Die son trek water oor die Saroniese Golf en die dag sypel weg oor die Peloponnesos in skakerings van rooi en goud en amber. Die vis op my bord uit hierdie kalm somersee is eenvoudig: gisternag gevang, vandag gerooster. Die wyn is gebore uit hierdie eilandaardrykskunde.
Hierdie kroeg-restaurant sou nie destyds bestaan het nie – te eietyds, te selfbewus windmakerig. Destyds, toe Leonard Cohen gedig het:
Come over to the window, my little darling
I'd like to try to read your palm
I used to think I was some kind of Gypsy boy
Before I let you take me home
Sy liries-melancholiese gedig-in-sang was gewy aan Marianne Ihlen, sy Sweedse minnares vir wie hierdie eiland saam met hom in die 1960s 'n heenkome was. Dit was 'n geil periode vir die Kanadese liedjieboer, maar hulle seisoen van liefde moes ook uiteindelik draai.
Now, so long, Marianne, it's time that we began
To laugh and cry and cry and laugh about it all again
Om te lag en huil en huil en lag... Die patroon van hierdie lewe eindig in 'n lag. Hoop wortel in die wete van die laaste lag.
Daar hang 'n Griekse skoonheid oor hierdie toneel wat van nêrens elders kan wees nie. By die kroeg werskaf 'n aantreklike jong Adonis tussen bottels en glase. Hy is lank, lenig, donker van gelaat, sy hare stylvol gekap. Sy langbroek is modieus kort bo sy wit sportskoene. Alles aan hom spreek van jeug.
Vir eeue reeds lok die sensualiteit van die Mediterreense somer noorderlinge en stig hulle aan tot wellus en digkuns. En vir millennia reeds is daar vir elke Adonis 'n sater, vir elke Venus 'n Medusa.
Cohen en Ihlen was wandelaars in 'n Boheemse demi-monde van skrywers, kunstenaars, dwelms en kreatiwiteit. Hulle verhouding van 'n paar jaar het die wrokstukke gelaat van sulke verhoudings in so 'n wêreld. Maar op hulle onderskeie sterfbeddens – binne vier maande van mekaar – het hulle teer boodskappe uitgeruil.
Your letters they all say that you're beside me now
Then why do I feel alone?
I'm standing on a ledge and your fine spider web
Is fastening my ankle to a stone
Die Hydra van hul hartstog bestaan nie meer nie. Daar is nog cafés aan die waterkant, maar hulle bedien nou 'n wel-af internasionale klandisie, eerder as boheemse swerwers. Daar is steeds muile, eerder as voertuie, maar hulle dra nou reistasse én kruideniers. In die hawe lê steeds skuite wat eens vis gevang het, maar hulle vleg nou 'n weg deur die luukse jagte wat ook ingeryg lê. Die swart-en-wit foto's van die 1970s voel eerliker as hierdie volkleurskemer, maar ook onherwinbaar.
Wat bly, is die woorde, frases, note.
Oh, you are really such a pretty one
I see you've gone and changed your name again
And just when I climbed this whole mountainside
To wash my eyelids in the rain
Oh so long, Marianne, it's time that we began
To laugh and cry and cry and laugh about it all again.
Teken in om te kommentaar