Skemeraand ry ons deur Islamabad. Mansoor is agter die stuur. Hy is 'n trotse Pakistani – geen geringe prestasie, gegewe die reputasie waaronder sy land gebuk gaan nie – tot by die goue borsspeld van 'n bokkop op die lapel van sy driestukpak. As Rodney Seale dit in my tienerjare gesien het, sou hy satanisme geruik het, maar dit is maar net die markhor – die nasionale bok van Pakistan.
Islamabad is in die 1960s opgerig as die hoofstad van moderne Pakistan en die reguit, haaks strate waardeur ons ry spreek van daardie betreklike onlangse wordingsgeskiedenis. Dit is 'n vreemde kombinasie van Delhi en Pretoria: ‘n stad van militêre offisiere, politici en staatsamptenare, met 'n sweempie van Delhi se skeppende wanorde te midde van "amptelike argitektuur".
Ten noorde die stad verrys die donker massa van die Margalla berge; volg jy hulle rûe en valleie bevind jy jou kort-voor-lank in die plofbaar betwiste streek van Jammu en Kasjmir tussen hier en Indië.
Maar ons bestemming is naderby. Mansoor draai in by 'n straat in die G9-streek waar die geur van gebraaide skaap haas oorweldigend in die lug hang. Heeldag al dreig en beloof hy: as ons die ware hart van Islamabad wil voel klop en wil eet soos 'n boorling van hier, moet ons kom na hierdie "Pasjtoen lam" restaurant: Khyber Shinwari.
Nou is ons hier, en geparkeer. Ons ongevraagde karwag dra 'n AK47 oor sy skouer; ek gee voor om dit nie te sien nie en troos my daaraan dat die kar seker veilig sal wees. Of dit, of vol gate. 'n Dik walm braaivleisrook hang oor die straat, soos 'n wildtuinkamp teen skemer of 'n plattelandse kerkbasaar se braai.
Ons gaan Khyber binne nie soseer by 'n deur nie, maar deur 'n "erewag" van ons aandete. Aan die een kant hang 'n dosyn heel skaapkarkasse; aan die ander sweet twee sjefs tussen 'n halfdosyn braaivleisvure. Op party braai die lam; op ander prut lamskerrie in die karahi, 'n wok-agtige bak.
Ons word 'n tafel toegewys in die "familie-area". Hier is geen families nie, nie eens enige vrouens nie, maar hier is tafels en stoele; langsaan is alleen 'n saal met matte en rugkussings waar dosyne mans plat op die vloer sit en eet onder 'n karos van gesellige geroesemoes tussen die skoene wat hulle uitgetrek het vir ete.
Deur die venster sien ons daardie skaapkarkasse. Hulle word deur die loop van die aand minder, want vir elke bestelling reik een van die twee mans wat kruisbeen tussen hulle sit na vore en hak 'n stuk lam af met 'n kapmes, voor hulle die vleis op 'n blok voor hulle opkap met 'n vleisbyl. Die Amerikaner saam met ons merk lakonies op: "Ek sal nie sê hierdie uitsig bederf my eetlus nie, maar dit het beslis die verhouding tussen my en my aandete verander!"
Daar is net drie geregte: tjops gebraai op die kole ("dumba"), 'n tamatie-gebaseerde lamskerrie ("karahi") en "sosaties" op metaal-vleispenne die lengte van 'n ridderswaard (die pen heet 'n "seekh"). Mansoor het op pad in reeds dumba karahi bestel – 'n bak gebraaide tjops gevolg deur een van daardie kerriewokke. Dit en 'n naan-brood. Van eetgerei is daar min sprake – hierdie is ontwerp vir hand-etery. Die tjops is gaar maar nie droog nie en hul eenvoudige kombinasie van sout en uitgebraaide vet is koshemel. Die vet se pasmaat in die karahi is kerrie – nie te skerp nie – en die asiditeit van vars tamatie.
Shinwari – hierdie styl van restaurant en kookkuns – stam uit die Pasjtoen-streek rondom Peshawar en Afghanistan, maar vir Mansoor is dit onbetwiste hartskos. "Afghanistan" en selfs "Pakistan" is per slot van rekening grootliks koloniale en moderne skeppings wat 'n veelvoud kulture soms ongemaklik saamgegooi (en soms nog ongemakliker verdeel) het.
Op die kole en in die karahi waar verby ons uitstap met daardie gesellige geroesemoes agter ons, word 'n gedeelde kultuur veel dieper as nasieskap elke middag en aand verorden.
Teken in om te kommentaar