Oom Ho Laaste lag
Notturno

Notturno

Dié watertaxi is 'n noodshulp op 'n reis van eietydse bevoorregting: My vlug na Venesië sou laatnag land en vir die omslagtigheid van 'n middernagtelike bus oor die brug na die stasie aan die rand van die stad en 'n waterbus so ver hy gaan voor 'n verdwaaltog te voet na my hotel, het ek nie kans gesien nie.

Dus tree ek by die lughawe se kaai aan boord van hierdie dure vervoermiddel. Met een tree is ek terug in 'n era van Italiaanse grasie: hierdie gepoleerde houtbote straal met middel-20ste-eeuse glans – van filmsterre en die elegante lyne van 'n 1950s sportkar.

Wanneer my bootman – hy trek self op 'n 1950s-filmster – sy buiteboordenjin aanvuur, tuimel ek nog verder terug in tyd. Eeue, nie dekades nie, na 'n wêreld van konkrete vloeibaarheid, nie net gevóéd deur water nie, maar gevorm daardeur.

Mussolini se brug van hinterland na eilandstad is soos 'n wond in die lagune, maar hy lê 'n hele ent van hier en is in die nag genadiglik onsigbaar van hier. Ek bevind my ingesluk deur die waterwêreld van La Serenissima.

Vir 'n millennium reeds geniet Venesië die waterige beskerming van haar lagune – 'n watergrag om haar sonderlingheid. Agter ons vervaag die liggies van Mestre en sy lughawe soos 'n falanks van terra firma wat stuit voor die vloeibare skans van die lagune. Daardie enjin ten spyt – hy pruttel inkennig, amper geluidloos – spoel die kalmte van die Kalmste Een aan na die twee van ons – woordelose bootman en ek – in die middernaguur.

Ons vaar deur 'n vloeibare spel van lig en donker. Bo ons talm yl, gryswit wolkies teen 'n uitspansel asvaal ingekleur deur die lugbesoedeling van ons tyd. Rondom dans die navigasieligte van die strandmeer op die rimpelende oppervlak. Hier en daar proklameer briccole – daardie houtdriepote waarvan die saamgekettingde kruine bo die water navigasie reguleer – hul vastigheid amper dreigend.

Ons vaart neem ons vlak verby die punt van Mestre se aanloopbaan op die moment waar ons vaartlyn die vluglyn van 'n inkomende vlug sny; die vliegtuig se helder landingsligte dans in 'n tintelende baan oor die water. Delikater ligstrepe flankeer in fakkelskakerings op dieselfde rimpeling.

Ander vaartuie doem op en kwyn weg soos skimme, maar in die hande van een diep vertroud met hierdie waterwêreld se navigasiekanale, is ons sereen. 'n Groter vaartuig skommel ons in sy vaarwater, maar versteur nie die sereniteit nie. Dan hurk die donker massa van San Michele-eiland op linkerhand; hy is donker want vir eeue reeds is hy die begraafplaas van Venesië – en die dooies behoef nie die aandligte van hierdie ondermaanse nie.

Op die agterboeg, bo daardie enjin, word die Italiaanse vlaggie geroer deur ons spoed. Hier waar ek buite agter die kajuit sit, krap 'n koel wind my hare deurmekaar en ek sien my spieëlbeeld in die bootvensters; die beeld skets 'n behaaglike collage van reis.

By die Fondamente Nuove laat ons die oopte van die lagune agter om ingesluk te word deur die kanaaldoolhof van die eilandstad self. Die ligte brand op die eerste vloere en hier en daar bied ons vaart 'n vlietende blik op 'n waardige piano nobile; uit hierdie opwaartse hoek onthul dit alleen swaar kandelare en edele portrette – geen mense of meubels nie.

Dan, eers dán, word die gordyn teruggetrek voor die grootse droom van die Canal Grande. Hierdie sintese van grasie, glorie en geskiedenis in 'n millennium-oue ondenkbaarheid is – haas letterlik – asembenemend. Hierdie waterweg was eens die slagaar van Westerse beskawing; nou, in die nanag van 'n meer verligte eeu vaar my houtboot hier as erfgenaam van daardie nalatenskap.

Waar ons uit die Canal Grande draai, lê vyf gondolas sonder gondoliers of passasiers saam vasgemaak vir die dag van more: elk dans sy eie interpretasie van die Canal Grande se omgedolwe ritme.

'n Oomblik in tyd, tydloos. Wankelend geanker.

Vorige Oom Ho Volgende Laaste lag
Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗