🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
❤️ Samewerking Borg AvSA →
Terug na Tuis Alle artikels
Plaasmoord Incorporated

Plaasmoord Incorporated

Plaasmoord Incorporated

In die laaste helfte van 2016 was ek die teiken van ’n kuberaanslag deur ’n horde skuim-om-die-mond Christen-nasionaliste omdat ek dit gewaag het om ’n onelegante uitlating te maak oor hulle halfgod, Steve Hofmeyr, en sy volgelinge.

Onuitspreekbare beledigings is my toegesnou. Hier is van die meer publiseerbares: “Ons sal sien wat jy sê as een van jou familielede deur die barbare geskiet word.” Of: “Ek hoop jou ma en vrou en susters word eerste verkrag as die swart hordes kom.” Of: “Jy moet weet hoe ons ’n verraaier van sy eie mense afslag dat hy stadig vrek.” Die soort ding.

Omtrent die helfte van die honderde gewelddadige boodskappe het die hoop uitgespreek dat vroue in my familie deur swart mans verkrag word. Een van die besigste toetsbord-terroriste het my selnommer in die hande gekry en my op WhatsApp met ’n reeks van hierdie soort beledigings gebombardeer. Op ’n dag het ek besluit om hom te bel, en ek kom toe af op ’n man wat werklik getraumatiseer was deur die verkragting en moord van vroue in sy familie. Hy was skielik mak soos ’n lammetjie en het selfs begin huil.

Ek het al so dikwels gehoor jy kan iemand nie vir sy rassisme blameer as hy die slagoffer was van ’n traumatiese aanval deur swart mans nie. Ek het my dus ook afgevra wat met ons sou gebeur as ons so iets moes beleef. Ek was nie seker nie.

Wat my nog altyd verbaas het, is hoekom dit juis velkleur is wat vassteek. Elke aanvaller praat ’n sekere taal, trek op ’n sekere manier aan, is dalk ’n plaaswerker of ’n werktuigkundige, dalk ’n pa. Hoekom ontwikkel slagoffers nie eerder ’n vooroordeel teen hakkelaars as die aanvaller gehakkel het nie? Versterk so ’n aanval bloot bestaande vooroordele, of kan dit ’n rassis maak van iemand wat nooit een was nie?

Dit kon ek natuurlik nie wetenskaplik ondersoek nie. Ek kon net ander se navorsing lees, of dit self beleef.

En toe gebeur dit met ons​

Ek het nie in my wildste nagmerries gedink ons familie sou dit regtig oorkom nie, maar ons het. Op 26 November 2019 sien ek toe ek die oggend wakker word ’n boodskap van my pa: My broer, Peet, is op my ouers se kleinhoewe in Bapsfontein aangeval en geskiet, en hy is in kritieke toestand in die hospitaal.

Ek het dadelik in die Kaap op ’n vliegtuig geklim, en sowat drie uur later was ek langs Peet se bed in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Stadig het die prentjie ontvou. Peet het die vorige aand op die stoep van sy houthuis gesit en ’n sigaret gerook, dalk ’n bietjie kitaar gespeel. Sy huis was so 60 tot 70 meter van my ouers s’n af.

Twee mans het skielik teen sy trappies opgestap en sy besittings uiters aggressief geëis. Hulle het ’n tuingraaf opgetel en die een het Peet teen die kop daarmee geslaan. Peet het teruggeveg en so hard soos hy kon geskree. Die tweede aanvaller het ’n rewolwer uitgeruk en Peet geskiet. Die koeël het deur sy lewer getrek en in die onderste deel van sy ruggraat vasgeslaan. Hy het geval en dadelik geweet iets groots is fout, want hy kon nie beweeg nie. Die aanvallers het deur sy huis gegaan, ’n waardelose ou skootrekenaar en ’n goedkoop selfoon gegryp en gehardloop na ’n kar wat onder in die pad vir hulle gewag het. Dit is die laaste wat ons van hulle weet, tot vandag toe.

Peet het sowat agt minute gelê voor my ouers by hom uitgekom het. Teen dié tyd het hy baie bloed verloor. Dit het nog sowat anderhalfuur geduur voor ’n ambulans uit Pretoria kon opdaag. In dié tyd het my ma en pa druk op sy wonde gehou en hom aan die asemhaal gehou deur lug in sy mond te blaas.

My ma het saam met Peet in die ambulans gery. Op pad Pretoria toe het die paramedikus gesê hulle kan nie meer sy bloeddruk meet nie, dis te laag. By Die Wilgers Mediclinic is hy gestabiliseer, maar hulle kon hom nie opneem nie omdat hy ’n staatspasiënt is. Daarvandaan is hy na Steve Biko geneem.

Toe ek die oggend daar aankom, vertel my ouers dat Peet ná sy opname so hard geskree het dat dit deur die gange weergalm het. Hulle was seker 70 meter van hom af soos die kraai vlieg, maar die klank het om hoeke en draaie tot by hulle gekom.

Die oorwinningskrete

Toe ek by hom kom, was hy duidelik verrinneweer, maar wakker, en hy kon praat. Hy sê toe vir my hy het so hard gegil van die oomblik dat hy geweet het hy gaan dit maak. Uit dankbaarheid.

Die patroon het tussen twee werwels vasgeslaan en die rugmurg is beskadig. Die risiko om die stukkie metaal te verwyder was te groot en dit sit nou nog daar. Peet was van toe af ’n parapleeg. 

Sekere feite oor die aanval was vir ons naaste aan Peet uit die staanspoor duidelik. Dit was ’n opportunistiese misdaad, en ’n baie weerlose teiken is gekies. Peet se huisie het geen sekuriteit gehad nie, nie eens ’n heining tussen hom en die pad nie. Die kar, die klere, die houding en die manier waarop die aanvallers opgetree het, het daarop gedui dat hulle randfigure was, sonder enige polisie- of militêre opleiding. Dit was arm en desperate mense.

Daaragter lê die geweldige ongelykheid, die desperate armoede, en die ANC-regering se onvergeeflike agtelosigheid en korrupsie wat miljoene mense in ellende laat bly. En dááragter lê eeue se koloniale projekte, trekarbeid, grond wat gevat is. ’n Mens kan aangaan en aangaan.

Wie die twee mans was, weet ons nie. Niemand weet nie, want niemand het ooit ’n behoorlike ondersoek gedoen nie. Toe die polisie die volgende dag opdaag, het hulle ’n patroondoppie opgetel, dit in ’n plastieksakkie gesit en saamgeneem. Die toneel is nie vir ’n forensiese ondersoek beveilig nie. Die graaf, dalk met die DNS van een van die aanvallers op, is net so gelos. Geen vingerafdrukke is geneem nie.

Twee dae later, toe ek ’n Rapport-joernalis op die verlate kleinhoewe ontmoet (die familie was by Peet in Pretoria), het sers. Khumalo opgedaag. Dit was die tweede en laaste keer dat hy daar was; die eerste keer was net ná die aanval. Hy was moeilik om te peil, bot en dalk selfs effe vyandig. Ek kan met sekerheid sê daar was géén ondersoek nie, ook nie nadat ek maande later by die stasiebevelvoerder gekla het nie. My swaer, ’n forensiese rekenaardeskundige, het aangebied om die gesteelde selfoon gratis na te spoor en die inligting met die SAPD te deel. Hulle het skaars gereageer.

Al hierdie dinge wat ek nou genoem het, het my getref as veel groter en meer werklike probleme as Julius Malema se gesingery van “Kill the Boer” in ’n patetiese poging om nog ’n golf van verontwaardiging by wit mense uit te lok. Die kans dat Malema se gesing een of twee keer per jaar by ’n politieke saamtrek, ’n wesenlike invloed op landelike geweld het, is absurd. Dit kan dalk help om ’n atmosfeer te skep waarin misdadigers hulle dade rasionaliseer as ’n soort doen-dit-self-regstelling van die verlede, net soos baie korrupsie met vingerwysings na apartheid geregverdig word. Maar dat mense deur ’n uitgediende strydliedjie aangedryf word om te moor, oortuig my ná 50 jaar in Suid-Afrika nie naastenby nie.

Armoede, ongelykheid, ’n weerlose teiken en ’n polisie wat nie ondersoek nie, het na my mening ’n veel groter rol gespeel in wat hierdie booswigte tot by Peet se trappies gebring het as die kleur van hulle vel, ’n brandende wrok oor afsetting van ’n plaas, of ’n politieke komplot om boere van die land af te kry.

Ek het geen twyfel dat daar plaasaanvallers in Suid-Afrika is wat hulle aksies sterk met politiek regverdig nie. Waaroor ek diep twyfel is, of daarin 2026 nog enige strukturele politieke krag agter enige aanvalle is. Trouens, ek twyfel amper nie. 

Ek het ook geen illusies oor die onverklaarbare wreedheid in sommige van hierdie aanvalle nie. Die geval van Donovan Marx, die boer wat verlede week naby Potchefstroom aangeval en gemartel is, wie se ore deur aanvallers afgesny is, is skreiend en skokkend en aaklig. Niemand verstaan waardeur hierdie man en sy mense is nie. 

Tog behoort hierdie soort voorvalle ’n lig te skyn op ’n probleem wat deur ons hele samelewing strek. Soos Piet Croucamp, wat self navorsing oor geweld gedoen het, op Facebook skryf: “Mense wat beweer daar is ’n wreedheid van moorde op plase en die in die res van Suid-Afrika, het nog nooit enige navorsing gedoen oor die aard van misdaad in bv. informele nedersettings of in die land se peri-urban areas nie. ‘Hulle’het een van ‘ons’ vermoor, skep die illusie dat die wreedheid spesifiek is. Eintlik is dit maar die afwesigheid van empatie tipies van ingroup vs. outgroup politics. Ek sal jou dae lank kan besig hou met martelings en die wreedheid van misdaad in SA, maar sal my tyd mors, want sommige mense verkies om op ’n bepaalde manier te dink.”

Die dokument wat mense wat moorde op plase pleeg se motiewe vir my die beste beskryf, is die joernalis Jonny Steinberg se boek, Midlands, wat reeds in 2002 verskyn het. Hy skryf die rede vir die wreedheid toe deels aan die aanvallers se behoefte om informasie uit die slagoffers te kry en ook ’n eeue oue, vergiftigde “frontier”-verhouding tussen swart en wit gemeenskappe op die platteland. Hy verwys ook na ’n geslag van halfgeletterde aanvallers en misdadigers wat losgesny is van tradisionele morele kodes en leiding, wat stede toe getrek het agter werk en geld aan, maar wat gefrustreerd en vrugteloos terugkeer platteland toe en dan op die kwesbaarste teikens fokus wat die laagste risiko inhou.

Die oneerlikheid van die regses

Ek is gevra om hierdie rubriek te skryf deels omdat ons dit beleef het. Ek was onwillig, want ek steur my lankal nie meer veel aan ons Christen-nasionaliste nie: AfriForum, Solidariteit, Ernst Roets se Lex Libertas, die VF+ en ’n swetterjoel kleiner groepe.

Dit is die soort mense wat iemand soos ek as ’n verraaier uitbeeld. Maar hulle neem plaasmoorde, rofweg 0,2% van alle moorde in Suid-Afrika, en hang dit op die grootste verhoog ter wêreld aan die groot klok, los van al die land se ander nood. Kallie Kriel van AfriForum en Ernst Roets, wat nou sy eie nuwe organisasie, Lex Libertas, lei, is al twee dekades lank met hierdie speletjie besig.

Albei is luidrugtig daaroor dat hulle nog nooit beweer het daar is ’n wit volksmoord aan die gang nie. Tog laat Roets op 26 September 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington plant, binne sig van die Capitol, saam met die New Yorkse Young Republican Club, in die hoofstad van ’n land waarvan die president reeds verkondig het dat daar ’n wit volksmoord in Suid-Afrika is. Die kruise gedenk feitlik net wit mense wat op die platteland vermoor is, van wie die minderheid werklik kommersiële boere was, en rep skaars ’n woord oor die moeras van misdaad waarin die res van die land besig is om te sink.

Wat hier aangaan, is fundamenteel oneerlik, en ek kan nie glo hulle kom daarmee weg nie. AfriForum, wie se retoriek min of meer Roets s’n weerspieël, is al dikwels daarvan beskuldig dat hulle ’n besigheid geword het wat hoofsaaklik deur hul behoefte aan groeiende ledetalle gedryf word. Dit is ’n siniese beskouing, maar soms sien ek geen ander verklaring vir hierdie uitbuiting van hulle eie lede se lyding nie. Dieselfde geld vir Lex Libertas, selfs nog meer. Welkom by Plaasmoord Incorporated. Dit sal R100 per maand wees, baie dankie.

Na my mening is dít die eintlike verraaiers. Verraaiers van hulle eie mense se lyding, met ’n gevestigde belang daarby dat statistieke oor landelike veiligheid nie daal nie. Verraaiers van die land waarin hulle woon, met sy epidemiese moordsyfers en komplekse geskiedenis. Pleks daarvan dat hulle saam met alle gemeenskappe na oplossings soek, sit hulle met ’n megafoon op ’n dak en skree oor ’n nis-misdaad waarvan hulle die kategorie self geskep en aan hulle toegeëien het.

Dieselfde toor-argumente geld vir grond

Dieselfde patroon sien ’n mens by die Onteieningswet (Wet 13 van 2024). Oorsee word dit voorgehou as ’n instrument waarmee die regering wyd en syd grond by witmense kan afneem, terwyl dit onteiening sonder vergoeding net in eng omskrewe omstandighede en ná behoorlike regsproses toelaat. Die werklike oorwinning vir eiendomsreg is in Desember 2021 behaal, toe die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet misluk en die EFF se gewildheid begin daal het. Daarna het die hitte stadig maar seker uit die gronddebat verdwyn, tot AfriForum en kie dit weer ingesleep het.

Die statistiek waarop die hele bedryf rus, is net so wankelrig. Dr. James Myburgh, redakteur van Politicsweb, wat saam met Roets in Washington op die verhoog was, het al bereken dat wit boere teen 108 per 100 000 vermoor word, 3,2 keer die nasionale syfer. Maar niemand weet hoeveel van die mense wat op die platteland doodgemaak word, kommersiële boere is nie. Ou TLU-syfers, van ’n besonder ideologies gelaaide organisasie, word steeds klakkeloos aangehaal.

Nou die dag vra ek in ’n gesprek op sosiale media vir ’n anonieme persoon wat beweer dat boere sommer 20 keer meer gereeld aangeval word as die res van die bevolking, hoe hy dit bereken. Hy sê toe daar is 31 000 kommersiële boere in Suid-Afrika. Neem die aantal plaasaanvalle, deel dit deur 31 000, en daar het jy jou ratio.

Ek het amper gestik. Die landelike bevolking bestaan nie net uit kommersiële boere nie! Die meeste het ’n gesin, en baie het werkers, soms ’n handvol, soms honderd. Daar is talle kleinboere en bestaansboere, ook met gesinne. En dan is daar die kleinhoewebewoners regoor die land wat glad nie boer nie. My broer Peet is een van hulle. Ek het die beriggewing oor hom op landelike veiligheidsnetwerke dopgehou, en niemand het ooit tussen hom en ’n kommersiële boer onderskei nie. Hy is dadelik aangeteken as ’n plaasaanval.

Eers het ek gedink sulke berekeninge word net deur anonieme mense op die internet gedoen, tot ek agterkom hoeveel van die debat steeds rus op ’n berekening wat dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekuriteitstudies in 2012 gedoen het, iemand wat ek andersins respekteer. Hy het die TLU se telling van 32 vermoorde “boere” geneem, sonder om te weet hoeveel van hulle werklik kommersiële boere was, en dit gedeel deur die 32 375 kommersiële boere in ’n sensus van 2007. Plaaswerkers en gesinne is heeltemal uitgelaat. Dit is ’n syfer oor boere, nie oor plase nie, maar dit word al meer as ’n dekade lank rondgeslinger as bewys van hoe gevaarlik die platteland vir wit mense is. Burger het self in 2017 erken: “We really don’t know how many of the murdered farmers qualify as ‘commercial farmers’.”

Wat agterbly

Ek het aan die begin gesê ek het lank gewonder wat met ons sou gebeur as dit eendag met ons gebeur. Nou weet ek, ten minste vir ons familie.

In die dae ná die aanval het ons oor alles gepraat. Oor die kar wat onder in die pad gewag het, die graaf met die bloed op, die andehalfuur, die ambulans wat uit Pretoria moes kom, sers. Khumalo se botheid, die ou laptop wat weg is. Of Peet weer sou loop. Ek het later probeer onthou of enigeen van ons ooit iets gesê het oor die kleur van die twee mans se vel. Niemand het nie. Dit was nie ’n besluit nie, en beslis nie ’n deug nie. Dit het eenvoudig nie by ons opgekom nie, net so min as wat ons ’n wrok teen hakkelaars sou ontwikkel het as een van hulle gehakkel het.

Ek glo daarom nie meer heeltemal die storie dat ’n aanval van iemand ’n rassis maak nie. Dit kan jou bang maak, bitter, agterdogtig, vir jare. Maar as die ding wat agterbly juis die aanvaller se velkleur is, en nie sy skoene of sy taal of die kar waarin hy weggejaag het nie, dan was daardie kategorie al lank voor die aanval in jou kop. Die aanval het dit net weer wakker gemaak.

Ek dink aan die man op WhatsApp wat aan die huil gegaan het toe ek hom bel. Ek twyfel nie aan sy pyn nie. Maar die woorde wat hy vir my gestuur het, oor my ma en my vrou en my susters en die swart hordes, het hy nie by sy aanvallers gekry nie. Dit het hy lank tevore iewers anders geleer, en daar is genoeg mense om hom wat sorg dat hy dit nie vergeet nie.

Peet se saak is sover ek weet nog oop. Niemand het ons nog anders laat weet nie.
https://www.facebook.com/share/v/19ndM2Nk6d/?ref=1

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
↗
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
↗
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
↗
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
↗
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
↗
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
↗
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
↗
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
↗
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek