Die Vryheidsfront Plus het een van sy Moslem kandidate soos ʼn vrot vel uit die party geskop omdat hy op sosiale media simpatie uitgespreek het met die lot van Palestyne wat in Gaza doodgemaak word.
ʼn Gebroke Fadiel Mohamed het vanoggend in trane aan my vertel hoe die party hom uitgeskop en van al hulle platforms geblok het sonder dat hy die geleentheid gehad het om sy kant van die saak te stel.
Die VF+ het hom voor sy skorsing in hulle verkiesingspamflette beskryf as 'n langdienende gemeenskapsleier van Uitenhage wat meer as 5 000 inwoners met toewyding en integriteit gedien en verteenwoordig het.
As voorsitter van die McCarthy-informele nedersetting lei hy ook skoonmaakprojekte en beywer hy hom vir regverdige behandeling van alle inwoners.
Ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het nie, het ʼn emosionele Fadiel vanoggend aan my gesê.
“Ek het by die Vryheidsfront Plus aangesluit omdat ek gedink het hier is hoop. Hierdie land is oop vir my geloof omdat hulle op Christendom gebaseer is. En ek respekteer alle gelowe so baie. En dit het my laat aansluit by VF+.”
“Ek stap dieselfde strate as die mense wat ek verteenwoordig, staar dieselfde uitdagings in die gesig en verstaan hul behoeftes. My toewyding is om vir die minderbevoorregtes te veg, dienslewering te verbeter en waardigheid vir elke inwoner te verseker. Leierskap beteken om stelling in te neem saam met die gemeenskap, nie bo hulle nie, en ek is toegewyd daaraan om 'n wyk te bou waar geleenthede, regverdigheid en respek gewaarborg word.”
Die plasing waaroor hy uit die party geskop is het gehandel oor die lot van die mense in Palestina se lyding. “Ja, nie net oor die Palestynse mense nie, maar oor alle mense wat swaarkry, jy weet, en ek staan vir menslikheid,” sê hy toe ek hom daaroor vra.
“Nou weet ek nie meer nie dis so moeilik om alles te verwerk. Hoe kan mense my so sleg oordeel? Ek het alles probeer en selfs die plasing waarna hulle verwys het gaan soek om verwyder maar is nie eers tyd gegun om dit te doen nie.”
Fadiel het in ʼn gebroke stem aan my vertel hoe hy deur van sy eie mense verguis is toe hy by die VF+ aangesluit het. Maar hy het geglo dit is die regte ding om te doen en dat hy sy mense so sou kon help en hulle sal raaksien die VF+ kan almal help.
Telkens in ons gesprek het hy eers 'n rukkie stil gebly om sy emosies van hartseer en vernedering onder beheer te kry.
“Ek het hierdie brief ontvang. Dit was 'n koevert wat onder my deur gegooi was, ek was nie tuis nie. Toe hulle my bel om te sê daar is die brief vir my, het ek gesê: is dit iets goeds of iets slegs? Ek het net... ek het net gevoel iets is nie reg nie.”
“Ek het probeer om dit te verwyder, daardie ding wat ek gesê het, ek het dit gaan soek maar ek het nie tyd gehad om dit te verwyder nie... ek kan nie eers onthou wanneer het ek dit gepos nie.”
“Ek het na my WhatsApp gegaan, toe sien ek, ja, ek is van alle Vryheidsfront WhatsApp groepe verwyder. Ek is nie eers geraadpleeg om te sê: kyk, dit is wat gebeur nie. Ek is net geblok en gesê dat ek binne 24 uur kan appelleer. En ek het dit gedoen maar my lidmaatskap is summier beëindig.”
Op ʼn vraag of hy voortgaan met sy appèl het hy gesê ja maar hy het nog niks van hulle gehoor nie.
“Ek is 75 jaar oud en al wat ek wil doen is om my naam skoon te maak want almal wil weet waarom is ek uit die party geskors”
Mulder het op sosiale media beweer Fadiel se lidmaatskap is beëindig as gevolg van 'n plasing van 'n beleidstandpunt op sy sosiale media wat in stryd is met die verklaarde beleid van die VF Plus.
“Ironies genoeg kan ons sy lidmaatskap oor 'n beleidsverskil beëindig sonder regsimplikasies, maar indien ons dit sou doen oor sy godsdiensbeskouing sou ons in konflik wees met artikel 9(3) en 9(4) van die Gelykheidsklousule van die Grondwet. Die menseregte kommissie ondersoek graag sulke sake,” het Mulder die party se standpunt om hom uit te skop verduidelik.
Teken in om te kommentaar