Pappa se gedigte
“Moeksie, hoekom het jy nooit vir my gesê Pappa dig nie?”
Moeksie – haar geelrok lyk soos engelvlerke – trippel nader. Haar hoëhakskoene klink soos ʼn poedel op ʼn houtvloer. Sy loer oor haar dogter se skouer. Asem peperment.
“Ida, laat ek sien.”
“Ek sal dit more terugbring,” Ida sit dit in die skoendoos saam met Pappa se preek-Bybel en twaksakkie: “Maar nou wil ek eers sy stem hoor. En hom ruik.”
“Hy’t nooit sy hart oopgemaak nie. Die Bosoorlog maak mans mos stil.” Stilte, dan: “Gaan jy bly vir beskuit?”
“Met warm melk en Cocco?”
∞ ∞ ∞
Ida lê op die rusbank, staar na die sterre bokant haar woonstel. Sy kan nie D. J. Opperman van Jan Alleman onderskei nie, maar Pappa se gedigte klink soos Breyten. Slaap Moeksie al? Sy kyk op haar Samsung hoe laat is dit, sien sy het 14 miss calls en 122 WhatsApp-boodskappe. Soek Moeksie se naam, tik:
Pappa was besonders lief vir jou
x
Hy het dit nooit gesê nie.
sover klink alles wat hy skryf soos
hooglied. wag ek neem gou ʼn foto
van een gedig
x
Die Samsung lui, maar sy tel dit nie op nie. Kyk nie eens wie bel nie. Sit dit later op flight mode.
Hoekom sou Pappa sy gedigte van Moeksie weerhou?
Die koffie het al ʼn velletjie gevorm toe sy kombuistoe loop om vir haar roomys in te skep. Sy maak seker die deure is gesluit en Taiga, haar kat, het kos.
Sy staan net op om toilet toe te gaan. Verder lees sy. Sy neem vir Moeksie nog ʼn paar foto’s, plaas drie daarvan op Instagram met die opskrif: Pappa se gedigte.
Binne ʼn paar minute het sy meer as 400 likes – selfs meer as die wat sy ʼn jaar gelede op in haar bikini gekry het.
Iemand DM haar:
Was jou pa die digter HL?
HL? Wat de ...
Net voor sy blok druk, besoek sy die persoon se profiel, sien hy plaas net gedigte. Nie een, verklaar sy bio, is syne nie. Hy skep net die agtergrond.
Die persoon DM haar met ʼn foto uit ʼn digbundel. Dit is een van die gedigte wat sy op haar Instagram story geplaas het.
Pappa?
Sy raadpleeg Google en vind niks onder sy naam nie, ook nie sy voorletters nie. Sy ontdek wel dat HL die skuilnaam van ʼn anonieme Suid-Afrikaanse digter is, wat gedurende die laat 80’s vier digbundels publiseer het. Daar is geen foto van hom nie. Geen biografiese inligting nie. Net die name van sy vier digbundels.
Waarvoor sal HL staan? Hendri en ... Wat’s sy troetelnaam vir Moeksie?
Sy kan net sy debuutbundel vanaf Takelot bestel. Vra die ander drie op verskeie Facebook-boekgroepe aan.
Die woonstel is grafstil.
Sy staan op en sit die televisie aan om stemme te hoor.
Haar selfoon pieng. Sy weet wie dit is: die persoon wat haar ʼn Direk Message gestuur het.
Twee foto’s van ʼn man. In die een sit hy voor ʼn tikmasjien, pyp in die mond. In die ander een staan hy in ʼn swembroek, handdoek oor die skouer. Onder die swembroek-foto staan: IS DIT JOU PA?
Alles in haar wil “nee” tik. Waar kry hy die foto’s? Haar vingers bewe soos sy tik.
wa kry jy dit?
In my ma se bundel.
wie’s jou ma?
Loraine.
Hendri en Loraine! ... was Loraine sy meisie voor Moeksie?
kan ek die bundel koop?
Hoeveel?
het jy nog iets van Pappa? hoe
ken jou ma hom?
Sy het vir hom gewerk.
innie kerk?
...
Wat tik hy so lank. Of tik en delete hy? Wat delete hy? Moet sy nie liewers sy nommer kry en ... nee. Hy kan ʼn reeksmoordenaar wees. Het sy die deure gesluit? Miskien is dit tyd dat sy diefwering laat opsit.
Sy gaan spioeneer weer op sy profiel, druk op die Facebook-skakel. Dit is dieselfde, net gedigte, niks anders nie.
Huis. Voor jou geboorte.
ken jy my pa?
Sy skryf in al haar briewe van
hom.
kan ek dit sien?
Wil jy dit ook koop? Of die wat
hulle vir mekaar geskryf het?
miskien
Beurtkrag dompel die woonstel in duisternis.
Iets krap aan die venster. Ida gebruik die Skepper se naam ydel. Sit haar selfoon se flits aan, sluip na die geluid. Ruk die gordyne oop. Taiga. Wanneer het sy uitgeglip?
Sy maak die venster oop, krap die kat agter die ore terwyl sy inklim. “Wie gaan vir jou kos gee as ek ʼn hartaanval kry?”
ʼn Verslaggewer wil dit koop. Bied my baie aan. En royalties op die boek.
boek?
Spam, sy moes dit geweet het. Hel, maar hulle is vinnig. Hoe het hy fotos van Pappa in die hande gekry? Dit is nie op haar Facebook nie. AL manipulasie?
Ja, omdat sy en die digter ʼn
verhouding gehad het terwyl
sy in die dodeselle was.
dodeselle?
Mamma het in ‘89 gehang vir die
moord op haar man. Lukas
Kleinbooi. Dit was in die nuus.
Nag. Ek gaan slaap.
wag. seblief
Die groen sirkel op sy profielfoto wys hy is nog aanlyn.
Sy wag.
Die drie kolletjies beweeg. Dan:
Ek moet slaap. Ek werk more.
dis more Sondag
Juis. Ek is ʼn Pastoor.
Die donderweer bliksem.
Ida skop in haar skrik vir Taiga raak.
Ek het bekeer toe ek hul briewe
gelees het. Die digter, jou pa,
het haar deur al die briewe na
die Here gelei. Daar is 66 briewe, een vir elke week wat sy aangehou was.
Tipies Pappa. Skielik mis sy sy twalkreuksoene.
hoe oud was jy toe jou ma
gehang het?
Voordat hy kan antwoord tik sy:
as jy nie daaroor wil praat nie,
is dit OK
Vyf.
Hy is so lank stil, sy dink hy het gaan slaap. Sy gaan borsel haar tande, piepie. Toe sy haar selfoon wil herlaai, sien sy die boodskap.
Ek het altyd gedink dit was hy, die digter, wat die moord gepleeg het.
Die selfoon val uit haar hande.
Die battery waarsku dat sy nog 1% battery krag oor het. Asseblief, moenie nou doodgaan nie.
Die battery waarsku dat sy nog 1% battery krag oor het. Asseblief, moenie nou doodgaan nie.
My ma het met elke oproep vir my gesweer dat sy onskuldig is.
Nadat ek hulle briewe gelees het, het ek geweet dit is nie hy nie. Sy laaste brief eindig met die woorde: die skuldige gaan boet al is dit na ons dood.
Wat gaan die verslaggewer
met die briewe doen? Ek sou
dit graag wil lees.
Die selfoon se skerm word skielik pikswart. Dood.
Sy herkou aan hul gesprek, onthou Moeksie se woorde: Die Bosoorlog maak mans mos stil
Maar Pappa was nooit op die Grens nie. Was sy hele lewe lank ʼn kapelaan, toe dominee.
Is dit die dood op die vrou oor wie hy so dig wat hom stom gemaak het? Is dit hoekom hy nooit vir Moeksie kon sê hy is lief vir haar nie?
∞ ∞ ∞
Dit is die polisie sirenes wat haar wakker maak. Hulle snel verby. Ida gryp haar selfoon, kyk. Geen verdere boodskap op Instagram nie.
Sy loop kombuis toe, kyk in die verbygang hoeveel eenhede krag is oor, skakel die gyser aan, druk ʼn kaastoebroodjie in die mikrogolfoond. Trek die gordyne oop soos sy van vertrek beweeg. Pols op die bank neer, langs die stapel klere. Verdomp, hoekom het sy nie gister gestryk nie? As Moeksie dit moet sien trek sy sowaar as vet vandag nog hier in.
Ida Google Loraine Kleinbooi en lees alles oor haar saak en galgdood wat sy kan. Nêrens word iets genoem oor haar verhouding met die digter nie. Die mees verdoemende bewys teen haar, was die staatspatoloog se getuienis dat die moord waarskynlik deur ʼn vrou gepleeg is.
Ida ruk soos sy skrik toe die selfoon in haar hande lui. Moeksie.
“Hoe laat kan ek die digbundel kom haal?”
“Het Pappa nooit oor sy gedigte gepraat nie? Op skool?”
Moeksie sug. “Op skool het al wat Afrikaanse onderwyser is, gedink hy is die volgende groot digter.” Stilte, dan: “Maar hy het net opgehou ... of so het ek gedink.”
“Wie’s Loraine?”
“Ida Hofmyer, waar kom jy aan daardie vroumens se naam?” Dit klink of Moeksie ʼn doodsvonnis uitspreek.
Ida wag totdat die kerkklok ophou lui voor sy antwoord. “Haar seun het my ge-DM.”
“Haar seun? DM? Moet niks glo wat hy sê nie.” Die laaste sin word uitgeskreeu.
“Moeksie?” Sag, onseker. “Jy. Pappa. Sy ...”
“Pappa het nie haar man doodgemaak nie! Ek het ...” Skaars hoorbaar: “ek het ... sy het my man van my weggevat, toe vat ek haar man weg ... en vir haar uit my lewe,” Moeksie skree-huil: “maar selfs in die dood het Pappa haar gekies.”
Ida druk die selfoon dood. Wat moet sy doen? Sy kan sekerlik nie haar ma by die polisie verkla nie, maar stilbly kan sy nog minder. ʼn Onskuldige vrou het gehang ...
Sy blaas haar asem stadig uit. Tik vir die Pastoor:
ons moet praat
kan ons ontmoet?
wat’s jou naam?
Sy is besig om haar koffie te roer, toe sy boodskap deurkom. Stof dans in die sonstraal.
Ons kan. Waar bly jy? My naam is Hendri Hofmyer. My ma
wou seker maak apartheid weet
wie haar eerste liefde was.
Teken in om te kommentaar