Tou
“My seun het nie sy eie lewe geneem nie!” gil ʼn vrou. Aarbeikleurige hare waai soos vlamme om haar kop. Haar selfoon tref brigadier Buys teen die slaap, stamp sy bril af. “Luister na sy laaste stemboodskap.”
Buys probeer paai, maar sy val hom in die rede.
“Ek’t gegoogle, daar’s in die afgelope vier jaar drie gevalle waar ʼn selfmoordtienerpaar gevind is. Net een paartjie was verliefdes. Die ander ...”
Sy sug so hard, dit klink asof sy haar laaste asem uitblaas.
Hy herrangskik die foto’s sodat dit lyk asof hy daarna kyk. Druk sy kroontjie met spoeg plat, maar dit spring dadelik weer op aandag.
“Mevrou ...” Hy maak keelskoon, probeer weer. “Mevrou, het u al aanvaar dat jou seun en sy vriend ... dalk meer was as ... vriende.”
“Moenie jy nou óók kom staan en die LGBTQ-kaart met my speel nie. Almal dink omdat my kind se pa vroeg in sy lewe dood is en niemand hom geleer braai of ʼn wiel omruil nie, hy’s ...” Die laaste woord word deur trane gesmoor. Haar stem is sag wanneer sy weer praat. “Kyk na die feite. Asseblief!”
Sy begin snik, haar liggaam ruk.
Donderweer rammel.
Buys tel sy bril op. Sy knieg knak toe hy opstaan. Hy kners op sy tande. Vryf die knieg. Loop hinkepink om die lessenaar en gee die vrou se selfoon vir Roux.
Dit is asof sy Roux – hare en baard skuurpapierlank, littekens oor sy kneukels – vir die eerste keer raaksien. “Wie’s jy?”
Gevangene 93/156604. Op parool sedert 15 Mei, ná drie-en-twintig jaar in dertien van die land se 243 maksimumtronke. Nou polisie– Wat noem die kommissaris dit? Konsultant.
“Ek’s ʼn kenner op galgmoorde.” ʼn Senuwee spring in Roux se wang.
“Galgmoorde? Is dit wat julle dit noem?”
Buys probeer oogkontak breek. Bal sy vuiste. Flippen tronkvoël, ʼn mens kan julle bliksems ook nêrens vat nie.
“Nee, Mevrou, ek’t by die galg gewerk. Destyds toe gevangenes nog gehang het vir hul sondes.”
Buys snork.
“Galgmoorde,” sy herkou aan die woord. Kyk Buys waterpas in die oë. “So, julle ondersoek reeds die moontlikheid van ʼn reeksmoordenaar, en jy sê my niks. Niks.”
“Mevrou, ons ondersoek alle moontlikhede,” Buys gluur Roux aan: “En ek sal jou op hoogte hou sodra ons ʼn verbintenis vind.” Hy kruis homself. “Belowe.”
Sy sak inmekaar soos iemand wat alles verloor het. “Hy was hoofseun, jy weet. Sy juffrou het gesê sy glimlag het die klas gelig.”
Buys stap saam met haar uit, keer terug met twee bekers koffie en ʼn pak kakielêers. Gee laasgenoemde vir Roux.
Roux slurp sy koffie en blaai na die foto’s. Pak dit langs mekaar uit. Sy oë trek skrefies. “Is dit skottelgoedwater die?” Hy staar na die lêer voor hom. “Het jy ʼn vergrootglas?”
“As jy oor die koffie wil kla, is jy welkom om vir ons takeaway saam te bring. Van wanneer af bederf die tronk gevangenes met Starbucks?” Buys krap in sy laaie, gee vir Roux ʼn vergrootglas aan. “Sien jy iets?”
“Ek dink sy’s reg. Kyk na die knope.”
Buys neem die foto’s en vergrootglas, staar lank, skud sy kop. Hy ruik na tabak en sweet. Suig aan sy pyp, vryf sy duim oor sy wenkbrou. Drie steke. Oog opgeswel, bo-lip ook. Weiering van arrestasie.
“Ek dink nie al die kinders sou hul toue dieselfde geknoop het nie.” Roux krap in sy oor met ʼn pendoppie, wys dan daarmee: “Kyk hier, hierdie knoop lyk soos ʼn das.” Hy tel die ander foto’s op. “En hier. Hier.” Pruim sy lippe. “Die polisie sou dit nooit met mekaar vergelyk het nie. Dalk in een dorp, maar so? Verspreid. Hierdie is die perfekte reeksmoordenaar, niemand weet van sy bestaan nie.”
“So, ons kyk na ʼn reeksmoordenaar wat kinders in Vereniging, Middelburg en Klerksdorp vermoor het.” Stilte. Dan: “En dis net die waarvan ons weet. Sê nou ...” Hy knyp sy oë toe. Roux leun vorentoe om te kan hoor. “Sê nou daar is meer.” Hy weeg sy woorde: “Dink jy dit is ʼn onderwyser? Hulle het toegang tot kinders ...”
“Nie noodwendig nie. Onthou jy daardie regse skieter in Boksburg? Ons het in die tronk gehoor die eerste vrou wat hy doodgeskiet het, was sy swanger huishulp.”
As hulle nou teenwoordig was, sou predikante Buys die leviete voorgelees het omdat hy die Skepper se naam so ydellik gebruik.
Buys vee sy oë met ʼn sakdoek droog. Vra enige man wat al arrestasie geweier het, hy is baksteenhard, maar as dit by kinders kom, is hy bottersag. Slaak ʼn diep sug. “Hemel, soveel kinders ... Vark.”
∞ ∞ ∞
Vier dae later het Buys almal wat die slagoffers ken persoonlik ondervra. Hy’t ʼn forensiese sielkundige saamgeneem om die mense se liggaamstaal dop te hou.
Doodloopstraat op elke hoek. Daar is geen verbintenis nie. Buiten die knope.
∞ ∞ ∞
Mugg & Bean kyk uit op Ster Kinekor. Roux sit met sy rug teen die muur. Hy kan die ingang dophou én oor die reling spring as hy moet vlug. ʼn Mens weet nooit. Die tronk het hom geleer om altyd paraat te wees.
Die Mall wemel van kinders.
Hoe identifiseer die reeksmoordenaar sy slagoffers? Facebook? Of liewers Instagram of TikTok? Hoe lok hy hulle nader en wen hul vertroue? Daar is geen kneusplekke wat op hardhandigheid dui nie. Slaappille? Die polisie sou tog hulle bloed getoets het om die moontlikheid uit te skakel. Hierdie vent is uitgeslape.
Hy het reeds vir hom en Buys chai-tee bestel; flirt nou eers met die kelnerin voor hy aan Buys aandag gee. “Ek’t op Instagram gaan kyk,” Roux se oë volg die kelnerin se wiegende heupe, “na daardie meisie wat haar eie lewe geneem het. Jy weet mos, in dieselfde tydgleuf as die eerste selfmoordpaar. Een van die ouens saam met haar het ʼn 28-tatoëermerk in die nek. Sy het hom getag, Basil Adams. Ek wed jou hy het dit soos selfmoord laat lyk.”
“28? Soos in die tronkbende?” Buys se hande omskulp die beker tee; hy vloek ʼn matroos skaam. “Was die moorde in dieselfde dorp?”
Roux loer oor sy beker. “Jip, drie dae uit mekaar.”
“Vergeet van haar agterstewe en praat met my.”
Roux vee oor sy duim. “Sorry, ʼn man is uitgehonger na soveel jaar. Ek dink hy’t die eerste paartjie vermoor om die meisie se dood te verbloem. Mense te laat dink aan eksamendruk, grootmenslewe, en so aan. Dit is nou te laat om vas te stel, maar ek wed jou my vryheid, sy was swanger en wou haar ouers vertel. ʼn Klag sou hom terug in die tronk gegooi het. Toe moor hy haar en gaan aan met sy lewe. Werk. Kerk. Gholf, of wat ook al. Maar die drang om weer te moor ...”
Buys sak terug in sy stoel. Krap sy ken. Haal sy selfoon uit sy sak en lees die adres wat Roux vir hom gegee het. Beveel: “Skep die vark.”
Terwyl Buys met sy kaart betaal – ʼn stewige fooitjie ter wille van Roux, ingesluit – stoor Roux die kelnerin se selfoonnommer.
∞ ∞ ∞
Roux bel een van sy manskappe, wat dadelik antwoord. Beveel: “Basil moet verdwyn, so diep onder die see dat die Duitse duikbote hom nie eens kan kry nie. Gee my ʼn missed call sodra jy voor sy huis staan.”
Toe die oproep deurkom en dadelik beëindig word, stuur Roux vir die reeksmoordenaar ʼn DM. “Die platpote is op pad.” Nie omdat hy Basil wil red nie, maar omdat hy wil weet wie hom sal help vlug. Wie sy helpers is. Hoe wyd die netwerk is. En of Buys hom sal glo wanneer die hele ding uitrafel.
Glimlag. Die web is fyn gespin!
Hy sou die reeksmoordenaar self gesink het as hy kon, maar die departement van korrektiewe dienste se enkelmonitor hou alle beweging dop. Gelukkig stap hy en sy span ʼn lang pad, meestal deur ʼn tronk of twee.
∞ ∞ ∞
Buys storm die moordenaar se huis binne, vuurwapen oorgehaal. Veiligheidsknip af. Sy knie keil hom.
“Die ou het weggekom,” sê ʼn konstabel nadat hulle die huis deursoek het.
Die kombuis ruik na verbrande roosterbrood. Buys druk sy hand teen die ketel, lou.
Die vark was haastig.
Die konstabel roep vanuit die een slaapkamer, wys na die rekenaar toe Buys instorm. “Iemand het hom met ʼn DM gewaarsku dat ons op pad is.” Voeg by: “Ek wed Brigadier dis daai Roux-bliksem. Dis maklik vir hom om ʼn vals profiel te skep.”
“Hoekom sal Roux ons op sy spoor sit en hom daarna waarsku?” Hy weet hoekom. Roux kon enige tyd van hom ontslae geraak het, maar hy wou vir Buys wys dat hy kan help sake oplos – sommige permanent.
Buys se stem is sag, vaderlik. “Dié vent gaan nie stop voor hy dood of in die tronk is nie.” Hy skud sy kop: “Roux was reg, ons saak is nie sterk genoeg om hom skuldig te bevind nie.”
“En nou’s hy boonop in die wind.”
Buys stop sy pyp. Rook spook hemelwaarts. Hy staar lank na die rekenaarskerm. In die ou dae het hy twee sake met ʼn loodpil in die kop opgelos, hoe kan hy nou Roux se werksmetode veroordeel?
Hy delete die waarskuwingsboodskap.
“Plaas die vent op ons voortvlugtende lys, maar moenie te hard soek nie. Ek dink nie ons gaan hom lewendig opspoor nie.”
“En Roux?”
“My konsultant het niks hiermee uit te waai nie. Gaan check sy enkelmonitor as jy wil. Die kindermoordenaar het seker ʼn bief met iemand anders gehad.” Hy mompel met sy lippe om sy pyp. “Wanneer dit by kinders kom, verstaan die bliksems iets van geregtigheid.”
Teken in om te kommentaar