🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Tuis Alle artikels
Op die pad na vandag se afspraak by die kafee-restaurant op die hoek:

Op die pad na vandag se afspraak by die kafee-restaurant op die hoek:

"Jy is laat, Albert. Ek het begin dink jy het besluit om die realiteit te systap.

Albert : Ek het gestaan en kyk na 'n man wat sy fiets probeer regmaak. Hy het geweet dit gaan nie werk nie, maar hy het aanhou probeer. Hy het duidelik gedink dit is belangriker om die fiets reg te maak as om betyds te wees.

Jean-Paul: Presies. Daar is jou vryheid waarvan jy praat. Die man kies om die fiets reg te maak. Hy gee daarmee aan daardie oomblik sy betekenis. Die drang om te bestaan gee betekenis, Albert. Ons dra die kruis van ons vryheid.

Albert: Gevonnis om vry te wees ja...... , jy laat vryheid klink soos tronkstraf wat jy geniet. Ek dink nie ons is so vry nie, Jean-Paul.

Jean Paul: Hoe kan jy dit sê? Wat anders kan ons wees as vry? Ons gee betekenis aan onsself. 'n Akteur is nie van nature 'n akteur nie. Hy speel toneel. Wanneer hy vergeet dat hy toneelspeel en begin glo hy is sy karakter, dan is hy nie meer eerlik nie. Wanneer die persona oorneem, groei hy weg van homself af. Hy en die wêreld vergeet hoe lyk sy regte gesig agter die masker.

Albert: En ek stem saam met jou oor die akteur. Maar jy dink vryheid los die probleem op. Ek dink vryheid is die probleem.

Kyk nou maar na die ou met die fiets. Hy is vry om die fiets reg te maak, ja. Maar hy is nie vry om vir ewig te lewe nie. Hy is sterflik. Hy is nie vry om die wêreld ʼn meer regverdige en vriendelike plek te maak nie. Dit is wat ek met die Absurde bedoel, hierdie botsing tussen ons behoefte aan betekenis, en die wêreld se meëdoenlose dawerende stilte.

Jy wil die stilte oorkom met 'n projek. Jou verbind tot iets. Jy wil iets nalaat.

Jean-Paul: Want om sonder 'n projek te lewe is om jou uniekheid prys te gee. Die mens is nie wat hy is nie, hy is wat hy van homself maak. Ons moet iets doén, kies, en ons verbind tot iets. Om te sê "die wêreld het geen betekenis nie" en daar te stop is kleinburgerlike nihilisme.

Albert: Ek het nooit gesê hou daar op nie. Dis waar ek en jy van mekaar verskil.

Jy dink omdat daar geen betekenis vir ons gegee is nie, ons dit self moet uitdink, self ons eie gode moet word. Dit lei jou daartoe om enigiets te regverdig as jou gekose projek dit vereis. Ek het gesien waarheen daardie logika lei.

Ek sê: Geen betekenis is gegewe nie, ja. Maar daar is grense. Ons Absurde lot bevry ons nie om enigiets te doen nie, dit verbied sekere dinge. Ons kan nie daarvan ontsnap nie, ons kan dit nie genees nie, ons kan slegs daarteen in opstand kom.

Jean-Paul: Opstand? Soos Sisyphus wat sy rots berg op rol? Jy vind vryheid in berusting.

Albert: Nie berusting nie. In vryheid kry jy opstand en helderheid. Sisyphus weet die rots gaan weer bergaf val. Toeval bestaan nie, die gode het hom veroordeel om te doen wat hy doen, maar die rots self het geen doel nie. Sy lot is bepaal, maar sy reaksie en hoe hy optree is sy eie besluit. Hy hoop nie dat die rots môre bo sal bly nie. Hy verag die gode en stoot nogtans. Daardie veragting is sy vryheid. Nie absoluut nie, nie totaal nie, maar menslik.

Jy wil hê die mens moet groter as hyself wees. Ek wil hê hy moet mens bly.

Jean-Paul: Om mens te wees, is opsigself ʼn unieke gawe! 'n Mens maak sy wêreld wanneer hy kies. Wanneer ek kies om by die weerstand aan te sluit, om te skryf, om weerstand te bied, kies ek nie net vir myself nie, ek kies die mens. Ek bepaal my eie wette.

Albert: En as jou eie reëls 'n leuen vereis? As dit bv. vereis dat ons sê 'n mens moet sterf vir iets in die toekoms? Dan het jou eksistensialisme 'n verskoning geword vir 'n nuwe determinisme. Eers het ons God doodgemaak, nou wil jy Hom met selfverwesentliking vervang.

Vir my is daar geen fatalisme of omstandighede wat moord regverdig nie. Daar is geen kernbetekenis genaamd "Mens" waarheen ons beweeg nie. Daar is net hierdie lewe, hierdie son, hierdie gesigte. Die menslike kondisie is nie dat ons moet word wat ons nie is nie, dit is dat ons moet leef en vrede maak met wat ons nooit sal wees nie.

Jean-Paul: So wat bly oor, Albert? Jou Mediterreense geluk? Jou son sonder oorwinning?

Albert: Wat oorbly is alles. As daar geen môre is om ons te regverdig nie, dan maak alles nou saak. Vriendelikheid teenoor die man met die fiets. Die weiering om te lieg. Die weiering om dood te maak. Ons moet leef en laat leef, sonder beroep op iets groter buite ons self.

Jy wil die wêreld verander om dit betekenis te gee. Ek wil in die wêreld leef soos dit is, om dit te trotseer ten spyte daarvan dat dit geen betekenis het nie. Jy noem dit eksistensialisme. Ek nie. Ek noem dit eerlikheid.

Jean-Paul: Jy was nog altyd die meer morele van ons twee, Albert. Dit is jou swakpunt.

Albert: En jy was nog altyd die meer sistematiese. Dit is jou swakpunt.

Albert en Jean-Paul raak stil terwyl hulle luister na die straattroebadoer op die sypaadjie se lied. Die man met die fiets gee uiteindelik moed op en begin stap, terwyl hy sy stukkende fiets oor sy skouer dra.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek