Terug na Tuis Alle artikels
Wanneer die Bybel van God se Woord na mense se woord verander

Wanneer die Bybel van God se Woord na mense se woord verander

Op 2 Augustus 2022 maak Ben du Toit – tydens ’n onderhoud wat Kabous Meiring met hom in die program "Prontuit" gevoer het – melding van Thomas Kuhn se boek The Structure of Scientic Revolutions (1970) om sy afskeid neem van die Christelike godsdiens te verduidelik. ’n Onlangse herbesoek van die onderhoud het tot die onderstaande skrywe gelei.

Thomas Kuhn gebruik die begrippe “paradigma” en “paradigmaverandering” om die veranderinge op die terrein van die natuurwetenskappe te verduidelik. Hy gebruik die Copernikaanse omwenteling in die Sterrekunde as ’n voorbeeld van ’n paradigmaverandering. Sterrekundiges het vir eeue die siening gehuldig dat die aarde die sentrum van die heelal is en dat die son en ander planete (asook die sigbare sterre) om die aarde wentel. Hierdie oortuiging (die geosentriese wêreldbeeld) was toe die heersende paradigma aan die hand waarvan sterrekundiges hulle navorsing gedoen en beskryf het. Hulle moes egter ingewikkelde wiskundige formules ontwerp om die bewegings van die hemelliggame te kon beskryf en dit het hulle ook voor onopgeloste probleme te staan gebring totdat Nicolaus Copernikus (1473–1543) met ’n nuwe hipotese na vore gekom het. Hy het die mening gehuldig dat die son die middelpunt van die heelal is en dat die aarde en ander planete (asook die sterre) om die son wentel. Hierdie nuwe hipotese het gesorg vir ’n omwenteling of revolusie in die Sterrekunde, want die bewegings van die hemelliggame kon nou meer akkuraat en eenvoudiger beskryf word. Kuhn het hierdie nuwe hipotese as ’n “paradigmaverandering in die Sterrekunde” beskryf.

Ek het na my doktorale studie aan Unisa (1981–1987) besef dat Kuhn se insigte ook op die terrein van die Bybelwetenskappe toegepas kan word. Ek moes gedurende daardie studiejare die boek Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments (1969) van Hans-Joachim Kraus bestudeer en daaroor ’n eksamen aflê. Enkele jare hierna het ek besef dat Kraus se vertelling oor die histories-kritiese navorsing rakende die Ou Testament grootliks ’n vertelling was oor ’n paradigmaverandering in die Bybelwetenskappe teen die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu. Die eerste persoon wat my oë hiervoor geopen het, was James Barr met sy boek The Bible in the Modern World (1973). Hy gebruik nie die woorde paradigmas en paradigmaveranderinge nie, maar het met die volgende stellling ’n deur oopgemaak waardeur ek gestap het en toe nie weer kon terugkeer nie: “If we want to use the Word-of-God type of language, the proper term for the Bible would be Word of Israel, Word of some leading early Christians” (Barr 1973:120). Die Bybel is nie ’n onfeilbare dokument nie, want dit is geskryf deur feilbare mense met beperkte insig. Die histories-kritiese ondersoek van die Bybel bevestig hierdie feit.

Nog later sou Mark Noll met sy boek Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible (1991) dit finaal vir my bevestig met ’n uitgebreide stelling wat soos volg lui:

Kuhn’s discussion of “normal science,” “paradigm shift,” and “revolutionary” situations has been applied promiscuously to far too many historical developments. But here, at least, it really seems to fit. A period in which normal science proceeded under a secure paradigm (the Bible is the Word of God to be interpreted by die conventions of common sense) gave way to a period when anomalies in the old theories seemed to proliferate (new knowledge about world religions, new conceptions of historical development, new advances in research, new standards of professional study—and all exacerbated by social and economic changes in the community experiencing the anomalies). After a brief period of dialogue between those working in the old paradigm and those struggling toward something different (roughly 1880 to 1900), a new paradigm emerges for the practice of normal science (the Bible, however sublime, is a human book to be investigated with the standard assumptions that one brings to the discussion of all products of human culture) (Noll 1991:45, kursief bygevoeg).

Alhoewel dit vir my maklik was om die resultate van die histories-kritiese ondersoek van die Ou-Testamentiese geskrifte te aanvaar, was dit vir my aanvanklik moeilik om die resultate van dié soort ondersoek van die Nuwe-Testamentiese geskrifte te aanvaar. Dit het my ’n paar jaar geneem voordat ek besef het dat die navorsing wat bekend staan as die “Ondersoek na die historiese Jesus” die resultate van die histories-kritiese ondersoek van die Nuwe Testamentiese geskrifte is. Maurice Casey se boek From Jewish Prophet to Gentile God: The Origins and Development of New Testament Christology (1991) het dit vir my glashelder uitgespel. So ook Cees den Heyer met sy boek Van Jezus naar christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma (2003).

Maar dáár het dit nie gebly nie. ’n Vriend het my aan die publikasies van Lloyd Geering van Nieu-Seeland bekend gestel. In een van sy opstelle skryf hy die volgende (Geering 2001:83):

There is great reluctance in the church, even amongst many of its biblical and theological scholars, to concede that the Bible is just as human in origin and content as any other book, and that the church, far from being a supernatural society of divine origin, shows itself to be all too human. The church’s claim to be a unique channel for divine revelation, and, hence, in possession of a unique body of revealed truth, has set it on a collision path with other claimants to truth, such as the whole scientific enterprise, modern historiography and other religious traditions.

Die resultate van die histories-kritiese ondersoek van die Bybel, die leerstukke van die Christelike godsdiens het my gebring by die punt wat Nigel Leaves so versigtig in sy boek Religion Under Attack (2011) verwoord: “Once we recognize that religion is humanly created, it is but a small step to admit that God too might be an invention of the human imagination.” Godsdienste is menslike kulturele skeppings en gééneen kan op alleenwaarheid aanspraak maak nie.

“WEDERGEBORE ATEÏSTE” - Prontuit | 2 Augustus 2022 | kykNET

Literatuurverwysings:

Barr, James 1973. The Bible in the Modern World. London: SCM Press.

Casey, Maurice 1991. From Jewish Prophet to Gentile God: The Origins and Development of New Testament Christology. Cambridge: James Clarke & Co.

Den Heyer, Cees. 2003. Van Jezus naar christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma. Zoetermeer: Meinema.

Geering, Lloyd 2001. Saving the planet. In Wallace, Teresa e.a. Time and Tide: Sea of Faith eyond the Millennium, 81–86. Hampshire: O Books in association with the Sea of Faith Network (UK).

Kraus, Hans-Joachim 1969. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Kuhn, Thomas S. 1970. The Structure of Scientic Revolutions. Chicago: University of Chicago Press.

Leaves, Nigel 2011. Religion Under Attack: Getting Theology Right! Salem: Polebridge Press.

Noll, Mark A. 1991. Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible. Leicester: Apollos.

👍 1
Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗