Kalupso – Odusseus bereik Scheria op 'n vlot.
Eos het van haar bed langs Titonos opgestaan om lig te bring vir sterflinge en onsterflikes gelyk. Toe het die gode in raad bymekaargekom, en saam met hulle Zeus, die heer van die donder, wat hulle koning is. Athene het begin vertel van al die swaarkry van Odusseus, want sy het hom jammer gekry, daar ver in die huis van die nimf Kalupso.
"Vader Zeus," het sy gesê, "en al julle ander gode wat in ewige geluk leef: ek hoop daar is nooit weer 'n vriendelike, goedgesinde heerser nie, of een wat regverdig regeer. Ek hoop hulle is van nou af almal wreed en onregverdig. Want daar is nie een van sy onderdane wat Odusseus nie vergeet het nie, en hy het oor hulle geheers asof hy hulle vader was. Daar lê hy nou in groot pyn op 'n eiland waar die nimf Kalupso woon, en sy wil hom nie laat gaan nie. Hy kan nie terugkom na sy eie land nie, want hy het nie skepe of matrose om hom oor die see te neem nie. Boonop probeer slegte mense nou sy enigste seun Telemachos vermoor. Hy is op pad huis toe van Pilos en Lakedaimon af, waar hy gaan hoor het of daar nuus van sy vader is."
"My kind, waarvan praat jy?" het haar vader geantwoord. "Het jy hom nie self soontoe gestuur nie, omdat jy gedink het dit sal Odusseus help om huis toe te kom en die vryers te straf? Buitendien kan jy Telemachos baie goed beskerm en sorg dat hy veilig by die huis kom, terwyl die vryers halsoorkop moet terugkom sonder dat hulle hom doodgemaak het."
Toe hy dit gesê het, het hy met sy seun Hermes gepraat: "Hermes, jy is ons boodskapper. Gaan sê vir Kalupso ons het besluit dat die arme Odusseus huis toe moet gaan. Geen god of mens sal hom begelei nie. Ná 'n gevaarlike tog van twintig dae op 'n vlot sal hy die vrugbare Scheria bereik, die land van die Faiake, wat na familie van die gode is. Hulle sal hom eer asof hy een van ons is. Hulle sal hom met 'n skip na sy eie land stuur, en hom meer brons en goud en klere gee as wat hy van Troje af sou teruggebring het as hy al sy buit gehad het en sonder ongeluk by die huis gekom het. Só het ons besluit: hy sal terugkeer na sy land en sy vriende."
So het hy gepraat, en Hermes, die gids en beskermer, die doder van Argos, het gedoen soos hy beveel is. Dadelik het hy sy blink goue sandale aangebind, waarmee hy soos die wind oor land en see kon vlieg. Hy het die staf gevat waarmee hy mense se oë in slaap toemaak of hulle wakker maak, net soos hy wil. Met die staf in die hand het hy oor Pieria gevlieg. Toe het hy deur die hemelruim afgeduik tot by die see, en oor die golwe gestryk soos 'n duiker wat elke hoek en draai van die oseaan vir vis deursoek en sy digte vere in die skuim natmaak. Hy het gevlieg en gevlieg oor baie moeë golwe. Toe hy uiteindelik by die eiland kom waarheen hy op pad was, het hy die see verlaat en oor land verder gegaan tot by die grot waar die nimf Kalupso gewoon het.
Hy het haar tuis gekry. 'n Groot vuur het op die vuurherd gebrand, en 'n mens kon van ver af die lekker reuk van brandende seder- en sandelhout ruik. Sy self was besig by haar weefstoel. Sy het haar goue spoel deur die skering geskiet en pragtig gesing. Rondom haar grot was 'n digte bos van els, populier en soetruikende sipresse, waarin allerhande groot voëls hulle neste gebou het: uile, valke en kwetterende seekraaie wat hulle kos in die water soek. 'n Wingerdstok swaar van druiwe het weelderig om die ingang van die grot gegroei. Daar was ook vier lopende strome water in vore wat nogal naby mekaar gegrawe was. Hulle het hierheen en daarheen gedraai om die beddings viooltjies en sappige plante nat te lei waaroor hulle gevloei het. Selfs 'n god kon nie anders as om betower te word deur so 'n pragtige plek nie. Hermes het dus stilgestaan en daarna gekyk, en toe hy dit genoeg bewonder het, het hy die grot binnegegaan.
Kalupso het hom dadelik herken, want die gode ken almal mekaar, maak nie saak hoe ver hulle van mekaar af woon nie. Maar Odusseus was nie binne nie. Hy was soos altyd op die strand, waar hy met trane in sy oë oor die kaal see uitgekyk het, gekreun het en sy hart van hartseer gebreek het. Kalupso het vir Hermes 'n sitplek gegee en gesê: "Hermes, geëerde en altyd welkome gas, hoekom het jy my kom besoek? Jy kom nie dikwels nie. Sê wat jy wil hê. Ek sal dit dadelik vir jou doen as ek kan, en as dit hoegenaamd gedoen kan word. Maar kom binne, dan sit ek vir jou iets te ete voor."
Terwyl sy praat, het sy 'n tafel vol ambrosia langs hom ingetrek en vir hom rooi nektar gemeng. Hermes het geëet en gedrink tot hy genoeg gehad het, en toe gesê:
"Ons praat as god en godin met mekaar, en jy vra my hoekom ek hier gekom het. Ek sal jou die waarheid vertel, soos jy wil hê. Zeus het my gestuur; dit was nie my eie plan nie. Wie sou nou al die pad oor die see wil kom, waar daar geen stede vol mense is wat vir my offers of uitgesoekte hekatombes bring nie? Tog moes ek kom, want nie een van ons ander gode kan Zeus teëgaan of sy bevele oortree nie. Hy sê jy het hier die mees ongelukkige van al die manne wat nege jaar lank voor die stad van koning Priamos geveg het, en in die tiende jaar, nadat hulle dit geplunder het, huis toe geseil het. Op pad huis toe het hulle teen Athene gesondig. Sy het wind en golwe teen hulle opgejaag, sodat al sy dapper makkers omgekom het, en net hy deur wind en stroom hierheen gedra is. Zeus sê jy moet hierdie man dadelik laat gaan. Want dit is bepaal dat hy nie hier sal omkom, ver van sy eie mense nie, maar na sy huis en land sal terugkeer en sy vriende weer sal sien."
Kalupso het gebewe van woede toe sy dit hoor. "Julle gode," het sy uitgeroep, "behoort julle te skaam! Julle is altyd jaloers en haat dit as 'n godin van 'n sterflike man hou en openlik as sy vrou by hom woon. Toe Eos met haar rooskleurige vingers op Orion verlief geraak het, was julle kosbare gode almal woedend, tot Artemis gegaan en hom op Ortugia doodgemaak het. En toe Demeter op Iasion verlief geraak en haar in 'n drie keer geploegde braakland aan hom oorgegee het, het Zeus dit gou-gou te hore gekom en Iasion met sy donderstrale doodgemaak. En nou is julle kwaad vir my ook, omdat ek 'n man hier het. Ek het die arme stakker heeltemal alleen gekry, waar hy skrylings op 'n kiel gesit het. Zeus het sy skip met weerlig getref en dit in die middel van die see laat sink, sodat sy hele bemanning verdrink het, en hy self deur wind en golwe op my eiland uitgedryf is. Ek het lief geword vir hom en hom vertroetel, en my hart daarop gesit om hom onsterflik te maak, sodat hy al sy dae nooit oud sou word nie. Tog kan ek Zeus nie teëgaan of sy planne verydel nie. As hy daarop aandring, laat die man dan maar weer oor die see gaan. Maar ek kan hom self nêrens heen stuur nie, want ek het nie skepe of manne wat hom kan neem nie. Ek sal hom wel graag in alle eerlikheid raad gee wat hom waarskynlik veilig in sy eie land sal bring."
"Stuur hom dan weg," het Hermes gesê, "anders sal Zeus kwaad word vir jou en jou straf."
Daarmee het hy gegroet, en Kalupso het Odusseus gaan soek, want sy het Zeus se boodskap gehoor. Sy het hom op die strand gekry. Sy oë was altyd vol trane, en hy was besig om dood te gaan van louter heimwee. Want hy was moeg vir Kalupso. Al moes hy snags by haar in die grot slaap, was dit sy wat dit so wou hê, nie hy nie. Bedags het hy op die rotse en die strand gesit en huil, hardop gekerm van wanhoop en altyd oor die see uitgekyk. Kalupso het nou reg langs hom gaan staan en gesê:
"My arme man, jy sal nie langer hier bly treur en jou lewe uitkwel nie. Ek gaan jou uit my eie vrye wil wegstuur. Gaan kap dus balke hout en bou vir jou 'n groot vlot met 'n bodek, sodat dit jou veilig oor die see kan dra. Ek sal brood, wyn en water aan boord sit sodat jy nie van honger omkom nie. Ek sal jou ook klere gee en 'n gunstige wind stuur om jou huis toe te neem, as die gode in die hemel dit so wil – want hulle weet meer van sulke dinge en kan dit beter reël as ek."
Odusseus het gegril toe hy haar hoor. "Godin," het hy geantwoord, "daar sit iets agter dit alles. Jy kan nie regtig bedoel om my huis toe te help as jy my so iets verskrikliks laat doen soos om op 'n vlot die see aan te durf nie. Selfs 'n goed toegeruste skip met 'n gunstige wind sou dit nie waag om so 'n verre tog te onderneem nie. Niks wat jy kan sê of doen, sal my op 'n vlot laat klim nie, tensy jy eers plegtig sweer dat jy my geen kwaad bedoel nie."
Kalupso het daaroor geglimlag en hom met haar hand gestreel. "Jy weet baie," het sy gesê, "maar hier is jy heeltemal verkeerd. Mag die hemel bo en die aarde onder my getuies wees, en die water van die rivier Styx – en dit is die plegtigste eed wat 'n salige god kan aflê – dat ek jou geen kwaad hoegenaamd bedoel nie. Ek raai jou net om presies te doen wat ek self in jou plek sou doen. Ek is heeltemal eerlik met jou. My hart is nie van yster gemaak nie, en ek kry jou baie jammer."
Toe sy dit gesê het, het sy vinnig voor hom uit geloop, en Odusseus het haar gevolg. So het die twee, godin en man, aangeloop tot hulle by Kalupso se grot kom. Daar het Odusseus gaan sit op die stoel waarop Hermes netnou gesit het. Kalupso het vleis en drank voor hom neergesit, die kos wat sterflinge eet. Maar haar diensmeisies het vir haar ambrosia en nektar gebring, en hulle het hulle hande na die lekker dinge voor hulle uitgesteek. Toe hulle genoeg geëet en gedrink het, het Kalupso gepraat en gesê:
"Odusseus, edele seun van Laërtes, wil jy dan dadelik huis toe vertrek, na jou eie land? Mag die geluk met jou gaan. Maar as jy net kon weet hoeveel swaarkry vir jou wag voordat jy in jou eie land terugkom, sou jy bly waar jy is, saam met my huis hou en my jou onsterflik laat maak – al verlang jy hoe sterk na hierdie vrou van jou, aan wie jy die hele tyd dink, dag ná dag. Tog vlei ek myself dat ek geensins kleiner of minder mooi as sy is nie. 'n Mens kan tog nie verwag dat 'n sterflike vrou in skoonheid met 'n onsterflike vergelyk nie."
"Godin," het Odusseus geantwoord, "moenie vir my kwaad wees hieroor nie. Ek weet baie goed dat my vrou Penelope glad nie so lank of so mooi soos jy is nie. Sy is net 'n vrou, terwyl jy onsterflik is. Tog wil ek huis toe gaan, en ek kan aan niks anders dink nie. As een of ander god my op die see laat skipbreuk ly, sal ek dit verdra en die beste daarvan maak. Ek het al eindelose moeilikheid op land en see gehad, so laat dit maar by die res kom."
Kort daarna het die son gesak en dit het donker geword. Die twee het na die binneste deel van die grot gegaan en gaan slaap.
Toe Eos met haar rooskleurige vingers, die kind van die môre, verskyn, het Odusseus sy hemp en mantel aangetrek. Die godin het 'n rok van lig, ragfyn materiaal gedra, baie fyn en sierlik, met 'n pragtige goue gordel om haar middel en 'n sluier oor haar kop. Sy het dadelik begin dink hoe sy Odusseus op sy pad kon help. Sy het vir hom 'n groot bronsbyl gegee wat goed in sy hande gepas het. Dit was aan albei kante skerp gemaak, en het 'n pragtige steel van olyfhout gehad wat stewig daaraan vasgesit is. Sy het hom ook 'n skerp dissel gegee. Toe het sy hom gelei na die verste punt van die eiland, waar die grootste bome gegroei het: els, populier en den, wat tot in die hemel gereik het. Hulle was baie droog en goed deurgedroog, sodat hulle lig vir hom in die water sou dryf. Toe sy hom gewys het waar die beste bome groei, het Kalupso huis toe gegaan en hom gelos om hulle af te kap, en hy was gou klaar daarmee.
Hy het altesaam twintig bome afgekap en hulle met die dissel glad gemaak, en hulle netjies met die meetsnoer reguit en vierkantig gekap, soos 'n goeie vakman. Intussen het Kalupso met 'n paar bore teruggekom. Hy het daarmee gate geboor en die balke met penne en klinknaels aan mekaar vasgemaak. Hy het die vlot so breed gemaak as wat 'n bekwame skeepsbouer 'n groot skip breed maak. Bo-op die ribbes het hy 'n dek vasgesit, en rondom het hy 'n reling gemaak. Hy het ook 'n mas met 'n ra gemaak, en 'n roer om mee te stuur. Hy het die vlot rondom met gevlegte latte omhein as beskerming teen die golwe, en toe 'n klomp hout daarop gegooi. Mettertyd het Kalupso vir hom linne gebring om die seile te maak, en hy het dit ook uitstekend gemaak en met brasse en skote vasgemaak. Heel laaste het hy die vlot met hefbome in die water afgetrek.
Binne vier dae was die hele werk klaar, en op die vyfde dag het Kalupso hom van die eiland af weggestuur, nadat sy hom gewas en skoon klere gegee het. Sy het vir hom 'n bokvelsak vol donker wyn gegee, en nog 'n groter een vol water. Sy het hom ook 'n sak vol padkos gegee en baie goeie vleis. Boonop het sy die wind gunstig en warm vir hom gemaak. Odusseus het sy seil met blydskap voor die wind gespan, terwyl hy gesit en die vlot vaardig met die roer gestuur het. Hy het nooit sy oë toegemaak nie, maar dit vasgehou op die Plejades, op Boötes wat laat ondergaan, en op die Beer – wat mense ook die Wa noem, en wat op sy plek in die rondte draai, teenoor Orion, en as enigste nooit in die stroom van Okeanos onderduik nie. Want Kalupso het vir hom gesê om dit aan sy linkerhand te hou. Sewentien dae lank het hy oor die see geseil, en op die agttiende het die dowwe buitelyne van die berge op die naaste deel van die Faiake se kus verskyn. Dit het soos 'n skild op die horison gelê.
Maar koning Poseidon, wat van die Etiopiërs af op pad terug was, het Odusseus van ver af gesien, van die berge van die Solumi af. Hy kon hom op die see sien seil, en dit het hom baie kwaad gemaak. Hy het sy kop geskud en by homself gemompel: "Goeie genade, so het die gode van plan verander oor Odusseus terwyl ek weg was in Etiopië! En nou is hy naby die land van die Faiake, waar dit bepaal is dat hy van die rampe wat hom getref het, sal ontsnap. Tog sal hy nog genoeg swaarkry voordat hy daarmee klaar is."
Daarop het hy sy wolke bymekaargemaak, sy drietand gegryp en daarmee die see omgeroer. Hy het die woede van elke wind wat waai opgewek, tot aarde, see en lug in wolke versteek was en die nag uit die hemel gespring het. Winde uit die ooste, suide, noorde en weste het almal tegelyk op hom afgestorm, en 'n geweldige see het opgekom, sodat Odusseus se hart hom begin begewe het. "Ag," het hy ontsteld by homself gesê, "wat gaan van my word? Ek is bang Kalupso was reg toe sy gesê het ek sal op see swaarkry voordat ek by die huis kom. Dit word alles waar. Hoe swart maak Zeus die hemel met sy wolke, en watter see jaag die winde uit alle rigtings tegelyk op! Nou gaan ek beslis omkom. Gelukkig, drie keer gelukkig, was daardie Danaërs wat voor Troje gesneuwel het vir die saak van die seuns van Atreus. As ek tog maar gesneuwel het op die dag toe die Trojane my so hard gedruk het rondom die lyk van Achilles! Dan sou ek 'n behoorlike begrafnis gekry het en die Agaiërs sou my naam geëer het. Maar nou lyk dit of ek 'n baie jammerlike einde gaan kry."
Terwyl hy praat, het 'n golf so verskriklik woes oor hom gebreek dat die vlot hewig gesteier het, en hy ver oorboord gespoel is. Hy het die roer gelos, en die orkaan was so kragtig dat dit die mas halfpad af gebreek het, en seil en ra albei in die see geval het. Odusseus was lank onder water, en hy kon skaars weer bo kom, want die klere wat Kalupso hom gegee het, het hom afgetrek. Maar uiteindelik het hy sy kop bo die water gekry en die bitter soutwater uitgespoeg wat in strome oor sy gesig geloop het. Ten spyte van dit alles het hy sy vlot nie uit die oog verloor nie. Hy het so vinnig as wat hy kon daarna geswem, dit vasgegryp en weer opgeklim om nie te verdrink nie. Die see het die vlot gevat en dit rondgeslinger soos herfswinde distelpluis op 'n pad in die rondte warrel. Dit was asof die suide-, noorde-, ooste- en westewind almal tegelyk pluimbal daarmee speel.
Toe hy in hierdie nood was, het Ino, die dogter van Kadmos, wat ook Leukotea genoem word, hom gesien. Sy was vroeër 'n gewone sterfling, maar is later tot 'n seegodin verhef. Toe sy sien in watter groot nood Odusseus nou was, het sy hom jammer gekry. Soos 'n seemeeu het sy uit die golwe opgestyg en op die vlot kom sit.
"My arme goeie man," het sy gesê, "hoekom is Poseidon so woedend kwaad vir jou? Hy gee jou baie swaarkry, maar met al sy geraas sal hy jou nie doodmaak nie. Jy lyk na 'n verstandige mens; doen dan wat ek sê. Trek jou klere uit, laat jou vlot voor die wind dryf, en swem na die Faiake se kus, waar beter geluk op jou wag. En hier, vat my sluier en sit dit om jou bors. Dit is betower, en niks kan jou oorkom solank jy dit dra nie. Sodra jy land raak, haal dit af, gooi dit so ver as wat jy kan terug in die see, en gaan dan weg." Met dié woorde het sy haar sluier afgehaal en vir hom gegee. Toe het sy weer soos 'n seemeeu afgeduik en onder die donkerblou water verdwyn.
Maar Odusseus het nie geweet wat om te dink nie. "Ag," het hy ontsteld by homself gesê, "dis seker net een of ander god wat my na my ondergang lok deur my aan te raai om my vlot te verlaat. Ek gaan dit in elk geval nie nou al doen nie, want die land waar sy gesê het ek van al my moeilikheid ontslae sal raak, het nog ver gelyk. Ek weet wat ek sal doen – ek is seker dit is die beste. Wat ook al gebeur, ek sal by die vlot bly solank sy balke bymekaarhou. Maar wanneer die see dit opbreek, sal ek swem. Ek sien nie hoe ek dit beter kan doen nie."
Terwyl hy so in twee gedagtes was, het Poseidon 'n verskriklike groot golf gestuur wat hoog bo sy kop uitgetoring het, tot dit reg oor die vlot gebreek het. Die vlot het in stukke gespat, soos 'n hoop droë kaf wat deur 'n warrelwind rondgewaai word. Odusseus het skrylings op een plank gaan sit en daarop gery asof hy op 'n perd was. Toe het hy die klere wat Kalupso hom gegee het, uitgetrek, Ino se sluier onder sy arms vasgebind en in die see gespring om land toe te swem. Koning Poseidon het hom dopgehou terwyl hy dit doen. Hy het sy kop geskud, by homself gemompel en gesê: "Daar het jy dit nou. Swem maar rond so goed as wat jy kan, tot jy by welgestelde mense uitkom. Ek dink nie jy sal kan sê ek het jou te lig laat afkom nie." Daarop het hy sy perde met die sweep geslaan en na Aigai gery, waar sy paleis is.
Maar Athene het besluit om Odusseus te help. Sy het die paaie van al die winde behalwe een toegebind en hulle doodstil laat lê. Maar sy het 'n goeie stywe briesie uit die noorde opgewek om die water plat te maak, tot Odusseus die land van die Faiake bereik, waar hy veilig sou wees.
So het hy twee nagte en twee dae in die water rondgedryf, met 'n swaar deining op die see en die dood wat hom in die gesig staar. Maar toe die derde dag breek, het die wind gaan lê en dit was doodstil, sonder dat daar soveel as 'n luggie roer. Toe hy op die deining opgelig word, het hy gretig voor hom uitgekyk en kon hy land baie naby sien. Soos kinders bly is wanneer hulle liewe vader begin beter word nadat hy lank aan 'n swaar siekte gely het wat 'n kwaai gees oor hom gebring het, en die gode hom van die onheil verlos – net so dankbaar was Odusseus toe hy weer land en bome sien. Hy het met al sy krag verder geswem om weer voet op droë grond te sit. Maar toe hy binne hoorafstand kom, het hy die branders teen die rotse hoor dreun, want die deining het nog met 'n verskriklike geraas daarteen gebreek. Alles was in skuim gehul. Daar was geen hawe waar 'n skip kon anker nie, en ook geen skuiling nie, net koppe, lae rotse en bergpieke.
Odusseus se hart het hom nou begin begewe, en hy het wanhopig by homself gesê: "Ag, Zeus het my land laat sien nadat ek so ver geswem het dat ek alle hoop opgegee het. Maar ek kan nêrens aan land kom nie, want die kus is rotsagtig en die branders slaan daarteen. Die rotse is glad en staan loodreg uit die see op, met diep water reg onder hulle, sodat ek nie kan uitklim nie, want ek kry nêrens vastrapplek nie. Ek is bang 'n groot golf sal my van my voete af lig en teen die rotse vasslaan terwyl ek uit die water klim – dit sou 'n treurige landing wees. As ek aan die ander kant verder swem om 'n skuins strand of 'n hawe te soek, kan 'n orkaan my teen my wil weer see in dra, of die hemel kan een of ander groot monster uit die diepte stuur om my aan te val. Want Amfitrite teel baie sulkes, en ek weet Poseidon is baie kwaad vir my."
Terwyl hy so in twee gedagtes was, het 'n golf hom gegryp en hom met soveel krag teen die rotse gedra dat hy fyngedruk en verskeur sou gewees het as Athene hom nie gewys het wat om te doen nie. Hy het die rots met albei hande vasgegryp en kreunend van pyn daaraan vasgeklou tot die golf terugtrek. So is hy dié keer gered. Maar kort daarna het die golf weer gekom en hom ver see in teruggesleur. Dit het sy hande verskeur soos die suiers van 'n seekat afgeskeur word as iemand hom van sy lêplek af wegpluk en die klippies saam met hom opkom. Net so het die rotse die vel van sy sterk hande afgeskeur, en toe het die golf hom diep onder die water ingetrek.
Hier sou die arme Odusseus beslis omgekom het, selfs teen sy eie lot in, as Athene hom nie gehelp het om sy kop koel te hou nie. Hy het weer see in geswem, buite bereik van die branders wat teen die land geslaan het, en terselfdertyd het hy aanhou kyk na die strand om te sien of hy 'n hawe kon vind, of 'n landtong wat die golwe skuins sou opvang. Mettertyd, terwyl hy verder swem, het hy by die monding van 'n rivier gekom. Hier, het hy gedink, sou die beste plek wees, want daar was geen rotse nie en dit het skuiling teen die wind gebied. Hy het gevoel daar is 'n stroming, en hy het in sy hart gebid en gesê:
"Hoor my, o koning, wie jy ook al is, en red my van die toorn van die seegod Poseidon, want ek kom biddend na jou toe. Iemand wat verdwaal het, het altyd 'n aanspraak, selfs op die gode. Daarom kom ek in my nood na jou stroom, en klou ek aan jou knieë, o riviergod. Wees my genadig, o koning, want ek verklaar dat ek jou smekeling is."
Toe het die god sy stroom gestuit en die golwe stilgemaak. Hy het alles voor hom kalm gemaak en hom veilig in die monding van die rivier ingebring. Hier het Odusseus se knieë en sterk hande hom uiteindelik in die steek gelaat, want die see het hom heeltemal gebreek. Sy hele lyf was opgeswel, en die seewater het soos 'n rivier uit sy mond en neus geloop, sodat hy nie kon asemhaal of praat nie. Hy het flou gelê van louter uitputting. Kort daarna, toe hy sy asem teruggekry en weer bygekom het, het hy die sluier wat Ino hom gegee het, afgehaal en terug in die soutstroom van die rivier gegooi. Ino het dit uit die golf wat dit na haar toe gedra het, in haar hande ontvang. Toe het hy die rivier verlaat, tussen die riete gaan lê en die vrygewige aarde gesoen.
"Ag," het hy ontsteld by homself uitgeroep, "wat gaan van my word, en hoe gaan dit alles eindig? As ek hier in die rivierbedding bly deur die lang ure van die nag, is ek so uitgeput dat die bitter koue en vog my dalk klaarmaak – want teen sonop sal daar 'n skerp wind van die rivier af waai. As ek aan die ander kant teen die heuwel uitklim, skuiling in die bos soek en in een of ander ruigte slaap, kan ek dalk van die koue ontsnap en 'n goeie nagrus kry. Maar een of ander wilde dier kan my dan oorval en verslind."
Op die ou end het hy besluit dit is die beste om bos toe te gaan, en hy het een gevind op 'n hoë stuk grond nie ver van die water nie. Daar het hy onder twee olyfstruike ingekruip wat uit een stam gegroei het – die een 'n wilde loot, die ander een geënt. Geen wind, hoe kwaai ook al, kon deur hulle skuiling breek nie. Die son se strale kon nie daardeur dring nie, en die reën kon nie deurkom nie, so dig het hulle in mekaar gegroei. Odusseus het hieronder ingekruip en vir hom 'n bed begin maak om op te lê, want daar het 'n groot hoop dooie blare rondgelê – genoeg om twee of drie mans selfs in harde winterweer toe te maak. Hy was baie bly om dit te sien. Hy het gaan lê en die blare rondom hom opgehoop. Soos iemand wat alleen op die platteland woon, ver van enige buurman, 'n kool as vuursaad in die as wegsteek sodat hy nie elders vuur hoef te gaan haal nie, net so het Odusseus homself met blare toegemaak. En Athene het 'n soet slaap oor sy oë gegooi, sy ooglede toegemaak en hom al die herinneringe aan sy smart laat vergeet.
Titonos was 'n sterflike prins van Troje met wie Eos, die godin van die dagbreek, getroud was; die gode het hom onsterflik gemaak, maar nie ewig jonk nie.
Hermes word "doder van Argos" genoem omdat hy Argos, 'n reus met honderd oë wat Hera as wag aangestel het, doodgemaak het. Dit is nie Odusseus se hond met dieselfde naam nie.
Die Styx is 'n rivier in die onderwêreld. 'n Eed by die Styx was vir die gode die heiligste eed, wat hulle nooit kon breek nie.
Demeter is die godin van die graan en die oes; Orion was 'n groot jagter wat later 'n sterrebeeld geword het.
Ino was 'n prinses van Tebe wat in die see gespring het en toe 'n seegodin geword het onder die naam Leukotea, "die wit godin". Amfitrite is Poseidon se vrou, die koningin van die see.
Die Plejades (Sewe Susters), Boötes en die Beer (Groot Beer) is sterrebeelde waarvolgens seevaarders in die nag hulle koers bepaal het.