Onregsdienaars Notturno
Oom Ho

Oom Ho

Hanoi, April 2002

Wat 'n smeulende teenstrydigheid! Hier leun ek, uitlander, terug in die sagte kussings van die cyclo en sy afdakkie hou die son weg, terwyl die bejaarde Viëtnamees trap dat hy sweet om my deur die harwar van Hanoi se strate te karwei. In die spekelied van die cyclo – 'n soort passasiersdriewiel – eggo herinneringe aan vergange tye: die ritme is nie so verhewe soos van 'n draagstoel nie, maar die tema van die riksja is onmiskenbaar. Ieder geval, die deuntjie het meer as net 'n sweem kolonialisme.

Op hierdie maat is ons op pad na die heiligdom van die man wat vereer word vir die afwerp van die Franse koloniale juk van Viëtnamese skouers. Voor die mausoleum van Ho Chi Minh aanvaar my karweier dankbaar die karigheid wat deurgaan vir 'n ruim fooi.

By die mausoleum self gaan dinge streng en ordelik daaraan toe: by een gebou handig ek my sak in, in die volgende – 'n saal met regop houtbankies soos in 'n klaskamer – begin 'n video oor Oom Ho se lewensverhaal. Die hagiografie is egter net in Viëtnamees en ek kry permissie om by die tou van voornemende lykebetragters aan te sluit.

Die kronkelende dubbelgelid deur die tuin bestaan vanoggend oorwegend uit laerskoolkinders in uniforme wit hempies en rooi nekdoekies. Daar is ook 'n handjievol ou mans in die tou, talle met 'n mu coi op die kop; die emblematiese ronde hoedjies van Oom Ho se Vietcong suggereer dat hulle veterane van sy oorloë is. Ek sluit my aan by hulle.

Net soos my voorkoms, onderskei my motiewe my van die menigte om my: die volwassenes onder hulle is hier om hulde te bring by die altaar van 'n kommunistiese en nasionale aartsheilige, die kinders om ingewy te word in sy kultus. Vir hulle is hy hul bevryder van die Franse, en hul leier en inspirasie in die onwaarskynlike triomf oor die magtige VSA.

Maar vir my was Oom Ho nooit veel meer nie as 'n onsigbare Antjie Somers in te veel Viëtnam-flieks. Ek, dus, was hier alleen om my te vergaap aan die bisarre fetisj van Kommunistiese regimes om hulle gebalsemde stigtingsvaders uit te stal.

Ons skuifel in gedempte respek na die ingang van die strak roesrooi-en-grys marmermausoleum. Die streng blikke van 'n falanks soldate in seremoniële wit uniforms verseker woordeloos dat ons gedrag – indien dan nie ons gedagtes nie – suiwer en stigtelik is. Die reëls is onbuigsaam en word meedoënloos afgedwing: geen kameras, geen sakke, geen kortbroeke of kaal skouers, geen hande in sakke, geen glimlagte, geen woorde.

Ek betree die koel interieur en volg die tou op met die trap totdat ek my in die Teenwoordigheid bevind. Maar om te talm is verbode en ek moet vinnig kyk terwyl die tou om drie kante van die lyksbaar skuifel: hy lê daar met sy yl bokbaardjie gebaai in 'n sieklike perskepienk lig, sy hande gevou oor sy maag. Hy besoek Moskou glo elke jaar vir drie maande ter wille van "onderhoud". En al waarvoor hy gevra het was glo om veras te word...

Vorige Onregsdienaars Volgende Notturno
Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗