Die hok en die deur
Oor Breytenbach, die self en verlossing
Margaret Cordier-Biermann
’n Mens kan ’n hok beskryf, die afmetings daarvan ken, die tralies tel en selfs verstaan hoe jy daarin beland het. Maar beteken dit dat jy daaruit kan kom? Hierdie vraag loop vir my deur Breyten Breytenbach se poësie en het uiteindelik ’n vraag geword wat ek aan my eie gedig, “Verlossing”, moes stel. En as daar ’n deur is: wie maak dit oop?
Die toring van taal
Breytenbach se werk ondersoek die self met ’n intensiteit wat die leser nie maklik los nie. Die “ek” is nie ’n vaste, afgeronde wese nie. Dit word aangespreek, verdubbel, verskuif en soms byna uitmekaar geskryf. In ’n gedig uit Die windvanger, gedateer New York, 16 September 2002, vra iemand: “wat het geword van daai / Grootbek Breytenbach?” Die antwoord kom in die derde persoon: “hy is maar nog / hier iewers hond”. Die digter praat van homself as ’n ander, en daardie ander is ’n dier. Die liggaam beweeg tussen menslike en dierlike gestaltes; taal word tegelyk ’n instrument van bevryding en ’n ruimte waarin gevangenskap voortduur. Die hok is nie net iets wat van buite af opgelê word nie. Dit kan deel word van die self se eie grammatika.
Sy oeuvre is te omvangryk om tot een leerstelling te reduseer. Ek staan eerder by ’n bepaalde spanning stil: wat gebeur wanneer die mens sy eie gevangenskap herken, maar daardie herkenning nie vanself die deur oopmaak nie? Kan die taal waarmee die hok beskryf word, ook ’n ander moontlikheid dra?
Gedig 16 uit dieselfde bundel open met die vraag “hoeveel begrensing is nodig vir betekenis”. Hoeveel woorde, tekens en beelde kan ’n mens opstapel voordat hulle ’n toring word waarin die digter vasgevang sit? Breytenbach noem dit self die “woordtorinkie”, en voeg droog by: “hulle noem dit ’n gedig”. Die gedig stapel vrae op, maar gee nie ’n gerieflike antwoord nie. Die grens is tegelyk ’n beperking en ’n voorwaarde vir betekenis.
Leonard Cohen se “Tower of Song” ken dieselfde toring. Daar word die lied self die gebou waarin die digter woon, met sy eie verdieping, sy eie rang en sy eie beperking. Die toring is nie net ’n gevangenis nie; dit is ook die plek waar daar gesing word. Breytenbach se woordtorinkie deel daardie dubbelheid: dieselfde woorde wat die mure opstapel, is die stof waarvan die lied gemaak word. Die vraag is dus nie of ons uit die taal kan ontsnap nie, maar of daar in die toring ’n deur is.
Dit is een van die groot kragte van Breytenbach se werk: die self kan sy eie gevangenis herken en dit met taal oopvlek. Tog is herkenning nie noodwendig bevryding nie. Selfs die poging om uit te breek, kan nuwe tralies bou. ’n Mens kan die hok se argitek én sy gevangene wees.
Vanuit my Christelike geloof begin die vraag na verlossing juis hier. Die mens kan sy eie aandeel aan sy gevangenskap erken. Hy kan homself ondersoek, sy gewoontes bevraagteken en probeer verander. Maar selfkennis en selfverbetering is nie dieselfde as verlossing nie. Die mens is nie die oorsprong van alles wat hom uiteindelik vrymaak nie. Genade is nie ’n medalje wat toegeken word nadat ons genoeg moeite gedoen het nie; dit is die grond waarop ’n ander beweging moontlik word.
Tog moet ’n gedig steeds as gedig werk: deur beeld, klank, ritme, verswyging en spanning. Die vraag is nie hoe om ’n leerstelling in versreëls te verpak nie, maar of die poëtiese beweging self ’n moontlikheid kan ooplaat wat nie bloot uit die spreker se eie wilskrag voortkom nie.
Die gedig
My gedig “Verlossing” het as ’n pastiche na Breytenbach ontstaan. Dit gebruik doelbewus ’n aantal elemente van sy poëtiese gereedskap: die versplinterde “ek”, die dierlike gestalte, die hok, die klankspel en die liggaam wat in taal verander. Die vraag is wat met daardie geërfde gereedskap gebeur wanneer die beweging ’n ander rigting inslaan.
Verlossing
(pastiche na Breytenbach)
ek
die dier wat my eie hok bou
ek
die kampie wat myself kleiner bid
tot ek pas in die hand
wat my water afmeet soos ’n vonnis
die grond onder my
tot meel geloop
die gras ’n mond vol stof
die weiding gestroop voor die tong
kon leer om te knoop en pluk
my vlerke het vergeet om iets anders te wees
knip my kort om tralies te streel
knip my mak, knak my mank
tot ek wag soos ’n horlosie
presies
maar onder die vel
staan daar pale
in die rooi vleis ingeplant
soos vreemde bene
staan ek op
maak die heining los
met sy tande uitgetrek
is die grens ontwortel
—’n ou gewoonte
afgeleer
© Margaret Cordier-Biermann. Eerste verskyn op Versindaba (2026).
Die vreemde bene
Die gedig begin met ’n erkenning: “die dier wat my eie hok bou”. Die spreker is nie net ’n slagoffer van ’n beperking wat van buite af kom nie; hy het self aan die bouwerk deelgeneem. Die “kampie wat myself kleiner bid” bring godsdienstige taal en selfverkleining in een ongemaklike beeld bymekaar. Gebed, wat ’n mens na God kan rig, kan in die spreker se ervaring selfs ’n manier word om homself kleiner te maak.
Die water word “soos ’n vonnis” afgemeet. Die grond word tot meel geloop; die gras word stof; die weiding is uitgeput voordat die tong kon leer om te knoop en pluk. Die wêreld van die dier word al nouer. Selfs sy vlerke het vergeet dat hulle iets anders kan wees. Dat ’n weidende dier in ’n kampie vlerke het, is nie slordigheid nie: soos by Breytenbach skuif die gestalte tussen soorte, en juis die vlerke herinner aan ’n vryheid wat die liggaam self vergeet het. Die gevangenskap is nie meer net ’n heining rondom die liggaam nie: dit het deel geword van wat die liggaam dink moontlik is.
“Knip my kort om tralies te streel” gaan nog verder: die gesnoeide dier begin die hok liefkoos. Gevangenskap word nie net verduur nie, maar bemin. Die klankspel “knip my mak, knak my mank” laat die taal self die handeling uitvoer. Die herhaalde k-klank sny en knak; die betekenis word nie net vertel nie, maar hoorbaar gemaak. Die dier wag soos ’n horlosie: “presies”. Daardie presisie is egter nie vryheid nie. Dit is die voltooide vorm van makmaking.
Dan kom die wending: “maar onder die vel”. Daar staan pale in die rooi vleis, “soos vreemde bene”. Die beeld is doelbewus vreemd. Die bene is nie ’n prestasie wat die spreker self aan sy liggaam toevoeg nie. Hulle kom as’t ware van elders, en verander die moontlikheid om te staan. Eers daarna lees ons: “staan ek op”. Die reëlbreuk laat egter ook ’n tweede lesing toe: “soos vreemde bene / staan ek op”. Dan staan die spreker nie net op danksy die bene nie, maar ás die vreemde bene, asof die gawe nou die self se eie geraamte geword het.
Die Bybelse visioen in Esegiël 37:1–10 bied vir my ’n resonansie, nie ’n een-tot-een-verklaring nie. In die visioen word dorre bene bymekaargemaak en met senings, vlees en vel beklee; daarna word asem ingeblaas en die liggame staan op. Die gedig se volgorde is anders, maar die raakpunt lê daarin dat opstaan nie bloot uit die voorafgaande toestand voortkom nie. Genade voor daad. Die dier kry nie ’n aansporing nie; hy kry ’n geraamte.
Die heining se tande is uitgetrek. Dit was nie ’n neutrale struktuur nie: die beeld verander dit in ’n bek, iets wat kan vasbyt en vashou. In Psalm 58:7 bid die psalmdigter dat God die tande in die bek van die goddelose sal breek. Eers wanneer die tande uit is, word die grens ontwortel. Die slot – “’n ou gewoonte / afgeleer” – laat die verandering terselfdertyd eenvoudig en moeilik voel. ’n Gewoonte kan aangeleer en afgeleer word, maar nie alle gewoontes verdwyn net omdat ons besluit om anders te leef nie. Die gedig laat die handeling van die spreker toe, sonder om te beweer dat sy eie wil die oorsprong van die hele verandering is.
’n Deur van buite
Hier lê die geloofsmatige spanning wat vir my saak maak. Ek lees die vreemde bene as ’n beeld van iets wat die spreker nie self kan voortbring nie. Die gedig benoem nie die handelende persoon uitdruklik nie, en ek wil nie die beeld met ’n verduideliking toemaak nie. Tog kan die Christelike leser die beweging hoor. Die spreker staan op, maar die moontlikheid om op te staan is nie sy eie skepping nie.
Menslike handeling bly saak maak. Die spreker staan op; hy maak die heining los; die grens word ontwortel. Maar sy handeling is nie die eerste gebeurtenis in die gedig nie. Daar is iets wat die handeling moontlik maak. Vir my is dit die verskil tussen selfverbetering en verlossing: nie dat die mens niks doen nie, maar dat sy daad nie die bron van genade is nie.
Ek neem Breytenbach se poëtiese gereedskap dus ernstig op en vra wat dit nog kan dra. Sy werk leer ons om die hok te skryf – om die self se verdeeldheid, die beperkinge van taal en die vreemdheid van die liggaam nie weg te steek nie. My eie gedig probeer nie daardie diagnose kanselleer nie. Dit toets of die taal van gevangenskap ook ’n beweging kan dra waarin die hok nie die laaste woord het nie.
Breytenbach self skryf wel ’n opening. In “dit gaan moeilik wees”, ook uit Die windvanger, verkrummel die wande, en wat dan oopgaan, is “’n beierende, glinsterende inkantasie / van dansende ruimtes”, wat uitloop op “’n windstilte”. Dieselfde gedig praat van “die verskriklike ruimtes / van onteiening”. Dit is ’n ontbinding in ruimte, nie ’n ontmoeting nie: die mure val weg, maar niemand staan by die drumpel nie. My deur is anders. Daar is ’n klop, ’n stem en ’n maaltyd.
Vir my is dit die ruimte waarin ’n Christelike poëtika kan asemhaal: om die mens se gebrokenheid ernstig te neem sonder om sy eie krag tot verlossing te verhef; om die liggaam, geskiedenis en taal te eer sonder om hulle as volledige verklaring van die werklikheid te beskou; en om genade in ’n gedig teenwoordig te laat wees sonder om die gedig in ’n preek te verander.
Die gedig self hou die beeld oop. ’n Essay mag egter sê wat die gedig verswyg, en daarom noem ek hier, aan die einde, die Naam wat ek in die vreemde bene hoor.
Christus staan buite by die deur en klop, met ’n uitnodiging en ’n belofte: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20, 1933/53).
’n Mens kan tereg vra of hierdie vers nie my argument omkeer nie: dit is tog die mens wat die deur van binne oopmaak. Maar let op die volgorde. Die klop en die stem kom eerste; die oopmaak is ’n antwoord, nie ’n begin nie. Soos die vreemde bene voor die opstaan kom, kom die stem voor die hand aan die knip. Die mens se daad is werklik, maar dit antwoord op genade wat reeds by die deur staan.
Ek keer terug na waar ek begin het. Breytenbach het ons geleer hoe om die hok te skryf. Ek vra of die taal wat hy help oopmaak het, ook die moontlikheid van ’n deur kan dra. Die grond kan tot meel geloop word. Die mens kan sy eie hok bou. Maar dit beteken nie dat die hok die laaste woord het nie.
Teken in om te kommentaar