Is daar ’n plekkie onder die son vir Afrikaners wat passievol oor Suid-Afrika is, maar nie lus is vir onsmaaklike bekgevegte en die etikettering van mense wat ander sienings as hulle eie het nie?
Ek hoop so, want ek is ook een van hulle.
Dit is nie nodig om weer, tot vervelens toe, voorbeelde aan te haal van hoe onsmaaklik dinge op sosiale media en in koerante se kommentaarkolomme kan raak nie. So baie sleutelbordkrygers put genot daaruit om rubriekskrywers of ontleders die spreekwoordelike snotklap toe te dien, eerder as om eerstens mense se reg te verdedig om ’n ander siening te hê en tweedens te probeer verstaan vanuit watter perspektief en lewenservaring hulle oortuigings gegroei het.
Dit lyk vir my ons moet besluit of ons in ’n hokgevegkryt wil baklei, of om ’n kombuistafel soos familie wil praat.
Die een is ’n rooi ruimte; die ander ’n groen een.
In ’n kryt is daar net wenners en verloorders. Die raserige toeskouers geniet dit om te sien hoe sterk en taai hulle helde is. Hulle weet nie wat ons weet nie.
Om ’n kombuistafel word daar ook soms reguit gepraat, maar daar is ons nie vyande nie. Ons dink saam, eet saam en huil saam wanneer dit nodig is. Ons stem nie noodwendig saam nie, maar ons kan dinge uitpraat, want ons is vriende en/of familie.
Dit is om die kombuistafel waar ons ontdek waar ons mekaar seermaak, waarvoor ons verskoning moet vra en waarvoor ons mekaar kan vergewe.
Die interessante werklikheid in Suid-Afrika, lyk dit vir my, is dat party van ons se kombuistafels effens anders lyk. Ons gaste en familie is nie net “ons mense” wat sê “ons sal self” nie, maar ook mense wat sê: “Ons sal saam.”
Daar is baie mense wat doelbewus hulle vriendekringe meer inklusief maak omdat hulle mense ontdek met wie hulle werk, reis en sosiaal verkeer – mense wat anders as hulle dink, lyk en praat.
Daar is niks daarmee verkeerd om veilig en gemaklik tussen jou eie mense te voel nie. Ons verstaan hulle en is lief vir hulle. Ons sien wanneer ons mense sukkel en ondersteun hulle in goeie en swaar tye, deur dik en dun.
Afrikanerinisiatiewe op ’n wye front getuig van omgee, hulpverlening en praktiese betrokkenheid. Hou so aan.
Bloed ís dikker as water, maar water gee lewe.
My pleidooi aan mense wat so heftig reageer teen organisasies soos Betereinders en die Afrikaners vir Suid-Afrika-beweging is eenvoudig:
Klim asseblief uit die kryt.
Ons is nie julle vyande nie, en julle is ook nie ons s’n nie. Ons praat nie namens julle nie en stel nie daarin belang om julle te verander of met julle te kompeteer nie.
Al wat ons vra, is dat julle sal probeer verstaan hoe baie van ons se ervarings en lewens verryk is deur mense wat anders as ons dink, lyk en praat. Ek het ontdek dat ek nie net hoef te vra: “Hoe kan ek help?” nie, maar ook: “Wat kan ek by julle leer?’”
As ons dinge anders as julle sien of interpreteer, doen ons dit nie omdat ons wil baklei nie, maar omdat ons ál Suid-Afrika se mense se belange op die hart dra.
Byvoorbeeld, diegene van ons wat die “Nie in ons naam nie”-brief onderteken het, kon nie stilbly toe Trump Afrikaners ingetrek het om sy politieke agenda te dryf en ’n wig tussen ons en ons mede-landgenote in te dryf nie.
As ons sterk teenkanting teen die witkruisprojek uitspreek, is dit nie omdat ons plaasmoorde ontken nie. Dit is omdat ons glo die projek doen Suid-Afrika se saak skade en vererger dit spanning en verdeeldheid in die land.
Die persepsie wat na die wêreld uitgedra word, is heel moontlik dat wit mense groter slagoffers as swart mense is en dat Afrikanervlugtelinge en moordslagoffers vir openbare betrekkinge-doeleindes (public relations purposes) misbruik word.
Ons is nie so ver van die werklikheid verwyder as waarvan ons beskuldig word nie.
Baie van ons, ook ekself, het familielede wat slagoffers van plaasaanvalle en geweld is, en het misdaad al aan ons eie bas gevoel
Ons is ook met afgryse vervul wanneer ons kyk na die verwoesting wat deur swak regering, misdaad, korrupsie en ekonomiese uitdagings veroorsaak word, asook na die gevolge van onsinnige oorloë.
As ons dinge anders as julle sien, maak dit ons nie politieke pionne van enige politieke party nie. Ons kan vir onsself dink.
Die sowat 350 000 besoeke aan die Afrikaners vir Suid-Afrika-webwerf tot dusver (avsa.net.za) is dalk ’n aanduiding dat daar ook nuuskierigheid is oor wat soveel passievolle Suid-Afrikaners dink en doen.
Miskien is dit een van die plekke waarvan ek gepraat het – ’n plek waar ons met mekaar kan gesels, kan verskil en saam kan droom oor hoe ons ’n verskil in ons land kan maak.
Chris Spies is ’n dialoogpraktisyn en emeritus-stigter van die Unyoke Foundation. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid en nie namens AvSA of die Dialoog vir Aksie-netwerk, waarby hy betrokke is, nie.
Teken in om te kommentaar