STEMHOKKIE 7 VERKLAAR ONAFHANKLIKHEID NÁ IEK SE "NEE" OP NEE Alle artikels
Oranje-B: Nul vlugtelinge. Ons grense hou.
Amerika Grense Immigrasie

Oranje-B: Nul vlugtelinge. Ons grense hou.

Stefan Mulder, Woordvoerder vir Grense

Terwyl ons bure in Orania honderde inwoners verloor (ek gebruik die hoër skatting, aangesien Oranje-B nie in kleingeestigheid glo nie), kan ek met trots aankondig dat Oranje-B se emigrasiesyfer vir die derde agtereenvolgende kwartaal op presies nul staan.

Dit is geen toeval nie. Dit is beleid.

Laasmaand het een van ons burgers, wie se naam ons om veiligheidsredes weerhou, wel by die Amerikaanse ambassade om vlugtelingstatus aansoek gedoen. Die amptenaar het gevra watter land hy ontvlug. Hy het geantwoord: “Oranje-B.” Die amptenaar het geantwoord dat Oranje-B nie ‘n erkende land is nie en dat die aansoek dus nie verwerk kan word nie.

Die FW+ beskou dit as ‘n ernstige diplomatieke belediging. Ons het dadelik invoertariewe van 400% op alle Amerikaanse produkte afgekondig, insluitend dié wat ons nog nie invoer nie.

Ons erken egter ook die geleentheid. Oraniërs wat van Orania wil vlug, hoef nie so ver te gaan nie. Oranje-B se immigrasiebeleid bly onveranderd: enigiemand is welkom wat bereid is om te erken dat hy vervolg word, en wat bereid is om dit hier te doen. Oranje-B is tegnies die grootste ontvanger van Orania-vlugtelinge per vierkante meter, sodra die eerste een opdaag.

Ek wil my afsluit met die woorde van ons Straatpresident, Coenie Müller: “‘n Volk wat vlug, is ‘n volk wat nie weet waarheen nie. Ons weet presies waarheen. Ons is al daar.”

Vorige STEMHOKKIE 7 VERKLAAR ONAFHANKLIKHEID NÁ IEK SE "NEE" OP NEE