Die monsters is nie onder die bed nie. Hulle loop tussen ons rond.
Een aand per jaar trek miljoene mense regoor die wêreld maskers aan, verf hulle gesigte en verander in geraamtes, hekse, vampiere, weerwolwe en monsters. Kinders klop aan vreemdelinge se deure en dreig speels met 'n poets as hulle nie lekkers kry nie. Huise word met spinnerakke, geraamtes en uitgeholde pampoene versier. Gruwelverhale word vertel en mense betaal selfs om in spookhuise bang gemaak te word...
Dit is Halloween.
Vir sommige is dit groot pret. Vir ander is dit 'n onaanvaarbare fees wat met 'n duiwel, bose magte, satanisme en alles wat sleg is verbind word. Vir kleinhandelaars is dit nog 'n uitstekende geleentheid om mense se beursies oop te maak.
Maar wat as ons vir 'n oomblik verby die kostuums, pampoene en godsdienstige bangmaakstories kyk? Wat vertel Halloween eintlik van ons as mense? As ons na die emosionele behoeftes, inligtingsnetwerke en psigotegnologieë daaragter kyk, watter betekenis kan ons daarmee vorm?
Miskien meer as wat ons dink.
Die mens leef al baie langer met vrees as wat hy oor wetenskaplike verklarings beskik. Die donker, die onbekende, siekte, lyding en die dood was deel van ons bestaan lank voordat ons die natuurlike wêreld begin verstaan het. Dit was deel van ons werklikheid lank voordat ons woorde uitgedink, ontwerp en ontwikkel het. Ons het verhale vertel, gode en geeste voorgestel, ritmes en rituele ontwikkel en bonatuurlike wesens geskep om dinge te verklaar waarvoor ons nie antwoorde gehad het nie.
Halloween is een van die interessante kulturele uitdrukkings van hierdie menslike geskiedenis.
Dit bied ons 'n geleentheid om na ons vrese te kyk, te verstaan waar hulle vandaan kom en te vra of alles waarvoor ons bang is, werklik bestaan.
Myns insiens is dit tyd om die angel uit die donker te trek.
Waarom is ons bang vir die donker?
Vrees is nie 'n swakheid, siekte of sonde nie. Dit is ook nie iets waaroor ons skaam hoef te wees of 'n skande nie. Vrees is 'n belangrike deel van ons biologiese erfenis en het 'n noodsaaklike rol in die oorlewing van ons spesie gespeel.
Ons voorouers het nie miljoene jare oorleef deur elke vreemde geluid in die donker te ignoreer nie. 'n Geritsel in die bos kon die wind wees, maar dit kon ook 'n roofdier wees wat jou sou verskeur as jy nie betyds reageer nie. Om versigtig te wees, kon die verskil tussen lewe en dood beteken. Wanneer onsekerheid bestaan het, was dit dikwels veiliger om op 'n moontlike gevaar te reageer as om dit te ignoreer. 'n Vals alarm kon jou dalk laat skrik of verleë laat voel, maar om 'n werklike bedreiging mis te kyk, kon jou lewe kos. Ter wille van oorlewing!
Deur evolusie het ons brein dus vermoëns ontwikkel om moontlike bedreigings raak te sien, patrone te herken en gevaar te antisipeer. Dit beteken egter nie dat die brein altyd reg raai nie.
Dink maar aan hoe 'n vreemde geluid in 'n donker vertrek skielik 'n hele verhaal in jou kop kan laat ontstaan. 'n Skaduwee word 'n persoon, en dié persoon word 'n boosaard. 'n Tak wat teen 'n venster skuur, klink soos voetstappe wat al nader kom. 'n Onbekende geluid word iets wat beslis nie daar behoort te wees nie.
Die geluid is werklik. Die monster wat ons daarmee verbind, is 'n ander storie.
Vrees ontstaan immers nie net wanneer daar 'n werklike bedreiging is nie. Dit kan ook ontstaan wanneer ons brein onsekerheid probeer invul. Ons brein is voortdurend besig om die wêreld te interpreteer, moontlike oorsake te oorweeg en voorspellings te maak oor wat volgende kan gebeur. Wanneer inligting onvolledig is, speel verwagtings, herinneringe en verbeelding 'n groter rol. Ons neem dus nie bloot waar wat rondom ons gebeur nie. Ons probeer voortdurend verstaan wat ons waarneem.
Die amigdala, 'n struktuur diep binne die brein, is deel van die neurale netwerke wat by bedreigingsverwerking betrokke is. Dit is egter nie bloot 'n aan-en-af-skakelaar vir vrees nie. Vrees en angs ontstaan uit die samewerking van verskillende breinstelsels wat liggaamlike reaksies, herinneringe, aandag, leer en beoordeling betrek (LeDoux & Pine, 2016).
Die psigiater en neurobioloog Dr. Dan Siegel het die bekende uitdrukking “If you can name it, you can tame it” gewild gemaak. Die gedagte is eenvoudig, maar betekenisvol: wanneer ons 'n emosie herken en in woorde beskryf, kan ons 'n mate van afstand daarvan kry. Ons is dan nie meer bloot vasgevang in die emosie nie, maar kan begin waarneem en verstaan wat met ons gebeur.
Lisa Feldman Barrett se navorsing oor emosies bied 'n verdere perspektief. Volgens haar benadering is emosies nie bloot vaste, voorafgeprogrammeerde reaksies wat outomaties in die brein aangeskakel word nie. Die brein gebruik onder meer liggaamlike sensasies, vorige ervarings, die situasie en ons beskikbare emosionele begrippe om betekenis aan ons gevoelens te gee. Hoe beter ons emosies kan onderskei en benoem, hoe meer genuanseerd kan ons verstaan wat ons ervaar.
Dink aan die verskil tussen “Ek is bang” en “Ek voel onseker omdat ek nie weet wat daardie geluid veroorsaak nie.” Die tweede beskrywing help ons om die ervaring te ontleed. Is dit vrees vir 'n werklike gevaar? Is dit onsekerheid, 'n herinnering aan 'n vorige ervaring, of bloot ons verbeelding wat die ontbrekende inligting invul?
Navorsing oor affect labeling, die proses waardeur ons emosies in woorde benoem, dui daarop dat hierdie praktyk emosionele reaktiwiteit kan verminder. Dit beteken nie dat 'n naam die vrees laat verdwyn nie, maar dit kan ons help om dit beter te herken en meer doelbewus daarop te reageer (Lieberman et al., 2007).
Wanneer ons dus die donker vrees, kan ons begin deur te vra: Wat ervaar ek? Waarvoor is ek bang? Wat weet ek werklik, en wat verbeel of vermoed ek?
Om 'n vrees te benoem, is nie dieselfde as om dit te oorwin nie. Dit is wel 'n eerste stap om dit te verstaan. En wanneer ons verstaan waarvoor ons bang is, hoef die onbekende nie meer soveel mag oor ons te hê nie.
Wanneer ons 'n onsigbare teenwoordigheid vermoed
Een van die belangrike vermoëns van die menslike brein is om agente en bedoelings in ons omgewing te herken. Ons sien gesigte, herken liggame en interpreteer bewegings en gedrag. Ons probeer aflei wat ander mense dink, voel en beplan. Hierdie vermoë help ons om in 'n sosiale wêreld te funksioneer en moontlike gevare betyds te herken.
Maar wat gebeur wanneer ons 'n gebeurtenis waarneem sonder dat ons die oorsaak daarvan kan verklaar?
'n Skielike geluid, 'n onverwagte dood, 'n siekte of 'n vreemde samevallende gebeurtenis kan die indruk skep dat iemand of iets daaragter sit. Soms is daar inderdaad 'n handelende agent. Ander kere is die oorsaak bloot natuurlik, toevallig of nog onbekend. Ons kan egter bedoeling toeskryf waar daar geen bedoeling is nie, of 'n onsigbare teenwoordigheid vermoed waar daar geen bewys van een bestaan nie.
Sommige evolusionêre verklarings van godsdiens verwys na die sogenaamde hyperactive agency detection device (HADD). Die hipotese is dat mense, veral in situasies van onsekerheid, soms eerder 'n onsigbare agent vermoed as om 'n moontlike bedreiging mis te kyk. Hierdie neiging sou kon help verklaar waarom verhale oor geeste, gode en ander onsigbare wesens in verskillende kulture ontwikkel het.
Die wetenskapskrywer Michael Shermer bied in The Believing Brain (2011) ’n verwante perspektief op hierdie menslike neiging. Hy onderskei tussen twee denkprosesse wat hy patternicity en agenticity noem.
Patternicity verwys na ons neiging om patrone raak te sien, selfs wanneer daar nie noodwendig 'n betekenisvolle verband tussen die waargenome dinge bestaan nie. Agenticity verwys na ons neiging om aan sulke patrone bedoeling, doelgerigtheid of 'n handelende wese toe te skryf.
Dink weer aan die vreemde geluid buite die huis. 'n Tak skuur dalk teen die dak, 'n dier beweeg tussen die plante of die wind laat 'n los voorwerp rondskuif. Die brein probeer egter vasstel wat die geluid veroorsaak en of daar dalk iemand of iets teenwoordig is. 'n Skaduwee word 'n figuur. 'n Geluid word voetstappe. 'n Toevallige samevallende gebeurtenis kry 'n moontlike bedoeling.
Hierdie vermoë het waarskynlik oorlewingswaarde gehad. Om 'n moontlike bedreiging raak te sien, selfs wanneer dit later onskuldig blyk te wees, kon veiliger wees as om 'n werklike gevaar mis te kyk. Maar dieselfde vermoë kan ons ook mislei. Ons kan betekenis in toeval ontdek, bedoeling aan natuurlike gebeure toeskryf en bonatuurlike verklarings aanvaar sonder voldoende bewyse.
Dit bied 'n nuttige perspektief op waarom mense soms spoke, geeste en ander bonatuurlike wesens vermoed wanneer hulle nie 'n gewone verklaring vir iets het nie. Dit beteken nie dat elke vreemde ervaring verbeel is of dat mense oneerlik is wanneer hulle vertel wat hulle beleef het nie. 'n Mens kan werklik 'n geluid hoor, 'n skaduwee sien of 'n vreemde teenwoordigheid ervaar. Die vraag is wat die ervaring veroorsaak het en of die verklaring daarvoor deur bewyse ondersteun word.
Hier lê 'n belangrike onderskeid: Die ervaring is nie noodwendig die verklaring nie. Ons kan opreg ervaar dat iemand of iets teenwoordig is sonder dat daar noodwendig 'n onsigbare wese bestaan. Die brein interpreteer en voorspel voortdurend op grond van die inligting wat beskikbaar is. Soms lei dit tot 'n korrekte verklaring. Ander kere vul ons die leemtes met aannames, verwagtings en verbeelding.
Die uitdaging is dus nie om ons vermoë om patrone en agente te herken, af te skakel nie. Dit is om te leer onderskei tussen wat ons waarneem, wat ons daaruit aflei en wat ons werklik met bewyse kan staaf. Ons hoef nie ons verbeelding prys te gee nie. Ons moet net versigtig wees om dit nie met die werklikheid te verwar nie (Shermer, 2011).
Die dood: die grootste onbekende
Anders as ander diere kan mense nie net sterf nie, maar ook oor hulle eie sterflikheid nadink. Ons weet dat ons lewe eindig. Ons weet dat mense vir wie ons lief is, gaan sterf. Ons kan selfs ons eie afwesigheid uit die wêreld probeer voorstel.
Dit is 'n besonder moeilike gedagte om mee saam te leef.
Die sielkundiges Jeff Greenberg, Sheldon Solomon en Tom Pyszczynski het die Terror Management Theory ontwikkel om te ondersoek hoe die bewussyn van ons sterflikheid menslike gedrag beïnvloed. Volgens hierdie teorie kan die besef dat ons gaan sterf, diepgaande angs ontlok. Mense gebruik onder meer kulturele wêreldbeskouings, groepsidentiteit, waardes en 'n gevoel van persoonlike betekenis om hierdie angs hanteerbaar te maak.
Ons verbind ons aan verhale oor wie ons is, waar ons vandaan kom en wat ons lewe beteken. Godsdiens, nasionaliteit, kultuur, ideologie en ander vorme van groepsidentiteit kan deel van hierdie betekenisraamwerke word.
Navorsing oor Terror Management Theory dui daarop dat herinneringe aan sterflikheid soms mense se gehegtheid aan hulle wêreldbeskouings en groepsidentiteit kan versterk. Dit beteken egter nie dat elke mens op dieselfde manier reageer of dat alle godsdienstige en kulturele oortuigings bloot uit doodsangs ontstaan nie. Die navorsingsveld is kompleks en die bevindings moet binne hulle metodologiese beperkings verstaan word (Burke et al., 2010; Hayes et al., 2010).
Deur die geskiedenis het mense verhale oor afgestorwenes, geeste, spoke, hemel, hel en 'n moontlike bestaan ná die dood ontwikkel. Hierdie verhale het verskillende funksies vervul. Hulle het verlies help verwerk, groepsverbondenheid versterk, rituele betekenis gegee en antwoorde gebied op vrae waarvoor mense nie destyds wetenskaplike verklarings gehad het nie.
Dit is nie nodig om hierdie idees as bonatuurlike werklikhede te aanvaar om hulle menslike betekenis te verstaan nie.
Die mens het probeer om die onverstaanbare verstaanbaar te maak.
Van Samhain tot Halloween: 'n fees met 'n lang geskiedenis
Halloween het nie op een dag ontstaan nie. Dit is die resultaat van verskillende kulturele gebruike, godsdienstige tradisies en historiese ontwikkelings wat oor baie eeue saamgevloei het.
Een van die belangrike historiese invloede was Samhain, 'n seisoenale fees van antieke Keltiese gemeenskappe in dele van Ierland, Skotland en ander gebiede. Dit het die einde van die somer en die begin van die winter aangedui. Dit was 'n belangrike oorgang in die landboujaar, wanneer die oes ingesamel is en mense hulle op die kouer maande voorberei het.
Die fees het met verskillende volksgebruike en verhale oor bonatuurlike wesens verbind geraak. Die oorgang tussen seisoene, die donkerder dae en die onsekerheid van die winter het ruimte geskep vir verhale oor die onbekende.
Ons moet egter versigtig wees om die geskiedenis te vereenvoudig. Daar is nie genoeg historiese bewyse om met sekerheid te beweer dat Samhain oorspronklik 'n groot fees was waartydens almal geglo het dat die grens tussen die lewendes en die dooies verdwyn nie. Baie van die bekende verklarings oor die presiese oorsprong van Halloween-tradisies is later geïnterpreteer en soms oordryf. Die historikus Ronald Hutton waarsku juis teen eenvoudige, romantiese vertellings oor 'n onveranderde heidense fees wat direk in moderne Halloween voortleef (Rogers, 2002).
Die Christelike kerk het ook 'n belangrike rol in die ontwikkeling van Halloween gespeel.
Allerheiligedag, wat op 1 November gevier word, is 'n dag waarop Christelike heiliges en martelare herdenk word. All Souls' Day, op 2 November, het 'n dag geword waarop afgestorwe Christene herdenk is. Die aand voor Allerheiligedag het as All Hallows' Eve bekend geword. Met verloop van tyd het die naam tot Halloween verkort.
Christelike herdenkings en plaaslike volksgebruike het oor eeue heen met mekaar verweef geraak.
In die Middeleeue het mense onder meer van huis tot huis gegaan om sogenaamde soul cakes te ontvang in ruil vir gebede vir afgestorwenes. In Ierland en Skotland het mense later kostuums aangetrek, maskers gedra en van huis tot huis gegaan om kos of geld te ontvang.
Toe groot getalle Ierse en Skotse immigrante gedurende die 19de eeu na Noord-Amerika verhuis het, het hulle verskillende Halloween-gebruike saamgeneem.
Daar het die fees verder ontwikkel. Teen die 20ste eeu het kostuums, pampoen-lanterns, partytjies en trick-or-treating al hoe gewilder geword. Die moderne Halloween wat ons vandag ken, is dus nie bloot 'n antieke fees wat onveranderd deur die eeue voortbestaan het nie. Dit is 'n kulturele verskynsel wat voortdurend verander het (Rogers, 2002).
Die masker: Wanneer vrees 'n speletjie word
Daar is iets merkwaardigs aan Halloween.
Ons neem die dinge waarvoor mense tradisioneel bang was en verander dit in kostuums, speelgoed, versierings en vermaak. Ons trek geraamtes aan, hang plastiekvlermuise op en sit uitgeholde pampoene met grillerige gesigte voor ons deure.
Waarom?
Een moontlike verklaring lê in die mens se vermoë om deur verbeelding en spel met moeilike emosies om te gaan.
Wanneer 'n kind 'n monsterkostuum aantrek, is die kind nie meer die een wat vir die monster weghardloop nie. Vir 'n oomblik ís die kind die monster. Wanneer volwassenes vir mekaar in spookhuise skrikmaak, weet hulle dat die gevaar deel van 'n georganiseerde ervaring is. Die vrees is werklik as emosie, maar die bedreiging is denkbeeldig.
Ons weet dat ons veilig is. Daarom kan ons lag, skrik, speel en weer probeer.
Die masker skep afstand tussen ons en die werklikheid. Dit laat ons toe om rolle te speel, grense te verskuif en selfs vir 'n oomblik iemand anders te wees.
Halloween het nie doelbewus as 'n vorm van sielkundige terapie ontstaan nie en daar is ook nie een enkele verklaring vir waarom mense graag gruwelverhale vertel of bangmaakervarings geniet nie. Die aantrekkingskrag kan onder meer in nuuskierigheid, opwinding, sosiale spel en die ervaring van 'n beheerde bedreiging lê.
Halloween hoef dus nie oor die viering van die dood of die aanbidding van bose magte te gaan nie. Dit kan eenvoudig 'n kulturele ruimte wees waarin mense met hulle vrese speel.
Ons hoef nie in monsters te glo om 'n monsterkostuum te dra nie. Net so hoef ons nie in spoke te glo om 'n goeie spookstorie te geniet nie.
Verbeelding is nie dieselfde as geloof nie.
Halloween in Suid-Afrika: 'n ingevoerde fees
Halloween het nie dieselfde kulturele posisie in Suid-Afrika as in Amerika, Ierland of Skotland nie, want dit het nie deel van ons historiese kulturele erfenis geword nie.
Halloween is hoofsaaklik deur internasionale populêre kultuur hier bekendgestel. Rolprente, televisie, musiek, advertensies, winkels en sosiale media het die beelde en gebruike aan Suid-Afrikaners bekend gemaak.
Ons sien die pampoene, geraamtes, hekse en kostuums in winkelsentrums. Restaurante bied Halloween-partytjies aan. Skole, organisasies en ondernemings gebruik dit soms as 'n tema vir sosiale geleenthede.
Die fees het egter nie vir ons dieselfde betekenis as vir mense in gemeenskappe waar dit oor geslagte heen deel van die kulturele kalender was nie.
Daar is ook praktiese en kulturele verskille.
In dele van Noord-Amerika is dit gebruiklik dat kinders op Halloween-aand van huis tot huis loop om lekkers te ontvang. In baie Suid-Afrikaanse woonbuurte is dit nie noodwendig 'n veilige of praktiese gebruik nie. Ons woonomgewings en veiligheids-omstandighede verskil.
Die seisoene verskil ook. Halloween vind in die Noordelike Halfrond aan die begin van die winter plaas. Hier is dit lente. Die oorspronklike seisoenale betekenis van die fees is dus nie deel van ons ervaring nie.
Vir baie Afrikaanssprekendes is daar boonop 'n historiese godsdienstige afstand tussen die fees en hulle eie kulturele agtergrond. Die sterk Gereformeerde Protestantse invloed in die Afrikaanse geskiedenis het daartoe bygedra dat sommige mense Halloween met wantroue bejeën.
Daar is nog 'n interessante historiese ironie. Hoewel Halloween se naam en Christelike geskiedenis met Allerheiligedag verbind word, is dié herdenkingsdag self nie juis deel van die godsdienstige kalender van baie Suid-Afrikaners nie. Vir baie mense uit Gereformeerde en ander Protestantse tradisies is Allerheiligedag 'n vreemde gebruik wat eerder met die Rooms-Katolieke Kerk verbind word. Die bekende reaksie is dikwels eenvoudig: “Dis Katoliek.”
Allerheiligedag, wat op 1 November gevier word, is dus nie noodwendig 'n bekende of betekenisvolle godsdienstige geleentheid vir gemeenskappe wat histories uit Protestantse tradisies kom nie. Dit help verklaar waarom die Christelike verband van Halloween nie vanselfsprekend 'n kulturele aanknopingspunt vir baie Suid-Afrikaners bied nie. Hulle aanvaar nie noodwendig die herdenkingsdag waarvan Halloween se naam afgelei is nie, en het gevolglik min rede om die aand voor dié dag as 'n besondere fees te beskou.
31 Oktober is immers ook Hervormingsdag.
Suid-Afrikaners vier Halloween op verskillende maniere, en sommige doen dit glad nie. Daar is ook nie genoeg navorsing om presies te bepaal hoeveel Afrikaanse mense die fees vier of waarom ander dit vermy nie.
Wat wel duidelik is, is dat Halloween hier eerder 'n ingevoerde populêre kultuur-verskynsel as 'n diep gevestigde plaaslike tradisie is.
En dit is heeltemal aanvaarbaar. Ons hoef nie elke fees wat uit 'n ander kultuur kom, ons eie te maak nie.
Maar ons kan dit ten minste verstaan voordat ons daaroor oordeel.
Wanneer vrees geld maak
Halloween het lankal ook 'n kommersiële lewe van sy eie.
Die moderne verbruikerskultuur het 'n merkwaardige vermoë om byna enige menslike behoefte in 'n produk te omskep. Liefde word Valentynsgeskenke. Gesins-verbondenheid word Kersfeesverkope. Geluk word 'n leefstylproduk. En vrees word Halloween.
Kostuums, plastiekgeraamtes, pampoenlanterns, lekkers, grimering, versierings, gruwelfilms en spookhuiservarings word alles verkoop.
In die Verenigde State het Halloween 'n reusebedryf geword. Die National Retail Federation het Amerikaanse Halloweenbesteding vir 2025 op ongeveer 13,1 miljard Amerikaanse dollar geraam. Die bedrag illustreer hoe groot die kommersiële dimensie van die fees geword het.
Die oorspronklike kulturele en historiese betekenis van die fees is vir baie verbruikers nie meer belangrik nie. Wat saak maak, is die ervaring en die produkte wat daarmee saamgaan.
Daar is natuurlik niks verkeerd met mense wat kostuums koop, partytjies hou of hulle huise versier nie. Die probleem ontstaan wanneer die verbruikerskultuur ons voortdurend oortuig dat elke geleentheid iets is wat ons moet koop.
Halloween het in hierdie opsig 'n interessante ironie. 'n Fees wat met die mens se vrees vir die dood en die onbekende verbind word, het ontwikkel tot 'n geleentheid waar ondernemings groot bedrae verdien uit die verkoop van denkbeeldige bedreigings.
Maar die kommersiële kaping is nie die enigste een nie.
Wanneer godsdiens vrees verkoop
Elke jaar, wanneer Halloween nader kom, verskyn daar weer waarskuwings dat die fees anit-christelik, satanies, demonies of gevaarlik vir kinders is.
Sommige godsdienstige groepe beskryf Halloween as 'n viering van die duiwel. Ander beweer dat deelname kinders aan bose magte blootstel of dat mense deur kostuums en speletjies onbewustelik met die okkulte besig is.
Daar is selfs groepe wat ouers waarsku dat hulle kinders nie aan Halloween mag deelneem nie omdat hulle daardeur geestelik besoedel kan word.
Hierdie soort boodskappe verdien kritiese ondersoek.
Die geskiedenis van Halloween is ingewikkeld. Dit bevat Keltiese seisoenale gebruike, Christelike herdenkings, volksverhale en moderne populêre kultuur. Dit is nie histories verantwoordbaar om al hierdie ontwikkelings bloot as 'n sataniese komplot voor te stel nie.
Die bewering dat kinders wat soos geraamtes, hekse of vampiere aantrek, daarmee aan bonatuurlike magte deelneem, word eweneens nie deur betroubare wetenskaplike bewyse ondersteun nie.
Daar is ook 'n ander interessante verskynsel.
Sommige kerke organiseer alternatiewe Halloween-geleenthede soos Hallelujah Nights, Light Parties en oesfeeste. Kinders mag aantrek, speletjies speel en lekkers ontvang, maar die inhoud word aangepas om by die kerk se godsdienstige oortuigings te pas.
Ander groepe gaan verder en gebruik Halloween as 'n geleentheid vir evangelisasie. Hulle versprei godsdienstige traktate, vertel Bybelverhale en probeer mense oortuig van die werklikheid van sonde, Satan, die hel en goddelike redding.
In die Verenigde State bestaan daar selfs sogenaamde Hell Houses. Dit is dramatiese ervarings waarin besoekers deur tonele van geweld, verslawing, seksuele uitbuiting, sonde, oordeel en verdoemenis gelei word. Die doel is om besoekers se emosies te aktiveer en hulle tot 'n godsdienstige besluit te beweeg.
Dit is 'n merkwaardige omkering.
Die fees wat mense die geleentheid bied om hulle vrese deur verbeelding en spel te hanteer, word nou gebruik om nuwe vrese te skep.
Die vraag is nie of gelowiges die reg het om Halloween te verwerp nie. Natuurlik het hulle daardie reg. Niemand hoef 'n fees te vier wat nie met sy of haar oortuigings strook nie.
Die vraag is eerder waarom sommige godsdienstige boodskappe daarop aandring om mense bang te maak vir iets waarvoor daar geen betroubare bewyse van 'n bonatuurlike bedreiging bestaan nie.
Vrees is 'n kragtige instrument van beïnvloeding. Wanneer mense glo dat hulle deur onsigbare magte bedreig word, kan hulle makliker afhanklik raak van mense wat beweer dat hulle beskerming, kennis of redding kan bied.
Dit is nie net 'n Halloween-verskynsel nie. Dit is 'n veel groter probleem wanneer enige ideologie vrees gebruik om mense se denke en gedrag te beheer.
Die kommersiële handelaar verkoop produkte en ervarings wat ons begeertes aanspreek. Die godsdienstige opportunis verkoop soms beskerming teen 'n bedreiging wat hy self help skep.
In albei gevalle behoort ons te vra: Wie baat by die vrees?
Die monsters is nie onder die bed nie
Kom ons keer terug na die monsters.
Ons kan lag vir 'n plastiekgeraamte in 'n tuin. Ons kan vir 'n kind in 'n vampierkostuum 'n lekkergoed gee. Ons kan 'n gruwelfilm kyk en daarna die ligte aanskakel sonder om te wonder of iets onder die bed skuil.
Maar daar is ander monsters waarvoor ons nie kan lag nie.
Hulle dra nie noodwendig maskers nie. Hulle het nie horings, sterte of skerp tande nie. Hulle lyk dikwels heel gewoon. Hulle praat ons taal, werk saam met ons, beklee magsposisies en beroep hulle soms op eerbare waardes.
Hulle manipuleer, mishandel, verneder, bedrieg en buit ander mense uit. Hulle gebruik geweld, geld, mag, ideologie en selfs godsdiens om hulle eie belange te bevorder.
Die werklike bedreigings vir mense se lewens en welwees kom nie van spoke en demone nie. Dit kom van menslike gedrag en die omstandighede wat ons saam skep.
Dink aan geweld teen vroue en kinders, korrupsie, uitbuiting, rassisme, magsmisbruik, oorlog, armoede en die doelbewuste verspreiding van leuens.
Dit is werklike probleme. Dit veroorsaak werklike lyding. Dit eis werklike lewens.
En tog bestee mense soms meer energie daaraan om denkbeeldige bonatuurlike bedreigings te bestry as om hierdie mensgemaakte probleme te verstaan en aan te spreek.
Miskien behoort ons minder bekommerd te wees oor wat moontlik in die donker skuil en meer aandag te gee aan wat mense in die lig aan mekaar doen.
'n Fees wat ons iets oor onsself leer
Halloween kan ons uiteindelik aan iets eenvoudigs herinner: die mens is 'n betekenisvormende wese.
Ons leef nie bloot in 'n wêreld van dinge en gebeure nie. Ons interpreteer, verbeel, benoem, vertel en vorm voortdurend betekenis. Ons skep verhale om die onbekende te verstaan. Ons ontwikkel simbole om ons ervarings uit te druk. Ons gebruik taal om ons vrese, verwagtings en drome met ander te deel.
Sommige van hierdie idees bly nuttig. Ander verander namate ons kennis uitbrei. En sommige behoort ons eenvoudig te laat gaan wanneer daar nie meer goeie redes is om daaraan vas te hou nie.
Die vermoë om betekenis te vorm, bring ook verantwoordelikheid mee. Ons moet leer onderskei tussen wat ons weet, wat ons aflei, wat ons vermoed en wat ons bloot glo. Ons moet bereid wees om ons verklarings te hersien wanneer nuwe bewyse beskikbaar word.
Dit is hoe kritiese denke werk. Nie deur alles te verwerp nie, maar deur te vra waarom ons iets aanvaar en of daar goeie redes daarvoor bestaan.
Ons hoef nie spoke te glo om die dood te respekteer nie. Ons hoef nie in 'n hiernamaals te glo om mense wat gesterf het, te onthou nie. Ons hoef nie in demone te glo om die kwaad wat mense aan mekaar doen, ernstig op te neem nie.
En ons hoef beslis nie in enigiets bonatuurlik te glo om die lewe te vier nie.
Ons kan bang wees sonder om bygelowig te wees. Ons kan verbeelding gebruik sonder om dit met werklikheid te verwar. Ons kan lag vir ons vrese sonder om die werklike gevare in die wêreld te ontken.
Miskien is dit die belangrikste les wat ons uit Halloween kan neem.
Die donker is nie 'n wese wat ons moet oorwin nie. Dit is bloot die afwesigheid van lig. Die dood is nie 'n monster wat iewers vir ons wag nie. Dit is deel van die biologiese werklikheid van alle lewende organismes.
Ons het nie 'n bonatuurlike verklaring nodig om die lewe betekenisvol te maak nie. Ons het kennis, begrip, verbeelding, medemenslikheid en die vermoë om verantwoordelik op te tree.
En wanneer ons wel 'n monster sien, behoort ons eers te vra of dit werklik bestaan voordat ons daarvoor begin weghardloop.
Die monsters is nie onder die bed nie. Hulle loop tussen ons rond.
Hulle verdwyn nie wanneer ons die lig aanskakel nie. Hulle invloed word kleiner wanneer ons hulle gedrag herken, hulle aansprake bevraagteken en weier om deur vrees beheer te word.
Miskien is dit tyd dat ons ophou om bang te wees vir die dinge wat ons uitgedink het en begin aandag gee aan die dinge wat ons aan mekaar doen.
Want die lewe is kort. Heelwat korter as wat ons graag wil erken.
Kom ons gebruik dit om te leef, te lag, te leer, lief te hê en verantwoordelik betekenis te vorm.
Sê gerus vir die wat dit vier: Happy Halloween. En slaap gerus. Die geraamte in die kas is waarskynlik net ou klere.
Bibliografie
Barrett, L. F. (2006). Solving the emotion paradox: Categorization and the experience of emotion. Personality and Social Psychology Review, 10(1), 20–46. https://doi.org/10.1207/s15327957pspr1001_2
Barrett, L. F. (2017). How emotions are made: The secret life of the brain. Houghton Mifflin Harcourt.
Boyer, P., & Bergstrom, B. (2011). Threat-detection in child development: An evolutionary perspective. Neuroscience & Biobehavioral Reviews, 35(4), 1034–1041. https://doi.org/10.1016/j.neubiorev.2010.08.010
Burke, B. L., Martens, A., & Faucher, E. H. (2010). Two decades of terror management theory: A meta-analysis of mortality salience research. Personality and Social Psychology Review, 14(2), 155–195. https://doi.org/10.1177/1088868309352321
Hayes, J., Schimel, J., Arndt, J., & Faucher, E. H. (2010). A theoretical and empirical review of the death-thought accessibility concept in terror management research. Psychological Bulletin, 136(5), 699–739. https://doi.org/10.1037/a0020524
LeDoux, J. E., & Pine, D. S. (2016). Using neuroscience to help understand fear and anxiety: A two-system framework. The American Journal of Psychiatry, 173(11), 1083–1093. https://doi.org/10.1176/appi.ajp.2016.16030353
Lieberman, M. D., Eisenberger, N. I., Crockett, M. J., Tom, S. M., Pfeifer, J. H., & Way, B. M. (2007). Putting feelings into words: Affect labeling disrupts amygdala activity in response to affective stimuli. Psychological Science, 18(5), 421–428. https://doi.org/10.1111/j.1467-9280.2007.01916.x
Rogers, N. (2002). Halloween: From pagan ritual to party night. Oxford University Press. https://doi.org/10.1093/oso/9780195146912.001.0001
Rossano, M. J. (2016). Belief, ritual, and the evolution of religion. In The Oxford handbook of evolutionary psychology and religion (pp. 83–98). Oxford University Press.
Shermer, M. (2011). The believing brain: From ghosts and gods to politics and conspiracies: How we construct beliefs and reinforce them as truths. Times Books.
Siegel, D. J., & Bryson, T. P. (2011). The whole-brain child: 12 revolutionary strategies to nurture your child's developing mind. Delacorte Press.
Wathey, J. C. (2022). The phantom God: What neuroscience reveals about the compulsion to believe. Rowman & Littlefield.
Teken in om te kommentaar