Terug na Tuis Alle artikels
GRATIS KORTVERHAAL: Die Eis

GRATIS KORTVERHAAL: Die Eis

Die Eis

“Faans, soek my!”

David, my drie jarige seun, roep vanuit die kombuis.

Ek knoop my das. Maak seker die skerpioen-tatoe klim nie onder my kraag uit nie. Die groen ink verklap sy oorsprong: tronk. Ek snuif-snuif onder my arms. Tronkhonde kan mos die bandiet aan ons ruik, dalk kan vrymense ook – maar ek ruik net Sanex vir mans.

Ek maak kasdeure oop, druk dit hard toe. “David!” Beweeg na die sitkamer, elke tree hoorbaar. Ek skuif ʼn blompot. Trek ʼn bank. Laat alles kraak. “Waar’s David?” Diep stem.

Sy giggel rek my soekproses uit.

ʼn Oats reuk hang in die kombuis.

Deirdré wys met die paplepel na haar polshorlosie. “Jou baas wag. Koffie?”

Ek skud my kop

“Hoekom wil hy jou so vroeg sien?” Sy haal ʼn termiese beker uit die afdroograk, delf ʼn teelepel uit die laai. Gooi twee lepels Koffiehuis in. Opgehoop. Geen suiker. Geen melk. In die tronk het ons net een lepel suiker oor ons pap gekry. Die halwe beker melk was afgewater. Gevolg, ek drink geen suiker en melk nie. Eet ook nie soggens nie, want dan het ons gewoonlik iemand doodgesteek.

“Dalk daardie bemarkingsbeplan wat ek ingedien het. Hy was baie beïndruk daarmee.”

Sy gee die beker vir my aan. “Ek hoop hy bevorder jou.”

Bandiete word nie bevorder nie; ons word eerder eerste verdink as iets by die werk wegraak.

Ek skuur teen haar verby, streel haar boud. Maak kasdeure oop en toe. Sluip verby die kas onder die wasbak, waarin hy gewoonlik wegkruip. “David is weg!”

“Issie!” Die kasdeur skiet oop. “Hier’s David!”

Ek gooi hom in die lug, soen hom op die maag as ek hom vang. Druk hom in Deirdré se arms, piksoen haar wang, raap die bakkiesleutels op.

“O, het jy onthou om die belasting te doen?”

Hier gaat ons alweer. My belasting is betaal, maar daar is glo ekstra goed waarvoor ʼn mens kan eis. Medies. Die ekstra werk wat ek laas vakansie aan die huis gedoen het. Haar vriendin het dit gedoen en duisende teruggekry en, en, en ...

“Dis gedoen, maar ek sê nou vir jou, SARS is soos bewaarders; as hulle eers hul mes in het vir jou, is jy fadala. Dood.” My lippe trek ʼn reguit lyn. “Hulle gaan meer geld eis, sweet bokkerol teruggee.”

Stilte, dan. “Sandra sê hulle het vir haar geld netso in haar rekening inbe...”

“Sandra is nie ʼn belastingboffin nie.”

“Maar jy het dit gedoen?”

“Ek sê mos so!”

“Sorrie, ek maak net seker.”

“Dis okei. Ek moet gaan werk.”

David strek sy arms na my uit. “Nie werk nie. Speel my.”

Ek soen hom op die voorkop. Snuif-snuif. “Ek ruik ʼn muishond.”

Hy borrellag. “Poef bokdrolletjies.”

By die voordeur roep Deirdré my terug. “Die donderweer steek op, vat ʼn trui saam.”

Ek skud my kop. “Meneer verkies die dominee-look.”

Tien minute later stop ek by die werk. Meneer wag my in. Sy aktetas staan langs ʼn pikswart Mustang. Syne. Sy hand rus swaar op my skouer. ʼn Rolex glim in die oggendson. “Hoe gaan dit met jou seun? Jou vrou?” Hy wag nie vir antwoorde nie, loer na sy horlosie. “Ek’s jammer Faans, maar ek moet jou laat gaan. Die ekonomie druk en ...”

Waar gaan ek werk kry? Niemand sal vir Deirdré werk gee nie. Almal beskinder haar mos. Selfs Mevrou Dominee wou by haar weet hoe voel dit om met ʼn moordenaar getrou te wees.

“... dis tough tye; ek sal jou ook nie drie maande se pay kan gee nie.” Sy stem is vol emosie, soos elke Maandagoggend as hy vir almal vertel hoe hy sy besigheid met R50 en ʼn bike begin het.

Die helsem fire my nie eens in sy kantoor nie. Ek bal my vuiste ... maar een hou, en ek’s terug in CMAX.


∞ ∞ ∞

ʼn Halfuur later druk ek die Isuzu se neus onder ʼn boom. Draai die venster af. Ruik beesmis en kakiebos.

ʼn Kerkklok lui. Hoe het Ma altyd gesê? Kom sondaars, kom!

Wat is die minimum waarmee ons kan klaarkom? R10 000? Huur. Wi-fi. Kos. Ek kan winkels toe loop. Hoeveel maande is van my selfoonkontrak oor? Daarna kan ons met R8200 per maand deurkom. Ons kan klein gaatjies met my nutsmanwerk toestop.

My vingers soek deur my WhatsApps. Niemand se dakke lek of mure kort verf nie. Desember was so ʼn goeie maand. Ons kon al die hospitaalskuld afbetaal, asook die klererekening. Maar Maart is dood. Te veel vakansiedae.

Ek lees die fynskrif op my lewenspolis; my gesin kry niks as daar vermoed word ek het selfmoord gepleeg nie. Daar moet ʼn manier wees.

Ek kyk op my SMSe. Wat de ...

A Notice has been issued on SARS eFiling ...

Ek het dit gewéét! Sodra die SARS sharks eers bloed ruik.

Oor die top van die bome troon ʼn kerktoring. Rookwolke dans soos spoke daarom.

ʼn Geritsel van papiere.

ʼn Gesig verskyn in my venster. “My larnie, ek wou sê dis djy.”

Willemse. Ons het saam in Pretoria Sentraal tyd gestoot.

“Hi-jack jy nog karre, Willemse?”

“My larnie, wat dink djy ?” Die gewoontemisdadiger gooi sy hande hulpeloos in die lug: “Niemand wil vir my werk gee nie. En my kinders kan nie op Bon Jovi se livin’ on a prayer alleen lewe nie.”

“Hoeveel sal jy vir die bakkie kry?”

“Ten K.”

Ek het mense in die tronk sien sterf vir ʼn halwe brood, selfs ander gesteek vir twee stoppe dagga, so R10 000 klink na ʼn deal.

“Willemse, gee my drie dae saam met my seun, dan is sy joune.”

“My larnie, praat Afrikaans.”

“Drie dae en die Isuzu is joune. Maar jy móét my doodskiet.”

“My larnie, is djy geroek?”

Moedeloosheid krop in my maag. Stoot die trane op keeltoe. “Ek kan nie meer vir my gesin sorg nie, en wil nie weer tyd in Sentraal stoot nie. Maar as jy my doodskiet in ʼn high-jack ...” My polis se fynskrif het dit nie voorsien nie.

“My larnie?” ʼn Sirene loei in die verte. “Kan ek vir djou ʼn paar bokke voorskiet?”

“Met die polis is my vrou geset for life. En die liewe Here sê mos jy moet jou lewe opoffer vir die wie jy liefhet.”

“My larnie, ek’s nie ʼn hitman nie.”

“Willemse. Betaal jou skuld.” Ek’t jare gelede sy lewe in ʼn bende-oorlog gered.

Hy sug. Skuld is skuld. “Okay, my larnie, lets do it, maar djy gaan vir die Here explain, dit was nie Abraham Willemse nie.”


∞ ∞ ∞

Die drie dae voel soos ʼn paar minute. Deur die dag sit ek en stuur die een werkaansoek ná die ander weg. Ignoreer die landlord se vrae na die huur; die alewige SARS-sms wat nou elke dag verskyn om my in te lig dat my file oopgemaak is, dat iemand ondersoek na die eis instel. Wat de hel het ek aangevang! Sirkelende sharks. Tussendeur bid ek. Skietgebede. Tref dit? Hoor iemand ooit? Dit gebeur as jy in die tronk en nie die kerk nie groot geword het.

Saans speel ek en David plaas-plaas, kyk later video’s op YouTube totdat hy in my arms aan die slaap raak. Nog later skrik ek wakker, natgesweet. Trek sy liggaampie teen my, soen sy hare. Huil. Waar’s God as ons Hom nodig het?

Hoeveel keer het ek in my enkelsel deur ʼn tydskrif geblaai en gewonder of ek eendag ʼn gesin gaan hê. Vir hulle sal kan sorg. Deirdré is beeldskoon; sy sal gou ʼn man kry. Maar wat van David? Ek wil nie hê hy moet soos ek sonder ʼn pa grootword nie, maar hoe gaan ek volgende maand se rekeninge betaal? En die maand daarna? Weer misdaad pleeg?


∞ ∞ ∞

Dan is die drie dae verby. Ek omskulp David totdat trane my oë brand. Druk lekkers in sy hand, klim in my bakkie, wag in die oprit. Kyk deur sy video’s op my selfoon.

Ek wag. Wag. En wag.

Wanneer kom hý?

ʼn Weerligstraal bliksem bokant die huis. Verlig die omgewing.

Op ʼn Facebook-video sê David: “Faans, ek piepie jou sommer dood!”

Ek stel die klank harder. In die agtergrond lag die kasregisterdame. David was daardie dag so kwaad omdat ek nie vir hom ʼn sjokolade kon koop nie.

Ek kyk na die sitkamervenster waar hy gewoonlik vir my waai. Vanoggend lê hy egter in sy bed en smul aan die lekkers wat ek hom skelm in die hand gestop het. Dank die Vader daar was hierdie keer geld vir lekkers, want as hy moes sien hoe Willemse my skiet ...

In my perifere sig verskyn ʼn silhoeët. Donker klere. Masker. Vuurwapen op my gerig. Willemse.

Op die video hoor ek hom lag. As ek net ʼn tikkie van die moordenaar aan die kruis se genade kon kry ...

David, Pappa lief jou ...

My selfoon pieng. SARS. Nie meer ʼn SMS nie, maar ʼn WhatsApp. Die haaie wat al hoe nader sirkel.

Skiet! wil ek Willemse aan. Skiet, helsem, skiet!

Nog ʼn pieng.

Notice of payment by SARS in bank account number ***889. Amount R14 000.

Dankie Here! Dit gee my ʼn maand saam David, ʼn maand om ander werk te soek. ʼn Maand ...

Ek kyk na Willemse. Steek my hand uit. “Willemse, néééééé!!!”

Die knal is oorverdowend.

ʼn Ruit splinter.

Die volgende skoot slaan teen die bak vas.

My ore sing.

Vyf skote.

Almal mis.

Hy druk sy kop in die venster. “Sorry, my larnie, ek’s nie ʼn killer nie.”

God dank ook nie ʼn skut nie.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗