Bernadine Lightfoot skryf vir almal wat hulself nie in glansryke sportmontages herken nie: die oordinkers, dié wat maar teësinnig meedoen, en almal wat ’n baie goeie rede nodig het om van die rusbank af op te staan.
Dié voormalige onderwyseres en Pilates-instruktrise van Gauteng is die skrywer van HOL! (Naledi, 2022), Keerpunt (2024) en just RUN! (2026). Haar verhaal Skuldig is vir die kortlys van Radio Suidkus se radiostorie genomineer, verskeie van haar kortverhale het in rooi rose verskyn en Die Narsis is in die bloemlesing INKSPRAAK 5 opgeneem. Tans vertaal sy Keerpunt in Engels.
Mense wat hul eie lewens onnodig ingewikkeld maak, lê haar na aan die hart. Haar stories vier klein oorwinnings waarvoor niemand medaljes uitdeel nie en vang die ongemaklike oomblikke vas tussen die lewe wat ’n mens jou voorstel en die een wat op ’n gewone Dinsdag gebeur.
Sy hardloop steeds, reis steeds en het besonder goeie voornemens vir enige ander dag as vandag.
Kontak Bernadine Lightfoot direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.