Terug na Tuis Alle artikels
GRATIS KORTVERHAAL: Die koerierpakkies (Roux #4)

GRATIS KORTVERHAAL: Die koerierpakkies (Roux #4)

Die koerierpakkies

“Wat sal kriminele in koerierpakkies rondstuur?” vra brigadier Buys tussen happe barbecue chicken pizza aan Roux wat sedert sy parool in Julie verlede jaar vir hom as polisiekonsultant optree. Buys sluk, vee sy mond met ʼn servet skoon. Frommel dit op, skiet dit soos ʼn basketbal in die asblik. Mis. Klap met sy tong.

Roux krap met ʼn pendoppie in sy oor, vryf dit teen ʼn stukkie toiletpapier skoon. “Niks. Niemand stuur geld of diamante met ʼn koerier rond nie. En honde sal dwelms, plofstof en vuurwapens uitsnuffel.”

“Soek jy ʼn oorstokkie?” Buys druk die pizzaboks in die asblik, krap in sy boonste laai. Orals op sy lessenaar troon dossiere. Teen die muur agter hom hang sertifikate vir getroue diens: 5, 10, 20 en 30 jaar. Weerskante daarvan: troufoto’s, ʼn foto van die huidige staatspresident, ʼn kalender met ʼn vakbond se naam daarop en ʼn vergeelde A4-bladsy met noodnommers, van die ambulans en brandweer tot beraders.

“Ek’t nie geweet Bloedhond Buys is ʼn metroman nie,” koggel Roux. “Wag tot my crew dit hoor.”

“Ek gebruik dit wanneer ek teken,” verduidelik Buys.

“En hier dog ek nog al die tyd jy werk wanneer jy so kop onderstebo met ʼn potlood in die hand sit. Is jy goed? Kan ons van jou sketse verkoop en aftree?”

Buys trek sy skouer op. “Miskien. Ek teken net die misdadigers wat ek gevang het.”

“Menere ...” kug ʼn man in ʼn blou golf-T-hemp. Courier Guy is in oranje op sy bors borduur. In die web tussen sy duim en wysvinger is die nommer 26 getatoeëer. ʼn Tronkbende.

Buys kyk vir die koerier en knik in Roux se rigting, sê: “Dalk moet jy hóm sê wat jy opgetel het.”

Die koerier maak sy keel skoon. “Is jý die stasiebevelvoerder? Ek probeer al heeloggend om met u te praat. Op 20 April het iemand vier pakkies met Pudo gestuur. Welkom, Mbombela, Randburg en Paarl.” Hy raadpleeg ʼn notaboek voor hy verder praat. “Op 3 Junie het elkeen van die vier vroue wat ʼn pakkie afgehaal het, weer ʼn pakkie gestuur, hierdie keer na Bloemfontein. ʼn Man het dit afgehaal, maar geen foto van sy gesig is sigbaar nie.” Hy gooi ʼn paar gedrukte foto’s voor Roux neer. “Twee dae later het die man weer vier pakkies met Pudo gestuur. Na vier ander dorpe.”

Roux druk die oorstokkie in sy mond, druk die nat watte in sy oor, delf. Wurm die oorstokkie en stukkie toiletpapier in ʼn leë Coke-blikkie en gooi dit in die asblik. “Het jy of iemand een van die pakkies oopgemaak?” Op die koerier se kopskud, kyk Roux na Buys. “Ek sien nie ʼn saak nie.”

“Daar’s ʼn patroon,” die koerier se stem klim ʼn paar toonhoogtes. Hy druk nog papiere in Roux se hande. Dit is ʼn lys met datums en name. Volgens die lys is die patroon destyds gedurende die inperking opgetel. Vier-een-vier-een.

Roux: “Weet ons of die ‘een’ dieselfde persoon is? Ek koop gereeld boeke op Facebook wat met Pudo of Paxi na my gekoerier word. Ek het ook al boeke daarmee teruggestuur. Koop die vroue nie iets op Facebook by die man en stuur dit dan later terug nie? Dan scam hy iemand anders.” 

“Hoe?” Buys krap sy kop.

“Mense koop iets aan en wanneer hulle die pakkie oopmaak, is daar iets anders in. Sommer ʼn goedkoop, aanmekaargeflanse ding.”

“So, daar is ʼn saak!” Triomfantlik.

“Ek sal vir Nadine sê jy gaan haar birthday mis, maar eers nadat sy jou gunstelingmelktert gebak het,” spot Buys.

“Dis nie nodig nie, ek sal eers ná haar party ry, dan kan sy vir my ʼn travel snack inpak.”


∞ ∞ ∞

Kwart oor drie sit Roux in die Sanctuary, sy gunstelingkoffiewinkel. Die bome, voëltjies en rustigheid – byna Boeddhisties – is die teenoorgestelde wat hy jare in die tronk beleef het. Hy sit altyd op dieselfde plek, met sy rug teen ʼn muur, ʼn vlugroete naby. Hy drink altyd dieselfde – ʼn cappuccino sonder ʼn piering, ʼn koekie of suiker. Die eienaars se dogter het reeds sy foon aan hul Wi-Fi gekoppel.

In die tronk was daar heelwat ouens wat vroue vanuit die tronk ge-scam het. Hulle het die vroue altyd op Facebook uitgesoek. Gewoonlik dié wat soos ʼn sagte teiken gelyk het.

Daarom begin Roux op Facebook. Drie van die laaste vier vroue se profiele is publiek, die vierde een se profiel is privaat. Die trio se profiel is vol prentjies met mooi boodskappe, foto’s van kinders se prestasies, vakansies – niks wat aandag trek nie.

Maar sy geoefende oë tel die blank spots in hul profiele op. Al drie was ʼn tyd onaktief op Facebook, onderskeidelik drie, vyf en nege maande.

Hy maak screen prints hiervan en stuur dit vir Buys op WhatsApp. Verduidelik met ʼn stemboodskap.

Die “onaktiewe tyd” is sonder twyfel aan die Pudo-pakkies gekoppel. Hoe? Die datums stem ooreen.

Net een manier om uit te vind of sy teorie reg is. Nadat hy in ʼn verslag aan sy parool-offisier toestemming gevra het om die Matlosana-munisipale distrik te verlaat en ʼn dokument gekry het wat hy elke dag uitstedig by ʼn polisiestasie moet laat stempel, ry hy deur Welkom toe.

Nie omdat die 138 km die naaste aan Klerksdorp is nie, maar omdat die 32-jarige juffrou, ʼn enkelma van ʼn vyfjarige bulletjie, na die kwesbaarste teiken tussen die drie vroue lyk.

OFM kliphard, energiedrankie. Kort-kort beproef hy die spoedgrens.

Net ná sononder trek hy voor die erf van die Welkom-vrou in, bel haar.

Toe sy antwoord, toets hy ʼn taktiek: “Mevrou, die polisie weet. Maak oop, asseblief.” Hy vloek en verhef nie sy stem nie. Dit is hoe bloubaadjies nuwelinge intimideer. Bankrowers doen dieselfde, bewaarders ook – nie speurders nie.

Die vrou se gesig is spookwit; sy bied nie koffie of tee aan nie, sit op die punt van haar stoel, vingers speel met haar bloes. Hulle praat sag om nie die bulletjie in die slaapkamer se aandag te trek nie.

“Ons weet alles Mevrou, ek wil net weet hoekom.”

Haar oë skiet gangaf. “Hy’t my verkragtingsaak ondersoek. Hy’t gesê die skuim ... ” Sy probeer haar asemhaling onder beheer kry, verfrommel haar bloes in haar vuiste: “Die skuim bly nooit lank in die tronk nie. Ek’t op Netwerk24 gelees van die Alison-saak.”

Hy was verkeerd: Sy’t nie gangaf geloer nie, maar na die voordeur; sy wou seker maak dit is gesluit, dat sy veilig is, voor sy praat. As Roux haar laat veilig voel, sal sy die pakkie vir hom gee.

Sy vertel hom wat gebeur het. In detail. Van die verkragting tot ʼn kolonel in die polisiediens se klop aan die deur een Sondagmiddag. Sy vee haar oë met haar moue af. Hy doen sy bes dat die tipe mans nooit weer ʼn vrou verkrag nie, het die kolonel gesê, maar daarvoor het hy hulp nodig, net een keer. Al wat sy moet doen, is om ʼn pakkie af te haal, en later weer – onoopgemaak – te koerier. Hy sal sê wanneer en waarheen. Selfs die geld vir die koerier in sy pakkie insluit.

“Wat’s in die pakkie? Kan ek sien. Asseblief.” Sy stem is sag. Soos die eerste keer dat hy aan sy dogter jammer gesê het omdat hy haar nooit sien grootword het nie. Drie en twintig jaar agter tralies het nie net haar van ʼn pa beroof nie, maar ook hom van herinneringe.

“Hoe’t julle op my – sy – spoor gekom?”

Dit is die groot vraag. Die koerier kon onmoontlik die vier-een-vier-een-patroon opgetel het, as hy nie spesifiek daarvoor gekyk het nie.

Later.

Maar eers: Sy dink sy help hom om skuim vas te trek; dit laat haar spesiaal voel.

“Ons het ʼn pakkie gekry, met ʼn nota: Ek kan nie meer nie.”

Sy snak hoorbaar na haar asem.

Hy laat haar glo dat die kolonel gejok het, dat dit nie net een keer gaan wees nie. Dat daar meer vroue – muile – soos sy is.

Sy bring die pakkie en loer oor sy skouer terwyl hy dit oopmaak. “Wat’s dit?”

“Die sluitstuk van ʼn pistool. Die kolonel is uitgeslape. ʼn Beretta kan in vier dele uitmekaar gehaal word. Hy skiet ʼn verkragter en verdeel die moordwapen in vier, stuur elke stuk na iemand soos jy, en sodra hy dit weer nodig het, stuur julle dit weer na hom. So kan hy nooit met die moordwapen betrap word nie.” Stilte. Dan: “Jou kind se pa, waar’s hy?”

“In Klerksdorp.” Haar bolip bewe. “Hy dreig my gereeld, sê sy bendebroers gaan my bykom as ek weer date.”

In die tronk leer jy om met ʼn vrag dwelms verby bewaarders te loop sonder dat ʼn spiertjie in jou gesig spring. Kalm soos ʼn daggawalm. “Hoe lyk hy?”

Sy wys hom ʼn foto op Facebook. Die koerier met die 26-tatoe tussen sy duim en wysvinger. Hy het haar dopgehou, gesien sy kry ʼn pakkie, maar kon nie die man opspoor nie. Wou die polisie gebruik om hom te help.

“Mevrou,” sê Roux, sy hand op haar elmboog: “Stuur die pakkie wanneer die kolonel vra, sê vir hom die polisie staak die ondersoek.”


∞ ∞ ∞

Die volgende oggend wag Roux voor die koerier se huis. Toe die man uitklim om die hek toe te maak, storm Roux op hom af, krieketkolf in die hand, balaklawa oor die gesig. Slaan!

“As jy jou eks-vrou ooit weer dreig, is ek terug.”

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗