Dr Ben du Toit is 'n Suid-Afrikaanse teoloog, voormalige predikant en senior amptenaar in die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk.
Hy is in 1950 in Malawi gebore, met kinderdae ook in Zimbabwe en Kaapse Skiereiland. Hy het die grade BA en BTh, asook lisensiaat in Sending wetenskap, aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, asook later 'n MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van Port Elizabeth (huidig Nelson Mandela Universiteit). Hy het bekendheid verwerf as kritiese teoloog en skrywer, met 'n fokus op hedendaagse geloofsvrae.
Hy het vir 38 jaar in die NG Kerk gedien: eerstens as gemeentepredikant, en later in 'n senior administratiewe rol as Direkteur van Kommunikasie en Argivaris van die NG Sinode van die Wes- en Suid-Kaap, terwyl hy as die Parlementêre Lessenaar, asook die Taakspan vir Leer- en Aktuelesake van die Algemene Sinode van die NG Kerk behartig het. Hy was ook betrokke by verskeie sinodale taakspanne en het 'n invloedryke posisie in kerkleierskap beklee.
Hy het verskeie boeke geskryf: God? Geloof in 'n postmoderne tyd (2000), Sprakeloos oor God (2012)en God: Is daar 'n ander antwoord? (2020), waarin hy worstel met teologiese en post-moderne geloofsvrae, en later 'n meer radikale siening vir die ondersteuning van 'n radikaal bevrydende humaniteit.
Na sy aftrede in 2015 uit die voltydse kerkbediening, het hy homself aan die Livingstone Academy bekwaam as geregistreerde Suid-Afrikaanse toergids (SA Toergids), waar hy sy passie vir reis en kultuur uitleef.
Johann Symington sal onthou word as ’n oorgrens-mens, skryf Ben du Toit.
Toe ek die afgelope week Suna se boodskap kry dat haar pa [oorlede is](https://www.netwerk24.com/nuus/mense/ng-kerk-groet-geliefde-ds-johann-symington-20260908-0914), het dit vir my gevoel asof daar as’t ware ’n groot, stil ruimte in die universum oopgegaan het.
Dit was nie ’n slegte ervaring nie. Net vreemd.
Ek het dit eers nie indringend probeer verstaan nie, maar gaandeweg het mense van oraloor sosiale ruimtes begin volmaak met hulle stories en persoonlike ervarings van hierdie besondere man. En steeds hou dit aan – veral in die sosialemediaplatforms, maar ook in kerklike en sekulêre publikasies. Elkeen kom met ’n eie invalshoek – heeltemal geldig vanuit ’n persoonlike ervaring.
Johann Symington was iemand.
Hy was anders.
Ek het hom die eerste maal ontmoet op Colesberg in 1976. ’n Gemeenskaplike vriend, Johan Botha, het ons aan mekaar voorgestel.
Ons was toe reeds as studente vurig in protes teen apartheid, asook die gevolglike verdeeldheid in die kerkfamilie.
Ons was daar op besoek as deel van die Kweekskoolkoor wat in die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat getoer het. Ons sou die aand in die NG Kerkgebou optree. Maar Johan wou my aan iemand in die hartjie van die Karoo voorstel wat vir my ’n verrassing sou wees, naamlik die nuwe dominee van die NG Sendingkerk op die dorp. En hy was anders. Hy’t lang hare gehad en jeans gedra.
Dit was toe baie ongewoon – veral in die Sendingkerk waarin ek en Johan Botha albei grootgeword het. Dit was daar waar ek toe ook hoor dat hy met Hendrina (Hennie) getroud is. Ek en sy was in Bulawayo in Suid-Rhodesië (later Zimbabwe) albei leerlinge aan die Excelsiorskool. ’n Besondere band en bewuswording van mekaar het oor jare verder gegroei.
Later het ek soms by hulle in Johannesburg tuisgegaan. Hy was toe die predikant van die Andrew Murray-gemeente. Hy was gek na die stad. So tuis soos ’n vis in die water. Hy het my daaraan voorgestel: klein, eksotiese restaurante, vreemde kosmopolitiese plekke in Melville, Yeoville en Hillbrow, diep in die hart van die stad. Vreesloos en gelukkig het hy gegroet, gesels en gekuier.
Hy was ’n goeie en geliefde dominee. Hy was ’n woordkunstenaar. Hy kon werklik van enige preek of optrede ’n poëtiese aanbieding maak wat ’n mens op vlakke roer waarby die rasionele intellek nie altyd sonder meer kan bykom nie, omdat dit tussen die botone en ondertone van die komposisie ’n estetiese betekenis oordra wat moeilik beskryfbaar is, maar diep ervaar word – veral as jy, oorweldig daardeur, iets van jouself daarin herken.
Later het ons mekaar meer gereeld ontmoet en saamgewerk binne die vergaderruimtes van die algemene sinode van die NG Kerk.
Hy het direkteur van kommunikasie van die NG Kerk geword, wat ook die pos van redakteur van *Kerkbode* en *LIG* insluit. Na my wete die eerste redakteur van *Kerkbode* wat nie lid van die Afrikaner Broederbond was nie.
Saam het ons in die kommunikasiestrukture van die kerk gedien. ’n Ruimte wat nie altyd vir hom natuurlik en gemaklik was nie, want hy was ’n vrye gees en nie noodwendig ’n bewaker van strukture nie.
Om vreemdes bymekaar te bring en na hulle te luister was sy passie. Hy was ’n oorgrens-mens. Soos vir my en vele ander van ons, was die verskeurdheid van die NG Kerkfamilie, asook die onverkwiklike en mensonterende gay-debat in die kerk vir hom tot die einde ’n pynlike realiteit.
Die algemene sinode van 2004 in Hartenbos het ’n hele paar sensitiewe sake oopgebreek, waaronder die herbesoek van die kerk oor interne verdeeldheid en sy standpunt oor homoseksualiteit.
Uit hierdie sinode het twee strome van indringende besinning gevloei.
Die een het gelei tot ’n reeks kerklike konferensies oor die Belydenis van Belhar en kerkeenheid. Dit het plaasgevind by die Achterbergh-kampterrein naby Krugersdorp.
Die ander een het gelei tot die sameroeping van die Gay-Taakspan, veral voortvloeiend uit ’n aangrypende en uitdagende persoonlike getuienis van die skriba van die algemene sinode, ds. Cassie Carstens, oor sy seun se erkenning aan hom dat hy gay is.
Cassie het die sinode in die oë gekyk en gevra: Moes ek daardie aand my seun net daar los en na klippe gaan soek om hom dood te gooi soos die Bybel beveel om te doen?
Intussen het Suid-Afrika ná apartheid nie die vreugde en bevryding vir miljoene armes en benadeeldes gebring waaroor ons gedroom het nie. En behalwe om daaroor te weeklaag, wat kon die kerk doen om ’n hoopvolle verskil aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap te maak, iets wat hy self kon skep – hy wat in wese self so verdeeld was?
Teen die agtergrond hiervan word daar in 2005 ’n predikantebyeenkoms in Bloemfontein gereël, en tipies van Johann kry hy onder andere die jong Jak de Priester om voor die dominees op te tree.
Ek sal altyd die onvergeetlike oomblik onthou toe Johann op ’n bepaalde dramatiese oomblik in die program, sonder aankondiging van die outeur of oorsprong van die woorde, ’n voorlesing begin doen. In sy tipiese stemtoon, effe afgemete, in sy eiesoortige Afrikaanse uitspraak hoor ons:
Nog nooit, mensekinders,
was daar soveel smart nie in die bors, in die lapel, in die baadjiesak,
in die glas, in die slagterswinkel, in die rekenkunde!
Nog nooit soveel smartlike teerheid,
nog nooit het die afstand van so naby aangeval,
nog nooit het die vuur
sy rol beter gespeel nie van ’n koue dooie!
Nog nooit, Meneer die Minister van Volkswelsyn, was die welsyn
sterfliker
en het die migraine so gepynig nie hier reg voor die voorkop!
En elke meubelstuk vind in sy kas, smart,
die mens, in sy borskas, smart,
die akkedis, in sy borskassie, smart.
……
Die smart gryp ons, o mensebroers
van agter, van voor,
en plaas ons in die bioskope,
nael ons vas in die grammofone,
trek die naels uit in ons borste, val loodreg
op ons kaartjies af, op ons briewe;
en dis so ’n strawwe smart, ’n mens kan bid.
Want as gevolg
van die smart, is daar party
wat gebore word, andere groei, andere sterf,
en andere wat gebore word en nie sterf nie, en andere,
wat nóg gebore word nóg sterwe. (Hulle is die meerderheid).
En ook as gevolg
van die lyding, is ek treurig
tot in my kop, en nog treuriger tot in my enkel,
om die brood te sien, gekruisig, die raap,
bebloed,
die ui, huilende,
die graan, oor die algemeen, meel,
die sout, verander tot stof, die water, vlugtende,
die wyn, ’n ecce homo,
die sneeu so bleek, die son so dor!
Op ’n manier wou hy met hierdie vreemde woorde die pynlike bekendheid van die huidige konteks van kerkwees met ongemak aan ons opdring, met die vraag: Wat moet ons doen? Wat kan ons doen om van hierdie ellendige toestand iets beter te maak? Het die kerk dit in haar – om iets te doen? In haar strukture? In haar hart? In haar evangelie?
Want, my broerse (laat staan in skande nog die susterse), hierdie woorde kom nie uit die pen van ’n begaafde lid van die moderamen nie, nie van ’n taakspan van leer en aktuele sake nie, nie uit die pen van ’n begaafde Afrikaanse digter nie, maar is meer as ’n eeu gelede geskryf deur César Vallejo (1892-1938), ’n Peruaanse digter en skrywer.
Hiermee wou Johann uitdaag met die gedagte: Om te weeklaag en te treur, dit kan ons almal doen, in sovele tye selfs erger as ons s’n – en dit is roerend en aangrypend, maar die vraag is, wat maak ons daarmee? Ons kan mekaar in die diepste skeure van donkerte inpraat, maar hoe is ons ’n teken van hoop en troos, daar waar die hopeloosheid en troosteloosheid oorweldigend in die psige van ons landgenote elke dag vasgebrand word?
Johann het geweier om ooit oortuig te word dat hy vir enigiemand iets beteken het. Met die laaste koffie wat ons saamgedrink het, Oktober verlede jaar, wou hy teenoor my volhou dat sy lewe niks beteken het nie.
Tydens ’n geleentheid ter viering van Hennie se lewe vroeër vanjaar in Welgemoed, het ek die woorde van César Vallejo weer vir hom gelees, hom in sy oë gekyk en gesê: Weet jy hoeveel jy vir my en honderde, duisende ander mense in jou lewe beteken het? Hy’t net sy kop in ongeloof geskud… en gehuil.
Johann Symington is nie meer nie, maar sy lewe en sy woorde sal en moet verder in ons leef om ’n verskil te maak aan die ellendige faktore wat ons mensdom verskeur.
Dit sou leë, sinlose mooi sinne bly om oor hom te skryf as dit ons nie noop om prakties grense oor te steek wat deur die vooroordele van rassisme, seksisme, selfbehepte nasionalisme, chauvinisme en sieklike narcisme in ons menslike bestaan daargestel word nie. Ons kan ons maklik oorweldig en verlam voel deur die uitsiglose ellende van armes, die sinlose vernietiging van die lewens van onskuldige kinders deur oorlog, deur bendegeweld en die verwoestende verslawingsnetwerke in ons stede en woonbuurte.
… nog nooit het die afstand van so naby aangeval nie…
Ons mag egter nie ophou hoop aan ’n beter toekoms vir ons land nie.
Die regering het ons gruwelik in die steek gelaat – feitlik op alle denkbare gebiede.
Daar’s egter baie ander verbeeldingryke inisiatiewe van private instansies, die sakesektor en kommersiële landbou wat ’n mens opgewonde maak. Baie van ons wat hier lees, neem dalk reeds in die praktyk deel aan sulke konstruktiewe, opbouende projekte, van reusagtige beleggings deur groot sake tot plaaslike inwoners wat hul sypaadjies versier met pragtige inheemse struike, plante, blomme en bome. Ons sien dit raak.
En hoe moeilik dit ook al soms is, moet elke onderwyser wat voor ’n klas staan, weet dat hy of sy besig is met die belegging van ongekende potensiaal in elke kind wat voor hulle sit – kinders wat nie verdien om puttoilette te moet gebruik en in vrees te leef as hulle die skoolterrein verlaat nie.
Uiteindelik is ons nie magteloos teen die ellende wat ons omring nie, nie terwyl ons die keuse het om iemand aan te raak, in die kelner wat ons bedien se oë te kyk en belang te stel, vir die vullisvragmotor se manne en vroue te bedank – en dalk op ’n dag in die verbyskarrel ’n koue koeldrank op ’n snikhete dag aan te bied nie.
Dink net aan hoeveel vreemdelinge jy elke dag in die verbygaan teëkom. Het jy al vir die petroljoggie gevra hoeveel kinders hy het en waar hulle woon? Ons het geen verskoning wat ons daarvan kan weerhou om grense oor te steek en menslikheid te betoon aan diegene wat dit nie van jou verwag nie – of dalk in elk geval van niemand verwag nie.
Johann Symington, ’n oorgrens-mens, wat van hierdie wêreld ’n beter plek gemaak het – en van mense beter mense.
Regimeverandering. Dit was Donald Trump se motivering vir die militêre inval in Iran.
Die Amerikaanse president het verskeie redes daarvoor gegee: Die land was 'nkernbedreiging vir die wêreld; die Iranse regering het vanuit godsdienstige motivering verskeie maatreëls ingestel wat 'n bedreiging is vir die menswaardigheid van sy inwoners; duisende onskuldige mense wat in opstand gekom het teen hierdie onderdrukkende maatreëls van die teokratiese regering, is doodgemaak.
Volgens Trump moes Iran se inwoners gehelp word om 'n nuwe regering saam te stel, wat van Iran 'n meer aanvaarbare land (vir Amerika) sal maak. Hoewel 'n mens kan saamstem met van die motiverings, het dit egter, voorspelbaar, tot net die teenoorgestelde gelei: Inwoners van Iran het toenemend verenig teen die aggressie van Amerika en Israel.
Om egter te verstaan watter skokkende ingryping hierdie militêre optrede van die Trump-administrasie werklik was, kan ons as wit (veral Afrikaanssprekende) Suid-Afrikaners onsself goed indink as ons na ons eie geskiedenis kyk en ons verbeelding vlug gee.
In 1948 kom die Nasionale Party aan die bewind. Deur'n hele reeks maatreëls, onder meer om die twee huise van die parlement, asook om die appèlhof se getalle te manipuleer, slaag hulle daarin om die beleid van afsonderlike ontwikkeling te ontwikkel en deur middel van wetgewing te implementeer.
Die NG Kerk ondersteun die beleid deur sinodebesluite en volkskongresse in die vyftigerjare. Daarmee het politiek en godsdiens saamgewerk om miljoene Suid-Afrikaners hul (mense)regte te ontneem.
Elke jaar is dié wêreld- en mensbeskouing as'n goddelike opdrag versterk by Geloftefeeste met die herdenking van die Slag van Bloedrivier. Vanaf die Kaapprovinsie tot in Suid-Rhodesië (Zimbabwe) is die konsep van die Afrikaners as die uitverkore volk van God in preke, toesprake, liedere en simboliese handelinge vasgelê.
Die vereenselwiging met die Bybelse Israel se oorlewingsgeskiedenis in die handhawing van hul godgegewe identiteit, was 'n maklike eksegetiese vertolking, terwyl enige opposisie daarteen beskou is as volksvreemde bedreigings wat met hand en tand - en selfs militêre geweld - teengestaan moet word. Dit is beskou as 'n goddelike roeping in die oë van die wêreld is apartheid egter, veral teen die agtergrond van die onderdrukking en onmenslike uitwissing van miljoene Jode deur die Nazi's in Duitsland, gesien as 'n vertrapping van die menseregte van miljoene mense in Suid Afrika. Uiteindelik is apartheid amptelik internasionaal tot 'n misdaad teen die mensdom verklaar.
Die bedreiging vir Suid-Afrika se mense en die wêreld is verder versterk deur die feit dat Suid-Afrika met verryking van uraan op die drumpel gestaan het om 'n eie atoombom te ontwikkel. En die stryd binnelands, asook vanuit die buiteland, om 'n regimeverandering in Pretoria tot stand te bring, het in alle felheid toegeneem.
Dit was juis sedert die 1960's dat die protes van die wêreld teen hierdie apartheidsbeleid tot uiting gekom het in vele opstande en protesoptogte in die strate van Suid-Afrikaanse stede - dikwels met geweld begroet deur die regering - en selfs toenemend in ander wêreldstede, asook op universiteitskampusse oral in die Weste.
Gestel pres. Richard Nixon van die VSA het in 1970 besluit om Suid-Afrika militêr aan te val in 'n poging om 'n regimeverandering in Pretoria moontlik te maak sodat die (goeie) mense van SA 'n nuwe regering kon saamstel.
Die heel eerste teiken vir die VSA se militêre magte sou sekerlik die vernietiging van die uraanverrykingsaanlegte by Pelindaba, wes van Pretoria, wees. Daarna sou Waterkloof se lugmagbasis, asook die Mirage-eskader in Pietersburg volg. Met 'n aanval op die primêre wapenarsenaal by De Aar, word 'n skool ook getref en 35 kinders sterf. Talle is beseer. Tegelykertyd word Simonstad aangeval en daarna die Ysterplaat-lugmagbasis. Die volgende dag volg bomaanvalle op Saldanhabaai en die brandstofopslagplek gaan in vlamme op. Die kollaterale skade in al hierdie gevalle is tienduisende mense dood en beseer binne enkele dae.
Hoe sou ons daaroor voel? Veral diegene onder ons wat aanvanklik en steeds rasionele verkonings uitdink vir die skokkende uitwissing van infrastruktuur en mense in Iran deur Amerika en Israel vandag?
En hier is ons - én die hele wêreld se - probleem tans: Die oorlog en geweld in die Midde-Ooste sal nie ophou nie. Geen onderhandeling met Washington sal vertrou kan word nie. Die rede? 'n Buitengewoon magtige leier met 'n gevaarlik onstabiele persoonlikheid.
Volgens talle kundiges vertoon Donald Trump duidelik psigologies wanfunksionele gedrag. Hulle beskou hom as 'n prototipe van 'n narsis met psigopatiese gedragspatrone. Tipies van hierdie persoonlikheidsversteuring, sê hulle, is die onvermoë om skuld te erken.
Trump is totaal en al versot op homself. Dit sien ons telkens in sy internetplasings, asook teenstrydige opinies en besluite. Wat verkeerd loop, is die skuld van ander.
Byvoorbeeld, sonder om enige ander moondheid te raadpleeg, begin hy Iran eensydig aanval, maar wanneer dinge verkeerd loop en dit tot allerhande wêreldwy ellende lei, kla hy dat ander lande hom nie wil help nie. Dit is absoluut verregaande dat hy hulle daarvan beskuldig dat hulle nie wil help nie teen die rampspoedige gevolge van dit wat hy (en nie hulle nie) veroorsaak het.
Dis 'n skrikwekkende gedagte dat die geheime kode vir die aktivering van 'n atoombomaanval aan só 'n mens toevertrou word. En, tipies van hierdie soort geestesversteurings, is dit nie behandelbaar nie. Trouens, dit sal net vererger.
Al wat die wêreld kan red van 'n intense ramp, is 'n dringende regimeverandering in die Withuis. En die enigste manier waarop dit vreedsaam kan gebeur, is as die burgers van daardie land deur middel van die doeltreffende funksionering van die demokratiese prosesse te werk gaan.
Ek het elke week die voorreg om 'n nuwe groep Amerikaners drie dae deur die Kaapse Skiereiland en Wynland te vergesel. Die profiel van hierdie groepe is uiters uiteenlopend: Demokrate en Republikeine, gelowiges, agnostici en ongelowiges, van alle rasse en ouderdomme.
Ons het as geregistreerde toergidse 'n baie streng gedragskode, onder meer dat ons nie in politieke of godsdienstige argumente betrokke sal raak nie. Maar ek luister na hul gesprekke en beantwoord hul vrae oor ons land so lojaal en eerlik as moontlik.
Daar is onder almal 'n groeiende tendens dat hulle hulleself skaam vir die optrede van hul president. Hulle het nog altyd hulself as gelukkig en bevoorreg beskou om in'n land te woon waar mense omgee en van die wêreld 'n beter plek wil maak. Met Trump is dit nie meer só nie. Selfs diegene wat hom lof wil toeswaai vir sekere dinge wat hy vermag het, soos die beëindiging van die onwettige instroming van mense oor die Mexikaanse grens, meen dat wat nou in die Midde-Ooste gebeur, handuit geruk het - tot hul beskaming.
Welbekend is die woorde van Desmond Tutu (1931-2021) kort voor sy dood: "As I have prayed for the fall of the apartheid regime, I am now praying for the fall of the ANC." In 1994 het ons 'n regimeverandering in Suid-Afrika gekry en was ons gevul met hoop en verwagting vir die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika. Nou, 32 jaar later, weet ons dat die belangrikste faktor vir 'n beter toekoms vir alle inwoners van ons land weereens die noodsaak van 'n verandering van regering is. Dit is in die hande van alle Suid-Afrikaners om hieraan uitdrukking te gee met die opkomende verkiesings op plaaslike vlak en nasionaal in 2029. Nie deur geweld en oorlog nie, maar deur konstitusionele prosesse.
Wat die geval Trump teen Iran nog erger maak, is die volgende: Selfs al sou daar binne die volgende maande 'n onderhandelde skikking kom en 'n einde aan alle vyandelikhede, het Trump met hierdie bedenklike aanval op 28 Februarie 2026 vir Amerika 20 jaar of meer se stedelike terreur gekoop.
Afgesien van sy ander sielkundige wanfunksionaliteite, begryp hy duidelik nie die dinamiek van fanatiese, fundamentalistiese godsdiens nie. Terwyl hy self op 'n bedenklike manier godsdiens bysleep by die regverdiging vir en ondersteuning van sy oorlog teen die teokratiese regering van Iran, besef hy blykbaar nie dat hierdie daad (en hierdie datum) van aggressie in die geheue van die Islamitiese gemeenskap ingeëts sal bly nie. Dit sal as motivering en verkoning dien om van sy eie kind, Amerika, 'n teiken vir terreur en bloedvergieting van onskuldige mense te maak. Die geskiedenis het hierdie realiteit oor en oor bewys.
Daar is niks so fanaties boos soos godsdienstige wraak nie. Trump het dit oor Amerika gebring - iets wat sal voortduur lank nadat hy nie meer lewe nie.
Trump se regimeverandering in Iran het nie gerealiseer nie. Maar die skade aan daardie land en sy mense is 'n enorme hartseer realiteit. En die diepe woede wat dit ontketen het, sal nog lank skrikwekkende gevolge hê. Wat die wêreld nou dringend nodig het, is 'n regimeverandering in die Withuis.
(hierdie artikel het op 23 November 2025 in Rapport verskyn)
Ons is drie mans in Saal 6. Ek is die enigste wit man aan hierdie kant, naby die deur wat na die badkamer lei. Oorkant my lê twee swart mans – en heimlik hoop ek dat dit oor my ouderdom is dat ek die bevoorregte bed het, en nie my ras nie. Hulle is baie jonger – so laat 40’s, sou ek skat.
Laatmiddag, terug van die teater, begin daar ’n gesprek tussen die twee. Die taal, isiXhosa. Ek kom agter hulle vertel mekaar van hul mediese geskiedenis. Vir mediese terme word Engelse verbuigings gebruik. My hopeloos gebrekkige “Xhosa-oor” ná 23 jaar in die Oos-Kaap en talle kerkvergaderings, help so ’n bietjie om koers te hou, maar my Chichewa (as gebore Malawiër) befoeter enige gepoogde deelname.
Ek probeer so ’n bietjie na hul komvandaan uitvra, en kom agter die een links is gemakliker in Afrikaans as Engels. Die ander een nét Xhosa en ’n bietjie Engels.
Skielik staan die linkermens op en gaan verlig homself verby my in die badkamer. Met sy terugkeer storm hy bed toe en uiter emosioneel presies vyf woorde – nie een ’n Xhosa-woord nie. Afrikaans en Engels. En nie sommerso nie. Met gevoel en emosie. Sommige sou sê die vloektaal (foul language).
Ek vra simpatiek: is it hurting that much?
“Jirre, Tatamkhulu, f*k!
Dis ’n volledige sin. Alles is daarin. Emosie. Pyn. Verontwaardiging. Onreg. Selfs woede. Sy aanspreek vir my as “Grootvader” gaan my ook nie verby nie.
Heelwat later probeer ek in die halfdonker hoor hoe dit nou gaan. Beter, sê hy. Ek vra vir die regterkantman of hy agtergekom het dat die man in pyn, in totaal, sewe woorde gebruik het om aan sy pyn uiting te gee, maar nie een in isiXhosa nie. Meestal Afrikaanse woorde en ’n paar Engelse woorde. Ons lag so ’n bietjie. Die spanning verlig – en hulle begin verduidelik dat hulle nie eintlik sulke toepaslike woorde in hulle taal het soos wat hulle van die wit mense in die werkplek leer nie. Nogal iets vir nadenke.
Ons praat verder. In twee Afrikatale en Engels en verstaan mekaar. Ayabonga (hulle is dankbaar – toe hy gebore is) en Sikelela (om te seën) se lewensverhale verskil dramaties. Eersgenoemde het nie ’n mediese fonds nie en moes Tygerberg-hospitaal toe. Dit was ’n uitmergelende proses, totdat hy ’n pasaangeër gekry het. Maar toe kom die prostaatprobleem, en vir sy prosedure word hy Netcare toe verwys. Vandaar die skerp, pynlike ervaring vroeër. Sikelela was gelukkig en het met ’n mediese fonds direk hierheen gekom. Ek verwonder my hoedat ons so in mengelklanke ’n hele gesprek voer na mekaar toe en besef net eens weer: Hierdie is my mense. Ons is van Afrika. Ons behoort aan mekaar.
Hierdie gedagte voer my onwillekeurig terug na 2008 se algemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Hammanskraal.
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se moderator het met ’n aanvallende toon sy groeteboodskap aan die gasheerkerk se moderator oorgedra. Heeltemal onvanpas vir die doel daarvan. Baie van ons was geskok en teleurgesteld. Selfs skaam om ons kollegas in die VGK in die oë te kyk. Die onderlinge gesindhede in die vergadering het nooit weer behoorlik daarvan herstel nie. Enige sprake van kerkeenheid was daarmee heen.
Twee weke later is ek op pad na Bloemfontein nadat ek die NG sinode van die Noord-Kaap bygewoon het. Op die ingewing van die oomblik besluit ek om met ons moderator te gaan praat. Ek bel hom by die universiteit. Het jy dalk ’n oomblik tyd vir my? Natuurlik, ou Ben.
Hy beduie my na sy kantoor. Ek val met die deur in die huis en verwys hom weer na sy groeteboodskap aan die VGK-sinode wat soveel onmin gebring het – vir alle praktiese doeleindes die einde van die pad van eenheid in die NG Kerkfamilie: “Jy het my mense beledig en dit is nie aanvaarbaar nie. Doen jouself en die kerke ’n groot guns en gaan koop vir jou ’n lewende hoendertjie. Bind sy voete vas en klim in jou Golf en vat die pad Pietersburg toe en gaan gee dit vir die VGK se moderator as teken van verskoning en simbool van versoening. Só maak ons as Christene in Afrika.”
“Ja, ou Ben, dankie man, ek sal daaroor dink.”
Dit is in oomblikke soos hierdie in die halfdonker hospitaalkamer dat ons gemeenskaplike verbondenheid as boorlinge van Afrika oor taal en kultuurgrense heen ons bewus maak van elkeen se gelyke en verrykende menswaardigheid. Ons is mekaar se mense. Daarsonder is ons nie net arm nie, maar regresseer ons in ons eie eksklusiewe enklawes in en dan, op ’n dag, in ’n oomblik, word ons vreemdelinge, selfs vyande.
Baie later in die donker nag het Sikelela herhaaldelik ’n probleem met die kontrole van sy drupmasjien se alarm wat telkens afgaan – dan soek hy vervaard na sy noodknoppie, maar kry dit nie. Ek het nie eintlik geslaap nie en druk dan my alarm vir hulp. Met die laaste keer, nadat die suster die regstelling kom doen het, skuifel hy by my verby die badkamer binne. Oomblikke later, op sy pad terug na sy bed, draai hy vlugtig in Afrikaans na my.
Dankie, Pa!
· Dr. Ben du Toit is ’n teoloog en voormalige amptenaar van die NG Kerk. Hy is tans ’n Suid-Afrikaanse toergids.
Dis Sondagoggend en met die aanskakel van die toerbussie kondig die radio die begin van ’n erediens iewers in Pretoria aan.
Die tema uit Nehemia is die vaste oortuiging dat elke mens met ’n sekere doel geskape is – en dat dit by ons berus om met goddelike leiding uit te vind wat hierdie doel vir elkeen is – wat die wil van God vir elkeen se lewe is. Daarom die appèl op verdieping in Bybelstudie, gebed, stilwees, gemeenskap met gelowiges ensovoorts, ensovoorts.
Dan kom die kontras by my op: Hoe verruklik is die eenvoud van ongeloof nie? Géén geworstel met die soeke na die wil van God in my lewe nie. Geen vermorsing van ure en ure se studie, lees, gebed en wroeging oor God se plan met my en die wêreld nie. Geen geworstel met ’n eksterne lokus van beheer nie, maar meer verantwoordelikheid neem vir my eie singewing aan die lewe.
Op kykNET versoek een van ons prominente RSG-ankers in ’n onderhoud dat die gesiggie van haar kind asseblief nie gewys sal word nie, want mense sou deur hul TV-skerms oor hom of haar ’n slegte wens kon uitspreek. En die een ná die ander Afrikaanse kunstenaar gebruik hul medium om – vry van die dogmas van kerke, maar steeds vol gesag – uitsprake oor God te maak. En ’n Afrikaanse boek oor engele word ’n topverkoper.
Ek luister in stilte na ’n oudkollega se vertelling oor ’n intieme konferensie by ’n retraitesentrum waar hulle sou reflekteer oor die betekenis van die Imago Dei (mens geskape na die beeld van God) en ek wonder: Hoe is dit moontlik dat mense met soveel jare se navorsing en kennis van die Bybel en teologie, nooit hulself verwonder oor die vraag van hoedat dit in werklikheid die mens is wat vir God (in al sy manifestasies) na sy eie beeld geskape het nie? Van vroeg af reeds, in die evolusionêre ontwikkeling van Homo sapiens sapiens, is dit duidelik gedokumenteer. En dit is ingebed in die voeë van ons taalstrukture.
In Yuval Noah Harari se woorde: Daar’s niks in die hemel wat nie op aarde geskep is nie.
En ’n mens, of ék dan, sou gemaklik hierby kon verbyskuif en in vrede leef, as dit nie vir die feit was dat hierdie konseptuele spirituele newewêreld van geeste/gode en engele/hemelwesens – ’n newewêreld wat sedert ons geboorte met die aanleer van ons spesifieke (kulturele) taal in ons psige ingeëts is – tot soveel eindelose geworstel, selfs smart, ellende en vernietiging van menswaardigheid lei nie.
Iewers tussen 2001 en 2003 staan ek en Ebrahim Rasool, toe die premier van die Wes-Kaap, in die konsistorie van die Groote Kerk en betrag die foto’s teen die mure van die manne van naam, toe hy opmerk: Jy weet, Ben, tydens die struggle was ons, Moslem en Christen, soms nader aan mekaar as aan ons eie mense. Dit was omdat ons ’n gemeenskaplike passie gedeel het, naamlik die stryd teen apartheid en die strewe vir die menswaardigheid van alle mense, veral die magteloses. Baie van ons eie mense het dit nie verstaan nie. Ons is verdink van dwaling en liberalisme, maar vandag kan ons saam hier staan en weet: Die stryd was nie verniet nie.
Elke week loop ek met my Amerikaanse gaste deur die Kompanjiestuin en lees ek vir hulle die aanhef tot ons Grondwet by die Arch for the Arch langs die St. George-katedraal voor. Hulle reageer dikwels emosioneel op die treffende woorde van hoop – en ’n nasionale voorneme vir ’n land waarin gelykheid, geregtigheid en menswaardigheid sal realiseer. Dan loop ons om die draai en ek wys hulle die tydlose aanhalings van die Arch (Desmond Tutu) op die vensters van die kerk.
Veral hierdie een tref: “If you want peace, don’t talk to your friends; talk to your enemies.”
Dis so ’n eenvoudige waarheid. Dis helder en logies. Tog snap so min dit. Dit sou ’n mens drome kon laat droom van die godsdiensleiers van die Jode, Christene en Moslems wat bymekaarkom en, op grond van die vele gemeenskaplike waardes van hul onderskeie gelowe, by ’n eenstemmige punt uitkom. En om dan by hul geloofsgenote en die politieke leiers van Israel en Palestina op vrede aan te dring – veral omdat God/Allah dit van hulle as volgelinge verwag.
In plaas hiervan sien ons, op dieselfde dag, die skokkende beelde van ’n pa wat met sy dooie kind uit die puin van ’n hospitaal hardloop en Allahu akbar (Allah is die grootste) skree, terwyl Benjamin Netanyahu en Marco Rubio hul verbondenheid aan mekaar en die stryd by die Klaagmuur in Jerusalem bevestig. En weer onlangs in die Knesset in Jerusalem haal Netanyahu en Trump albei kwistig uit die Torah aan waar hulle die oorwinning aan Yahweh, die God van Abraham en Dawid, opdra – tot redding van die heilige stad, Jerusalem.
Die jammerlike waarheid is dat godsdiens dit nie regkry om hierdie rol tot vrede te speel nie. Inteendeel. Dis juis in hul geloof in ’n God dat die strydende partye hul motivering vind vir die strewe na oorwinning. Juis dít lei tot oproepe om gebed en dieper toewyding tot gehoorsaamheid.
En dit gaan ver terug in die geskiedenis – sedert Abraham (Abram in Genesis 12) die stem van God gehoor het, wat hom opdrag gegee het om die beloofde land (Kanaän) in besit te gaan neem. In ’n definitiewe sin van die woord het ons hier te doen met ’n stryd tussen God (Yahweh/Elohim) en Allah. Dit sou absoluut ’n ontkenning van die feite voor ons wees om dit as ’n godsdienstig gemotiveerde stryd te ontken.
Die waarheid hier is dus dat, histories gesproke, godsdiens (God) juis die oorsaak van hierdie stryd, geweld, bloedvergieting en menslike ellende is. En ons vind die helder afdrukke daarvan in ons mense se daaglikse geworstel – tot ’n punt waar ’n mens dit regtig as tragies beskou.
Vandag is daar redelik eenstemmigheid in ons geledere dat die ANC, as oorsaak van die korrupsie en wanbestuur in ons land deur geldgierigheid en onbekwaamheid, nie die land kan red nie. Dit is ’n eenvoudige logiese feit dat dieselfde faktore wat ’n probleem veroorsaak het, nie die probleem kan oplos nie. Met godsdiens het ons ’n helder voorbeeld van hierdie waarheid.
· Dr. Ben du Toit is ’n teoloog en voormalige amptenaar van die NG Kerk. Hy is tans ’n Suid-Afrikaanse toergids.
Kontak Ben du Toit direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.