🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
❤️ Samewerking Borg AvSA →
Terug na Tuis Alle artikels
My morele moer het gestrip — maar my historiese geheue mag nie

My morele moer het gestrip — maar my historiese geheue mag nie

Ek het vanoggend om drie-uur wakker geword. Ek was in ’n sielestryd.

Die afgelope twee dae het ’n paar persone op die WhatsApp-groep van Afrikaners vir Suid-Afrika (AvSA) met groot lof van dr. Wouter Basson gepraat. Ek het die kommentare bevraagteken. Ná ’n kort bekgeveg het ek “my morele moer gestrip” en besluit om die groep te verlaat.

AvSA is ’n organisasie wat onder meer daarna streef om Afrikaners se plek binne ’n demokratiese Suid-Afrika op ’n konstruktiewe manier te benader. Ek het aanvanklik daarby aangesluit omdat ek geglo het dit is ’n plek waar ons ook eerlik oor ons verlede kan praat — selfs wanneer daardie gesprek ongemaklik raak.

’n Paar groepslede het my ná my besluit persoonlik gekontak en gevra dat ek dit heroorweeg. Ek het aangedui dat ek “daaroor sou slaap”.

Ek het toe weer AvSA se Credo gelees en introspeksie gedoen oor waarom ek oorspronklik aangesluit het en waarom ek daar welkom gevoel het.

Een sin het vir my uitgestaan:

“Ek erken die onregte van ons verlede …”

Dit het my laat besef dat my ongemak oor Basson eintlik oor iets groter gaan:

Hoe gaan ons met ons verlede om?

Wie vertel ons geskiedenis?

Iemand op die groep het geskryf:

“Gaan luister gerus met ’n oopkop-benadering.”

Hiermee verskil ek.

Ek glo nie dat ’n mens se persoonlike weergawe van ’n omstrede geskiedenis sonder meer as die vertrekpunt van die gesprek behoort te dien nie. Dit is veral problematies wanneer die persoon self ’n hoofbetrokkene in daardie geskiedenis was.

Dit is juis wat my pla wanneer ek op AfriForum Teater se webblad lees:

“Kom luister na dr. Basson se persoonlike weergawe van Projek Coast.”

Hoe geloofwaardig kan ’n persoonlike weergawe van so ’n omstrede geskiedenis wees wanneer dit deur ’n hoofbetrokkene self vertel word, sonder dat sy weergawe noodwendig onafhanklik verifieerbaar is?

Basson kan vandag nie eenvoudig die waarheid oor Project Coast onthul of al die “besonderse feite” en geheime vertel wat niemand anders ken nie. Wat hy wel kan doen, is om sy eie verhaal te vertel — en homself binne daardie verhaal te posisioneer.

My indruk is dat hy toenemend as die briljante wetenskaplike, uitstekende dokter en survivor van sy tyd voorgestel word, terwyl die vraag na sy eie verantwoordelikheid vir Project Coast al hoe verder na die agtergrond verskuif.

Dit is vir my problematies.

Wat het hy by die WVK gesê?

Basson het reeds ’n besondere geleentheid gehad om rekenskap te gee — by die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK).

Daarom behoort ons nie net te vra wat hy vandag sê nie, maar ook:

Wat het hy toe gesê?

Wat het hy nie gesê nie?

En wat sê die historiese rekord onafhanklik van sy eie narratief?

Vir my is dit die belangrike punt. Die geskiedenis van Project Coast behoort nie slegs deur die herinneringe of vertellings van die mense wat daarby betrokke was, bepaal te word nie. Ons moet ook kyk na die dokumentasie, getuienis en ander onafhanklike bronne wat oor die jare beskikbaar geword het.

Juis daarom glo ek ons moet versigtig wees wanneer iemand wat so sentraal by ’n omstrede deel van ons geskiedenis betrokke was, se eie weergawe van daardie geskiedenis as die vertrekpunt neem.

’n “Oopkop-benadering” behoort nie te beteken dat ons ons kritiese oordeel by die deur los nie.

Om te luister is belangrik.

Maar om te luister sonder om te bevraagteken, is nie noodwendig om oopkop te wees nie.

Die ongemaklike deel van erkenning

My beswaar is nie dat Basson nie die reg het om sy kant van die verhaal te vertel nie. Natuurlik het hy.

My beswaar is dat instansies hom ’n geloofwaardige platform gee om sy eie weergawe van die geskiedenis te vertel, en dat ons dan aangemoedig word om bloot met ’n “oopkop-benadering” daarna te gaan luister.

Vir my beteken die woorde “Ek erken die onregte van ons verlede” ook iets meer.

Dit beteken dat ons bereid moet wees om daardie verlede in die oë te kyk — selfs wanneer dit ons ongemaklik maak. Dit beteken ook dat ons nie die vertelling van daardie verlede eenvoudig aan die mense wat daarby betrokke was, moet oorlaat om dit op hulle eie terme te vertel nie.

Dit beteken nie dat ons mense se verhale moet stilmaak nie.

Dit beteken dat ons hulle moet aanhoor én bevraagteken.

Ons kan iemand se wetenskaplike vermoëns erken. Ons kan na sy persoonlike verhaal luister. Ons kan selfs probeer verstaan hoe hy homself en sy optrede binne die konteks van sy tyd verstaan.

Maar dit moet nie daartoe lei dat die groter morele en historiese vrae verdwyn nie.

Dit is waarom ek nie stil mag bly nie.

My reaksie op die gesprek oor Basson gaan uiteindelik nie net oor Basson nie.

Dit gaan oor wat ek bedoel wanneer ek sê:

“Ek erken die onregte van ons verlede …”

As ek dit ernstig bedoel, moet ek bereid wees om ongemaklike vrae te vra — selfs wanneer ander mense dit nie wil hoor nie.

Ek moet bereid wees om te luister, maar ook om te bevraagteken.

Ek moet bereid wees om mense se verhale te hoor, maar ook om dit teen die historiese rekord te toets.

En ek moet veral versigtig wees oor hoe daardie geskiedenis onthou, vertel en verstaan word.

Ek mag nie my historiese geheue en morele oordeel ignoreer nie.

Miskien het my morele moer inderdaad gestrip.

Maar my gewete het nie.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek