🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
❤️ Samewerking Borg AvSA →
Terug na Lede
Ali van Wyk
Ali van Wyk
Stigter Admin

Ali van Wyk (ook soms genoem Albertus “Ali” van Wyk) is ’n ervare joernalis, kolumnis en inhoudsredakteur van Suid-Afrikaanse media, veral bekend vir sy rol by Vrye Weekblad as inhoudsredakteur en as ‘n geskrewe stem in Afrikaanse kommentaar, joernalistiek en opinie.


Hy het deur die jare ’n kenmerkende styl ontwikkel wat akademiese insigte, kulturele kommentaar, politieke refleksie en soms humoristiese, persoonlike mymeringe verweef – gewoonlik in ’n moderne, dinamiese Afrikaanse taalgebruik. Sy artikels word gereeld gepubliseer in Binne+Land, ’n onafhanklike Afrikaanse nuusbrief-platform wat fokus op sosiale kommentaar, kultuur, politiek, geskiedenis en lewenservarings.


Voor sy huidige rol het Ali jare se ervaring in joernalistiek en redaksionele werk opgedoen, en hy werk nou saam met ’n wye netwerk van joernaliste, skrywers en kommentators. Volgens sy LinkedIn-profiel het hy meer as twintig jaar ervaring in joernalistiek, redaksionele werk en digitale inhoud – insluitend skryfwerk, redaksionele strategie en die bevordering van diepgaande stories vir lesers.

1
Afrikaners vir Suid-Afrika
Stigter Admin 1780 Lede
<p><strong>Wie en wat ons is</strong></p><p><br></p><p>Hierdie forum het ontstaan uit ’n verklaring waarin 48 progressiewe Afrikaners hul kommer uitgespreek het oor disinformasie dat Afrikaners slagoffers van ’n beweerde volksmoord is en oor die algemeen in Suid-Afrika te na gekom word. Hierdie d...
Ander Lede
1
Waarom niemand hierdie oorlog nou kan stop nie
Terwyl Israel en Iran hul strategiese kaarte uitspeel en Donald Trump se opsies al hoe gevaarliker raak, waarsku ontleders dat die wêreld nader aan ’n breekpunt beweeg as wat die meeste mense besef.
👁 498 lesers

Waarom niemand hierdie oorlog nou kan stop nie

Terwyl Israel en Iran hul strategiese kaarte uitspeel en Donald Trump se opsies al hoe gevaarliker raak, waarsku ontleders dat die wêreld nader aan ’n breekpunt beweeg as wat die meeste mense besef.

Waarom niemand hierdie oorlog nou kan stop nie

Agter die rook van missiele en diplomatieke dreigemente ontvou ’n veel groter storie: ’n Israeliese leierskap wat chaos as strategie gebruik, ’n Iran wat al dekades lank vir hierdie konfrontasie voorberei het, en ’n Amerikaanse president wat min veilige uitgange oor het. Hierdie ontleding kyk na die werklike magspel agter die oorlog — en waarom die volgende skuif die Midde-Ooste én die wêreldorde self kan herskryf.


Wat gaan aan, en waarheen gaan dit? Is daar 'n einde in sig?


Kom ons kyk eers na Bibi Netanyahu en Iran se leierskap, voor ons by Donald Trump en sy binnekring kom. Ek dink nie Netanyahu wil hierdie oorlog beëindig nie. Hy het waarskynlik van die begin af geweet dis nie 'n Venezuela-situasie waar jy inspring, 'n leier vermoor of ontvoer, en dan ooreenkomste sluit met die nuwe leiers nie. Maar hy het geweet Trump dink hy kan dit so doen, en hy het Trump se ego gestreel totdat Trump ingestem het om deel te neem.


Vir Bibi is 'n gedestabiliseerde Midde-Ooste ideaal — so kan hy sy imperialistiese ambisies uitleef sonder veel weerstand. Hy het Sirië, Jemen en Libanon waar hy hulle wil hê – deels of volledige mislukte state. Voor die oorlog was die Golfstate, insluitende Saoedi-Arabië, onder die kapitalistiese beheer van sy alliansievennoot Amerika.


Net Iran het nog in sy pad gestaan — 'n redelik groot struikelblok. Bibi weet hy kan Iran nie verslaan nie, maar om dit in chaos te dompel en te fragmenteer, sal vir sy planne net so goed werk. Sy imperialistiese neiging is nie spekulasie nie — hy is openlik oor die Groter Israel-projek, wat berus op die Bybelse idee dat Israel alles regeer tussen die Nyl en die Eufraat.


Netanyahu is ook openlik oor sy oortuiging dat hy en Amerika die laaste vesting is wat keer dat die "barbare van Islam" die Westerse beskawing ondermyn. Hy sien homself letterlik as die skans tussen lig en donker in die geestelike ryk. Dit is sy eie woorde.


Iran se heersers wil tans ook nie die oorlog beëindig nie. Hulle verstaan dat dit 'n konfrontasie is wat een of ander tyd moes gebeur, aangesien Israel en Amerika Iran al dekades lank as die grootste bedreiging in die Midde-Ooste — en selfs die wêreld — uitgesonder het. Eerlik gesê het die Iranese klerikale leiers hulleself ook nie juis gunste gedoen deur die land met 'n bloedige ystervuis te regeer nie.


Iran het hierdie oorlog al amper veertig jaar, sedert 1988, sien aankom, en hulle het die tyd goed gebruik om strategies voor te berei. Hulle strategie staan bekend as "asimmetriese verduring" — basies om die oorlog te oorleef totdat die ekonomiese koste vir Amerika, of die politieke koste vir Trump, so groot raak dat hy moet onttrek.


Asimmetriese verduring se wortels lê in die Iran/Irak-oorlog, waar Saddam Hussein deur Amerika ondersteun is met wapens en bestanddele van chemiese wapens, soms gesmokkel onder die dekmantel van "landbouchemikalieë." Die oorlog was traumaties, veral vir Iran, wat sowat 300 000 soldate verloor het, 100 000 daarvan aan chemiese aanvalle. Dit was brutaal. Dit neem dae lank vir 'n mens om aan mostertgasvergiftiging te sterf.


Dit was 'n konvensionele oorlog wat aan die Eerste Wêreldoorlog herinner het — troepe vir jare in loopgrawe, moordende artillerie en menslike golwe teen die vyand se gevegsfront. Soos Vali Nasr, dekaan van die Johns Hopkins School of Advanced International Studies, verduidelik: "The Iran-Iraq War is the foundational trauma of the Islamic Republic. Every strategic decision the regime makes is filtered through that experience — the lesson being: survive at all costs, never fight on the enemy's terms." Iran het besef dat hulle Amerika nooit in 'n kop-aan-kop botsing op konvensionele terme kan trotseer nie.


Hier is 'n paar elemente van Iran se asimmetriese benadering:


Die bevelstrukture van beide Iran se weermagte — die Revolusionêre Wag (IRGC) en die Artesh — is so gedesentraliseer dat alle elemente kan aanhou veg selfs as die volledige topstruktuur uitgewis word. Trouens, dis juis dan wanneer hulle moet aanhou veg.


Alle IRGC-eenhede het genoeg wapens, veral ballistiese missiele, en 'n lys van teikens om amper onbepaald voort te gaan wanneer die ajatollah vermoor word.


Iran het ook besef dat dit geen sin maak om 'n duur lugmag te handhaaf teen Amerika en Israel se veel groter lugmagte nie — hulle gee dus van die begin af hulle lugruim prys. Maar met duisende ballistiese, kruis- en hipersoniese missiele, asook duisende goedkoop kamikazedrones, kan hulle teikens binne 2 500 kilometer vir maande lank bestook.


Alle produksie is binnelands en ondergronds, sodat hulle munisies kan aanvul soos hulle afvuur. Iran se arsenaal is in ondergrondse tonnels regoor 'n land so groot soos Europa versteek, en word dikwels uit diep tonnels afgevuur waarvan die openings nie vanuit die lug sigbaar is nie. Die wêreld weet nie presies hoeveel van Iran se missielvermoëns in die eerste drie weke uitgewis is nie. Amerika beweer dit is alles vernietig, maar dit raak al hoe duideliker dat dit nie so is nie.


Geloofwaardige kommentators, soos prof. Ted Postol, emeritus professor by MIT in Wetenskap, Tegnologie en Nasionale Veiligheid, reken die minimum van die missielstoorplekke is getref en dat Iran nog vir maande lank sowat tien vlae missiele per dag kan afvuur.Iran het ook besluit om die oorlog dadelik tot die streek uit te brei sodra hulle aangeval word. Hulle eerste vlae missiele is na die Golfstate afgevuur — nie net na Amerikaanse lugmagbasisse nie, maar ook na energie-infrastruktuur, olie- en gasfasiliteite, lughawens, hawens en hotelle waar Amerikaanse bevelvoerders na gevlug het.


Hierdie strategie het Amerika onkant gevang. Amerika het oor dekades geweldige beleggings in hierdie lande gemaak — sowat $60 tot $80 miljard in besighede alleen, en bykans $2 biljoen (“trillion”) in wederkerende ooreenkomste. Dit is alles op die spel, en net dít kan Trump se politieke ondergang beteken. Dit het die groot tech-bro’s se gesindheid teenoor hom reeds merkbaar afgekoel.


Die blokkasie van die Straat van Hormuz is nog so 'n asimmetriese taktiek wat meesterlik werk. Iran het basies die wêreldekonomie aan die strot beet, en die wêreld kyk na Trump vir 'n oplossing. Die ironie is dat hy uit verskeie oorde gewaarsku is — deur die Pentagon, lede van sy eie binnekring en die CIA — dat dit kon gebeur en dat hy die seestraat moes beveilig voor enige optrede teen Iran.


Maar Trump was oortuig dit sou 'n drie-dag Venezuela-agtige smash-and-grab wees, en het hierdie langtermynwaarskuwings geïgnoreer.'n Verdere element van die asimmetriese strategie is die rope-a-dope-taktiek met missiele — vernoem na Muhammad Ali se boks-strategie teen groter opponente soos George Foreman: jy wieg aanvanklik met jou rug teen die toue en beskerm jouself met jou arms en laat die opponent homself uitput. Sodra hy stadiger raak, kom jy van die toue af en val aan. Hy het Foremen so uitgeslaan in die Rumble-in-the-Jungle geveg in Zaïre.


Iran het in die eerste weke van die oorlog hulle ouer en goedkoper ballistiese missiele op Haifa, Tel Aviv, Jerusalem en die Golfstate afgevuur, hoofsaaklik om Israel en Amerika se verdedigingsmunisies uit te put — die missiele wat gebruik word in stelsels soos die Iron Dome, David's Sling en Arrow. Israel en Amerika het nie die oorlog begin met voldoende verdedigingsmissiele nie, gedeeltelik as gevolg van die Twaalfdag-oorlog van Junie 2025 en die groot hoeveelhede missiele aan Oekraïne verskaf.


Saam met die goedkoop missiele het Iran ook swerms goedkoop kamikaze-drones — basies afstandbeheerde mikroligte-vliegtuie met motorfietsenjins — op Israel en die Golfstate se radarstelsel afgevuur, met redelike sukses. Iran se plan was om in die derde week oor te skakel na beter missiele soos die Kheibar Shekan-trosmissiele en die Fattah-2, wat tot Mach 15 kan bereik. Geen verdedigingstelsel kan trosmis


siele en hipersoniese missiele suksesvol onderskep nie, en dit is nou duidelik dat Israeliese stede swaar ly onder die vlae missiele wat veral snags neerreën.Die groot televisienetwerke wys min hiervan, omdat Netanyahu drakoniese beheermaatreëls teen nuusorganisasies en burgerlike joernaliste ingestel het. In Israel kan jy gearresteer en verhoor word vir 'n Facebook-“like” wat deur ’n bevelvoerder met ’n lae rang geidentifiseer word as "opstoking tot terrorisme." Vrees heers.


Tans is daar meer netwerktelevisiespanne, soos CNN, in die strate van Teheran as in Israel se stede. Die mullahs verstaan dat niks wat CNN en Sky kan uitsaai meer skade kan doen as die CIA en Mossad se disinformasieveldtogte nie.Dit baat Iran dus nie om die oorlog nou te wil beëindig nie.


Hulle absorbeer 'n geweldige lug-aanslag, en die burgerlike bevolking ly die meeste daaronder — maar daar is 'n veerkragtigheid, trots en hardekwasgeit wat jy by min volke sal kry.


Hoe sterk die Iranese agter die vlag verenig is, is moeilik om te sê. Sommige kommentators reken die regime het nou 80% steun as gevolg van die eksterne bedreiging; ander skat net 20%, maar meen mense lê laag en het nie die fokus en energie om teen die regering op te staan nie. Wat dit ook al is, Trump se koorsdroom van 'n populistiese opstand het ’n dooie otter gebaar.


Die Iraniërs kan die oorlog so lank uitrek as hulle wil. Trump kan nie — daar is midtermynverkiesings in November.


Sy eerste opsie is om 'n oorwinning te verklaar, soos Romeinse keisers soms gedoen het na 'n nederlaag in die noorde teen die Germaanse barbare: verklaar jy het gewen, hou 'n groot parade, almal word dronk en die volgende jaar probeer jy weer. Die probleem is dat Trump se leuens ná al die jare teen hom begin draai het.


Selfs groot dele van MAGA glo hom nie meer oor hierdie oorlog nie.


Sy tweede opsie is om 'n bemiddelaar soos Indië se Modi, of selfs Rusland se Putin, te gebruik om onderhandeling te fasiliteer en hom 'n kans te gee om met waardigheid te onttrek. Die probleem is dat hy Iran twee keer tydens onderhandeling aangeval het en dat hulle glad nie dik van die lag is daaroor nie.


Iran sal volledige skadevergoeding eis, 'n waarborg van minstens vyftig jaar se vrede, en 'n openbare verskoning — niks wat Trump se persoonlikheid sal toelaat nie. Hy beweer tans dat hy met Iran in gesprek is, ná sy dreigement om — weereens in stryd met internasionale reg — Iran se energie-infrastruktuur aan te val. Hy het nou die “aanval” met vyf dae uitgestel.


Iran het dit dadelik ontken en beskou dit as nog 'n poging om tyd te koop vir 'n volgende aanval.Ek is geneig om met hulle saam te stem.


Sy derde opsie is om die oorlog te eskaleer en te probeer wen — 'n opsie met bykans geen kans op sukses nie. Enige vorm van oorwinning sal 'n grondoffensief vereis. Eerstens sal hy die Straat van Hormuz moet beveilig. Militêre kenners skat minstens 50 000 seesoldate (marines) sou nodig wees om die Iranese kus binne te val met enige kans op sukses — en selfs met die beste uitkoms sal dit geweldige lewensverliese meebring. As die kusstrook beveilig word, moet dit ook gehou word, vir ’n onbepaalde tyd, wat die magte blootstel aan 'n reeks verdere aanvalle.


Dieselfde geld vir die besetting van die strategiese eiland Kharg, waardeur Amerika Iran se olie- en gasuitvoere kan blokkeer. Kenners reken dit sou ook met groot lewensverliese gepaard gaan, en die besettingsmag sou hulleself as 'n groot teiken vir Iran se missiele aanbied — vir alle praktiese doeleinde gyselaars.


'n Grondoffensief van die Golfkus tot by Teheran — met pantsereenhede, tenks, helikopters, die hele konvensionele pakket — is eintlik nie 'n werklike opsie nie. Die Iranese landskap, met sy bergreekse en woestyne oor 1 100 kilometer tot by Teheran, is uiters problematies. Iran kan boonop 610 000 manskappe in die veld sit, waarskynlik in klein groepe wat Taliban-styl verskyn en verdwyn agter op Hiluxe met vuurpyle en masjiengewere.


Die koste in geld, lewens en die bykans onmoontlike kans op sukses behoort selfs deur Trump se benewelde brein te dring. Dit kan nie gedoen word nie.


Wat dink ek gaan hy doen? Baie mense onderskat hoe kritiek die mespunt is waarop die wêreld tans balanseer. Die magtigste man op aarde is 'n kwaadwillige narsis wat na alle waarskynlikheid reeds aan gevorderde demensia ly (die manier waarop hy hierdie week op Robert Mueller se dood gereageer het, bevestig dit) en wat tans op 'n wêreldverhoog verneder word.


Hy het die meeste strukture in sy eie regering wat veronderstel was om hom te beteuel, uitgewis of oorgeneem. Hy het nog nooit in sy lewe teruggedeins as hy aangeval word nie — nie omdat hy dapper of wys is nie, maar omdat hy in wese 'n 79-jarige kriewelrige kind is wat altyd sy sin kry deur te skree.


En moenie vergeet nie: sy grootste alliansievennoot is die mees korrupte en bloeddorstige Israeliese leier tot nog toe, wat glo hy is op 'n godgegewe sending — iemand wat sopas 'n volksmoord gepleeg het.


Ek dink Trump gaan probeer eskaleer. Ek weet nie hoe nie. Die Vader weet hoe dit sal eindig. Mens wil nie eers die moontlikheid van kernwapens noem nie.

Stuur Boodskap

Kontak Ali van Wyk direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek