Die lewendige debat oor brugbou is goed, maar kort perspektief.
Ek het jare in ander lande gewerk, gereis en waargeneem.
Lande met gesonde gemeenskappe is suksesvolle lande.
Daar is ’n direkte verband tussen die gehalte van ’n regering en die gehalte van sy kiesers.
Regdeur ons geskiedenis is die grein van ons gemeenskappe afgetakel en het ons ongelyke en afsonderlike gemeenskappe geskep.
Nelson Mandela was die enigste president in die ou en die nuwe bedeling wat gefokus het op brugbou in ons diep verdeelde land. Hy het insig gehad en anargie verhoed. Sy opvolgers het dit nagelaat en anargie dreig nou weer.
Natuurlik het die ANC ons gemeenskappe verder afgetakel met swak bestuur. En natuurlik is Julius Malema ’n opstoker wat geldige griewe roekeloos uitbuit.
’n Regeringsverandering is nodig, maar hoe skep ons nuwe meerderhede?
Gematigde meerderhede kan slegs gevind word as ons uitreik oor historiese skeidslyne heen en brûe bou tussen ons mense.
Baie doen dit reeds; ander gooi hul hande in die lug, die nuwe-slag-hensoppers.
My pa het in my kinderjare grond op een van sy plase beskikbaar gestel aan ’n swart man met inbors wat soos die meeste Suid-Afrikaners sy eie stukkie grond wou hê om op te boer.
Ek het dikwels saam met my pa ge ry op sy plase en hy het gereeld by die man aangegaan wat hom altyd tee aangebied het. En dan het hulle oor landsake gesels. Dit is brugbou.
Ons gemeenskappe is die ruggraat van ons land. Dis daar waar ons moet saamwerk aan gemeenskaplike uitdagings en doelwitte.
Die vraag wat jy moet beantwoord, is eenvoudig: Wil jy deel van die probleem wees of deel van die oplossing?
Baie verkies ongelukkig om op die kantlyn te staan en net te kritiseer.
Teken in om te kommentaar