Naledi — steeds 'n ster in die uitgewersbedryf Oom Ho
Onregsdienaars

Onregsdienaars

My eerste gedagte toe die Policia de Mendoza se spietkop hand-in-die-lug in die pad inloop was dat ek te vinnig gery het. Maar toe ek my huurvoertuig se venster oopmaak en dokumente oorhandig, blyk dit my oortreding was om nie helderoordag my kopligte aan te hê nie. Toe die geregsdienaar die insittendes bejeën bemerk hy boonop dat Daniel op die agtersitplek sy veiligheidsgordel van sy skouer afgeglip het.

Ek klim skoorvoetend uit – dit is Oukersdag en ek het nie lus vir die papierwerk, oponthoud en koste van dié prosedure nie. Agter die twee offisiere se Chevrolet-patrolliemotor verrys die sneeubedekte Andes-piek van Cerro el Plata 5 968 meter.

Hier in die voetheuwels het ek egter meer prosaiese kwellinge: ons twee verkeersbemptes – vir my is hulle nou Mario en Gatto, die slinkse kat en jakkals in die oorgeklankte Pinocchio van my kinderjare – sprak g'n sprook Engels, maar uit hul gepynigde uitdrukkings blyk dit hierdie is érnstige oortredings...

Dan verwoord hul vertalingstoep hul gesigsuitdrukkings: báie ernstig. "Reg, so wat moet ek nou doen," tik ek bedeesd op Gatto se foon in. Nee, hulle gaan 'n boete moet uitskryf en ek moet dit dan gaan betaal by enige bank in die provinsie Mendoza, antwoord die foon.

Hmmm... Dis Oukersdag en geen banktak weer oop tot ná ek Tweede Kersdag na 'n ander provinsie vlieg nie, verduidelik ek. Gatto – kort, plomp en bles – voer die woord, maar hy verwys deurgaans vir bevestiging na Mario – lank, lenig en enigsins slinkser van voorkoms.

Vir eers probeer ek met die toep-tussengang vasstel hoe ek my wetlike pligte kan nakom en vort. Êrens kom die gedagte by my op dat Mario en Gatto dalk hier is vir 'n bietjie private "fondsinsameling" met die oog op more se feestelikheid, maar dan pons Gatto die besonderhede van my misdryf in 'n oënskynlik amptelike masjientjie op sy enjinkap en dié spu 'n strokie wat onbetwisbaar amptelik lyk – 'n regte boete van 76 000 pesos (so rondom R1 000...), kompleet met afslag vir die skulderkenning wat ek daar en dan moet onderteken.

En ja, sê Gatto deur die toep, ek mag dit nou in kontant betaal. As 'n guns om verdere vertraging te vermy, voeg hy onheilspellend by. Maar ek is 'n onskuldige, wetsgehoorsame siel en ek kry steeds nie die kloutjie by die oor nie: dit is dan aangeteken in daardie amptelike masjientjie?

Dus stap ek na ons kar, waar Theresa reeds die 76 000 pesos uitgetel het (in 1 000 peso-note!), kom doodluiters terug na Mario met die vet pak banknote, sodat hy dit kan tel. Die aangesig van die kontant hier in die oopte bring 'n nuwe animasie in Mario: oombliklik is hy langs my, sy lyf tussen die banknote en die pad (wat genadiglik stil is), en die boete verdwyn soos mis voor die son – uit my hand en in sy uniform.

Dan kyk hy my stip in die oog en kommunikeer 'n boodskap wat nie taal benodig nie: hierdie is streng "tussen ons", beduie hy. Die vertalingstoep het kennelik die woorde van die transaksie oorgedra, maar nie die betekenis nie; ek besluit om liefs nie vir 'n kwitansie te vra nie...

Ek wonder steeds oor die masjientjie op die enjinkap: 'n boete kan tog nie omkoopgeld word as dit amptelik aangeteken is nie? Maar Mario kon nie gedink het ons betaal 'n boete nie, want hy het nooit eens die geld probeer tel nie.

'n Week later in 'n ander provinsie lag 'n Argentyn vir my relaas: nee wat, Mario en Gatto het voor ek in tweede rat was al reeds daardie gedrukte "boete" opgeskeur, seg hy.

Watookal die waarheid, in my ontmoeting met hierdie twee deugniete in die skadu van die Andes het ek in mikrokosmos iets beleef van die probleme wat Argentinië se welvaart en sukses vir twee eeue reeds beduiwel.

Vorige Naledi — steeds 'n ster in die uitgewersbedryf Volgende Oom Ho
Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗