Terug na Lede
Stefaans Coetzee
Stefaans Coetzee
  • Alle boeke, tensy anders aangedui, kan privaat by die skrywer gekoop word (koerierkoste uitgesluit).


Stefaans Coetzee het die helfte van sy lewe agter tralies deurgebring voordat hy in 2015 op parool vrygelaat is. In 2025 vereer die Afrikaanse Taalraad hom met ’n Koker-toekenning. Hy (en Annerle Barnard, Johnny Breedt) haal die finale rondtes van die 2025 Muse-toekennings met ’n radiodrama én ’n TV-reeks. Hy het sewe boeke agter sy naam.

Sy kortverhale verskyn gereeld in Huisgenoot, Rooi Rose en op LitNet; sommige is reeds in die Woordfeesbundel, Ons Klyntji en Stories vir die siel (Luca) opgeneem.

Hy is ’n vryskutresensent vir Beeld, Rapport en LitNet, en skryf graag profielonderhoude vir Lééf, LiG, Taalgenoot en Rooi Rose. In 2024 word hy as Netwerk24 se Smaakmaker met Boeke aangewys. Hy is die medeorganiseerder van die Klerksdorp Boekefees en is getroud met Deirdré – hulle het drie seuns en twee katte.

Lid sedert 30 Nov -0001
1
Naledi
459 Lede
<p>Naledi, as ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse boekuitgewer wat met sorg, moed en visie stories die lig laat sien wat andersins dalk stil sou bly. Die naam “Naledi” – wat in verskeie Suid-Afrikaanse tale “ster” beteken – is gepas: dié uitgewer is daarop gerig om nuwe stemme te laat skitter en geve...
Ander Lede
6
Onbeskryflike Genade
Lux Verbi • 2023
Lux Verbi 2023 ISBN: 9780796323286
Stefaans Coetzee se pa was ’n alkoholis. Toe hy ses was, het sy ma hom kafee toe gestuur. Met sy terugkoms was sy weg. Van kleins af moes Stefaans veg vir aanvaarding en liefde, by die huis en in die kinderhuis. Sy storie begin in die Vrystaat, loop deur donker dade in Worcester, via verskeie tronke, tot op Klerksdorp. Dit is die verhaal van ’n seun wat die heel ergste sou doen, vir aanvaarding. Dit is ook ’n verhaal van hoop, genade, en tweede kanse. Dit wys dat enigeen kan verander. Jy ook.
Op pad na Grysberg
Naledi • 2023
Naledi 2023 ISBN: 978-1-77617-288-7
Op pad na Grysberg is ʼn baanbrekerroman waar 22 van die van die land se grootste Afrikaanse skywers deelgeneem het aan hierdie unieke projek. Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ʼn vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ʼn post-apokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy rou ook, want haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. Een aand besluit sy om hom daar te gaan soek. Die tog soontoe is gevaarlik: die chaotiese stofstrate van Henza, die gevreesde ravyn en die Vloek van Kirikuk wag op haar. Sal sy die moed hê om die reis te voltooi? En sal sy haar seun weer sien? Dit is ʼn unieke fantasie-groeproman deur Suid-Afrikase se knapste skrywers wat temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid ondersoek.
sel ses
Naledi • 2024
Naledi 2024 ISBN: 978-1-991256-98-0
“Waagmoedige verhale oor die ongenaakbare lewe in die tronk.” – Frederick F. Botha “… hierdie is kragtige, hardcore realisme …” – Eben Venter (LitNet Om te skryf slypskool) “Hoewel hierdie verhaal grafies en in ʼn groot mate ontnugterende leesstof is, vind ek dit nodig dat hierdie stories wel geskryf word.” – Anzil Kulsen (LitNet Om te skryf slypskool) Na drie en twintig jaar in die tronk staan Roux Steyn die kans om op parool vrygelaat te word, maar daarvoor moet hy een jaar sonder geweld skoon loop. Vir iemand soos Steyn is dit egter onmoontlik; hy het die Anger Management kursus alreeds drie maal gefaal. Buitendien is hy ʼn bendeleier en dwelmsmous. En hy het ʼn magdom vyande wat nie kan wag om ʼn mes in sy niere te plant nie. Lesers word uitgedaag om deur Steyn se oë waar te neem; soms te voel, maar meestal te verstaan: Daar is in elke monster ook ʼn mens. sel ses is ʼn samelopende kortverhaalbundel en honderd persent fiksie. Wees egter gewaarsku, die tronk is nie ʼn plek vir teddiebere nie – druk jou vingers in die kragprop en sit die krag aan.
Sewe keer sondig
Naledi • 2024
Naledi 2024 ISBN: 978-1-991256-75-1
25 kortverhale, die een sondiger as die ander, sal die leser vermaak, ontroer, laat naels kou en dalk selfs laat glimlag. Volgens oorlewering bestaan daar sewe dodelike sondes waaruit alle ander onheilighede voortspruit: hoogmoed, gierigheid, wellus, afguns, vraatsug, toorn, en luiheid.
Suiker Britz: Dossier van 'n speurbaas
Penguin Random House • 2019
Penguin Random House 2019 ISBN: 9781776094714
Toe die legendariese Suiker Britz homself in 2018 om die lewe gebring het, het die einde van ’n era aangebreek – ’n tydvak waarin ouskool-polisiemanne se reputasie gebou was op ongelooflike suksesse in die bekamping van misdaad. In sy luisterryke loopbaan as polisieman en speurder, en as hoof van die Suid-Afrikaanse Polisie se Moord en Roof-eenheid, was Britz as ondersoeker betrokke by misdade wat die samelewing tot in sy fondamente geskud het. In die land se oorgangstydperk na demokrasie het hy, in opdrag van verskeie kommissies van ondersoek, duisterhede help opklaar rondom polities-geïnspireerde moorde. In hierdie boek probeer die skrywers ’n beeld van die man agter die legende kry deur die soeklig op sake waarby hy betrokke was, te laat val. En die beeld wat na vore kom is dié van ’n passievolle speurder wat uitsonderlike prestasies in sy loopbaan behaal het, maar hy was ook ’n gewone mens met unieke tekortkominge. Britz het dikwels onder fel kritiek deurgeloop oor die manier waarop polities sensitiewe sake hanteer is. Lesers wat maklik ontstel word deur grafiese materiaal, moet daarop bedag wees dat die sake wat in hierdie boek gedek word, dikwels grusaam en angswekkend is. Om egter ’n profiel van ’n man in Suiker Britz se liga saam te stel, is dit onvermydelik dat die donkerste uithoeke van die menslike psige verken moet word.
Wit Wolf: Die Worcester Bomplanter se Storie van Bevryding
Tafelberg • 2019
Tafelberg 2019 ISBN: 978-0-624-08826-4
Stefaans Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy op Oukersdag 1996 saam met twee ander verregses bomme by die Shoprite-winkel in Worcester geplant het. Vier mense - onder wie drie kinders - sterf in dié verwoestende ontploffings en Stefaans se lewe verander onherroeplik. Hy word tot moordenaar veroordeel en vir veertig jaar tronk toe gestuur. In die gevangenis kruis sy pad met wit en swart tronkbewaarders, bendelede en medegevangenes - en dié interaksie oortuig die hardkoppige jong man om met sy slagoffers versoen te raak. Stelselmatig verander Stefaans, 'n geharde rassis en lid van die Wit Wolwe, in iemand wat met nuwe oë na homself, sy verlede, en die mense om hom kyk. 'n Roerende en onvergeetlike ware verhaal van versoening en hoop.
19
Waarheen verdwyn bladsy 44? Huisgenoot, die kortverhaal en die toekoms van die Afrikaanse letterkunde
"Miskien is dit waarom die verdwyning van bladsy 44 my so diep geraak het. Nie omdat daar een minder kortverhaal was om te lees nie, maar omdat dit my laat besef het hoe maklik ’n letterkunde die klei
👁 159 lesers

Waarheen verdwyn bladsy 44? Huisgenoot, die kortverhaal en die toekoms van die Afrikaanse letterkunde

"Miskien is dit waarom die verdwyning van bladsy 44 my so diep geraak het. Nie omdat daar een minder kortverhaal was om te lees nie, maar omdat dit my laat besef het hoe maklik ’n letterkunde die klein ruimtes kan verloor waar sy grootste vernuwing begin."

Jy’s nie verniet 'n Smaakmaker nie, Stefaans! Jy kan voorspraak maak op so 'n innige vlak dat dit my wil laat trane stort. Ek is net so geraak deur die verdwyning van Bladsy 44. Ek het altyd in gedagte gehou wie my stories sou lees; eensames in woonstelle - Huisgenoot hul enigste genot. Familietydskrif - so dit moes 'n palet van lesers bevredig. Ek het die hartseer van die verdwyning gehoor van haarkapper, kafee wat Huisgenoot verkoop tot by naastes: nou gaan daar nie meer stories wees nie… Pensioenarise kan nie romans bekostig nie. Ek sien dit by die leeskring van ons biblioteek. Lesers kom luister met opwinding na die bekendstelling van skrywers, koffie en versnaperinge daarna en waarna hul 'n boek of twee gaan uitneem. Huisgenoot het seker hul syferwerk gedoen, maar ek twyfel dat 'n R100K-uitgawe per jaar hul omset en profyt so geweldig negatief kan raak dat hul die genot van Bladsy 44 lesers ontneem. Trouens, ek dink dit kan moontlik verkope negatief raak. Vir die deursnee werker met 'n gesin is dit moeilik om boeke van R300 elk te bekostig op 'n gereelde grondslag en is dus maar afhanklik van biblioteke voortaan. Persoonlik dink ek as twee kortverhale weekliks geplaas sou word, sou dit verkope selfs eerder meer positief beïnvloed en 'n groter platform skep vir nuwe skrywers. Maar lesers sou 8 stories kry per maand, instede van 4, wat steeds vir die man op straat goedkoper kos as een boek! Ek onthou baie goed hoe opgewonde Dalene Matthee was met die publikasie van haar kortverhaal “Vir 14 sigarette”. Ons was vriende op Graaff-Reinet. En kyk net hoe daárdie plasing haar sóveel aangespoor het tot soveel groter dinge. Stefaans, ek hoop werklik jou inherente “smeekbede” sal bydra daartoe dat Huisgenoot twee maal sal dink om Bladsy 44 regtig permanent te laat verdwyn.

Hierdie stuk het oorspronklik by LitNet verskyn. Lees die volledige stuk hier →

GRATIS KORTVERHAAL: More is anders
👁 543 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: More is anders

GRATIS KORTVERHAAL: More is anders

More is anders

Die stoeplig skiet aan toe ek uit die kombuis stap, vullissak in die hand. Ek skop die waterpistool uit my pad, roep die twee ouer seuns oor my skouer. “Kom tel op julle speelgoed, geld groei nie op my rug nie.”

Wolke steek die maan en sterre weg. In die verte donder die weer. Ek hoop dit reën vanaand, want ek kom nie aldag by gras natmaak uit nie.

“Jy moet hulle speelgoed vir Hop-Hop gee,” roep my vrou vanuit die kombuis. Sy praat van die bure se seun wat altyd huppel. “Dit sal hulle leer om hul goed op te pas.”

“Ja, my lief.”

Ek het lankal geleer om my mond te zip. Wat ons moet doen, is om alle kredietkaarte te knip. Een karretjie se wiel breek en ons koop tien ander. Ons vriende mag mos nie sien hier’s stukkende speelgoed nie. Dieselfde geld vir ons klere, dit bleik skaars en ...

“Hoekom blaf die honde nie – dink jy iemand het hulle vergiftig?” Die houtlepel in haar hande sny deur die lug soos sy praat. “Ons moet soos Magda ʼn klein hondjie kry, vir die huis. Ek sal nou op Facebook vra anders moet jy more by die shelter stop. As jy na werk gaan, kan die seuns saam gaan.”

David strompel nader, tietiebottel in die mond. Hy skiet sy hande in die lug. “David sien nie.”

Ek tel hom op, soen hom in die nek. “Eers more. Kom ek change jou doek.”

Hy probeer homself uit my hande stoei. “I’m fine.”

“Issie.” Ek lig hom hoog en soen hom totdat hy begin borrellag.

“Klaar,” sê hy uitasem: “Klaar.”


∞ ∞ ∞

David lê later oor my skouer terwyl ek na die notas op die sticky note staar:

1.    ... stuur faktuur

2.    ... voltooi onderhoud

3.    ... skryf resensie klaar


Ek het die eerste twee doodgekrap. Maar sukkel met die resensie se einde. Kort nog 105 woorde. Emile het al drie keer ge-WhatsApp om uit te vind hoe dit vorder, maar na die debat op Facebook oor ons snotjantieties wat resensies skryf sonder die nodige grade, het ek my lus verloor.

“Doedoe by my,” prewel David.

“Pappa kan nie, ek moet nog werk. Tien minute,” belowe ek. Ek gaan nog wakker wees as hy vir sy eerste tietie wakker skrik.

My vrou roer iets op die stoof. Dit ruik lekker. “Hy slaap deesdae baie, is hy oukei?”

“Seker die hitte.”

Ek lê hom op die bank neer, skuif twee stoele teenaan die bank sodat hy nie kan afrol nie, maak die ouer seuns stil. Ek tik sy boudjie liggies.

Here, hoe kom ek elke dag hier uit? Werk myself morsdood en teen slapenstyd het ek hom skaars vasgehou. En elke aand beloof ek myself: more is anders. Maar my halfdagsalaris is te min om kos op die tafel te sit. As ek nie resensies of kortverhale skryf nie, leef ons op brood en pap.

My vrou skuif my rekenaar eenkant, begin die tafel dek. “Het Martin jou al betaal?”

“Ek’t die notification gekry, so die betaling sal enige tyd wys.”

“En Dagblad?”

Ek skud my kop.

“Jy moet vir Monika sê jy kan nie tot donkernag werk en sy betaal jou nie.”

“Dis die lewe van vryskut, my lief, almal betaal eers nadat jou werk gepubliseer is.” Ek het geleer om “my lief” by te voeg, dan klink ek nie ongeduldig nie.

Ek dreig die groter seuns duskant die dood om stil te bly.

My vrou lig haar kop bo-oor die selfoon. “Is my video’s ook te hard?”

“Nee, my lief, maar Mani gil soos ʼn besetene. Net nou dink die buurvrou ek vermoor hulle.”

“Te hel met haar. Dis maklik om ʼn Spreuke 31 vrou te wees as jy al die geld in die wêreld het.” Stilte, dan: “Hoekom skryf jy nie vir ander tydskrifte ook kortverhale nie?”

Tyd. Maar dit sê ek nie. Ek maak of ek haar nie gehoor het nie, verander die onderwerp deur op die kinders te fokus: “Is julle huiswerk klaar? Julle kamer skoon?”


∞ ∞ ∞

Ek het net Emile se e-pos gestuur, met ʼn kort nota waarin ek hom bedank vir sy geduld, toe David hoes. Ek loop vinnig kamer toe sodat hy nie my vrou wakker hoes nie. Maak ʼn melkie, gaan lê met hom op die bank. Streel sy rug.

Ek mis die aande toe ek nog voltyds by die radiostasie gewerk het. Ek en David het ure hier gelê terwyl ek die volgende dag se musiek in my kop uitwerk. Nou moet ek drie goed doen om die pot aan die kook te hou. Miskien moet ek nog ʼn boek aandurf. Met die huidige blitsverkoper kon ek die trouskuld afbetaal.

Ek trek David stywer teen my vas.

Dit is ons eerste maand sonder skuld. Volgende maand is die begin van drie maande met vyf verjaarsdae en die nuwe skooljaar, dan kan ek vir die eerste keer in my lewe asemhaal. Dalk die resensies los en meer tyd met die kinders spandeer.


∞ ∞ ∞

David se liggaampie ruk teen my. Voor ek kan keer, gooi hy oor my op. Ek spring op, hou hom stywer vas. Sit in die badkamer ʼn koue waslap op sy kop nadat ek hom afgevee het. Wag nie lank nie. Hy gooi weer op. Soos ʼn projektiel.

My vrou verskyn in die deur. “Wat’s fout?”

“Seker ʼn maagvirus.”

“Dink jy nie hy’t Covid nie?”

Ek skud my kop. “Dan sou ons almal gehad het.” Tap badwater in, trek ons albei uit. “Ek sal later hier skoonmaak, kom ek kry hom eers rustig.”

“Moet ek vir hom Panado ingee?”

“Ons kan probeer.”

Die honde blaf vir iemand in die straat.

Mani roep, vra of David okay is.

“I’m fine,” piep David in my arms. “Doedoe by my.”

Ek hou David na my vrou uit. “As jy hom gaan neerlê, sal ek gou die vloer was en die klere in die wasmasjien druk.”

Maar hy klou vir die dood. “Faans doedoe my.”


∞ ∞ ∞

Ek slaap swak, nie omdat ons op die toermatras in die sitkamer lê nie, maar omdat David kort-kort wakker is.

Moet ek hom nie hospitaal toe vat nie? Ek Google: as ʼn baba meer as drie keer opgooi nadat hy op sy kop geval het, moet hy by ʼn hospitaal uitkom. Hy’t mos vanoggend hard op sy kop vanaf die bed geval. Was dit harder as wat ons gedink het? Hoekom nou eers opgooi? Of is dit sonsteek?

Ek probeer om op my banktoep aansoek te doen vir ʼn lening. Iemand, word ek in kennis gestel, sal my bel. Hoekom het ek die verdomde lening toegemaak? Hoekom het ek nie gewag totdat ek eers genoeg geld vir ʼn noodgeval weggesit het nie? By wie kan ek die tyd van die oggend geld leen?

Toe hy weer opgooi, spring ek op. Roep my vrou. “Ek gaan hospitaal toe.”

“Trek eers iets skoon aan.”

“Te hel met die mense, ek gaan nie langer tyd mors nie.”


∞ ∞ ∞

“Ons kan jou nie help voor jy vir die scan betaal nie,” sê die vrou by die hospitaal, kaartmasjien in die hand.

“Ek sal julle betaal, ek het net nie nou geld nie. En die bank is nog toe.” Ek probeer my inhou. Om nie te begin vloek en skree nie. Ek was al twee keer hier, albei kere het ek kontant betaal.

“Die beste wat ek kan doen,” die vrou se stem is ferm, soos ʼn regter wat ʼn doodsvonnis uitspreek: “is om vir hom iets in te gee vir die opgooi. Maar dis al. Jy moet Tshepong toe gaan.” Dan: “Soos alle arm blankes.”

Ek wil die vrou gryp en rondskud. Die rede hoekom ek bly waar ek bly, is omdat dit die goedkoopste huis die naaste aan die hospitaal is. Vir ʼn noodgeval. Ek het nie nou petrol om die 9 km Tshepong toe te jaag nie.

Sy kyk my aan totdat ek opstaan ek loop.

By die deur roep sy my terug. Sy wys na waar ek gesit het. “Meneer, jou selfoon.”

“Jy weet natuurlik by wie jou man slaap terwyl jy nagskof werk.” Ek moes net ʼn steek inkry, maar dit laat my nie beter voel nie.


∞ ∞ ∞

By die motor maak ek David vas in sy stoeltjie, veg teen die trane. Klim in. Sal ek Tshepong haal?

Iemand klop aan die ruit. ʼn Ander vrou, papier in die hand.

Ek sug, maak die deur oop. Ek sal om verskoning gaan vra, maar ek gaan hulle steeds op Google Maps ʼn 1-ster gee.

Sy noem my naam, vra of ek die resensent is.

Ek beaam dit. Wys na David. “Hy moet by die hospitaal kom.”

“Jy was destyds die enigste resensent wat my boek resenseer het. Ek het nou nog die koerantuitknipsel. Ten danke aan jou het ek aangehou.” Sy lag. “Drie boeke later en ek het nie eens geweet ons bly in dieselfde dorp nie. Kom, ek’s ʼn dokter, laat ek jou seun help.”

GRATIS VONKFIKSIE: Die tafel in die hoek
👁 572 lesers

GRATIS VONKFIKSIE: Die tafel in die hoek

GRATIS VONKFIKSIE: Die tafel in die hoek

Die tafel in die hoek

“Hoekom kyk jy my so, Oom?” ʼn Sproetgesiggie, skaars agtien, spoeg die woorde in lettergrepe uit. Kliphard. “Sies man, ek kon jou dogter gewees het.”

Sy swaai om. Lang, haastige tree. Met die spotlight op haar, stoom sy voort. “Vark! Ek wonder wat hy alles in sy gedagtes met my wil doen.”

ʼn Seun met ʼn mohawk-haarstyl se selfoon flits tussen ons. Facebook Live?

ʼn Man se stoel kletter, hy storm nader. Vuiste gebal.

“Jy moet liewers gaan.”

Sy stem sny deur die stilte.

Ek knik, druk kontant onder die piering en staan op. Stamp in die proses die tafel. Koffie spat.

Die hou tref my onverwags voor die bors.

“As ek jou weer by kinders sien, maak ek jou vrek. Gemors.”

“Dis nie wat jy dink nie.” Ek haat die trilling in my stemtoon. Ek kreukel my hoed. Kyk af, na die stukkie koek. Onaangeraak. “My ...”

“Ouman, skoolkind – ek weet goed wat jý dink. Skoert.”

My sug is ʼn laaste asem. Ek skuur deur tafels. Doof skelwoorde uit. Oë brand my rug tot buite. Ek vee ʼn traan weg; niemand verstaan nie.

Die bestuurder drafstap nader, uitasem. “Jammer, Oom. Die kelner het my nou eers gesê. Kom terug, asseblief.”

Ek staar oor haar skouer, skud my kop. My lippe trek ʼn reguit lyn. “Liewers nie.”

Sy vat my hand. “Kom, ek sal saam Oom sit.”

Oom? Dit voel soos gister toe ek vir Dee ontmoet het. Beeldskoon en jonk, my kuis in standerd 6, my matriekafskeid-date en uiteindelik my vrou. Hoeveel middae het ons nie by hierdie tafel gesit nie? Voor Eden, en gereeld daarna. Tot ...

Die man stormram nader, bulder: “Ons soek nie ʼn pedofiel tussen ons kinders nie.”

Pedofiel. Ek hoor dit soms. Mense oordeel sonder om te verstaan.

“Ek moet gaan. Asseblief.”

Haar greep verstram. Sy draai na die man. “Ken jy die Oom se verhaal?”

Soveel gesag in haar stem. Hy wil iets sê; sy knip hom kort. “Oom Buys kom eenkeer ʼn jaar. Net eenkeer. Altyd op dieselfde dag. Altyd by hierdie tafel.”

Die man blaas deur sy neus. “Sodat hy die meisies lekker kan dophou.”

My oë spring na die koerantberig teen die muur, geraam. Voorblad. Vandag, veertien jaar gelede. ROOF LOOP SKEEF: MEISIE IN RESTAURANT DOODGESKIET.

Sy oë volg myne. ʼn Frons. Hy kyk na my, die berig, dan na die meisie. “Bliksem ... jy kon sy dogter gewees het!”

GRATIS VONKFIKSIE: Die goeie ou dae
👁 643 lesers

GRATIS VONKFIKSIE: Die goeie ou dae

GRATIS VONKFIKSIE: Die goeie ou dae

Die goeie ou dae

Ek wil baie graag Hector Pieterson se museum besoek. Hopelik word ek toegelaat om met sy suster, Antionette, te gesels. Nie oor “It was on the 16th of June as we were marching against the Afrikaans” nie, maar oor Hector die seun.

Het hy van skool gehou? Wie was sy gunsteling sokkerspan? Wat wou hy eendag word?

Op die Soweto tours – The Hector Pieterson Memorial – part of the struggle tour se amptelike webblad, lees ek dat hiérdie museum in die 1990’s opgerig is. Kan jy glo, twee blokke vanaf die slagveld waar bykans 200 kinders hul lewens opgeoffer het teen onderrig in Afrikaans ...

In my geestesoog sien ek Hector daardie oggend van 16 Junie 1976 opstaan.

Ma Dorothy moes hom moontlik twee keer aan die skouer ruk. “Kom nou, Hector, jy gaan laat wees vir skool.”

As dit ek was, het ek die kombers oor my kop getrek en snoesig gedut totdat moederlief met haar vuiste in haar sye dreig: “Hector Pieterson, as jy nie nou dadelik opstaan nie, trek ek jou gatvelle van jou lyf af.”

Sou ’n beker warm koffie op hom wag? Of is net ʼn emmer badwater vroegoggend vir hom gekook?

Ma Dorothy se oë boor in sy rug. “Moenie vergeet om agter jou ore te was nie.”

Hy doop die waslap in die sinkbad, smeer dit seep, skrop om die skulp van sye ore, binne elke oor, om die nek. Sy liggaam – met hoendervleis oorgetrek – ruk.

“Hector, het jy jou huiswerk gedoen?” Ma Dorothy skuif haar kopdoek reg, lippe ’n reguit lyn: “Antoinette, jy lag verniet vir jou broer, ek wil jou skoolboeke sien voor jy eet. Jy’s nie te oud vir ’n pak slae nie.”

Hector droog homself af. Sy tande kletter op mekaar.

“Ja, Ma,” sê hy met ’n knipoog in Afrikaans.

Antionette giggel. “Joh. Jy.”

Klam handdoek oor die bo-lyf, trek Hector sy onderbroek aan. Dan sy broek. Hemp. (Knoop hy ook sy knope van onder vas om seker te maak hy mis nie ’n knoopsgaatjie nie?) Trui. Kouse en skoene.

Ma Dorothy se wysvinger dans onder sy neus. “Hoekom blink jou skoene nie? Wat gaan vandag met jou aan, Hector? Kom, soen my, ek moet gaan werk, die baas hou nie daarvan as ek laat is nie.”

Op pad skool toe smelt Hector saam met 20 000 kinders uit drie skole. Hy is nuuskierig en wil weet wat aangaan. Die massa skram stadium toe, in Moemastraat wag die polisie op hulle. Gewapen.

Terwyl die kinders Nkosi Sikelele sing, beveel luitenant Swanepoel die handvol polisiemanne om te skiet!

Wie de donner skiet op kinders?

Die polisie. Nie in Rusland nie. Nog minder in Ierland of Israel. Nee, hier in ons eie Suid-Afrika waar stootskrapers gebruik is vir grondonteiening sonder vergoeding. En dan hunker soveel mense terug na ‘die goeie ou dae’ ...

Sê jy nou vir my: Vir wie?

176 grafte in Avalon begraafplaas getuig dat derduisende mense gedurende ‘die goeie ou dae’ saans gebid het: verlos ons van die bose.

LitNet (Maart 2025)


GRATIS VONKFIKSIE: Sondag
👁 477 lesers

GRATIS VONKFIKSIE: Sondag

GRATIS VONKFIKSIE: Sondag

Sondag

Sondagaand 22h00. Die film is klaar; RSG speel klasieke musiek in die agtergrond. Die kinders is reg om in te kruip; nog net tandeborsel. Mamma neem ‘n glas yskaswater en sit dit op Pappa se bedkassie langs Die Bybel en die gloeilampie, wat sy aanskakel voor sy haar klere vir nagklere verruil. Pappa neem die honde uit voor die deure gesluit word vir die nag.

Die wolke het die sterre uitgevee, die lug is koel.

Die buurtwag se groen lig flits stadig verby.

Die straat is grafstil.

Maar agter die hoë heiningmuur, by die vullissakke, in die donkerte, so half weggesteek agter boomtakke, staan ‘n swart man. Jy sien hom nie. Hoor hom ook nie. Sweet druk sy klere sluik aan sy torso’s. Sy hande grawe in asbliksakke na plastiekbottels. Sy trollie is kwart en die straat nog lank.

GRATIS VONKFIKSIE: Agt sitplekke oop
👁 558 lesers

GRATIS VONKFIKSIE: Agt sitplekke oop

GRATIS VONKFIKSIE: Agt sitplekke oop

Agt sitplekke oop

 

Sy staan in die reën, op die N12, buite Stilfontein. In my tru-spieëltjie word die gesiggie op haar rug ʼn spikkeltjie.


agt sitplekke is oop voorin die bus

vir blankes net

en ’n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit

Nie nou nie, Adam.


staan vir ’n hele lewe

en agt sitplekke oop, maar sy moet staan

Fok, Adam! Ek sweer ek verbrand jou bundels.

Ek maak ʼn U-draai, stop langs haar.

“Waarheen?”

“Jo ’burg.”

Reën biggel soos trane oor haar wange.

Ek sit die Bybel op die agterste sitplek, wys vir haar om in te klim.

“Agter,” pleit sy. Genadiglik voeg sy nie baas by nie.

Ons ry in stilte tot in Potch. Stop by die bushalte. Ek druk kaartjie-geld in haar hand.

Sy hou my Bybel na my uit. “Is dit hoekom jy my gehelp het?”

Ek swyg. Hoe verduidelik ek agt sitplekke oop?

GRATIS VONKFIKSIE: Lethe
👁 541 lesers

GRATIS VONKFIKSIE: Lethe

GRATIS VONKFIKSIE: Lethe

Lethe

“Wie’s jou bobbejaan?” Dreadlocks hang soos spinnekopbene oor Xolani se gesig. Versteek sy een oog. Uitgesteek in die tronk, bendegeweld. “Dis jy wat soos jou gat ry.”

Mense skram om die taxi en Isuzu-dubbelkajuit. Kop aan kop botsing. Niemand is ernstig beseer nie. Net eggo’s.

ʼn Senuwee spring langs Gert se regteroor. Hy is ʼn boer, ʼn baas – duld geen teëpraat nie. Nie van sy vrou, kinders of werkers nie. Niemand nie.

“Ek gaan jou vrekmaak!” Skree hy en gryp Xolani voor die bors.

Gert slaan. ʼn Linker hakhou op die dooie oog, bloed spat. Hy volg dit op met ʼn regter op die ken. Sy hele 120 kg spiermassa sit agter die hou.

Xolani steier terug en val.

Gert skop: gesig, maag, ribbes.

Dit klink of ʼn tak kraak. Iets breek.

Die donderweer bulder. Weerlig blits.

“Stop dit,” skree ʼn vrou. Die baba oor haar skouer huil. Sy trek Gert aan sy hemp. “Gertjie, dit was ʼn ongeluk.”

Xolani staan op, effens na links ingekrimp. Hy beskerm die gebreekte rib met sy elmboog. Haal swaar asem. Die vierhoeke het die reëls op sy lyf graveer: As jy te klein is vir ʼn tweegeveg, steek mes.

Die Okapi glim in die son. Dit vlek rooi.

Gert sak inmekaar.

Sy vrou gil. Trane en reën word een.


∞ ∞ ∞

Dit word pikdonker rondom Gert. En grafstil.

Is hy dood?

Hy swem deur ʼn rivier. Die water is yskoud. In die verte hoor hy hoe Afrika-dromme ritmies klop ... doef-doef ... Hy voel hoe dit stelselmatig warmer en warmer rondom hom word.

Doef-doef.

Die dromme word harder en hy sien ʼn klein liggie wat groter en skerper word soos hy nader daaraan beweeg.

Doef-doef.


∞ ∞ ∞

Die toordokter knip die huilende babatjie se naelstring af en knoop dit voordat hy hom in ʼn karos toedraai. Daarna gee hy die kleinding vir sy ma wat hom teen haar bors vasdruk.

Doef-doef.

Die rustigheid van die hartklop maak hom rustig. Sy klein mondjie maak oop en toe totdat dit om sy ma se swart tepel vou.

GRATIS KORTVERHAAL: Niemand sal weet
👁 502 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Niemand sal weet

GRATIS KORTVERHAAL: Niemand sal weet

Niemand sal weet nie

Gert tel die Isuzu se sleutels op, druk die inkopieslys in sy hempsak. Hoekom het sy vrou nie vanoggend vir hom gesê die water is amper klaar nie?

“Gertjie, het jy gehoor?” Sonja se rug is op hom gekeer; hande doening met skottelgoed. “Hulle het daardie arme mannetjie ge-gangrape. Shame.”

Hy wil nie nou staan en praat nie, die rugby skop oor ʼn halfuur af. Vir wat sit sy heeldag op Facegoed? Eendag ontvolk Bill Gates die populasie met Covid, die volgende dag monitor die Chinese die mensdom se beweging. Dan luister KI alles af. Al wat nog kort is dat Kobus van Rensburg uit sy graf opstaan.

“Luister jy ooit wat ek sê?”

Hy ril soos wanneer hy ʼn slang sien. Of ʼn spook. Kyk opsigtelik na sy horlosie. “Van wie praat ons nou, my vrou?”

“Voor ons getroud was, het ons heeldag gepraat, nou luister jy skaars wat ek sê.” Sy trek die skottelgoedhandskoene van haar vingers af, gooi dit langs die wasbak neer. Vuiste in die heupe. “Moet ek ʼn groentrui aantrek sodat jy my weer kan raaksien? Ek praat van daai mannetjie wat vir dronkbestuur toegesluit is. Salométjie het daaroor in die Rekord berig.”

“O.” Hy tel die waterbottels wat hervul moet word op. “Is daar nog iets, of is dit net die die lys?”

“O?” Sis sy, pik: “Niks wat ek sê is meer belangrik nie. Koop net dit, tensy jy biertjie wil hê.”

“Oukei.”

“Jy hoef nie as jy nie wil nie.”

Natuurlik wil hy, die Bokke speel.

“Gaan jy braai?” roep sy agterna.

“As jy wil.”

“Kry dan vir ons so paar mielies. En tamaties dan maak ek braai broodjies.”

Sewe minute later stop hy voor Tops. Koop ʼn halfdosyn bier, bêre dit op die passasiersitplek. Draf met die waterbottels in Spar in. Dit wemel, ʼn miernes in groen. Hy merk die lysie in sy kop af, water laaste.

Die lyn draai duskant die yskaste. Gaan dit nie vinniger wees om gou Mall toe te jaag nie?

Sy selfoon lui, sy vrou. Wat wil sy nou hê? “Ek staan nog in die lyn ... Ek belowe ek drink nie gou ʼn dop saam met my pelle nie.”

Die man in gumboots en oorpak draai om, glimlag betekenisvol.

Leon Schuster sing oor die luidsprekers . ʼn Vrou val in, gou sing Spar saam. Hier kom die Bokke. Gert ook, maar soos in die kerk, sag.


∞ ∞ ∞

Is die hele dorp vanaand op die paaie? Hy snel in die aankomende verkeer om die slaggate in sy baan te vermei. Flikker sy ligte vir die ou wat op bright’s nader stoom. Swets binnemonds. Swenk links. Kners op sy tande toe hy ʼn slaggat tref. Briek skerp vir ʼn taxi wat dood stop, noodligte aan. Teen die ruit hang ʼn skreeuende Garfield-pop vir lewe en dood. Hy klap sy tong. Tipies.

Gelukkig ken hy ʼn kortpad.

Tel spoed op ...

Die hawelose man verander in ʼn soutpilaar.

Gert roep die Skepper aan, maar nie in gebed nie.

Probeer uitswaai.

Trap rem.

Maar dit is te laat. Hy voel die slag. Hoor dit ook.

Hy klim uit en skel op die Skepper.

Soveel bloed.

Hy gooi op.

Sy vrou se woorde maal deur sy kop ... ge-gangrape. Gangrape. Raperaperape! Hy sal nie ʼn dag in die tronk oorleef nie. Hy kyk rond, sien niemand nie. Spring in die bakkie en jaag weg.

Niemand sal weet nie.


∞ ∞ ∞

“Het jy gehoor?” Sy vrou sit by die kombuistafel, selfoon in die hand. Chai Latte kwart. “Die man is dood ... Hemel, Gertjie, kyk net hoe wit is jy? Is die Bokke agter?”

Gert sit die inkopiesakke op die kombuistafel neer. Zombie-loop bakkie toe, kom terug met die water. Sit dit in die spens neer.

“Gertjie?”

“My bloedsuiker het geval. Watter man is dood, my lief?”

“Hemel, Gert, het die liewe Here jou huis toe geroep? Jy’t my op ons troudag laas ‘my lief’ genoem. Die mannetjie waaroor Salométjie berig het.”

“Dankie tog,” glip uit voor hy kan keer.

“Gertjie?”

“Vir wat jaag die duiwel jou vanaand so rond?” Sonja lê haar selfoon op haar bors neer. “Bitch ek te veel? Of het jy ʼn jonger bokkie platgeduik? Ek’t gesien hoe hou jy ons buurvroutjie dop – onthou net, sy kon jou dogter gewees het.”

“Die Bokke het met ʼn punt verloor, my vrou. ʼn Punt.”

Hy is bly sy kan nie sy gesig in die donker sien nie.

Ook nie sy gedagtes nie.

Agter sy ooglede flits oranje tronkuniforms en tuisgemaakte messe. Gille. ʼn Bendeverkragting.

“As jy rondneuk, maak ek jou vrek.” Die bedlampie gaan aan. “Kom ek gaan maak vir ons Hot Chocolate.”

Hy wag totdat hy die ketel hoor kook voor hy haar selfoon optel. Hoe soek mens op die blerrie ding? Die vergrootglas. Sy vingers het ʼn wil van hul eie. Spel Klerksdorp Rekord vier keer verkeerd.

Hy sien niks oor ʼn hawelose man wat doodgery is nie. Herinner homself, niemand sal weet nie.


∞ ∞ ∞

Dae sleep verby. Hy verlep soos spinasie in die son.

Net toe hy weer begin lewe kry, breek sy die nuus. Aan tafel, op ʼn Sondagmiddag na kerk. So asof sy by Pastoor se preek oor sondes in die donker wil aansluit.

“Het jy gehoor, ʼn hawelose man is doodgery. Nie waar nie, in La Hoff.”

Hy verstik amper aan sy tjoppie. Vee sy lippe met ʼn servet af. “Hulle staan heeldag in die pad en bedel. Dis ʼn wonder hulle is nog nie almal al raakgery nie.”

“Gertjie! Al het hy nie huis of kraai nie, bly hy ʼn kind van die Allerhoogste. Skaam vir jou.” Sy draai die selfoon na hom. “Kyk net, sulke mooi blou ogies.”

Hy lees die berig. Geen verdagte nie. Dank die ... nee, hy mag nie ... maar die Vader weet, hy sou nie die tronk oorleef het nie.


∞ ∞ ∞

Hy is besig om gras te sny, toe Sonja skielik agter hom praat. Soos ʼn demoon uit die diepste hel. Hy struikel en vloek. Kliphard, die Skepper se naam en al.

“Gert Jansen, ek weet nie wat’s fout met jou nie, maar ek het jou nog nooit so hoor laster nie.”

“Sorry, met die misdaad ... wat wou jy vir my sê?”

Die vuur van Openbaring brand in haar oë. “As jy agter my rug vry, skiet ek jou vol gatte.”

“Ek sweer, dis net jy.”

Sy gluur hom aan. Knik. “ʼn Oumatjie het hom gesien.”

“Wie gesien, my vrou?”

Maar hy weet. Sy bevestig dit. Hy gooi in die struike op toe die deur agter haar toegaan.


∞ ∞ ∞

Hy koop die Klerksdorp Rekord terwyl hy diesel ingooi. Lees aandagtig. ʼn Vrou het haar hondjie buitentoe geneem om bome nat te maak. Die slag gehoor, ʼn bakkie gesien wegjaag. Nee, nie bakkie nie, wit bakkie. Isuzu. Haar oorlede man het ook een gehad.

Moet hy vir eers met Sonja se Polo ry? Vir haar sê die diesel pryse maak hom dood?

Hy parkeer die bakkie by die apteek, stap stadig in Kirsteinstraat op.

Hoeveel mans deel ʼn sel?

Hy het nie ʼn keuse gehad nie.

Die bewaarders kom blykbaar nie as ʼn mens om hulp roep nie.

Dit was ʼn ongeluk ...

Sy voete sleep oor die sypaadjie. In watter huis sal sy bly?

ʼn Boston Terrier kef.

Sy kop ruk. Hy vee die sweet van sy voorkop af, probeer sy asemhaling onder beheer kry.

ʼn Vrou staan onder die bome. “Jy’s spookwit. Is jy oukei, Meneer?”

Hy stap nader, hand op die hart. “My bloeddruk ...”

“Jy kan mos nie op die straat staan en flou val nie. Kom in, laat ek vir jou suikerwater gee.”

Hy sit by die kombuistafel, die hond ruk aan sy broekspyp. Haar lippe beweeg oop-en-toe. Sonder ophou. Hy knik en glimlag wanneer toepaslik, luister slegs toe sy die ongeluk vermeld. Sy hart trek saam. Na elke sin, wanneer die tronkdeure in sy gedagtes ka-bam, verwag hy dat sy hom gaan herken.

Niks. Hy blaas sy asem stadig uit, staan op. Ruk sy broekspyp uit die hond se bek los.

Loop gang af. Verby die Afrika-pot met kieries in die gang, voordeur toe. Na vryheid.

Die hond kef aaneen.

“Meneer, wag!”

Die sleutels val uit sy hande uit.

“Kom ek gee vir jou en jou gesin beskuit.”

Toe hy buk om die sleutels op te tel, snak sy na haar asem. “Dis jy!”

Hy frons.

“Ek’t jare lank met gestremdes gewerk. Jy leer mense uitken aan hulle loop en buk. Toe jy opgegooi het ...”

Sy voltooi nie die sin nie.

Die kierie tref haar teen die kop. Weer en weer. En weer. Hy kreun soos hy slaan. Maak seker niemand sien hom toe hy by die tuinhekkie uitglip nie.

Die eerste ding wat hy by die huis doen, is stort. Genadiglik is Sonja nog by die haarsalon. Daarna gooi hy sy bebloede klere in die braaier, steek dit aan. Niemand sal weet nie.


∞ ∞ ∞

Donkernag. Die eerste skoot tref hom teen die bors. Skrams. Sy oë flikker, hy keer met sy arms.

Sonja?

Die tweede skoot volg. Sy skree soos ʼn besetene.

Hy hoor enkele woorde tussen haar asemstote deur.

“... uit haar woonstel sien stap ... soos ʼn skelm ... gewaarsku ... rondneuk ... ”


 

GRATIS KORTVERHAAL: Pappa se gedigte
👁 857 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Pappa se gedigte

GRATIS KORTVERHAAL: Pappa se gedigte

Pappa se gedigte

“Moeksie, hoekom het jy nooit vir my gesê Pappa dig nie?”

Moeksie – haar geelrok lyk soos engelvlerke – trippel nader. Haar hoëhakskoene klink soos ʼn poedel op ʼn houtvloer. Sy loer oor haar dogter se skouer. Asem peperment.

“Ida, laat ek sien.”

“Ek sal dit more terugbring,” Ida sit dit in die skoendoos saam met Pappa se preek-Bybel en twaksakkie: “Maar nou wil ek eers sy stem hoor. En hom ruik.”

“Hy’t nooit sy hart oopgemaak nie. Die Bosoorlog maak mans mos stil.” Stilte, dan: “Gaan jy bly vir beskuit?”

“Met warm melk en Cocco?”


∞ ∞ ∞

Ida lê op die rusbank, staar na die sterre bokant haar woonstel. Sy kan nie D. J. Opperman van Jan Alleman onderskei nie, maar Pappa se gedigte klink soos Breyten. Slaap Moeksie al? Sy kyk op haar Samsung hoe laat is dit, sien sy het 14 miss calls en 122 WhatsApp-boodskappe. Soek Moeksie se naam, tik:

Pappa was besonders lief vir jou

x

Hy het dit nooit gesê nie.

sover klink alles wat hy skryf soos

hooglied. wag ek neem gou ʼn foto

van een gedig

x

Die Samsung lui, maar sy tel dit nie op nie. Kyk nie eens wie bel nie. Sit dit later op flight mode.

Hoekom sou Pappa sy gedigte van Moeksie weerhou?

Die koffie het al ʼn velletjie gevorm toe sy kombuistoe loop om vir haar roomys in te skep. Sy maak seker die deure is gesluit en Taiga, haar kat, het kos.

Sy staan net op om toilet toe te gaan. Verder lees sy. Sy neem vir Moeksie nog ʼn paar foto’s, plaas drie daarvan op Instagram met die opskrif: Pappa se gedigte.

Binne ʼn paar minute het sy meer as 400 likes – selfs meer as die wat sy ʼn jaar gelede op in haar bikini gekry het.

Iemand DM haar:

Was jou pa die digter HL?

HL? Wat de ...

Net voor sy blok druk, besoek sy die persoon se profiel, sien hy plaas net gedigte. Nie een, verklaar sy bio, is syne nie. Hy skep net die agtergrond.

Die persoon DM haar met ʼn foto uit ʼn digbundel. Dit is een van die gedigte wat sy op haar Instagram story geplaas het.

Pappa?

Sy raadpleeg Google en vind niks onder sy naam nie, ook nie sy voorletters nie. Sy ontdek wel dat HL die skuilnaam van ʼn anonieme Suid-Afrikaanse digter is, wat gedurende die laat 80’s vier digbundels publiseer het. Daar is geen foto van hom nie. Geen biografiese inligting nie. Net die name van sy vier digbundels.

Waarvoor sal HL staan? Hendri en ... Wat’s sy troetelnaam vir Moeksie?

Sy kan net sy debuutbundel vanaf Takelot bestel. Vra die ander drie op verskeie Facebook-boekgroepe aan.

Die woonstel is grafstil.

Sy staan op en sit die televisie aan om stemme te hoor.

Haar selfoon pieng. Sy weet wie dit is: die persoon wat haar ʼn Direk Message gestuur het.

Twee foto’s van ʼn man. In die een sit hy voor ʼn tikmasjien, pyp in die mond. In die ander een staan hy in ʼn swembroek, handdoek oor die skouer. Onder die swembroek-foto staan: IS DIT JOU PA?

Alles in haar wil “nee” tik. Waar kry hy die foto’s? Haar vingers bewe soos sy tik.

wa kry jy dit?

In my ma se bundel.

wie’s jou ma?

Loraine.

Hendri en Loraine! ... was Loraine sy meisie voor Moeksie?

kan ek die bundel koop?

Hoeveel?

het jy nog iets van Pappa? hoe

ken jou ma hom?

Sy het vir hom gewerk.

innie kerk?

...


Wat tik hy so lank. Of tik en delete hy? Wat delete hy? Moet sy nie liewers sy nommer kry en ... nee. Hy kan ʼn reeksmoordenaar wees. Het sy die deure gesluit? Miskien is dit tyd dat sy diefwering laat opsit.

Sy gaan spioeneer weer op sy profiel, druk op die Facebook-skakel. Dit is dieselfde, net gedigte, niks anders nie.

Huis. Voor jou geboorte.

ken jy my pa?

Sy skryf in al haar briewe van

hom.

kan ek dit sien?

Wil jy dit ook koop? Of die wat

hulle vir mekaar geskryf het?

miskien


Beurtkrag dompel die woonstel in duisternis.

Iets krap aan die venster. Ida gebruik die Skepper se naam ydel. Sit haar selfoon se flits aan, sluip na die geluid. Ruk die gordyne oop. Taiga. Wanneer het sy uitgeglip?

Sy maak die venster oop, krap die kat agter die ore terwyl sy inklim. “Wie gaan vir jou kos gee as ek ʼn hartaanval kry?”

ʼn Verslaggewer wil dit koop. Bied my baie aan. En royalties op die boek.

boek?

Spam, sy moes dit geweet het. Hel, maar hulle is vinnig. Hoe het hy fotos van Pappa in die hande gekry? Dit is nie op haar Facebook nie. AL manipulasie?

Ja, omdat sy en die digter ʼn

verhouding gehad het terwyl

sy in die dodeselle was.

dodeselle?

Mamma het in ‘89 gehang vir die

moord op haar man. Lukas

Kleinbooi. Dit was in die nuus.

Nag. Ek gaan slaap.

wag. seblief

Die groen sirkel op sy profielfoto wys hy is nog aanlyn.

Sy wag.

Die drie kolletjies beweeg. Dan:

Ek moet slaap. Ek werk more.

dis more Sondag

Juis. Ek is ʼn Pastoor.

Die donderweer bliksem.

Ida skop in haar skrik vir Taiga raak.

Ek het bekeer toe ek hul briewe

gelees het. Die digter, jou pa,

het haar deur al die briewe na

die Here gelei. Daar is 66 briewe, een vir elke week wat sy aangehou was.

Tipies Pappa. Skielik mis sy sy twalkreuksoene.

hoe oud was jy toe jou ma

gehang het?

Voordat hy kan antwoord tik sy:

as jy nie daaroor wil praat nie,

is dit OK

Vyf.

Hy is so lank stil, sy dink hy het gaan slaap. Sy gaan borsel haar tande, piepie. Toe sy haar selfoon wil herlaai, sien sy die boodskap.

Ek het altyd gedink dit was hy, die digter, wat die moord gepleeg het.

Die selfoon val uit haar hande.

Die battery waarsku dat sy nog 1% battery krag oor het. Asseblief, moenie nou doodgaan nie.

Die battery waarsku dat sy nog 1% battery krag oor het. Asseblief, moenie nou doodgaan nie.

My ma het met elke oproep vir my gesweer dat sy onskuldig is.

Nadat ek hulle briewe gelees het, het ek geweet dit is nie hy nie. Sy laaste brief eindig met die woorde: die skuldige gaan boet al is dit na ons dood.

Wat gaan die verslaggewer

met die briewe doen? Ek sou

dit graag wil lees.

Die selfoon se skerm word skielik pikswart. Dood.

Sy herkou aan hul gesprek, onthou Moeksie se woorde: Die Bosoorlog maak mans mos stil

Maar Pappa was nooit op die Grens nie. Was sy hele lewe lank ʼn kapelaan, toe dominee.

Is dit die dood op die vrou oor wie hy so dig wat hom stom gemaak het? Is dit hoekom hy nooit vir Moeksie kon sê hy is lief vir haar nie?


∞ ∞ ∞

Dit is die polisie sirenes wat haar wakker maak. Hulle snel verby. Ida gryp haar selfoon, kyk. Geen verdere boodskap op Instagram nie.

Sy loop kombuis toe, kyk in die verbygang hoeveel eenhede krag is oor, skakel die gyser aan, druk ʼn kaastoebroodjie in die mikrogolfoond. Trek die gordyne oop soos sy van vertrek beweeg. Pols op die bank neer, langs die stapel klere. Verdomp, hoekom het sy nie gister gestryk nie? As Moeksie dit moet sien trek sy sowaar as vet vandag nog hier in.

Ida Google Loraine Kleinbooi en lees alles oor haar saak en galgdood wat sy kan. Nêrens word iets genoem oor haar verhouding met die digter nie. Die mees verdoemende bewys teen haar, was die staatspatoloog se getuienis dat die moord waarskynlik deur ʼn vrou gepleeg is.

Ida ruk soos sy skrik toe die selfoon in haar hande lui. Moeksie.

“Hoe laat kan ek die digbundel kom haal?”

“Het Pappa nooit oor sy gedigte gepraat nie? Op skool?”

Moeksie sug. “Op skool het al wat Afrikaanse onderwyser is, gedink hy is die volgende groot digter.” Stilte, dan: “Maar hy het net opgehou ... of so het ek gedink.”

“Wie’s Loraine?”

“Ida Hofmyer, waar kom jy aan daardie vroumens se naam?” Dit klink of Moeksie ʼn doodsvonnis uitspreek.

Ida wag totdat die kerkklok ophou lui voor sy antwoord. “Haar seun het my ge-DM.”

“Haar seun? DM? Moet niks glo wat hy sê nie.” Die laaste sin word uitgeskreeu.

“Moeksie?” Sag, onseker. “Jy. Pappa. Sy ...”

“Pappa het nie haar man doodgemaak nie! Ek het ...” Skaars hoorbaar: “ek het ... sy het my man van my weggevat, toe vat ek haar man weg ... en vir haar uit my lewe,” Moeksie skree-huil: “maar selfs in die dood het Pappa haar gekies.”

Ida druk die selfoon dood. Wat moet sy doen? Sy kan sekerlik nie haar ma by die polisie verkla nie, maar stilbly kan sy nog minder. ʼn Onskuldige vrou het gehang ...

Sy blaas haar asem stadig uit. Tik vir die Pastoor:

ons moet praat

kan ons ontmoet?

wat’s jou naam?

Sy is besig om haar koffie te roer, toe sy boodskap deurkom. Stof dans in die sonstraal.

Ons kan. Waar bly jy? My naam is Hendri Hofmyer. My ma

wou seker maak apartheid weet

wie haar eerste liefde was.

GRATIS KORTVERHAAL: Die Eis
👁 797 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Die Eis

GRATIS KORTVERHAAL: Die Eis

Die Eis

“Faans, soek my!”

David, my drie jarige seun, roep vanuit die kombuis.

Ek knoop my das. Maak seker die skerpioen-tatoe klim nie onder my kraag uit nie. Die groen ink verklap sy oorsprong: tronk. Ek snuif-snuif onder my arms. Tronkhonde kan mos die bandiet aan ons ruik, dalk kan vrymense ook – maar ek ruik net Sanex vir mans.

Ek maak kasdeure oop, druk dit hard toe. “David!” Beweeg na die sitkamer, elke tree hoorbaar. Ek skuif ʼn blompot. Trek ʼn bank. Laat alles kraak. “Waar’s David?” Diep stem.

Sy giggel rek my soekproses uit.

ʼn Oats reuk hang in die kombuis.

Deirdré wys met die paplepel na haar polshorlosie. “Jou baas wag. Koffie?”

Ek skud my kop

“Hoekom wil hy jou so vroeg sien?” Sy haal ʼn termiese beker uit die afdroograk, delf ʼn teelepel uit die laai. Gooi twee lepels Koffiehuis in. Opgehoop. Geen suiker. Geen melk. In die tronk het ons net een lepel suiker oor ons pap gekry. Die halwe beker melk was afgewater. Gevolg, ek drink geen suiker en melk nie. Eet ook nie soggens nie, want dan het ons gewoonlik iemand doodgesteek.

“Dalk daardie bemarkingsbeplan wat ek ingedien het. Hy was baie beïndruk daarmee.”

Sy gee die beker vir my aan. “Ek hoop hy bevorder jou.”

Bandiete word nie bevorder nie; ons word eerder eerste verdink as iets by die werk wegraak.

Ek skuur teen haar verby, streel haar boud. Maak kasdeure oop en toe. Sluip verby die kas onder die wasbak, waarin hy gewoonlik wegkruip. “David is weg!”

“Issie!” Die kasdeur skiet oop. “Hier’s David!”

Ek gooi hom in die lug, soen hom op die maag as ek hom vang. Druk hom in Deirdré se arms, piksoen haar wang, raap die bakkiesleutels op.

“O, het jy onthou om die belasting te doen?”

Hier gaat ons alweer. My belasting is betaal, maar daar is glo ekstra goed waarvoor ʼn mens kan eis. Medies. Die ekstra werk wat ek laas vakansie aan die huis gedoen het. Haar vriendin het dit gedoen en duisende teruggekry en, en, en ...

“Dis gedoen, maar ek sê nou vir jou, SARS is soos bewaarders; as hulle eers hul mes in het vir jou, is jy fadala. Dood.” My lippe trek ʼn reguit lyn. “Hulle gaan meer geld eis, sweet bokkerol teruggee.”

Stilte, dan. “Sandra sê hulle het vir haar geld netso in haar rekening inbe...”

“Sandra is nie ʼn belastingboffin nie.”

“Maar jy het dit gedoen?”

“Ek sê mos so!”

“Sorrie, ek maak net seker.”

“Dis okei. Ek moet gaan werk.”

David strek sy arms na my uit. “Nie werk nie. Speel my.”

Ek soen hom op die voorkop. Snuif-snuif. “Ek ruik ʼn muishond.”

Hy borrellag. “Poef bokdrolletjies.”

By die voordeur roep Deirdré my terug. “Die donderweer steek op, vat ʼn trui saam.”

Ek skud my kop. “Meneer verkies die dominee-look.”

Tien minute later stop ek by die werk. Meneer wag my in. Sy aktetas staan langs ʼn pikswart Mustang. Syne. Sy hand rus swaar op my skouer. ʼn Rolex glim in die oggendson. “Hoe gaan dit met jou seun? Jou vrou?” Hy wag nie vir antwoorde nie, loer na sy horlosie. “Ek’s jammer Faans, maar ek moet jou laat gaan. Die ekonomie druk en ...”

Waar gaan ek werk kry? Niemand sal vir Deirdré werk gee nie. Almal beskinder haar mos. Selfs Mevrou Dominee wou by haar weet hoe voel dit om met ʼn moordenaar getrou te wees.

“... dis tough tye; ek sal jou ook nie drie maande se pay kan gee nie.” Sy stem is vol emosie, soos elke Maandagoggend as hy vir almal vertel hoe hy sy besigheid met R50 en ʼn bike begin het.

Die helsem fire my nie eens in sy kantoor nie. Ek bal my vuiste ... maar een hou, en ek’s terug in CMAX.


∞ ∞ ∞

ʼn Halfuur later druk ek die Isuzu se neus onder ʼn boom. Draai die venster af. Ruik beesmis en kakiebos.

ʼn Kerkklok lui. Hoe het Ma altyd gesê? Kom sondaars, kom!

Wat is die minimum waarmee ons kan klaarkom? R10 000? Huur. Wi-fi. Kos. Ek kan winkels toe loop. Hoeveel maande is van my selfoonkontrak oor? Daarna kan ons met R8200 per maand deurkom. Ons kan klein gaatjies met my nutsmanwerk toestop.

My vingers soek deur my WhatsApps. Niemand se dakke lek of mure kort verf nie. Desember was so ʼn goeie maand. Ons kon al die hospitaalskuld afbetaal, asook die klererekening. Maar Maart is dood. Te veel vakansiedae.

Ek lees die fynskrif op my lewenspolis; my gesin kry niks as daar vermoed word ek het selfmoord gepleeg nie. Daar moet ʼn manier wees.

Ek kyk op my SMSe. Wat de ...

A Notice has been issued on SARS eFiling ...

Ek het dit gewéét! Sodra die SARS sharks eers bloed ruik.

Oor die top van die bome troon ʼn kerktoring. Rookwolke dans soos spoke daarom.

ʼn Geritsel van papiere.

ʼn Gesig verskyn in my venster. “My larnie, ek wou sê dis djy.”

Willemse. Ons het saam in Pretoria Sentraal tyd gestoot.

“Hi-jack jy nog karre, Willemse?”

“My larnie, wat dink djy ?” Die gewoontemisdadiger gooi sy hande hulpeloos in die lug: “Niemand wil vir my werk gee nie. En my kinders kan nie op Bon Jovi se livin’ on a prayer alleen lewe nie.”

“Hoeveel sal jy vir die bakkie kry?”

“Ten K.”

Ek het mense in die tronk sien sterf vir ʼn halwe brood, selfs ander gesteek vir twee stoppe dagga, so R10 000 klink na ʼn deal.

“Willemse, gee my drie dae saam met my seun, dan is sy joune.”

“My larnie, praat Afrikaans.”

“Drie dae en die Isuzu is joune. Maar jy móét my doodskiet.”

“My larnie, is djy geroek?”

Moedeloosheid krop in my maag. Stoot die trane op keeltoe. “Ek kan nie meer vir my gesin sorg nie, en wil nie weer tyd in Sentraal stoot nie. Maar as jy my doodskiet in ʼn high-jack ...” My polis se fynskrif het dit nie voorsien nie.

“My larnie?” ʼn Sirene loei in die verte. “Kan ek vir djou ʼn paar bokke voorskiet?”

“Met die polis is my vrou geset for life. En die liewe Here sê mos jy moet jou lewe opoffer vir die wie jy liefhet.”

“My larnie, ek’s nie ʼn hitman nie.”

“Willemse. Betaal jou skuld.” Ek’t jare gelede sy lewe in ʼn bende-oorlog gered.

Hy sug. Skuld is skuld. “Okay, my larnie, lets do it, maar djy gaan vir die Here explain, dit was nie Abraham Willemse nie.”


∞ ∞ ∞

Die drie dae voel soos ʼn paar minute. Deur die dag sit ek en stuur die een werkaansoek ná die ander weg. Ignoreer die landlord se vrae na die huur; die alewige SARS-sms wat nou elke dag verskyn om my in te lig dat my file oopgemaak is, dat iemand ondersoek na die eis instel. Wat de hel het ek aangevang! Sirkelende sharks. Tussendeur bid ek. Skietgebede. Tref dit? Hoor iemand ooit? Dit gebeur as jy in die tronk en nie die kerk nie groot geword het.

Saans speel ek en David plaas-plaas, kyk later video’s op YouTube totdat hy in my arms aan die slaap raak. Nog later skrik ek wakker, natgesweet. Trek sy liggaampie teen my, soen sy hare. Huil. Waar’s God as ons Hom nodig het?

Hoeveel keer het ek in my enkelsel deur ʼn tydskrif geblaai en gewonder of ek eendag ʼn gesin gaan hê. Vir hulle sal kan sorg. Deirdré is beeldskoon; sy sal gou ʼn man kry. Maar wat van David? Ek wil nie hê hy moet soos ek sonder ʼn pa grootword nie, maar hoe gaan ek volgende maand se rekeninge betaal? En die maand daarna? Weer misdaad pleeg?


∞ ∞ ∞

Dan is die drie dae verby. Ek omskulp David totdat trane my oë brand. Druk lekkers in sy hand, klim in my bakkie, wag in die oprit. Kyk deur sy video’s op my selfoon.

Ek wag. Wag. En wag.

Wanneer kom hý?

ʼn Weerligstraal bliksem bokant die huis. Verlig die omgewing.

Op ʼn Facebook-video sê David: “Faans, ek piepie jou sommer dood!”

Ek stel die klank harder. In die agtergrond lag die kasregisterdame. David was daardie dag so kwaad omdat ek nie vir hom ʼn sjokolade kon koop nie.

Ek kyk na die sitkamervenster waar hy gewoonlik vir my waai. Vanoggend lê hy egter in sy bed en smul aan die lekkers wat ek hom skelm in die hand gestop het. Dank die Vader daar was hierdie keer geld vir lekkers, want as hy moes sien hoe Willemse my skiet ...

In my perifere sig verskyn ʼn silhoeët. Donker klere. Masker. Vuurwapen op my gerig. Willemse.

Op die video hoor ek hom lag. As ek net ʼn tikkie van die moordenaar aan die kruis se genade kon kry ...

David, Pappa lief jou ...

My selfoon pieng. SARS. Nie meer ʼn SMS nie, maar ʼn WhatsApp. Die haaie wat al hoe nader sirkel.

Skiet! wil ek Willemse aan. Skiet, helsem, skiet!

Nog ʼn pieng.

Notice of payment by SARS in bank account number ***889. Amount R14 000.

Dankie Here! Dit gee my ʼn maand saam David, ʼn maand om ander werk te soek. ʼn Maand ...

Ek kyk na Willemse. Steek my hand uit. “Willemse, néééééé!!!”

Die knal is oorverdowend.

ʼn Ruit splinter.

Die volgende skoot slaan teen die bak vas.

My ore sing.

Vyf skote.

Almal mis.

Hy druk sy kop in die venster. “Sorry, my larnie, ek’s nie ʼn killer nie.”

God dank ook nie ʼn skut nie.

GRATIS KORTVERHAAL: Die Sindikaat (Roux #5)
👁 767 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Die Sindikaat (Roux #5)

GRATIS KORTVERHAAL: Die Sindikaat (Roux #5)

Die sindikaat

Hy sit nooit in ʼn restaurant wat nie ʼn vlugroete het nie. Ook: Hy sit altyd met sy rug teen ʼn muur sodat hy die ingange kan dophou. Sy stoel effens uitgetrek sodat hy dadelik kan opspring en beweeg. Hy eet en drink nét met sy linkerhand. Sy regterhand rus op ʼn mes op sy skoot. Dit neem tyd vir jou hand om na ʼn wapen te beweeg, veral as jy eers ʼn beker moet neersit. Selfs sekondes kan jou lewe kos. Verloor jy jou greep weens vetterige vingers, is dit tickets.

Omdat hy ten alle tye waaksaam is, het Roux Steyn drie en twintig jaar van sy lewe in dertien tronke landwyd heelwat bende-oorloë oorleef. Toe hy verlede jaar op parool vrygelaat is, het hy nie daardie paraatheid in sel ses agtergelaat nie – inteendeel.

Daarom sit hy nie kwart oor agt op ʼn Vrydagaand in Nando’s, Klerksdorp, se restaurant nie. Hy sit buite op die stoep. Natuurlik nie aan die Drive-Thru se kant waar iemand vanuit ʼn voertuig op hom kan skiet nie.

Wind sproei reëndruppels na hom.

In sy roomkleur Wildebees T-hemp, baard en hare skuurpapierkort, is hy sag op die oog. As jy iemand is wat van dorings aan rose hou. Die tronksielkundige het sagte kleure voorgestel. En ʼn gladgeskeerde gesig en hare wat sy ore kielie. Ná al die jare agter tralies, het hy die pastelkleure verwelkom, maar die baard en hare? Nee, die dominee look sal nie vir hom werk nie.

ʼn Skerpioen-tatoeëermerk loop in sy nek af na ʼn sewepuntster toe. En die woord Eastside, die tronkbende wat hy dekades lank regeer het.

Oorkant hom drink die eienaar ʼn swart filterkoffie. So sterk, die teelepel staan regop daarin. Lewis Hamilton behoort sy Ferrari op dié plek se koffie te kan jaag. Voor hom is ʼn dagboek, ʼn pak papiere en ʼn MacBook. Sy iPhone is so gedraai dat hulle saam na die YouTube-video kan kyk. Terwyl hulle kyk, verduidelik die eienaar die Barnard-renmotors word in Bloemfontein vervaardig. Hy ken die broers.

Oorkant die pad, wissel ʼn vragmotor ratte, trek af. Die bestuurder praat deur die venster met ʼn vrou in ʼn minirok wat net-net haar bates bedek. Sy klim in.

Wat hou haar in hierdie leefstyl? Dwelms? Daai vrou wat Rooiletterkind geskryf het, kan gerus ʼn opvolgboek skryf oor die kind wat die hoofkarakter is. Háár storie wil hy lees. Mense se stories fassineer hom.

Wind huil deur die winkel, oor die stoep.

Vier mans klim uit ʼn swart SUV met getinte ruite. Geen nommerplaat nie. Swart jeans en rolkraaghemde. Hulle lyk soos gewapende rowers.

Die bestuurder gaan staan in die ry om hul bestelling te plaas. Kyk rond, seker om vas te stel waar oral kameras is. Die man wat links agter uitgeklim het, pyl op die toilette af, seker om te kyk of enige gevaar daarbinne skuil.

As die oorblywende twee mans bly staan, gaan hulle hom aanval; sit hulle, beteken dit hulle wil gesels.

Het hy in die verkeerde man se slaai gekrap? Hy moet in die toekoms eers op Facebook loer voor hy vroue slaapkamer toe lok. As hy net ʼn vaste meisie kan kry!

Die eienaar van Nando’s staan op toe die twee mans naderstap. Hy kyk om hom rond.

Die mans neem stelling in oorkant Roux. Albei sit.

Stoom spook hemelwaarts by Roux se beker uit. Hy kan die kokende koffie in die een man se gesig skiet, daarna die mes in sy maat se slagaar plant.

“Tronkstront?” vra die eienaar van agter die twee mans. Morsekode vir: Moet ek brigadier Buys bel?

“Nee.” Dalk te hard. “Want dan het hulle geskiet en gery. En niemand wat tyd gestoot het, is stupid genoeg om my sonder balaklawas aan te val nie – vir net ingeval ek oorleef.”

“Steyn,” groet die man sonder ʼn nek. Sproete, koper hare. Britse aksent. Hy skuif die suikerhouer op die tafel nader aan die houers met die sout en peper.

Op Roux se kopknik los die eienaar hulle alleen. “Ek stuur ʼn waiter,” sê hy oor sy skouer. Die kombuisdeur klap agter hom toe.

“Het ek die SAS se bal gekrap?” Roux wys met die teelepel na Nekloos se regtervoorarm. “Who dares wins,” is daarop getatoeëer. Danksy Andy McNab en Chris Ryan se boeke weet hy dit is die Britse spesiale magte se motto.

Die ander twee mans sluit by hulle aan, sit soos sardientjies op die bank.

“Breek vir ons iemand uit Kgosi uit.”

“Jy’s gek. Kgosi Mampuru-gevangenis sien my nooit weer nie.” Beslis. “Vyftien jaar was genoeg.”

Nekloos stoot ʼn koevert oor die tafel. ʼn Dik een. “Dis die helfte.”

Roux kyk nie eens daarna nie, al is daar waarskynlik genoeg geld in om sy woonstel te meubeleer. Hoe gaan hy die meubels aan sy parooloffisier verduidelik? Of Buys?

Hy tik met sy hand op die skerpioen. “Hierdie is my familie en daai,” hy wys na die Who dares wins-tatoe: “joune. Ek’s kniediep in die bloed vir my broers, vir niemand anders nie.”

“Die man wat ons wil uitbreek, is ook nie ʼn broer van ons nie.” Stilte. Dan: “Hy’s ʼn pedofiel.”

“Vir daai koevert sal enige gevangene binne jou probleem permanent oplos,” sê Roux. “Ek geniet my lewe buite.”

“Hy’t inligting wat ons soek.” Nekloos het seker aan redenaars op skool deelgeneem, want hy doen die meeste van die praatwerk. “Wys hom.” Hy knik vir die man wat langs hom sit.

ʼn Selfoon skuif oor die tafel. Dit is by ʼn video oop. Agt minute en dertien sekondes. Roux druk play. En stop ná drie sekondes. Knyp sy oë toe, vryf met sy duim en wysvinger daaroor asof hy die beeld wil uitwis.

Donderweer bliksem. Skuins oorkant hulle ruk ʼn vrou van die skrik. Die vier mans roer nie.

“Dis die eerste video, daar’s drie.” Stilte. “Sy’s gou dood; die ander twee video’s is langer as veertig minute.” Hy kyk Roux waterpas in die oë. “My dogter het gisteroggend verdwyn. Die ander drie kinders,” hy wys met sy duim na sy crew: “is hulle s’n.”

Bliksem.

“Ons was in dieselfde eenheid in Afghanistan. Ons het ʼn dwelmbaas se seun vasgetrek wat presies dit gedoen het. Sy pa neem nou wraak, en die skuim daar binne het hom mooi vertel hoe om ons kinders in die hande te kry.”

“Kgosi is groot, in watter seksie word hy aangehou?”

Nekloos antwoord.

Roux teken die tronk, wys vir hulle die hekke uit. Vertel hulle van elke ontsnapping in sy tyd, ook van dié wat misluk het. Hulle vra vrae, hy antwoord. Hulle google die tronk, hy wys goed op die foto’s vir hulle uit.

Drie ure en vyf koppies koffie later strek hy agteroor. Staan op, druk die koevert in sy sak.


∞ ∞ ∞

Vyf dae later, twaalf minute oor tien – die speurafdeling.

“Wie de hel se slim idee was dit om die koerante in drukformaat te stop?” bulder Buys oor die stapel dossiere op sy lessenaar. Hy beduie so, dit lyk of hy iemand met sy pyp wil gooi. “Hoe gaan ek nou weet wat die skindertonge als sê?”

“Lees aanlyn,” sê Roux in die verbyloop. “As jy sukkel, kan ek jou help om in te teken. Soek jy koffie? Ek wonder, hoe gaan jy nou jou plakboek op datum hou? Jy sal die berigte oor die sake waaraan jy werk in die toekoms moet fotostateer.”

Buys druk sy pyp in sy mond, maar stop dit nie vol tabak nie. Hy maak ʼn nuwe dossier oop. Hy prewel terwyl hy skryf, so asof hy klank.

Roux stop voor Buys se lessenaar, trek sy broekspyp op.

“Lê jy by my aan,” vra Buys: “of oefen jy om model te word?”

 “By jou aanlê? No chance. Jy raak te oud.” Hy draai sy been. “My enkelmonitor is af.” Glimlag. “Ek’s nou ʼn medium.”

“Ek weet, ek’t met jou parooloffisier gepraat.” Buys hou die dossier na Roux uit. “Bewys vir my ek het die regte besluit geneem.” Hy krap kop. “Vier ouens het vanoggend net ná drie ʼn verhoorafwagtende gevangene help ontsnap. Die gevangene is ʼn undercover cop in ʼn mensehandelnetwerk in Europa. Hy’s in Suid-Afrika gevang,” hy maak aanhalingstekens met sy wysvingers vir die laaste woord, “om die Britte se konneksie in Suid-Afrika te infiltreer. Alles hush-hush. Die kommissaris sê jy moet help om die ouens te vang wat verantwoordelik was vir die undercover cop se ontsnapping, voor hulle hom vir inligting begin martel.”

Roux se gesig is poker face. “Ek kyk solank wat ek kan uitvind.”

“Ek’t R10 000,” tik Roux vir sy crew, almal eksgevangenes: “Ons het vier en twintig uur om vier ouens uit te haal.”

Malan reageer dadelik. “Wie?”

“Vier wat voorgee hulle is SAS.”

GRATIS KORTVERHAAL: Die koerierpakkies (Roux #4)
👁 768 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Die koerierpakkies (Roux #4)

GRATIS KORTVERHAAL: Die koerierpakkies (Roux #4)

Die koerierpakkies

“Wat sal kriminele in koerierpakkies rondstuur?” vra brigadier Buys tussen happe barbecue chicken pizza aan Roux wat sedert sy parool in Julie verlede jaar vir hom as polisiekonsultant optree. Buys sluk, vee sy mond met ʼn servet skoon. Frommel dit op, skiet dit soos ʼn basketbal in die asblik. Mis. Klap met sy tong.

Roux krap met ʼn pendoppie in sy oor, vryf dit teen ʼn stukkie toiletpapier skoon. “Niks. Niemand stuur geld of diamante met ʼn koerier rond nie. En honde sal dwelms, plofstof en vuurwapens uitsnuffel.”

“Soek jy ʼn oorstokkie?” Buys druk die pizzaboks in die asblik, krap in sy boonste laai. Orals op sy lessenaar troon dossiere. Teen die muur agter hom hang sertifikate vir getroue diens: 5, 10, 20 en 30 jaar. Weerskante daarvan: troufoto’s, ʼn foto van die huidige staatspresident, ʼn kalender met ʼn vakbond se naam daarop en ʼn vergeelde A4-bladsy met noodnommers, van die ambulans en brandweer tot beraders.

“Ek’t nie geweet Bloedhond Buys is ʼn metroman nie,” koggel Roux. “Wag tot my crew dit hoor.”

“Ek gebruik dit wanneer ek teken,” verduidelik Buys.

“En hier dog ek nog al die tyd jy werk wanneer jy so kop onderstebo met ʼn potlood in die hand sit. Is jy goed? Kan ons van jou sketse verkoop en aftree?”

Buys trek sy skouer op. “Miskien. Ek teken net die misdadigers wat ek gevang het.”

“Menere ...” kug ʼn man in ʼn blou golf-T-hemp. Courier Guy is in oranje op sy bors borduur. In die web tussen sy duim en wysvinger is die nommer 26 getatoeëer. ʼn Tronkbende.

Buys kyk vir die koerier en knik in Roux se rigting, sê: “Dalk moet jy hóm sê wat jy opgetel het.”

Die koerier maak sy keel skoon. “Is jý die stasiebevelvoerder? Ek probeer al heeloggend om met u te praat. Op 20 April het iemand vier pakkies met Pudo gestuur. Welkom, Mbombela, Randburg en Paarl.” Hy raadpleeg ʼn notaboek voor hy verder praat. “Op 3 Junie het elkeen van die vier vroue wat ʼn pakkie afgehaal het, weer ʼn pakkie gestuur, hierdie keer na Bloemfontein. ʼn Man het dit afgehaal, maar geen foto van sy gesig is sigbaar nie.” Hy gooi ʼn paar gedrukte foto’s voor Roux neer. “Twee dae later het die man weer vier pakkies met Pudo gestuur. Na vier ander dorpe.”

Roux druk die oorstokkie in sy mond, druk die nat watte in sy oor, delf. Wurm die oorstokkie en stukkie toiletpapier in ʼn leë Coke-blikkie en gooi dit in die asblik. “Het jy of iemand een van die pakkies oopgemaak?” Op die koerier se kopskud, kyk Roux na Buys. “Ek sien nie ʼn saak nie.”

“Daar’s ʼn patroon,” die koerier se stem klim ʼn paar toonhoogtes. Hy druk nog papiere in Roux se hande. Dit is ʼn lys met datums en name. Volgens die lys is die patroon destyds gedurende die inperking opgetel. Vier-een-vier-een.

Roux: “Weet ons of die ‘een’ dieselfde persoon is? Ek koop gereeld boeke op Facebook wat met Pudo of Paxi na my gekoerier word. Ek het ook al boeke daarmee teruggestuur. Koop die vroue nie iets op Facebook by die man en stuur dit dan later terug nie? Dan scam hy iemand anders.” 

“Hoe?” Buys krap sy kop.

“Mense koop iets aan en wanneer hulle die pakkie oopmaak, is daar iets anders in. Sommer ʼn goedkoop, aanmekaargeflanse ding.”

“So, daar is ʼn saak!” Triomfantlik.

“Ek sal vir Nadine sê jy gaan haar birthday mis, maar eers nadat sy jou gunstelingmelktert gebak het,” spot Buys.

“Dis nie nodig nie, ek sal eers ná haar party ry, dan kan sy vir my ʼn travel snack inpak.”


∞ ∞ ∞

Kwart oor drie sit Roux in die Sanctuary, sy gunstelingkoffiewinkel. Die bome, voëltjies en rustigheid – byna Boeddhisties – is die teenoorgestelde wat hy jare in die tronk beleef het. Hy sit altyd op dieselfde plek, met sy rug teen ʼn muur, ʼn vlugroete naby. Hy drink altyd dieselfde – ʼn cappuccino sonder ʼn piering, ʼn koekie of suiker. Die eienaars se dogter het reeds sy foon aan hul Wi-Fi gekoppel.

In die tronk was daar heelwat ouens wat vroue vanuit die tronk ge-scam het. Hulle het die vroue altyd op Facebook uitgesoek. Gewoonlik dié wat soos ʼn sagte teiken gelyk het.

Daarom begin Roux op Facebook. Drie van die laaste vier vroue se profiele is publiek, die vierde een se profiel is privaat. Die trio se profiel is vol prentjies met mooi boodskappe, foto’s van kinders se prestasies, vakansies – niks wat aandag trek nie.

Maar sy geoefende oë tel die blank spots in hul profiele op. Al drie was ʼn tyd onaktief op Facebook, onderskeidelik drie, vyf en nege maande.

Hy maak screen prints hiervan en stuur dit vir Buys op WhatsApp. Verduidelik met ʼn stemboodskap.

Die “onaktiewe tyd” is sonder twyfel aan die Pudo-pakkies gekoppel. Hoe? Die datums stem ooreen.

Net een manier om uit te vind of sy teorie reg is. Nadat hy in ʼn verslag aan sy parool-offisier toestemming gevra het om die Matlosana-munisipale distrik te verlaat en ʼn dokument gekry het wat hy elke dag uitstedig by ʼn polisiestasie moet laat stempel, ry hy deur Welkom toe.

Nie omdat die 138 km die naaste aan Klerksdorp is nie, maar omdat die 32-jarige juffrou, ʼn enkelma van ʼn vyfjarige bulletjie, na die kwesbaarste teiken tussen die drie vroue lyk.

OFM kliphard, energiedrankie. Kort-kort beproef hy die spoedgrens.

Net ná sononder trek hy voor die erf van die Welkom-vrou in, bel haar.

Toe sy antwoord, toets hy ʼn taktiek: “Mevrou, die polisie weet. Maak oop, asseblief.” Hy vloek en verhef nie sy stem nie. Dit is hoe bloubaadjies nuwelinge intimideer. Bankrowers doen dieselfde, bewaarders ook – nie speurders nie.

Die vrou se gesig is spookwit; sy bied nie koffie of tee aan nie, sit op die punt van haar stoel, vingers speel met haar bloes. Hulle praat sag om nie die bulletjie in die slaapkamer se aandag te trek nie.

“Ons weet alles Mevrou, ek wil net weet hoekom.”

Haar oë skiet gangaf. “Hy’t my verkragtingsaak ondersoek. Hy’t gesê die skuim ... ” Sy probeer haar asemhaling onder beheer kry, verfrommel haar bloes in haar vuiste: “Die skuim bly nooit lank in die tronk nie. Ek’t op Netwerk24 gelees van die Alison-saak.”

Hy was verkeerd: Sy’t nie gangaf geloer nie, maar na die voordeur; sy wou seker maak dit is gesluit, dat sy veilig is, voor sy praat. As Roux haar laat veilig voel, sal sy die pakkie vir hom gee.

Sy vertel hom wat gebeur het. In detail. Van die verkragting tot ʼn kolonel in die polisiediens se klop aan die deur een Sondagmiddag. Sy vee haar oë met haar moue af. Hy doen sy bes dat die tipe mans nooit weer ʼn vrou verkrag nie, het die kolonel gesê, maar daarvoor het hy hulp nodig, net een keer. Al wat sy moet doen, is om ʼn pakkie af te haal, en later weer – onoopgemaak – te koerier. Hy sal sê wanneer en waarheen. Selfs die geld vir die koerier in sy pakkie insluit.

“Wat’s in die pakkie? Kan ek sien. Asseblief.” Sy stem is sag. Soos die eerste keer dat hy aan sy dogter jammer gesê het omdat hy haar nooit sien grootword het nie. Drie en twintig jaar agter tralies het nie net haar van ʼn pa beroof nie, maar ook hom van herinneringe.

“Hoe’t julle op my – sy – spoor gekom?”

Dit is die groot vraag. Die koerier kon onmoontlik die vier-een-vier-een-patroon opgetel het, as hy nie spesifiek daarvoor gekyk het nie.

Later.

Maar eers: Sy dink sy help hom om skuim vas te trek; dit laat haar spesiaal voel.

“Ons het ʼn pakkie gekry, met ʼn nota: Ek kan nie meer nie.”

Sy snak hoorbaar na haar asem.

Hy laat haar glo dat die kolonel gejok het, dat dit nie net een keer gaan wees nie. Dat daar meer vroue – muile – soos sy is.

Sy bring die pakkie en loer oor sy skouer terwyl hy dit oopmaak. “Wat’s dit?”

“Die sluitstuk van ʼn pistool. Die kolonel is uitgeslape. ʼn Beretta kan in vier dele uitmekaar gehaal word. Hy skiet ʼn verkragter en verdeel die moordwapen in vier, stuur elke stuk na iemand soos jy, en sodra hy dit weer nodig het, stuur julle dit weer na hom. So kan hy nooit met die moordwapen betrap word nie.” Stilte. Dan: “Jou kind se pa, waar’s hy?”

“In Klerksdorp.” Haar bolip bewe. “Hy dreig my gereeld, sê sy bendebroers gaan my bykom as ek weer date.”

In die tronk leer jy om met ʼn vrag dwelms verby bewaarders te loop sonder dat ʼn spiertjie in jou gesig spring. Kalm soos ʼn daggawalm. “Hoe lyk hy?”

Sy wys hom ʼn foto op Facebook. Die koerier met die 26-tatoe tussen sy duim en wysvinger. Hy het haar dopgehou, gesien sy kry ʼn pakkie, maar kon nie die man opspoor nie. Wou die polisie gebruik om hom te help.

“Mevrou,” sê Roux, sy hand op haar elmboog: “Stuur die pakkie wanneer die kolonel vra, sê vir hom die polisie staak die ondersoek.”


∞ ∞ ∞

Die volgende oggend wag Roux voor die koerier se huis. Toe die man uitklim om die hek toe te maak, storm Roux op hom af, krieketkolf in die hand, balaklawa oor die gesig. Slaan!

“As jy jou eks-vrou ooit weer dreig, is ek terug.”

GRATIS KORTVERHAAL: Tou (Roux #2)
👁 818 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Tou (Roux #2)

GRATIS KORTVERHAAL: Tou (Roux #2)

Tou

“My seun het nie sy eie lewe geneem nie!” gil ʼn vrou. Aarbeikleurige hare waai soos vlamme om haar kop. Haar selfoon tref brigadier Buys teen die slaap, stamp sy bril af. “Luister na sy laaste stemboodskap.”

Buys probeer paai, maar sy val hom in die rede.

“Ek’t gegoogle, daar’s in die afgelope vier jaar drie gevalle waar ʼn selfmoordtienerpaar gevind is. Net een paartjie was verliefdes. Die ander ...”

Sy sug so hard, dit klink asof sy haar laaste asem uitblaas.

Hy herrangskik die foto’s sodat dit lyk asof hy daarna kyk. Druk sy kroontjie met spoeg plat, maar dit spring dadelik weer op aandag.

“Mevrou ...” Hy maak keelskoon, probeer weer. “Mevrou, het u al aanvaar dat jou seun en sy vriend ... dalk meer was as ... vriende.”

“Moenie jy nou óók kom staan en die LGBTQ-kaart met my speel nie. Almal dink omdat my kind se pa vroeg in sy lewe dood is en niemand hom geleer braai of ʼn wiel omruil nie, hy’s ...” Die laaste woord word deur trane gesmoor. Haar stem is sag wanneer sy weer praat. “Kyk na die feite. Asseblief!”

Sy begin snik, haar liggaam ruk.

Donderweer rammel.

Buys tel sy bril op. Sy knieg knak toe hy opstaan. Hy kners op sy tande. Vryf die knieg. Loop hinkepink om die lessenaar en gee die vrou se selfoon vir Roux.

Dit is asof sy Roux – hare en baard skuurpapierlank, littekens oor sy kneukels – vir die eerste keer raaksien. “Wie’s jy?”

Gevangene 93/156604. Op parool sedert 15 Mei, ná drie-en-twintig jaar in dertien van die land se 243 maksimumtronke. Nou polisie– Wat noem die kommissaris dit? Konsultant.

“Ek’s ʼn kenner op galgmoorde.” ʼn Senuwee spring in Roux se wang.

“Galgmoorde? Is dit wat julle dit noem?”

Buys probeer oogkontak breek. Bal sy vuiste. Flippen tronkvoël, ʼn mens kan julle bliksems ook nêrens vat nie.

“Nee, Mevrou, ek’t by die galg gewerk. Destyds toe gevangenes nog gehang het vir hul sondes.”

Buys snork.

“Galgmoorde,” sy herkou aan die woord. Kyk Buys waterpas in die oë. “So, julle ondersoek reeds die moontlikheid van ʼn reeksmoordenaar, en jy sê my niks. Niks.”

“Mevrou, ons ondersoek alle moontlikhede,” Buys gluur Roux aan: “En ek sal jou op hoogte hou sodra ons ʼn verbintenis vind.” Hy kruis homself. “Belowe.”

Sy sak inmekaar soos iemand wat alles verloor het. “Hy was hoofseun, jy weet. Sy juffrou het gesê sy glimlag het die klas gelig.”

Buys stap saam met haar uit, keer terug met twee bekers koffie en ʼn pak kakielêers. Gee laasgenoemde vir Roux.

Roux slurp sy koffie en blaai na die foto’s. Pak dit langs mekaar uit. Sy oë trek skrefies. “Is dit skottelgoedwater die?” Hy staar na die lêer voor hom. “Het jy ʼn vergrootglas?”

“As jy oor die koffie wil kla, is jy welkom om vir ons takeaway saam te bring. Van wanneer af bederf die tronk gevangenes met Starbucks?” Buys krap in sy laaie, gee vir Roux ʼn vergrootglas aan. “Sien jy iets?”

“Ek dink sy’s reg. Kyk na die knope.”

Buys neem die foto’s en vergrootglas, staar lank, skud sy kop. Hy ruik na tabak en sweet. Suig aan sy pyp, vryf sy duim oor sy wenkbrou. Drie steke. Oog opgeswel, bo-lip ook. Weiering van arrestasie.

“Ek dink nie al die kinders sou hul toue dieselfde geknoop het nie.” Roux krap in sy oor met ʼn pendoppie, wys dan daarmee: “Kyk hier, hierdie knoop lyk soos ʼn das.” Hy tel die ander foto’s op. “En hier. Hier.” Pruim sy lippe. “Die polisie sou dit nooit met mekaar vergelyk het nie. Dalk in een dorp, maar so? Verspreid. Hierdie is die perfekte reeksmoordenaar, niemand weet van sy bestaan nie.”

“So, ons kyk na ʼn reeksmoordenaar wat kinders in Vereniging, Middelburg en Klerksdorp vermoor het.” Stilte. Dan: “En dis net die waarvan ons weet. Sê nou ...” Hy knyp sy oë toe. Roux leun vorentoe om te kan hoor. “Sê nou daar is meer.” Hy weeg sy woorde: “Dink jy dit is ʼn onderwyser? Hulle het toegang tot kinders ...”

“Nie noodwendig nie. Onthou jy daardie regse skieter in Boksburg? Ons het in die tronk gehoor die eerste vrou wat hy doodgeskiet het, was sy swanger huishulp.”

As hulle nou teenwoordig was, sou predikante Buys die leviete voorgelees het omdat hy die Skepper se naam so ydellik gebruik.

Buys vee sy oë met ʼn sakdoek droog. Vra enige man wat al arrestasie geweier het, hy is baksteenhard, maar as dit by kinders kom, is hy bottersag. Slaak ʼn diep sug. “Hemel, soveel kinders ... Vark.”


∞ ∞ ∞

Vier dae later het Buys almal wat die slagoffers ken persoonlik ondervra. Hy’t ʼn forensiese sielkundige saamgeneem om die mense se liggaamstaal dop te hou.

Doodloopstraat op elke hoek. Daar is geen verbintenis nie. Buiten die knope.


∞ ∞ ∞

Mugg & Bean kyk uit op Ster Kinekor. Roux sit met sy rug teen die muur. Hy kan die ingang dophou én oor die reling spring as hy moet vlug. ʼn Mens weet nooit. Die tronk het hom geleer om altyd paraat te wees.

Die Mall wemel van kinders.

Hoe identifiseer die reeksmoordenaar sy slagoffers? Facebook? Of liewers Instagram of TikTok? Hoe lok hy hulle nader en wen hul vertroue? Daar is geen kneusplekke wat op hardhandigheid dui nie. Slaappille? Die polisie sou tog hulle bloed getoets het om die moontlikheid uit te skakel. Hierdie vent is uitgeslape.

Hy het reeds vir hom en Buys chai-tee bestel; flirt nou eers met die kelnerin voor hy aan Buys aandag gee. “Ek’t op Instagram gaan kyk,” Roux se oë volg die kelnerin se wiegende heupe, “na daardie meisie wat haar eie lewe geneem het. Jy weet mos, in dieselfde tydgleuf as die eerste selfmoordpaar. Een van die ouens saam met haar het ʼn 28-tatoëermerk in die nek. Sy het hom getag, Basil Adams. Ek wed jou hy het dit soos selfmoord laat lyk.”

“28? Soos in die tronkbende?” Buys se hande omskulp die beker tee; hy vloek ʼn matroos skaam. “Was die moorde in dieselfde dorp?”

Roux loer oor sy beker. “Jip, drie dae uit mekaar.”

“Vergeet van haar agterstewe en praat met my.”

Roux vee oor sy duim. “Sorry, ʼn man is uitgehonger na soveel jaar. Ek dink hy’t die eerste paartjie vermoor om die meisie se dood te verbloem. Mense te laat dink aan eksamendruk, grootmenslewe, en so aan. Dit is nou te laat om vas te stel, maar ek wed jou my vryheid, sy was swanger en wou haar ouers vertel. ʼn Klag sou hom terug in die tronk gegooi het. Toe moor hy haar en gaan aan met sy lewe. Werk. Kerk. Gholf, of wat ook al. Maar die drang om weer te moor ...”

Buys sak terug in sy stoel. Krap sy ken. Haal sy selfoon uit sy sak en lees die adres wat Roux vir hom gegee het. Beveel: “Skep die vark.”

Terwyl Buys met sy kaart betaal – ʼn stewige fooitjie ter wille van Roux, ingesluit – stoor Roux die kelnerin se selfoonnommer.


∞ ∞ ∞

Roux bel een van sy manskappe, wat dadelik antwoord. Beveel: “Basil moet verdwyn, so diep onder die see dat die Duitse duikbote hom nie eens kan kry nie. Gee my ʼn missed call sodra jy voor sy huis staan.”

Toe die oproep deurkom en dadelik beëindig word, stuur Roux vir die reeksmoordenaar ʼn DM. “Die platpote is op pad.” Nie omdat hy Basil wil red nie, maar omdat hy wil weet wie hom sal help vlug. Wie sy helpers is. Hoe wyd die netwerk is. En of Buys hom sal glo wanneer die hele ding uitrafel.

Glimlag. Die web is fyn gespin!

Hy sou die reeksmoordenaar self gesink het as hy kon, maar die departement van korrektiewe dienste se enkelmonitor hou alle beweging dop. Gelukkig stap hy en sy span ʼn lang pad, meestal deur ʼn tronk of twee.


∞ ∞ ∞

Buys storm die moordenaar se huis binne, vuurwapen oorgehaal. Veiligheidsknip af. Sy knie keil hom.

“Die ou het weggekom,” sê ʼn konstabel nadat hulle die huis deursoek het.

Die kombuis ruik na verbrande roosterbrood. Buys druk sy hand teen die ketel, lou.

Die vark was haastig.

Die konstabel roep vanuit die een slaapkamer, wys na die rekenaar toe Buys instorm. “Iemand het hom met ʼn DM gewaarsku dat ons op pad is.” Voeg by: “Ek wed Brigadier dis daai Roux-bliksem. Dis maklik vir hom om ʼn vals profiel te skep.”

“Hoekom sal Roux ons op sy spoor sit en hom daarna waarsku?” Hy weet hoekom. Roux kon enige tyd van hom ontslae geraak het, maar hy wou vir Buys wys dat hy kan help sake oplos – sommige permanent.

Buys se stem is sag, vaderlik. “Dié vent gaan nie stop voor hy dood of in die tronk is nie.” Hy skud sy kop: “Roux was reg, ons saak is nie sterk genoeg om hom skuldig te bevind nie.”

“En nou’s hy boonop in die wind.”

Buys stop sy pyp. Rook spook hemelwaarts. Hy staar lank na die rekenaarskerm. In die ou dae het hy twee sake met ʼn loodpil in die kop opgelos, hoe kan hy nou Roux se werksmetode veroordeel?

Hy delete die waarskuwingsboodskap.

“Plaas die vent op ons voortvlugtende lys, maar moenie te hard soek nie. Ek dink nie ons gaan hom lewendig opspoor nie.”

“En Roux?”

“My konsultant het niks hiermee uit te waai nie. Gaan check sy enkelmonitor as jy wil. Die kindermoordenaar het seker ʼn bief met iemand anders gehad.” Hy mompel met sy lippe om sy pyp. “Wanneer dit by kinders kom, verstaan die bliksems iets van geregtigheid.”

GRATIS KORTVERHAAL: Doodskoot (Roux #3)
👁 804 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Doodskoot (Roux #3)

GRATIS KORTVERHAAL: Doodskoot (Roux #3)

DOODSKOOT


Tien oor agt op ʼn Sondagaand flikker blou en rooi ligte teen Roux se sitkamergordyne. Gordyne vir elke vertrek, was sy heel eerste aankope nadat hy in die woonstelblok langs die N12 ingetrek het, sodat niemand kan inloer en sien hy’t niks nie. Niks ontlok vrae. Vestig onnodige aandag op ʼn mens. Laat skindertonge spek skiet: Hy’t homself uit sy huis uit gedrink; seker sy arme vroutjie geslaan ook. Nee, nee, hy is ʼn druggie; hou julle vensters gesluit, want hy gaan ons rot en kaal steel. O nee, hy was in die tronk vir moord.

Buiten vir die skerpioen wat by sy nek uit klouter, is al Roux se tatoeëermerke weggesteek. Niemand wat hom kaalbolyf sien, sal weet dit is bende-tatoes nie – tensy die persoon êrens in een van die land se tronke tydgestoot het.

ʼn Konstabel leun teen die deurkosyn, loer kort-kort na sy beeld in die spieël. Die drie kerse gooi sy skaduwee monstrueus teen die dak. “Wa’,” vra hy: “begin ons na die sniper soek?”

Roux steur hom nie aan die konstabel nie; blaai eerder deur die moordfoto’s op brigadier Buys se selfoon. Pas geneem. River Café, Potch. Per WhatsApp aangestuur.

Buys sit op die armleuning, sy een been bo die ander gekruis; sy een hand streel ʼn kat. Die glinster in sy oë is lankal uitgedoof, maar vanaand lyk dit asof hy die wegraping aanskou het.

Klere op die teëls lei na die slaapkamer. Water raas. Moet die bad se krane wees. ʼn Vrouestem sing sag.

“Die kelnerin?” vra Buys met ʼn kopknik.

Roux skud sy kop. “Ou nuus.” Hy wys met sy duim na die badkamer, fluister. “My buurvrou, super hot. Sy’t selfs ʼn OnlyFans page.”

Die aandwindjie dreig om die kerse dood te blaas.

Die drie skote ʼn halfuur gelede in die studentedorp wil Roux laat kots. Helsem, soveel drome verlore.

Die konstabel se vinger blaai op sy selfoon. “Hel, check hier, alles is op social media. Gots, ʼn meisie was besig met ʼn live video.”

Roux gryp die selfoon uit sy hande; Buys volg, kyk oor Roux se skouer.

“As jy nog nader staan,” spot Roux: “betaal jy oor nege maande onderhoud.”

Buys pomp hom in die niere. “Is jy kwaad omdat ek jou plesier onderbreek het?”

Al drie studente staan in meer as een foto saam met Eva’s in intieme oomblikke, dit skakel anti-homofobie as misdaad uit. Twee van die slagoffers is wit, so dit elimineer rassisme. Wat bly oor?

Donderweer verhelder die sitkamer, sweepklap. Sy Pa het altyd geglo, vir elke sekonde tussen die blits en donderslag, is daar ʼn kilometer tussen jou en die weer. Dit gee Roux ʼn idee; hy knyp sy oë toe, hou die selfoon teen sy oor. Speel weer die video. Geen huiwering tussen die skote nie – dit beteken die skut het geen berou tydens die skietery gehad nie. Die skote het vinnig op mekaar gevolg, dit sê hy’t beheer verloor. Of dat hy ʼn ervare skut is. ʼn Skerpskutter.

“Kon iemand op die toneel vasstel vanwaar die skote afgevuur is?” Toe Buys sy kop knik, beveel Roux: “Vind uit of daar ʼn helder vlaggie êrens sigbaar is.”

Buys herhaal die versoek oor sy selfoon, wag. “Om die windsterkte te bepaal,” voeg hy ter wille van die konstabel by.

Minute later kom die antwoord: “Net die landsvlag by die restaurant.” Voor Roux kan vra, beveel Buys in die selfoon: “Vind by die bestuurder uit of dit hulle s’n is. Anders het die skerpskutter dit daar vasgebind en dan soek ek vingerafdrukke.”

Om in die wind, oor die water, oor so ʼn lang afstand akkuraat te skiet, dui op spesmagte opleiding.

Maar hulle word opgelei om nooit beheer te verloor nie.

Tog. In 1966 het ʼn skerpskutter in Texas vanuit ʼn toring op burgerlikes losgetrek, 14 mense is doodgeskiet en 31 noodlottig beseer.

Wat sou hom laat knak het? Daar is net een ding wat Roux sy praoolvoorwaardes sal laat breek, sy kind. Vir haar sal hy ... nee, moenie eens daaraan dink nie!

“By ʼn vulstasie.” Roux se stem is sag, asof hy hardop dink. Dit is wat hulle altyd met ʼn transito se wegkommotor gedoen het: water, olie, bande; asook ʼn vol tenk.

Die konstabel: “Wat?”

“Jy’t gevra waar begin ons na die helsem soek. By ʼn vulstasie. Begin sommer by die wat langs die N12 staan, naby Potch se uitgange.”

“ʼn Vulstasie?” Buys se wenkbroue raak aan mekaar. Sy vinger wys eers na die konstabel, dan na die video. “Ek soek die meisie wat die video gemaak het.” Dan: “Roux, wat het jy opgetel?”

Roux se hande orkestreer soos hy praat. “Kyk uit vir ʼn man en ʼn seun ... Die seun is tussen agt en tien, dalk ʼn jaar of twee jonger, maar nie dag ouer nie.”

“Jy’s te vinnig vir my,” keer Buys. “Hoekom ʼn vulstasie en hoe weet jy hy’t ʼn seun?” As ʼn nagedagte: “Wie de hel skiet kinders op ʼn Sondag dood?”

Die katjie skuur teen Roux se bene. Pablo. Vernoem na die berugte dwelmbaron. Hy tel hom op, soen sy pels. “Honger, ou seun?”

Hy wys na sy horlosie. “Kyk hoe laat is dit. Drie-en-twintig minute oor sewe, op ʼn Sondag. My opinie? Die skerpskutter is geskei en sy seun bly by sy ma. Ver, anders sou hy hom meer gereeld gesien het. Hy’s uiters presies, so hy sou sy voertuig volgemaak het om heen en weer te ry. Hy sou vir die seun koeldrank en lekkers gekoop het ... Nou dat ek daaraan dink, vir hom Coke en Grandpa. Vir die druk.”

Die konstabel druk die selfoon dood. “Is jy ʼn sniper? Of profiler” Vir Buys: “Potch se speurtak gaan haar nou optel. Hulle sal Brigadier bel as hulle naby is.”

Roux skud sy kop, nee, vir albei. Maar verduidelik nie. Tel eerder die punte op sy vingers af soos hy praat. “Ons weet dis nie ʼn boer wat die sneller getrek het nie, want bokjag en mense-skiet is nie dieselfde nie, dus het hy opleiding. Dis bevestig deur die vlaggie en die kalmte tussen die skote. Elkeen sekuur. Niemand het iets gehoor of gesien nie? En hy’t ongesiens weggekom? Dit beteken hy’t al op mense geskiet, wat beteken hy kom uit die polisie of weermag. Ek sou geld op die weermag sit. Laasgenoemde het meer aksie gesien.”

ʼn Vrou loer in ʼn bol stoom by die badkamer uit, gaap hom oopmond aan. ʼn Handdoek is om haar lyf gedraai; nog een om haar kop. “Ek’t nie geweet jy’s in die polisie nie, Roux. Koffie, menere?”

Dit pla haar blykbaar glad nie dat drie paar oë haar lyf takseer nie.

Buys skeer sy oë weg, kyk Roux aan asof hy wil sê: jou gelukkig wetter. Vra: “Hoe weet jy hy’t ʼn seun? Hoekom nie ʼn dogter nie? En hoekom juis tussen agt en tien?”

“Obama het in 2009 begin om die soldate uit Irak te onttrek, dus sou ons skerpskutter kort daarna huiswaarts gekeer het. Van die ou baarde uit die Bosoorlog het mos oliepyplyne opgepas,” antwoord hy voor die konstabel kan vra: “Dit vat tyd om ʼn meisie te vind, te trou en dan moes hulle nog nege maande wag vir die baba.” Roux loop op en af terwyl hy praat. “Ons skerpskutter het sy seun vanmiddag huis toe gevat, more is skool. Ons skerpskutter wou seker gister met die Bokke bande bou, dalk braai en bietjie bal skop, maar die laaitie lê heeldag voor die TV of met sy neus in ʼn boek. Hy wil nooit gaan jag nie, nog minder leer skiet. Wil nie visvang, bergklim of iets waarmee die skerpskutter kan connect nie. Dit het oor die laaste paar jaar frustrasie opgebou en vanmiddag ontplof. En om jou vraag oor die dogter te antwoord, mans gee nie om as hulle nie wil jag, visvang en rugby kyk nie.”

“Hoekom vanmiddag?” vra Buys en die konstabel gelyktydig.

ʼn Motor backfire, die konstabel skrik se nek ruk en hy gryp sy hart vas.

“Iets het hom ge-trigger. Of die seun. Dalk sy eks se nuwe liefde. Vanoggend se plaasaanval – enigiets.”

∞ ∞ ∞

ʼn Halfuur later kom die nuus deur: ʼn man en seun van ongeveer nege of tien het ʼn Isuzu KB 280 volgemaak by TotalEngergies. Al hoekom die petroljoggie dit onthou, is omdat die seun (nes hy) erg mank in sy linkerbeen is.

“Stuur hulle foto na skietklubs in die omtrek en die veteranevereniging,” beveel Buys.

“Nee,” keer Roux, harder as wat nodig is. “Daai ouens is soos ons bandiete – beskerm mekaar. Voordat iemand aan sy deur gaan klop, is hy weg. En as hy enigiets van Kaalvoet Thysie se kaliber is ...” Hy dink. “Plaas liewer die seun se foto op Facebook en sê hy is vermis. Iemand sal sy ma kontak en sy sal ons bel.”

Hy tel ʼn halwe glas wyn op, teug daaraan. “Jaag die skerpskutter deur na sy eks se huis toe en sien polisie voertuie daar, sal hy niks vermoed nie.”

Minder as tien minute na die Facebook plasing, bel ʼn vrou en vra watter siek grap dit is. Sy skree so hard in Buys se oor, Roux hoor elke woord.

Buys kry haar kalm, sweer die man wat die inligting deurgegee het, het gesê hy is ...

Hy kry nie kans om sy sin te voltooi nie.

ʼn Paar minute later het hulle die skerpskutter se naam; asook die trigger. Vandag, presies drie jaar gelede, is die seun ʼn paar meter vanaf River Café deur ʼn dronk bestuurder raakgery. Die polisie kon nooit die skuldiges vastrek nie en die band tussen pa en seun het gekwyn.

∞ ∞ ∞

Buys tel die wynbottel op, skink vir homself ʼn glas. “Om bewyse teen hierdie vent te kry ...”

Roux weet wat hy suggereer. “Een van my crew sal die vent se Isuzu kaap.” Hy lig sy glas, cheers. “Maar ons hou die bakkie.”

GRATIS KORTVERHAAL: Die eerste moord (Roux #1)
👁 772 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Die eerste moord (Roux #1)

GRATIS KORTVERHAAL: Die eerste moord (Roux #1)

Die eerste moord

Roux smyt die moordfotos voor Brigadier Buys neer. “Dis nie ons nie. Hulle is te veel gesteek.”

Buys krap sy pyp met ʼn knipmes skoon. Kap dit teen sy skoensool. Gooi die inhoud in die leë koffieblik wat as Roux se asblik dien. Seker om te kyk wat is alles binne-in. Buiten die gebruikte kondoom waaroor hy gaan wonder, is alles kosjer. Niks wat Roux se paroolvoorwaardes in gedrang kan plaas nie. Dalk gaan hy ook die hoeveelheid Panado-papiere bevraagteken, maar te hel met Buys. Weet hy hoeveel spanning dit op ʼn mens plaas as jy al die klanke, kleure en reuke na soveel jare gelyktydig moet inneem?

“Ek’t geweet jy gaan dit sê. Julle beskerm mos mekaar.”

Roux se wangspiere spring. “Hoekom is jy hier? Jy weet mos ek was met die eerste moord nog in die tronk. Sersant.” Roux weet Buys verstaan hoekom hy hom as “sersant” aangespreek het — nes die bewaarders die gevangenes in die tronk verkleineer het deur hulle “meisies” te noem.

Buys se kop hang vooroor, sy rug krom – ʼn aasvoël wat ʼn tafelgebed oor ʼn karkas uitspreek. Hy suig aan sy pyp, vryf sy wenkbrou met sy duimnael. Die drie steke lyk vars. Sy oog is opgeswel. Sy lip ook.

Hardhandige ondervraging? Volgens BandietRadio drink Buys nie, so dit is beslis nie ʼn kroeggeveg nie. Dalk weiering van arrestasie?

Buys se stem is so sag, Roux leun vorentoe, draai sy kop effens na links, knyp sy oë toe.

“Sewe bewaarders dood en ek’t niks ...”

Dit is ʼn magspel om Roux in te breek. Om hom in te span om die polisie te help moorde oplos. Hel, maar Buys is uitgeslape. Wie beter as ʼn gewoontemisdadiger om moordenaars vas te trek. Maar hoe weet Buys van sy gehoorprobleem? Hy het dit nog nooit met iemand gedeel nie, nie eens met die drie perfekte-B’s aster wie gisteraand sy bed gedeel het nie. Het Buys sy hospitaalrekords opgespoor? Gesien wat sy pa alles aan hom gedoen het? G’n wonder die media het hom Bloedhond Buys gedoop nie.

Roux loop na die wasbak, spoel ʼn beker uit. Skakel die ketel aan. “Ek drink nie suiker nie, ook nie yskasmelk nie, maar kan ek vir jou ʼn dop maak?”

“’Seblief, maar net ʼn halwe teelepel koffie. My queen hou my op groentee en slaai gesond.”

Roux wag by die ketel. Afstand gaan Buys dwing om harder te praat.

“Jy was besig om te sê, Sersant?”

“Weet jy hoeveel bandiete het in die laaste vyf jaar parool gekry? Waar begin ek?”

Om tyd te wen, maak Roux eers hulle koffie. Hy kan reeksmoordenaars, verkragters en pedofiele van die straat af kry en sommer van sy opposisie ontslae raak.

“Ek’t ook met die eerste moord gedink dis een van ons. Besige winkelsentrum, in die rug doodgesteek. Amper soos in die tronkgange.”

Stoom wasem Buys se bril toe. Hy vryf dit met sy sakdoek skoon. Asook die koffie ring op die tafel. “Wat het jou anders laat dink? Hoekom is al jou gordyne toe?”

“Ek dog jy sou tuis voel, jou herinner aan die klere wat bandiete voor die tralies hang.”

Buys se mond vertrek. “Julle het nie die klere daar gehang net dat dit kan droog word nie, nè?”

“Klere voor tralies het dieselfde funksie as gordyne. My kaal woonstel sê ek’s óf ʼn barvlieg wat by die pawnshop bank óf pas uit op parool.” Hy maak die beker met ʼn paar teue leeg. “Die tweede moord. Ek sou dalk oorweeg om ons veiligheidshoof buite uit te haal. Onthou jy die Jali-kommissie? Seuns is uit juvie ingesmokkel as sekslawe vir die hardebaarde. Ek was een van die seuns.” Sy greep klem om die beker. “Ja, vir hom sou ek lem. Maar twee? Dit dui op ʼn reeksmoordenaar en jy weet ek’s ʼn gewoontemisdadiger.”

“Waar sou jy hom steek?”

“Bloudraad in die niere. Een skoot.”

“Die bloed?”

“Hy bloei binne dood.”

“Praat jy uit ondervinding?”

“Jy sou nie hier gesit het as ek krimi’s geskryf het nie.”

“ʼn Eks-bandiet kon hulle natuurlik ʼn klomp keer gesteek het, sodat iemand soos jy ons platpote kan oortuig om elders te gaan soek.”

Roux strek oor die tafel, krap deur die fotos, trek een nader. Hy draai dit so dat Buys kan sien. “Kyk hoe hoog is hierdie merk. Die ou wat hom gesteek het, is lank.”

Buys sak terug in sy stoel, kop agteroor. Sy amper onhoorbare geswets oor die Skepper sou die tronkkapelaan se bloeddruk die hoogte in gejaag het.

“En jy ken my ouens: Malan stoot nog tyd, Kriek is ʼn kortgat en Pumbaa lyk soos ʼn McDonaldsburger. Gaan skraap ʼn ander crew.”

Buys lê sy beker onderste bo in die wasbak. Sy kop draai nie, maar Roux weet sy oë mis niks nie. Laat hy rondkyk, na negentien jaar in die tronk steek Roux alles uit gewoonte weg. Selfs sy broodmes.

In die vensterbank langs die wasbak staan ʼn draagbare radio, aan op RSG. Die antenna rank met ʼn stuk elektriese draad by die venster uit. Soos in die tronk. Weerskante pronk avokadopeerpunte in glasbottels met water.

ʼn Skerp ontsmettingsmiddel hang in die lug.

“Ek’t die kat se piepieboks gewas,” sê Roux asof hy Buys se gedagtes kan lees. “Is ek jou enigste verdagte?”

Buys rus met sy boude teen die wasbak. Kruis sy arms. Staar by die venster uit. “Ken jy vir Johnny Cane?”

“Die bewaarder wat die twee bewaarders gepop en ons snoepiegeld gesteel het? Is hy al uit? Ek dog hy’t life gekry.”

“Hy’s uit op parool twee weke voor die eerste moord.”

ʼn Vragmotor wissel ratte, brul.

Kleintyd het Roux gedroom om vragmotors te bestuur sodat hy die wêreld kon sien. En êrens, soos in Sylvester Stallone se film Over the top, arm te druk. Toe toer hy net deur die land se tronke. Dertien in ses provinsies.

“Cane het in die tronk agter die Bybel geskuil, hoekom sal hy nou ewe skielik sterkgevreet wil wees? Soek iemand anders.”

Buys stoot homself weg van die wasbak, stap nader. Vinnige tree. Hy stoot die foto terug, tik met sy wysvinger daarop. Morsekode vir “praat met my”. “Stefan Nel, wat eerste gesteek was, het destyds in die beheerkamer gewerk en die polisie gebel nadat Cane die twee doodgeskiet het.”

ʼn Gemmerkat wurm homself deur die kombuisvenster, trippel nader en skuur homself teen Roux. Roux tel hom op die tafel, krap sy oor.

“Dis amper nuus, ek moet gaan.” Buys haal sy selfoon uit sy sak, swets binnesmonds. Jip, sonder twyfel die Skepper se naam. “Die blerrie ding is al weer pap, kan ek ʼn adres op jou foon soek?”

Roux stoot sy selfoon oor die tafel. Staan op. Gooi kos in die kat se bak. Hy hurk om die wasgoedpennetjie waarmee hy die kossak toehou, af te haal.

Voordat Roux die selfoon in sy sak druk, kliek hy op die drie vertikale strepies. Die twee vensters wys dat Buys na sy WhatsApp-boodskappe en geskiedenis op Google Maps gekyk het. Hoekom dink almal bandiete is dom?

“Wat het die bewaarders in gemeen?” Sy stemtoon verraai nie Roux se irritasie nie.

“Buiten vir Stefan, het vyf bewaarders in buite-spanne gewerk. Almal in 1993. Die sewende oorledene was die Ster se tronkhoof in 1993.”

“Dit lyk my jy soek eintlik na twee moordenaars. Dalk het Cane tog op Stefan wraak geneem. Hy’s lank genoeg vir daardie hoë skoot.”

Buys knik. “Jy sal vanaand op nuus hoor Cane is vanoggend arresteer vir paroolbreek en een klagte van moord.”

“Maar jy sou nie vir Cane geskraap het as jy nie reeds weet wie die reeksmoordenaar is nie.”

Buys glimlag triomfantlik. “Nou waarvoor dink jy is ek hier.”

“Ek het in 1993 my straf in die Ster begin, máár die ou heks hier onder het reeds vir jou gesê ek’s elke dag tuis. Meestal saam met vroulike geselskap, wat soms oorslaap.”

Roux sug. Gaan na Netwerk24 op sy selfoon. Hy maak die voorbladberig oop, draai die selfoon na Buys. “Jy soek na die tronkhoof se seun, Jacques.”

Buys knik. “Jy sal op vanaand se nuus ook hoor dat Hendrik Strydom gedurende 1993 in die buite-spanne gewerk het. Vyf van die oorledenes was daardie dag aan diens toe hy Jacques verkrag het. Strydom is egter in die tronk dood, toe besluit Jacques om op die bewaarders wraak te neem.” Buys skud sy kop asof hy “ai” wil sê. “Daar was baie publisiteit rondom die tronk waaruit Madiba geloop het. Dit was die hoof se goue kaart parlement toe en hy wou nie kollig op die voorval plaas nie, toe oorreed hy Jacques om die saak te los.”

“As jy dit alles weet, hoekom is jy hier?”

Buys loop om na die tafel, tel sy pyp op. “Toe ek nie die saak kon oplos nie, het ek afluisterapparate in jou woonstel versteek.” Hy skop na die asblik asof hy die kondoom wil wegskop. “Die dame wat gisteraand oorgeslaap het, ek’t ʼn ooreenkoms met haar aangegaan. Sy por jou oor die saak – om te kyk hoe slim jy is – en ek vergeet van haar nagtelike stappies. Voordat sy vanoggend huis toe is, is die twee mans al vasgetrek. Dankie. Maar ek sal veel eerder met jou wil werk, as deur haar.”

GRATIS KORTVERHAAL: Weg
👁 523 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Weg

GRATIS KORTVERHAAL: Weg

Weg


“Het jy gesien die regering het 5 000 gevangenes vrygelaat?” Die aandwindjie blaas koel in my nek. Trane drup vanaf my bierbottel. Ek druk die bottel teen my kop, hou die selfoon vir my vrou om die berig op Netwerk24 te lees. “Mia, al sweer ’n pedofiel op ’n ton Bybels, sou ek hulle steeds nie vrylaat nie.”

Mia trek haar hemp op, tot net onder haar bra. “Verskoon my maag, maar dis vrek warm.”

“Asseblief, trek uit, ek gaan nie omgee nie.”

Sy knik na die drie seuns. “Ek weet.”

Uit die kombuis blêr “Moonlight girl” oor bluetooth speakers. Ek loer vir haar. Dis haar strip-liedjie. Sy verander die liedjie op haar Nokia.

“Moenie eers daaraan dink nie! Nie solank ek nog my mammalyf probeer afskud nie.”

Jandré dans saam met sy bababoetie, Izak. Dit lyk of laasgenoemde sy vingers in ’n muurprop gedruk het en rondruk. “Kyk my!”

Ons klap hande. Het al geleer om nie te lag nie. Al is dit hoe cute.

“Ek moet kos maak voor dit beurtkrag is. Of is jy lus vir pizza?” Mia staan op, hou haar bierbeker vir my uit. “Gaan ons nog een drink?”

Die bure se honde blaf. Ons gemmerkat spring oor die muur, snel verby.

“Dit gaan bitter wees; ek’t al die Sprite vir die tweeling gegee.”

“Gaan koop een en,” sy trek ’n L in die lug, “dan kry jy sommer vir ons twee pizzas. Thick base.”

“Ek’t gesien,” skree Jandré.

“Wat?” koor ons.

“Liquorice Allsorts,” eggo hy en Riaan.

Ons kyk vir mekaar. Die tweeling het grootgeword, mis niks nie.

“Saamry.” Izak skiet sy hande in die lug.

“Bly by Mamma.” Ek voel aan my broeksakke. Waar’s my bakkiesleutels? Kyk vir Jandré. “Ry saam.”

“Wag eers.” Soos ’n doodsvonnis. “Gaan trek eers skoon klere aan, en was jou gesig.”

Terwyl Jandré haar opdragte uitvoer, loop ek deur die agterste deel van die huis, maak seker al die vensters is op knip. Gordyne toe. Alarm in die agterkant van die huis aan. In die voorste deel bly als soos dit is.

“Sluit die deur agter ons.” Ek klem Jandré aan die arm.

Hy ken die goue reël as ons in die publiek beweeg: Nooit aan my regterkant nie, want niks mag my hinder as ek my vuurwapen wil uittrek nie. Ons gaan nie maandeinde dorp toe nie, eet in geen restaurant as dit vol is of ek nie die speelpark kan sien nie. Twee trollies: een waarin ek die kinders stoot en een vir die inkopies. By verkeersligte of ’n vierrigtingstop is alle vensters toe en almal doodstil.

Ek maak seker sy deur is gesluit en sy veiligheidsgordel vas. Ry nie voor die hek heeltemal toe is nie. Ry nooit dieselfde roete nie, monitor die omgewing soos ek op buurtwag geleer het. Parkeer altyd so na moontlik aan die ingang van ’n winkelsentrum.

Die tweeling sê hulle voel soos bandiete in aanhouding.

Ek koop Sprite, Liquorice en ’n Bar One wat ons op pad terug deel. ’n Koerantplakkaat skree in blokletters teen ’n lamppaal: Pastoor geskiet.

***

18 ure later.

“Julle moet versigtig wees,” die ou man se kop hang by die Nissan Pathfinder uit, “hier ry ’n pedofiel in ’n rooi Golf GTI rond.” Hy knik sy kop in die rigting van die fietsrybaan. “Ek dink hy wil daai seuntjie ontvoer.”

In die verte sien ek ’n blou spikkeltjie beweeg.

’n Labrador-welpie veg om gesien te word. Izak woel in my arms, krap die hond se kop. “Woefie byt nie.”

“Is jy okay?” Mia se aanraking anker my. “Wil jy liewers huis toe gaan? Ons kan môre weer kom.”

Vandag bars die tweeling, kyk waar trek hulle al.

Ek druk Izak in Mia se hande, wys na my bakkie. “Sluit.”

“Tweeling baie stout?” ’n Teddiebeer val uit Izak se hande. “Izak mooi. Tweeling stout.”

Sit die tweeling agterna.

“Moenie hulle doodslaan nie,” roep sy agterna.

Vandag nog gee ek hulle fietse by die kinderhuis af.

Die laaste keer wat iemand vooruit gery het, het ek haar nie weer gesien nie.

My bors trek saam. My hartklop versnel.

Die herinnering van 39 jaar gelede gaan my vanaand weer bloots ry. My suster ... Hoekom was ek daardie dag so hardekwas? Omdat sy die laaste melk gebruik het. As ek net nie ...

Blerriewil, sy was ses. Ses!

Trane loop vrylik. Ek onthou alles wat ek oor die jare uitgeknip het. As die swarthond my byt en die skalpel diep kloof, kluisenaar ek myself agter ’n deur toe, delf in die skoendose en lees die berigte. Die geel papiere krummel elke keer meer en meer.

Die tweeling praat met ’n seun in ’n Boerboel-T-hemp, sien my nie, maar die kyk in die seun se oë laat hulle omswaai. Die seun spat soos ’n vuurpyl weg.

Bosduiwe fladder hemelwaarts.

“Mag julle wees waar ek julle nie kan sien nie?” My stem donder soos kanonskote.

Koppe skud.

“Sorry,” piep Riaan.

“I totally forgot.” Jandré se oë is meer wit as pupil.

“Ons sal by die huis sien wat julle ook vergeet het.”

Ek sien ’n rooi Golf GTI nader kruie. Die Pathfinder slakkepas agterna. Die man is te naby, hy gaan die pedofiel afskrik. Laasgenoemde gaan net ’n ander park soek. Idioot.

“Sorg dat julle by Mamma kom. Julle is klaar gery.”

Die seuntjie stoot sy fiets in die pad. Lyk na ’n pap wiel.

Die GTI stop oorkant die pad. Trek nie af nie. Sit nog minder sy waarskuwingsligte aan.

Die deur vlieg oop.

Die kind spring op sy fiets, pap wiel en al, en trap.

Vorder nie ver nie.

Gooi sy fiets neer, hardloop. Roep sy ma.

Ek hoor Mia gil op die seuns.

Honde blaf.

Die dogtertjie wat uit die GTI klim, ruil plekke met haar pa. Hy klim nie in nie. Sy oë is groot. “Wat gaan aan?”

Ek sien die rooi L in die agterste ruit. Memoriseer die nommerplaat net ingeval. Asook die Pathfinder s’n.

***

Stoom dans soos spoke uit die koffiebeker wat Mia langs my skootrekenaar neersit. Swart, geen suiker. Sedert daardie oggend gooi ek ook nie melk in my pap nie. Kyk die seuns skeef aan as hulle te veel ingooi.

Mia: “Moet ek jou berader bel? As jy wil, kan ek fudge maak.”

“Speel my.”

“Pappa is siek, kom Mamma wys vir jou trekkervideo’s op my foon.”

Siek? Sal sy ooit verstaan? As ek net nie ...

“Speel my.”

Ek druk die rekenaar toe sonder om die resensie te save, gaan speel op die teëlvloer plaas-plaas.

Jandré gil.

Ek spring so vinnig op, stamp in die proses vir Izak met die knie teen die kop.

’n Trekker kraak onder my voete.

“Eina my!” huil Izak. “Trekker breek.”

Die kamerdeur klap teen die muur soos ek dit oopgooi. “Wat?”

Jandré staan asof verkluim, oë groot. Wys na die gordyne. “’n Spinnekop.”

Ek slaan die spinnekop met my plakkie dood. Swets binnemonds, draai na Mia wat in die deur staan. “Bel my berader, ek’s nie op ’n goeie plek in my kop nie.”

***

Drie dae later staan ek buite die skool. Hek 10. ’n Mamma knoop geselskap aan, speel met haar hare. Ek luister skaars, hou die hek met valkoë dop.

Die gewig van die tas laat Jandré soos ’n krap loop.

“Waar’s jou broer?”

“Ek weet nie.”

“Hoe weet jy nie; julle is dan in dieselfde klas?” My sussie het nooit die skool bereik nie.

Koppe ruk in my rigting.

Sy lip bewe.

Ons wag. Die kinders word minder. Die opsigter is besig om die hekke van ’n kant af te sluit.

My selfoon ping. Mia se WhatsApp ringtone:

is alles ok

waar bly julle

Ek antwoord haar nie, sleep Jandré aan die arm deur die hek. Bel Riaan se klasjuffrou.

“Waar’s my kind?” skree ek toe sy antwoord.

“Ek’s seker hy’s hier. Ek bel die hoof, dan help ons almal soek.”

Soek. Ek ken daardie woord goed, die uitkoms daarvan.

Here, nie weer nie!

Ek druk Mia se nommer, sy antwoord dadelik.

My asem jaag. Ek skets die buitelyne, sê sy moet vir Jandré kom haal sodat ek kan fokus op die soektog. Hoe kan die verlede homself weer herhaal? Ek’t dan soos ’n ortodokse priester die wette by die tweeling ingeburger.

Waar begin ek soek? Die eerste 24 uur is van kardinale belang. Daarna ...

Die Pathfinder! Die man het ons op ons gemak probeer stel, ’n ander persoon verdag probeer maak.

En die regte verdagte se Labrador lok kinders nader. Sit lekkers by en Riaan is ... weg.

Die buurtwag-WhatsApp-groep!

My stemboodskap gee kort instruksies. Die Pathfinder se registrasienommer. Die man se beskrywing. Riaan se foto.

In ’n paar minute is die strate vol groen ligte. Selfs op Facebook word daar gesoek.

Ek sukkel om tussen die trane deur te bestuur.

’n Halfuur later kry ek ’n oproep: My kind is by Spar. Ongedeerd. Hy het glo vroeër uit die klas geglip om lekkers te gaan koop.

Ek sweer hy kyk vir die volgende week nie TV nie.

***

Ek gooi al die skoendose met my sussie se koerantuitknipsels op die vuur in die braai. Drink ’n glas melk. Staar na die straatligte.

Mia omhels my van agter, lê met haar kop op my rug. “Hoekom brand jy alles?”

“Gister kan my nie meer gevange hou nie.”

’n Donderslag.

Ek laat val die glas, hardloop die huis in. “Die kinders!”

Nog ’n slag.

Ek koes, loer oor die vensterbank na buite.

In die verte is ontploffings in rooi en pers. Dan ’n gele en ’n groene.

Diwali. The Festival of Lights.

GRATIS KORTVERHAAL: Die Rommelkrapper
👁 667 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Die Rommelkrapper

GRATIS KORTVERHAAL: Die Rommelkrapper

Die Rommelkrapper


Honde storm op Dolfie af. Hulle bekke steek deur die hekke, spoeg kwyl. Hy terg hulle nooit nie, want hy is bang die hekke staan eendag oop. Met sy alien-armpies sal hy hulle nie kan keer as hulle sy kop van sy lyf af wil byt nie.

Donker wolke verander Klerksdorp in ʼn oordeelsdagtoneel. Die donder bulder soos Meneer as hulle vragte bottels en blikkies te lig is.

Dit moet net nie nou begin reën nie, dan kry hy nie sy trollie teen die bult uitgestoot nie.

Geoefende vingers knoop die vullissakke oop. As hy dit skeer, raak mense kwaad. Soms raas hulle met hom. Of vloek hom. ʼn Man het hom al met motorsleutels gegooi.

∞ ∞ ∞

Meneer sê hy is nie ʼn rommelkrapper nie, nee, hy’s ʼn besigheidsman. Hy werk vir homself. En hy is ʼn entre ... pen ... eer ... Wat is daai groot woord nou weer? Hy sal vir Meneer moet vra. Meneer sê dit is mense soos hy wat die planeet red. Meneer het eenkeer op sy selfoon vir hom foto’s van die see gewys, vol rommel omdat niemand dit optel nie. Jissie, hy sou darem baie ryk gewees het as hy by die see gebly het.

Sommige mense gooi al hulle bottels in een sak sodat hy nie nodig het om in hulle gemors te krap nie. Die tannie op die hoek van Odendaalstraat spoel haar bottels uit. Ai, hy kan nie eens die laaste koeldrankdruppels op sy tong gooi nie. Sy sit ook al haar ou brood in ʼn sak en hang dit aan die hek. Een keer ʼn maand sit sy ʼn sjokolade en koeldrank ook in.

Toe hy nog kleiner was, wou sy altyd weet hoekom hy nie in die skool is nie. Duh. Meneer leer hom sommer self. Meneer is slim. Regtig slim. Hy was ʼn skoolhoof in Bothaville voordat hy die herwinbesigheid in Klerksdorp begin het. Nou besit Meneer ʼn erf so groot soos die begraafplaas in Kleindorp, twee trokke en 50 mense wat vir hom werk. Die meeste mense is sy ouderdom en kom lank saam met Meneer. ʼn Paar is ouer, maar Meneer het hulle nie, soos vir hom, met die hand grootgemaak nie. Die seuns wat nou vir Meneer werk, kry 10 sent meer per kilogram. 10 sent! Dit is omdat Meneer hulle ook leer hoe om te ... amper gebruik hy die n-woord.

Hy het nie daarvan gehou dat Meneer se hande alewig oral oor sy lyf gevat en gevryf het nie, maar nou mis hy Meneer se aanraking. Soms, as almal slaap, vat hy aan homself en verbeel hom dit is Meneer.

Dolfie vee die traan in die hoek van sy oog met sy pinkie weg. Hy is sommer simpel om so te voel.

Hy moet werk; die son trek water.

Sy sug klink asof hy sy laaste asem uitblaas. Hy knoop al die sakke toe voor hy na die volgende huis stap. Sug weer.

“Nege mense dood,” skree die koerantopskrif. Meneer het altyd gevra of hy kwaad is as hy in blokletters skryf, so die verslaggewer moet vir iemand baie kwaad wees.

Hy vee sy hande teen sy broek skoon, trek die koerant onder die pizza-boks uit. Lees met sy wysvinger. Klank die lang woorde hardop. Hy sal vir Meneer moet vra wat reeksmoordenaar beteken. En verkragter. Hy hoop net nie dit is stoute woorde nie, want die laaste keer toe hy ʼn stoute woord gebruik het, was Meneer so kwaad, die spoeg het teen sy gesig gespat soos Meneer op hom geskree het. En hy het daarna vir ʼn week lank op ʼn kussing gesit.

“Mens sê nie daai woord nie – dis vuil,” het Meneer die woorde soos ʼn stukkie kos wat in jou tand vassit, uitgespoeg. Meneer het hom egter onder die komberse geleer wat die n-woord beteken. Meneer het hom ook alles geleer wat hy van vullisherwinning weet. Byvoorbeeld, hy kry meer sente per kilogram vir die 04 in die driehoek as die 01. Ek wed jou jy het die syfers nog nooit eens gesien nie.

∞ ∞ ∞

Meneer het hom ook geleer om al die proppies eenkant te gooi. Papier, blikkies, plastiek en bottels ook. Mens kry meer vir blikkies, want jy kan dit plat trap om meer in een vrag te kry. Veral by skole, want kinders is lief vir gaskoeldrank. Maar hy hou nie van skole nie, want die dogtertjies se rokke is te kort om nie te staar nie.

Hy gooi die bottels – proppies af soos Meneer hom geleer het – in die een sak. Staan op, trap ʼn paar blikkies plat. Dit is die heel lekkerste van die werk.

ʼn Bakkie jaag verby, verminder nie eens spoed vir die slaggate nie.

Dolfie staar hom agterna voor hy sy trollie uit die pad sleep. ʼn Buffel soos hierdie gee nie eens om dat dit ʼn skoolstraat is nie. Waar is die polisie? Dit is wat die koerant ook vra. Wie kan nege mense wreed vermoor en die polisie het nie een enkele leidraad nie? Die koerant sê ook dat die reeksmoordenaar al sy slagoffers goed ken.

Gaan hy ook eendag ʼn bakkie besit? Dink net hoeveel geld gaan hy dan met sy besigheid maak. Dan sal hy sy eie besigheid begin en die trollie vir sy gunstelingseun gee, nes Meneer. Het jy geweet, Meneer het self die trollie gebou? Hierdie trollie het selfs ʼn nommerplaat by. Nes ʼn regte kar. Hy het dit by die asgate opgetel en Meneer het hom gehelp om dit vas te skroef.

Hy druk die koerant terug in die sak.

∞ ∞ ∞

Het die inwoners vir hom ʼn stukkie pizza gelos? Hy hoop net nie dit is Hawaiian nie, want hy hou nie so baie van pynappel nie. Maar bacon ... Hy lek sommer sy vingers af.

Die stukkie is so klein, hulle kon dit net sowel geëet het. Iemand eet nie sy korsies nie. Hy kan bly wees Meneer sien dit nie, want Meneer sal dit in sy keelgat afdruk.

Hy blaas die miere af, hap, kou toemond.

Hierdie seun breek gereeld speelgoed. Soms kan Dolfie dit regmaak. Dan los hy dit by die kinderhuis waaruit Meneer hom 12 jaar gelede gered het. Die heel beste speelgoed hou hy vir die nuwe seun in Meneer se span. Die arme seun is nog so nuut, hy huil saans in sy kussing. Bid dat liewe Jesus sy mammie moet terugbring. Hy leer nie vir die seun die n-woord nie. Hulle speel net saam karretjies.

Meneer sê hy is te oud om nog karretjies te speel, maar waarmee moet hy hom saans besig hou?

Die vrou het nie ʼn man nie, want daar is nooit enige sigaretboksies of bierbottels tussen haar vullis nie. Ook min sakke waarin vleis se bloed oor alles loop. Hy dink nie sy is ryk nie, want haar vullis het baie broodsakkies en vrugtebokse in. Min sweets-papiere.

Kyk net hoe slim is hy. Hy weet die vrou het twee kinders, want daar is weekliks 14 joghurtbakkies. Die een kind moet ʼn dogtertjie wees, want hy het eenkeer ʼn pop met ʼn af kop in een van die sakke gekry.

Die mense wat doodgemaak word, onthou hy, se koppe is ook af. Die koerant sê dit is nooit gekry nie.

∞ ∞ ∞

Meneer hou nie van vroue nie. Meneer raas altyd met hom as hy hulle van agter aanstaar. Maar hy kan nie help nie; hulle is dan so mooi. Nou kyk hy net as Meneer nie by is nie.

Die vroue sien hom nooit staar nie. Hy proeslag; skud sy kop. Waarvan praat hy. Niemand sien hom ooit raak nie.

Die een vrou het een oggend sommer stout voor hom gebuk. In haar PJ’s. Hy weet nie wat sy in die vullissakke wou gooi nie, maar toe sy opstaan, was hy agter haar. Die mes om haar keel; sy neus in haar hare. Hy was kliphard en het hard asemgehaal. Sy was eerste; die ander agt het gevolg.

GRATIS KORTVERHAAL: Seun
👁 539 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Seun

GRATIS KORTVERHAAL: Seun

Seun


Vrydag, 08:23. Anistemi aftree oord, Klerksdorp.

“Mariana, ek het nie geweet jy het ʼn broer nie.” Lizette – 43, lank en skraal – druk die send knoppie. Gaan by WhatsApp uit. Sit haar selfoon op die pot suiker neer en loer deur die kombuisdeur na Oom Abrie Geldenhuys.

Wat gaan vandag met die ou siel aan? Hy sit met sy hande in sy skoot, sy rug krom getrek. Hy staar al heeloggend by die sitkamervenster uit. Praat niks. Uhm en aha net.

Sy druk ʼn haarlok agter haar oor in. Haar hare word skouer lengte geknip en gereeld bruin gekleur, veral om die wortels wat by die dag meer grys word. ʼn Sug plof oor haar lippe: die lewe van ʼn enkelma. Sy is so verwaarloos, as mans haar sien, wil hulle ʼn kospakkie in haar hand druk, eerder as om haar uit te vat vir ete.

Sy haal twee bekers uit die kas bokant haar kop uit, en sit dit langs mekaar neer. Albei bekers se ore wys na voor. Sy trek die boonste laai oop, haal een teelepel uit. Gebruik dit om drie lepels suiker in Oom Abrie se koffie te gooi. En ʼn bietjie vir liefde. Asook twee opgehoopte lepels poeiermelk. Yskas melk maak sy koffie glo te koud. Vir haar: geen suiker of melk nie. Sy is al klaar te dik.

Sy wag, arms gekruis. Hoekom het Mariana nog nooit van haar broer gepraat nie? Nie in ʼn gesprek of op Facebook nie. Is hy in die tronk? ʼn Moordenaar?

Die ketel borrel.

Sy druk die deksel plat. Die stoom bou op; die skakelaar skiet af. Sy wag totdat die borreling bedaar, voordat sy water ingooi. Nietemin brand die stoom haar arm. Sy ruk weg, vloek binnemonds. Sy roer albei bekers, druk die teelepel in haar mond voordat sy dit in die wasbak gooi.

Sy druk op die selfoon se skerm. ʼn Rooi een lê en wag in die WhatsApp-blokkie. Seker haar seun. Hy soek alewig snoepie geld. Hopelik is dit Mariana, maar haar boodskap se dubbele regmerkies het nog nie blou verkleur nie.

O, wag, Mariana se settings is so gestel dat niemand kan sien of sy haar boodskappe gelees het nie. Gelukkig het haar seun haar geleer hoe om te kyk of iemand hulle boodskappe gelees het, al gebruik hulle die opsie.

Sy druk op haar boodskap, dit highlight. Daarna druk sy op die drie kolletjies, kies Info. Delivered 08:23. Read 08:23.

Hoekom antwoord sy nie? Is sy skaam oor haar broer?

Lizette search in Google: gevaarlike misdadigers met die van Geldenhuys in Suid-Afrika.

Die eerste plasing gaan oor Micki Pistorius en die Killer-Cop Kobus Geldenhuys. Net onder dit gooi Wikipedia ʼn lys uit van reeksmoordenaars. O shit. Sê nou Mariana se broer is ʼn reeksmoordenaar!

Sy druk die driehoek om by al die app’s uit te gaan. Druk die selfoon in haar denim se gatsak, tel die bekers op en loop sitkamer toe. Sy wag totdat Oom Abrie se rimpel hande die beker omvou, voordat sy langs hom op die rusbank gaan sit. Haar selfoon op die armleuning.

Hy sê niks, sy ook nie. Mens kan mos nie vir iemand vra hoe dit voel om ʼn reeksmoordenaar as seun te hê nie.

Shit! Kry hy parool? Kom hy vandag huistoe? Het hy ontsnap?

Sy loer kort-kort na haar selfoon. Facebook notifications. Instagram. LinkedIn. Maar geen WhatsApp-boodskap nie.

Sy is besig om ʼn beskuit in haar koffie te doop, toe haar selfoon skielik ping. Sag. Maar sy hop soos sy skrik. Laat val die beskuit in die beker. Koffie spat oor haar bloes.

Mariana: Wat sê my pa alles van my broer?

Lizette betrag hom. Drie stukkies toiletpapier op die wang verklap sy poging om vanoggend self te skeer. Hy ruik na naskeermiddel. Old Spice. Sterk, asof hy in dit gebad het. Sy klere mif, maar dit is duidelik die beste uit sy klerekas. Kerkklere, sonder die das.

Dit is die eerste keer sedert sy hom versorg, dat hy so netjies aangetrek het. Toe sy hom vanoggend sien, het sy gedink hy het ʼn date met tannie Barbara. Die tannie dra vir hom koekies en beskuit aan, en Sondae ʼn bord gekookte kos.

Hy sê egter niks. Sit net. En dit is die probleem. Hy het vanoggend gevra hoe laat sy seun kom, daarna het hy op die punt van die rusbank gaan sit. Hy het nie eens die klein radio op sy bedkassie aangeskakel nie. Gewoonlik luister hy eers na monitor op RSG, voordat sy dag begin.

In die twee jaar wat sy hom versorg, het hy vir haar die pa geword wat sy nooit gehad het nie. Hy het ʼn vlymskerp sin vir humor, bak poetse en lag vir alles. ʼn Regte hanswors. Al wat sy dag omkrap, is kerk en politiek.

As dit haar pa was, sou sy nooit Canada toe immigreer het nie. In die twee jaar WhatsApp-call Mariana hom gewoonlik net op Vadersdag, sy verjaarsdag en Kersfees. Meestal stuur sy net foto’s en stemboodskappe.

Lizette moet gereeld die foto’s vir hom delete. Al foto’s wat hy gehou het, is die voor Mariana weg is.

“Ek wil nie op foto’s sien hoe my kleinkinders lyk nie, ek wil hulle voel. Julle kinders weet nie wat julle aan ʼn oumens hart doen as julle oorsee fok nie,” betoog hy gereeld terwyl sy die foto’s uitwis. Asof dit haar skuld is dat Mariana groener weivelde gaan soek het.

Haar selfoon ping drie keer kort na mekaar.

ouboet is dood

1989

op die grens

ʼn Kaalvoet boodskap. Geen leestekens, hoofletters of punte nie.

Ping. Ping. ʼn Foto en ʼn naam: Ruan.

Ruan was ʼn aantreklike man. Op die foto lyk hy nog nat agter die ore, agtien, dalk negentien. Lizette hou nie van mans in uniforms nie, maar bruin pas by hom. Laat sy blonde borselkop en blou oë uitstaan. Romanza-skrywers sou gedigte oor sy glimlag kon skryf.

Lizette skuif nader aan Oom Abrie. Lê haar hand op sy arm.

“Oom, as jy oor Ruan wil praat, sal ek luister.” Haar stem is sag.

Sy oë glinster. “Is hy hier? Ek het geweet hy gaan terugkom.”

Hy probeer opstaan.

“Nee, Oom. Hy is dood.”

Hy pruim sy lippe. Haal swaar asem. Trane kolk in die hoeke van sy oë. “Dood?”

“In 1989, Oom. Op die Grens.”

Sy borskas dein op en af. Op en af. Sy asemhaling versnel.

“Dood? Op die Grens?” Hy kreukel sy sakdoek in sy hande. “Kom my seun nie huis toe nie?”

∞ ∞ ∞

20:03. Lizette smeer Oom Abrie se voete olie. Vryf dit in. Masseer die bal van sy voete met haar duime.

Hoekom is hier geen foto van Ruan in Oom Abrie se meenthuis nie? Haar blink val op sy bedkassie. Dit is waar Ruan moes staan, langs Mariana se troufoto. So tussen die kleinkinders.

“Sy klere hang nog in die kas.” Oom Abrie wys na die hangkas. Die een waarin sy die winterklere stoor.

Is dit sy weermag uniform wat daar hand? Sy het dit al gesien, gedink dit is Oom Abrie s’n.

“Mis Oom hom baie.” Sy wil haarself skop. Stupid. Natuurlik mis hy sy seun. Dit is net háár seun wat haar die laaste agtien jaar aan die gang gehou het. Nadat die eks wou sy keer op keer opgee ...

“Niemand wil vir my sê hoe’s hy dood nie.” Oom Abrie se stem bewe. “ʼn Pa wil weet. Dit bring berusting. Afsluiting salf wonde.” Stilte. Dan: “Maar as jy wonder, hou die spoke jou wakker.” Heftig. “My vrou ...” hy skud sy kop soos hy praat: “sy wou nie aangaan nie. Het kort daarna selfmoord gepleeg. Pille.”

Lizette gee sy voete ʼn drukkie. “Oom.”

Dan: “Daar is veteraan-groepe op Facebook, hoekom vra Oom nie daar nie? Of op Nagkantoor, De Wet Potgieter is orals connected.”

“Facebook?”

Sy vee haar hande op ʼn handdoek skoon, gaan sit langs hom. Teen hom. “Kom ek wys, Oom.”

In die soekenjin tik sy “weermag”. Dit gooi ʼn paar opsies uit, haar oë vang Alle ou Weermag Veterane. ʼn Privaat groep met sestien duisend lede. Sy sluit aan.

Tik: Het iemand dalk vir Ruan Geldenhuys geken?

ʼn Man kommunikeer dadelik: Watter jaar was hy op die Grens?

Sy: In 1989. Hy is op die Grens dood.

Die man tag verskeie name. Skryf langs die string name: dalk kan iemand die kind help. Asseblief.

Dit is asof ʼn veldbrand losbrand in die kommentare. Sommige wil weet of sy ook ʼn boek wil skryf, ander vra of sy van die media is. Nog ander sing Ruan se lofsange. ʼn Hele paar plaas foto’s. Sy herken dadelik Ruan se glimlag in almal.

“Wat sê hulle?” wil Oom Abrie weet.

Sy wys vir hom die foto’s.

Trane stroom oor sy wange. Hy druk die selfoon teen sy wang, kreun: “My seun, my seun.”

Sy hou hom vas. Lank.

Toe sy asemhaling bedaar, download sy die foto’s en stuur dit per WhatsApp vir hom. Moet sy dit Mariana ook stuur?

“Hulle sê hy was dapper, Oom.”

Hy knik. ʼn Wrang glimlag strek om sy mond. “ʼn Pa wil nie hoor sy seun was dapper nie, jy wil hom vashou. Druk. Soen.” Hy skud sy kop. “Ek wil nie medaljes vashou nie, ek wil my seun vashou.”

Die volgende oggend is Oom Abrie weer sy ou self. Hy maak self vir haar koffie, knipoog: “Die laaste keer wat ʼn mooi aster langs my op ʼn bed gesit het, was vyftig jaar gelede.”

Hy gaan sit in die son, skop sy plakkies uit. Raak nie sy koffie aan nie. “Kan jy dalk vir my lees wat almal oor my seun sê?”

“Natuurlik, Oom.” Sy gaan sit oorkant hom, slurp eers ʼn paar slukke koffie voordat sy die beker langs haar op die sement neersit.

Na elke boodskap wat sy lees, gaan sy eers na die skrywers se profiel, kyk wie is hy. Wys vir Oom Abrie sodat hy gesigte by die name kan sit. Sy skryf ook, namens Oom Abrie, vir elkeen ʼn persoonlike boodskap. Die voorlaaste boodskap wat sy lees, is van sy bevelvoerder.

Sy Facebook is baie regs. Die huidige regering is net kak en Trump is die wittes se oplossing. Elke tweede plasing is iets met die weermag te doen. Dit is asof sy lewe op die Grens stilgestaan het.

Oom Abrie tik met sy wysvinger op haar selfoonskerm. Hard. Hy kry ʼn skewe trek om sy mond. “Hy het seuns. Kyk na al sy familie foto’s, al wat ek het, is medaljes ...”

∞ ∞ ∞

Die laaste maand is Oom Abrie anders. Lizette kan nie haar vinger daarop sit nie; die beste woord waaraan sy kan dink, is doelgerig. Iets het weer sy vuur vir die lewe aangeblaas. Hy boer op Facebook, loop uit die vertrek as sy selfoon lui.

Het hy by een van hierdie regse groepe aangesluit?

Op Vrydag, 13 Februarie 2025, drie minute voor drie, stap hy kiertsregop uit die slaapkamer.

Hoekom het hy Ruan se weermag uniform aan?

“En waarheen gaan, Oom? ʼn Veterane reünie? Of hou tannie Barbara van uniform-speletjies?” spot sy terwyl sy sy kraag reg vou.

Hy haal ʼn koevert uit sy baadjiesak, druk dit in haar hande. Hy los nie dadelik nie, hou haar hande styf vas. Kyk haar waterpas in die oë.

“Lizette, as iets ooit met my gebeur, erf jy alles. Alles.”

Haar bolip bewe. “Niks gaan met Oom gebeur nie. Asseblief.”

Hy hak by haar in, loop kombuis toe.

“Kom nou my kind, ek hoor al lankal die engele sing. Gaan jy vir my koffie maak?”

Sy stamp hom speels met die skouer. “Oom se koffie is lekkerder.”

“Maar jy,” hy knip oog: “gooi altyd ʼn bietjie liefde by. Jy sou ʼn goeie vrou gewees het vir Ruan.”

∞ ∞ ∞

Lizette druk haar hand in haar sak, voel die koevert. Wat is binne? ʼn Bonus? Dan kan sy vir haar seun ʼn Nintendo Switch OLED koop waarop hy games kan speel. Hy nack al maande daarvoor.

Sy haal ʼn steekmes uit die laai en skeer die koevert oop. Binne in is ʼn A-4 bladsy, opgevou in kwarte. Sy maak dit oop, lees.

Haar oë rek.

Die papier val uit haar hande.

Nee! Sy wil nie al sy geld erf nie, sy wil hom hê!

Sy verander in ʼn soutpilaar. Waarheen het Oom Abrie gesê gaan hy?

Sy slaan haarself met die plathand teen die kop. Dink, domkop, dink.

Hy en Ruan se voormalige bevelvoerder gaan koffie drink. Hy praat al die hele week daarvan.

Waar? Die Mugg & Bean in die Mall? Nee, dit is te besig.

Waar het hulle twee nog gaan uiteet? Hy sal mos ʼn bekende plek voorstel.

Hulle gaan drink weekliks in From Shack to Sanctuary koffie. Sy bel die eienaar, wat onlangs in die media was oor haar Christelike romans.

Haar oproep word dadelik beantwoord.

“Hi, Sam. Is Oom Abrie al daar?”

“Ek kyk gou.”

Voetstappe. Dan: “Nee, moet ek vir julle ʼn tafel dek?”

Lizette maak verskoning, vra Sam om te bel as hy opdaag, druk die oproep dood.

Trane lê vlak.

Verdant? Of Plato? Hy hou daarvan om nuwe koffiewinkels uit te toets.

Die donderweer bliksem.

Die bevelvoerder!

Sy gaan by Facebook in, soek sy naam en message hom: Sorry, Oom. Oom Abrie het vergeet waar julle vanoggend ontmoet.

Verdant. Sê vir hom ek is ʼn bietjie laat.

Hoe vinnig kan sy 2 km ry?

Toe sy by Anistemi uitry, sit sy haar noodligte aan.

Jaag tot by die stopstraat, verminder spoed, maar stop nie dood nie.

Jaag tot by die eerste van die vier spoed hobbels.

By die vier rigting kruising draai sy links, dan skerp regs.

Jaag.

Verminder spoed by die drie spoed hobbels voor die skool.

Jaag oor die kruising. Stop by Verdant.

Sy sluit nie haar deur nie; draf na binne.

Daar is hulle!

Sy stap nader, haar tree uitgerek.

Oom Abrie se hande rus op die tafel.

Dankie tog, als is okay.

Hoekom het hy ʼn vadoek oor sy een arm?

Voor hom lê ʼn houtkassie. Dit is oop. Binne-in lê medaljes.

“Dé, Kolonel, vat jou donnerse medaljes en gee my seun terug.”

Net voordat hy die sneller kan trek, rus sy haar hand op sy skouer. “Oom Abrie, kom ons ry.

Albei mans staar na haar.

Oom Abrie se hand bewe.

“Oom,” haar stem is sag, pleitend: “ek wil nie jou geld erf nie, ek wil jou hê.”

GRATIS KORTVERHAAL: Vriendskap dikker as bloed
👁 533 lesers

GRATIS KORTVERHAAL: Vriendskap dikker as bloed

GRATIS KORTVERHAAL: Vriendskap dikker as bloed

Vriendskap dikker as bloed


Rapport? Kan jy ooit ordentlike Afrikaans skryf?” Die ou man – in ʼn kakie langbroek en ʼn wit frokkie, bruin gevlek om die nek – loer vir Roshin February oor sy bril. Byt aan ʼn velletjie op sy onderlip. ʼn Straaltjie bloed loop teen sy neus af tot by sy bo-lip. Hy pluk ʼn bloederige sakdoek uit en druk dit teen sy neus.

Die voordeur se veiligheidshek laat dit lyk of sy deur tralies met ʼn gevaarlike misdadiger in die dodeselle praat. Ten spyte van die koelte wat agter hom vanuit sy huis kom, blink sy bles. Sweet blink op sy voorkop.

“Kaaps is ook Afrikaans, Meneer.”

“Gots.” Die kierie kreun onder sy gewig. “Als moet ook deesdae polities korrek wees, nes destyds. Kan niemand net homself wees nie?”

Die subredakteur het gewaarsku, maar sy wou – nee, móés – ʼn storie oor Ivor Phosa se moordenaar doen. Ivor: skoolhoof, digter en apartheidsaktivis.

Het die ander varke wat by sy dood betrokke was, in pyn gesterf?

“Ma, ek skryf vir jou ʼn gedig | sonder fênsie leestekens | sonder woorde wat rym | sonder bywoorde | net sommer | ʼn kaalvoet gedig ... Net so, Meneer, moet ons kaalvoet praat, nie net oor God, politiek en seksualiteit nie, maar ook oor Afrikaans, ongeag in watter variant ons getiet is.”

Die sleutels bewe in sy hande. Die slot knars.

“Kom.” Hy staan opsy. “Dis koffie; ek drink nie tee nie.”

Hulle loop gangaf – hy voor en sy agterna – verby die sitkamer, kombuis toe.

Sy kyk doelbewus nie na die geraamde foto’s in die gang nie, want dan verander hierdie monster in ʼn mens. ʼn Man, pa en kind.

Die huis ruik na muf en hondepie.

Op elke tafeltjie, kas of rak lê ʼn Bybel of digbundel. Nathan Trantraal se Oolog lê oopgespalk op die kombuistafel. ʼn Potlood loer onder die boek uit, asook stukkies papier. Watter gedeeltes sou hy merk?

Die eettafel is in die hoek ingedruk. Groot genoeg vir ʼn klein gesin. Stapels Afrikaanse koerante troon teen die muur. Ook op die tafel: houtlym, ʼn tandestokkie wat in ʼn Coke-proppie droog geword het en ʼn swart plakboek, A3-grootte.

Twee stoele is diep onder die tafel ingedruk. Oor die een stoelreling hang ʼn inkopiesak waaruit groenteskille en papiere blom.

Nadat hy water in die ketel getap het, sit hy dit op die gasstoof, steek laasgenoemde aan. Haal twee bekers uit ʼn kas langs die yskas.

“Ek drink nie melk nie,” skree hy oor sy skouer, “en diabete drink nie suiker nie. So ek het nie.”

Haar notaboek lê op ʼn skoon bladsy oop. Daarnaas ʼn selfoon en bandopnemer. Al twee aan.

Sy spits haar ore. Klassieke musiek? Hoekom het sy gedink hy gaan na “Die Stem” óf boeremusiek luister?

“Wat was sy laaste woorde?” vra sy toe hy gaan sit, een boud op die tafel. Die wind wat by die kombuisvenster inkom, roer die gordyne, dra sy naskeermiddel tot by haar neus. Old Spice, nes Pa. Kon hy nie iets afskuweliks gebruik het sodat sy hom nog meer kan haat nie?

Hy staar van bo af na haar. Sy hande omskulp die beker. Stoom wasem sy bril toe.

“Die lewe is net ʼn asem lank, maar selde kyk mense mekaar skaamteloos in die oë.”

“Skaam jy jou nie oor wat jy – julle – gedoen het nie?”

Hy haal ʼn sakdoek uit sy sak, vryf sy lense skoon, staar na die plafon, na die web in een hoek.

Sy lippe vorm ʼn reguit lyn. Hy skud sy kop. “Hulle is in ʼn hof skuldig bevind en ter dood veroordeel – ek was net die laksman wat die vonnis volstrek het.”

Sy kyk op haar selfoon, skryf die opnametyd neer, maak ʼn aantekening. Miertjie-skrif.

“Ive was anders.” Sy stem is sag. Teer. “Hy’t saans vir die ander bandiete leer lees, sommer so deur die tralies.”

“Is dit waar jou liefde vir dig ontstaan het?”

Hy knik. “En politiek. Hy was intelligent. Sjarmant. Maar ʼn kommunis. Ons het baie oor God gepraat terwyl ons skaak gespeel het.” Sy hande praat saam. “Die skaakbord was in sy sel; hy’t al die skuiwe gemaak.” Stilte. Dan: “Hy’t altyd gewen.” Te hard.

“Hoe lank het jy hom opgepas voordat jy hom gehang het?”

“Ek het ’89 die diens verlaat.”

Sy kyk op. “Is dit nie ook die jaar waarin jou debuutroman verskyn het nie? Ek het dit gelees ...” Sy slurp aan haar koffie. “Ek kan nie glo dat iemand wat ANC-helde gehang het, so diep kon skryf nie. Asof jy een van ons is.” Sy kyk hom waterpas in die oë.

“Het Ivor boeke in die tronk geskryf voordat hy gehang het? Julle aanslag was anders, maar julle skryfstyle eenders – het jy sy werke gesteel?”

Hy loer oor sy beker, sê niks. Volgens die resensies wat sy op LitNet en Die Tydskrif vir Letterkunde gelees het, het letterkundiges gereeld die aanname gemaak.

“Jy’t daarna bedank – hoekom?” Sy blaai in haar notaboekie. “Sam Kane, wat destyds sewe meisies verkrag en doodgemartel het, is dieselfde dag ontslaan. Weet jy wat van hom geword het? Hy’t spoorloos verdwyn. Na bewering moes jy hom Nelspruit toe neem.” Sy voeg by, voordat hy vra. “Dalk het hy meer inligting oor Ivor se laaste paar dae; ek hoor hulle enkelselle was langs mekaar.”

“Ses boeke en ek het nog nooit ʼn onderhoud toegestaan nie, geen boekbekendstelling bygewoon nie – hoekom dink jy het ek vir hierdie onderhoud gevra?” Hy sit die beker op die tafel neer, mors koffie, doen egter geen moeite om die kol droog te vee nie; trek eerder ʼn stuk papier onder die koerant uit. Dit is dubbel gevou.

Sy neem dit uit sy hande, versigtig dat hulle vingerpunte nie raak nie.

Dankie dat jy my las gedra het. Mag die waarheid jou nou vryspreek.

Die handskrif stem ooreen met dié wat sy op Phosa se tronkbriewe gesien het.

Sy kyk vraend op. Hoekom is gister se datum daarop?

“Ek’t nooit die boeke geskryf nie – ons het dit net onder my naam uitgegee. Ive het gevoel meer wittes gaan dit lees as dit onder ʼn wit naam verskyn. Hulle was uiteraard sy gehoor. Wie hy wou uitdaag en tot inkeer bring.”

“Maar ... hy’t gehang.” Haar pen wys soos ʼn geweerloop na hom. “Jý het hom gehang.”

“Ek was nog nat agter die ore, skaars uit matriek, toe die Veiligheidspolisie my gewerf het om hom te bevriend en daarna op hom te spioeneer. Dit was lank voordat hy tronk toe is.”

Sy eerste roman, Die verkeerde spioen.

“Ek’t reeds voor ek met hom te doen gekry het van hom gehoor: digter, kommunis en terroris ... Terwyl hy aangehou is, het ek sy briewe in- en uitgesmokkel.” Sy hande beduie. “My hanteerder in die Veiligheidspolisie het natuurlik eers alles fotostateer, maar Ive het dit geweet. Sommige briewe het niemand egter ooit gesien nie.” Hy staar weer na die plafon, die web. “Die Veiligheidspolisie was onbewus daarvan dat ons boesemvriende geword het. Ek’t hom, Ive, alles vertel.” Hy kyk af. “Hy was nie kwaad nie. My eerder beveel om voort te gaan sodat hulle niks agterkom nie.”

Dit staan nie in die roman nie! Sy skryf die opnametyd neer, maak aantekeninge. Maak drie uitroeptekens langsaan. Maak seker beide die selfoon en bandopnemer neem op.

“Dae voordat hy kon ontsnap, is sy vonnis bekragtig.” Sy stem kraak. “Ons het baklei – hy was reg om te sterf en ek wou hê hy moes ontsnap. Of iets. Gots, hy was my vriend.”

Dieselfde emosie wat sy in sy opvolgroman, Vriendskap in die galg, aangevoel het.

Sy strek, raak sy been aan. “Oom?”

Hy kyk haar vierkantig in die oë. “Ek’t Sam Kane doodgemaak.”

ʼn Kewer loop op die mat. Hy vra verskoning voordat hy die diertjie optel en tussen die plante buite die oop kombuisdeur neersit.

“Ek’t hom in sy sel opgehang, die oggend vroeg, voor meester. Dit is nou wanneer ons die tronk oopsluit. Daarna het ek hom in Ive se sel gaan hang en die sel aan die brand gesteek.”

Is dit hoekom die owerhede niemand tydens die teregstelling toegelaat het nie? Want daar was nie een nie! Radio Bandiet, soos gevangenes na hulle geskinder verwys, het beweer dat Phosa enkele minute voordat hy moes hang selfmoord gepleeg het. Dit was natuurlik ook die derde roman, Selfdood in die galg, se tema. G’n  wonder die boek is verban nie.

Hy staar voor hom uit met dieselfde kyk in sy oë as ter dood veroordeelde gevangenes op pad na die galg. Hy het vrede gemaak dat hy gaan sterf. Vandag. Nou.

“My kind, ek dink ons moet op die bank gaan sit.”

Hondehare lê wit oor die bruin bekleedsel.

Waar is die hond?

“Ek’t hom netnou begrawe,” sê hy asof hy haar gedagtes kan lees.

Hoekom?

Sy frons: Twee leë bekers staan weerskante van ʼn skaakbord, wit is in skaakmat. Sy het eenkeer gelees dat Phosa nooit met wit gespeel het nie.

Sy gaan sit op die punt van die bank. Moedig hom aan. “Asseblief. Die wêreld móét weet.”

“Ive het Sam Kane geword, by my ingetrek.” Hy knik na agter. “Dit was die kamer waarin hy al ses manuskripte getik het. Hy was mal oor klassieke musiek, jy weet.” Stilte. “Na ’94 kon ons steeds nie praat nie, want ek sou lewenslank sit. Weet jy wat doen bandiete met bewaarders in die tronk?”

Hy haal swaar asem. Asof hy uitasem is. Wys na die koffietafel langs haar. ʼn Pak tikpapiere is met ʼn rooi lint verbind.

Sy skreef haar oë: Vriendskap dikker as bloed.

“Dit is my memoir, self geskryf. Ek hoop as jy dit lees sal jy verstaan hoekom ek ...” Hy gryp na sy hart. “Moenie die ambulans bel nie, laat ek sterf, en jirretjie tog, kind, begrawe ons langs mekaar. Ive het nooit vanoggend opgestaan nie, toe drink ek maar die rottegif.”

2
Die laaste ontsnaping
•

Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn, die antiheld van Sel 6, om hom dood te steek. Roux weier – hy is immers ‘n bendelid en dwelmsmous, nie ’n moordenaar nie. Hy besluit om eerder vir Lupin te help ontsnap. Maar, gevangenes kan tot twee jaar af kry as hulle ‘n ontsnapping rapporteer. Sal Lupin daarin slaag om te ontsnap, of sal Roux sy vriend doodsteek? Die spelers is André Odendaal, JJ Roberts, Phillru van Achterberg, Donoven Pietersen, Mortimer Williams en Cassius Davids. Eddie de Jager het die regie behartig.


LUISTER ASSEBLIEF OP RSG RADIOTEATER NA ANDER VERHALE!

More is anders
•


6

Stuur Boodskap

Kontak Stefaans Coetzee direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗