'n Onheilspellende oomblik. Slaaptyd in 'n hotel in Muskat, hoofstad van Oman, en 'n telgie sit skielik kiertsregop in sy hotelkooitjie. "Waar is 'asie?," vra die 2½-jarige Daniel met groot oë. 'asie, of Hasie, sy teddie-hasie van geboorte af. Die enigste naam wat die hasie ooit gehad het, was "Hasie", maar danksy die feit dat Italianers nie 'n "H" uitspreek nie, en sy kinderoppasser Italiaans was, was Hasie altyd "'asie".
Die oomblik toe hy die vraag vra, weet ek wat die antwoord is – en dis nie 'n goeie een nie: 'asie is in die woestyn. Die Wahiba-sandwoestyn, om presies te wees. Vier ure se ry van hier. En more-oggend klim ons saam met 'asie se ontredderde eienaar, met die voortekens van moontlike waterpokkies, op 'n langafstandvlug huistoe na Cambridge.
As ek deur foto's van daardie vakansie kyk, is 'asie oral saam met Daniel – in die souk in Muskat, by die bokmark van Nizwa, op 'n staptog in die Jebel Akhdar, op die fortmure by Nakhl, op die strand. En op die kameel in Wahiba...
Ons dink vinnig, met die oog op more se vlug. Nee, weet ons te vertel, 'asie was so mal oor kameel-ry, sy – sy was onverklaarbaar altyd "sy" – het besluit om in Wahiba te bly en nog bietjie kameel te ry. Sy is slim en sal haar eie weg huistoe vind. Want ons weet waar 'asie vandaan is, is daar nog hasies... Die kennelik geloofwaardige verduideliking paai hom en hy dommel in.
Op 'n Tweede Nuwejaarsdag in Cambridge glip ek dus weg na die hasiewinkel, bekom 'n nuwe hasie, sit hom voor die voordeur neer, en gee in die huis voor om haar kenmerkende springgeluid te hoor. Sy word begroet met verwondering, 'n blye weersiens, en geen agterdog oor hoe "skoon" 'asie huistoe gekom het nie...
In die tien jaar sedert daardie nood-leer-bid slenterslag, het ons nooit vir Daniel gebieg dat sy 'asie nie die oorspronklike 'asie is nie... Moet ons sleg voel oor hierdie wit leuen? Of is dit 'n klein bewysstukkie vir die gedagte dat die hele waarheid nie áltyd deugdelik is nie?
Vir twaalf jaar reeds liefkoos Daniel dus Hasie – sy het haar "H" darem mettertyd bygekry – se oortjies. In daardie kleuterdae het hy altyd verduidelik hy "maak 'asie se ootjies doog", want hulle is koud. Eers later het nat/droog en koud/warm vir hom sin gemaak. Maar danksy al die "droogmaak" van daardie reeds droë oortjies oor die jare is hulle nou al so-te-sê deursigtig aan flarde. My voorstel van 'n "oor-oorplanting" van 'n skenker-hasie se ore is met afgryse begroet.
Miskien nog 'n beskeie, selfs voor-die-hand-liggende lewensinsig: vertroudheid weeg swaarder as skoonheid, liefde eis nie volmaaktheid nie.
Maar Muskat was nie ons – of Hasie se – se enigste noue ontkoming op reis nie. 'n Jaar ná haar onbeplande verhuising na die Wahiba, is ek en Daniel in 'n taxi van die middestad van Buenos Aires na Ezeiza-lughawe. Ons was saam met Theresa in Patagonië, maar sy is reeds vroeër terug werk toe. Ek en Daniel het 'n stuk of 2 000km van die Ruta 40 se 5 500km langs die Andes opgery van El Calafate, en toe gevlieg na Buenos Aires.
Vanoggend voor ons vertrek na die lughawe vir ons vlug huistoe was daar taxi-moles. Die taxi wat die hotel gereël het, was laat, toe wink ons maar een in die straat nader. Dit is hier waar ek nou op die snelweg in my kop probeer lys maak van of ek alles by my het – paspoorte, beursie, leesstof vir 'n láng vlug, bagasie, Hasie... Het ek Hasie vanoggend uit die hotelbed gehaal?
Ek vra die taxi-bestuurder om te stop en ek kyk – sonder om vir Daniel te sê waarna ek soek – in die tas waarin ek wéét ek Hasie sou gesit het ás ek haar ingepak het. Maar van Hasie is daar geen teken nie...
Dan maar terug in die kar en voort na die lughawe – 45 minute se ry. Ek bel die hotel en probeer hulle so subtiel moontlik vra om te gaan kyk of daar 'n "sagte speelding" in die bed in kamer 505 is. Minute later bel hulle terug: ja, 'n klein hasie. Dit voel soos 'n definisie van "verknorsing": Ons is op 'n snelweg na die lughawe, te ver om te probeer omdraai, vir 'n vlug van 14 ure huistoe, en my 3½-jarige reisgenoot se liefling-Hasie is by 'n hotelontvangs in die middestad.
Met een oog op Daniel vra ek of daardie taxi wat laat opgedaag het vir ons dalk nog in die omtrek is. Hy is. "Sal die bestuurder oorweeg om die sagte speelding lughawe toe te bring", wil ek weet. Hulle gaan vra en kom terug met bevestiging: teen die gewone meterprys (Argentinië is dekades al 'n ekonomiese noodgeval en die taxi is genadiglik goedkoop). "Reg so, stuur hom asseblief, ons wag voor die vertreksaal," vra ek.
Êrens tussen selfvondaan en bedug beëindig ek die oproep: ek weet nog nie alles gaan reg wees nie, maar daar is darem nou 'n kans.
Deur al my koorsagtige oproepe sprak Daniel g'n sprook nie en bepaal hom by sy rekenaartablet, maar dan besef ek hy het aandagtig sit en luister en alles ingeneem: "Pappa," vra hy, "het jy vergeet om my Hasie in te pak?" As ek nog gewonder het oor hoe belangrik dit is dat ons Hasie kry voor die vliegtuig opstyg, weet ek nou: dit gaan my fout wees as sy agterbly, en ek het 'n stille spesmaas dat 'n plaasvervanger-hasie nie die knoop gaan deurhaak soos 'n jaar gelede nie...
Waar ons voor die vertreksaal staan, ek soos 'n kat op 'n warm sinkplaat, skandeer ek elke taxi en elke man wat alleen stap, om te sien of een vir Hasie dra. Dan sien ek hom: 'n man in sy sestigs kom aangestap met Hasie non-chalant aan haar oortjies in sy linkerhand. Ek dog ek val hom om die hals en vir 'n tweede keer in twaalf maande is daar 'n bly weersiens vir Daniel en 'n sug van verligting vir my.
Die tog huistoe vlieg verby en Daniel vertel by ons tuiskoms ingenome vir Theresa hoe Hasie in haar eie taxi lughawe toe gery het.
Hasie se reise is nou op't einde. In later jare was sy nader aan 'n onversekerbare en onvervangbare erfstuk as 'n reisgenoot-teddie. By die huis is haar oortjies steeds soms gekoester en slapenstyd was sy steeds naby, maar sy het tuis gebly.
As Daniel afgestap het laerskool toe, is sy op Theresa se tuislessenaar gelaat, waar sy glo reeds 'n aantal doktorsgrade in taalwetenskap verwerf het, aldus Daniel. Hoe sy hoor met daardie gehawende oortjies weet Daniel alleen.
Teken in om te kommentaar