🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Tuis Alle artikels
Van toekomspassiwiteit na toekomsagentskap

Van toekomspassiwiteit na toekomsagentskap

Ons praat baie oor die toekoms.


Wat gaan met kunsmatige intelligensie gebeur? Hoe gaan werk verander? Sal mense langer leef? Wat gaan van die klimaat word? Sal ons kinders werk hê? Hoe gaan Suid-Afrika oor dertig jaar lyk? Sal tegnologie ons bevry of beheer?

Dit is interessante vrae, maar daar is iets merkwaardigs aan die manier waarop ons hulle vra. Ons praat dikwels oor die toekoms asof dit ’n plek is wat reeds bestaan. Asof 2060 êrens daar voor ons lê en ons almal eenvoudig daarheen beweeg.


Maar waar is 2060?


Nêrens.


2060 bestaan nog nie.


Daar is vandag wel dinge wat ons van 2060 kan sê. Ons kan bevolkingsveranderinge modelleer. Ons kan tegnologiese ontwikkeling bestudeer. Ons kan ekonomiese tendense ondersoek. Ons kan klimaatmodelle gebruik. Ons kan scenario’s ontwikkel. Ons kan kyk na wat in die verlede gebeur het en vra wat moontlik daaruit kan voortvloei.


Maar ons kan nie na 2060 kyk soos ons na ’n prentjie in ’n boek, ’n bladsy in ons dagboek of ’n deeltjie onder ’n mikroskoop kyk nie.  

Die toekoms het nog nie ’n werklikheid geword nie.

Dit is die eerste belangrike onderskeid.


Ons kan die toekoms daarom beskryf as die oop ruimte van moontlike toestande, gebeurtenisse en ervarings wat nog nie gerealiseer het nie, maar waarvan sommige deur die wisselwerking tussen natuurlike prosesse, menslike handelinge en omstandighede werklik kan word.


Die toekoms is dus nie ’n plek nie. Dit is ’n moontlikheidsruimte.

En juis daarom is die toekoms anders as die verlede. Die verlede is wat gebeur het. Ons kan dit nie verander nie. Die toekoms is wat nog nie gebeur het nie. Dit kan verander.


Die sielkundiges Roy Baumeister, Kathleen Vohs en Gabriele Oettingen beskryf hierdie beginsel as ’n belangrike rede waarom mense soveel oor die toekoms dink: die verlede is kenbaar maar onveranderbaar, terwyl die toekoms onseker is, maar beïnvloed kan word. Toekomsdenke is dus nie bloot ’n vorm van dagdroom nie. Dit is ’n manier waarop mense hulle gedrag probeer rig om sekere moontlike uitkomste te bevorder.


Dit is waar die idee van toekomagentskap begin.

Maar voordat ons daar kom, moet ons eers verstaan hoe mense nog altyd met die onbekende toekoms gewerk het.


Ons het nog altyd die toekoms verbeel


Lank voordat daar futuriste, rekenaarmodelle en kunsmatige intelligensie was, het mense oor die toekoms gedink.

Hulle het mites vertel. Hulle het profesieë geskryf. Hulle gode, helde, katastrofes, eindtye en nuwe wêrelde uitgedink en daarvan vertel. Hulle het oor ’n komende goue era gedroom. Hulle het verhale vertel van vloede wat die wêreld vernietig en daarna ’n nuwe begin moontlik maak.


Die mens het blykbaar nog altyd ’n behoefte gehad om die onbekende voorstelbaar te maak.


Mense het nie bloot probeer uitvind wat gaan gebeur nie. Hulle het probeer verstaan wat die wêreld se toekomstige verloop behoort te wees. Die utopie, die ideale stad, die hemel, die toekomstige goue era en later die tegnologiese paradys is almal verskillende vorme van dieselfde menslike vermoë: om ’n wêreld voor te stel wat nog nie bestaan nie.


Dit is ’n belangrike skuif.

Want sodra ek iets kan voorstel wat nog nie bestaan nie, kan ek begin vra: Kan dit moontlik wees? Kan ek dit bereik? Kan ons dit bou?


Die toekoms beweeg dan van profesie na moontlikheid.


Die eindtyd is een van die oudste toekomsstories


Een van die kragtigste voorbeelde is die eindtyd.


In verskillende godsdienstige en kulturele tradisies kry ons verhale van ’n wêreld wat tot ’n einde kom, ’n finale oordeel, ’n kosmiese stryd, ’n groot vernietiging of uiteindelike herstel.


Die Bybelse tradisie bevat byvoorbeeld verskeie vorme van eindtydverbeelding, waaronder apokaliptiese tekste, die wederkoms, oordeel en die uiteindelike voorstelling van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. In daardie laaste beeld word die toekomstige wêreld nie bloot as vernietiging voorgestel nie, maar ook as herstel, ’n wêreld waarin leed, smart, pyn, lyding en dood uiteindelik verdwyn.


Ander beskawings het ander weergawes gehad. Mesopotamiese tradisies bevat vloedverhale en nuwe beginne. Zoroastrisme het ’n kosmiese stryd tussen goed en kwaad en ’n finale herstel van die wêreld verbeel. Sekere Hindoe-tradisies verstaan tyd eerder as siklies, met verskillende tydperke wat oor en oor terugkeer.


Ons hoef nie hierdie verhale as wetenskaplike voorspellings te behandel om hulle menslike betekenis te verstaan nie.

Hulle vertel ons iets oor hoe ons spesie die onbekende hanteer.


Die wêreld is kompleks. Die toekoms is onseker. Gebeurtenisse gebeur sonder dat ons dit kan beheer. ’n Verhaal gee orde aan hierdie onsekerheid.

Daar is ’n begin.

Daar is ’n ontwikkeling.

Daar is ’n krisis.

Daar is ’n einde.

En dikwels is daar ’n nuwe begin.


Die mens maak dus van die onbekende ’n verhaal wat ons kan verbeel(d) en bedink.


Ons moderne apokalipse


Ook ons het nie opgehou om eindtydstories te vertel nie.


Ons het bloot nuwe karakters gekry.

Die kernoorlog.

Die klimaatkatastrofe.

Die ineenstorting van beskawing.

’n Wêreldwye pandemie.

Ekologiese vernietiging.

Ekonomiese ineenstorting.

Kunsmatige intelligensie wat buite menslike beheer raak.

Menslike werk wat verdwyn.

En uiteindelik die mees radikale weergawe: ’n toekomstige intelligensie wat so kragtig word dat mense nie meer die dominante besluitnemers op aarde is nie.


Die interessante ding is dat moderne toekomsnavorsing nie noodwendig een van hierdie uitkomste as “die toekoms” aanvaar nie. Scenario-denke werk juis met verskillende moontlike trajekte.


’n Studie wat in 2026 in AI & Society gepubliseer is, ontwikkel byvoorbeeld vier verskillende scenario’s vir 2045 rondom die wisselwerking tussen kunsmatige intelligensie, klimaatsverandering en globale bestuur. Die doel is uitdruklik nie om die toekoms te voorspel nie, maar om die ruimte van geloofwaardige toekomstige wêrelde te verbreed en te ondersoek hoe verskillende keuses tot verskillende uitkomste kan lei.


Dieselfde beginsel word tans in amptelike toekomstige scenario-navorsing gebruik. Policy Horizons Canada het in 2026 vier moontlike AI-toekomste ontwikkel, nie as voorspellings nie, maar as denkruimtes waarin besluitnemers kan vra wat moontlik kan gebeur en waarvoor ons voorbereid moet wees.


Dit is ’n baie belangrike onderskeid:

Scenario’s sê nie: “Dit gaan gebeur.” nie.

Hulle sê:

“Dit kan gebeur. Wat beteken dit indien dit gebeur?”


Hoe kan 2060 dan lyk?


Kom ons neem 2060 ernstig, maar nie profeties nie.


Ons kan ten minste ’n aantal breë moontlikhede onderskei.


Een moontlike 2060 is die intelligente wêreld. Kunsmatige intelligensie, robotika, outomatisering en digitale agente kan teen daardie tyd diep verweef wees met werk, onderwys, gesondheidsorg, wetenskap en huishoudelike lewe. Dink aan hierdie interessante vraag: Wat gebeur wanneer intelligensie nie meer ’n skaars menslike hulpbron is nie?


Dit beteken nie noodwendig dat mense ophou werk nie. Dit kan eerder beteken dat die verhouding tussen mens en werk fundamenteel verander. Sommige take kan geoutomatiseer word, terwyl ander nuwe rolle en vorme van menslike bydrae skep.


Die Wêreld Ekonomiese Forum se 2026-risikoverslag illustreer waarom daar nie ’n eenvoudige antwoord is nie. Dit beskryf moontlike scenario’s waarin AI tegelykertyd produktiwiteit kan verhoog én werk kan verdring. Dit wys ook op die moontlikheid dat die probleem nie net inkomsteverlies sal wees nie, maar ’n dieper vraag oor doel, betekenis en menslike bydrae.


’n Tweede moontlike 2060 is die langerlewende wêreld.

Biotegnologie, voorkomende medisyne, persoonlike medisyne en nuwe benaderings tot veroudering kan die verhouding tussen ouderdom, gesondheid en werk verander. Die vraag is dan nie soseer “Hoe lank gaan ons leef?” nie, maar ook “Hoe gaan die verhouding tussen ouderdom en werk verander?”  


’n Derde moontlikheid is die veranderende planeet.

Klimaat, water, voedsel, energie, migrasie en verstedeliking kan teen 2060 steeds groter faktore in die vorm van alledaagse lewe wees. Dit hoef nie noodwendig ’n “einde van die wêreld” te beteken nie. Dit kan eerder ’n wêreld beteken wat voortdurend moet aanpas.  


’n Vierde moontlikheid is ’n meer ongelyke toekoms.

Die tegnologie kan bestaan, maar nie noodwendig vir almal op dieselfde manier nie. Sommige mense, gemeenskappe en lande kan toegang hê tot gevorderde AI, energie, gesondheidsorg en onderwys, terwyl ander agterbly. Tegnologiese ontwikkeling en sosiale ontwikkeling beweeg immers nie outomaties teen dieselfde tempo nie.


En dan is daar natuurlik die onverwagte 2060.

Dit is waarskynlik die belangrikste scenario van almal.

Want die wêreld van 2060 sal waarskynlik dinge bevat wat ons in 2026 nie eens weet om te verwag nie.


Dit is presies waarom langtermynscenario’s nie dieselfde as voorspellings behoort te wees nie.


Die OECD het byvoorbeeld reeds ekonomiese scenario’s tot 2060 ontwikkel, maar selfs daar word verskillende beleids- en hervormingscenario’s langs mekaar geplaas om te wys hoe verskillende keuses verskillende langtermynuitkomste kan lewer.


Die punt is dus nie om te raai watter 2060 gaan gebeur nie.

Die punt is om te besef dat daar meer as een moontlike 2060 is.

 

En nou kom die interessante deel: waarom kan ons dit alles dink?

Omdat die menslike brein nie net op die huidige oomblik leef nie.


Ons kan terugdink en vooruitdink.

Ons kan herinneringe gebruik om moontlikhede te konstrueer.

Ons kan onsself in situasies plaas wat nog nie gebeur het nie.

Ons kan dink: “Wat as?”


Die navorsing oor toekomsdenke onderskei breedweg drie funksies. Ons gebruik ons vermoë om toekomstige moontlikhede te verken. Ons probeer die waarskynlike toekoms voorspel op grond van wat ons van die verlede weet. En ons gebruik toekomstige doelwitte om ons huidige gedrag te rig.


Hierdie drie dinge moet egter nie met mekaar verwar word nie.

Om iets te verbeel beteken nie dat dit waarskynlik is nie.

Om iets te voorspel beteken nie dat dit onvermydelik is nie.

Om ’n doel te hê beteken nie dat dit bereik sal word nie.


Maar al drie beïnvloed wat ons vandag doen.


Ons toekomsbeelde word dus deel van ons huidige werklikheid.

Dit is dalk een van die mees onderskatte feite oor menslike gedrag.

Ons leef gedeeltelik vanuit toekomstige wêrelde wat nog nie bestaan nie.

 

Ons kan selfs beïnvloed word deur toekomste wat nooit gebeur nie

Die navorsing oor historiese “past futures” maak hierdie punt besonder interessant.

Mense in die verlede het hulle eie toekomste verbeel. Hulle het besluite geneem op grond van daardie voorstellings. Baie van hulle voorspelde toekomste het egter nooit gebeur nie.


Dit maak die toekomstige beeld egter nie irrelevant nie.


Dit het steeds gedrag beïnvloed.


’n Mens hoef dus nie korrek oor die toekoms te wees om deur jou beeld daarvan gevorm te word nie.


Dink aan iemand wat in 1980 geglo het dat rekenaars die wêreld fundamenteel gaan verander. Of iemand wat geglo het dat die internet ’n tydelike gier is. Of iemand wat gedink het dat menslike kommunikasie nooit hoofsaaklik digitaal sou word nie.


Die toekomsbeeld waarmee jy leef, beïnvloed wat jy leer, waarop jy voorberei, waarvoor jy geld bestee, wat jy vrees en wat jy probeer bou.


Dit is waarom toekomsverbeelding nie bloot ’n intellektuele speletjie is nie.


Dit is deel van betekenisvorming.

 

Van toekomsverbeelding na toekomsagentskap


Hier begin – myns insiens – die belangrikste onderskeid.


Toekomspassiwiteit sê:

“Ons sal maar sien wat gebeur.”

Of:

“Daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.”

Of selfs:

“Die toekoms is reeds bepaal.”


Toekomsagentskap sê iets anders.

Nie:

“Ek beheer die toekoms.”

Maar:

“My optrede is deel van die proses waardeur sommige toekomstige moontlikhede meer of minder waarskynlik word.”  


Dit is ’n baie nederiger begrip van agentskap.

Ek skep nie die toekoms alleen nie.

Jy ook nie.


Ons doen dit saam met miljoene ander mense, binne groter sosiale, ekonomiese, biologiese, tegnologiese en ekologiese stelsels.


Hierdie is 'n belangrike punt: ons is mede-skeppers, maar nie almagtige skeppers nie. Daar is toeval, ander mense, natuur, ekonomie, biologie, oorloë, pandemies en tegnologiese deurbrake.  


Dit maak agentskap nie kleiner nie.

Dit maak dit realisties.

 

Die toekoms as betekenisvormingsproses


Hier kom ons by iets wat vir my nog belangriker is.

Ons vorm betekenis nie net deur te vra:

“Wat beteken my lewe?” nie.


Ons vorm betekenis ook deur te vra:

“Watter soort wêreld wil ek help moontlik maak?”


Dit is ’n subtiele maar belangrike verskil.


As ek glo dat die wêreld reeds vasstaan, word my taak hoofsaaklik om daarin aan te pas.

As ek verstaan dat die wêreld gedeeltelik deur menslike optrede gevorm word, word my vraag anders.


Wat is belangrik?

Wat is moontlik?

Wat behoort moontlik te wees?

Wat wil ek behou?

Wat moet verander?

Watter moontlikheid wil ek help ontwikkel?


Dit verbind betekenisvorming met agentskap.


’n Toekomsbeeld gee rigting.


Rigting beïnvloed keuses.

Keuses lei tot optrede.

Optrede verander die werklikheid.


Die veranderde werklikheid skep nuwe moontlikhede.

En daardie nuwe moontlikhede verander weer die betekenis wat ons aan die wêreld gee.


Ons kan die proses só voorstel:  


Moontlikheid → droom → begeerte → doel → plan → handeling → moontlike werklikheid → terugvoer → aanpassing → nuwe moontlikheid.


Dit is nie ’n lineêre resep nie.

Dit is ’n kringloop.

 

Daarom is 2060 nie eintlik die belangrikste vraag nie


Wanneer ek na 2060 kyk, kan ek vra:

“Hoe gaan die wêreld lyk?”


Maar miskien is die meer interessante en relevante vraag:

“Watter soort wêreld is ons vandag besig om meer waarskynlik te maak?”


Want die kind wat vandag gebore word, gaan nie in 2060 in ’n “toekoms” instap nie.

Vir daardie mens gaan 2060 eenvoudig die hede wees.


Dit is vir ons toekoms.

Vir hulle is dit hulle lewe.


Dieselfde geld vir die mens wat vandag dertig is. In 2060 sal hy of sy ongeveer 64 – net voor aftrede in vandag se terme – wees. Die wêreld wat ons nou as ver en abstrak beskou, sal vir daardie mens ’n konkrete alledaagse werklikheid wees. Ons moet leer om byvoorbeeld 2060 persoonlik te maak: nie net “die wêreld” nie, maar werk, geld, gesondheid, verhoudings, identiteit en familie.  


Dit bring ’n interessante intergenerasionele dimensie na vore.


Ons leef vandag binne die toekoms wat vorige generasies gedeeltelik geskep het.

En ons kinders gaan leef binne die toekoms wat ons gedeeltelik skep.


Ons erf dus nie net ’n wêreld nie.

Ons laat ook een agter.

 

So, wat beteken dit vir ons?


Miskien moet ons minder obsessief probeer wees om die toekoms te voorspel.


Nie omdat kennis oor die toekoms nutteloos is nie. Inteendeel. Demografie, wetenskap, ekonomie, tegnologie, klimaatmodellering en scenario-beplanning is almal belangrike maniere waarop ons onsekerheid beter kan verstaan. Maar elke model het grense, omdat die werklikheid voortdurend nuwe veranderlikes produseer.  


Ons moet daarom leer om met verskillende toekomste te dink.


Nie net die een wat ons hoop nie.

Ook die een wat ons vrees.

Die een wat ons verwag.

Die een wat ons nie verwag nie.

En die een wat ons graag wil help moontlik maak.


Dít is waar toekomagentskap begin.

Nie met sekerheid nie.

Met verbeelding.

Nie met beheer nie.

Met deelname.

Nie met ’n vaste kaart van 2060 nie.


Met die vermoë om telkens weer te vra:

Waar is ons?

Wat het verander?

Wat maak nou saak?

Watter moontlikhede sien ons?

Watter moontlikhede sien ons nie?

Watter toekoms maak ons deur ons huidige gedrag meer waarskynlik?

En watter een maak ons minder waarskynlik?


Miskien is dit uiteindelik wat dit beteken om ’n betekenisvormer te wees.


Ons ontdek nie bloot betekenis wat reeds daar lê nie.

Ons neem deel aan die vorming van betekenis deur die wêrelde wat ons verbeel, die waardes wat ons kies, die besluite wat ons neem en die werklikhede wat ons help skep.


Die toekoms bestaan nog nie.


Maar – omdat ons brein werk soos dit werk – ons voorstelling daarvan bestaan reeds.


En omdat ons voorstelling ons gedrag kan beïnvloed, begin die toekoms gedeeltelik binne ons voordat dit ooit buite ons verskyn.


Dit beteken nie dat ons die toekoms kan beheer nie.


Dit beteken iets interessanter.

Ons is deel daarvan.


Waarskynlik is die groot beweging van toekomspassiwiteit na toekomsagentskap juis hierdie klein, maar ingrypende verandering in ons denke:

Nie meer net:

“Wat gaan met ons gebeur?” nie.

maar ook:

“Wat is moontlik, en watter deel kan ek speel in wat uiteindelik gebeur?”


Ja, daar is geen kaart van of na 2060 nie.

Daar is wel moontlikhede.


En tussen moontlikheid en werklikheid lê iets baie mensliks:

verbeelding, betekenis, keuse en optrede.


Mag die ruimte tussen wensdenkery en fatalisme ook vir jou ’n ruimte van ondersoek word. ’n Ruimte waarin ons groot genoeg kan droom om moontlikhede raak te sien, maar nugter genoeg kan bly om die werklikheid te erken. Want ’n droom is nie ’n voorspelling nie. Dit is ’n moontlikheid wat ons verbeelding vir ons oopmaak. En wanneer ’n moontlikheid vir ons betekenisvol word, begin dit iets aan ons hede doen. Dit beïnvloed waarna ons kyk, waaroor ons vra, wat ons leer, watter keuses ons oorweeg en watter eerste tree ons bereid is om te neem. Die droom hoef dus nie die toekoms te ken nie. Dit hoef net ’n moontlikheid oop te maak wat die moeite werd is om te ondersoek.


Daarom is toekomsagentskap nie die vermoë om die toekoms te beheer nie. Dit is die vermoë om daaraan deel te neem. Ons kan nie alles kies wat met ons gebeur nie, maar ons kan wel binne die ruimte wat ons het, betekenis vorm, moontlikhede ondersoek, besluite neem, eksperimenteer, leer uit wat gebeur en aanpas. Die toekoms word dan nie ’n bestemming wat iewers op ons wag nie, maar ’n voortdurende wisselwerking tussen wat ons ons kan voorstel, die werklikheid waarin ons staan en wat ons vervolgens doen.


En miskien is dit die belangrikste verskuiwing van alles: van wag vir die toekoms na deelneem aan die vorming daarvan. Nie omdat ons weet wat gaan gebeur nie, maar juis omdat ons dit nie weet nie. Onsekerheid maak verbeelding nodig. Onsekerheid maak leer nodig. Onsekerheid maak aanpassing nodig. En dit maak ons keuses betekenisvol.


Ons hoef dus nie te weet hoe 2060 gaan lyk om vandag betekenisvol daarmee te begin leef nie.


Ons kan vra:

Wat is moontlik?

Wat is vir my belangrik?

Wat kan ek leer?

Wat kan ek probeer?

Wat kan ek help verander?

En wanneer die werklikheid antwoord, luister ons.

Ons pas aan.

Ons kies weer.


Want tussen die wêreld wat ons geërf het en die wêreld wat nog moet kom, is daar hierdie merkwaardige menslike ruimte waarin ons kan verbeel, betekenis vorm, kies en handel.


Toekomsagentskap is hier reeds aan ’t gebeur.  


Nie met sekerheid oor môre nie, maar met genoeg verbeelding om ’n moontlikheid raak te sien, genoeg vermoë om betekenis daaraan te vorm, en genoeg agentskap om vandag iets daaraan te doen.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek