🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
❤️ Samewerking Borg AvSA →
Terug na Tuis Alle artikels
Munisipale verkiesing: Waarom stem?

Munisipale verkiesing: Waarom stem?

Vir Suid-Afrikaners is stemreg meer as ’n formele demokratiese reg. Sedert 1994 is dit een van die belangrikste waarborge dat alle volwasse burgers ’n gelyke aandeel het in die keuse van hul politieke leiers. Maar daardie reg se waarde lê nie net in ons geskiedenis nie. Dit lê ook in die besluite wat verkose verteenwoordigers vandag neem en die gevolge daarvan vir Suid-Afrikaners.

Dit geld veral vir plaaslike regering. Die Dullah Omar-instituut aan die Universiteit van Wes-Kaapland wys in ’n onlangse ontleding daarop dat munisipale verkiesingsdeelname van sowat 58 persent in 2011 en 2016 tot net 45,87 persent in 2021 gedaal het. Byna 54 persent van geregistreerde kiesers het dus nie in die vorige plaaslike verkiesing gestem nie, en miljoene ander stemgeregtigdes was nie eens geregistreer nie. Dit is kommerwekkend, want munisipaliteite neem besluite wat mense dikwels meer onmiddellik raak as op nasionale vlak.

Munisipale rade bepaal onder meer begrotings, tariewe, ontwikkelingsprioriteite en plaaslike verordeninge. Hulle moet toesig hou oor die administrasie en verantwoordelikheid aanvaar vir die funksionering van dienste binne hul bevoegdheid. Wanneer water nie gelewer word nie, riool oorloop, vullis ophoop of paaie verval, word die gevolge direk deur inwoners ervaar. Daarteenoor, wanneer dienste goed funksioneer, verbeter dit mense se lewensgehalte, veiligheid en waardigheid.

Dit beteken nie dat elke probleem die munisipaliteit se skuld is nie, en allermins dat munisipaliteite in praktyk hul rolle effektief speel, en kiesers se behoeftes ernstig probeer aanspreek. Die nasionale en provinsiale regerings het hul eie verantwoordelikhede, en munisipaliteite verskil aansienlik in hul hulpbronne en vermoë om inkomste in te vorder. Maar dit is juis waarom kiesers moet onderskei tussen wat ’n munisipaliteit kan beheer, wat buite hul bevoegdheid val, en wat ’n politieke party bloot tydens ’n veldtog belowe.

Africa Check se verduideliking van die 2026-verkiesing beklemtoon dat kiesers nie net na beloftes moet luister nie, maar ook moet vra of ’n party die mag het om dit uit te voer, hoe die belofte gemeet sal word en waar die geld daarvoor vandaan gaan kom. Plaaslike regering kan byvoorbeeld verantwoordelikheid aanvaar vir munisipale paaie en vullisverwydering, maar nie self nasionale polisiedienste of maatskaplike toelaes beheer nie. ’n Geloofwaardige verkiesingskeuse verg dus dat kiesers partye se aansprake aan hul werklike bevoegdhede en prestasies toets.

Die Dullah Omar-instituut beklemtoon ook dat verkiesings nie bloot ’n manier is om iemand in die amp te plaas nie. Dit is ’n meganisme om te bepaal of daardie persoon of party die mandaat verdien om aan te bly. As verteenwoordigers swak presteer, behoort hulle die moontlikheid te trotseer dat kiesers hulle vervang. Maar dié meganisme verloor krag wanneer mense ophou stem. Dit skep ’n gevaarlike kringloop: swak bestuur lei tot ontnugtering, en dit lei tot laer deelname.

Stem alleen sal nie swak bestuur, korrupsie of politieke onstabiliteit beëindig nie. Dit moet gepaard gaan met openbare deelname, ondersoekende joernalistiek, deursigtigheid en volgehoue druk op verkose verteenwoordigers. Maar dit is geen rede om die stembrief prys te gee nie. Inteendeel, dit is een van die maniere waarop burgers kan bepaal wie hul munisipaliteit vir die volgende vyf jaar sal bestuur en wie verantwoordelik gehou moet word wanneer beloftes nie nagekom word nie.

Die keuse op 4 November is dus nie bloot tussen volmaakte politici en teleurstelling nie. Dit is ’n keuse tussen die beskikbare alternatiewe, munisipaliteite se geloofwaardigheid, vermoë en prestasie. Ons hoef nie blindelings in enige party te glo nie, maar om te stem vir ’n party, raadslid of program wat ’n vraagstuk volgens jou die beste kan benader, is ’n belangrike stap om jou burgerskap uit te oefen en verteenwoordigers verantwoordelik te hou.

Om te stem, is nie ’n waarborg dat dinge sal verander nie, maar om nie te stem nie, maak dit egter makliker vir ander om sonder jou deelname oor jou toekoms te besluit.

Chris Heymans is ’n onafhanklike adviseur wat spesialiseer in openbare beleid en munisipale en waterbestuur.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek