Dr. Hannes (Johannes) Haasbroek is 'n Suid-Afrikaanse historikus en skrywer wat in Bothaville in die Vrystaat gebore is en sy skoolopleiding in Bethlehem voltooi het. Hy behaal sy D Phil-graad in Geskiedenis in 1986 aan die Universiteit van die Vrystaat en is in 1979 aangestel as historikus en hoof van die Geskiedenis-departement by die Nasionale Museum in Bloemfontein, 'n posisie wat hy vir byna 40 jaar beklee het totdat hy in 2018 afgetree het.
Tydens sy loopbaan het Haasbroek verskeie belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en geskiedskrywing gelewer. Hy het talle historiese artikels in wetenskaplike joernale, koerante en tydskrifte gepubliseer, baie met 'n Bloemfontein of Vrystaatse geskiedenisverbintenis. In 2002 het sy ontdekking van die stigtingsplek van die ANC in Bloemfontein nasionale opslae gemaak. Van 1992 tot 2009 was hy redakteur van die Museum se geakkrediteerde wetenskaplike joernaal.
Haasbroek se gepubliseerde werke sluit verskeie biografieë en fiksie in. Hy het biografieë geskryf oor die bekende sopraan Cecilia Wessels ("Stem en legende", 2005) en die strydaktivis Bram Fischer ("'n Seun soos Bram – 'n Portret van Bram Fischer en sy Ma Ella", 2011), waarvoor hy die prestigieuse SALA-prys (South African Literature Awards) vir kreatiewe niefiksie in 2012 ontvang het. Hy het ook twee boeke oor die geskiedenis van Bloemfontein geskryf ("Splinters en Dorings uit die Rosestad se Verlede" en "Spikkels en spatsels uit Bloemfontein se verlede") en die spanningsroman "Woudfontein" (2015). Sy mees onlangse werk sluit die jeugnovelle "Husky se bloedige Karooplaasvakansie" in, 'n Gotiese spanningsverhaal oor vier vriende op 'n Karooplaas. In 2012 het sy kortverhaal "By oulike mense op die platteland" die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfwedstryd gewen, en hy is genomineer vir die jaarlikse "Bloemfonteiner of the Year"-kompetisie in 2011.
<p>Naledi, as ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse boekuitgewer wat met sorg, moed en visie stories die lig laat sien wat andersins dalk stil sou bly. Die naam “Naledi” – wat in verskeie Suid-Afrikaanse tale “ster” beteken – is gepas: dié uitgewer is daarop gerig om nuwe stemme te laat skitter en geve...
Husky se bloedige Karooplaasvakansie deur Hannes Haasbroek
Vier ouens, ‘n meisie in ‘n kortbroek en ‘n man in ‘n rok – so kan die hoofkarakters in die boek opgesom word.
Husky en sy drie vriende is na hul Graad 12 eindeksamen op pad na ‘n Karooplaas, Blouwater, vir ‘n heerlike vakansie van niksdoen en kuier.
Die plaas behoort aan een van die vriende se pa, een van die rykste mense in die land.
Langs die pad laai hulle ‘n pragtige, blonde ryloper op, ‘n meisie met ‘n verlede en ‘n .38-rewolwer in haar handsak. Sy aanvaar die uitnodiging om
saam op Blouwater te gaan uitspan, min wetend dat sy in doodsgevaar gaan beland.