Hierdie brief het oorspronklik verskyn in Rapport 6 September 2026
Die kwessie van landelike veiligheid word deur regse en linkse opportuniste misbruik, skryf Piet Croucamp.
In die stilte van my binnekamer dra ek'n wrewel jeens belangegroepe en individue wat landelike misdaad en plaasmoorde uitbuit vir politieke gewin.
En soms wonder ek of drukgroepe soos Ernst Roets se Lex Libertas en stemme in die Solidariteit-beweging nie die plaasmoordverskynsel misbruik ter regverdiging van hul behoefte aan 'n selfregerende wit tuisland nie.
Roets, 'n voormalige adjunkhoof van AfriForum, het verlede week in Rapport geskryf oor sy planne om op 26 September 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington te plant. Elke kruis verteenwoordig 'n slagoffer van 'n plaasaanval sedert 1990. Roets sé die doel is om internasionale aandag op die probleem te vestig.
Sy aandrang dat een groep se lyding eiesoortig en belangriker as almal anders s'n is, verdien skeptiese ondersoek.
Vir my lyk dit alte veel na 'n geval van "morele paniek", 'n verskynsel wat deur die Suid-Afrikaans gebore Britse sosioloog prof. Stanley Cohen beskryf is. Twee ander sosioloë, Erich Goode en Nachman Ben-Yehuda, het die konsep in 200g verder ontwikkel.
Die teorie veronderstel vyf stadiums. Ter aanvang word iets of iemand as 'n bedreiging geidentifiseer. Suid-Afrika se buitensporige getal moorde, waarvan net 10% suksesvol vervolg word, is inderdaad'n geldige bedreiging. Vir'n uitsluitlik wit, etnise politieke drukgroep word swart Suid-Afrikaners'n eenvoudige sondebok. Daarna word die media gebruik om dit in vereenvoudigde, simboliese terme te verpak, wat lei tot openbare kommer. Al drie sosioloë wys daarop dat die begunstigdes van morele paniek byna altyd of staats- of godsdienstige instellings of ideologies gedrewe organisasies en individue met politieke ambisies is.
Om'n boerdery te bedryf in landelike gebiede wat gekenmerk word deur deurdringende armoede is 'n ekonomiese maar ook politieke uitdaging. Charles Kettering, die Amerikaanse ingenieur wat in 1912 die elektrise knormoer ontwerp het, het gesê: "'n Probleem wat goed geformuleer is, is halfpad opgelos."
Indien 'n sosiologiese krisis soos landelike geweld deur'n ideologiese filter geforseer word, is die strewe nie om te verstaan nie, maar om'n oningeligte gehoor te mislei en die slagoffers van die misdaad te misbruik.
Dit is'n geldige instink om blaam te probeer plaas. Die sosiopolitieke verdelingslyne ontwikkel baie vinnig tussen sogenaamde insiders en outsiders.
Werkloosheid en vooruitsigloosheid stel moeilike vrae aan diegene wat sistemies vasgevang is in dieselde maatskaplike ontberings wat eens hul voorouers geteister het en nou ook hulle kinders se toekoms bedreig.
Die werklikheid is dat misdaad ons armer gemeenskappe vernietig. Onder hierdie omstandighede word boere en arm gemeenskappe wedersyds die slagoffers van mekaar se belange. Dit is hierdie spanning wat ruimte skep vir politieke opportunisme.
Die uitbuiting van hierdie onmoontlike werklikhede deur Lex Libertas het 'n eweknie in die gedrag van linkse politieke akteurs, maar ook die regering. Ek aanvaar die howe se uitspraak dat "Dubula iBhunu" (Skiet die boer)'n bevrydingsverlede het, maar die Lied walg my.
Ek is oortuig Julius Malema misbruik dit vir rassistiese doeleindes. En pres. Cyril Ramaphosa se kapitulering in die Withuis toe hy gesê het Dubula iBunu is "not our policy" bevestig maar net sy ruggraatlose en siellose presidentskap.
Hoe moeilik sou dit wees om te sê: "Inaggenome die konteks van landelike misdaad keur ek en my regering die sing van die lied ten sterkste af!"
Die ANC het reeds opdrag gegee dat dit nie by sy amptelike geleenthede gesing word nie.
Dit is seker 'n geldige vraag of die grusame verskynsel van plaasmoorde deur die regering of die staat bemiddel word, soos deur die subtitel van Ernst Roets se boek 'Kill the Boer: Government complicity in South Africa's brutal farm murders gesuggereer word. Daar is genoeg anekdotiese bewerings van die polisie se betrokkenheid by misdaad om dit as'n gegewe te aanvaar, maar dit is nie dieselde as om te sê dat die polisiediens en die regering aandadig aan die moorde op boere is nie.
Op enkele uitsonderings na word plaasmoorde deur boere met wie ek gepraat het as 'n misdaadprobleem beskou.
'n Studie deur Willie Clack en Anthony Minnaar gepubliseer in Acta Criminologica bevestig hierdie argument. In sowat 89.3% van plaasaanvalle is roof - nie ras of politiek nie - die primêre motief. Die oorblywende redes was intimidasie (7%), rasse-of politieke motief (2%) en arbeidsverwante geskille (1,6%).
Dit is onmoontlik om landelike geweld, wat plaasmoorde insluit, in isolasie van Suid-Afrika se groter misdaadprobleem aan te pak.
Daar is geen manier waarop spesifiek Afrikaners bewapen kan word om hulle te beskerm teen die deurdringende vlaag van geweld wat alle gemeenskappe teister nie. Die polisie en die strafregstelsel sal altyd noodsaaklik wees en dié word tans oorweldig deur korrupsie, misdadigheid en onbevoegdheid.
As die dominante dryfveer van plaasgeweld dieselde geleentheids-, ekonomies gemotiveerde misdaad is wat die meeste van Suid-Afrika se geweld aandryf (geisoleerde eindomme, swak polisiereaksietye, kontant/vuurwapens op die perseel, hoë plaaslike werkloosheid), dan sal dit verkeerd wees om plaasmoorde as'n afsonderlike, unieke probleem met sy eie, afsonderlike oorsaaklike logika te hanteer.
Roets se eenvoudige verklarings vir landelike geweld en sy simplistiese oplossings sou goed gewerk het gedurende apartheid, maar wat sinol is in Orania, is meer waarskynlik uiters onvanpas in Suid-Afrika.
Private sekuriteit is reeds beskikbaar, en maak reeds'n verskil, maar die meeste wit boere funksioneer in'n middelklas-bestaansekonomie en kan nie die bykomende uitgawe bekostig nie. Die ruimtelike verspreiding van plase maak private veiligheidsmaatskappye 'n baie duur opsie.
Hoewel private veiligheid misdaad kan verminder, verplaas dit meer dikwels bloot die risiko na minderbeskermde buurplase of gemeenskappe. Sonder polisie-ondersoeke wat die misdadigers identifiseer en arresteer, en 'n regtelsel wat doeltreffend ondersoek en vervolg, sal geweldsmisdade soos plaasmoorde nie onder beheer gebring word nie.
En, gaan ons werklik 'n veiligheidstelsel opsit om wit boere te beskerm terwyl swart landbouers aan die genade van die misdadigers en die staat oorgelaat word?
Ek het die afgelope drie dekades met letterlik duisende boere oor die plaasmoordverskynsel gesels. Landelike en plaasgemeenskappe gaan gebuk onder unieke strukturele kwesbaarhede, en die vrae oor plaasmoorde het oor die jare al hoe dringender geword.
Roets se misbruik van boere vir sy etnise nasionalisme maak landbouers selfs meer van 'n politieke teiken as wat hulle reeds is. Dit maak hulle nie polities beter af of veiliger nie.
Nagenoeg 1 100 kinders - drie per dag - is tussen April 2024 en Maart 2025 in Suid-Afrika vermoor, en elke drie uur word 'n vrou in hierdie droewe land om die lewe gebring. Verdien hulle nie ook kruise op 'n internasionale verhoog nie?