Artikels 8
Is godsdiens immoreel?
Is godsdiens immoreel?
Wat as die godsdienste wat ons vandag ken, in wesenlike mate deur mense gemaak is? Wat beteken dit dan vir waarheid, moraliteit, vrees, mag — en selfs die goeie dinge wat ons met godsdiens assosieer? Wian Anders vra ongemaklike vrae oor ’n onderwerp waaroor mense gewoonlik eerder standpunte inneem as vrae vra. Hy probeer nie die maklike “ja” of “nee” gee nie. Hy vra eerder: **As God se stem deur mense geskryf, vertolk en gebruik word, wat gebeur met moraliteit?** ’n Stuk om te lees, oor te dink — en dalk mee te verskil.
Wian Anders 13 Oct 2026 1,681

Is godsdiens immoreel?

Wat as die godsdienste wat ons vandag ken, in wesenlike mate deur mense gemaak is? Wat beteken dit dan vir waarheid, moraliteit, vrees, mag — en selfs die goeie dinge wat ons met godsdiens assosieer? Wian Anders vra ongemaklike vrae oor ’n onderwerp waaroor mense gewoonlik eerder standpunte inneem as vrae vra. Hy probeer nie die maklike “ja” of “nee” gee nie. Hy vra eerder: **As God se stem deur mense geskryf, vertolk en gebruik word, wat gebeur met moraliteit?** ’n Stuk om te lees, oor te dink — en dalk mee te verskil.

Is godsdiens immoreel?

Ons weet reeds die Bybel is onmoontlik 100% God se woord. Daarvoor is daar te veel foute en teenstrydighede in vir dit om waar te wees. Byvoorbeeld, net in die begin, in Genesis 1 en 2, is daar twee verskillende skeppingsverhale wat nie albei kan waar wees nie. Om te beweer dat dit die woord van God is, is alreeds 'n leuen — en 'n leuen is volgens die Bybel se eie Tien Gebooie alreeds 'n bousteen van immoraliteit.

Maar beteken die wankelrige begin dat godsdiens immoreel is?

Ek wil nie hierdie vraag beantwoord met "ja" of "nee" nie. Albei is te maklik.

Wat ek wel wil doen, is een spesifieke vraag stel:

As die heersende godsdienste van ons tyd — Christendom, Islam, Judaïsme — in wesenlike mate deur mense gemaak is, dan wat volg daaruit?

Nie of God bestaan nie. Dis 'n ander vraag, en ek dink eerlik niemand op aarde weet wat God is nie. Enigeen wat sê "God is definitief dít" — of dit nou 'n teoloog, 'n priester of 'n ateïs is — beweer om iets te weet wat geen mens kan weet nie.

Die vraag wat ek wil vra, is meer eenvoudig:

Wat is die morele gevolge as hierdie stelsels mensgemaak is?

1. Die god wat net mense sien

Kom ons begin met iets wat nie 'n teologiese stelling is nie, maar 'n waarneming.

Kyk na die god van die heersende godsdienste. Hy is die skepper van die heelal. Hy het biljoene sterre gemaak, swart gate, kwantumdeeltjies, die menslike brein, die migrasie van walvisse, die stof waaruit die aarde bestaan.

En tog is Hy verbasend bekommerd oor die mens se doen en late.

Nie net bekommerd nie. Hy is uitsluitlik bekommerd. Die hele drama van sonde, verlossing, hemel en hel draai om een spesie op een planeet in 'n hoekie van 'n onbeduidende sterrestelsel.

Die natuur is dekor. Diere is bysaak. Die res van die heelal is stilte.

Is dit vreemd?

Die mens mag diere slag en tekere gaan. Die mens mag die aarde besoedel en bevuil, en die res van God se skepping minag. Maar dis eers wanneer die mens met sy eie geslag begin gemeenskap het, wat God ingryp en sê:

"Maar nou het jy te ver gegaan."

Is dit nie tog vreemd hoe kleinlik en mensgefokus die god van die hele heelal is nie?

Maar daardie "vreemdheid" verdwyn as jy liewer iets anders begin dink:

Die "God" wat net in mense se belang stel, is dalk deur die mense self gemaak.

'n God wat sy eie beeld aan die mens leen, maar die mens se belange bo die res van die skepping plaas, is 'n god met 'n menslike ego. So 'n god is nie die skepper van alles nie. Hy is 'n verlenging van onsself.

En as hy 'n verlenging van onsself is, dan het hy nie die heelal gemaak nie.

Iemand het hom gemaak.

'n God met twee oë, 'n neus en 'n mond en 'n lang baard en 'n stem wat mense verstaan, is die mens wat sy eie beeld as God projekteer.

2. Die ses immorele gevolge

As hierdie stelsels in wesenlike mate mensgemaak is, is daar ses gevolge wat moreel onaanvaarbaar is.

Een: dit is gebou op leuens.

Nie alles in die Bybel is leuens nie. Nie Koran lieg oor alles nie. Maar hulle dra binne hulle mure tekste wat as absolute waarheid verkoop word, terwyl hulle deur mense geskryf, geredigeer, gekeur en hervorm is oor eeue — dikwels om politieke redes wat ons volgende keer sal uitwys*.

Om iets wat deur mense gemaak is as die stem van God te verkoop, is om 'n leuen te vertel. Nie 'n klein leuen nie. 'n Fundamentele een.

Twee: dit buit vrees uit.

Die hel. Die oordeel. Die ewige straf. Die vyand aan die buitekant.

Kom ons wees eerlik oor die teologie hier. Die meeste mense volg nie die goeie dade ter wille van die goeie nie. Hulle volg dit omdat hulle bang is vir die gevolg as hulle dit nie doen nie. Dis nie moraliteit nie. Dis strategie.

En daar is nog 'n vrees: die vrees om te twyfel. As jy bevraagteken, verloor jy jou plek in die gemeenskap, by God, en soms by jou familie. 'n Stelsel wat die vraag self verbied, verdien nie ons vertroue nie.

Drie: dit steel die mens se realiteit.

Wat gebeur as slawerny afgeskaf is, apartheid verwerp is, vroue as mense erken word, marteling verbied word?

Die antwoord word dikwels gegee asof dit uit God kom.

Maar dis nie God wat dit gedoen het nie. Dis mense. Mense wat oor geslagte geworstel het. Mense wat geluister het na hul gewetens. Mense wat opgestaan het teen hul eie skrifture.

En tog word die eer dikwels opgeneem deur die instelling wat die langste teen hierdie dinge geveg het.

Dis nie net oneerlik nie. Dis roof.

Vier: dit steel die mens se tyd en geld.

Hierdie een is konkreet. Hoeveel pastorieë sit in weelde terwyl hul volgelinge krippeer, maar elke Sondag ietsie in die kerk se kollekte gooi, want "God"?

En die tyd. Hoeveel ure, jare, lewens word bestee aan rituele, vergaderings, byeenkomste, terwyl die mens se tyd op aarde eindig? Tyd is die een ding wat ons nooit terugkry nie. As jy mense se tyd en geld neem met 'n belofte wat jy nie kan bewys nie, is dit diefstal. Tydsroof is die grootste diefstal van alle diefstal.

Vyf: dit regverdig geweld.

Kruistogte. Inkwisisies. Die verbranding van ketters. Slawerny wat uit die Bybel verdedig is. Apartheid wat uit die Bybel verdedig is. Christelike nasionaliste wat vandag immigrante demoniseer en oorlog as 'n speletjie bespreek.

Ek sê nie dat godsdiens geweld veroorsaak nie. Sekulêre ideologieë het ook miljoene gedood. Die verskil is subtieler en gevaarliker: godsdiens maak geweld onaanvegbaar. As God aan jou kant is, kan jy nie verloor nie. En as jy nie kan verloor nie, kan jy nie onderhandel nie. En as jy nie kan onderhandel nie, is daar net een uitweg.

Ses: dit eien moraliteit.

Dit is dalk die ergste sonde vir my.

Gelowiges neem iets wat universeel menslik is — die vermoë om goed te wees, om die naaste lief te hê, om die swakke te beskerm — en eien dit as die eiendom van hul geloof.

Dan word die ongelowige nie net iemand met 'n ander mening nie. Hy word iemand sonder morele grondslag. Hy word gevaarlik. Hy word verdag.

Dit is 'n magspel. Nie 'n waarheidsbewering nie.

3. Wat ons nie moet weggooi nie

Dit is nodig om te erken dat die tradisionele uitlewing van godsdiens wel ook goeie elemente inhou. Want dit is nie waar dat alles in godsdiens sleg is nie. Inteendeel.

Baie mense het deur godsdiens geleer om hul naaste lief te hê. Baie het geleer om te gee. Baie het geleer om te vergewe en om te dien. Die verhale van die Samaritaan, van die verlore seun, van Moses wat sy volk uit slawerny lei — hierdie is goeie verhale. Hulle het mense oor eeue gevorm. En ons moet hulle behou.

Die punt is nie dat die goeie dade wat uit godsdiens kom, sleg is nie. Die punt is dat hierdie goeie dade nie eerste uit godsdiens gekom het nie.

Goedheid vir goedheid se onthalwe is ouer as enige kerk. Empatie, medelye, die sorg vir die swakke, die weiering om te moor, die liefde vir die vreemdeling — dit alles bestaan in menslike gemeenskappe voordat daar 'n Bybel of 'n Koran was.

Godsdiens het dit nie geskep nie. Godsdiens het dit gevat. Gevorm. Soms verfraai. Soms verdraai. Soms verkoop. Sien punt ses hierbo. Godsdiens het moraliteit gesteel by die mensdom en somehow krediet gewerf deur dit aan die mens terug te gee met 'n prys — so 10% van jou tyd, inkomste en realiteit.

Ons hoef dit nie terug te eis met vyandigheid nie. Ons hoef net te erken waar dit vandaan kom.

4. Die fyn paadjie

Ek is nie hier om godsdiens te vernietig nie. Ek is hier om te onderskei.

Aan die een kant: daar is die tekste en leringe wat mense as God se stem verkoop terwyl hulle mense se stem is. Die wette wat slawe bevestig. Die gebooie wat kinders laat stenig. Die leer wat mense permanent skuldig maak vir wie hulle is. Die vrees wat mense se gewete vervang. Die monopolie op moraliteit. Die politieke mag wat in die naam van God uitgeoefen word.

Dit is nie die mooi deel van godsdiens nie. Dit is die kanker.

Aan die ander kant: daar is die verhale. Die wysheid. Die gemeenskap. Die ritueel. Die troos. Die mense wat werklik gedien het en werklik liefgehad het. Die mooie dinge wat mense oor eeue opgebou het.

Ons moenie die een met die ander verwar nie.

Ons moet konserwatief wees met die mooie — behou dit.

Ons moet eerlik wees oor die leuens.

Ons moet liberaal wees met die waarheid, vir almal.

5. Wat ek nie sê nie

Ek sê nie dat God bestaan nie. Ek weet nie, jy weet nie.

Ek sê die gode wat deur bestaande godsdienste aan ons opgedis word, bestaan nie. Elkeen van hulle. Want hoe kan dit waar wees dat niemand God kan ken nie, en dat tog elkeen van die godsdienste presies vertel wat God (nie) is (nie)?

Ek sê nie alles van tradisionele godsdiens is net leuens nie. Inteendeel, daar is waardevolle lesse wat vandag nog belangrik is — soos hou jou olielamp vol, jy weet nooit wanneer jy 'n geleentheid gaan verloor omdat jy nie gereed was daarvoor nie. Dis belangrik. Onthou dit.

Ek sê nie daar is niks mooi in godsdiens nie.

Ek sê net dit:

'n God wat geskep is om mense se belange bo die res van die skepping te plaas, is nie die skepper van die heelal nie. Hy is 'n menslike verlenging wat omsien na menslike belange. En 'n godsdiens wat hom verkoop as die absolute waarheid, wat mense deur vrees regeer, wat moraliteit steel en geweld regverdig, is nie 'n morele instelling nie. Dis immoreel.

Wat God is, weet ek nie.

Maar ek weet wat mense gemaak het. En ek weet dat hulle dit nie God moet noem nie.

6. 'n Vraag

Wat ek wil hê jy jouself moet vra:

As jy vandag die god wat jy aanbid sou ontklee van alles wat mense oor hom gesê het, wat bly oor? Wat het God vir jou gesê wat nie uit 'n mens se mond of 'n geskrif wat deur 'n mens geskep is, gekom het nie?

Is dit 'n god wat die heelal gemaak het?

Of is dit 'n god wat toevallig dieselfde belange deel as jy?

Dink self.


*Maar selfs Beth Dutton het gesê: "'n goeie leuen is 90% waar". En ek dink nie eers ons kan die Bybel as 90% waar beskou nie.


Volgende keer: hoe godsdiens gemaak is — en waarom. Die politiek, die mag en die geld agter die verhale wat ons as waarheid geërf het.

Bekyk op Profiel
Suid-Afrika: ’n Model vir ’n Oplossing vir Palestina en Israel
Suid-Afrika: ’n Model vir ’n Oplossing vir Palestina en Israel
"Kan Suid-Afrika se geskiedenis ’n moontlike pad na vrede tussen Israel en Palestina wys?" Wian Anders kyk na die geweld ná 7 Oktober, die geskiedenis van apartheid en versoening in Suid-Afrika, en vra of die antwoord dalk nie in nóg ’n grens of ’n twee-staat-oplossing lê nie, maar in die afbreek van die mure tussen mense. Sy voorstel is radikaal: een sekulêre staat, gelyke burgerskap en gedeelde hulpbronne. ’n Omstrede standpunt wat hy self as wensdenkery erken – maar dalk, sê hy, is dit die moeite werd om dit te verbeel.
Wian Anders 12 Sep 2026 1,667

Suid-Afrika: ’n Model vir ’n Oplossing vir Palestina en Israel

"Kan Suid-Afrika se geskiedenis ’n moontlike pad na vrede tussen Israel en Palestina wys?" Wian Anders kyk na die geweld ná 7 Oktober, die geskiedenis van apartheid en versoening in Suid-Afrika, en vra of die antwoord dalk nie in nóg ’n grens of ’n twee-staat-oplossing lê nie, maar in die afbreek van die mure tussen mense. Sy voorstel is radikaal: een sekulêre staat, gelyke burgerskap en gedeelde hulpbronne. ’n Omstrede standpunt wat hy self as wensdenkery erken – maar dalk, sê hy, is dit die moeite werd om dit te verbeel.

Suid-Afrika: ’n Model vir ’n Oplossing vir Palestina en Israel

Breek dit af
Breek die mure om jou af – uit “Tronk” deur Johannes Kerkorrel

And the Germans kill the Jews
And the Jews kill the Arabs
And the Arabs kill the hostages
And that is the news – “Perfect Sense” deur Roger Waters

As jy kyk na wat 7 Oktober gebeur het, kan mens nie anders as om in ’n verslae toestand van skok net te wil treur nie. ’n Afskuwelike aanval op Israel deur Hamas waar vroue, kinders en mans voor die voet afgemaai is. Hierdie afgryslike geweldpleging kan as niks minder as ’n massa-terroristiese aksie veroordeel word nie. ’n Bloedstollende gebeurtenis, met Roger Waters se woorde wat maal in die agterkop.

Maar as die mensdom uit die geskiedenis leer, waar het Hamas geleer om so horribaal gewetenloos te wees? In 1947–1948 is dit presies wat ’n groep Sionistiese Jode aan die Palestyne gedoen het.

In ’n memorandum, “Jewish Atrocities in the Holy Land”, voorgelê aan die VN in 1948, word uiteengesit hoe Jode “indiscriminately massacred civilians, old men, women and children of all ages. Jews bayoneted pregnant women. Jews cut children to pieces before their mothers’ eyes, then killed the mothers…. Jews shot and killed nurses. Jews in Haifa killed, mutilated and crucified Arab prisoners and wounded.”

Bloeddorstige aksies uitgevoer deur Jood teen Palestyn word 70 jaar later op soortgelyke wyse deur Palestyn teen Jood uitgevoer. Om die sirkel te voltooi, antwoord Israel op ’n wyse soortgelyk aan wat die Nazi’s op weerlose Jode uitgevoer het.

Gaza word omhein deur Israel. Geen Palestyn mag die grens oorsteek nie, selfs nie eers na Egipte toe nie. Israel sny die water-, voedsel- en elektrisiteittoevoer af en begin bombardeer. Eers in die Noorde. Versprei die nuus dat burgers moet vlug na die Suide en begin dan om die Suide te bombardeer.

Gaza is vandag ’n konsentrasiekamp waarin mense van ’n spesifieke etnisiteit soos diere in ’n veldbrand vasgekeer sit. Met die bomme wat Israel laat reën in die gebied, word hierdie konsentrasiekamp ’n opeluggaskamer, met paniekbevange, geteisterde Palestyne wat nie eers meer weet watter kant toe om te beweeg om te gaan sterf nie.

So hou die mensdom aan om te leer uit die geskiedenis. Moordlustige lesse van geweld om weer en weer toe te pas op dié wat as ondergeskik en minder mens gesien word. Wat my terugbring huis toe.

Suid-Afrika was, soos ons almal weet, gedurende apartheid in ’n posisie waar polities gemotiveerde geweld heeltyd uitgebreek het. Alles verstaanbaar gegewe die onregverdige onderdrukking van rassegroepe. Maar kyk waar sit ons nou? Vandag sit Suid-Afrika in ’n toestand van relatief vreedsame bestaan, veral vergeleke met die krisis in die Midde-Ooste.

Daar is sekerlik mense wat dit sal bevraagteken met stellings dat daar ’n oorlog teen wit mense tans in SA gevoer word. Ek is seker ons het al almal die vraag: “maar wat dan van plaasmoord?” raakgeloop iewers aanlyn waar ons onsself al meer bevind. Net om die perspektief aan die situasie te verleen: In Palestina het daar in minder as twee maande meer onskuldige Palestynse kinders wreed gesterf as die getal wit boere wat die afgelope 10 jaar in SA vermoor is.

Plaasmoord is ’n ontsettende hartseer tragedie wat ten sterkste veroordeel moet word. So ook alle moord, ten spyte van die kleur van die slagoffer. Die moordsyfer in Suid-Afrika is onrusbarend en ongeoorloof, maar die situasie is geensins ’n oorlogstoestand vergelykbaar met talle oorloë in lande soos Oekraïne en Israel/Palestina, Burkina Faso, Afghanistan, Soedan, Jemen en ander nie.

Suid-Afrika is ook heelwat meer vreedsaam vergelykbaar met ’n Suid-Afrika wat kon gewees het as ons nie die pad van versoening geloop het nie. Stel jouself vir ’n oomblik voor: ons wit kinders en broers opgeroep na ’n weermag in aanslag teen ons swart en bruin broeders. Kinders in ons eie land voor die voet afgemaai om ’n wit minderheidsregering vandag nog in mag te hou. Hoe lank sou daai lys van gestorwe soldate, seuns van treurende moeders, nie gewees het nie? Die SAUK-nuus van ouds sou weereens gemaak het asof bruin en swart kinders wat uitmekaar geskiet is, se stukkende liggame en hul moeders se pyn niks beteken nie.

Fritz Gaum het verlede week hier in Weekliks met briljant genuanseerde argumente uitgelê dat beide Suid-Afrika asook Israel/Palestina se bevolkings so vermeng is dat dit nie werklik logies sin maak dat ’n land met so ’n “roereier”-bevolking net deur een groep van daardie bevolking regeer word nie. Dit was nie in Suid-Afrika volhoubaar nie en, gemeet aan die geweld, duidelik ook nie in Israel/Palestina volhoubaar nie.

Daar word tans met geweld teen die Israeliese apartheidsregering met, in Joodse professor Yeshayahu Leibowitz se woorde, “Judeo-Nazi”-eienskappe (Prof. Leibowitz: There are Judeo-Nazis. Israel Represents the Darkness of a State Body.) geprotesteer. Israel het direk na die 7 Oktober-fiasko simpatie en ondersteuning van so te sê die hele wêreld geniet. Simpatie wat hulle dadelik gaan deponeer het by die vergeldingsbank deur ’n moorddadige aanslag op Gaza. Nie net Hamas nie. Die hele Gaza is in die spervuur. Bernie Sanders het verlede week in die Amerikaanse Senaat genoem dat 70% van die slagoffers vroue en kinders is. Teen Woensdag 17 Januarie 2024 was die dodetal meer as 24 000. Dus 20 keer meer sterftes as op 7 Oktober, en daai syfer klim tans daagliks met 250+.

Maar soos Willy Mason in sy lied “Simple Town” sing: “Death is easy to ignore when its numbers on a screen.” Dit is heeltemal te maklik om in syfers oor mense met tasbare wense, drome, gevoelens, aspirasies, kinders en familie te dink. Syfers laat ons vergeet van die siele wat die getalle verteenwoordig. Ons, die mensdom as ’n spesie, kan beter as dit doen. Ons hoef nie Bybelse uitkomste na te streef nie, veral nie verdraaiings daarvan nie. Dit sal lei tot Armageddon. Ek weet daar is groot groepe mense wat Sionisme ondersteun, juis omdat dit op die ou end gaan lei na die einde van die aarde waarna hulle so reikhalsend uitsien. Vader weet hoekom hulle dit so najaag. Ek wil nog graag my kleinkinders ontmoet.

Intussen word daardie simpatie wat Israel geniet het, al minder en minder. In selfs Westerse, pro-Israel-lande groei die optogte. In Washington DC is die geraamde getal in die honderde duisende mense waartydens Biden uitgekryt is as aandadig en ’n oorlogsmisdadiger. Nie wat jy wil hoor voor ’n belangrike verkiesing nie. In die Ooste is daai simpatie lankal op en lande soos Jemen het alreeds begin oorlog voer teen Israel. Dis moeilik om te sien dat daar nie een of ander tyd ’n aanval op Israel gaan plaasvind wat die 7 Oktober-dodetal sal verdwerg nie. Die waansinnigheid is alreeds verby die brandpunt en moet eenvoudig end kry.

Om ’n werkbare langtermynoplossing te vind, moet ons na die ware oorsaak van die hele probleem kyk.

Een van die resultate van hierdie ongelooflike monumentale stap van Suid-Afrika om die internasionale verhoog te betree, is die toetrede van nog ander bevolkings met hul eie verhale. Die Nama van Namibië staan saam met Suid-Afrika. Die volksmoord wat Duitsland in Namibië gepleeg het, en wat vir jare der jare geïgnoreer en onder die mat gevee is, is weereens onder die soeklig. Wat maak dit so maklik vir een nasie om te dink dat ’n ander volk minder as mens en dus uitwisbaar is? Gee hul godsdiens hul daai reg? “Hoe kan hulle ’n siel hê, hulle glo dan nie in my God nie? Nooit eers van hom gehoor nie. My God sal my nie straf as ek hulle vermoor nie.”

Daar is in sekere kringe ’n kollektiewe blindheid vir die menswees van sekere groepe mense. Asof net wit siele sielswaardig is. Histories gesproke is Engeland, Amerika, Australië, Europeërs, jy weet, wit lande, wat die laaste jare in die Weste die onderdrukking doen. Ondersoek gerus die demografie van lande/leierskap wat goed soos Slawerny, Kolonialisme, Apartheid, Nasionalisme, Demokrasie vir Een Soort (SKANDES) veroorsaak. Palestynse siele geniet doodeenvoudig nie dieselfde aansien in die oë van die Westerse wêreld nie, maar duidelik van selfs nog minder waarde as geen in die oë van Israel se owerhede.

Verlede week wals Suid-Afrika by die Internasionale Hof in soos ’n wafferse Nelson Mandela uit die dood en sê: “Never Again!” Never again apartheid means never again Apartheid anywhere. Dis hoekom dit legendaries en histories korrek is dat dit Suid-Afrika moet wees wat die saak voor die Internasionale Hof moes kom stel het. Mense wat gely het onder apartheid sien die gevaartekens as dit met ander gebeur. Suid-Afrika is die land wat die menswaardigheid van die verrinneweerde mens in puin raaksien en sê: enige kind wat ly, is my kind wat ly. Sy pa is my broer, elke ma is almal se ma. Ons is almal mense. Ons kom almal van dieselfde plek. Daarom is dit Suid-Afrika wat vir die wêreld sê: haai, wat maak julle? Daar is mense onder al daai bomme!

Ek voel Suid-Afrika fouteer deur te dink dat ’n twee-staat-oplossing moontlik is, veral as een van daardie state al die hulpbronne bestuur, maar desnieteenstaande, in die groter prentjie is Suid-Afrika self, met al haar kraampyne, die voorbeeld van ’n oplossing. Na 27 jaar stap Nelson Mandela uit die tronk, die presidentskap in en sê: kom ons probeer ’n nuwe ding, kom ons probeer vergifnis. Na jare se mishandeling is sy antwoord, vergifnis.

Hierdie oorlog is die uitbarsting van ’n wond wat lankal sweer. Dog bly dit die grond wat talle mense hulle tuiste noem. Die verdelende mure moet af. Dit moet een land word.

Kan daai nuwe land Israel wees? Nie as langtermynvrede die doel is nie. Israel het deur hul minagting van ander lewens gewys dat hulle nie die waardige regering kan wees om almal te dien nie. Die vertroue en liefde ontbreek, of liewer, die haat is verby kookpunt. Ook gegewe hoe hulle tot stand gekom het: ’n getraumatiseerde volk. Slagoffers van die aaklige karma van Nazisme. Verwese siele sonder heenkome wat soos kernafval Midde-Ooste toe gepos is, net om uit te vind daar woon klaar iemand op die land wat aan hul beloof is. Volg daardie prentjie ’n denkbeeldige toekoms in, is dit enigsins snaaks dat wat gebeur, nou gebeur? Israel het moontlik sy eie einde bestem deur die volksmoord wat hy tans pleeg.

Mense wil dit nie indink nie, want Israel verteenwoordig iets vir hul godsdiens. Maar te veel keer op aarde is bewys dat wanneer godsdiens gebruik word om mense te regeer, volg die identifisering van die “ander” en daarna onderdrukking en ongelykheid, wat die kruitvat en vlam is vir geweld, onrus en selfs nou hierdie oorlog. Ons moet vrede maak, die hele mensdom met mekaar, onder mekaar, sodat ons almal vryheid en vrede kan geniet om in ons eie huise godsdiens te beoefen, of nie, weg van die openbare ruimte. En dis alles moontlik in teorie.

Voor die hand liggend is dat vir ’n werkbare oplossing moet:

  1. Die land word een.

  2. Gelyke burgerskap vir almal.

  3. Daar kan dan gestem word vir ’n nuwe naam, nuwe regering, nuwe alles. Demokratiese besluite.

  4. Die regering MOET sekulêr wees. As God wil wen, moet God soos enige ander party in persoon inskryf vir die verkiesing. Hou God uit die raadsaal. Dit geld vir almal se gode.

  5. Almal moet saamleef en hul lewens saam regeer, hulpbronne deel, ens.

Ek spring jou voor, ek glo al hierdie bogenoemde ideale is wensdenkery en super-onrealisties om te bereik, maar dis my tafelminimum as jy my vra wat nodig is om langtermynvrede te maak. Dog, elke kompromie wat op daardie lysie gemaak word, boet so bietjie van daai gewenste vrede in.

Asof ek nie vir al te veel vra nie, wil ek ook die volgende by my persoonlike wenslysie aanheg:

Amerika moet ophou om die Midde-Ooste soos ’n ysterkoei te melk om sy wapenindustrie geolie te hou.

Duitsland moet ophou Israel ondersteun en help deur onthuisde Palestyne te huisves. Dis die minste wat Duitsland kan doen met hul ideologiese skuldlas, kwynende bevolking en groot leë huise, bouvernuf en vindingryke maniere om mense aan die werk te kry.

So ook al die ander lande wat Jode na die Nazi’s se slagpale help lei het. Frankryk, Nederland, dis iets wat julle kan doen om die pyn te help verlig. Elke land met goeie wil kan help om mense in te neem. Almal, behalwe asseblief nie Amerika nie. Daardie land is te gevaarlik nou, hulle het al die wapens in die wêreld, moerse verdeeldheid, ’n minagting van bruin mense onder geledere, en ’n geskiedenis van mekaar afmaai. Hierdie mense is deur genoeg!


As Israelis en Palestyne maar net liewer van Suid-Afrika se geskiedenis kon leer, in plaas van die Nazi’s, Hamas en die Sionistiese Joodse terroriste onderskeidelik, dan sou apartheid tussen Jode en Palestyne opgehef kon word. Nasiebou sou kon geskied in die gebied. Natuurlik nie sonder stampe en stote nie, maar een nasie met verskillende groepe wat in vrede saamleef.

Bekyk op Profiel
Israel het die Tien Gebooie gruwelik geskend
Israel het die Tien Gebooie gruwelik geskend
Wat gebeur wanneer ’n mens die Tien Gebooie nie net as geloofsbeginsels beskou nie, maar dit teen die werklikheid van oorlog, grondbesetting, geweld en menslike lyding opweeg? In hierdie persoonlike en uitdagende besinning vra die skrywer waarom kerke so maklik oor sommige sondes praat, maar so stil raak wanneer dit oor die lyding van Palestyne gaan. Van “jy mag nie doodslaan nie” tot “jy mag nie steel nie” en “jy mag nie begeer nie” word die Tien Gebooie op ’n ongemaklike hedendaagse werklikheid toegepas — en uiteindelik kom die gesprek by ’n groter vraag uit: as die mens homself en sy wêreld so maklik vernietig, wat beteken dit dan om deel van ’n perfekte natuur te wees?
Wian Anders 11 Sep 2026 1,669

Israel het die Tien Gebooie gruwelik geskend

Wat gebeur wanneer ’n mens die Tien Gebooie nie net as geloofsbeginsels beskou nie, maar dit teen die werklikheid van oorlog, grondbesetting, geweld en menslike lyding opweeg? In hierdie persoonlike en uitdagende besinning vra die skrywer waarom kerke so maklik oor sommige sondes praat, maar so stil raak wanneer dit oor die lyding van Palestyne gaan. Van “jy mag nie doodslaan nie” tot “jy mag nie steel nie” en “jy mag nie begeer nie” word die Tien Gebooie op ’n ongemaklike hedendaagse werklikheid toegepas — en uiteindelik kom die gesprek by ’n groter vraag uit: as die mens homself en sy wêreld so maklik vernietig, wat beteken dit dan om deel van ’n perfekte natuur te wees?

Israel het die Tien Gebooie gruwelik geskend

Ek het ’n lewensfilosofie wat in kort opgesom kan word as “gedoem tot perfeksie”. Dit beteken basies dat die natuurlike wêreld, waarvan ons almal onlosmaaklik deel is, so veelvlakkig en vol gesofistikeerde sisteme is dat dit selfs lewe kan onderhou. En nie bloot net lewe nie, maar ’n ingewikkelde, komplekse tipe lewe wat selfs oor bewussyn en die vermoë beskik om oor daardie bestaan in die heelal te besin en dit te besing.

Of mens nou in God glo of nie, jy moet erken die wêreld is asemrowend. Dit is ’n magiese en asemrowend wonderlike plek. Natuur is dus reeds, sonder dat ons ’n hand hoef te lig, meer perfek as enigiets wat die mens self kan skep. Daarom is ons dus, myns insiens, reeds deel van die perfekte sisteem, natuur: gedoem tot perfeksie.

Maar dan kyk jy wat die mens op aarde aanvang en wonder of my argument enigsins water hou. Daar is soveel oorlog, lyding, moord en mensgemaakte hongersnood, en dit laat my die teenoorgestelde vra: “Is alles nie op die oomblik honderd persent verkeerd nie?” Alles is dan so deurmekaar en die teenoorgestelde van hoe dit moet wees.

Op die VN se Veiligheidsraad, wat kwansuis vrede vir die wêreld moet bewaar, sit al die boelies wat die oorloë maak. Ons weet die skietstilstand, wat deur so te sê die hele wêreld ondersteun en verlang word, word telkens deur Amerika geveto.

Die Verenigde State, wat Irak, Iran, Afghanistan, Sentraal- en Suid-Amerika tans demoniseer, is juis die regering wat daardie lande se regerings op onvreedsame wyse ontwortel het. So ironies dat hulle nou uitvaar teen die “onstabiele” nuwe regerings wat hulle as’t ware bewerkstellig het.

En wie is nog daar wat die grootste sê het oor wêreldvrede? Rusland, wat in ’n eindelose oorlog gewikkel is wat húlle begin het. Saam met hulle, Sjina, wat berug is vir hulle onderdrukking van Uyghurs en die besetting van Tibet. Die brose vrede hang ook maar aan ’n uiterste dun draadjie oor Taiwan. Om van Brittanje nie eers te praat nie! Watter goeie Suid-Afrikaner wil graag vir Brittanje verdedig as ’n bastion van menseregte en geregtigheid na die oorloë wat hulle hier gevoer het? Dit terwyl ons diamante vandag toe nog in koning Charles se kroon pryk? En moenie dink Frankryk is totaal onskuldig nie; kyk maar net na foie gras!

Hoe dit ook al sy, almal kan sien dat die VN heeltemal impotent is en hervorm sal moet word as ons doel daarmee wel werklik wêreldvrede is. Geen land wat in die laaste 50 jaar ’n oorlog begin het, behoort op die Veiligheidsraad te dien nie. Dis wat ek voorstel, al is ek maar een stem.

Tans is die VN soos ’n organisme met geamputeerde ledemate. Hulle is sigbaar, maar stom. Die politieke afgevaardigdes se duur oorsese trippies New York toe is ’n groot fanfare, maar niks word regtig bewillig nie.

Wanneer het mense geval vir die fopnuus dat die VSA op een of ander manier ’n bastion is vir vryheid en demokrasie? Hulle ontvoer tans mense wat nie met die regering saamstem nie na El Salvador, en hoeveel keer is hulle presidente in die laaste dekades nie deur die meerderheid stemme verkies nie? Hoeveel lande se vrede is deur die VSA ontwrig?

Die VSA staan vandag in die pad van wêreldvrede en die hele wêreld behoort terug te druk en die VSA op sy plek te sit as net nog ’n land en nie die opperheerser van die aarde nie.

Die VSA behoort ook te betaal vir aardverwarming, waarvan hulle die grootste aandeel in die besoedeling het wat dit tot stand gebring het. Maar gaan dit gebeur? Nee, ons weet mos nou al, die wêreld is ’n onregverdige plek.

Gepraat van ongeregtigheid, die toppunt daarvan is seker wat tans in Palestina aangaan. Israel het letterlik nog 70 mense vermoor op die dag wat Trump gesê het dat hy waardeer dat Israel sy bombardering van Gaza gestaak het. Ironies genoeg, op eie bodem, is dieselfde groep mense wat aandring dat ons nie volksmoord hier moet ontken nie, besig om die volksmoord elders te ontken. Inteendeel, selfs Israel in hul geweld te ondersteun.

Tog bly die Afrikaanse kerke tjoepstil oor die goddelose geweld wat Israel pleeg. Hoekom? Dis mos verkeerd? As jy wil hê iemand moet empatie met jou hê, moet jy sekerlik ook empatie met ander hê? Is dit nie wat “naaste soos jouself” beteken nie? Of is Palestyne net eenvoudig te ver om naaste te wees? Wat sal Jesus daaroor te sê hê, of is ’n Palestyn net nie Samaritaans genoeg nie?

Dis nie so moeilik om te sien dat Israel die Tien Gebooie oortree nie. Blykbaar sê die sesde gebod: jy mag nie doodslaan nie. Israel steur haarself glad nie daaraan nie. Israel pleeg volksmoord op ’n skaal wat my laat sidder. Dis nie ’n opinie nie, dis die waarheid.

Ook sê die agtste gebod: jy mag nie steel nie. Hierdie hele sogenaamde “oorlog” is eintlik landdiefstal wat in 1948 begin het.

Die negende gebod sê jy mag nie leuens vertel nie. Wie kan nog ’n woord glo wat Israel vertel? En as jy steeds glo dat dit alles oor 7 Oktober gaan, is jy nie besig om die negende gebod teenoor jouself te verbreek nie?

Die tiende gebod sê jy mag nie begeer nie. Dis nou ’n bietjie laat, want Israel begeer al so lank die Palestyne se grond dat daar amper niks meer vir die Palestyne oor is nie. Daardie gebod beteken duidelik niks vir Israel nie.

Ek sal self so ver gaan deur te redeneer dat Israel se ego nou so groot is dat hulle hulself al verafgod bo God; dus breek hulle volgens my ook die eerste twee gebooie.

Maar hoekom is die Afrikaanse kerke so stil? Dit in ’n tyd waar die kerk maklik mense veroordeel oor hul seksualiteit, wat niemand anders seermaak nie? Ek wil sê die kerk het sy morele kompas verloor, maar dis onakkuraat. Ek dink nie die kerk het nog ooit oor ’n morele kompas beskik nie. Die kerk se morele kompas het maar nog altyd gewaai in die rigting van die politieke winde van die tyd. Kyk maar byvoorbeeld hoe gemaklik het die kerk gepas, en gefloreer, in die dae van apartheid.

Die kerk wat versuim om op te staan teen geweld, breek daardeur die derde gebod: hulle gebruik Jesus se naam daagliks en in hoofletters ydel, maar volg nie sy dade nie en laat toe dat ander mense sy naaste te na kom terwyl hulle doodeenvoudig stilbly.

Hulle wéét die lidmate wat die geld inbring, wil nie hê dat hulle Israel se volksmoord moet veroordeel nie. Gierig en opportunisties gebruik die kerk die naam van God vir eie gewin en veroordeel wie hul gemeente verlang.

Hoe pas al hierdie dinge wat verkeerd is in die wêreld dan in my lewensfilosofie dat ons gedoem is tot perfeksie? Dis eintlik heel eenvoudig.

Net soos dit 100% natuurlik is dat ’n springbok moet sterf om die leeu te voed, is dit reg dat die mens in staat is om homself te vernietig, want as die mens nie met homself in vrede kan verkeer nie, verdien hy dan nog steeds om lank hier op aarde te lewe?

Wie weet.

Al wat ek weet, is die natuur gaan vir altyd aan, met of sonder mens daarin, en dis perfek soos dit is.

Bekyk op Profiel
’n Kort geskiedenis van God
’n Kort geskiedenis van God
Wat as jy die geskiedenis van God in net 14 punte moes vertel? 😳 Van skepping en die paradys tot boosheid, die Vloed, die Duiwel, Jesus en die vraag waarom ’n almagtige God soveel ellende toelaat — Wian Anders vat ’n ou Facebook-meme en ontdek daaragter ’n baie ouer, ernstiger vraag: As God goed is, waarom bestaan daar boosheid? ’n Bietjie sarkasme, ’n bietjie teologie en heelwat om oor te dink. En dan… klop iemand aan die deur. 👀
Wian Anders 04 Sep 2026 1,581

’n Kort geskiedenis van God

Wat as jy die geskiedenis van God in net 14 punte moes vertel? 😳 Van skepping en die paradys tot boosheid, die Vloed, die Duiwel, Jesus en die vraag waarom ’n almagtige God soveel ellende toelaat — Wian Anders vat ’n ou Facebook-meme en ontdek daaragter ’n baie ouer, ernstiger vraag: As God goed is, waarom bestaan daar boosheid? ’n Bietjie sarkasme, ’n bietjie teologie en heelwat om oor te dink. En dan… klop iemand aan die deur. 👀

’n Kort geskiedenis van God

Sjoe, waar begin 'n mens? Vanoggend lees ek hierdie “Short History of God” op Facebook raak en ek dink toe... wag laat ek eers dit vir jou opsom vir incase jy dit nog nie gesien het nie. Die ding gaan min of meer so:

  1. God skep alles uit niks, net deur te praat.

  2. Toe maak hy ’n man uit grond en ’n vrou uit die man.

  3. En toe bevolk hulle die wêreld deur bloedskande.

  4. En toe skep Hy boosheid, want hoekom nie?

  5. God, verbaas oor die boosheid, Hy weet blykbaar nie mooi wat om daarmee te doen nie, besluit Hy om die hele wêreld met water uit te wis, behalwe vir een klein gesin wat toevallig besonder goeie bootbouers is.

  6. Die wêreld word weer bevolk, deur middel van bloedskande... weer.

  7. God is weer verbaas oor al die boosheid.

  8. Toe stuur hy siektes, hongersnood, plae, tsoenami’s en allerhande ander dinge waarvan ’n mens vermoedelik nie sommer op jou LinkedIn-profiel sou sit as “spesiale vaardighede” nie.

  9. Hy is steeds verbaas oor die bestaan van boosheid.

  10. Toe blameer hy die Duiwel... wat Hy self geskep het.

  11. En dan kom Jesus. Of, soos die meme dit stel, God stuur Homself as Sy eie Seun deur ’n jong meisie wat Hyself bevrug(verkrag?) het, sodat mense Sy Seun kan martel en doodmaak, waarna God ons almal kan vergewe.

  12. "Just jokinng, LOL". Drie dae later is die Seun weer terug.

  13. En God is steeds God. Alwetend. Almagtig. Perfek. En baie gesteld daarop dat ons hom daarvoor moet aanbid.

  14. Maar God kruip weg dat niemand hom vandag sien behalwe mal mense, Heinz Winckler en Anus Buchan.

Nou ja.

As jy dit so opsom, klink die Christelike verhaal inderdaad soos iets wat geskryf is deur ’n komitee wat om drieuur die oggend besluit het dat die vorige konsep nog nie vreemd genoeg is nie. Maar toe dink ek daaroor, want tussen al die sarkasme in hierdie meme sit daar eintlik ’n baie ou en ernstige vraag.

As God goed is, waarom bestaan daar boosheid? En as God almagtig is, waarom keer hy dit nie?

Dit is nie ’n nuwe vraag wat Facebook-ateïste een oggend tussen ’n katvideo en ’n resep vir lugbraaier-hoender uitgedink het nie. Mense worstel al eeue lank daarmee. Teoloë, filosowe, ongelowiges en gelowiges het almal op verskillende maniere probeer antwoord.

Die meme het natuurlik nie juis belangstelling in enige van daardie antwoorde nie.

Dit wil jou eerder met ’n elmboog in die ribbes stamp en sê: “Kyk net hoe simpel klink dit as jy dit só vertel.”

En eerlikwaar? Dit is nogal effektief, want godsdiens is dikwels die een ding waaroor mense bereid is om vrae te vra oor almal anders se geloof, maar baie minder bereid is om vrae oor hulle eie geloof te vra. En miskien is dit juis waar die interessante gesprek begin. Nie by “God bestaan” of “God bestaan nie”. Maar by: Wat bedoel ons eintlik wanneer ons sê God is goed?

En wat doen ons met al die dinge in die wêreld wat glad nie goed lyk nie? Ek weet nie.

Ek het net vanoggend hierdie prentjie raakgesien en dit het my laat dink: Alles is perfek soos dit is en God is goed, maar God se hele wese stel maar min belang in die welstand van die mens. Die mens is maar nog net een ding in sy skepping wat uit die res van die skepping gevorm het en eendag weer verwoes gaan word. En dis goed.

En al die gode wat die mens skep om verwoesting te saai in die naam van God? Dit traak God maar min, net soos al die gebede wat die mense bid. Bid is belangrik vir die mens. Minder so vir God. Dis reg dat die mens doen wat hy wil doen, dis sy natuur, en natuur is God. Dus is dit deel van God. Maar God stel maar minder belang in die mens as die mens self. So die "God" wat maak asof Hy belang stel in wie en wat jy vry is maar mensgemaak, net soos Hy. Ai, dis maar die dinge wat ek dink.

As jy weet wie dit oorspronklik geskryf het, laat weet my asseblief. Ek kon nie die outeur opspoor nie. Die oudste spoor wat ek kon kry, is ’n weergawe wat reeds aanlyn versprei is sonder ’n bekende skrywer — die persoon wat dit daar gedeel het, sê self sy kon nie die oorspronklike outeur vind nie.

En toe dink ek mos …

askuus, daar klop iemand by die deur. Ek is nou terug.

Bekyk op Profiel
As God net wit mense liefhet, is Hy te klein vir my
As God net wit mense liefhet, is Hy te klein vir my
Wat as die God wat ons verdedig, te klein is vir die wêreld wat Hy geskep het? Wian Anders ondersoek hoe rassisme, nasionalisme en magsug dikwels in God se Naam geregverdig word – en vra of dit enigsins strook met die Jesus van die evangelies. Dis 'n uitdagende besinning oor geloof, moraliteit en die gevaar om God na ons eie beeld te probeer herskep eerder as om onsself deur liefde en waarheid te laat verander.
Wian Anders 30 Jul 2026 2,085

As God net wit mense liefhet, is Hy te klein vir my

Wat as die God wat ons verdedig, te klein is vir die wêreld wat Hy geskep het? Wian Anders ondersoek hoe rassisme, nasionalisme en magsug dikwels in God se Naam geregverdig word – en vra of dit enigsins strook met die Jesus van die evangelies. Dis 'n uitdagende besinning oor geloof, moraliteit en die gevaar om God na ons eie beeld te probeer herskep eerder as om onsself deur liefde en waarheid te laat verander.

As God net wit mense liefhet, is Hy te klein vir my

Ek het al baie keer gewonder hoe groot mense se God eintlik is. Nie hoe groot hulle sê Hy is nie. Hoe groot Hy in praktyk is. Want vandag hoor ek al hoe meer mense praat oor "Christelike beskawing", "Westerse waardes" en die behoefte om die Christendom te verdedig teen die wêreld. Soms klink dit of Jesus vervang is met 'n vlag. Soms met 'n grensdraad. En soms selfs met 'n aanvalsgeweer.

Dan kan jy begin praat oor die Amerikaanse Christelike nasionaliste. Nie almal nie. Maar die beweging wat hulself Christene noem terwyl hulle gretig foto's met AR-15's neem, immigrante demoniseer en oor oorlog praat asof dit 'n videospeletjie is. Dis vreemd.
Want Jesus het nooit gesê: "Gelukkig is die wat die grootste gewere besit nie."

Hy het gesê:

"Geseënd is die vredemakers."

En dan kan jy die moeilike vraag vra: Toe burgerlikes in Irak gesterf het... Toe kinders in Gaza sterf... Toe burgerlikes in Iran sterf... Waar was die trane? Hoekom lyk dit of sommige lewens altyd meer werd is as ander?

Is dit God wat onderskei? Of is dit óns? Want ek kan nie glo aan 'n God wat die kleur van 'n mens se vel belangriker ag as die inhoud van sy hart nie. Ek kan nie glo aan 'n God wat landsgrense op kaarte trek en sê:

"Hierdie kinders is my kinders.

Daardie kinders is ongelukkig maar collateral damage."

As dit God is... dan is Hy kleiner as baie mense wat ek ken.

En dit is juis waar Kruisvry se vraag inkom. Ons word dikwels vertel dat godsdiens moraliteit bring. Maar die geskiedenis wys iets anders. Dit is meestal mense wat uiteindelik besluit het dat slawerny verkeerd is. Dat apartheid verkeerd is. Dat vroue mense is. Dat kinders beskerming verdien. Dat marteling verkeerd is.

Baie keer moes gelowiges hulle eie heilige boeke anders begin lees omdat hul gewete reeds verder ontwikkel het. Met ander woorde: Miskien is moraliteit nie iets wat godsdiens aan mense gee nie. Miskien is moraliteit juis dit wat mense help onderskei watter dele van hul godsdiens liefde bring... en watter dele vernietiging bring.

Ek glo nie God het die wêreld in rasse verdeel nie. Mense het. Ek glo nie God het landsgrense getrek nie. Mense het. Ek glo nie God tel hoeveel wit, swart, Joodse, Arabiese of Afrikaanse kinders vandag gesterf het nie. Ek glo mense doen dit.

En as ons God telkens in ons eie beeld herskep: 'n God wat net ons volk, ons taal, ons kerk of ons politieke kamp liefhet - dan aanbid ons uiteindelik nie meer God nie.

Dan aanbid ons onsself.

Bekyk op Profiel
Wie hou die wagte dop?
Wie hou die wagte dop?
Burgerlike organisasies speel 'n onmisbare rol in Suid-Afrika se demokrasie. Hulle daag die staat in die hof uit, beïnvloed beleid, samel miljoene rand in en praat namens groot gemeenskappe. Maar hoe deursigtig behoort hulle oor hul finansies te wees? Hierdie artikel vra nie wie reg of verkeerd is nie – dit stel 'n eenvoudige beginsel voor: dat dieselfde maatstaf van deursigtigheid op álle invloedryke organisasies toegepas behoort te word.
Wian Anders 27 Jul 2026 2,231

Wie hou die wagte dop?

Burgerlike organisasies speel 'n onmisbare rol in Suid-Afrika se demokrasie. Hulle daag die staat in die hof uit, beïnvloed beleid, samel miljoene rand in en praat namens groot gemeenskappe. Maar hoe deursigtig behoort hulle oor hul finansies te wees? Hierdie artikel vra nie wie reg of verkeerd is nie – dit stel 'n eenvoudige beginsel voor: dat dieselfde maatstaf van deursigtigheid op álle invloedryke organisasies toegepas behoort te word.

Wie hou die wagte dop?

Hoekom Suid-Afrika dalk 'n Deursigtigheidsindeks vir burgerlike organisasies nodig het

Ons leef in 'n tyd waarin burgerlike organisasies 'n groter rol speel as ooit tevore.

Hulle daag regerings in die hof uit. Hulle beïnvloed openbare beleid. Hulle voer internasionale veldtogte. Hulle verteenwoordig duisende, soms honderde duisende mense. Hulle samel miljoene rand in vir regsaksies, navorsing, opleiding, humanitêre hulp en openbare veldtogte.

Dit is nie noodwendig 'n slegte ding nie. Trouens, 'n gesonde demokrasie het 'n sterk burgerlike samelewing nodig.

Maar daar is 'n eenvoudige vraag wat selde gevra word:

Hoe deursigtig behoort sulke organisasies oor hul finansies te wees?

Hierdie vraag is nie gemik op een organisasie nie.

Dit geld vir almal.

Vir Solidariteit.

Vir AfriForum.

Vir Lex Libertas.

Vir OUTA.

Vir Corruption Watch.

Vir Gift of the Givers.

Vir Section27.

Vir die Instituut vir Rasseverhoudinge.

Vir geloofsorganisasies.

Vir omgewingsgroepe.

Vir enige organisasie wat groot openbare invloed uitoefen.

In Suid-Afrika is ons geneig om hierdie vraag deur 'n politieke bril te bekyk. As dit 'n organisasie is waarmee ons saamstem, aanvaar ons maklik dat alles in orde is. As dit een is waarmee ons verskil, vermoed ons gou die ergste.

Miskien is dit die verkeerde manier om die gesprek te voer.

Miskien behoort dieselfde maatstaf vir almal te geld.

Die meeste van hierdie organisasies voldoen waarskynlik aan hul wetlike verpligtinge. Vakbonde, nie-winsgewende maatskappye, trusts en ander entiteite het elkeen hul eie regulatoriese raamwerk. Die wet bepaal sekere minimum vereistes.

Maar die vraag hier gaan nie oor die minimum wat die wet vereis nie.

Dit gaan oor die maksimum wat openbare vertroue verdien.

Indien 'n organisasie miljoene rand per jaar ontvang, behoort die publiek maklik antwoorde op 'n paar eenvoudige vrae te kan vind:

  • Waar kom die geld vandaan?

  • Hoeveel kom van lede, hoeveel van donateurs en hoeveel uit ander bronne?

  • Is daar 'n jongste jaarverslag wat maklik beskikbaar is?

  • Is geouditeerde finansiële state toeganklik?

  • Hoeveel word aan administrasie bestee?

  • Hoeveel word aan die organisasie se kernmissie bestee?

  • Watter beleid geld vir uitvoerende vergoeding?

  • Wie hou onafhanklik toesig oor die organisasie se bestuur?

Hierdie is nie onredelike vrae nie.

Trouens, baie internasionale liefdadigheidsorganisasies publiseer juis hierdie inligting omdat hulle weet deursigtigheid bou vertroue.

Net so is dit belangrik om nie te aanvaar dat die afwesigheid van openbare inligting beteken daar is noodwendig iets fout nie. Soms vereis die wet nie dat sekere dokumente op 'n webwerf gepubliseer word nie. Soms is dit wel vir lede beskikbaar. Soms moet dit formeel aangevra word.

Maar daar is 'n verskil tussen wettige voldoening en vrywillige deursigtigheid.

Die een sê: "Ons doen wat die wet vereis."

Die ander sê: "Ons wil hê die publiek moet ons kan vertrou."

Miskien het Suid-Afrika 'n eenvoudige Deursigtigheidsindeks nodig.

Nie om organisasies volgens hul ideologie te beoordeel nie.

Nie om hulle te "vang" nie.

Maar om almal volgens presies dieselfde vrae te evalueer.

Is daar 'n jaarverslag?

Is die finansiële state beskikbaar?

Word die hoofinkomstebronne verduidelik?

Is die bestuursmodel duidelik?

Word onafhanklike ouditering gedoen?

Word die organisasie se impak gemeet?

Indien dieselfde maatstaf op almal toegepas word, verdwyn die beskuldiging van dubbele standaarde.

Dan hoef ons nie te vra of 'n organisasie links of regs is nie.

Ons vra bloot:

Hoe deursigtig is hulle?

Dit is uiteindelik nie net in belang van die publiek nie.

Dit is ook in belang van die organisasies self.

Want vertroue is nie iets wat geëis kan word nie.

Dit word verdien.

En in 'n demokrasie behoort deursigtigheid een van die belangrikste maniere te wees waarop daardie vertroue gebou word.

Miskien is dit tyd dat ons die gesprek begin.

Bekyk op Profiel
Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?
Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?
'n Ondersoek na een van die ontstellendste verhale in die Nuwe Testament
Wian Anders 04 Jul 2026 2,378

Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?

'n Ondersoek na een van die ontstellendste verhale in die Nuwe Testament

Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?

Min verhale in die Nuwe Testament laat moderne lesers so ongemaklik soos die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5.

Dit is 'n kort verhaal, maar die implikasies daarvan is enorm.

Volgens die Bybel het die eerste Christene alles met mekaar gedeel. Sommige het selfs hul grond en huise verkoop en die opbrengs aan die apostels gegee sodat niemand gebrek sou ly nie. Net voor Handelinge 5 word Barnabas geloof omdat hy sy grond verkoop en die volle bedrag aan die apostels oorhandig.

Toe kom Ananias en sy vrou, Saffira.

Hulle verkoop ook 'n stuk grond. Anders as Barnabas hou hulle egter 'n deel van die geld vir hulself terug, terwyl hulle voorgee dat hulle die volle bedrag gee.

Wanneer Ananias die geld bring, konfronteer Petrus hom.

Hy sê Ananias het nie bloot vir mense gelieg nie, maar vir die Heilige Gees.

Die teks vertel dat Ananias onmiddellik neerval en sterf.

Ongeveer drie uur later kom Saffira daar aan. Sy weet nie wat met haar man gebeur het nie. Petrus vra haar dieselfde vraag. Sy hou by dieselfde weergawe van die verhaal.

Sy val ook neer.

En sy sterf.

Die hoofstuk eindig met die woorde:

"Groot vrees het oor die hele gemeente gekom."

Vir eeue word hierdie verhaal verstaan as 'n voorbeeld van God se onmiddellike oordeel.

Maar hier ontstaan 'n vraag wat selde gevra word.

Wat het daardie dag fisies gebeur?

Die eerlike antwoord is eenvoudig:

Ons weet nie.

Nie een van ons was daar nie.

Ons beskik oor een antieke teks wat deur 'n mens geskryf is. Soos met enige ander antieke dokument kan ons nie die gebeure self waarneem nie; ons kan slegs die skrywer se beskrywing en interpretasie lees.

En dit bring ons by 'n belangrike onderskeid.

Die teks vertel nie net dat Ananias en Saffira dood is nie.

Die teks vertel ook waarom hulle dood is.

Dit is reeds 'n interpretasie.

As ons die verhaal met dieselfde historiese nuuskierigheid lees waarmee ons enige ander antieke dokument sou lees, ontstaan daar verskeie moontlikhede.

1. Die tradisionele verklaring

Die eerste moontlikheid is eenvoudig die een wat die verhaal self bied.

Die Heilige Gees het bonatuurlik ingegryp en albei onmiddellik doodgemaak as oordeel oor hul leuen.

Vir miljoene Christene is dit steeds die mees oortuigende verklaring.

2. 'n Natuurlike mediese gebeurtenis

Nog 'n moontlikheid is dat Ananias en later Saffira aan 'n natuurlike mediese toestand beswyk het.

Mense kan onder geweldige emosionele spanning hartaanvalle, beroertes of ander akute mediese noodtoestande ervaar.

In die eerste eeu sou so 'n gebeurtenis maklik as Goddelike oordeel geïnterpreteer kon word.

3. Menslike geweld

Daar is ook 'n derde moontlikheid.

Dit is moontlik dat hulle deur mense om die lewe gebring is, en dat die verhaal later die verantwoordelikheid by God plaas.

Daar is geen direkte bewys daarvoor nie.

Maar daar is ook geen beskrywing in die teks van hoe die sterftes fisies plaasgevind het nie.

Vir sommige lesers is dit eenvoudiger om aan te neem dat mense geweld gepleeg het as dat 'n onsigbare bonatuurlike mag twee mense summier laat sterf het.

Dit is nie 'n bewering dat dit gebeur hét nie.

Dit is bloot een van die histories denkbare verklarings.

4. 'n Teologiese waarskuwingsverhaal

Nog 'n moontlikheid is dat Lukas nie probeer het om 'n moderne historiese verslag te skryf nie.

Miskien wou hy eerder 'n teologiese punt maak oor eerlikheid, die heiligheid van die vroeë kerk en die erns van skynheiligheid.

In hierdie lees is die verhaal minder 'n joernalistieke verslag as 'n geloofsgetuienis.

Occam se skeermes

Hier kan 'n mens die bekende beginsel van Occam se skeermes toepas.

Wanneer verskillende verklarings moontlik is, is die eenvoudigste verklaring – die een wat die minste nuwe aannames vereis – dikwels die waarskynlikste.

Maar selfs Occam se skeermes gee nie vir ons 'n finale antwoord nie.

Dit dwing ons bloot om eerlik te vra:

Watter aannames bring elke verklaring saam?

En waarom kies ons een verklaring bo 'n ander?

Die groter vraag

Wat hierdie verhaal vir my besonders interessant maak, is nie bloot hoe Ananias en Saffira gesterf het nie.

Die groter vraag is:

Wat doen ons wanneer 'n antieke teks vir ons vertel dat God iets gedoen het?

Aanvaar ons dit as 'n historiese beskrywing?

Of as die skrywer se interpretasie van 'n gebeurtenis?

Baie gelowiges antwoord dat die verhaal geïnspireerde teologiese literatuur is en nie noodwendig bedoel is as 'n moderne historiese verslag van presies wat fisies gebeur het nie.

Dit is 'n geldige standpunt.

Maar dit laat 'n volgende vraag ontstaan.

Hoe onderskei ons tussen historiese beskrywing en teologiese interpretasie?

Waar trek ons die lyn?

En wie trek daardie lyn?

As 'n leser self moet besluit watter gedeeltes histories gelees moet word en watter gedeeltes simbolies of teologies verstaan moet word, ontstaan 'n verdere filosofiese vraag.

Is die waarheid dan iets wat die Bybel objektief meedeel?

Of is dit uiteindelik iets wat elke leser, gelei deur sy of haar eie geloof, tradisie en interpretasie, self moet konstrueer?

Dit is nie noodwendig 'n kritiek op die Bybel nie.

Maar dit is wel 'n uitdaging aan die idee dat die betekenis van elke teks vanselfsprekend, letterlik en onproblematies vasstaan. As die Bybel aanspraak maak op metaforiese of teologiese waarheid wat verskil van ware waarheid, hoekom praat ons dan nog van waarheid in die eerste plek? Want net die reine waarheid is werklik waar.

Miskien is die belangrikste les van Handelinge 5 nie dat ons moet vrees dat God ons onmiddellik sal doodmaak as ons lieg nie.

Miskien is die belangrikste les dat eerlike mense moeilike vrae mag vra.

En dat geloof, soos waarheid, nooit bang behoort te wees vir eerlike ondersoek nie.

So wat is dit? Het die Heilige Gees gemoor? Of is met daai woorde deur die mens opgetoor? Wat het meer (morele) integriteit, God of die Bybel wat van God 'n moordenaar maak?

Bekyk op Profiel
Trump lieg – en dit is hoekom gelowiges hom vertrou
Trump lieg – en dit is hoekom gelowiges hom vertrou
Hoe is dit dat 'n bekende leuenaar en bedriër soos Trump so goed vaar onder gelowiges – en wat sê dit oor die waarheid? Is die waarheid eenvoudig nie belangrik vir 'n gelowige nie? Is dit nie ironies dat die Bybel self gewaarsku het teen mense wat God se naam aanwend vir bose doeleindes nie? Lees gelowiges dan nie hul eie Bybel nie?
Wian Anders 334

Trump lieg – en dit is hoekom gelowiges hom vertrou

Hoe is dit dat 'n bekende leuenaar en bedriër soos Trump so goed vaar onder gelowiges – en wat sê dit oor die waarheid? Is die waarheid eenvoudig nie belangrik vir 'n gelowige nie? Is dit nie ironies dat die Bybel self gewaarsku het teen mense wat God se naam aanwend vir bose doeleindes nie? Lees gelowiges dan nie hul eie Bybel nie?

Trump lieg – en dit is hoekom gelowiges hom vertrou

Deel 1: Die aanval op waarheid

Daar was 'n tyd toe 'n leuen nog 'n leuen was. Jy kon iemand daarvan beskuldig, hy kon dit ontken, en die stryd het voortgegaan. Die waarheid was die grond waarop ons gestaan het – selfs as ons dit nie altyd kon sien nie, het ons geweet dit is daar.

Trump het dit verander.

Nie omdat hy gelieg het nie – politici lieg al van die begin van tyd. Hy het iets diepers gedoen. Hy het soveel stellings as "waarheid" voorgehou wat onmoontlik waar kon wees, so dikwels, so blatant, dat die aanval nie meer op die feite gerig was nie, maar op die moontlikheid van feite self. Die vraag was nie meer "is hy besig om te lieg nie?" nie. Dit was "hoe kan enigiemand nog weet wat waar is?"

Dis die skuif. En dis 'n skuif wat gewerk het.

"Alternative facts" was nie net 'n ongelukkige frase nie. Dit was 'n program. Dit het gesê: daar is nie een werklikheid nie. Daar is jou waarheid en my waarheid. En as jy nie myne aanvaar nie, is jy nie net verkeerd nie – jy is partydig, jy is bevooroordeeld, jy is deel van die probleem.

En mense het dit gesluk. Nie omdat hulle dom is nie – hoewel Trump self gesê het hy hou van die "undereducated" – maar omdat dit makliker is om te glo dat niks waar is nie, as om te erken dat jy vir jare lank vir 'n leuenaar geglo het.

Dit is waar die verdeeldheid ontstaan. Nie tussen links en regs nie. Nie tussen arm en ryk nie. Tussen mense wat die waarheid nog na waarde ag, en mense wat bereid is om dit onder die bus te gooi om hul man te verdedig. 'n Mens wat die waarheid ernstig opneem, kan nie hierdie logika kleinkry nie. Jy kan nie 'n debat voer met iemand wat nie omgee of hy reg is nie – wat net wil wen nie. En wanneer die een kant nie waarheid na waarde ag nie, is "beide kante insien" nie 'n deug nie. Dit is 'n mors van tyd.

Deel 2: Wat eintlik aangeval is

Maar hier is die ding. Die waarheid is nie vernietig nie. Dit kan nie vernietig word nie.

Wat aangeval is, is ons verhouding met die werklikheid. Ons vertroue in ons eie oordeel. Ons vermoë om te onderskei. Ons geloof dat daar iets is om te onderskei.

Die waarheid is voos. Dit skree nie. Dit dwing jou nie. Dit smeek nie. Dit staan nie op 'n verhoog en verkondig homself nie. Dit is net daar. Stil. Onopvallend. Onvernietigbaar.

Jy kan dit ignoreer. Jy kan dit verdraai. Jy kan dit begrawe onder 'n duisend leuens. Jy kan mense oortuig dat dit nie bestaan nie. Maar jy kan dit nie uitwis nie. Want dit is nie afhanklik van jou erkenning nie. Dit is nie 'n sosiale konstruk wat verdwyn as niemand meer daaraan glo nie. Dit is nie 'n stem wat stil word as jy dit doodmaak nie.

Die waarheid is nie dieselfde as ons toegang tot waarheid nie. Ons kan ons toegang verloor. Ons kan in 'n toestand leef waar ons nie meer weet wat waar is nie. Maar dit beteken nie waarheid is weg nie. Dit beteken ons is weg.

Die swaartekrag het nie verdwyn toe mense geglo het die aarde is plat nie. Die feit dat mense doodgaan het nie verander toe mense geglo het hulle is onsterflik nie. Die werklikheid het nie gekrimp toe ons dit ontken het nie. Dit staan steeds daar.

En dit is hoekom die aanval op waarheid nie net 'n intellektuele fout is nie. Dit is 'n morele misdaad. Want dit beroof mense van hul verhouding met die werklikheid. En sonder daardie verhouding is daar geen geregtigheid, geen verantwoording, geen gemeenskap nie.

Deel 3: Die kern – rassisme

Kom ons wees eerlik. Kom ons trek een vir een die verskonings af.

Hy is 'n besigheidsman – hy sal die ekonomie laat groei. Wel, hy het $431 miljoen van sy pa geërf en dit stelselmatig verloor. Hy is 'n swak besigheidsman. Maar dit is nie eers die punt nie.

Hy sal korrupsie vernietig – hy kom nie van die regering af nie. Wel, hy het meer korrupsie gebring as enigiemand voor hom. Gerespekteerde bronne meen hy is reeds die mees korrupte president in Amerika se geskiedenis. Maar dit is nie eers die punt nie.

Hy is 'n sterk leier – hy sê wat hy dink. Wel, hy sê wat hy dink die skare wil hoor. Hy het geen kern nie. Hy is 'n leë vat wat weerklink met wat ook al die dag se behoefte is. Maar dit is nie eers die punt nie.

Wat bly oor?

Rassisme.

Hy is die kandidaat wat rassisme genormaliseer het. Hy is die kandidaat wat rassiste reg oor die wêreld – ook in Suid-Afrika – die vrymoedigheid gegee het om uit die skaduwee te tree en hulself in die middel van die debat te posisioneer.

In Suid-Afrika het dit 'n spesifieke vorm aangeneem.

Vir jare ná apartheid was die rassiste effe stil. Dis te verstane. Apartheid is 'n onverdedigbare misdaad teen die mensdom. Jy kan dit nie verdedig nie. Jy kan dit nie regverdig nie. Jy kan dit nie wegpraat nie. So jy bly stil. Jy wag.

En toe kom Trump. En skielik het hulle 'n stem. Nie 'n stem wat apartheid verdedig nie – hulle is slimmer as dit. Hulle praat van "selfbeskikking". Van "self governance". Van "eie gemeenskappe". Van "ons moet ons eie mense eerste help".

Maar as jy die ongesegde sinne bylees, wat beteken dit?

"Selfbeskikking" – vir wie? "Self governance" – oor watter gebied? "Eie gemeenskappe" – wie is in, wie is uit?

Hulle is slim genoeg om dit nie te sê nie. Maar die waarheid is: hulle bedoel wit mense moet ongehinderd deur die ANC hul eie regerings hê. Dis apartheid in nuwe klere. Dis dieselfde struktuur, dieselfde logika, dieselfde uitsluiting – net met 'n ander naam.

En wanneer hulle beskuldig word van terughunkering na die verlede, sê hulle: nee, ons kyk juis na die toekoms. Dis 'n toutologie. Niks in die wêreld sal ooit presies wees soos dit was nie. Maar jy kan steeds skuldig wees deur dieselfde strukture weer op die been te bring – veral as jy gehelp word om dit te doen.

Die onlangse Witkruis-projekte in Washington DC wys dit skreiend. Geweld teen wit mense moet prioriteitsmisdaad wees in die oë van almal. "All lives matter, but black deaths don't matter." Dit is nie 'n kreet vir geregtigheid nie. Dit is 'n kreet vir aandag. Dit is 'n kreet vir mag. Dit is 'n kreet wat sê: ons is die ware slagoffers, ons is die ware mense wie se lewens tel.

En so het die debat so ver regs geskuif dat ons lank sal moet teenstaan net om die gedagte dat almal in Suid-Afrika se lewens belangrik is, weer te normaliseer.

In wit groeperinge het iets bereik wat Malcolm Gladwell 'n "tipping point" sou noem. Hulle gee nie meer om om deel van "almal" te wees nie. Wit enklawes lyk al hoe meer na die oplossing. Dis nie die posisie van alle Afrikaners nie – inteendeel, die groep Afrikaners vir SA (AvSA) staan daardie posisie teen omdat hulle kan sien die antwoord op ANC-korrupsie is nie om terug te keer na apartheid nie. Die antwoord is om met alle Suid-Suid-Afrikaners saam te staan en 'n beter regering en beter bestuur in die land oor die algemeen te bewerkstellig.

Maar dit bring ons terug by die waarheid. En die waarheid is dat rassisme steeds sterk is in Suid-Afrika. Daar is mense wat so ver heen is dat logika nie meer vir hulle sin maak nie. Hulle wil nie antwoorde hê nie. Hulle koester hul haat. En Trump het gekom soos 'n wit ridder op 'n perd en hulle laat voel hulle is geregtig om rassisties te wees.

Dis die nuwe normaal – wat dit glad nie is nie. Hulle is net te kortsigtig om te sien die wiel gaan weer draai.

Deel 4: Die gelowiges – waarheid in die boekrak

Maar hier is iets wat ons nie kan ignoreer nie. Trump verloor feitlik elke demografie. Sy steun onder vroue daal. Onder jong mense daal dit. Onder opgevoede mense daal dit. Onder mense van kleur daal dit. Maar daar is een groep waar sy steun nie net stabiel bly nie – dit styg.

Gelowiges.

Hoe kan dit? Hoe kan mense wat hulleself as moreel en geestelik verhewe beskou, hulleself skaar by 'n man wat elke denkbare morele norm oortree het? 'n Man wat lieg, wat vroue mishandel, wat rassiste paai, wat die waarheid self aanval?

Daar is twee antwoorde. En albei is ongemaklik.

Die eerste: Die waarheid is eenvoudig nie belangrik vir gelowige mense nie.

Hulle sê dit self. Hulle noem dit "geloof" – die oortuiging van dinge wat jy nie sien nie. En dit klink edel. Dit klink diep. Maar wat dit in die praktyk beteken, is: ons het 'n storie wat ons vertel, en dit is ons waarheid. Nie die waarheid nie. Ons waarheid.

Wanneer jy met hulle praat oor die werklikheid – oor feite, oor bewyse, oor wat werklik gebeur het – slaan hulle die waarheid toe. Hulle sit dit op 'n boekrak. Hulle laat dit stof vergader. Hulle weier selfs om dit te beskryf. Want om dit te beskryf, sou wees om dit te erken. En om dit te erken, sou wees om te erken dat daar iets is groter as hulle geloof.

Hulle sal nie met jou praat oor die waarheid nie. Die enigste gesprek wat hulle sal toelaat, is geloof – met mense wat alreeds soos hulle glo. Dit is nie 'n debat nie. Dit is 'n versterking van wat hulle reeds glo. Dit is 'n echo-kamer met 'n preekstoel.

So kom jy nie by die waarheid uit nie. Jy versterk net wat jy reeds glo. En hoe meer jy dit versterk, hoe minder is jy bereid om dit te bevraagteken. En hoe minder jy dit bevraagteken, hoe makliker is dit om te glo dat jou geloof die enigste waarheid is. En hoe makliker dit is om te glo dat jou geloof die enigste waarheid is, hoe makliker is dit om 'n man te ondersteun wat die waarheid self verag – want jy het lankal geleer dat die waarheid nie die punt is nie.

Die tweede hipotese is skreiender. En ek weet baie mense sal hiervan verskil. Maar ek glo dit vas.

Geloof is reeds 'n tipe rassisme.

Nie altyd nie. Nie vir almal nie. Die wêreld is nie so eenvoudig nie. Maar as jy dit sou meet – as jy sou kyk na die houding van gelowiges teenoor nie-gelowiges – sal jy 'n beduidende groep vind wat supremisties is oor hul geloof. Hulle glo nie net dat hulle reg is nie. Hulle glo dat hulle beter is. Hulle glo dat hulle 'n moraliteit het wat ander nie het nie. Hulle glo dat hulle 'n waarheid het wat ander nie het nie. En hulle glo dat hierdie waarheid hulle die reg gee om te oordeel, om te veroordeel, om uit te sluit.

Dis supremisme vermom as moraliteit en goeie beginsels. Dis die oortuiging dat jou mense – jou geloofsmense – beter is as die res. Dis die siening dat diegene buite die geloof nie net anders is nie, maar minder. Minder moreel. Minder mens. Minder werd.

Dit is dieselfde logika as rassisme. Dit is dieselfde struktuur. Die verskil is net die merker. Rassisme merk mense op velkleur. Geloof merk mense op oortuiging. Maar die uitwerking is dieselfde: uitsluiting, verheffing van die self, en die regverdiging van ongelykheid.

En dit is hoekom Trump so goed vaar onder gelowiges. Hy is nie 'n geloofsmens nie – hy is 'n man van die wêreld, 'n man van geld, 'n man van wellus. Maar hy praat hul taal. Hy sê hy is "pro-life". Hy sê hy is "pro-religious freedom". Hy sê die liberale is die vyand. Hy sê hy sal "ons" beskerm teen "hulle".

Hy is nie een van hulle nie. Maar hy is hul instrument. Hy verwoord hul supremsie. Hy maak dit aanvaarbaar. Hy maak dit normaal. Hy maak dit mag.

En dit is die nde gebod wat verbreek word: die leuen wat bedoel is om mense op aarde te verhef. Geloof belowe mense hemelse verlossing, maar dit verhef hulle hier en nou. Dit sê: jy is nie net iemand wat glo nie. Jy is iemand wat weet. Jy is nie net iemand wat moreel is nie. Jy is iemand wat die morele waarheid het. Jy is nie net iemand wat reg is nie. Jy is iemand wat die reg het om te regeer.

Dis die gevaar. Nie die geloof self nie – nie die troos, nie die hoop, nie die gemeenskap nie. Die gevaar is die supremsie. Die gevaar is die oortuiging dat jou waarheid nie net waar is nie, maar dat dit die enigste waarheid is. En dat enigeen wat dit bevraagteken, nie net verkeerd is nie, maar immoreel. Gevaarlik. Vyandig.

Deel 5: Die waarheid wat oorbly

Een dag gaan hierdie Trump-presidentskap verby wees.

Dan sit ons in Suid-Afrika, goddank, met 'n rassistiese minderheid wat hulself mooi ontbloot het ná 30 jaar se relatiewe stilte. En met 'n geloofsgemeenskap wat hulself ook ontbloot het – nie as mense van waarheid nie, maar as mense van hul eie waarheid. Mense wat die waarheid op 'n boekrak gesit en stof laat vergader het. Mense wat geleer het dat hulle nie nodig het om te luister nie, want hulle het al die antwoorde.

Dis nou die realiteit. En op 'n manier is selfs húlle beter af dat Suid-Afrika 'n demokrasie is en dat hulle nie beheer oor die land het nie – anders was ons weer terug by 'n rasse-oorlog. Of 'n geloofsoorlog.

Die waarheid word gereeld aangeval. Dit word verdraai, begrawe, ontken. Deur politici. Deur profete. Deur mense wat 'n storie het om te verkoop en nie wil hê jy moet vrae vra nie.

Maar niemand kan die feit vernietig dat die rassiste in Suid-Afrika die minderheid is nie. Niemand kan die feit vernietig dat die meeste mense in hierdie land dit wil sien sukses bereik nie. Niemand kan die feit vernietig dat daar mense is – swart, wit, bruin, gelowig, ongelowig, van alle kante – wat saam wil staan vir 'n beter toekoms nie.

Dit is hoekom Suid-Afrika 'n blink toekoms het ten spyte van sy probleme.

Nie omdat die waarheid gewen het nie. Nie omdat die rassiste verdwyn het nie. Nie omdat die gelowiges die waarheid begin erken het nie. Maar omdat die waarheid onvernietigbaar is. Dit staan steeds daar. Voos. Stil. Onopvallend. En dit wag vir ons om terug te keer.

Die vraag is nie of die waarheid gaan oorleef nie. Dit gaan oorleef. Dit het al oorleef. Dit het miljoene jare oorleef voordat daar mense was om dit te ontken. Dit sal oorleef nadat die laaste gelowige en die laaste rassis en die laaste leuenaar stil geword het.

Die vraag is of ons dit gaan erken. Of ons bereid is om ons verhouding met die werklikheid te herstel. Of ons die moed het om te sê: hierdie land is vir almal. Nie net vir die mense wat soos ek dink nie. Nie net vir die mense wat soos ek glo nie. Nie net vir die mense wat soos ek lyk nie. Almal.

Dis nie 'n maklike pad nie. Dit verg moed, geduld, en nederigheid. Maar dit is die enigste pad wat vooruit lei.

Die waarheid is voos, maar onvernietigbaar. En dis die enigste ding waarop ons kan bou.

Lees op DiePunt