinfrastruktuur;
  • min ervare amptenare op plaaslike, streeks- en nasionale vlak;
  • en natuurlike sowel as menslike hulpbronne wat oor geslagte heen uitgeput en uitgebuit is.

Daarna het ’n tydperk van skuldgevoel gevolg waarin voormalige koloniale moondhede groot bedrae geld teruggeploeg het in hul oud-kolonies. Maar sonder gevestigde staatsinstellings, stabiele infrastruktuur en sterk ekonomiese fondamente, was die gevolg dikwels sistemiese korrupsie — waar hulp en geld net ’n klein elite bereik het, terwyl die massas steeds agtergebly het.

Natuurlik was daar gevalle waar koloniale moondhede ook positiewe bydraes gemaak het. Die geskiedenis is nooit net swart of wit nie. Maar in breë trekke bly bogenoemde die tragiese verhaal van kolonialisme.

Zimbabwe is byvoorbeeld ’n interessante voorbeeld van hoe anders dinge kon verloop het. Ten spyte van ernstige probleme met bestuur en ekonomiese verval, het die land oor dekades steeds ’n relatief sterk opvoedkundige grondslag behou. Ironies genoeg trek Suid-Afrika vandag voordeel uit baie goed-opgeleide Zimbabweërs — dikwels tot frustrasie van plaaslike werksoekers.

Hierdie geskiedkundige werklikhede verduidelik waarom romantiese uitsprake oor die sogenaamde “voordele van kolonialisme” nie net histories oppervlakkig is nie, maar ook gevaarlik onwys.

Dink net hoe anders die wêreld kon lyk.

Dink net.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek