Daar is iets van 'n ouderwetse krygslinie aan hierdie toneel. 'n Redelike yl linie, weliswaar, maar die enigste "vyand" is darem geveer, eerder as gewapen. Aan my is staning 10 toegeken op hierdie derde dryfjag van die oggend. By elk van die ander nege stanings is een "geweer", aangetrek, soos ek ook vanoggend, in modderstewels met lang kouse oor my broekspype en 'n stemmige jagbaadjie met sakke vol haelgeweerpatrone. Oor elkeen se arm hang 'n oopgeknakte haelgeweer.
Daar is 'n digterlike Engelse tydloosheid aan hierdie toneel. Die wasigheid van 'n wintersoggend. Die palet van jong groen wintergewasse – suikerbeet, koolrape – swartbruin kleimodder, 'n lae grou uitspansel. En die karakters van 'n Engelse platteland. Nie landadel nie, maar gewone boere, bouers, eiendomsagente en dokters van hier rond. Vanoggend, in hierdie linie, is hulle egter 'n tipe: meedoeners aan die ou ritueel van die fisantjag.
Die linie beskryf die kontoer van 'n lae heuwel gekroon deur 'n donker bos van essehout, beuk en berk. Uit daardie bos klink die staccato-krete van die klopjaers wat die wildvoëls – patrys, fisant, houtsnip – aandryf na die oorgehaalde linie.
Dan klap die eerste vlerke uit die rigting van die bos. Hierdie fisante is nie die beweeglikste voëls op Gods aarde nie – hulle vlieg laag en reguit, anders as die vlugge patryse en ratser houtsnip. Die skote begin klap heen-en-weer langs die linie. Die vlug van twee dosyn voëls eindig in 'n onwaardige tuimeling grondwaarts. 'n Patrys en twee fisanthane swig voor my loop – geen slegte opbrengs vir 'n amateur nie. Dan is die vlug verby, die voëls bymekaar gemaak en die gewere weer oopgeknak.
Heupflessies kom te voorskyn teen die koue – port uit een, sloe gin tuisgemaak met jenewer, suiker en sleedoring-bessies uit 'n ander. Ná die derde dryfjag klim ons – gewere en klopjaers – weer op die sleepwa agter die trekker huiswaarts vir middagete in die 17e eeuse skuur.
Ete is beide egalitaries en hiërargies: gewere en klopjaers eet afsonderlik en eersgenoemde eet 'n keuriger noenmaal – koue vleise, voorslag-patees, nog port teen die klam koue – al is daar nog aandete ook. Maar egalitaries, want in hierdie jagsindikaat is hierdie week se gewere volgende week se klopjaers.
Ná ete volg nog drie dryfjagte voor die vroeë skemer van hierdie breedtegraad ons terugdryf na die skuur. Hier glip ek – soos al die ander gewere – onopsigtelik die ooreengekome fooi in die hand van Phil, die jagopsiener.
Phil het reeds die jagbuit van die dag – die "bag" – uitgelê teen die muur van die skuur: 'n honderd-of-wat fisante en patryse. Gewere en klopjaers kan elkeen vat wat hulle wil hê vir die pot. Ek vat vier fisanthenne – sappiger as die hane, glo.
In die ritme en ritueel van die fisantjag – die seisoene van groei en dood, die geykte humor en nabyheid aan die aarde, die verband van spys en dood, die samekoms van 'n gemeenskap in sy landskap, die eggo's van die eeue – is daar 'n uitdrukking van sonderlinge Engelsheid.
Hierdie is nie om te gaan jag in die Bosveld nie, hierdie is fisantjag in die Engelse platteland. En in die sin van plek lê die skoonheid.
Teken in om te kommentaar