Die sindikaat
Hy sit nooit in ʼn restaurant wat nie ʼn vlugroete het nie. Ook: Hy sit altyd met sy rug teen ʼn muur sodat hy die ingange kan dophou. Sy stoel effens uitgetrek sodat hy dadelik kan opspring en beweeg. Hy eet en drink nét met sy linkerhand. Sy regterhand rus op ʼn mes op sy skoot. Dit neem tyd vir jou hand om na ʼn wapen te beweeg, veral as jy eers ʼn beker moet neersit. Selfs sekondes kan jou lewe kos. Verloor jy jou greep weens vetterige vingers, is dit tickets.
Omdat hy ten alle tye waaksaam is, het Roux Steyn drie en twintig jaar van sy lewe in dertien tronke landwyd heelwat bende-oorloë oorleef. Toe hy verlede jaar op parool vrygelaat is, het hy nie daardie paraatheid in sel ses agtergelaat nie – inteendeel.
Daarom sit hy nie kwart oor agt op ʼn Vrydagaand in Nando’s, Klerksdorp, se restaurant nie. Hy sit buite op die stoep. Natuurlik nie aan die Drive-Thru se kant waar iemand vanuit ʼn voertuig op hom kan skiet nie.
Wind sproei reëndruppels na hom.
In sy roomkleur Wildebees T-hemp, baard en hare skuurpapierkort, is hy sag op die oog. As jy iemand is wat van dorings aan rose hou. Die tronksielkundige het sagte kleure voorgestel. En ʼn gladgeskeerde gesig en hare wat sy ore kielie. Ná al die jare agter tralies, het hy die pastelkleure verwelkom, maar die baard en hare? Nee, die dominee look sal nie vir hom werk nie.
ʼn Skerpioen-tatoeëermerk loop in sy nek af na ʼn sewepuntster toe. En die woord Eastside, die tronkbende wat hy dekades lank regeer het.
Oorkant hom drink die eienaar ʼn swart filterkoffie. So sterk, die teelepel staan regop daarin. Lewis Hamilton behoort sy Ferrari op dié plek se koffie te kan jaag. Voor hom is ʼn dagboek, ʼn pak papiere en ʼn MacBook. Sy iPhone is so gedraai dat hulle saam na die YouTube-video kan kyk. Terwyl hulle kyk, verduidelik die eienaar die Barnard-renmotors word in Bloemfontein vervaardig. Hy ken die broers.
Oorkant die pad, wissel ʼn vragmotor ratte, trek af. Die bestuurder praat deur die venster met ʼn vrou in ʼn minirok wat net-net haar bates bedek. Sy klim in.
Wat hou haar in hierdie leefstyl? Dwelms? Daai vrou wat Rooiletterkind geskryf het, kan gerus ʼn opvolgboek skryf oor die kind wat die hoofkarakter is. Háár storie wil hy lees. Mense se stories fassineer hom.
Wind huil deur die winkel, oor die stoep.
Vier mans klim uit ʼn swart SUV met getinte ruite. Geen nommerplaat nie. Swart jeans en rolkraaghemde. Hulle lyk soos gewapende rowers.
Die bestuurder gaan staan in die ry om hul bestelling te plaas. Kyk rond, seker om vas te stel waar oral kameras is. Die man wat links agter uitgeklim het, pyl op die toilette af, seker om te kyk of enige gevaar daarbinne skuil.
As die oorblywende twee mans bly staan, gaan hulle hom aanval; sit hulle, beteken dit hulle wil gesels.
Het hy in die verkeerde man se slaai gekrap? Hy moet in die toekoms eers op Facebook loer voor hy vroue slaapkamer toe lok. As hy net ʼn vaste meisie kan kry!
Die eienaar van Nando’s staan op toe die twee mans naderstap. Hy kyk om hom rond.
Die mans neem stelling in oorkant Roux. Albei sit.
Stoom spook hemelwaarts by Roux se beker uit. Hy kan die kokende koffie in die een man se gesig skiet, daarna die mes in sy maat se slagaar plant.
“Tronkstront?” vra die eienaar van agter die twee mans. Morsekode vir: Moet ek brigadier Buys bel?
“Nee.” Dalk te hard. “Want dan het hulle geskiet en gery. En niemand wat tyd gestoot het, is stupid genoeg om my sonder balaklawas aan te val nie – vir net ingeval ek oorleef.”
“Steyn,” groet die man sonder ʼn nek. Sproete, koper hare. Britse aksent. Hy skuif die suikerhouer op die tafel nader aan die houers met die sout en peper.
Op Roux se kopknik los die eienaar hulle alleen. “Ek stuur ʼn waiter,” sê hy oor sy skouer. Die kombuisdeur klap agter hom toe.
“Het ek die SAS se bal gekrap?” Roux wys met die teelepel na Nekloos se regtervoorarm. “Who dares wins,” is daarop getatoeëer. Danksy Andy McNab en Chris Ryan se boeke weet hy dit is die Britse spesiale magte se motto.
Die ander twee mans sluit by hulle aan, sit soos sardientjies op die bank.
“Breek vir ons iemand uit Kgosi uit.”
“Jy’s gek. Kgosi Mampuru-gevangenis sien my nooit weer nie.” Beslis. “Vyftien jaar was genoeg.”
Nekloos stoot ʼn koevert oor die tafel. ʼn Dik een. “Dis die helfte.”
Roux kyk nie eens daarna nie, al is daar waarskynlik genoeg geld in om sy woonstel te meubeleer. Hoe gaan hy die meubels aan sy parooloffisier verduidelik? Of Buys?
Hy tik met sy hand op die skerpioen. “Hierdie is my familie en daai,” hy wys na die Who dares wins-tatoe: “joune. Ek’s kniediep in die bloed vir my broers, vir niemand anders nie.”
“Die man wat ons wil uitbreek, is ook nie ʼn broer van ons nie.” Stilte. Dan: “Hy’s ʼn pedofiel.”
“Vir daai koevert sal enige gevangene binne jou probleem permanent oplos,” sê Roux. “Ek geniet my lewe buite.”
“Hy’t inligting wat ons soek.” Nekloos het seker aan redenaars op skool deelgeneem, want hy doen die meeste van die praatwerk. “Wys hom.” Hy knik vir die man wat langs hom sit.
ʼn Selfoon skuif oor die tafel. Dit is by ʼn video oop. Agt minute en dertien sekondes. Roux druk play. En stop ná drie sekondes. Knyp sy oë toe, vryf met sy duim en wysvinger daaroor asof hy die beeld wil uitwis.
Donderweer bliksem. Skuins oorkant hulle ruk ʼn vrou van die skrik. Die vier mans roer nie.
“Dis die eerste video, daar’s drie.” Stilte. “Sy’s gou dood; die ander twee video’s is langer as veertig minute.” Hy kyk Roux waterpas in die oë. “My dogter het gisteroggend verdwyn. Die ander drie kinders,” hy wys met sy duim na sy crew: “is hulle s’n.”
Bliksem.
“Ons was in dieselfde eenheid in Afghanistan. Ons het ʼn dwelmbaas se seun vasgetrek wat presies dit gedoen het. Sy pa neem nou wraak, en die skuim daar binne het hom mooi vertel hoe om ons kinders in die hande te kry.”
“Kgosi is groot, in watter seksie word hy aangehou?”
Nekloos antwoord.
Roux teken die tronk, wys vir hulle die hekke uit. Vertel hulle van elke ontsnapping in sy tyd, ook van dié wat misluk het. Hulle vra vrae, hy antwoord. Hulle google die tronk, hy wys goed op die foto’s vir hulle uit.
Drie ure en vyf koppies koffie later strek hy agteroor. Staan op, druk die koevert in sy sak.
∞ ∞ ∞
Vyf dae later, twaalf minute oor tien – die speurafdeling.
“Wie de hel se slim idee was dit om die koerante in drukformaat te stop?” bulder Buys oor die stapel dossiere op sy lessenaar. Hy beduie so, dit lyk of hy iemand met sy pyp wil gooi. “Hoe gaan ek nou weet wat die skindertonge als sê?”
“Lees aanlyn,” sê Roux in die verbyloop. “As jy sukkel, kan ek jou help om in te teken. Soek jy koffie? Ek wonder, hoe gaan jy nou jou plakboek op datum hou? Jy sal die berigte oor die sake waaraan jy werk in die toekoms moet fotostateer.”
Buys druk sy pyp in sy mond, maar stop dit nie vol tabak nie. Hy maak ʼn nuwe dossier oop. Hy prewel terwyl hy skryf, so asof hy klank.
Roux stop voor Buys se lessenaar, trek sy broekspyp op.
“Lê jy by my aan,” vra Buys: “of oefen jy om model te word?”
“By jou aanlê? No chance. Jy raak te oud.” Hy draai sy been. “My enkelmonitor is af.” Glimlag. “Ek’s nou ʼn medium.”
“Ek weet, ek’t met jou parooloffisier gepraat.” Buys hou die dossier na Roux uit. “Bewys vir my ek het die regte besluit geneem.” Hy krap kop. “Vier ouens het vanoggend net ná drie ʼn verhoorafwagtende gevangene help ontsnap. Die gevangene is ʼn undercover cop in ʼn mensehandelnetwerk in Europa. Hy’s in Suid-Afrika gevang,” hy maak aanhalingstekens met sy wysvingers vir die laaste woord, “om die Britte se konneksie in Suid-Afrika te infiltreer. Alles hush-hush. Die kommissaris sê jy moet help om die ouens te vang wat verantwoordelik was vir die undercover cop se ontsnapping, voor hulle hom vir inligting begin martel.”
Roux se gesig is poker face. “Ek kyk solank wat ek kan uitvind.”
“Ek’t R10 000,” tik Roux vir sy crew, almal eksgevangenes: “Ons het vier en twintig uur om vier ouens uit te haal.”
Malan reageer dadelik. “Wie?”
“Vier wat voorgee hulle is SAS.”
Teken in om te kommentaar